Hulle het nooit voorheen 'n telefoon in die huis gehad nie, en toe die telefoon eindelik ingesit was, was almal in die huis baie opgewonde. Die kinders het met die grootste belangstelling gekyk hoe die werksmense 'n paal inplant en 'n draad daarvandaan lei na die huis. Eindelik is die instrument binne in die huis geinstalleer.
Toe wou almal sommer telefoneer en met hulle vriende praat. Die opgewondenheid het tot laat die aand geduur toe dit al slapenstyd vir klein Alice was - sy het alles met die grootste belangstelling gadegeslaan, maar eindelik moes sy bed toe.
"Roep my wanneer jy gereed is om jou gebedjie te sê," het Moeder aan har gesê. "Goed, Mammie," het Alice gesê en sy is stadig met die trap op kamer toe. "Ek dink ek sal vanaand alleen bid," het sy laat volg. "Net soos jy wil," het Mammie gesê, "maar roep as dit nodig is." Alice het toe verdwyn en het haar langsaam begin ontkleed. Sy het haarself gewas, en haar naghemp aangetrek. Moeder het gewonder waarom dit alles so stil was, en toe het sy 'n snaakse geluid gehoor; dit het geklink soos die geratel van die deurknop. Sy het op haar tone geloop om te gaan luister. Daar is die geluid weer, dit was 'n gewerkskaf aan die deurknop. En toe het sy 'n stemmetjie hoor praat.
"Hallo! Hallo! Is dit die Here? Dit is Alice wat hier praat. Is dit nie lekker om met mekaar te kan praat nie. U gaan vir Mammie en Pappie en my boetie en sussie seën, nie waar nie? Nee, waarom nie? Regtig? O Here het Jesus al al Sy verlore skape gevind? En..."
Ongelukkig het Moeder gehoes en Alice het opgehou praat; daar was weer 'n geskud van die deurknop, en Alice het haastig in die bed geklim. Alice het haar aandgebedjie aan God getelefoneer op haar eie manier. Was dit nie liefies van haar nie!
Miskien sal dit goed wees as ons ook aan gebed wou dink soos Alice in haar eenvoudige, kinderlike geloof. Miskied sal ons gebede dan nie so vormlik wees nie, maar werklik opreg, nes of ons met 'n vriend praat. Laat ons die Here nog vanaand telefoneer.
Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell