My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Absoluut suiwer

Danie was 'n arm weeskindjie wat na 'n groot weeshuis geneem is. Waar ons met hierdie verhaal begin, was hy in die hospitaal en hy het vinnig beter geword na die pampoentjies wat hy gehad het. Hy was net sterk genoeg om na prenteboeke te kyk en hy was ook baie bly oor die paar tydskrifte wat goeie vriende na die hospitaal gebring het.

Hy het so pas leer lees en hy het dit baie geniet om na die advertensies te kyk waar die meeste woorde in groot duidelike letters staan. Af en toe het hy 'n verpleegster geroep om hom te help met 'n woord wat hy nie mooi verstaan nie.

"Verpleegster," het hy eenkeer geroep, "wat beteken dit?" Stadig het hy die woorde gespeel" F-R-Y S-E K-A-K-A-O I-S A-B-S-O-L-U-U-T S-U-I-W-E-R. Wat beteken hierdie woorde, absoluut suiwer?"

"Dit beteken," het die verpleegster vriendelik gesê, "dit dit heeltemal suiwer is, dat aar niks slegs in is nie, dat e-e, wel, dat al die onsuiwerhede daaruit verwyder is."

"O!" het Danie skynbaar tevrede gesê en omgeblaai om na iets anders te kyk.

Die verpleegster het gedink hy sou dit sommer dadelik vergeet. Maar hy het nie. Die aand het aangebreek en dit was Danie se beurt om te bid.

 Die verpleegster het met geboë hoof by hom gestaan en luister. "Liewe Jesus," het Danie begin, "baie dankie dat U my hierheen gebring het. Baie dankie vir die lekker bed en al die lekker kos. Seën die goeie mense wat vir hierdie hospitaal sorg. Seën die verpleegsters. Seën al die siek kindertjies hier en maak hulle gesond. Seën my en maak my 'n soet kind. Seën my en-en-en-en-"

"Bid verder", het die verpleegster gefluister.

"Maak my soos Fry se kakao-" het Danie voortgegaan.

"Danie!" het die verpleegster verbaas gefluister.

"Maak my soos Fry se kakao," het Danie voortgegaan, skynbaar sonder om iets te hoor, "absoluut suiwer, sodat daar niks sal wees wat sleg is nie. Om Jesus ontwil. Amen."

Wat 'n mooi gebed was dit nie! So onskuldig en opreg. Ek is seker daar was engele om alles te hoor.

Dit is 'n gebed wat julle en ek ook moet bid, nie waar nie? Want Jesus wil ons so hê - "absoluut suiwer" - of soos die apostel Paulus sê, "Sonder vlek of rimpel of iets dergeliks." Efe. 5:27. Hy wil hê ons moet geheel en al suiwer wees, sonder iets slegs êrens in ons, en met al die slegte dinge verwyder.

Wil jy graag so wees? Ek is seker jy wil. Bid dan Danie se gebedjie vanaand en Jesus sal jou so maak. Sê dit dan nie in Sy Heilige Woord nie dat "as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reining?" 1 Jon. 1:9

Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell


 
 
 
 
Mail
Call