Juffrou Brompot

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Natuurlik is dit nie haar regte naam nie. Ek durf julle nie sê wat haar regte naam is nie, want dit sal haar seker baie ontevrede maak. Dit was haar Pa wat haar die naam van "Juffrou Brompot" gegee het en julle het ook al seker geraai waarom: Juffrou Brompot was sommer vol klagtes. Sy behoort eintlik in Bromdorp te gewoon het, maar sy het nie. Sy het saam met haar ouers en boetie in 'n mooi huis gewoon. Daar was regtig niks om oor te kla nie, want sy het mooi klere en genoeg kos en 'n lekker lewe gehad. Wat meer kon 'n goeie dogtertjie verlang? Poppe, ja, sy het baie gehad en ook 'n popwaentjie en popbedjie. Sy het altyd sakgeld gehad en dus ook altyd lekkers geëet. En sy het ook byna genoeg geld gehad om 'n fiets te koop.

Nou sal julle vra, maar waarom het sy dan altyd gekla? Ek sou nie kan sê nie, maar sommige dogtertjies is baie snaaks, is hulle nie? Hulle doen altyd wat 'n mens nie verwag nie en dit was die geval met Juffrou Brompot.

Sommer nog vroeg in die môre, nog voor sy opgestaan het,  het sy al begin kla. Gewoonlik het sy so begin: "Hou op Jimmie!" Daarop het Mammie gesê "Wat se gedurige 'hou op' is dit, wat makeer nou weer?"

En dan het Juffrou Brompot brommend gesê "Jimmy lê daar en sing en ek wil nog rus," of "Jimmie koggel my uit."

Aan die ontbyttafel kon mens haar gewoonlik hoor sê "Ek hou nie van hierdie pap nie", of "Ek wil nie vanmore pap hê nie, ek is nie honger nie."

As sy op die klavier moes oefen, was dit 'n gebrom van 'n ander wêreld: haar vingers was kastig te koud, of sy hou nie van daardie stuk nie.

By die middagete was dit nog die ergste. Byna elke dag - al het Mammie ook wat vir haar ingeskep - het sy gesê "Dit smaak sleg" en alles was dan nie vir haar lekker nie.

Verskeiemaal al het Pappie haar gebied om die tafel te verlaat en na haar kamer te gaan omdat sy so stout was, maar dit het haar nie genees nie. Eindelik het hy haar 'n pak slae belowe as sy nie verbeter nie.

Eendag by die middagete het Juffrou Brompot weer begin.

"O ek hou glad nie van hierdie kos nie," het sy begin, "ek het alweer so 'n klomp slegte kool gekry...."

"Kyk hier," het Pappie gesê, "onthou jy nie wat ek jou so baie kere al gesê het nie? Daar is duisende kinders wat maar te dankbaar sal wees as hulle sulke kos kry. Jy sal nie daar opstaan voordat jy al jou kos geëet het nie."

Sy het toe gemaak asof sy haar kos eet; sy het hier so 'n bietjie geskep en so-te-sê niks geëet nie. Toe al die ander klaar geëet het, het Juffrou Brompot nog skaars begin, feitlik al die kos was nog in haar bord. Pappie het opgestaan en Mammie het in die kombuis gaan werk terwyl sy aan tafel bly het om klaar te eet.

Toe skielik het sy die skoolklok gehoor en sy  het geweet wat op haar gewag het as sy laat kom. Sy het dadelik opgestaan, haar jassie aangetrek en skool toe gehardloop sonder om eers vir Pappie en Mammie te groet.

Toe Mammie later in die eetkamer kom, was Juffrou Brompot weg en  haar kos het nog net so gestaan.

"Goed outjie, ons sal sien wat gebeur?" het Mammie gesê.

Toe die skool uit was, het Juffrou Brompot huis toe gekom, sy het alles vergeet wat by die middagete gebeur het. Sy was nou net bewus van een ding en dit was dat sy baie honger gevoel het.

Die aandete het op tafel gekom en daar was 'n heerlike geur. Juffrou Brompot se mond het dadelik begin water. Daar was koek en 'n heerlike nagereg. Sy het gemeen sy gaan baie lekker eet. Toe almal aan tafel was, het Mammie ingekom met Juffrou se middagete wat sy nie wou hê nie.

"Dogtertjies soos jy moet leer," het Mammie met 'n glimlag gesê, "dat hulle nie moet brom oor goeie kos nie. Voordat my dogtertjie iets van die lekker kos hier op tafel kry, moet sy eers eet wat sy vandag laat staan het."

Hoe het Juffrou Brompot nou nie gewens dat sy maar haar kos geëet het op die regte tyd nie! Nou het dit glad nie so lekker gelyk nie en natuurlik was dit koud. Die trane het begin kom. "Ek wil dit nie e-e-e-e-t nie," het sy huilend gesê.

Die ander het lekker geëet en die heerlike eetgoed het vinnig verdwyn. Juffrou Brompot het  het doodstil gesit, terwyl 'n traan so nou-en-dan geval het.

Toe het sy begin dink dat as sy nie gou maak en eet nie, sal daar niks koek en jellie vir haar oorbly nie. Sy het haar vurk gevat en begin eet.

"Daar eet sy dit," het Jimmie gesê.

"Dis glad nie mooi van jou om aanmerkings te maak nie," het Pappe gesê, want beide hy en Mammie het gemaak of hulle niks merk nie.

Sommer gou het Juffrou Brompot haar bord leeg gehad en daar het ' n aangename glimlag verskyn toe sy net betyds was om die laaste stukkie koek te kry.

Toe hulle daardie aand gaan slaap het, het Pappie vir Mammie gesê "Ek glo nie sy sal ooit weer brom oor haar kos nie." En sy het ook nie.

Om die dam Perderoete