My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Richard se vuilgoedhoop

Richard was so opgewonde soos 'n hond met tien sterte. Hy wou altyd iets 'uitvind' en nou het hy. Sy groot "vuurballon", waaraan hy vir weke al werk, was byna gereed. Daar was nog net 'n paar dingetjies om te doen, en dan sou hy die watte onderaan aan die brand kan steek en kyk hoe die groot papiersak vol warm lug word en opstyd in die lug.

Dit sou 'n onvergeetlike dag wees vir hom, want al sy vriende sou kom kyk na die affêre. Hy het hulle reeds alles daarvan vertel nog lank voor hy sy plan agtermekaar gehad het, en hy was seker dat hulle hulle oë nie sal kan glo as hy alles klaar het nie.

DIt was iets wat die moeite werd sou wees om te sien, dit kan ek julle verseker. Die ballon sou ses voet hoog en vier voet in omvang wees. Dit was 'n groot werk om alles aanmekaar te lak. Hy het eers 'n raamwerk van sterk dun draad gemaak. Toe het hy stroke gekeurde papier gesny - die fatsoen soos lemoenskil wat in skyfies afgetrek is, sodat daar 'n groot bal sou wees wanneer alles aanmekaar geplak is om die draad-raam. Hy het vreeslik gesukkel om alles mooi eweredig aan te plak - alles was naderhand so klewerig, en soms het die papier geskeur!

Onderaan die raam was daar 'n stuk draad in die vorm van 'n sirkel, en daaraan was watte vasgemaak om op die rgte oomblik aan die brand te steek om die ballon met warm lug te vul.

Eindelik was alles gereed, en Richard se vriende het gestaan en wag vir die oomblik wanneer die ballon sou opstyg.

Maar Richard was nie haastig nie. Hy het hom op sy gemak klaargemaak vir hierdie oomblik waarvoor hy so hard gewerk het. Hy kon maar nie ophou verduidelik hoe hy alles aanmekaar gesit het, en hoe doodseker hy was dat die ballon sou opstyg nie. Hy het graag al die baie vrae beantwoord wat die ander seuns gevra het.

Eindelik, en met groot doenigheid, eht hy die watte aan die brand gesteek. Dit het vlamgevat en die seuns het 'n biettjie teruggestaan om te sien hoe die papierballon vol warm lug word en uitdy.

"Dit styg op!" het Richard opgwonde uitgeroep. "Dit begin opstyg! Dit begin opstyg!" Hy het sy hande van opgewondenheid geklap toe daar, o goeie! 'n vreeslike tragedie gebeur. Die wind het die vlamme teen die dun papier gewaai. Daar was geen tyd om te keer nie, en toe hulle weer sien het die ballon in vlamme neergeplof.

Die arme Richard! Dit het sy hart gebreek. Hy het huis toe gehardloop om weg te kom van al sy vriende wat soveel van hom en sy groemde 'uitvindsel' verwag het. Hy was nou baie skaam dat hy so gespog het voordat hy seker was dat sy poging 'n sukses sou wees. En wat van sy weke se harde werk! Al wat daar nou van oor was, was 'n hoop as en 'n gebuigde draad.

Vader het hom in sy kamer in trane aangetref. "Waarom moes dit alles uitbrand?" het hy huilend gesê.

"Ek sou my nie daaroor so verknies nie," het Vader gesê. "Daar het al erger dinge as dit in die wêreld gebeur. Wat regtig saak maak is nie dat die ou ballon uitgebrand het nie, maar dat jy so hard gewerk het om iets te maak wat die moeite werd is."

"Ja, maar dit het alles niks gehelp nie," het Richard gesê.

"Jy kan dit nie sê nie," het Vader gesê. "Dink aan alles wat jy geleer het, alles wat jy oor ballonne gelees het, en die praktiese ondervinding wat jy opgedoen het. Al daardie dinge is nie verlore nie; dit sal jou later baie goed te staan kom."

"Maar ek wou so graag iets uitvind," het Richard gesê.

"Ek weet," het Vader gesê, "maar dinge wat die moeite werd is, kom nie sommer so maklik en so gou nie. Dink maar aan Edison en al sy baie proefnemings voordat hy elektriese lig, die grammafoon, en ander dinge uitgevind het. Al daardie dinge het glad nie maklik gekom nie. Nee, hy het gewerk en gewerk, en na elke mislukking weer van voor af begin."

"Het hy vir weke en weke gesukkel soos ek?" het Richard gevra.

"Hy het vir jare en jare gewerk," het Vader hom getroos. "En hy het so baie teleurstellings gehad dat 'n mens verbaas is dat hy nie opgegee het nie. Jy moes sy vuilgoedhoop gesien het!"

"Sy vuilgoedhoop?" het Ricard verwonderd gevra.

"Ja," het Vader gesê. "Daardie hoop word vandag nog aan mense getoon wat sy ou werkswinkel besoek - dit is voor die venster van sy werkplek. Elke keer wanneer iets misluk het, het hy dit by die venster uitgegooi, en weer geprobeer. Hy het nie toegelaat dat mislukking hom ontmoedig nie, en jy moet ook nie.

Bou nou 'n beter ballon - een wat nie so maklik sal vlamvat nie. Vind uit wat verkeerd was met jou eerste, en vermy dan daardie foute, want so het al die uitvindsels wat die moeite werd is, gekom."

"Wel, as Edison so 'n groot vuilgoedhoop gehad het, gaan ek my nie bekommer oor my hopie as nie," het Richard gesê, maar hierdie keer met 'n glimlag.

Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell

 

 
 
 
 
Mail
Call