My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Haar afskeidslied

Terwyl ek in Europa rondgereis het, het ek een van die treurigste en tog een van die mooiste stories gehoor en ek wil graag vandag daardie storie vir julle vertel.

Wat die meisie se regte naam was, weet ek nie, maar ons sal haar maar Dora noem.

Haar Pappie was 'n godloënaar en hy het nie net geweier om in God te glo nie, maar hy wou ook nie hê dat sy dogter iets van die Here moet leer nie. Hy wou nie 'n Bybel in die huis sien nie en van godsdiens moes niemand in sy huis praat nie.

Dora se Mammie het gesterf toe sy maar nog baie klein was en gevolglik het Dora opgegroei sonder enige kennis van God of van Jesus of van die Bybelverhale wat julle seker almal ken.

Maar eendag, sonder dat haar Pappie daarvan geweet het, het 'n nuwe bediende 'n Bybel in die huis gebring en Dora het dit gesien. Sy het nog nooit vantevore een gesien nie en omdat sy gedink het dat dit maar 'n gewone storieboek is, het sy begin lees.

Sy het by die Evangelie van Lukas begin en gelees van Jesus se koms na Bethlehem, van Sy kinderdae in Nasaret, van Sy liefde vir die gewone mense, van Sy mag om siekes gesond te maak en dooies op te wek, van al Sy lyding, dood en opstanding En terwyl sy gelees het, het die Heilige Gees met haar gepleit en 'n groot verlange het by haar ontstaan om soos Jesus te wees en om een van Sy volgelinge te word.

Eers was sy bang om haar Pappie te vertel van die groot lig wat in haar hart gekom het, want sy het geweet hoe kwaad hy sou wees, maar hoe meer sy in die Boek gelees het, hoe meer was sy daarvan oortuig dat sy nie 'n ware volgeling van Jesus kan wees sonder om ten alle koste vir Hom te getuig nie. Dus het sy besluit dat sy haar geheim  nie langer gaan wegsteek nie.

Haar Pappie was verras en baie kwaad toe sy hom die nuus meedeel. Hy het gedink dat hy dit onmoontlik gemaak het vir enige soort godsdiens om sy huis binne te dring. Hoe het sy dogter daarvan te hore gekom? Hy kon sy ore nie glo toe sy hom vertel van haar liefde vir Jesus en haar begeerte om Hom haar lewe lank te dien nie. Dit het ongelooflik geklink en omdat sy planne gedwarsboom is, was hy baie kwaad.
Hoe meer sy van Jesus gepraat het, hoe witter het hy geword van kwaadheid en hy het op en af in die vertrek geloop.

"Hou op!" het hy uitgeroep, "moenie weer daar die Naam voor my noem nie. Dora, jy moet daar mal gedagtes van jou laat staan. Jy moet dit vergeet! Hoor jy my? Jy moet dit los!"

"Ek kan nie," het Dora saggies gesê.

"Dan sal jy nie in hierdie huis bly nie," het haar Pappie verskriklik kwaad geantwoord. "Ek sal jou 24 uur gee om te besluit. As jy môre-aand nog nie verander het nie, kan jy maar trap!"

En met hierdie woorde het hy die vertrek verlaat.

Die nag en die volgende dag het verbygegaan. Dora het gedurigdeur gebid en gehuil. Eindelik het die noodlottige aand aangebreek. Vader en dogter het mekaar weer ontmoet. Albei het geweet wat daar op die spel is.

"Wat het jy besluit?" het haar Pa streng gevra.

"Ek kon nie anders besluit nie. Ek moet Jesus dien, wat ookal gebeur,"  het Dora geantwoord.

"Maar dan dat jy wegkom!" het haar Pa verskriklik kwaad uitgeroep. "Loop! Loop hier uit!  Loop!" Baie bleek en bewend het Dora omgedraai en die vertrek verlaat. Sy het reeds 'n paar stukkies klere bymekaar gesit, want sy het die ergste gevrees. Sy het haar tassie gaan haal, haar jassie aangetrek en weer die kamer binnegestap.

Haar Pa het by die kaggel gesit met sy kop tussen sy hande. Skynbaar het hy haar nie eens opgemerk nie.

"Pappie, kan ek nog vir laas iets op die klavier speel voordat ek gaan?"

Hy het nie geantwoord nie en ook nie opgekyk nie.

Sy het dus maar saggies na die klavier geloop, gaan sit en begin speel. En terwyl sy gespeel het, het sy begin sing, eers huiwerig, maar later uit volle bors. Dis wat sy gesing het:
"Neem  my lewe, laat dit Heer, / Toegewy wees aan U eer. / Neem my hande, maak hul sterk / vir U reine liefdeswerk.
"Maak my voete meer en meer, / Vlug en lieflik vir my Heer. / Neem my stem en leer my sing / van U liefde wat my dring.
"Neem die wil wat ek U bied, / Laat U wil in my geskied. / Neem my hart, kom daarin woon, / Maak dit, Heiland, tot U troon."
Toe het sy met groot aandoening die laaste versie gesing:
"Neem my liefde, dierb're Heer, / Aan U voete lê 'k dit neer. / Neem my soos ek tot U kom / En maak my U eiendom."
Sy het ophou sing. Skielilk was daar 'n beweging by die kaggel. Haar Pappie spring orent, hardloop na die klavier, terwyl die trane oor sy wange loop.

"Ek kan jou nie laat gaan nie," het hy weemoedig uitgeroep." "Jy kan maar in Jesus glo as jy wil. Daardie lied het iets aan my gedoen. Dit voel asof ek binne-in stukkend is. Dora, jy moet bly en my ook help om Hom te volg."

Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell

 

 


 
 
 
 
Mail
Call