Miems se Gawe

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

"Bella," het klein Miems lilefkosend gesê terwyl sy haar pop in die popwaentjie neerlê en haar sorgvuldig met die kombersies toemaak, "ek is seker dat daar in die hele wye wêreld nie nog so 'n mooi pop is soos jy nie."

Bella het natuurlik nie antwoord gegee nie, maar doodstil gelê op die wit kussing en haar oë was toe asof sy heeltemal tevrede was met haar lot.

"Ek dink ons kan nou maar 'n bietjie gaan stap, Bella," het Miems streng gesê. "Ek h oop dat jy jou goed sal gedra terwyl ons in die dorp is. En, onthou, as jy huil, kry jy geen lekkers nie."  Onnodig om te sê, het Bella nie gehuil nie en sy was so soet soos min babas.

Miems het die wandeling vreeslik geniet en sy het baie trots gevoel, soos klein dogtertjies maar voel wanneer hulle alleen hul eie popwaentjie stoot.

Op straat het Miems 'n arm klein dogtertjie teëgekom met die vuilste ou pop wat sy nog ooit gesien het. "Bella, ek is so bly dat jy nie so vuil soos daardie pop is nie," het Miems gefluister.

Maar dit  het gelyk of die arm dogtertjie haar vuil pop net so liefgehad het as wat Miems haar mooi pop gehad het, Sy het die pop styf vasgehou en aan haar gesê dat sy die mooiste pop in die wêreld was.

Op daardie oomblik - net toe die arm dogtertjie oor die straat geloop het - het 'n vramotor vinnig om die hoek gekom. Die dogtertjie het uit sy pad gesrping, maar sy het so geskrik dat sy haar pop laat val het. Dit het voor die motor beland en is flenters getrap!

Die arm dogtertjie het in trane uitgebars toe sy sien wat gebeur het met haar pop. Dit was die enigste pop wat sy ooit gehad het. Miems se ou hartjie was aangeraak. Dadelik het sy begin dink wat sy moet doen. Daar was niemand in die nabyheid nie en sy het gevoel dat dit haar plig was om die dogtertjie te troos. Sy het na haar toe gehardloop, haar handjie op haar skouer gesit en gesê dat sy nie moet huil nie. Maar die dogtertjie het gehuil. Miems het na haar popwaentjie gekyk en gedink aan haar pragtige pop, Bella. Sou sy? Sou sy? 

"Arme dogtertjie," het sy gesê, "moenie meer huil nie. Ek sal vir jou my eie pop, Bella, gee. Sy is die mooiste pop in die hele wêreld en sy sal jou weer gelukkig maak."

Sy het Bella vir oulaas vasgedruk en gesoen en haar toe aan die arm dogtertjie gegee, wat skaars haar oë kon glo. "Is dit vir my? Vir my?" het die dogtertjie gevra.

"Ja, dis nou jou pop vir altyd," het Miems gesê.

Toe het Miems omgedraai en so vinnig huis toe gehardloop as wat sy kon, sodat sy nie weer van plan kon verander nie. Sy het voor hulle huis op die stoep vir 'n rukkie gesit om na te dink oor wat gebeur het; en toe sy na haar leë popwaentjie kyk, het daar trane in haar oë gekom.

Maar iemand het gesien wat gebeur het. Uit die boverdieping van een van die huise het 'n vrou gesien wat gebeur het - ook die mooi gebaar van Miems. Daarom het daar 'n paar dae later 'n dame by Miems-hulle kom aanklop en by haar het sy 'n langwerpige pakket gehad, in bruin papier gewikkel. sy het gesê dat dit 'n nuwe pop was vir die dogtertjie wat haar eie pop weggegee het.

Miems was so bly dat sy nie geweet het wat om te doen nie. Sy het gevoel dat Jesus vir haar die mooi pop gestuur het en Mammie het ook so gedink.

Miems het die nuwe pop Isabel genoem, om haar te herinner aan die een wat sy so liefgehad het.