'n Halssnoer van medelyde

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

"Ag Mammie, is dit nie vreeslik nie!" het Doreen uitgeroep toe sy van die skool af kom. "Klein Joan Whittaker is dood!"

"Ag nee, hoe het dit gebeur?" roep Mammie uit.

"Sy is vanmiddag deur 'n vragmotor in die straat opgery."

"Daardie vreeslike vragmotors! Ek moet sommer dadelik na Mevrou Whittaker se huis gaan," sê Mammie.

Daardie aand het hulle amper nie daarna gevoel om nog meer edelstene te soek nie, want hulle kon maar nie die treurige ongeluk vergeet en die droefheid wat daar in die huis van die Whittakers gekom het nie.

"As ons vanaand iets maak, Doreen, dan moet dit 'n h alssnoer van medelye wees met arme Mevrou Whittaker. Sy is baie hartseer. Sal ons probeer om 'n paar edelstene vir haar te soek en hulle more aan haar stuur?"

"Dit is 'n baie mooi idee, Mamma, ons moet ons bes probeer om die mooistes vir haar te soek."

"Ek weet van een wat ons eerste van almal daarin moet plaas," sê Mammie. "Dit is 'n wonderlike ametis in die laaste hoofstuk van Jesaja en dit lui as volg: 'Soos iemand wat d3eur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos'." (Vers 13).

"Hoe kry Mamma dit reg om altyd aan sulke mooi tekste te dink?" vra Doreen.

"Die geheim is dat ons hulle so goed moet ken dat ons dadelik aan hulle kan dink wanneer ons hulle nodig het," antwoord Mammie. "Hier is nog 'n steentjie - net die een wat ons nodig het: 'Troos, troos my volk, sê julle God'. (Jes. 40:1) Kan jy in jou verbeelding Jesus sien neerbuig oor iemand wat ween en daardie mooi trooswoorde sê. Dit is soos 'n Mamma wat aan haar kind sê 'Moenie meer huil nie, net nou is alles weer reg'. Dink jy nie so nie?"

"Ja, dit is net so Mamma."

"En dit laat my sommer weer aan nog 'n mooi edelsteen dink - hierdie keer is dit 'n topaas - wat ons in die halssnoer van medelye kan sit. Jy sal dit vind in die eerste boek van Thessalonicense."

"Ek kan nooit daardie boek kry nie, Mamma."

"Soek maar, dit is in die vierde hoofstuk."

"Bedoel Mammie vers sewentien?"

"Nee, begin met vers sestien wat sê: 'Die Here self sal'."

"O, ek sien. 'Die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van die aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees'."

"Lees die volgende vers ook," sê Mammie.

Doreen het verder gelees 'Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde'.

"Jesus wil nie hê dat Sy kinders moet aanhou treur nie, selfs nie wanneer hulle 'n dierbare verloor het nie. Hy sê dat Hy weer sal terugkom om die dode lewendig te maak. Klein Joan sal weer lewe wanneer Jesus kom en haar Mammie sal haar weer sien," sê Mammie.

"Een van die meisies by die skool het gesê dat Joan hemel toe gegaan het," sê Doreen.

"O nee, sy het nie. Baie mense dink so, maar die Bybel sê nie so nie. Wanneer mense sterf, weet hulle niks, hulle sal eers weer iets weet wanneer Jesus hulle lewendig gemaak het. 'Die dooies weet glad nies nie' (Prediker 9:5. Hulle val in 'n baie, baie diep slaap."

"Maar dit is 'n vreeslike lang tyd om te slaap!" sê Doreen.

"Dit is nie so lank as wat jy dink nie. Wanneer jy slaap, weet jy nie hoe vinnig die tyd verbygaan nie. Wanneer jy in die more wakkerskrik, lyk dit vir jou of jy netnou maar gaan slaap het. So sal dit ook wees met klein Joan. Toe sy daar oor die straat wou stap, het sy natuurlik gedink aan die huis, haar Mamma en die ete. Toe het daardie vreeslike vragmotor gekom en haar omgery. Vir haar sal die volgende oomblik die heerlike koms van Jesus wees en die engele sal haar na haar Mamma toe nem en dit sal vir haar wees asof sy op pad van die skool af huis toe gaan na haar aandete en Mammie."

"O dis baie mooi, Mamma, en sal hulle nie bly wees om haar weer te sien nie!"

"O daarvan kan jy seker wees, hulle sal bly wees. Dit is om hierdie rede dat ons hierdie edelstene in die halssnoer vir Mevrou Whittaker moet sit. Maar ons moet nog meer soek. Daar is 'n baie mooi opaal in 1 Korinthiërs 15:55."

Doreen het dit nageslaan en gelees: "Dood, waar is jou angel? Doderyk waar is jou oorwinning?"

"Die andel van die dood word weggeneem deur die wete dat Jesus weer sal terugkom om die dode op te wek. Daarom moet ons hierdie edelsteen ook in die halssnoer sit. En ons moenie daardie pragtige steen in Openbaring 21:4 vergeet nie," sê Mammie.

Doreen het dit gelees: 'En God sal al die trane van hulle oë afvee en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan."

"Ja, ons moet hierdie steen sekerlik insit," sê Doreen.

"Dit skilder vir ons 'n baie mooi prentjie Doreen. Dit leer ons hoe naby God aan Sy treurende kinders kom en Sy arms om hulle slaan en hul trane afvee. Dit help ons om te verstaan hoe lief Hy ons het. Dit is waar, hierdie teks praat van die hemel en die Nuwe Jerusalem waar daar geen dood en pyn en droefheid meer sal wees nie, maar ek is seker dat God ons ook nou wil troos wanneer ons hartseer is."

"Mamma, as Mevrou Whittaker hierdie halssnoer mooi sal beskou, dan is ek seker dat sy baie gelukkiger sal wees."

"Ek is ook seker sy sal, maar daar is nog een edelsteen wat ons daarin moet sit. Dit is 'n pragtige rooi robyn van hoop. Jy sal dit vind in Jeremia 31 vers 16 en 17."

Doreen het ook hierdie tekste opgesoek en gelees. 'Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom. Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die Here; en die kinders sal terugkom'.

"Daardie juweel pas baie mooi," sê Doreen.

"Ja en dit sal aan Mevrou Whittaker 'n bepaalde boodskap bring van Jesus dat daar hoop is en dat klein Joan weer sal terugkom. Ek dink hierdie belofte sal haar baie vertroos," sê Mammie. (Slot volg)