Snaakse dinge in die Bybel

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories


Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Dit was Sabbatagtermiddag en buite het dit hard gereën. Die kinders het treurig voor die voorhuisvenster gestaan en kyk hoe die water  voor die deur stroompies vorm.

"Ek wens daar was iets om te doen," het Joyce gekla.

"Of iets om te lees," het Grietjie gesug. "Of iets om te eet," het Flip gebrom. "Dit reën altyd wanneer ons 'n entjie wil gaan stap," het Joyce weer teneergedruk gesê. "Ons kan nooit doen wat ons wil nie," het Grietjie bygevoeg. "En ons mag nie dit doen nie en mag nie dat doen nie," het Flip voortgegaan. "Ek wens dit was nie...."Juis toe het die deur oopgeswaai en Mammie het ingekom."Julle lyk almal so treurig!" het sy uitgeroep. "Wat makeer?"

"Dit reën en ons kan nie gaan stap nie," het Joyce baie neerslagtig herhaal. "Wel, wat daarvan?" het Mammie opgewek gevra. "Ons kan hier in die huis nog gelukkiger wees as daar buite wanneer dit reën." 

"Ek dink nie so nie," het Flip weer gebrom. "Nou kom ons kyk," het Mammie gesê. "Ons gaan hier by die vuur sit en dan soek ons na die eienaardiste dinge in die Bybel." Net die gedagte dat Mammie 'n uur of wat saam met hulle om die vuur gaan deurbring, het die kinders gou van die venster af weggelok. Dit het sommer gelyk of die son al klaar deur die wolke skyn.

'N PLEK OM TE VERMY

"Ek gaan julle nou in die verbeelding na een van die einaardigste plekke neem," het Mammie gesê. "Kan julle raai waar dit is?"
"Die vuuroond," het Joyce uitgeroep. "Nee," het Moeder glimlaggend gesê."Na die mandjie waarin Moses gevind is," het Grietjie voorgestel.

"Ek weet," het Flip gesê. "Na die spens in Noag se ark." 

"Nee," het Mammie laggend gesê. "Julle is almal verkeerd. Maar ek sal julle darem 'n leidraad gee. Die pek is baie donker, warm, bedompig en ongemaklik.""Die tronk waarin Paulus opgesluit was," het Joyce weer voorgestel. "Weer verkeerd" het Mammie gesê. "Dis 'n plek waar 'n man beland het toe hy van God probeer weghardloop het; amper 'n bietjie soos die plek waarheen kinders gaan wanneer hulle iets verkeerds gedoen het." "Ek weet," het Flip geskreeu. "Dis die vis se maag waar Jona beland het!"
"Flip!" het Mammie glimlaggend uitgeroep, " hoe het jy geraai?"

"Aaa!" het Flip geheimsinnig gesê, "dit het my sommer bygeval toe Moeder gesê het dat hy van God weggehardloop het. Dis presies wat Jona gedoen het, nie so nie?"

"Ja, jy is heeltemal reg. Maar laat ons bietjie kyk na die storie soos dit in die eerste hoofstuk van Jona opgeteken staan."
Die kinders het almal gou hul Bybels oopgemaak, terwyl Mammie aangegaan het met die storie. "God het Jona beveel om na Nineve, 'n groot stad, te gaan en die mense daar van Sy groot liefde vir hulle te vertel. Maar Jona wou nie gaan nie. In stede daarvan het hy besluit om êrens anders heen te gaan. En dit is gewoonlik waar die moeilikheid begin.

 "Om so ver moontlik van Nineve af weg te kom, het hy aan boord van 'n skip gegaan wat op weg was na Tarsis. Toe die skip die hawe uitvaar, het hy gedink dat Hy God uitoorlê het. Maar hy het nie! Niemand kry dit ooit reg nie. "Skielik het 'n geweldige storm losgebars. die skip het soos 'n vuurhoutjiedosie op die oseaan gedobber. Jona het hiervan net niks gehou nie. Hy het na sy kajuit gegaan en daar aan die slaap geraak. Hy het gedog dat wanneer hy wakker word, die storm miskien al oor sou wees. Maar in stede hiervan, het hy die matrose bekommerd aangetref toe hy opstaan. Hulle het gebid terwyl hy geslaap het. Hulle het gedink dat hy 'n slegte man moes wees en dat dit die oorsaak van die storm was."

"Het hulle hom oorboord gegooi?" het Grietjie gevra. "Ja, maar op versoek van Jona. Ek dink hy was regtig skaam oor sy gedrag en hy het seker geveol dat die moeilikheid waarin hulle belang het, sy skuld was," het Mammie gesê. "En toe het die groot vis hom ingesluk," het Flip tevrede bygevoeg. "Ja, hy het nog skaars in die water beland of 'n groot vis het hom ingesluk," het Mammie geantwoord.

"Dit moes darem vreeslik binne-in die vis gewees het," het Grietjie gesê.


"Ja, ek weet nie hoe hy daar gelewe het nie," het Mammie gesê. "Terwyl hy daar was, het hy egter tot God gebid en God het die vis beveel om hom op die droë grond uit te spoeg. Toe het Jona na Nineve gegaan en so goed gepreek dat duisende mense tot bekering gekom het.

STUKKENDE SAKKE

Het jy al ooit 'n gat in jou sak gehad, Flip?" het Mammie gevra. "Ja Mammie, ek het nou een." Om die waarheid van sy woorde te bewys, haal hy ook sommer die hele klomp seunsgoed uit sy sak en wys hulle die skeur in die voering.

"Ek wil nie nou aan daardie sak dink nie" het Mammie glimlaggend gesê. "Ek wil julle een in die Bybel wys. Julle kan dit in die sesde vers van die eerste hoofstuk van Haggai lees. Lees asseblief vir ons die laaste gedeelte, Joyce."

Joyce het gelees: "En wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in 'n stukkende beurs te steek." "Maar dit sê 'beurs', nie 'sak' nie," het Flip gesê. 

"Maar dit beteken dieselfde ding," het Mammie gesê. "Destyds het die mense hul salarisse in beursies gesit, deesdae steek hulle hul in hul sakke."

"Maar  hoekom het hulle hul geld in sakke met gate gesteek?" het Grietjie gevra.

"Hulle kon niks daaraan doen nie," het Mammie geantwoord. "Hierdie mense waarvan Haggai praat, was baie selfsugtig. Hulle het in weelde geleef, terwyl Gods huis in puin gelê het. Gevolglilk kon die Here se seën op hulle rus nie. Dit rus nooiot op selfsugtige mense nie. En hoe meer geld hulle dus gemaak het, hoe meer het hulle verlor. Hulle het probeer ryk word, maar het al armer geword. Net wanneer hulle gedink het dat dit darem nou goed gaan met hulle, het daar iets met hul vee of oeste verkeerd gegaan. God het die 'weggeblaas', soos die negende vers sê."

Is dit waarom ek nou die dag tien sent verloor het?" het Flip gevra. "Watter tien sent?" het Mammie gevra. "Die tien sent wat ek vir die Sabbatskool wou gee," het Flip bely. "Het jy dit nie gegee nie?" "Nee Mamma, ek het gedink ek gaan liewer vir my daarmee lekkergoed koop en toe ek weer in my sak voel, was dit skoonveld." "Flip, jy laat my regtig sleg voel. Ek het nooit gedink jy sal so iets doen nie, my kind. Ek dink regtig jy het daardie tien sent verloor omdat jy selfsugtig was. Die Here leer ons vandag nog omtrent net dieselfde lesse wat Hy die mense destyds geleer het. En elkeen van ons moet sorg dat die gate van selfsugtigheid in ons sakke toegewerk word."

"Nou wat is daar nog, Mamma?" het Grietjie gretig gevra.

OU KLERE

"Ons verwag nie eintlik ou klere in die Bybel nie," het Mammie begin, "maar ek kan julle wys daar is. Ons vind hierdie verhaal in die 38ste hoofstuk van Jeremia." Weer het die kinders gou-gou die plek opgesoek. "Ek sien dit nie hier nie," het Flip gesê terwyl hy die hoofstuk noukeurig deurkyk. "Ek ook nie," het die ander gelyktydig uitgeroep. "Dan moet ek julle wys," het Mammie gesê. "Die prinse van Jerusalem was baie kwaad vir Jeremia oor wat hy gepreek het en hulle het hom in 'n stinkende, donker put laat gooi. Dit moes seker 'n vreeslike ondervinding vir die profeet gewees het en hy het die Here gevra om hom te red. Hy vertel ons daarvan in sy Klaarliedere, hoofstuk drie, vanaf vers 55 tot 58. Kom ons lees wat hy sê: 'Ek roep u Naam aan, Here, uit die onderste kuil. U hoor my stem; verberg U oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.'

"Dink julle nie hy het mooi geskryf oor so 'n vreeslike ondervinding nie?"

"Ja, maar hoe het hy uitgekom?" het Joyce gevra.

"Dit is die verhaal. Nou gaan ons die ou klere teëkom," het Mammie gesê. "Een van die swart knegte aan die hof van Koning Sedekia het baie van Jeremia gehou en hy het baie sleg gevoel dat hulle Jeremia in so 'n afskuwelike put gooi. Toe Jeremia dus tot die Here om verlossing gebid het, het die Here in hierdie kneg se hart gewerk om hom te help. Vir hierdie kneg het dit baie moed gekos om na die koning te gaan en hom te vra om Jeremia uit die put te haal, maar hy het dit gedoen en sy versoek is toegestaan. Met dertig soldate het Ebed-Melek na die put gegaan en afgekyk.

"Daar was arme Jeremia onder in die put, byna bedek met modder en amper dood van die honger. Daar was slegs een manier om  hom uit te kry en dit was om 'n tou te laat afsak en hom daaraan op te trek. Maar die arme profeer was al so uitgeteer dat hy nie die tou om hom kon vasbind nie, hy het te seer gekry. Hy het 'verslete en verskeurde lappe geneem wat hy na Jeremia in die put met toue laat afsak het'. (Lees Jer. 38:11) Dit was maar net ou klere. Hy roep toe na die profeet om die ou klere onder sy armholtes te hou sodat die tou hom nie kan sny wanneer die soldate hom optrek nie," vertel Mammie.
"Die ou klere het darem baie goed te pas gekom," het Joyce opgemerk.

"Hulle het. En was daardie swart kneg nie bedagsaam nie? Hy was baie dapper om met die koning te gaan praat en dit was baie gaaf van hom om al die moeite te doen, maar dit was hierdie uitermate vriendelikheid van hom wat ons hom laat liefhê. Hy kon Jeremia sommer so opgetrek het en Jeremia sou maar te bly gewees het om uit te kom. Maar die ou klere het die verskil gemaak. Dit het 'n goeie daad nog beter gemaak. Dis soos.....maar kan julle my sê soos wat dit is kinders?"

"Ek kan," het Joyce opgewonde gesê, "dis soos om die kussings agter Mamma reg te druk as ek soggens Mammie se kos bring."
"Uittekend, presies!" het Mammie laggend uitgeroep. "In hierdie geval is die kussings die ou klere."
"En dis soos om mooi te glimlag wanneer jy iemand 'n blom gee," het Grietjie bygevoeg. 
"Lieflik!" het Mammie weer uitgeroep. "En," het Flip wat ook nou aan iets gedink het, gesê, "dis soos om....ê....om die as van die stoof af te vee wanneer jy vuurgemaak het." 

"Wel ja, ek kan sien jy verstaan Flip."

"Of dis soos om 'n presentjie met 'n lintjie in plaas van 'n toutjie vas te bind," het Grietjie weer bygevoeg.

"Ja, dis mooi. En in daardie geval is die lintjie die ou klere," het Mammie gesê. "Dis daardie klein dingetjies wat 'n mooi daad nog mooier maak. Ons behoort baie meer van hierdie 'ou klere' te gebruik." Ek dink ook so," het Grietjie geantwoord.
"Kyk," het Flip uitgeroep, "dit reën nie meer nie en die son skyn. Dankie Mamma, dit was goed gewees."