Soekie se oorgawe

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)


Oom Attie se Slaaptyd stories


Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

"Ek gaana net bietjie loop, Soekielief," het Mammie gesê. "Ek sal nie lank weg wees nie. Wees soet tot ek terug is, hoor!"

"Ja, Mamma,"  het Soekie gesê en haar pop in haar popwaentjie neergelê. "Bring lekker koekies saam vir vanaand, hoor!"

"Ek sal kyk wat ek kan kry," het Mammie glimlaggend gesê. "Tata, wees soet en moet niks op die laaikas aanraak nie."

"Goed, Mammie."

Vyf minute later, te Soekie moeg was van popspeel, het sy begin rondkyk vir iets anders om haar besig te hou. Sy het stadig deur die kamer geloop en iets blinks op die laaikas gewaar. Dit was Mammie se polshorlosie wat sy vergeet het om aan te sit en dit het dadelik Soekie se belangstelling gewek.

Soekie het dit opgetel. "Ek is seker Mammie sal nie omgee as ek hierna kyk nie, want ek het al baiemaal daarna aan haar arm gekyk," het sy vir haarself gesê.

Sy draai dit om en om en besluit toe om dit om haar arm te probeer sit. Sy het 'n bietjie gesukkel en nadat sy dit amper vir die derde keer laat val het, kry sy dit om en hou haar arm dan op om dit te bewonder.

"Lyk dit nie deftig nie?" het sy vir haarself gesê en geglimlag. "Ek wens ek het so 'n horlosietjie gehad. Ek wonder hoe wen 'n mens hom op."

Sy het al gesien dat Mammie partykeer die klein knoppie aan die kant draai en sy besluit toe om dit te probeer. Sy het sommer woes begin draai. Gou-gou was dit nie net opgewen nie, maar te styf opgewen, alhoewel Soekie dit natuurlik  nie geweet het nie.

Sy was net klaar met hierdie lekker klein werkie toe sy Mammie se sleutel in die voordeur hoor draai. Soos 'n weerligstraal het sy die band om haar arm losgemaak, die horlosietjie omtrent net so neergesit as wat sy hom gekry het en na haar pop toe teruggehardloop.

"Hier is ek, ek was nie lank weg nie, sien jy! Maar ek was nie seker hoe laat dit was nie, want ek het my horlosie hier vergeet. Snaaks dat ek dit moes vergeet."

Mammie het na die laaikas toe geloop, haar horlosietjie opgetel en dit om haar arm gesit. "Snaaks," het sy by haarself gedink, "ek kan nie onthou dat ek dit so onderstebo laat lê het nie. Ek was seker te haastig."  Toe kyk sy weer...

"Het Mammie die koekies gebring," het Soekie gevra.

"Ja, baie lekker koekies. Maar, Soekie, my horlosie staan. Ek wonder wat dit oorgekom het."

Soekie het gebloos dat sy eintlik bloedrooi was en met haar rug na Mammie gekeer, het sy kastig haar pop opgetel.

"Nou toe nou!" het Mammie uitgeroep, "dis opgewen...en boonop te styf ook. Wie kon dit gedoen het? Was iemand hier terwyl ek weg was?"

"Nee Mammie," het Soekie gesê terwyl sy nog steeds probeer om haar gesit te verberg.

"Het jy nie aan hom gevat nie, Soekie?"

"Nee, ek het net met my pop gespeel."

"Is jy seker?" het Mammie - wat teen hierdie tyd vir Soekie sterk verdink het - gevra.

"Regtig, Mammie, ek het nie geweet Mammie se horlosietjie het daar gelê nie."

"Soekie, ek is baie, baie jammer, maar ek dink jy jok vir my."

"Ek...ek...ek jok nie," het Soekie gesê en sy het nog rooier geword.

"Dan sal dit die beste vir jou wees om 'n rukkie na jou kamer te gaan en hieroor na te dink. Ek sal netnou na jou toe kom," het Mammie gesê.

Soekie het gestry dat dit nie sy was nie, maar het brom-brom die kamer verlaat. Sy was, om die waarheid te sê, bly dat sy kon wegkom, want sy het erg ongemaklik en skuldig gevoel. Nadat sy die eerste leuen vertel het, moes sy nog 'n leuen vertel om die eerste een te bedek. En soos dit maar altyd gebeur, hoe meer mens jok, hoe erger word alles.

Dit het soos honderde jare gevoel voordat Mammie kamer toe gekkom het - lank ná aandete. Soekie het daaraan gedink dat sy sonder koekies en sonder kos moes bly omdat sy stout en ongehoorsaam was, maar sy het klaar vir Mammie gejok en sy kon nou niks maar daaraan doen nie. Eindelik het die deur oopgegaan en Mammie het binnegekom.

"Het jy nagedink, Soekie?" het Mammie sag gevra. Soekie het gemerk dat daar trane in haar oë was.

"Ja," het Soekie hardkoppig gesê en sy het haar bene heen en weer geswaai waar sy op die kant van die bed gesit het. "Ek het. En ek het nie aan die horlosie geraak nie."

"Ek sien," het Mammie gesê en langs Soekie gaan sit. "Maar dit lyk vir my tog of jy nie baie gelukkig daaroor voel nie, my kind. As jy nie aan my horlosie geraak het nie, sou jou gesig anders gelyk het."

"Maar ek het nie!"

"Soekie, jy maak alles net erger vir jouself. As jy sê jy het en jy was verkeerd, sal jy baie gelukkiger voel en Mammie sal glad nie kwaad wees daaroor nie...wees net eerlik."

"Maar ek het nie," het Soekie volgehou. Sy het egter sagter gesê asof sy dit nie werklik bedoel nie.

"Ek gaan jou 'n storietjie vertel en ek wil hê jy moet luister Soekie. Daar was eenkeer 'n dogtertjie wat 'n geldmuntstuk onder in 'n blompot gesien het en alhoewel sy geweet het dat dit aan haar Mammie behoort het, wou sy dit vat om daarmee lekkers te koop. Maar nadat sy haar hand deur die smal nek van die blompot gesteek het, het sy agtergekom dat sy haar hand nie weer kon uitkry nie. Sy het baie bang geowrd, want sy het gedink dat sy altyd so sal moet loop met die blompot an haar arm. Toe het sy na haar Ma toe gehardloop - alhoewel sy haar niks van die geldstuk vertel het nie. Maar selfs haar Ma kon haar hand nie uitkry nie, hoewel sy hard probeer het. Toe sy sien dat dit vrugteloos is om te probeer, het sy besluit om die blompot te breek, al was dit ook 'n baie duur blompot. Wat dink jy het sy gesien nadat sy dit gebreek het?"

"Ek weet nie," het Soekie gesê.

"Sy het mooi gesien dat haar klein dogtertjie die geldstuk styf in haar hand gehou het. As sy die geld laat los het, sou haar hand maklik uitgekom het en sou dit nie nodig gewees het om die mooi blompot te breek nie. Maar sy wou nie die geld los nie. Dit het al die moeilikheid veroorsaak. En, Soekie, dit is jou moeilikheid ook. Jy wil nie erken dat jy kwaad gedoen het nie. Wil jy nie maar 'los' en nie meer daaroor hardkoppig stry nie? Dit is tog soveel makliker om die waarheid te vertel en dis al manier om weer gelukkig te wees. Jy weet, daar staan in die Bybel geskryf dat hy wat sy sonde bedek, nie voorspoedig sal wees nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal genade vind."

Groot trane het nou langs Soekie se wange begin afrol. "Ek het dit net om my arm gesit en dit opgewen," het sy hard begin snik. Sy weet Mammie is baie teleurgesteld in haar.

"Toemaar, toemaar," het Mammie strelend gesê. "Ek is bly jy het my eindelik vertel. Voel jy nie nou gelukkiger en beter nie?"

Soekie, wat hard gesnuif het, het met haar kop geknik. "Ja," het sy gefluister, " ek is jammer dat ek so vir Mammie gejok het. En ek wil nie my hele lewe lank 'n ou blompot om my hand dra nie."

"Dankie, Soekielief, dis nou alles reg," het Mammie glimlaggend gesê. "Dis nou alles oor en ek is seker dat my klein Soekie, met Liewe Jesus se hulp, nooit weer 'n leuen sal vertel of ongehoorsaam sal wees nie."

"Ek sal nie, Mamma," het Soekie beloof.

"Goed, nou moet jy onder die komberse inkruip en lekker slaap, hoor! Ons sal daardie koekies môre-aand eet." het Mammie tevrede gesê.
 
"E