Op die meer van Galilea

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Julle het al almal gehoor van die Meer van Galilea. Soms word dit ' n see genoem, maar dit is werklik maar 'n meer tussen die berge; die Jordaanrivier vloei daardeur op sy weg na die Dooie See.

Alhowel Galilea glad nie so groot is as baie mense dink nie, is dit seker een van die mooiste plekke in die hele wêreld. Ek sal nooit vergeet hoe mooi dit een lentemore vir my gelyk het nie. Die son het helder geskyn en die meer was soos 'n groot saffier daar tussen die groen berge. Ek kon nie help om te dink dat Jesus 'n baie mooi plek gekies het vir Sy werk nie.

Van Sy kinderjare af was jesus bekend met die meer. Nasaret is maar 'n paar myl daarvandaan en Hy het seker baie maal daar in die meer gaan baai.

Toe Hy begin preek het, het Hy die meeste van Sy werk gedoen in die omgewing van Galilea; daar het Hy baie mense genees. Dit was teen die berghelling bokant die meer waar Hy die vyfduisend gevoed het. Dit is ook in daardie selfde meer waarin die tweeduisend varke verdrink het toe hulle in die afgrond neergestort het.

Dit is ook hier waar Jesus vir Petrus en sy broer Andrea gevind het terwyl hulle besig was om vis te vang en Hy het hulle geroep om "vissers van mense" te word.

Maar hoewel Galilea 'n mooi plek is terwyl die son skyn, kan dit ook soms ' n baie onaangename plek wees. Dit is een van die verraderlikste van alle mere. As die weer skielik opkom en die wind op die wter begin woed, ontstaan daar golwe net so groot as dié van die ope see. Selfs vandag nog kan skuite omkantel en mense daar verdrink.

sommige van die opwindendste episodes in die lewe van Jesus het daar plaasgevind.

Een aand, ná 'n besige dag, het die dissipels oor die meer begin vaar. Jesus was by hulle, maar omdat Hy baie moeg was, het Hy aan die slaap geraak. Hy het in die agterstewe op 'n kussing gelê.

Toe hulle omtrent halfpad oor was, het die wind skielik opgekom en die water was baie onstuimig. Die skuit is gevaarlik rondgeslinger en het baie water geskep. Die dissipels het uitgeskep so vinnig as hulle kon, maar dit het hopeloos gelyk. binne 'n paar minute was die skuit vol water en omdat hulle geweet het wat so baie kere al met ander gebeur het, het die dissipels gedink dat hul laaste uur geslaan het.

Maar Jesus het rustig voortgeslaap - Hy was seker baie moeg!

Vreeslik bang, het die dissipels besluit om H om wakker te maak.

"Meester!" het hulle geroep, "gee U nie om dat ons vergaan nie?"

Net asof Hy nie omgegee het nie!

Hy het in die skuit vol water opgestaan en aan die wind gesê om op te hou met waai. Hy het daardie mooi en bekende woorde gebruik: 'Swyg, wees stil!"

Dadelik het die wind gaan lê - net so skielik as dit opgekom het - en alles was doodstil en vreedsaam.

Hy het Hom tot Sy dissipels gewend en aan hulle gevra: "Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?"

Nie een van  hulle het dit gewaag om te antwoord nie. Hulle het daar bly sit en vir mekaar gefluister: "Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die meer Hom gehoorsaam is?"

*** *** ***

'n Goeie ruk ná hierdie gebeurtenis was die dissipels weer op die meer; hulle het moedig geroei teen die wind. Dit was die nag ná Jesus die vyfduisend gevoed het. Hy het Sy dissipels vooruit gestuur terwyl Hy agtergebly het om te bid.

Toe hulle sien dat die branders al hoër styg,  het die dissipels begin wornder of hulle weer 'n ervaring sou h ê soos die een tevore - en hierdie keer was Jesus nie in die skuit nie.

Omtrent drie-uur daardie oggend, toe dit nog stikdonker was, het een van hulle skielik 'n noodkreet gelos.

"Kyk," het hy geskree, "kyk daar! Is dit nie die gedaante van 'n man wat daar op die water beweeg nie?"

"Dis 'n spook!" het die ander uitgeroep, vreeslik bang. Nou het hulle nie meer oor die skuit en die storm gedink nie. Hulle het gesit en kyk na daardie gedaante wat stadig oor die woeste golwe beweeg het.

"Kyk, dit gaan by ons verby!" het een van hulle uitgeroep.

"Ja waarlik!" het 'n ander met verligting gesê.

Toe het hulle 'n welbekende stem hoor sê: "Hou goeie moed, dit is Ek; moenie skrik nie."

Dit h et sulke verligting vir Petrus gebring dat hy uitgeroep het "Here, as dit U is, gebied my om op die water na U te kom."

"Kom!" het Jesus gesê en Petrus het uit die skuit geklim op die water. Hy het seker sy asem opgehou toe hy dit gedoen het - as hy dit nie gedoen het nie, moes hy.

Maar Petrus het Jesus volkome vertrou en opgehou deur 'n onsigbare mag, ht hy op die water begin loop. Hoe lekker was dit nie! Hy het nog nooit so 'n trilling deur hom voel gaan nie. Hoe heerlik was dit om sommer so oor die water te gly!

Klots!

'n Groot brander het teen hom geslaan en sommer dadelilk was al sy moed weg.

"Ek gaan tog wegsink!" het hy vir homself gesê en die volgende oomblik het hy ook begin wegsak. 'n Doodse vrees het hom beetgepak en baie benou het hy geskree "Here, red my!"

Binne 'n oomblik was Jesus aan sy sy en Hy het hom uit die water weer in die skuit gehelp.

"Kleingelowige," het Jesus gesê, "waarom het jy getwyfel?"

Toe hulle aan alles gedink het wat daardie dag gebeur het - die genesing van siekes, die voeding van die vyfduisend, hoe Jesus op die water geloop en Petrus gered het - was die dissipels oorstelp van verbasing. Daar in die sterlig het hulle Hom aanbid en gesê: "Waarlik, U is die Seun van God!"

(In tye van nood en benoudheid, kyk na Jesus.....nie na die golwe nie.)

Om die dam Perderoete