My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Nuuskierige Connie

Pappie sou na sy klein dogtertjie by die huis kyk terwyl die res van die gesin winkel toe gaan. Toe die voorstel aan hom gedoen is, het hy gedink dat hy lekker sal kan sit en koerant lees terwyl Connie met haar speelgoed speel op die vloer. Maar sake het anders verloop as wat hy gedink het.
Dis waar, hy het in die gemakstoel gesit, maar hy het nie gelees nie, want sy dogtertjie was die ene vrae. "Wat is dit nou weer?" het hy gevra.

"Pappie," het Connie gevra, "waarom lê hoenders eiers?"

"Wel, ek weet nie eintlik nie; dis seker om kuikentjies te hê."

"Hoe lê hulle die eiers?" wou Connie weet.

"Hoe? Nee ek weet nie eintlik hoe nie; hulle lê sommer." Toe was daar vir 'n rukkie stilte, en Pappie het weer bein lees; maar dit was nie vir lank nie.

"Pappie, is die kuikentjies al die tyd in die eiers?"

"Ja-'n-'n-nee," het Pappie gesê. "Hulle is nie altyd daar nie."

"Hoe kom die kuikentjies uit die eiers?" het Connie gevra.

"Hulle pik die dop stukkend, en dan kom hulle uit."

Toe het Pappie weer vir 'n rukkie gelees, maar hy is gou weer gesteur.

"Pappie?"

"Lieweland, wat is dit nou weer?" het Pappie gevra. "Hoe lank moet die hen op die eiers sit voordat die kuikentjies die dop stukkend pik?"

"Nee, maar kyk hier, Connie, wat se gevraery is dit oor eiers en kuikens?"

"Mammie het gesê dat daar gou kuikentjies sal wees."

"O, ek sien," het Pappie gesê.

"Mag ek gaan kyk na die mamma-hen, Pappie?"

Hier het Pappie kans vir 'n bietjie verligting gesien. "Ja, gaan kyk maar," het hy gesê. "Moenie te na aan die nes gaan nie, het hy gesê, "want die hen mag jou bevlieg - henne is so wanneer hulle broei."

"Ek sal nie te naby gaan nie," het Connie gesê, en sy is daar weg.

Nou het Pappie lekker sy koerant gesit en lees, want eindelik was daar vrede! Maar die stilte is gou verbreek, want hy het 'n vreeslike lawaai in die hoenderhok gehoor. Hy het daarheen gehaas, en wat dink julle het hy gesien? Julle sal dit nie glo nie, maar dis waar: daar het Connie op die nes gesit, terwyl die verwilderde arme ou hen 'n verskriklike lawaai gemaak het.

"Ek het net betyds gekom," het Pappie gesê onderwyl hy vir Connie van die nes af tel.

"Maar ek wou maar net kyk of ek die kuikentjies self kon uitbroei," het Connie hakkelend gesê. "Die ou hen raas verniet so."

"Ek weet," het Pappie gesê; "maar 'n mens moet nooit jou neus in anderman se sake steek nie, want jy kan in allerhande soorte moeilikheid beland."

Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell

 

 

 
 
 
 
Mail
Call