Dit het gereën en gereën en gereën vir ek weet nie hoe lank nie en Kasper en Tienie het met al hul speelgoed gespeel totdat hulle vir almal moeg was.
Tienie, die jongste van die twee seuns, het by die venter gestaan en gewens dat dit reën wil ophou en dat die son wil uitkom, maar die wolke was dik aan die hemel en dit het aangehou moet reën.
Skielik het daar egter iets in die straat gebeur wat sy belangstelling gewek het.
"Kas, kom kyk hier! Daar gaan 'n lykstoet verby," het hy geskree.
"Wat?" het Kasper gevra.
"'n Lykstoet. Kyk net al die mooi blomme en die blink motors. Sjoe!"
"Ja, maar dis vir jou 'n stoet né?" het Kasper uitgeroep terwyl hy sy neus teen die ruit druk. "Kyk net hoe kom hulle nog! Dit is seker Oom Piet se begrafnis."
"Hy is seker nou al warm," het Tienie opgemerk.
"Warm? Hoekom sal hy warm wees Tienie?"
:Want hy was 'n slegte man en die duiwel sal hom dadelik in die vuur steek!
"Hoe weet jy hy was 'n slegte man?" het Kasper gevra, taamlik verbaas oor sy boetie se sekerheid omtrent arme Oom Piet se toestand.
"Want," het Tienie ernstig geantwoord, "ek het hom eendag hier binne die huis hoor vloek. En hy het gerook. En ek het Mammie hoor sê hy het een aand dronk by die huis gekom. Dus gaan die duiwel hom met sy vurk op die rooi kole gooi en hy gaan net soos braaivleis ruik..."
"Tienie!" het 'n stem van die deur se kant af geroep, "wat sê jy daar?"
"O middag, Tannie," het albei seuns gesê terwyl hulle gelyk omdraai. "Ons het nie geweet Tannie is hier nie."
"Ek dink ek het net betyds gekom" het sy gesê.
"Ja, Oom Piet se lyk is nou net hier verby in die lykstoet. Kyk net, hier gaan die laaste motors nou net verby," het Tienie gesê.
"Tienie," het die tannie gesê, "jy moenie ligsinnig van 'n begrafnis praat nie. Arme Oom Piet se vrou en kinders is baie, baie hartseer en jy behoort hulle jammer te kry en nie 'n grap daarvan te maak nie."
"Nee Tannie, ons maak nie 'n grap daarvan nie," het Kasper verontwaardig gesê. "Ons het net gekyk en Tienie het maar net gesê waar hy dink Oom Piet nou is."
"Maar Tienie is heeltemal verkeerd en julle behoort albei beter te weet," het sy opgemerk.
"Maar ons onderwyser sê dit is wat met slegte mense gebeur," het Tienie taamlik omgekrap gesê.
"Dan is hy verkeerd."
"Hoekom?"
"Ek sal vertel, kom ons gooi nog 'n bietjie kole op die vuur, ons trek ons stoele hier reg en dan gesels ons," het sy gesê. Bly oor enige verandering, het die twee seuns lekker stoele nadergetrek na die vuur toe en hulle drie het gaan sit.
"Begin dan, Tannie," het Kasper, wat nou net so nuuskierig as Tienie was, gesê.
"Wel, ek gaan julle net vertel wat in die Bybel staan. Want dit is die Here se Boek waarin Hy ons vertel hoe die mens in hierdie wêreld gekom het en hoe hy dit weer verlaat.
"Vraag een dan: hoe het die mens in die wêreld gekom? Ek gaan 'n teks lees in die tweede hoofstuk van Genesis, vers sewe: 'En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus geblaas die asem van die lewe. So het dan die mens 'n lewende siel geword'. Uit hoeveel dinge, Tienie, bestaan 'n mens se lewe dan?"
"Twee dinge," het Tienie geantwoord.
"Heeltemal reg, net twee. Eerstens die stof van die aarde en tweedens die asem van die lewe. Die twee saam maak 'n 'lewende siel'. Skei hulle en die dood tree in. Sien julle?"
"Dis wat 'n lyk maak," het Tienie gesê.
"Ja," het die tannie met 'n glimlag gesê. "Ons lees van hierdie skeiding in die boek Prediker, hoofstuk twaalf, vers sewe, waar dit sê: 'En die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het en die gees na God terugkeer wat dit gegee het'. Die gees is net 'n ander woord vir die asem. Julle verstaan dan mos dat wanneer die lggaam en die asem skei, dar nie meer 'n lewende siel is nie."
Dit was effens te ingewikkelds vir die jong Tienie. "Bedoel Tannie dat daar niks meer vir die duiwel oor is om in die vuur te gooi nie?" het hy gevra.
"Nee, daar is niks nie," het sy beaam, "daar is glad niks nie. Nou as ek net hier omblaai in my Bybel en ek lees in hoofstuk nege, vers vyf, dan staan hier hierdie duidelike woorde" 'Die dooies weet glad niks nie' en weer in vers tien, 'Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk... nie'. Dit kan nie duideliker wees nie, kan dit?"
"Hoe kan hulle?" het sy weer gevra. "Dieselfde gebeur met hulle as met slege mense. Die twee dele word geskei en daar is nie meer 'n lewende siel nie. Die mense is eenvoudig dood. Hulle weet niks."
"Maar Tannie," het Tienie gesê, onwillig om van sy opinie af te sien, "sal die slegte mense nooit in 'n groot, warm vuur gegooi word nie?"
"En sal die goeie mense nooit hemel toe gaan nie?" het Kasper ook gevra.
"O ja, alhoewel dit heeltemal waar is dat die dooie mense niks weet nie en vas aan die slaap is soos seuns wat in die aand baie moeg is, tog sal hulle eendag weer wakker word en leef. Jesus het ons dit vertel. Hy het gesê: 'Daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan - die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling'. Hierdie woorde staan in die vyfde hoofstuk van Johannes, verse agt- en nege-en-twintig, maar daar is ook ander tekste wat dieselfde sê. Daar bestan geen twyfel daaromtrent dat die wat dood is, opgewek sal word nie en dan sal die goeie mense beloon en die slegte mense gestraf word," het sy verduidelik.
"Maar Tannie," het Kasper gevra, "wanneer gaan dit gebeur? Nog oor duisende jare?"
"Ek glo nie, Kasper. Jy sien, die Here het 'n spesiale tyd vasgestel wanneer Hy die wat dood is, gaan opwek. In Paulus se eerste brief aan die Thessalonicense, die vierde hoofstuk, vers sestien, word ons geleer dat 'die Here self sal van die hemel neerdaal ... en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan'. Dis duidelik dat al die goeie mense wat gesterf het, deur Jesus se lieflike stem wakker gemaak sal word wanneer Hy weer kom. En baie glo vandag dat dit nie meer lank sal duur voordat Jesus weer sal kom nie."
"Maar Tannie," het Tienie met 'n bekommerde uitdrukking op sy gesig gevra: "wat omtrent die vuur vir die slegte mense? Is daar glad niks daarvan nie?"
"O ja, Tienie, dit is net so duidelik, maar daar is nog net genoeg tyd om een teks vir jou te lees. Hier is dit in die twintigste hoofstuk van Openbaring en die negende vers. Hier word ons vertel wat met al die slegte mense gebeur wat weer wakker gemaak word om hul vonnis van die Here te hoor. Dit sê: 'Vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind'."
"A-a-a!" het Tienie, wat nou eers ten volle tevrede gestel is, uitgeroep.
"En gaan die vuur alles en almal wat sleg is, heeltemal verbrand?" het Kasper gevra.
"Ja Kasper, alles wat sleg is, sal verbrand word en die Here gaan 'n pragtige nuwe aarde maak vir almal wat Hom liefhet. En in daardie lieflike, gelukkige land gaan daar nie meer siekte en pyn wees nie en niemand sal ooit weer daar doodgaan nie," het die tannie geantwoord.
"En ons sal nie weer 'n lykstoet sien verbyry nie?" het Tienie gevra.
"Nee Tienie, dank die Here nooit, nooit weer nie," het sy met diep gevoel gesê.
Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell