Losbol word dapper Kryger

Samuel Maharero verenig sy volk teen die oorheersers en behaal 'n aantal roemryke oorwinnings, maar lei die Herero op die ou end tot hul tragiese ondergang

 Ná die dood van Tjamuaha in 1861 het sy seun Maharero die Herero-hoofman van Okahandja geword. En gou h et die skrander Maharero, wat deur Jonker Afrikaner opgelei is in moderne krygskunde, die meeste van die Herero-stamgroepe verenig. Hy het perde en vuurwapens bekom en met behulp van verskeie blanke handelaars en jagters die oorhand oor die Afrikaners en ander Nama- en Oorlams-stamme gekry. Nog net Hendrik Witbooi was 'n gevaar en hy en sy onverskrokke Witkams het die stryd teen die Herero voortgesit.

In 1879 versoek Maharero vir W.C. Palgrave, Britse spesiale kommissaris in Suidwes, om sy twee seuns Wilhelm en Samuel na die Kaap te n eem. Maharero het die Kaapse regering van tyd tot tyd om Britse beskerming gevra en hy wou hê dat sy twee belangrikste seuns moet vertroud raak met die lewenswyse, politiek en denkwyse van die blankes.

Albei seuns het veel geleer, maar Samuel Maharero het nie eintlik belang gestel nie. Sy ouer broer, Wilhelm, is reeds as sy vader se opvolger aangewys en alhoewel Samuel groot dapperheid en krygsvernuf in skermutselings met die Nama-stamme getoon het, het hy hoofsaaklik die losbandige en luilekker lewe van 'n aristokraat gelei.

Samuel het sy skoolopleiding by die Augustineum-sendingskool in Okahandja ontvang en het die Christelike geloof aangeneem. Hy is egter weens swak gedrag uit die skool geskors en later weens sedeloosheid deur die kerk onder sensuur geplaas. Sy toekoms was onbelowend.

Maar toe sneuwel Wilhelm Maharero in 'n geveg teen die Witboois by Otjimbingwe in 1880 en Samuel, as Maharero se oudste seun, se aansien neem dadelik toe. Hy was nou sy vader se logiese opvolger, hoewel Maharero nie ten gunste daarvan was nie. Samuel was sedeloos en lief vir alkohol en omdat hy as 'n Christen gedoop is, sou hy nie die heilige Herero-stamvuur kon versorg nie; die tradisionele plig van elke Herero-opperhoof.

Toe Maharero vroeg in 1890 siek word, het Kataree, sy vierde vrou en Samuel se moeder, hom oorreed om Samuel as sy opvolger uit te roep. Dit is gedoen en op 7 Oktober 1890 sterwe Maharero.

En dadelik ontstaan daar 'n stamtwis. Nikodemus en Tjetjo, twee gesiene Herero-hoofmanne, het aanspraak gemaak op Maharero se troon, maar omdat hulle nie in Okahandja, die tradisionele setel van die Herero-opperhoof, gewoon het nie, is geeneen van hulle verkies nie. Ook Riarua, veggenaal van Maharero, was nie bereid om die knie voor die jonger Samuel te buig nie. Maar met behulp van sy moeder is Samuel Maharero wel teen die einde van 1890 as opperhoof van die Herero-nasie ingehuldig. Hy het baie en sterk opponente onder sy eie m ense gehad en vir 'n paar jaar was sy heerskappy onseker.

In 1889 het maj. Curt von François die grootste gedeelte van die huidige Suidwes-Afrika namens die Duitse regering in besit geneem. In 1894 is Von François - weens sy onvermoë om die Witboois aan Duitse gesag te onderwerp - vervang deur maj. Theodor Leutwin. Aanvanklik het Samuel Maharero hom tot die Duitsers gewend om ondersteuning teen die vyandige Herero-hoofmanne sowel as die Witboois. Maar namate meer duitsers die land binnegekom en die Duitse invloed gegroi het, het die Herero en ander inheemse bevolkingsgroepe die Duitse teenwoordigheid as 'n bedreiging gesien.

Ook Hendrik Witbooi, wat as leier van die Nama-volk beskou is, het gevoel dat die tyd aangebreek het dat die inheemse bevolking van Suidwes-Afrika teen die Duitse bedreiging moet verenig. Ná geheime onderhandelinge het Samuel Maharero en Hendrik Witbooi in 1892 'n vredesverdrag gesluit. Hierdeur is die oorlog tussen die Herero en Nama, wat afwisselend byna 'n halfeeu geduur het, beëindig.

En tog het Samuel Maharero voortgegaan om die Duitsers se guns te wen om sodoende hul steun teen vyandige Herero-hoofmanne te verkry. Hy het tradisionele Herero-stamgrond aan Leutwein verkoop en toegelaat dat die Duitsers garnisoene in Hereroland vestig. Hierdeur het Samuel homself verryk, maar in groot onguns geraak by die ander hoofmanne. Veral Nikodemus was woedend, maar hy is gepaai met die hoofmanskap oor die Mbanderu-Herero in die ooste van die gebied.

In Mei 1895 het 'n konferensie tussen die belangrikste Herero-hoofmanne en Leutwein by Otjihaenena plaasgevind. Grense is vasgestel vir die verskeie hoofmanne en sekere waters en weivelde is aan bepaalde stamgroepe toegeken. Samuel Maharero, wat nou deur die Duitse regering as opperhoof van die Herero-nasie erken is, het die destyds aansienlike jaargeld van 2 000 Duitse mark ontvang.

Hierdie gebaar het Nikodemus dwars in die krop gesteek en nadat sy eis dat Gobabis as setel vir hom gegee word deur Leutwein verwerp is, het Nikodemus en Kahimema, met behulp van die Khaua-Hottentotte, Gobabis aangeval. Die klein Duitse garnisoek het dapper geveg en Nikodemus is totaal verslaan en het aan die vyand oorgegee. 'n Krygshof is saamgestel waar Samuel Maharero en ander Herero-hoofmanne op die jurie gedien het. Nikodemus en Kahimema is ter dood veroordeel en deur 'n vuurpeloton tereggestel.

Samuel se laaste groot vyande was uit die weg geruim en hy was nou onbetwisbare hoof van die Herero-nasie.

Die volgende vyf jaar was daar betrklike vrede tussen die Herero en die Duitsers. Maar sake het begin skeefloop. alhoewel groot gedeltes Herero-grondop 'n wettige wyse aan die Duitse regering en koloniste verkoop is, het sommige Duitse boere groot stukke grond eenvoudig van die Herero geneem. 'n Sekere Falkenhausen was veral skuldig aan hierdie wanpraktyk. Hy het sonder toestemming gaan boer in die stamgebied van hoofman Kajata, wie Falkenhausen beveel om te trek, maar hy het geweier en die hoofman is hof toe met die saak. Falkenhausen is slegs met 50 mark beboet.

Die Herero-volk was verbitterd en opstandig oor hierdie onreg en hul opstandigheid het daagliks groter geword. Leutwein het eerstens die handel in vuurwpanes met die Herero verbied en in 1903 is 'n hoofman se dogter deur 'n besope Duitse soldaat vermoor. Die saak teen die Duitser is laat vaar.

Leutwein het deur Hereroland gereis om Samuel Maharero te besoek en om die Herero-bevolking te kalmeer, maar sonder veel welslae. Setlaars het hul Herero-beeste toegeëien en daar was nog moorde. Die sweep en sambok is vrylik deur die nedersetters gebruik en klagtes by blanke magistrate is gewoonlik geïgnoreer. Samuel Maharero het 'n lang brief aan goewerneur Leutwein geskrywe waarin hy gekla het oor die hardhandige optrede van die koloniste en die bevooroordeeldheid van die gereg. Daar het niks van gekom nie. Verskeie sendelinge het in Suidwes en in Duitsland by die owerhede protes aangeteken, maar ook hul besware het op dowe ore geval.

Die Herero het die Duitsers as 'n bedreiging begin sien; 'n bedreiging wat hul selfrespek afgetakel en hul voortbestaan as 'n volk in die gevaar gestel het. 'n Gees van opstand het onder die Herero ontstaan en hulle het uit alle oorde vuurwapens opgekoop en hulle gereed gemaak vir die stryd wat moes kom.

Gedurende die eerste dae van 1904 het bykans al die belangrikste Herero-hoofmanne bymekaar gekom onder die voorwendsel om 'n opvolger te kies vir die hoofman van Waterberg, Kambazembi, wat oorlede is. By hierdie beraad is daar besluit om oorlog te voer teen die Duitsers. Samuel Maharero het briewe aan Hermanus van Wyk, kaptein van die Rehoboth Basters, en Hendrik Witbooi, hoof van die Witboois, geskryf en hulle versoek om aan die opstand teen Duitsland deel te neem. "Ons moet hulle vernietig of hulle sal ons land neem," het hy geskryf. Hermanus van Wyk het hom nie aan Samuel se versoek gesteur nie en albei briewe aan die Duitsers oorhandig met die gevolg dat Witbooi se brief hom nooit bereik het nie. As dit wel gebeur het, kon die geskiedenis van Suidwes-Afrika 'n ander verloor geneem het, want Witbooi het eers nege maande later tot die stryd toegetree.

Samuel Maharero het ook 'n brief aan Leutwein geskryf waarin hy die redes vir die oorlog genoem en Leutwein beskuldig het van "sosiale diskriminasie" en roof en moord wat in die Duitse howe nie gestraf is nie. Hy het egter verklaar dat daar net teen die Duitse mans geveg word. Vrou, kinders en sendelinge asook alle Boere en Engelse en lede van ander bevolkingsgroepe sou veilig wees. Hierdie instruksies is bykans tot die letter uitgevoer.

Maharero het die tyd vir die opstand goed gekies. Daar was op daardie tydstip min Duitse troepe in Hereroland. Leutwein en sy drie kompanies soldate was 600 km weg in die suide waar hulle besig was om 'n opstand van die Bondelswarts-Hottentotte te onderdruk.

Die Duitsers is heeltemal op die verkeede voet betrap. Hulle het nooit geglo dat Samuel sou oorgaan daartoe om 'n dominante rol te speel nie. Leutwein het hom beskou as 'n swakkeling; iemand wat hom geheel aan drank en losbandigheid oorgegee het. Maar Maharero het opeens verrys as 'n ysterman; 'n man wat die Herero-volk soos nooit tevore herenig het nie. 'n Man wat ontpop het as 'n patriot, taktikus, soldaat en onbestrede heerser en leier van sy nasie. En tot sy nederlaag by die slag van Waterberg het Samuel, wat toe vyftig jaar oud was, sy nuwe rol met die grootste nougesetheid en dissipline vervul. Dit was asof die pierewaaier 'n gedaantewisseling ondergaan het.

Op 12 Januarie 1904 het die Herero aangeval. Binne enkele dae is meer as 120 Duitse mans - soldate en koloniste - gedood, waaronder die gehate Falkenhausen. Die spoorlyn tussen Swakopmund en Windhoek asook die telegraaflyn is op meer as vyftien plekke vernietig. In Hereroland het Maharero se stryders die oorhand gekry en Duitse garnisoene en polisiestasies en plase aangeval. Die Duitse nedersettings by Okahandja en Omaruru is geheel omsingel en vir die eerste keer in baie jare het die Herero hul selfrespek en waardigheid herwin.

Toe goewerneur Leutwein per heliograaf berig ontvang van die uitbreek van die Herero-opstand, verlaat hy en 'n paar offisiere Keetmanshoop te perd, kruis die Oranjerivier en ry sonder onderbreking na die hawe van Port Nolloth in die kaapkolonie. Hiervandaan reis hy met 'n Kaapse kusvaarder na Swakopmund, waar hy die verskriklike nuus van die situasie in Hereroland ontvang:

Meer as dertig polisieposte, waaronder Onjati, Albrechtshöhe, Kubas, Etiro, Otjituo, Waterberg en Okasise is uitgewis. Gobabis, Outjo, Grootfontein en Otjimbingwe i s aangeval en van hulp afgesny. Spoorwegstasies is afgebrand, lokomotiewe beskadig en brûens vernietig. Die Herero het groot hoeveelhede burgerlike sowel as militêre voorraad en uitrusting buitgemaak asook duisende beeeste en kleinvee. Okahandja en Omaruru is deur 'n oormag Herero beleër en sou binne enkele dae val indien teenmaatreëls nie gou geneem word nie.

Op 15 Januarie ontvang kapt. Victor Franke, bevelvoerder van die 2de Veldkompanie, op pad deur Gibeon 'n heliograafberig oor die opstand. Hy en sy kompanie draai dadelik om en alhowel hul perde nie in 'n goeie toestand is nie, bereik hulle Windhoek ná slegs vier dae. In Windhoek word hul perde vervang en die kompanie versterk en op 27 Januarie, ná 'n geveg van ses uur met die Herero, word Okanhandja ontset. Op 4 Februarie bereik Franke Omaruru en ná 'n hewige geveg waarin die Herero 100 en die Duitsers 25 man verloor, word Omaruru bevry. Uit die weste het Leutwein Okahandja bereik met die Swakopmund-garnisoek en 'n afdeling seessoldate van die kruiser Habicht wat op 18 Januarie in Swakopmund aangekom het.

Samuel Maharero het hom in die berge van Onganjira en Oviumbo oos van Okahandja gevestig en hiervandaan sy veldtog beheer. Om sy posisie in die sentrale gedeelte van die land te versterk, ontbied hy veghoofman Tjetjo van Gobabis om by hom aan te sluit. Tjetjo bring duisend man met hom saam, van wie 500 berede en met goeie Engelse gewere gewapen is.

Samuel se volgende stap is om die strategiese watergate, putte en fonteine te beset. Hoewel dit 'n goeie reënjaar is, is reën altyd 'n wisselvallige kommoditeit in Suidwes-Afrika en sonder water kan geen veldtog gevoer word nie. Waters wat nie deur die Herero benut word nie, word vergiftig. Verder gee Samuel Maharero bevel dat die geweervuur van sy soldate op die Duitse offisiere, met hul onderskeidende uniforms en kentekens, gekonsentreer word. Sonder offisiere sou die doeltreffendheid van die Duitse soldate drasties afneem.

En Maharero maak met groot welslae gebruik van die tradisionele wyse van oorlogvoering van die Herero deur sy vyande voor te lê en/of in hinderlae te lok. Omdat hy die waters beheer, kon hy hierdie taktiek tot 'n fyn kuns ontwikkel. Maar in die eerste groot geveg met die Duitse magte by Otjihaenamaparero in die Etjo-berge moet Maharero die aftog blaas en 600 groot- en 1 500 stuks kleinvee prysgee. Hierdie nederlaag was hoofsaaklik toe te skryf aan die feit dat kinders, vroue, ou mense en vee saam met die Herero-krygers beweeg het; 'n toedrag wat uiteindelik die Herero se nederlaag sou bydra.

By Ovikokorero bewys Maharero egter op 13 Maart 1904 dat hy 'n uitmuntende taktikus is toe sy magte dertig Duitse offisiere en ruiters van maj. Grlasenapp se afdeling uitwis onder om 'n enkele Herero-soldaat te verloor.

Ná 'n geveg by Neu-Barmen, waarin bykans alle offisiere en onderoffisiere van kapt. Puder se kompanie doodgeskiet of gewond is, gee Leutwein die bevel dat offisiere nie meer rang- en ander kentekens mag dra nie.

By Okaharui, op die boloop van die Swakop-rvier, durf Maharero op 3 April weer maj. Von Glasenapp se afdeling aan. Albei kante veg verbeter en albei kante verloor ongeveer vyftig man. Vir die Herero was die verlies van vyftig man minimaal. Vir die Duitsers, wat toe minder as duisend troepe in die land gehad het, was dit 'n gevoelige slag.

Samuel Maharero laat sy troepe hergroepeer en roep ondersteuning van Waterberg, Omaruru en Otjimbingwe in. Toe - op 9 April - val hy die Duitse laer by Onganjira met 3 000 gewere aan. Die Duitsers is onverhoeds betrap aangesien hulle glad nie geglo het dat die Herero - slegs ses dae ná die geveg vy Okaharui - sou aanval nie.

Hoewel die Duitsers die Herero uiteindelik teruggedryf het, het die Duitsers veertig man en van hul beste offisiere verloor. Die slag by Onganjira was inderdaad 'n nederlaag vir die Duitsers en die militêre owerheid in Berlyn het begin wonder waarom die mag van die Duitse Ryk nie die opstand van 'n klomp barbare in Afrika kon onderdruk nie.

Leutwein moes iets doen. Hy en sy mense, militêr sowel as burgerlik, het nog nie herstel van die skok van die Herero-opstand nie. Sy middele was beperk, sy mense, wapens en ammunisie min. Hoewel hy reeds hulp en ondersteuning van Berlyn gevra het, het slegs enkele troepeskepe in Swakopmund aangekom. Die organisasie was swak en die offisiere nie gewoond aan die land en omstandighede nie. Groot versterkings was wel onderweg, maar intussen moes Leutwein voortgaan met die middels tot sy beskikking.

In 'n poging om Duitse aansien te herwin, besluit maj. Theodor Leutwein om die Herero aan te val en bring alle beskikbare troepe en wapens byeen en trek teen Samuel Maharero by Oviumbo op. Onder Leutwein se bevel staan 500 man - die grootste konsentrasie Duitse soldate wat tot daardie tyd nog in Suidwes bymekaargebring is. Maar Maharero het 5 000 Herero-stryders onder sy bevel en die Duitsers word 'n nederlaag toegedien.

Hoeveel man die Duitsers by die slag van Oviumbo verloor het, is nie openbaar gemaak nie. Dit word egter konserwatief op 100 gestel en Leutwein moes ná die geveg, wat tien uur geduur het, in die nag deur digte doringveld terugval met sy gewondes en dooies om te wag vir die versterkings wat uit Duitsland belowe is.

So het Samuel Maharero gedurende die maande van Februarie, Maart en April van 1904 in Suidwes die oorhand gehad. Die Duitsers was ver in die minderheid, het ver van h ul vaderland in 'n vreemde omgewing geveg en hul moraal was laag. Tifus het onder hulle uitgebrek en verskeie afdelings is in kwarantynkampe geplaas. Driehonderd manskappe en offisiere het die siekte opgedoen en bykans vyftig is daarvan oorlede.

Die Herero, daarenteen, was besiel met die besef dat hulle vir hul volk en land veg. Hulle het die gevegsterrein geken en het maklik en vinnig beweeg en hul posisie verstewig. Samuel was 'n nasionale held!

Ná die Duitse terugslae gedurende die eerste helfte van 1904 en Leutwein se nederlaag by Oviumba het die Berlynse regering besluit om drasties op te tree. Duisende troepe, tesame met grofgeskut en masjiengewere, is na Duits-Suidwes gestuur. 'n Mediese afdeling, 'n spoorwegkompanie, 'n sein-kompanie en duisende tonne toerusting en lewensmiddele, wapens en ammunisie kom in Mei aan. In een stadium het meer as twintig voorrade- en troepskepe by Swakopmund voor anker gelê. Duisende perde is uit Pruise en Argentinië gebring, tesame met groot getalle muile en donkies. Uit die Kaapkolonie is honderde transportwaens en trekosse bestel om die vrag te vervoer.

En Berlyn het besluit om Leutwein te vervang. Hy is beveel om die Herero-magte besig te hou, maar om verder geen groot ondernemings aan te pak nie. Op 6 Mei raak die 1ste Veldkompanie betrokke in 'n geveg met die Herero by Otjikuoko en op 24 Mei by Otjomaso en Otjisasu. Samuel Maharero en veldhoofman Tjetjo onderskei hulself deur dapprheid. Outjo word weer aangeval, maar die aanval word afgeslaan. Die reëntyd is verby en die Herero-magte konsolideer hul posisies.

In Berlyn word lt.-genl. Lothar von Trotha as die nuwe bevelvoerder van die Duitse magte in Suidwes genoem. Hy arriveer op 11 Junie in Swakopmund met sy stafoffisiere, persoonlike lyfwag, 'n mediese afdeling en oor die vyfhonderd manskappe en offisiere tesame met 500 ryperde. By sy aankoms in Okahandja neem Von Trotha bevel oor by Leutwein. Von Trotha, 'n geharde soldaat, het 'n reputasie vir wreedheid en hy kondig onmiddellik krygswet deur die hele Duits-Suidwes-Afrika af. Verder reik hy 'n verklaring uit waarin hy aandui dat hy voornemens is om die Herero-nasie te onderwerp en - indien nodig - in die proses uit te wis.

Nadat Von Trotha die militêre situasie in Suidwes ondersoek en geëvalueer het, het hy nog versterkings, asook medium en swaar kanonne, aangevra en gedurende Junie en Julie kom nog 2 000 soldate tesame met hul perde, wapens en ammunisie aan. Von Trotha stuur patrollies uit om die ingegrawe Herero in skermutselings te betrek en hul krag te toets.

Samuel Maharero is verbyster deur die massale opbou van Duitse soldate en krygstuig. Hy het nie verwag dat Duitsland tot so 'n mate sy belange in Suidwes sou beskerm nie. Die Herero-krygers was wel talryk, maar hulle het min perde gehad en hul enigste vuurwapens was gewere, waarvan die helfte goeie Engelse magasyngewere was. Helfte van die Herero in die veld was slegs gewapen met hul primitiewe spiese en pyle en boë. Die Duitsers, daarenteen, het oor 'n groot aantal masjiengewere, snelvurende kanonne en grofgeskut beskik, tesame met onbeperkte ammunisie.

Dit was vir Maharero duidelik dat indien sy soldate effektiewe weerstand sou bied, hulle moes saamtrek en verenig in 'n saamgestelde, soliede liggaam. En soos die Duitse aanslae teen die Herero toegeneem het, het hulle al hoe meer in die rigting van die Waterberg, oos van Otjiwarongo, beweeg.

Samuel Maharero het die vroue, kinders en bejaardes tesame met hul geliefde beeste in die diep klowe van die Klein- en Groot-Waterberg laat intrek aan die suidekant van die omgewing van Hamakari. Vroeg in Augustus het die Herero-krygers hulle ingegrawe en was hulle gereed vir die geveg wat sou volg.

Maar genl. Von Trotha was nie haastig nie. Hy het sy artillerie en masjiengeweerafdelings laat naderkom en opgestel op strategiese punte. Hy het sy kavallerie en infanterie ontplooi en honderde ossewaens het reuse-hoeveelhede voedsel en ammunisie nader gebring. Aan Herero-kant was daar 6 000 weerbare mans, wie die helfte met vuurwapens bewapen was. Hierbenewens het meer as 40 000 kinders, vroue en bejaardes in die Waterberg geskuil.

Von Trotha het 5 000 soldate, twaalf masjiengewere, tien ligte snelvurende kanonne en twintig stukke grofgeskut tot sy beskikking gehad. Stelselmatig het hy sy soldate en veldstukke om die Waterberg getrek totdat die Herero-vyand bykans omsingel was. Slegs die oostekant, wat toegang bied tot die waterlose sandveld en Kalahari-woestyn, was onbewaak.

Gedurende die middag van 10 Augustus slaag 'n klein afdeling Duitse seiners daarim om 'n lilgseinapparaat op die hoogste punt van die Waterberg op te stel. Met hierdie apparaat sou hulle booskappe na onder stuur om die kanonvuur te beheer.

Sonop 11 Augustus 1904 flits die seine hoog uit die Waterberg en die Duitse kanonniers verstel hul veldstukke. Dan kom lt.-genl. Lothar von Trotha se bevel en 'n bombardement soos Suidwes nog nooit ondervind het en nooit weer ondervind het nie, bars los.

Vir twee uur spuug die Krupps vuur en staal en 2 000 Herero-mams, -vroue en -kinders sterf in die klowe waar hulle saamgedrom is. Ook duisende beeste word uitgewis en vermink deur die verwoestende kanonvuur. Die Herero skiet terug, maar die Duitse artillerie is buite bereik van hul geweervuur.

Toe Samuel Maharero die vreeslike slagting onder sy mense aanskou, besluit hy dat daar net een redding is - die moordende kanonne moet bestorm en stilgemaak word. Verskeie berede eenhede word opgestel en jaag uit die klowe op die Duitse artillerie af. Maar nou kom die Spandau-masjiengewere in aksie en die Herero-ruitery word afgemaak. Keer op keer storm die Herero-kavallerie en keer op keer word hulle in die grond in geskiet deur Duitse masjiengeweerskutters. Maharero staak sy kavallerie-aanvalle en met dodelike Mauser-vuur word die genadeslag aan gewonde Herero-krygers en hul perde toegedien.

Intussen gaan die vreeslike bombardement voort. Salvo ná salvo word afgevuur en ontplof tussen die diggeplaaste Herero in die berg. Die rotswande is bedek met bloed en die gerkerm van gewondes en sterwendes en die angsgille van die lewendes weergalm deur die klowe.

Toe dit donker word daardie aand, raak die Krupps stil. En Samuel Maharero besef dat hy verslaan is. Sy spioene bring die nuus dat daar aan die oostekant van die berg geen Duitsers is nie. Hy gee die bevel om te onttrek en dwarsdeur die nag stroom duisende Herero uit die Waterberg na die waterlose sandveld in die ooste.

Die volgende oggend word die bombardement voortgesit en die laaste Herero wat in staat is om te loop, vlug helder oordag. Honderde word afgemaai deur masjiengeweervuur, maar die vlugtendes word nie dadelik agterna gesit nie. Het Von Trotha doelbewus die oostekant van die slagveld onbewaak gelaat met die wete dat die Herero dan net in die woestyn kon invlug? Het hy hulle 'n dag kans gegee om in die waterlose sandveld swak te word voordat hy sy duiwelswerk begin het? Die geskiedenis verskaf nie antwoorde op hierdie vrae nie.

Gedurende die voormiddag van 12 Augustus laat weet die seiners bo-op die berg dat daar niks meer is om na te skiet nie en die kanonne word finaal stil. Genl. Von Trotha reik twee bevele uit. Eerstens, dat daar geen onmiddellike agtervolging van die vyand sou wees nie. Manskappe en offisiere moet rust. Die agtervolging van die Herero sou die volgende dag begin.

Tweedens, elke Herero-man wat gevind word, moet op sig doodgeskiet word sonder inagneming van sy fisiese toestand en of hy gewapen is al dan nie. Bloedgeld sal betaal word vir elkle herero wat so uitgewis word. Vroue en kinders moet nie gedood word nie, maar daar moet oor hul koppe gevuur word om hulle op loop te jaag. Hoofmanne, kapteins en onder-kapteins moet lewend aangekeer word sodat hulle later in die openbaar gehang kan word, 'n Prys is op elkeen se kop gestel.

Gou het die vlugtrendes ontdek dat hulle slegs 'n dag of twee in die woestyn aan die lewe sou bly. Baie het omgedraai en hulle teen die Duitse magte vasgeloop. Von Trotha se vreeslike bevel is uitgevoer.

Altesame 1 500 Herero, onder wie Samuel Maharero, het op wonderbaarlike wyse deur die dors van die Kalahari gegaan en die veiligheid van Brits-Betsjoeanaland bereik. Maar duisende ander het omgekom, van dors en honger of teregstelling deur die duitse magte. Voor die slag van Waterberg was daar 80 000 Herero in Suidwes-Afrika. Aan die einde van 1904 was daar minder as 20 000 oor - hoofsaaklik vroue en kinders, van wie 12 000 in konsentrasiekampe geplaas is.

Geen herero is toegelaat om vee te besit nie en  hulle was gedwing om vir die blankes te gaan werk om aan die lewe te bly. Sendinggenootskappe het geld ingesamel om kos te koop vir die verslane volk, maar nogtans het duisende van hongersnood omgekom. Lt.-genl. Lotha von Trotha het sy taak suksesvol afgehandel.

Klaarblyklik was Samuel Maharero 'n enigmatiese persoon. Hy was onverskrokke, intelligent en opgevoed. Omdat hy 'n ryk seun van 'n Herero-opperhoof was, het hy nooit gewerk nie en met die kenmerkende trots van die Herero-nasie neergesien om ander bevolkingsgroepe. Hy het 'n luilekker, losbandige en sedelose lewe gelei; sy voorliefde was jong meisies, brandewyn en dobbel.

Samuel Maharero het groot stukke Herero-stamgrond verkoop om homself te verryk. Hy het sy vyande, die Duitsers, om hulp gevra teen sy eie mense. Hy het op 'n jurie gedien wat twee groot Herero-hoofmanne tot die dood veroordeel het. Hy het die tradisionele Herero-geloof laat vaar en 'n Christen geword - maar 'n slegte Christen wat deur sy kerk onder sensuur geplaas is. Hy het met Hendrik Witbooi en Hermanus van Wyk van Rehoboth teen die Duitsers saamgesweer terwyl hy aan Leutwein voorgegee het dat hy 'n vriend van die Duitse Ryk was.

En tog, toe sy volk dit van hom vereis, het Samuel Maharero geantwoord op hul roepstem. Hy het georganiseer, beplan, opgeoffer en 'n waaragtige leier van sy mense geword in elke opsig. Hy was slim en dapper en het die Herero-nasie sterker gemaak as enige ander opperhoof. Maar hy het ook sy volk tot hul tragiese ondergang gelei. Want hy het onvergeeflike foute begaan.

Sy aanval op die Duitsers op 12 Januarie 1904 was 'n flater. Dit het hom wel 'n tydelike voordeel besorg, maar hy het daardie voordeel nie ten volle benut nie. Sy soldate het nie aanvallend genoeg opgetree nie en was tevrede met klein oorwinnings. Die ander fout wat Maharero begaan het, was om nie seker te maak dat Hendrik Witbooi en ander Nama-stamme die Duitsers gelyktydig met die Herero aanval nie. As dit wel gebeur het, sou die klein Duitse leër in Suidwes 'n slag toegedien kon gewees het waarvan dit moeilik sou herstel het en Berlyn sou miskien 'n ander benadering tot die situasie in sy konlonie gehad het.

Maar die grootste flater wat Samuel Maharero begaan het, was om die Duitsers se oorlogsvermoë te onderskat en nie te besef dat hulle tot 'n volskaalse oorlog sou oorgaan nie.

Gedurende 1906 verlaat Samuel Maharero Betsjoeanaland en vestig hom in die noordelike Transvaal. Maar in 1922, toe hy voel dat sy einde naderkom, trek hy terug na Betsjoeanaland om die volgende jaar daar tussen die treurige oorblyfselfs van sy verslane volk te sterf.

Aan die einde van 1923 het dr. Heinrich Vedder, 'n groot vriend van die Herero-nasie, gereël dat Samuel se liggaam na Suidwes gebring word. Daar, in Okahandja, is hy langs sy vader, Maharero, en sy grootvader, Tjamuaha begrawe.

Doc Immelman

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0