My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Hoe Billy groot en sterk geword het

Billy was baie klein vir sy ouderdom, en as daar een ding was wat hy vreeslik begeer het, dan was dit om 'groot en sterk' te wees. By die skool was hy die kleinste seun in die klas, en hy kon glad nie verdra dat die ander seuns hom "kleintjie" en "dwergie" noem nie.

Natuurlik het hy altyd gegroei, maar dit het gelyk of hy nooit die ander seuns sou inhaal nie. Hulle was altyd net 'n bietjie langer as hy.

Moeder het geen moeite gehad om hom sy kool en spinasie en groente te laat eet nie. Wanneer hy miskien sê: "Ek wil nie kool hê nie," moes sy maar net sê: "Wel, Billy, dan sal jy nooit groot en sterk word nie; eet liewer maar jou groente." Gewoonlik het Billy dan alles opgeëet, en gewonder hoeveel groter dit hom sou maak.

So het dit ook gegaan met die ryspoeding en ander goed waarvan Billy nie gehou het nie. Alhoewel Billy al die goed geëet het, het dit nie vir hom gelyk of dit hom groter gemaak het nie.

So nou en dan het Moeder vir Billy teen die muur laat staan, en dan het sy 'n merkie teen die muur gemaak om te sien hoeveel hy gegroei het. Billy het daardie merke met die grootste belangstelling dop gehou, en wanneer daar getoon is dat hy 'n bietjie langer geword het, was hy vreeslik bly, maar natuurlik het hy nie so vinnig groei soos hy graag wou nie.

Sy Moeder het hom altyd getroos deur te sê: "Moet jou nie te veel kwel nie, Billy. Jy het nog nie eens begin groei nie; sodra jy 'n bietjie ouer is, sal jy sommer vinnig groei."

Dit was swaar vir Billy om te glo wat sy Moeder gesê het, want dit het vir hom gelyk of hy tevergeefs gewag het op daardie tyd wanneer hy so vinnig sou groei.

Eendag het daar 'n baie snaakse ding gebeur. Ek is nie seker nie, maar ek dink dit was op 'n Sabbatnamiddag nie lank nadat Billy en sy Moeder van die kerk af gekom het nie. Alles was doodstil in die huis, en Moeder het 'n bietjie gaan rus. Skielik het sy gehoor dat iemand water tap. Sy het vir 'n rukkie geluister, maar die kraan het oop gebly; sy is toe kombuis toe om te gaan ondersoek instel.

En hoe dink julle, wat het sy gesien?

Daar het Billy by die wsbak gestaan; sy hande was vol seep en hy het gewas vir al wat hy werd was - die skuim het sommer so gestaan.

"Billy, wat maak jy?" het sy Moeder uitgeroep. "Wat op aarde maak jy?"

Billy het nie eens tyd gehad om op te kyk nie, so besig was hy. Weer het sy Moeder gevra: "Maar Billy, wat maak jy?"

"Ek gaan groot en sterk word," het Billy beslis gesê. Moeder wou eers lag, maar sy het nie; al wast sy gesê het, was: "Ek begryp nie eintlik wat jy bedoel nie." "Ons onderwyseres het ons alles daarvan vertel in die Sabbatskool vanmore," het Billy gesê. "En dit staan in die Bybel."
Moeder kon nie help om te glimlag nie.

"Maar Billy, wat het die onderwyseres gesê? Ek het nog nooit daarvan gehoor nie, vertel my."

Ewe ernstig het Billy begin: "Die onderwyseres het gesê dat die Bybel sê dat as ons skoon hande het, sal ons groot en sterk word. Ek het daardie vers uit my hoof geleer."

"Nou ja, sê dit vir my op," het Moeder gesê. "Ek wil dit graag hoor."

"Dit staan in Job 17:9," het Billy gesê, en toe het hy dit opgesê: "Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag."

Vir 'n oomblik het Moeder nie geweet wat om te sê nie, en daar was trane in haar oë.

"Glo Moeder dit nie?" het Billy gevra terwyl hy sy hande afdroog en hulle vir Moeder hou om te sien hoe skoon hulle is. Moeder het sy hande lank laas so skoon gesien.

"Ja, ek glo dit," het Moeder gesê. "Ek is seker dat die Here jou sal help omdat jy soveel geloof het. Moet ek jou vertel wat dit nog beteken?"
"Ja," het Billy gesê, "wat beteken dit nog?"

"Wel," het Moeder gesê, dit beteken dat ons nie net ons hande van gewone onreinheid soos byvoorbeeld inkvlekke moet skoonhou nie, maar ook van verkeerde en onvriendelike dade. Die Here wil hê dat ons hande moet gebruik om ander te help en vriendelike dade te doen; dan sal ons sterker en sterker word in ons karakter, en dit is tog die belangrikste van alles."

Billy het sy hande klaar afgedroog, en toe het hy gevra: "Maar dink Moeder dat as ek dit alles doen en my hande skoonhou dit my sal help om groot en sterk te word?"

"Ja, ek is seker dit sal," het Moeder gesê. En sy was heeltemal reg.

Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell

 

 
 
 
 
Mail
Call