Konkers en Oorwinnaars

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories
Deel Een


deur Arthur S. Maxwell

Fred Ware het baie graag konkers gespeel. Tuis het hy 152 in 'n kartondoos gehad. Hy het vir seker geweet, want hy het hulle al so dikwels getel.

Op pad skool toe het Fred altyd by 'n kastaiingboom verbygestap en daar het hy net soveel konkers moontlik opgetel om by sy versameling tuis te plaas.

Een van sy konkers was al goed beproef. Hy het hom twee jaar lank gebêre en hy was al so hard soos 'n stuk yster. In 85 gevegte het hy al sy teenstanders stukkend geslaan. Fred was trots op hom en was seker dat hy nooit verslaan sou word nie.

Eendag, in die herfs, was Fred weer op skool met sy sakke en sy kop vol konkers. Terwyl die onderwyser op die swartbord geskryf het, het Fred al die seuns rondom hom uitgedaag om teen sy beproefde konker te kom. Naderhand het iemand aan die deur geklop en die onderwyser is weggeroep.

Net voordat hy uitstap, draai hy om en sê: "seuns, julle moet maar aangaan met jul werk totdat ek terugkom." Maar hulle was ongehoorsaam. Hy het nog skaars die deur toegemaak of 'n dosyn kinders hul lyne het uit 'n dosyn sakke gekom, gereed vir aktiewe diens.

Klap, klap, kraak! Fred se konker was die bobaas van hulle almal en dit was ook nie lank nie of die stukke het gewaai.

"Psjuut! waarsku iemand en voor jy kon sê "mes", is al die konkers gebêre en het almal na die stukkies op die vloer gegryp. Toe die onderwyser weer inkom, was almal hard besig met hul boeke.

Die onderwyser het agterdogtig rondgekyk en iets op die vloer gesien. Hy het baie goed geweet wat dit beteken. "Het iemand altemit met kastaiings gespeel solank ek uit die klaskamer was?" wou hy weet.

Daar was 'n doodse stilte. In Fred se hart het 'n stryd gewoed. Sou hy bieg, erken? Dit sou gewis beteken dat hy sy ou staatmaker sal verloor en dan sou hy nie meer oor die ander kon baasspeel nie. En as hy stilbly, watter saak sou dit tog maak?
Die onderwyser was self eenkeer 'n seun en hy het goed geweet wat op daardie oomblik in iemand se hart omgaan. Sonder om nog 'n woord te sê, skryf hy op die swartbord:  "Konker / Oorwin / Oorwinnaar". Hy het omgedraai en sê: "Is daar altemit 'n seun hier wat hom deur 'n kastaiing gaan laat verslaan?"

Dit was vir Fred te veel. Hy het skielik besef dat die 85 gevegte van sy konker niks was in vergelyking met die stryd wat hy nou self moes voer nie.

"Meneer, ek het gespeel solank u buite was."

"Bring hier jou konker."

Dit was 'n baie verslae Fred wat sy ou staatmaker met lyn en al gaan afgee het.

"Dankie. Maar een persoon alleen kan nie konkers speel nie. Daar is nog ander ook wat vanmiddag hier gespeel het en nie die moed het om te erken nie. Dit klas sal tot vyfuur vanmiddag moet sit - net Fred Ware kan loop.

Toe was Fred baie bly dat hy gepraat het. Daardie aand het hy sy Ma vertel wat gebeur het en sy het verstaan en gesê: "Ek sal liewer sien dat my seun 'n eerlike opregte oorwinnaar is as om te weet dat hy al die konkers in die hele wêreld het."  Fred het saamgestem.

Dis altyd maar die beste om te bely en die waarheid te vertel. Seuns wat dit doen, sal dappere en edele manne word, want dit kos moed om dit te doen.