Ons eie Rooi Baron

Stoksielalleen val genl. Bob Rogers 'n Duitse vliegbasis aan - en oorleef dit!

Die Tweede Wêreldoorlog het 'n onverwagte aantrekkingskrag op duisende jong Suid-Afrikaners uitgeoefen. Baie van hulle het nooit na hul vaderland teruggekeer nie; sommige van hulle het vroegtydig oud geword en nog 'n paar het legendariese figure in die krygsgeskiedenis van hul land geword.

Een van dié klompie was 'n jong man wat aanvanklik mediese dokter wou word. Nadat hy aan die Maritzburg College in Natal gematrikuleer het, het hy in 1938 aan die Witwatersrandse Universiteit ingeskryf om in die medisyne te studeer, maar die oorlog het tussenbeide getree. Hy het nie sy kukrsus voltooi nie en ná 18 maande se studie het hy hom aangemeld om vir sy land te veg. Twee-en-'n-half jaar later op die ouderdom van 22, was lt.-kol. Robert Harry Doherty Rogers 'n eskaderleier in die Royal Air force (RAF) wat homself reeds onderskei het as 'n vlieënier wat gevaarlike en avontuurlike verkenningsvlugte in die westelike woestyn van Noord-Afrika uitgevoer het en het hy reeds die Distinguished Flying Cross (DFC) verwerf.

Nog voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog het dié jong man, wat in 1921 op Warden in die Vrystaat gebore is, bevelvoerder geword van 40 Eskader van die SA Lugmag, 'n staaf by sy DFC gekry en is ook die hoog gewaardeerde Distinguished Service Orden (DSO), een van die hoogste Britse medaljes vir dapperheid en leierskap, aan hom toegeken. Ná so 'n uitstekende oorlogsrekord kon daar net een loopbaan vir dié briljante jong man wees - vlieënier in die SA Lugmag.

Sy voorland was egter om self nog groter prestasies te behaal. Hy was nie net 'n buitengewone vlieënier nie, maar met die rang van luitenant-generaal het hy die elfde hoof van die Lugmag en ook die mees gedekordeerde offisier in die Weermag geword. Ten tyde van sy aftrede in 1979 het hy in twee groot oorloë geveg - die Tweede Wêreldoorlog en die Koreaanse Oorlog - en was hy verantwoordelik vir die opbou van die SA Lugmag se aanvalsvermoë en die herinstelling van gespesialilseerde verkenningsvlugte. Dit was ook hy wat die Lugmag op 'n operasionele grondslag laat laas het om die insypeling van terroriste in Suidwes-Afrika en uit buurlande hok te slaan.

Toe Bob Rogers in die jare dertig nog 'n tiener was, het die beroemde Britse vlieënier, sir Alan Cobham, Suid-Afrika met sy "flying circus" besoek. Die jong Bob het ook 'n vlug in een van die ou vliegtuie meegemaak en was geweldig onder die indruk daarvan. Maar hy het aanvanklik nie toegelaat dat dié ondervinding hom van sy doel om arts te word, laat afsien nie. Hy wou dokter word en dokter sou hy wees. Hierdie ysere wilskrag en vasbeslotenheid sou hom in die toekoms ook openbaar, of hy nou met gelykes, ondergeskiktes of meerderes te make gehad het.

Nadat hy hom by die SA Lugmag aangesluit het, het hy eers 'n boordskutter geword,  iets wat sy skerpskutterstalente nog verder bevorder het (hy het al in 1936 sy Springbokkleure as skutter verwerf). Rogers wou egter altyd die beheer oor sy eie lewe behou en het verkies om vlileënier te word. So h et hy dan vliegopleiding begin ontvang in Januarie 1941.

Die relatief vrye soort vlieëry van dié tyd het mense soos Bob Rogers by uitstek aangespreek. Medisyne was nou nie meer in sy gedagtes nie. Hy vertel self dat, toe hy sy opleiding in Rhodesië ontvang het onder die "Empire Training Scheme", dit - uiteraard nie-amptelik - die gewoonte was om ná die eerste alleenvlug tweegevegte in Tiger Moths uit te voer. Die tweegevegte is natuurlik weg van die basis uitgevoer terwyl die leerlinge nog maar so min as tien uur vlilgondervinding gehad het!

Die aspirant-vegvlieëniers het mekaar uitgedaag om die tweegevegte net 'n paar honderd voet bo die bosse van Rhodesië uit te voer. Hy sê geluk speel maar 'n groot rol in 'n mens se lewe, want hy kon baie maklik in dié soort onverskillige vlugte gesterf het. Maar geluk was dwarsdeur Rogers se loopbaan aan sy kant en dit is die rede waarom die geluk en bygelowe so 'n groot invloed op hom uitgeoefen het.

Sy eerste operasionele eenheid was 208 Eskader van die RAF, en toe hy in Oktober 1941 in Egipte aankom, was hy die trotse draer van 'n paar nuwe vleuels op sy bors en die enkele "pip" van 'n tweede luitenant op sy skouer. Hy is onmiddellik ingespan as 'n verkenningsvlieënier op Hurricane-vegvliegtuie.

'n Gesonde werk was dit nie juis nie, want die "recce boys" moes voortdurend gevaarlike opdragte uitvoer. Die meeste daarvan was oor vyandelike gebiede vanwaar hulle foto's en verslae van vyandelike aktiwiteite moes terugbring, sodat hulle inligtingsoffisiere 'n idee kon kry van die Duitse en Italiaanse magte se planne.

Dit was tydens een van dié opdragte dat Rogers bewys het dat hy nie net 'n uitstekende vlieënier was nie, maar ook 'n man met groot moed, verantwoordelikheid en vasbeslotenheid. Hy is gevra om 'n verkenningsvlug oor die woestyn te onderneem in 'n tyd waarin die Duitse veldmaarskalk Erwin Rommel se magte seëvierend gelyk het en die lugruim deur die gevaarlike vliegtuie van die Luftwaffe oorheers het. Dit was teen die helfte van 1942, juis nadat rommel se magte onverwags deur die Geallieerde linies gebreek het om Tobruk in te neem. Rommel was besig met voorbereidings vir sy aanval op El Alamein.

Dit was lewensnoodsaaklik om akkurate inligting oor die vyand te kry en Rogers se verslag sou noodwendig 'n groot deel van die legkaart invul wat nodig was om Rommel se voornemens te wete te kom. Saam met 'n makker het hy in Augustus 1942 opgestyf, maar al gou is h ulle deur vier Messerschmitt 109-vegters bespring. Die stadiger Hurricanes was in die reël geen party van die vinnige en dodelike Duitse vegters nie, en kort ná die eerste skietery, was sy makker in ernstige moeilikheid, met sy vliegtuig beskadig en rook wat uit die masjien borrel. Dwarsdeur die luggeveg van 20 minute het die 21-jarige Rogers sy makker terug na die Geallieerde linies beskerm. Herhaaldelilk het hy met sy Hurricane reg teen die Duitsers ingevlieg. Een van die Messerschmitts het hom getref en 'n vinger van sy linkerhand afgeskiet, asook deel van die gasarm wat hy met dié hand moes beheer. Hy het op sy tande gebyt, die verblindende pyn geïgnoreer en die bloed probeer keer deur sy beseerde hand teen sy dy vas te druk. So het hy volgehou totdat die Duitsers tou opgegoooi het.

Tot die dood toe moeg het Rogers veilig by sy basis geland en verslag oor die belangrike opdrag gedoen. Vir dié dapperheid is die DFC aan hom toegeken. Die sitaat vir die toekenning lui só: "In August 1942, lt. Rogers was detailed to make a reconnaissace of an area in which powerful o pposition from enemy fighters was to be expected. When he had almost completed his task, he was engaged by four Messerschmitt 109's, and in the ensuing combat lt. Rogers received serious injuries to his left hand and half the throttle control in his aircraft was shot away. Displaying great courage and superb airmanship  he succeeded in evading his attackers. He landed at base safely and rendered a valuable report."

Uit die aard van die saak is Rogers se vlieëry tydelik deur dié wond onderbreek, maar kort voor lank was hy weer terug in aksie, dié keer saam met 40 Eskader van die SA Lugmag. Saam met dié eskader het hy diens gedoen in Egipte, Sicilië en Italië. Sy werk was steeds gevaarlik en veral die woestyn was blykbaar een van sy opwindendste jagterreine.

Met 'n heeltemal onbedoelde o ngeërgdheid vertel hy van al sy avonture wat sekerlik boeke vol kan staan. Een van die grootste beledigings wat 'n vlileënier 'n vyand kan aandoen, is om een van sy vliegbasisse stoksielalleen aan te val. Een oggend was Rogers weer op 'n verkenningsvlug, toe hy 'n Duitse vliegbasis net suid van Benghazi gewaar. Dit is net kort tevore op die Geallileerdes verower. Hy het geen Duitse vliegtuie in die omgewing gesien nie, maar reguit deur die lugafweervuur geduik om die basispersoneel en installies met sy masjiengewere te bestryk. Die lugafweervuur was hewig en akkuraat en sy vliegtuig is ernstig in die masjien en vlerkbasis getref.

Die masjien het oorverhit begin raak, heelwat olie in die stuurkajuit in gelek en die waaghalsige jong vlieënier met 'n pynlike warm laag taai olie bedek. Sy vliegbril is besmeer en hy kon nie meer so mooi sien nie, maar Rogers het dit reggekry om 'n haastige buiklanding op die met rotse besaaide woestynoppervlak uit te voer.

Hy het besef dat hy redelik naby die duitse basis was en dat hull troepe sou uitstuur om hom te soek. toe hy haastig uitspring, ontdek hy sy Hurricane het net 'n paar voet van 'n wadi - 'n droë rotsagtige rivierloop - tot stilstand gekom. As die vliegtuig net 'n paar voet verder gegly het, kon hy ernstig beseer gewees het. So het die geluk hom weer begunstig.

Rogers het dadelik met die wadi af begin hardloop, maar spoedig word hy voorgekeer deur 'n offisier - gelukkig 'n Britse kaptein wat die omgewing aan die verken was. Die kaptein was in 'n stafmotor saam met 'n pantserkar en heeltemal onbewus daarvan dat hy agter die Duitse linies was. Rogers het hom goou ingelig, waarna hulle saam noordwaarts in die rigting van Derna beweeg het. Kort voor lank het die pantserkar egter gebreek, waarop hulle al die soldate in die stafmotor moes oorlaai. Daarmee is hulle dwarsdeur die Duitse linies terug na hul onderskeie eenhede. Rogers se avontuur het sowat agtien uur lank geduur en in die tussentyd is hy as vermis aangegee.

Die verkenningsvliegtuie wat meestal laag moes vlieg - dikwels op 4 000 voet - was gewilde teikens vir die buitengewone akkurate 88 mm-lugafweerkanonne van die Duitsers. Op 'n keer, toe rogers in Italië weer op soek na Duitse stellilngs was, moes hy weer 'n noodlanding uitvoer met sy olietemperatuur aan die klim en die beskadigde masjien wat net-net wou gaan staan. Dog die geluk was weer eens aan sy kant soos die jong vlieënier na die vliegbasis by Forly teruggesukkel het.

Op die aanloopbaan was 'n paar tegnici aan die werk. Desperaat het hy sy vlerke heen en weer gewikkel om aan te dui dat hulle moes padgee. Maar pleks daarvan dat hulle Rogers verstaan het, het die tegnici vriendelik teruggewaai. Hy het sy gasarm oopgetrek en die protesterende masjien oorreed om genoeg krag te gee sodat hy kon klim en draai om weer te probeer. Hy moes oor die naburige dorpie vlieg en as sy masjien toe ingegee het, sou hy nie betyds kon uitspring nie - om nie eens te praat van die skade in die dorpie self nie! Maar gelukkig het die tegnici dié keer van die aanloopbaan af padgegee. Net toe hy krag wou verminder om te land, hoes sy masjien vir 'n laaste keer en gaan staan. Rogers kon land, maar die geluk moes dié keer sekerlik oortyd gewerk het.

Rogers hou tot vandag toe vol dat die geluk 'n groot rol in die lewe van elke vlieënier speel. Hy sê dit is hieraan te danke of 'n vlieënier sterf of oorleef, veral as hy nog onervare is. "As hy die eerste paar maande oorleef, dan is dit blote geluk."

Bygeloof speel ook 'n rol, sê hy. Volgens hom het daar elke keer tydens die oorlog by sy vliegtuig as hy gefotografeer is, iets onverwags gebeur. Voorspellings is natuurlik taboe. By 'n perskonferensie vroeg in 1979, toe lt.-genl. Rogers besig was om aan persmanne te verduidelik dat die SA Lugmag se veiligheidsrekord vergelykbaar was met die beste lugmagte in die wêreld, kon die aanwesiges sien hoe hy verskeie kere die hout van die tafel voor hom aangeraak het. En toe was sy vlieëniersloopbaan al verby.

Nogtans het die jong Bob Rogers se meteoriese opgang na 'n senior rang gedurende oorlog niks met die geluk te make gehad nie. Reeds vroeg in sy loopbaan was sy leierseienskappe duidelik. Sy uitstekende vliegtalent, aansienlike ondervinding, skerp intellek en kritiese gees het verseker dat hy vinnige bevordering ontvang het, juis in 'n tyd dat goeie leiers weens die hoë ongevalle onder vlieëniers nogal skaars was.

Op die ouderdom van 22 het hy dus die bevel oorgeneem van 225 Eskader van die RAF> In daardie stadium was hy die jongste luitenant-kolonel wat die SA Lugmag nog ooit opgelewer het. Hy self meen dié bevordering was een van die mylpale van sy loopbaan.

Die eskader, wat op dié tydstip (Desember 1943) in Italië gestasioneer was, het 'n baie kosmopolitiese karakter gehad, want daar was Kanadese, Australiërs, Britte, Suid-Afrikaners - en selfs 'n Chinese vlieënier! Maar vandag sê Rogers trots dit was 'n gelukkige eskader.

Die Chinese vlieënier het 'n omstrede tegniek teen die gevreesde lugafweer, wat die Duitsers met tipiese Teutoniese akkuraatheid kon rig, gehad. As die lugafweervuur op die ergste was, het hy sy Spitfire se sitplek so laat moontlik laat sak en sy oë toegemaak. Was dit dalk 'n geval van Oosterse lis?

Rogers hou in ider geval vol dat onkundige soms die veiligste is. Terwyl hy nog 'n onervare operasionele vlieënier was, het hy nooit die groot onheilspellende rookwolke in die lug met buitengewone kommer aanskou nie, want hy het nie geweet wat dit was nie. Toe hy deur van sy mede-vlieëniers oor die lugafweervuur uitgevra is, het hy geantwoord: "O, dit was normaal", min wetende hoe erg dit eintlik was!

Sy ongverstoorbaarheid het egter min verander wanneer hy wel die erns van die lugafweervuur besef het. Terwyl die Slag van Anzio in volle gang was, was hy bevelvoerder van 225 Eskader en 'n mede-Suid-Afrikaner, Tiny Nel, was bevelvoerder van 40 Eskader van die SA Lugmag. Op 'n keer het Rogers Nel saam met hom oor Anzio laat vlieg om hom te oriënteer. Sy radiokommentaar was ongeveer só: "Daar is die gevegsterrein. Die brughoof is nou aan jou regterkant. Lugafweer vuur op ons. Lugafweer het my nou net getref. Gaan nou huis toe." Oor die eter het Tiny Nel se onbekommerde antwoord gevolg: "Cheerio, sien jou later." En doodluiters het hy verder deur die lugafweer gevlieg.

Ná sy dienstyd by 225 Eskader, het lt.-kol. Rogers na sy ou eenheid, 40 Eskader, teruggekeer. Hier het hy nog meer roem verwerf as leier van dié vermaarde verkenningseskader wat na bewering deur veldmaarskalk Montgomery beskryf is as waardevoller as twee divisies in die veld. Die Geallieerde "recce"-vlieëniers is ook deur Montgomery se aartsrivaal Rommel voor dié se nederlaag in Noord-Afrika geprys.

Die verkenningsvlieëniers se gewoonte was nl. om op pad terug na die basis 'n opsomming van wat op hul sending gebeur het, per radio te sein sodat hul bevelvoerders presies kon weet wat die vyand op daardie oomblik aangevang het. Dié seine is dikwels deur die Duitsers onderskep en nadat Rommel so 'n onderskepte boodskap gesien het, het hy geïrriteerd gesê: "Die Geallieerde vlieënier is die enigste mense wat my kan sê waar my troepe is."

Bob Rogers se briljante leierskap en intieme kennis van lugverkenning het verseker dat die Geallieerde bevelvoerders in Italië en Oostenryk gedurende die laaste fase van die oorlog uiters waardevolle inligting oor die Duitsers se bewegings gekry het. Sy kennis was die gevolg van groot ervaring, iets wat later van die grootste belang sou word vir die handhaaf van Suid-Afrika se militêre superioriteit in Suider-Afrika.

Hy het 40 Eskader tot aan die einde van die oorlog gelei en sy uitstekende bydrae is eerken deur die toekenning van 'n DSO in 1945. Die gevegte in Oostenryk het tot 'n einde gekom met groot verwarring onder die uitgeputte Duitse magte. 'n Paar dae ná die vuurstaking is een van Rogers se vlieëniers nog afgeskiet deur Duitsers wat nie geweet het die oorlog is al verby nie.

Met die oorlog verby, was dit nou al etlike jare dat Rogers niks met mediese sake te make gehad het nie - jare vol opwining en uitdagings en sukses. Vir die hoogs gedekoreerde jong vlieënier kon daar nou net een keuse wees, en dit was 'n loopbaan in die Lugmag. Baie van sy strydmakkers het weer burgerlikes geword en sommige het by ander lugmagte aangesluit. Rogers het egter na Suid-Afrika teruggekeer en hom by die Staande Mag laat inskryf.

Die nuwe roetine as Lugmagoffisier in vredestyd was maar mak vergeleke met wat hy gewoond was. Hy moes ook weer gewoond raak aan die feit dat hy weer 'n junior offisier was, want hy was nou weer 'n blote kaptein, net soos sovele ander offisiere wat die vredestydse Lugmag as beroepsoffisiere betree het.

Nog 'n keer is Rogers by 40 Eskader ingedeel. Die Spitfires is nou vervang deur Austers en Harvards - stadige vredesduiwe. Die ietwat saai en burokratiese lewe het egter nie sy geesdrif gedemp nie. Sy avonture het hy nou beleef in sport, meestal rugby, krieket, tennis en waterpolo. Hy het die fisieke kontak en die spangees geweldig geniet. Hy het ook die vlieëry geniet en sy kant met opleiding van nuwe vlieëniers gebring.

Maar opnuut het die aantrekkingskrag van doodsgevaar begin roep. 'n Nuwe bedreiging het oor die wêreld vaardig geword - die Kommunisme. Rooi China het Suid-Korea binnegeval en Suid-Afrika was een van die lande wat gehoor gegee het aan die beroep van die Verenigde Nasies om die Kommunistiese aggressie teen te staan. Die Regering het besluit om 'n kontingent van die SA Lugmag te stuur en vrywilligers is gevra om hulle aan te meld. rogers  het nie op hom laat wag nie. Hy het hom by 2 Eskader aangesluit en twee dienstydperke in Korea voltooi.

Die meeste vlieëniers was gelukkig om die eerste dienstydperk te oorleef, aangesien die nou reeds ietwat verouderde Mustangs wat gebruik is, meestal grondaanvalle moes uitvoer en die Kommunistiese lugafweerkanonne het hulle kwaai verliese toegedien. Die geluk was egter steeds aan Rogers se kant en hy het alles oorleef. Hy was teen dié tyd al majoor en bevelvoerder van 'n vlug in 2 Eskader, die beroemde "Flying Cheetahs".

Op 'n keer was hy en tweede-luitenant Dennis Earp (later generaal-majoor en Direkteur-generaal Operasies, SAW) besig om hul Mustangs van 'n basis naby Seoul na 'n ander basis, K10, te vlieg. Die weer was baie sleg en die wolke so dig dat hulle byna niks kon sien nie. Naby K10 aangekkom, het hulle met die beheertoring probeer praat, maar tevergeefs. Wat hulle nie geweet het nie, was dat K10 pas 'n kragonderbreking beleef het, met die gevolg dat die radio's en die landingsligte nie wou werk nie.

Rogers en Earp het rondgesoek, maar kon die b asis nie vind nie. Net toe Rogers maar wou terugdraai, sien hy 'n eienaardige gloed deur die mis. Dit moet K10 wees, het hy dadelik gedink. Hulle het direk op die gloed afgevlieg en eindelik die basis gesien. Wat gebeur het, is dat 'n verbeeldingryke kollega 'n soeklig aangeskakel het om hul aandag te trek. Dié verbeeldingryke vlieënier was John Howe, wat leter 'n hoë offisier in die Lugmag geword het.

Nadat hy sy eerste dienstydperk (75 operasionele vlugte) voltooi en op die punt gestaan het om Korea te verlaat, het hy 'n g roep mans in die deur van sy hut aangetref. Toe hy vra waaroor hulle dan stry, antwoord hulle dat hulle sy bed wou hê. Rogers was eers ietwat uit die veld geslaan, want 'n tekort aan beddens was daar sekerlik nie. Maar toe sê een van hulle: "Jy het 'n gelukkige bed" ('Yours is a lucky bed')."

Hoe dit ook sy, weldra was hy weer in Korea vir 'n tweede dienstydperk dié keer met moderne Sabre-straaljagters.

By sy finale terugkeer na die Unie het Rogers al genoeg vlugte en opwinding meegemaak om die meeste mense lewenslank tevrede te stel, maar nog was't einde niet. Hy het hoofinstrukteur by die basis Langebaanweg aan die Kaapse Weskus geword en toe bevelvoerder van 2 Esader, wat net besig was om die nuwe Canadair Sabres in ontvangs te neem.

Daarna het hy verskeie stafposte by die Direktoraat Operasies van die Lugmag beklee en genoeg ondervinding opgedoen om by twee geleenthede projekoffisier in Brittanje te wees. Hy was projekoffisier van die groep wat in 1963 Canberra B-12-bomwerpers en T-4-lesvliegtuie in ontvangs gaan neem het en 'n jaar later weer om die Buccaneer-bomwerpers te ontvang. Hy was bevelvoerder van 12 en 24 Eskaders wat vandag nog met Canberras en Buccaneers onderskeidelik toegerus is.

Sy vliegloopbaan het ná sy leierskap van 24 Eskader tot 'n einde gekom. Hy was toe al 45 jaar oud en het al 25 jaar lank gevlieg. Dit was 'n kwarteeu van intensiewe gevlieg - van die ouderwetse Tiger Moth tot die hoogs gesofistikeerde Buccaneer. Maar vir Bob Rogers was dit nog nie die einde nie, want hy het nou vinnig opgang in verantwoordelike posisies begin maak.

Reeds as relatief junior lid van die Lugmag het Rogers nie sy mond gehou oor sake waaroor hy sterk gevoel het nie. Hy het nooiot van idee verander nie en volgehou totdat hy gelyk gekry het. Niemand kon sy logika in twyfel trek nie - en om die waarheid te sê, min mense het ooit probeer om teen sy kragtige persoonlikheid en karakter en sy groot redenarstalent in te gaan. Hy het argumente geniet en sou dikwels in die menasie sterk standpunt oor 'n saak inneem in die hoop dat imenad hom sou opponeer. Die debatte wat dan daarop gevolg het, was warm en afgewissel met nogal gekruide taal. Maar die gees was meestal goed, hoewel die niks vermoedende slagoffer dit soms nie besef het nie.

Kennisse vertel dat dit 'n ware ondervinding was om 'n vergadering onder Rogers se voorsitterskap by te woon. Hy sou intens na elke woord luister en die duiwel haal die man wat van die onderwerp afdwaal. Of so iemand nou 'n kaptein of 'n generaal was, "die baas" sou hom kortaf na die punt terugdwing. Maar sy haastige hemeur en skerp tong is meetal begryp deur diegene wat volwasse genoeg was om die man agter die ystere masker te verstaan.

Die feit is dat Rogers nie veel geduld met dwase gehad het nie - trouens, hy h et geen geduld hoegenaamd met hulle gehad nie. Bo alles kon hy ondoeltreffendheid nie verdra nie en die woord het nie eens in sy woordeskat bestaan nie. Hy is dikwels as 'n man onder manne beskryf, want by die menasie was hy altyd die middelpunt van die belangstellilng. Hy kon ure lank met junior offisiere praat en na hul standpunte luister. So het hy voelling gehou met die mense wat in die vliegpraktyk gestaan het.

Met sy breë agtergrondkennis van operasionele vlugte, taktiek en strategie, was dit dus geen verrassing nie toe brig. Rogers in Augustus 1974 tot generaal-majoor en Hoof van die Lugmagstaf bevorder is. Net vier maande later is hy tot tydelike luitenant-generaal bevorder as waarnemende Hoof van die Lugmag. Drie maande later is die bevordering bevestig.

Dit was jis in 'n tyd dat die teeninsurgensie-oorlog in Suidwes begin toeneem het. Dié stryd het 'n nuwe strategie en taktiek geverg, iets wat Rogers baie goed begryp het. Hy het besef dat daar 'n baie noue samewerking tussen die verskillende elemente van die veiligheidsmagte nodig was - vir kleilnlike jaloesie en kompetisie was daar geen plek nie. Van sulke samewerking het hy h eelwat ondervinding gehad toe die inval in Sicilië dertig jaar tevore beplan is. Hy was as vlugkommandeur by die beplanning teenwoordig en kon die noodsaak van intieme samewerking tussen die vloot, leër en lugmag insien. Ook die goeie samewerking tussen die Agtste Leër en die Woestynlugmag in Noord-Afrika was goeie ondervinding, want daar het hy geleer dat vliegtuie die oë van die leër was en dat lugmag en leër volledig op mekaar moes steun.

As relatief junior lid van die Lugmag was hy ontset deur die totale gebrek aan insig en onkunde van sommige senior Lugmag- en Leëroffisiere wat nog jare lank ná 1945 geglo het dat lugverkenning deur enige vlieër uitgevoer kon word. Volgens die heersende teorie kon elke vlieënier, as hy oor 'n bepaalde gebied gevlieg het, die grond terloops dophou en sien wat daar gebeur. Dit was hoe hulle lugverkenning beskou het. Rogers het sy misnoeë met dié idees in sterk taal duidelik gemaak en saam met kmdt. "Blackie" Swart was hy instrumenteel om die Gesamentlike Lugverkenning en Inligtingsentrum tot stand te bring. Die Weermag het net betyds sy "oë" herwin, soos die geskiedenis vrywel onmiddellik sou bewys.

Dit was maar 'n enkele voorbeeld van Rogers se versiendheid. Sy aanstelling as Hoof van die Lugmag was vir dié Weermagsdeel soos 'n vars bries. By sy eie mense was hy gewild en die pers en publiek het hom as 'n tipiese Lugmagoffisier beskou. Hy het 'n ietwat romantiese beeld gehad - aantreklik, deurdringende blougrys oë en 'n hoogs gedekoreerde oorlogsheld. Maar hy het ook ander eienskappe gehad - dryfkrag, intelligensie, geweldige energie en integriteit.

Rogers het geglo dat taktiese en strategiese inligting lewensnoodsaaklik was in die vloeibare en mobiele teeninsurgensie-oorlog in Suidwes. In so 'n stryd is daar geen linies soos in 'n konvensionele oorlog nie, want die terroriste tree op as mobiele eenhede met net die wapens wat hulle self kan saamdra. Die groot probleem is om hulle te vind en dit is juis in dié opsig dat Rogers veranderinge in die veiligheidsmagte se tegniek aangebring het. Hy het geglo die veiligheidsmagte moet self baie mobiel wees om die uiters beweeglike terroriste in die vir hulle bekende terrein hok te slaan.

Die terroriste beweeg te voet in die operasionele gebied en hulle het gewoonlik die element van verrassing aan hulle kant. Maar die veiligheidsmagte kan snel per h elikopter vervoer word en blitsvinnig by enige gegewe punt neergelaat word. Volgens Rogers moet die dapper helikoptervlieëniers van vandag in dieselfde lig beskou word as die vegvlieëniers van die Tweede Wêreldoorlog. Dit is dié manne wat gedurig onder vuur van die vyand kom. Rogers besef dit en dit is waarom die helikopterbemannings hom so baie respekteer. Hy verstaan hul lewensuitkyk en hul aggressiewe benadering.

Hy hou vol dat die oorlewingspeil van die Suid-Afrikaanse troepe hoër as in elke ander oorlog is. Die rede hiervoor is die uitstekende ontruimingstegniek vir gewondes wat deur die Lugmag en die Mediese Dienste van die SAW vervolmaak is. Niemand word ooit agter gelaat nie. Dié faktor verhoog die moreel van die Suid-Afrikaanse en Suidwestroepe aansienlik.

Die intensiewe gebruik van transportvliegtuie aan die grens het ook aan die troepe 'n groot voordeel besorg. Soos genl. Rogers verduidelik: groot getalle troepe kan binne 'n kort tyd na elke gegewe area vervoer word. Gedurende Operasie Savannah in 1975-1976, toe Suid-Afrikaanse magte by die Angolese burgeroorlog betrokke was, het die troepe uitsluitend op die Lugmag vir bevoorrading staat gemaak. Die hele operasie sou onmoontlik gewees het sonder die Lugmag.

Operasie Reindeer was die eerste groot aanval oor die grens sedert Operasie Savannah. Dié waaghalsige anval het in 1978 plaasgevind en Lugmagvliegtuie het terroristiese basisse diep in Angola aangeval. Dié aanvalle is opgevolg deur operasies van die Leër, wat versigtig beplan en buitengewoon goed uitgevoer is. Meer konvensionele aanvalle het daarna gevolg en in die proses het die Lugmag bewys dat hy 'n dodelike en doeltreffende gevegsmasjien is. Genl. rogers se benadering - "jy moet jou wapens tot jou beste voordeel aanwend" - het groot sukses afgewerp.

Gedurende sy tyd as Hoof van die Lugmag en genl. Magnus Malan se bevelstyd in die SAW het die veiligheidsmagte die inisiatief in Suidwes geneem, iets waarvoor hulle baie goed toegerus was. Dié aggressiewe benadering was besonder geslaagd, want die terroriste is in 'n chaos gedompel waarvan hulle nie weer kon herstel nie.

Genl. Rogers was altyd 'n man met 'n versiende blik en hy het altyd klem gelê op die voortdurende verbetering van toerusting en tegnieke. Dit is lewensnoodsaaklik om te weet wat jou vyand beplan en dit kan jy te wete kom as jy weet wat hy doen. Met ander woorde, verkenning duur steeds voort en die verbetering van hulpmiddele hiervoor is van kardinale belang.

Hoewel hy seker 'n tradisiionalis is, kan Bob Rogers nie daarvan beskuldig word dat hy 'n starre gees het nie - hy het altyd ver voor sy tyd uit gedink. Selfs ná sy aftrede beklemtoon hy die belang van satelliletverkenning. Hy sê dit moet die logiese volgende stap wees om die SAW se "oë in die lug" te verbeter.

Sy aftreeparade op 30 November 1979 was 'n aandoenlike oomblik vir die Lugmagpersoneel wat daar was. Hulle het afskeid geneem van 'n uiters gewilde Hoof van die Lugmag. Dié parade was die laaste gebeurtenis in 'n druk program van afskeidsfunksies dwarsdeur die Lugmag. By die parade het sestien Mirage F1-vegters aan die verbyvlug deelgeneem, maar die treffendste oomblik was toe die enkele Spitfire mk. IX oor die grond gebrul het.

Hoewel hy baie soorte vliegtuie in verskillende lande gevlieg het, het die Spitfire 'n spesiale plek in Rogers se hart bly inneem. Die herinneringe wat dié verbyvlug by hom opgeroep het, kan 'n mens net raai. Dit was vir almal teenwoordig 'n nostalgiese oomblik, want daar was baie beslis net een Bob Rogers. Hy was ongetwyfeld een van die beste mense wat ooiot die Lugmag aangevoer het, 'n ware seun van Suid-Afrika.

Ná sy aftrede het hy saam met sy vrou Clare in Knysna gaan aftree. Hy hou hom besig met gholf en seil, sake- en burgerlike aktiwiteite, maar hy is gewoond aan 'n druk lewe en hy sê altyd dat hy nie genoeg doen nie. As 'n mens met hom praat, is sy rustelose gees duidelik, maar daar is by hom ook die tevredenheid te bespeur van 'n man wat baie bereik het. Hy weier om oor die verlede te spekuleer, want sy lewe is nie op vronderstellings gebou nie en hy wil dus nie nadink oor wat kon gebeur het as die Tweede Wêreldoorlog nie tussen hom en 'n mediese loopbaan gekom het nie. Maar daar is baie min mense wat nie sou sê dat die mediese beroep ' n verlies die Lugmag se wins was nie.

Robert Swann

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0