My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Nuwe harte vir oues

Het ek julle al ooit die storie van my radio vertel? Nog nie? Wel, dan sal ek dit nou vertel, want ek is seker dat julle baie belang daarin sal stel.

Julle sien, vir 'n baie lang tyd al wou ek 'n goeie radio hê, want ek kon nie daardie geluide verdra wat uit die goedkoop stelle gekom het nie - daardie stelle wat die mense so onnatuurlik laat praat.

Wel, maande en jare het verloop en nog het ek nie die radio gesien wat ek graag wou hê nie. Baie van my vriende het nuwe stelle gekoop en hulle kon nie verstaan waarom ek dit nie ook doen nie, maar ek het altyd hul vrae as volg beantwoord: "Wanneer ek die regte radio sien, sal ek dit koop."

Toe het ek eendag gehoor dat 'n man wat een van die beste radio's in die land gehad het, van plan was om te verhuis en dat hy al sy goed sou uitverkoop. Ek het na sy radio gaan kyk daar in sy voorkamer.

Ek het sommer dadelik van die radio gehou. Toe hy dit aanskakel, het die lieflikste musiek daaruit gekom - so mooi dat ek daar betower gesit het. Sommer dadelik het ek geweet dat dit die radio van my drome was. Om kort te gaan, ek het daar en dan besluit en die radio gekoop. Toe ek die prys hoor, kon ek byna my ore nie glo nie, want dit was so goedkoop! Dadelik het ek die kopie beklink.

Twee dae later het 'n vragmotor die radio by my huis kom aflaai en ek was baie in my skik met die fynafgewerkte stukkie houtwerk. Ek het dit sorgvuldig in my eetkamer opgesit.

Sodra die mense wat dit gebring het, weg was, het ek vol blydskap - en ek moet erken - 'n bietjie trots ook, die lugdraad en die gronddraad aangebring en ek het die elektriese krag aangeskakel.

Sover as wat ek kon sien, was alles in orde, maar o, moenie praat toe ek aan die knoppe begin draai het nie - daar was sommer 'n baie groot tragedie!

Die geluide en die geraad wat uit daardie radio gekom het, was te verskriklik! Hoe ek ook al probeer het, die lawaai wou maar nie ophou nie. Hoe meer ek probeer het, hoe erger het dit geword.

Ek het die knoppe so gedraai en toe weer diekant toe, maar al wat daaruit gekom het, was musiek. Ek het naderhand begin dink dat daardie radio vol bose geeste was. Ek was heeltemal raadop. Wat nou gedoen?

Eindelik het ek in verbinding getree met 'n vriend wat radio's verstaan en ek het hom gevra om oor te kom om my te help. Hy het dadelik gekom - en was ek nie bly nie!

Hy het ingeskakel en dieselfde het met hom gebeur. Toe hy die knoppe begin draai, was die lawaai eens so erg. Ek het gevoel dat as sy behendige hande die ding nie kon regkry nie, sou ons die saak maar gewonne moes gee.

Hy het die stel toe van agter oopgemaak om binne te kyk.

Ek het vir hom gesê dat hy maar alles moet probeer om te kyk of hy die ding nie kon regkry nie, want ek wou hom reg gehad het voordat my vrou teruggekom het.

My vriend was 'n hele paar minute besig aan die binnekant van die ding en in groot angs het ek maar gesit en kyk. Toe het hy na sommige van die lampies gewys wat rokerig gelyk het en hy het aan my gevra: "Is hierdie lampies van jou nog goed?"

"Ek weet nie, want dink jy van hulle?" het ek geantwoord. "Wel," het hy gesê, "dit lyk vir my of hulle uitgebrand het of dat hulle losgeskud is met die ry."

"Nou ja, as dit die moeilikheid is, moet ons nuwes kry so gou moontlik," het ek gesê.

Hy het dadelik daar weggespring en nuwe lampies gaan koop en was gou weer terug met hulle.

Ek sal nooit daardie paar minute vergeet nie. Hy het die ou lampies vervang met die nuwes. Toe het hy ingeskakel en die knoppe gedraai, en....
Daar was nou 'n baie groot verskil. Uit daardie selfde stel het die pragtigste musiek gekom. Die musiek het eers saggies en strelend gekom en naderhand was dit so luid, dat ons hom baie sagter moes stel.

My droom is verwesenlik, maar dit het eers gebeur nadat ons nuwe lampies ingesit het.

En weet julle, kinders, altyd wanneer ek aan daardie ondervinding dink, dan dink ek ook aan 'n teks in die boek Esegiël, waar God sê:: "Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee." (Eseg. 36:26)

Dit lyk vir my of ons ook baie soos daardie radio van my is. solank as ons die ou lampies binne het, of - met ander woorde - solank as ons die harte van klip het, net solank sal dit onmoontlik wees om goeie musiek uit ons te kry. Uit harte van klip kan niks anders kom as 'n geklaag, lelike woorde, ongeduld en alles wat onvriendelilk en onheililg is.

Wanneer julle hoor dat 'n seun oneerbieding teenoor sy Pa is, of kwaad vir sy broer is, of onbeskof teenoor sy Ma is, en as hy harde woorde in die huis gebruik, dan moet ons weet dat hy ou lampies binne het en dat hy nuwes nodig het.

As julle hoor dat 'n dogter ontevrede is met haar kos, of haar klere, of haar vriende en as sy bitsigse woorde teen haar huismense gebruik, kan julle ook seker wees dat sy nuwe lampies nodig het.

Al die moeilikheid kan toegeskryf word aan die nalatigheid om die ou lampies te vervang met nuwes.

Maar waarom kry ons dan nie nuwe lampies nie? Hulle is maklik verkrygbaar en kos niks. God het belowe om vir ons nuwe lampies in te sit sonder dat ons daarvoor moet betaal. Laat ons weer na die teks kyk en sien wat God sê: "Ek sal julle 'n nuwe hart gee." Dis duidelik genoeg, is dit nie? En wat verder?

"Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem. En julle 'n hart van vlees gee." God se aanbod is baie duidelik. Enigeen van ons kan dit aanneem. Al wat ons hoef te doen, is om Hom te vra om die wonderbaarlike verandering in ons te bewerk en om dit dadelik te doen.

As ons Hom toelaat om dit te doen, sal daar 'n baie groot verandering in ons plaasvind! Mammie sal ons dan nie meer ken nie en Pappie sal sy eie oë en ore nie kan glo nie. Daar sal sulke mooi musiek uit ons kom - sulke liefdevolle woorde, sulke medelye, sulke sagmoedige antwoorde en daar sal by ons 'n gewilligheid wees om te help en ons deel te doen.

Ons sal nooit spyt wees as ons die verandering maak nie. Die lewe sal baie aangenamer wees. Alles sal anders wees.

Laat ons hierdie gebedjie saam bid:
"Heiland, terwyl my hartjie nog teer is, / Wil ek daardie hartjie aan U gee; / Al my kragte wil ek aan U gee, / Om aan U alleen te behoort.
"Neem my nou, Here Jesus, neem my; / Neem my kinderhart vir U; / Maak van my U dienskneg; / Vul my hart met liefde rein.
"Aan U behoort ek vir altyd Heer, / Afgesonder vir U diens alleen; / Verhoed dat ek U ooit verlaat; / Verseël U beelt'nis in my hart."

Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell

 

 

 
 
 
 
Mail
Call