Petrus gaan betaal

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Petrus het by sy Ouma gewoon. Een agtermiddag sou hy saam met haar winkel toe gaan. Hy was baie bly en eerlank was die twee op pad dorp toe.

Hulle het die winkel binnegegaan en die dame agter die toonbank, mevrou Pels, het vriendelik gesê "Goeiemiddag". Terwyl Ouma haar bestelling gee, het Petrus in die winkel rondgestaan en die goed beskou.

Daar was so 'n klomp mooi goeters! In die een hoek was daar 'n stapel pragtige bruin brode, in 'n glaskas was daar heerlike koek en tert. Daar was ook bottels melk, botter en kaas. Op die rakke was daar allerhande kruideniersware en op die vloer was mandjies vrugte en groente. Dit was so mooi om al die goed te sien en die heerlike geure daar in die winkel het Petrus sommer baie honger laat voel. 

Miskien sal julle ook weet hoe dit voel wanneer 'n mens - ná jy so 'n lang ent gestap het - sommer skielik so tussen die heerlike eetgoed kom. Wel, Petrus het vreeslik gewatertand en daar hy slegs vyf  jaar oud was, moet ons hom dit nie te kwalik neem vir wat hy kort daarna gedoen het nie.

Daar onder die vrugte was 'n mandjie heerlike brame - en Petrus het baie van brame gehou! Hy kon nooit genoeg eet nie en hier het nou sommer 'n mandjievol voor hom gestaan!

Hy het sy hand uitgesteek om een te neem, maar toe sê 'n stemmetjie binne-in hom: "Nee, Petrus, dit moet jy nie doen nie, dis mos steel." Maar, ai, die brame het so mooi gelyk en hy het besluit om net maar een te neem. Daar is dan so baie, het hy gedink, en niemand sou tog een mis nie.

Petrus het nie langer na daardie stemmetjie geluister nie. Hy het sy ou vet handjie uitgesteek en net een braam geneem. Maar daar een het so lekker gesmaak, dat hy nog een geneem het. Ai, was hulle nie soet nie!

Toe hy sien dat mens nie kon merk dat daar van hule weg is nie, het hy nog een geneem, en weer een, en nog een. Hy het net begin lekker eet toe hy Ouma hoor roep daar van die anderkant van die winkel af. "Petrus, Petrus, waar is jy?"

"Hier is ek, Ouma," antwoord hy terwyl hy sy handjjies aan sy broek afvee en daar agter die mandjies uitkom.

"Kom nou, ons moet nou huis toe gaan. Wil jy vir Ouma van die pakkies dra? So, dis 'n goeie seun, en jy was so soet terwyl Ouma besig was om die goedjies te koop!"

Petrus het so 'n bietjie gebloos en hy het die pakkies gevat wat Ouma hom gegee het. Toe het hulle die winkel verlaat. Skielik gaan Ouma staan. "Petrus, kyk na my!"

Petrus het opgekyk en het probeer om so onskuldig moontlik te lyk.

"Wat is daardie swart merke op jou gesig, Petrus?"

"Watter swart merke, Ouma?"

"Daardie merke om jou mond - daardie swart-rooi merke."

"Ek weet nie." As hy sy gesig kon sien, sou hy sommer dadelik erken het.

"Petrus, jy het brame geëet - het jy nie?"


Petrus het sy kop laat sak. "Ek het net een of twee geëet."

"Waar het jy hulle gekry?"

"In die winkel, Ouma."

"Het mev Pels gesê dat jy daarvan kon eet?"

"Nee."

"Het jy hulle geneem sonder om te vra?"

"Ja."

"Petrus, dan was jy baie stout en ek skaam my vir jou. Kom,  laat ons huis toe gaan, later sal ek besluit wat gedoen moet word."

Petrus het begin huil en dit was 'n baie treurige seuntjie wat saam met Ouma huis toe gestap het. Dit was so anders as toe hulle 'n rukkie tevore na die winkel gestap het.

By die huis gekom, het Ouma vir Petrus op haar knie geneem en aan hom verduidelik hoe lelik dit is om goed te neem wat aan ander mense behoort.  Hy het ook die gebod gebreek wat lui: "Jy mag nie steel nie". Verder het sy aan hom gesê daar is twee dinge om te doen: een was om God om vergifnis te vra en die ander was om na mev Pels te gaan en te betaal vir die brame wat hy geëet het en te sê dat hy baie jammer is oor wat hy gedoen het.

"Ek gee nie om om God om vergifnis te vra nie, maar ek wil mev Pels nie gaan vertel nie," het hy huilend gesê.

"Ek weet dat dit vir jou swaar is, seun, maar daar is geen ander uitweg nie. Waar is jou beursie?"

"Meen Ouma dat ek self vir die brame moet betaal?"

"Ja, natuurlik moet jy."

"Maar dit sal al my geld neem."

"Dit maak nie saak nie, al neem dit al jou geld. Jy moet die saak gaan regmaak. Maar ek dink nie dat dit al jou geld sal neem nie. Ek dink 'n trippens sal betaal vir die brame wat jy geëet het."

"'n Hele trippens! Moet ek aan mev Pels 'n hele trippens gee?"

"Ja en hoe gouer jy gaan, hoe beter. Vee jou oë af en wees nou 'n grootman."
Petrus het sy oë afgevee en hy is daar weg met die trippens in sy hand. Hoe ver het die winkel 'n ou vir hom gelyk en dit het vir hom gevoel asof hy sy voete daarheen moes sleep! Eindelik was hy by die winkel en sy hart het baie vinnig geklop.

"Jy is gou weer terug! Het jou Ouma iets hier vergeet?" vra mev Pels.

"Nee.... ek het."

"O jy, wat het jy vergeet?"

"Mevrou Pels, ek....ek....ek....asseblief, ek het vergeet om te betaal vir die brame wat ek geëet het. En Ouma sê dit was omtrent 'n trippens s'n. Hier is die trippens uit my eie beursie. Ek is baie jammer dat ek u nie eers gevra het nie." sê hy skamerig.

Daarmee het Petrus die geld op die toonbank neergesit en by die deur uitgehardloop. Hy wou net afsit huis toe, toe  mev Pels hom roep. "Petrus, wag bietjie. Kom hier."  Langsaam het Petrus weer teruggeloop, asof hy 'n skrobbering verwag het.

"Jy het weer iets vergeet," het mev Pels laggend gesê terwyl sy 'n kardoes aan hom gee.

"Nee, ek het dit nie hier vergeet nie."

"Maar dis tog joune. Dis sommer iets vir jou aandete." Toe sy aan Petrus gesê het dat hy nou maar kon huis toe hardloop, het dit gelyk of daar trane in haar oë was. Maar hy was nie seker nie en hy het ook nie geweet waarom daar trane sou wees nie. Hoe lekker het hy huis toe gehardloop! Dit het vir hom gelyk of hy daar was was nog voor hy begin het.

"Kyk wat sy my gegee, Ouma kyk!" het hy uitgeroep.

Ouma het gekyk. Dit was 'n heerlike groot mosbolletjie vol konfyt binne.

"Is jy nie nou bly dat jy die sakie maar gaan regmaak het nie?"

"Ek is Ouma!"

'Dis maar altyd die beste ding om te doen," sê Ouma terwyl sy trots na hom kyk.