'n Ware Honde Storie

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Daar is al baie wonderlike stories oor honde vertel, sommige is so wonderlik dat 'n mens soms wonder of hulle waar kan wees. Maar hier is een wat regtig waar is.

'n Paar dae gelede het ek en 'n paar vriende 'n groot woning op die platteland besoek. Die huis het in baie mooi gronde gestaan wat twee hekke gehad het. Die een hek het toegang verleen tot die buitegeboue en die ander een na die pad.

Die dame van die huis wat ons die plek gewys het, het ons deur die poort geneem na die buitegeboue. Skielik het daar 'n klomp groot honde uit alle rigtings op ons aangestorm. Hulle was baie groot. Hulle was van die bledhondtipe. Ek het nog nooit in my lewe so baie groot honde rondom my gehad nie. Ek het begin dink dat dit veiliger sou wees om so vinnig moontlik te retireer. 

Toe het daar 'n snaakse ding gebeur. Die dame het haar regterhand omhoog gehou en net een woord vir die honde gesê: "Gehoorsaam!" Dadelik het die honde teruggeval en agter hul nooi geloop soos 'n klompie lammers.

Die dame het ons vertel dat sommige van daardie groot honde nog maar ses maande oud was en dat hulle almal geleer is om elke bevel te gehoorsaam. 'n Rukkie later het ons geleentheid gekry om te sien hoe gehoorsaam hulle regtig is.

 Ons het weer in die gronde van die woning teruggekom en die honde wat ons die hele tyd gevolg het, het by die poort van die buitegeboue vastgesteek en ons nie na die huis gevolg het soos 'n mens sou verwag nie.

Daardie klomp groot honde het in die poort tot die buitegebou vasgesteek en nie 'n tree verder gekom n ie! Julle moet verstaan dat die hek oop was en daar was niks om hulle te keer nie.

Ek het die honde verbaas gestaan en aangaap. Hulle ht daar gestaan soos soldatewagte. Toe het een van hulle 'n entjie vorentoe geloop. Dadelik het die dame die towerwoord "Gehoorsaam!" geskree.. Die hond wat oortree het, het dadelik weer by die ander gaan staan.

En toe het daar weer 'n ander snaakse ding gebeur. 'n Kleiner hondjie - die huishondjie - het op die toneel verskyn. Hy het daar aangehardloop gekom, heeltemal tuis. Ek was verbaas dat hy dit doen.

"O dis heeltemal in orde," het die dame gesê. "Hy is die enigste hond wat ons in die binneplaas toelaat. Die ander weet dat hulle buite moet bly."

"Wel," het ek gesê, "so iets het ek nog nooit gesien nie!"

Die laaste ding wat ek van daardie besoek onthou, is daardie ry groot honde wat soos 'n regiment soldate daar in die poort gestaan het.

Toe ek daar weg is, het ek gedink watter aangename plek hierdie wêreld sou wees as al die kinders maar net helfte so gehoorsaam wou wees as daardie honde! Wat 'n seën sou dit wees as ouers maar net hoef te sê "Gehoorsaam!" om gehoorsaamheid te verkry van al die kinders.

Hoe staan sake in julle huis? Gehoorsaam julle altyd dadelik, sonder om te murmureer? Nie altyd nie? Wel, dan wil ek vir julle 'n teks lees - dit is die derde vers van die eerste hoofstuk van Jesaja: "'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaarm, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie."

Dit wil sê dat die diere, in God se oë, soms meer verstand het as mense. Hulle weet wie hulle voer, maar kinders dink soms nie daaraan nie. Die diere probeer om die base wat hulle voer, getrou te dien, maar daar is kinders wat Pappa en Mamma baie oneerbiedig behandel. Wat moet God van ons dink as ons so handel?

Ons moet nooit toelaat dat daar gesê wor dat die diere beter is as ons nie! Volgende keer wanneer Mammie gehoorsaamaheid wil hê, moet ons dink aan daardie honde waarvan ek julle vertel het - en onthou, julle moet nie eens een tree oor die lyn trap nie!