Pappie se Ontdekking

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Ronald het eendag van die skool af gekom en hy het baie siek gelyk. In die eetkamer het hy op 'n gemakstoel neergesak.

"Wat makeer, Ronny," het Mammie gevra, "jy lyk glad nie gesond nie."

"Ek voel nie gesond nie," het Ronald geantwoord,

"Wat het jy by die skool geëet?"

"Ek het niks na die middagete geëet nie, ek voel sommer net siek. Moet Mamma nie bekommer nie. More sal ek weer gesond wees."

"Wel, die aandete is byna gereed."

"Ek wil niks eet nie."

"Waarvoor het jy lus?"

"Ek het vir niks lus nie, ek dink ek sal maar vroeg bed toe gaan."

"Pappie sal netnou hier wees, wag maar so 'n bietjie - hy hou daarvan om  jou te sien."

"Nee, ek sal maar liewer nou bed toe gaan." Hy is toe sommer dadelik na sy kamer en volgens die geluide daarbo, was hy besig om uit te trek.

Teen sewe-uur het Pappie tuisgekom. "Waar is Ronald?" het hy gevra.

"Hy het al gaan slaap."

"Gaan slaap? het Pappie verras gevra, "hoekom dan? Ek sal 'n bietjie gaan kyk."

Pappie is toe met die trap op na Ronald se kamer.

"Wat makeer ou seun?"

Ronald het gemaak of hy slaap, maar Pappie het hom nie so laat k ul nie, want hy het self baie maal daardie set uitgehaal toe hy 'n seun was.

"Toe maar, Ronald, jy slaap nie. Wat makeer?"

"Ek voel siek," h et Ronny gemompel.

"Laat ek jou pols voel."

Ronny het sy hand uitgesteek, Pappie  het sy pols gevoel, maar ook iets opgemerk.

"Wat is daar aan jou vingers Ronny?"

Ronny het sy hand onder die kombers ingetrek en gesê "Niks nie Pappie, ek dink dis sommer verf."

"Laat ek jou tong sien."

Ronald het sy mond oopgemaak en Pappie het vooroor gebuig, baie meer as wat nodig was om na Ronald se tong te kyk. Toe het hy opgestaan en na die stoel gestap waarop Ronny se klere was. Hy het in al die sakke gevoel. Daar was allerhande goeters in die sakke soos stukkies tou, ou spykers, vuil sakdoeke, 'n paar lekkers, 'n stukkie appel en broodkrummels. Maar uit een van die broeksakke het hy 'n klein geel dosie gehaal.

Toe het hy weer teruggekom na Ronny toe wat doodstil gelê het terwyl die soekery aan die gang was.

"Ronny, waarom is hierdie vuurhoutjies in jou sak?"

"Ek gebruik hulle om klappers aan die brand te steek," het Ronny kalm gesê.

"Is jy seker Ronny, vertel jy my nou die waarheid?" het Pappie baie ernstig gesê.

Daar was 'n lang stilte.

"Sê my, het jy die waarheid vertel?"

"Nee," het Ronny baie, baie saggies gesê.

"Ek het dit geweet. Sodra ek jou hand gesien en jou asem geruik het, het ek geweet dat jy met tabak gespeel het. Is ek nie reg nie?"

"Ja Pappie, 'n seun by die skool het my uitgedaag om dit te probeer," het hy gesê en die trane het gekom.

"Ag Ronny, ek is so teleurgesteld. Ek het so gehoop dat jy nooit daardie slegte, vuil en verkwistende gewoonte sou aanleer nie. Ek het nog nooit in my lewe gerook nie en ek het so gehoop dat my seun ook niks daarmee te doen sou wil hê nie."

"Ek weet dat pappie nooit gerook het nie en ek wou dit regtig ook nie doen het," het hy met 'n huilstemmetjie gesê.

"Ek weet jy wou nie, maar volgende keer moet jy sterk wees en nee sê. Rook was nog nooit goed vir enige mens nie. Dis nie goed vir 'n mens se gesondheid nie, dit verswak 'n mens se hart, dit bevlek jou vingers, laat jou asem sleg ruik en dit verbrand 'n mens se geld."

Pappie het stilgebly en toe het daar 'n pynlike stilte gevolg wat so nou en dan onderbreek is deur 'n snik van Ronny.

"Ronny," het Pappie gesê.

"Ja Pa."

"Ek wil  hê dat jy my een ding moet belower."

"Ja Pappie?" en sy hand uitgesteek.

Pappie het Ronny se handjie geneem en gesê "Belowe my dat jy nooit weer sal rook of tabak in enige vorm sal gebruik nie."

"Ek belowe, Pappie, ek belowe."