Smaragde

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Die sakkende aandson het die lug in pragtige kleure geskilder.

"Mammie," het Doreen geroep, "kom kyk die mooi reënboog!"

"Ag, dis pragtig," het Mammie uitgeroep onderwyl sy na die voorstoep gekom het. "Dis die helderste reënboog wat ek nog ooit gesien het."

"En daardie kleure laat my sommer weer aan my juwelekissie dink," sê Doreen.

"Ja, wil jy glo, die lug is vanaand net soos 'n groot juwelekis," sê Mammie.

"Sien Mamma die groen in die reënboog? Is daar groen juwele?"

"Ja, smaragde is groen en 'n smarag is seker een van die mooiste edelstene. Daar is pragtige smaragde in jou juwelekissie. Kan jy aan 'n teks dink waarvan die hoofwoord met 'n S begin?"

"Ja ek ken een: 'Smaak en sien dat die Here goed is'." (Ps 34:9)

"Dit is 'n baie mooi smarag daardie. Dit is 'n uitnodiging aan ons om die goedheid van die Here op die proef te stel. Baie mense dien die Here nie, omdat hulle nog nooit self ontdek het hoe goed Hy is en hoe graag Hy ons wil seën nie. Die Here wil hê dat ons Sy goedheid moet smaak. Aan Sy volk Israel het die Here gesê dat hulle Hom moet beproef of Hy hulle nie sal seën nie. Die Here wil graag hê dat ons aapsraak moet maak op Sy beloofde seëninge," sê Mammie.

"Kom ons kyk of ons nog een kan vind, ek dink sommer nou al weer aan een, en jy?"

"Nee, ek kan nie aan nog een dink nie, aan watter dink Mammie?"

"Ek weet dat jy hierdie een ken, maar jy het net nie aan hom gedink nie. 'Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood'." (Openb. 1:18)

"Mammie kan baie goed onthou." En toe het Mammie aan haar gesê "Jy kan ook baie tekste onthou as jy hulle maar sal neerskryf soos ons hulle vind."

"Ek doen dit," antwoord Doreen."

"Hierdie laaste smarag wat ons nou net gevind het, herinner ons aan die groot vyand, die dood, maar ook aan die heerlike en vertroostende gedagte dat die Here die sleutels van die graf het en dat Hy ons sal opwerk op die groot opstandingsmore," sê Mammie.

'Is daar nie 'n teks wat sê dat die Here ons hart moet deursoek om te sien of ons nie miskien besig om die weg van smart te bewandel nie, Mamma?"

"Ja, dit is nog 'n smarag en dit staan in Psalm 139 verse 23 en 24. Dit is 'n gebed wat ons altyd moet bid. Ons moet die Here vra om in ons hart te kyk en ons te help om nie 'n verkeerde weg in te slaan nie. Julle het miskien elke kwartaal by die skool eksamens, maar ons moet die Here vra om elke dag ons harte te ondersoek."

"Dink Mamma dat die Here my 'n eersteklas sal gee?" het Doreen met 'n glimlag gevra.

"Soms mag Hy, maar ek glo nie elkde dag nie. Gaan haal jou Bybel, want daar is 'n teks wat ek wil hê jy moet lees."

Doreen was gou terug met haar Bybel en hulle het die teks gevind. "Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is ... sewemaal". (Ps. 11:7)

"Nou weet ons wat om te doen om ons woorde net so rein en lieflilk te maak soos die woorde van God," sê Mammie.

"Maar ek verstaan nie nou wat Mamma bedoel nie."

"Wel, ons moet ons woorde sewemaal deur die smeltkroes laat gaan voordat ons eenmaal praat. Dit het die wyse man gesê.

"O liewe, dan sal ons maar baie min praat," sê Doreen.

"Dit mag wees en dit sou ook miskien baie beter vir ons wees. Maar moet ek jou vertel hoe ons dit kan doen Doreen?"

"Ja."

"Eerste van alles moet ons, vóór ons praat, vra 'Is dit vriendelik?' Dit beteken die eerste maal deur die vuur. Dan moet ons vra, 'Is dit nodig?'. In hierdie proses sal 'n hele paar woorde opgebrand word. Daarna moet ons vra, 'Is dit waar?' Dan moet ons ons woorde weer deur die vuur laat gaan deur te vra, 'Is dit hoflik?' - dan weer, 'Sal dit help?'. En eindelik moet ons vra, 'Sou ek graag wil hê dat iemand daardie woorde aan my moet sê?'"

"Sjoe, dis so ingewikkeld. Ek is seker dat ek nie al daardie vrae sal kan onthou nie, Mams."

"Miskien sal jy nie, maar dit sou goed wees om soveel te vra as wat jy kan onthou. Dit sou baie trane en droefheid verhoed, dink jy nie so nie?" vra Mammie.

"Ek sien dis al laat. Ek dink jy moet nou nag sê en gaan slaap. More sal ons meer juwele soek."

Doreen is toe na haar kamer, maar sy het 'n hele ruk wakker gelê en peins oor haar juwele.  (Word vervolg)