Natal, 1845 - 1902

Pioniersdistrik

Op 31 Mei 1844 het Natal, wat reeds op 12 Mei 1843 deur Brittanje geannekseer is, 'n distrik van die Kaapkolonie geword. Eers in Desember 1845  het die bestuur wat in die voorafgaande April vir hierdie distrik ingestel is, in werking getree. Die bestuur, bestaande uit 'n luitenant-goewerneuer bygestaan deur 'n raad van vyf lede, het slegs in 'n uitvoerende hoedanigheid opgetree. Wetgewende gesag het by die Kaapse regering berus en die Natalse luitenant-goewerneur moes deur die kaapse goewerneur met die Imperiale regering korrespondeer. Martin West, voorheen resident-magistraat vir Albanie, was die eerste luitenant-goewerneur. Een van sy bestuurslede was Theophilus Shepstone (later sir) in die hoedanigheid van diplomatieke agent vir die swartmense. Hy sou 'n sleutelfiguur in die Natalse administrasie van die swartes se sake word.

Benewens die klompie Engelse handelaars en die Britse garnisoen het die blanke bevolking van Natal in 1845 hoofsaaklik bestaan uit ongeveer 400 Voortrekkerfamilies, wat ten spyte van die anneksasie van die Republiek Natalia tog in Natal gebly het. Onder hulle was Andries Pretorius, wat op sy plaas Welverdient, naby Pietermaritzburg, gewoon het. West sou hierdie Voortrekkers met Britse gesag moes versoen; 'n taak wat nie maklik sou wees nie, want hulle was reeds ontevrede omdat hulle geen seggenskap in die landsbestuur gekry het nie. Boonop sou West se rassebeleid en die feit dat al hul grondaansprake nie erken sou word, hulle verder vervreem.

Sowat 100 000 swartes het hulle teen 1845 in Natal bevind, waarvan die meeste ná die Britse besetting van Natal iln 1842 uit Zoeloeland binnegestroom het. Hulle was 'n las en 'n bedreiging vir die blankes, het hulle orals, selfs op Boereplase, neergeplak. gewapend rondgeloop en diefstal gepleeg en was traag om dienskontrakte aan te gaan. Hierdie probleem sou West moes oplos. In die wete dat Mpande, die Zoeloe-opperhoof, die vlugtelinge sou straf as hulle na Zoeloeland teruggestuur word, wou West nie so 'n stap oorweeg nie. Tog was hy bevrees dat Mpande die beeste wat die vlugtelinge saamgebring het - dit het volgens Zoeloegebruik aan die opperhoof behoort - met wapens sou opeis. Gelukkig vir West was Mpande nie oorlogsugtig nie. Nogtans moes met die swartes in Natal 'n plan gemaak word en met die oog hierop, stel West op 31 Maart 1846 'n lokasiekommissie aan.

Die lokasiekommissie het 'n aantal lokasies of reservate vir die swartes aanbeveel - o.a. die Zwartkop-, Umvoti-, Inanda- en Umlazilokasie - en voorstelle vir die beheer daarvan aan die hand gedoen. Besware teen die lokasies het nie uitgebly nie, veral omdat hulle binne blanke gebied geleë was en selfs bewoonde plase ingesluit het. Die Zwartkoplokasie was bv. naby Pietermaritzburg, in die omgewing van Pretorius se plaas. "Onder desen besluiten namentlyk dat soo een overstrooming van Moort en Roofsugtig volk in het middern onser moeten blyven," skryf Pretorius dat ook in 1846 aan West, "sullen ieder onser dierbaare wooningen met traanen in den oogen moeten verlaaten als ons leven en eygendom aan hun te riskeren."(1)

(1) Aangehaal in M.C. van Zyl: Luitenant-goewerneur Martin West en die Natalse Voortrekkers, 1845-1849 (Argiefjaarboek vir S.A. Geskiedenis, 1955, deel II), p. 135

Selfs die Britse regering was ontevrede oor die aanbevelings van die kommissie, want die kommissie wou hê dat die Britse staatskas geld moes voorsiet vir 'n blanke superintendent en 'n blanke offisier met 'n polisiemag vir elk van die lokasies. Graaf Grey, die Minister van Kolonies, het in Desember 1847 beslis dat die swart kapteins self hul onderdane moes beheer tot tyd en wyl Natal dit kon bekostig om die swartes onder Britse wette en administrasie te plaas. Op hierdie tydstip het daar reeds grootskaalse ontevredenheid onder die Natalse Voortrekkers geheers oor die beleid rakende die swartes en omdat daar nie aan hul grondaansprake voldoen is nie.

Die anneksasieproklamasie van Mei 1843 het bepaal dat grond slegs gegee sou word aan boere wat kon bewys dat hulle hul plase bewoon het gedurende die 12 maande voor die aankoms van Henry Cloete, die spesiale kkommissaris wat die grondaansprake moes ondersoek. Sommige blankes is egter verplig, e.a. is deur die owerheid aangesê, om a.g.v. die onveilige toestand tussen die duisende swartes hul plase te verlaat en nader aan mekaar te trek. Gevolglik het Cloete die aanspraakmakers in drie klasse verdeel: in die eerste klas was dié wat aan die okkupasie-bepalilng voldoen het en plase van 6 000 acres kon kry, in die tweede klas is dié wat weens 'n aanneemlike rede nie daaraan voldoen het nie en plase van 2 000 acres kon eis, en in die derde klas die twyfelagtige gevalle, wat elkeen op meriete ondersoek moes word.

West het geglo dat die blankes in Natal sou bly indien aan hul grondaansprake voldoen word en hy het selfs so ver gegaan om van die Kaapse goewerneur goedkeuring te verkry dat aan eisers in die tweede klas plase van 6 000 acres toegeken word en aan die eisers in die derde klas plase in die vooruitsig gestel word.

Daar is egter so gesloer met die toekenning en opmeting van plase, dat min van die reeds wantrouige Voortrekkers teen die end van 1847 sekerheid van grondbesit gehad het. Tot op hierdie tydstip is slegs 18 eiendomsbriewe uitgereik, ofskoon daar gedurende 1846-1847 650 aansoeke om grond ontvang is.

Die onsekerheid van grondbesit en die onveiligheid tussen die talryke swartes het die meeste van die Natalse Voortrekkers teen die end van 1847 tot 'n georganiseerde trek uit Natal aangespoor. Tog wend hulle 'n laaste poging aan om hul griewe opgelos te kry deur Andries Pretorius af te vaardig na sir Henry Pottinger, die Britse hoë kommissaris en Kaapse goewerneur. Pottinger, wat hom as.g.v. die Agste Oosgrensoorlog in Grahamstad bevind en op die punt gestaan het om Suid-Afrika te verlaat, wou Pretorius nie te woord staan nie. Verslae en in sy eer gekrenk, keer Pretorius dus terug na Natal, waar die trekgedagte tydens sy afwesigheid 'n werklik geword het.

Die feit dat die Voortrekkers besluit het om Natal te verlaat sonder om Pretorius se verslag af te wag. moet toegeskryf word aan verwikkelinge gedurende 1847 in die Klipriviergebied, tussen die Tugela- en Buffelsrivier. Die Kliprivierboere het uit vrees dat die Zoeloes van oorkant die Buffelsrivier hulle sou oorval, met Mpande onderhandel nadat hulle twee keer vrugteloos by die regering in Pietermaritzburg om beskerming aangekloop het. Toe Mpande hulle verseker dat hulle op Zoeloegrond woon, het die Boere teen omstreks Mei 1847 die Klipriviergebied van hom gekoop en 'n eie bestuur verkies, met Andries Spies as die kommandant en hoogste ampsdraer. Die Klipriviergebied het egter, ingevolge 'n traktaat wat Mpane en Henry Cloete in Oktober 1843 gesluit het, nie aan die Zoeloes behoort nie, maar wel aan Natal. Mpande was skynbaar onder 'n misverstand en het op aandrang van West in Augustus 1847 die Buffelsrivier as grens tussen Zoeloeland en Natal skriftelik aanvaar. Hiermee gewapen, het West hom sterk genoeg geag om die Kliprivierboere as rebelle te beskou en van hulle te eis dat hulle 'n eed van getrouheid aan die Britse koningin aflê.

Die Kliprivierboere wou die eed nie aflê nie en moes dus noodgewonge uit Natal trek. Deur gerugte te versprei dat 'n Zoeloe-impi Natal sou binneval, het die Kliprivierboere verseker dat die Voortrekkers ten suide van die Tugela, wat reeds verontrus was omdat die Klipriviergebied - die buffergebied tussen hulle en die Aoeloes - ontvolk sou word, ook trekreëlings getref het. Die slegte nuus wat Pretorius teruggebring het, het die kroon gespan en aan die trek uit Natal was daar geen keer meer nie. Selfs sir Harry Smith, opvolger van Pottinger, se besoek aan die trekkende Natallers vroeg in 1848 en sy pogings om hul griewe op te los, kon die meeste van hulle nie beweeg om te bly nie. Miskien het hulle gelyk gehad dat die Britse bestuur in Natal hulle nie sou bevredig nie, want teen die helfte van 1849 het slegs 63 persone grondbriewe gehad en alhoewel nog twee nuwe lokasies, die Umzinyati en Impafana, in 1848 aangekondig is, is met die verwydering van die swartes na die lokasies gesloer en was hulle steeds tussen die blankes versprei.

West se bestuur, wat op 1 Augustus 1849 deur sy dood beëindig is, was onsuksesvol. Hy het nie oor 'n sterk persoonlikheid  beskik nie, sy gesondheid was swak, hy was filantropies ingestel en het bowendien met onoorkoomlike probleme te kampe gehad. Die grootste van hierdie probleme was finansieel van aard. Die Britse regering was begerig om Natal met sy seehawe uit die hande van die Voortrekkers te hou, dog wou nie bydra om van Natal 'n vooruitstrewende besitting te maak nie. Op eie krag kon Natal nie die nodige middele bybring nie, want daar was nog geen minerale ontdek nie, die handel was beperk, veral weens die gemis aan verkeersweë en min landbou is beoefen weens die onveiligheid tussen die talle swartmense. Die noodsaaklikste fondse moes van die Kaapkolonie geleen word, sodat Natal teen Mei 1849 reeds meer as £7 000 geskuld het. Die finansiële probleem het veral die rassebelei gekortwiek en die opmeting van plase vertraag en aldus griewe geskep wat Natal van 'n groot deel van sy blanke bevolking beroof het.

'n Verdere remmende faktor was dat West en sy raad geen wetgewende magte gehad het nie. Selfs in dringende gevalle moes op goedkeuring vanuit Kaapstad en soms vanuit Londen gewag word. Hierdie probleem is ten dele uitgeskakel toe 'n wetgewende raad van drie amptenare in 1848 ingestel is om in dringende sake wetgewende magte uit te oefen.

Má West se dood moes onverwyld gepoog word om, ten eerste, die blanke bevolking van Natal te verhoog en, ten tweede, die swartes na die lokasies te verwyder. Laasgenoemde is sonder veel moeite gedoen, dog ongeveer een derde van die Natalse swartmense het op kroongronde en privat eplase bly woon. In Junie 1849 is al die swartes onder hul tradisionele reg geplaas. By gebrek aan magistrate vir die lokasies moes die kapteins self die reg administreer, dog appèl kon aangeteken word by die luitenant-goewerneur, wat die opperhoof van die swartes was en die uitvoerende raad. Vir vier van die lokasies is in 1850 magistrate aangestel nadat 'n jaarlikse hutbelasting van sewe sjielings aan die einde van die vorige jaar ingestel is. Fondse vir die aanstelling van genoeg magistrate en polilsie en vir die oprigting van skole om die swartes te beskaaf, was daar nie. Slegs die klompie sendelinge het beskawingsinvloede probeer oordra.

Die lokasies was nie baie gewild in Natal nie. Die koloniste het die lokasies in hulle midde nie alleen beskou as 'n bedreiging vir vrede nie, maar ook as 'n euwel wat swart arbeid dreineer. Hierdie kritiek het Theophilus Shepstone, wat aan die hoof van swart sake gestaan het, selfs daaraan laat dink om die swartes te segregeer in 'n enkele groot gebied waar hulle ook makliker as in verspreide lokasies deur magistrate, polisie en ambagskole beskaaf kon word. Shepstone wou 'n stuk of 50 000 swartes onder sy eie leierskap ten suide van die Umtanvunarivier plaas, dog sir George Grey, die Kaapse goewerneur, het dié plan verwerp uit vrees vir die reperkussies wat so 'n stap aan die Kaapse oosgrens kon hê. Onder die Natallers self het 'n plan posgevat om die groot lokasies in 'n aantal kleineres op te breek, maar al sou die Britse regering dit goedgekeur het, was daar nie genoeg troepe in Natal om dit deur te voer nie.

Selfs die Britse regering het besef dat die aangeleenthede van die swartmense in Natal op 'n beter grondslag geplaas moes word en het Benjamin Pine, West se opvolger, gelas om ondersoek in te stel. Die kommissie wat Pine in September 1852 aangestel het, het baie getuienis aangehoor en die lokasiebeleid gekritiseer, dog het min resultate gelewer. Die vernaamste resultate was dat die magistrate in die lokasies in die toekoms as assistent-magistrate bekend gestaan het sodat dit nie moes lyk of die swartes onafhanklik van blanke bestuur was nie en dat Shepstone se status van diplomatieke agent vir die swartmense na sekretaris van Naturellesake verander is.

Gelukkig vir Natal het die swartes min opstandige neigings getoon en het Shepstone 'n houvas op die kapteins gekry. Kapteins wat wel opstandig geword het - soos Sidoyi en Matyna in 1857 - het hul kapteinskap verloor. Hierdie optrede het daartoe meegewerk dat die Zoeloes dit jare daarna nog nie gewaag het om die regering openlik teen te gaan nie. Nogtans het die aanwesigheid van duisende swartmense soos 'n swaard oor die hoofde van die handjievol Natalse blankes gehang. Gevolglilk is in 1848 en daarna, toe talle Voortrekkers Natal verlaat en ongeveer 2 000 blankes agtergebly het, naarstiglik gepoog om blanke immigrante na Natal te lok. Immigrante was ook nodig om die landbou te beoefen, veral om katoen te kweek, en Natal sodoende vooruitstrewend te maak.

In 1848 het Jonas Bergtheil, 'n Durbanse handelaar en beherende direkteur van die Natal Cotton Company 35 Duitse families laat kom om kantoen te verbou. Hierdie Duitsers, wat hulle naby Durban gevestig het, het spoedig gevind dat dit voordeliger was om groente te kweek. In die daaropvolgende jare het Joseph C. Byrne, 'n Ierse spekulant, 'n skema geloods wat ongeveer 2 500 Britse immigrante na Natal gebring het. Die Australiese goudvelde het later baie van hulle weggelok, dog toe het hulle reeds die grondslag gelê van 'n Engels-georiënteerde Natal en o.m. 'n rol gespeel in die stigting van dorpe soos Pinetown, Verulam, Richmond en Ladysmith. Ook ander skemas het immigrante na Natal gelok en sommige immigrante het op eie inisiatief gekom, sodat die blanke bevolking van Natal voor die einde van 1851 met tussen vier- en vyfduisend toegeneem het. Hierna het die immigrantestroom afgeneem. Teen 1856 het Natal min of meer 8 000 blanke inwoners gehad.

Op ekonomiese gebied het die jong pioniersdistrik steeds noustrop getrek, dog 'n verbetering was in sig. Die nuwe intrekkers het suksesvol met allerlei produkte soos katoen en koffie geëksperimenteer. Hierdie suksesse is egter oortref toe Edmund Morewood in 1852 die eerste suikerriet op sy plaas, Compensation, aan die Noordkus geproduseer en daarmee 'n vooruitstrewende bedryf van stapel gestuur het. Daar is ook suksesvol met die Oranje-Vrustaat en die Suid-Afrikaanse Republiek handel gedryf en baie van die immigrante het hulle op karweiwerk toegelê. In April 1854 is die Natalse Bank met 'n kapitaal van £20 000 opgerig, wat vertroue in Natal se toekkoms weerspieël het.

Ook op kulturele gebied was vordering sigbaar. Liefdadigheids-, politieke, landbou- en handelsverenigings is gestig en die Natalse Vereniging het nie alleen gratis biblioteekdienste aangebied nie, maar ook openbare lesings gereël. Op joernalistieke gebied het dit so bedrywig gegaan, dat daar oop 'n tydstip ses verskillende koerante in Natal verskyn het. Twee hiervan, The Natal Witness, in 1846 in Pietermaritzburg opgerig, en The Natal Mercury, in 1852 in Durban opgerig, bestaan vandag nog. Op onderwysgebied was daar teen 1855 twee staatskole, 'n stuk of agt staatsondersteunde skole en 'n aantal private en kerkskole.

In die vyftigerjare is sowel plaaslike as sentrale bestuursmagte uitgebrei. Reeds in 1846 het Pietermaritzburg 'n raad van kommissarisse gekry en 10 jaar later het hierdie stad en Durban volle munisipale bestuur verwerf. Pine en Grey het ook die weg voorberei vir Natal se afskeiding van die Kaapkolonie. In 1856 word voorsiening hiervoor gemaak, asook vir 'n wetgewende raad van vier amptenare en 12 verkose lede. Die reg om onder hierdie vorm van bestuur lede te verkies, is wel in 'n paar ander kolonies getoets, dog was 'n nuwigheid in Suid-Afrika. Met  uitsondering van die swartes, was Natal oorweging Brits en daar was geen gevaar dat 'n ander nasionaliteit 'n meerderheid kon verkry nie. Die kieskwalifikasies, wat op aanbeveling van Grey daargestel is, was egter so hoog dat die swartmense van die stemreg uitgesluit was. Volgens die kieskwalifikasies kon alle mans met vaste eiendom van £50, of wat eiendom teen £10 per jaar huur, stem.

Die nuwe grondwet het op 24 Maart 1857 in werking getree toe goewerneur John Scott die wetgewende raad op Pietermaritzburg geopen het. Die raad kon wetgewing aanneem en Natal se finansies beheer, onderhewig aan die goedkeuring deur die lutienant-goewerneuer of die Britse koningin. In dieselfde jaar het Natal 'n hooggeregshof van drie regters verkry, van wie na die Geheime Raad in Londen geappelleer kon word. Natal het 'n beperkte vorm van verteenwoordigende bestuur verkry en sy kinderskoene as aanhangsel van die Kaapkolonie ontgroei.

Jong kolonie

In die eerste jare onder die nuwe grondwet was dit duidelik dat die jong kolonie veral talle blanke immigrante en Europese kapitaal nodig het. Daar was in hierdie jare nie 'n skaarste aan Britse emigrante nie, dog die meeste het lande verkies waar hulle nie met duisende swartmense te kampe hoef te hê nie. Nogtans het die 8 000 Natalse blankes in die dekade ná 1856 byna verdubbel.

Die nuwe intrekkers was hoofsaaklik uit Brittanje en die Kaapkolonie afkomstig, dog daar was ook 'n negentigtal Hollanders onder T.W. Colenbrander, wat hulle in 1858 in Natal gevestig het. Die immigrante het òf op eie inisiatief geïmmigreer, òf van immigrasieskemas gebruik gemaak. So het die Natalse wetgewende raad in 1857 geld bewillig vir immigrante vanuit die Verenigde Koninkryk. Familiebetrekkinge of vriende in Natal moes hulle egter nomineer en waarborg om £10 tot die immigrasiekkoste van elke immigrant by te dra. Hierdie skema is tot in 1868 in werking gehou en het ongeveer 2 000 Britte na Natal gelok. Ander skemas was nie so geslaagd nie.

Die belowendste, maar ook onsuksesvolste skema, was dié van die Natal Land and Colonization Company, wat in Desember 1860 in Engeland gestig is met die oogmerk om grond in Natal te bekom en blankes daarop te plaas. Die onderneming het wel 250 000 acres teen 15 sjielings per acre bekom, maar het sy uiteindelike oogmerk gemis. I.p.v. blankes na die plase te lok, is die grond aan swartes verhuur teen 'n jaarlikse huurgeld van 5 tot 28 sjielings per hut. Hierdie praktyk het soveel swartes getrek, dat dit nie alleen besonder winsgewend was nie, maar ook gevaarlik sou wees om hulle weer van die plase te verwyder. Baie ander grondeienaars, veral spekulante, het hierdie swak maar winsgewende voorbeeld nagevolg. Gevolglik was daar nog minder grond vir blanke immigrante beskikbaar en het Natal in werklikheid 'n groot swart lokasie met kolle blankes tussenin geword.

Van sowel die ou ingesetenes as nuwe intrekkers is in 1869 en 1870 na die Diamantvelde gelok. Onder hulle was bv. die jong Cecil Rhodes, wat 'n ruk lank saam met sy broer Herbert katoen in Natal verbou het. Tog het die getal blankes in Natal nie afgeneem nie. Volgens Theal was die getal inwoners in 1872 ongeveer 17 500 blankes, 300 000 swartes en 5 800 Indiërs. Ses jaar later het die blankes toegeneem tot 22 000 en die Indiërs tot 12 800. Hierdie syfers wys 'n toename van blankes, maar dui veral op 'n groot toename in 'n nuwe bevolkingselement - die Indiërs.

Toe die eerste Indiër, Babu Naidoo, in 1855 in Durban aangekom het, was daar sekerlik nie 'n gedagte dat duisende van sy landgenote hom na Natal sou volg nie. Weliswaar het die kweek van suikerriet en selfs van katoen aandag gevestig op die moontlikheid van Indiërarbeid, dog sowel die openbare mening in Natal as die wetgewende raad was aanvanklik teen die invoer van Indiërs gekant. Die suikerbedryf, wat konstante arbeid geverg en gevaar geloop het om te misluk omdat die swartes slegs vir kort termyne wou werk en boonop onbetroubaar was, het die Natalse regering egter verplig om in 1859 in te stem dat ingeboekte Indiërarbeiders, wat reeds met sukses op plekke soos Mauritius gebruik was, na Natal te gebring kon word. Ofskoon die eerste aankomelinge van November 1860 van 'n swak tipe was en ondanks die feit dat fondse vir openbare werke besnoei is om geld aan die Indiërinvoer te betee, het dit mettertyd gebly dat hierdie projek - vanuit 'n arbeidsoogpunt beskou - suksesvol was.

Die Indiërs, waaronder ook vroue, is aanvanklik op staatskoste ingevoer en vir drie jaar by werkgewers ingeboek. Die werkgewers moes hulle 10 sjielings per maand betaal, met verhogings na 11 sjielings in die tweede en 12 sjielings in die derde jaar, vry inwoning en kos teen 'n vasgestelde rantsoen verskaf, asook drie vyfdes van die passaat e.a. invoerkoste terugbeaal. Ná verstryking van drie jaar moes die Indiër weer vir twee jaar ingeboek word, kof kon hy hom vrykoop teen £2 10s vir elk van die twee jaar. Ná vyf jaar was hy i n alle geval vry om te lewe en te werk waar en soos hy verkies en ná 10 jaar verblyf in Natal was hy ook geregtig op 'n vry oorvaart terug na Indië, of kroongrond ter waarde van die reisgeld. Vanaf 1864 het die Natalse regering een derde van elke Indiër-arbeider se reisgeld betaal, die inboektyderk na vyf jaar verlang en die loon vir die vierde en vyfde jaar op onderskeidelik veertien en vyftien sjielings per maand vasgestel.

Die invoer van Indiërs het die Natalse regering gedurende die tydperk 1860-1870 meer as £24 000 en die werkgewers byna £53 gekoks. Wat die suikerbedryf betref, was dit 'n goeie belegging, want Indiërarbeid het ongetwyfeld daartoe bygedra dat die produksie van 1 173 ton in 1859 na 7 622 ton in 1870 en selfs na 10 172 ton in 1874 opgestoot is. Die teenwoordigheid van 'n nuwe element sou egter ook meebring dat Natal nie alleen met 'n swart vraagstuk nie, maar ook met 'n Indiërvraagstukte kampe gekry het. Hieroor later meer.

Die swart vraagstuk was hoofsaaklik daarin geleë dat die swartes bo en behalwe die lokasies, wat teen 1864 tot 42 vermeerder het om 2 050 880 acres te beslaan, en die sendingreservate, waarvan daar teen 1864 21 was, met 'n gesamentlike grootte van byna 175 000 acres, ook kroon- en private grond bewoon het wat andersins deur ondernemende immigrante bewerk kon word; dat die tienduisende swartes in die geval van opstande 'n bedreiging vir die minderheid blankes kon wees; en dat die swates, behalwe vir die jaarlikse hutbelasting, weinig tot Natal se ontwikkeling bygedra het. Die swartman was in die algemeen tevrede met 'n karige lewensbestaan, het in sy primitiewe lewensgewoontes volhard en het nie in arbeid teen vergoeding belang gestel nie. Eintlik het sy vrou die harde werk gedoen, terwyl hy af en toe sy kommerlose bestaan versaak het om 'n paar maande lank op plase of elders te gaan werk. Niemand kon hulle tot werk dwing nie, behalwe die luitenant-goewerneur wat hulle in sy hoedanigheid van opperhoof van die swartmense kon oproep vir openbare arbeid teen 'n loon. Hierdie gebruik het egter ontaard omdat die kapteins, wat die arbeiders moes lewer, slegs diegene teen wie hulle 'n wrok gekoester het, beskikbaar gestel het.

In die lokasies is algaande meer magistrate aangestel en sodoende inbreuk gemaak op die kapteins se barbaarse magte. Teen 1872 was daar ook byna 40 sendingstasies, dog beskawingsinvloede het nie veel ingang gevind nie. Die gevaar van 'n opstand was dus wesenlik. Nogtans was die swartmense in die algemeen rustig. Die rede hiervoor moet deels gesoek word in Shepstone se beleid om die stamverband te behou. Een stam het nie met 'n ander stam gemene saak gemaak nie, wat dus die moontlikheid van 'n gesamentlike opstand uitgesluit het. Die feit dat die swartes oogluikend op private plase en kroongrond toegelaat is, het ook 'n goeie gesindheid gekweek, want dit moes by die swarte die gevoel gewek het dat die blanke hom nie wou uitdruk nie.

'n ander bydraende faktor tot die rustigheid onder die swartes was die maatreëls wat die regering getref het om te verhoed dat die swartes middele bekom wat opstandigheid kon aanwakker. Vanaf 1859 moes swartes bv. alle vuurwapens registreer en in 1863 is die verkoop van sterk drank aan hulle verbied. Miskien was Shepstone se houvas op die kapteins die vernaamste faktor in die suksesvolle beheer van die swartes, solank die kapteins aan Shepstone en die regering lojaal was, was daar min kans vir ontevredenheid onder hul volgelinge. Sou 'n kaptein dislojaal word, kon 'n opstand voorkom soos dié van Langalibalele in 1873.

Langalibalele, volgens die swartmense die kragtigste reënmaker in Natal, was kaptein van die Hlubistam en woonagtig in die noordwestelike deel van Natal, wat aan Basoetoland (nou Lesotho) grens. In 1873 beveel luitenant-goewerneur Pine hom om agt van sy onderdane na Pietermaritzburg te stuur ten einde gewere wat hulle op die Diamantvelde gekry het, te registreerf. Langalibalelestuur egter net vyf man en beledig regeringsboodskappers wat hom daarna besoek.

Langalibalele se astrantheid het onrus onder die swartes gewek en die Natalse regering verplig om 'n gewapende mag te stuur om hom te arresteer. Hy ontvlug egter na Basoetoland en vuur op 'n patrollie wat hom agtervolg. Bloed het gevloei en van heinde en ver het blanke en nie-blanke vrywilligers hulp aangebied. Basoetoekaptein Molapo was bang dat hy dit sou ontgeld en lewer Langalibalele dus uit. Lede van die Hlubistam wat hierna nog weerstand gebied het, is verslaan. die Natalse regering het drastiese maatreëls getref uit vrees dat die gebeure 'n algemene opstand kon ontketen. Daar is op die eiendom en grond van die Hlubistam beslag gelê en 'n spesiale hof het Langalibalele verhoor en na Robbeneiland verban. 'n Protesbeweging het gevolg, met bisko J.W. Colenso van Natal aan die spits daarvan, waarop in Londen beslis is dat Langalibalele op die plaas Uitvlugt, naby Mowbray, as staatsgevangene gehou moes word. In 1886 keer Langalibalele terug na Natal, waar hy drie jaar later sterf.

Die Langalibalele-opstand was nie sonder reperkussies vir Natal nie. In Londen het lord Carnavon, die Minister van Kolonies, geglo dat Shepstone se stelsel om die swartes d.m.v. die kapteins te regeer sonder om hulle te verwesters, 'n stelsel waarvolgens die kapteins byna onbeperkte magte het, nie meer wenslik was nie. Ook versterk die opstand Carnavon se oortuiging dat 'n eenvormige Naturellebeleid in Suid-Afrika binne 'n federasie gevolg moes word. Gevolglik roep hy Pine terug en stuur sir Garnet Wolseley as spesiale kommissaris na Natal met wye magte om die Natalse grondwet en Naturelle-administrasie te hervorm.

Toe Wolseley op 1 April 1875 die ampseed op Pietermaritzburg afgelê het, was Natal op konstitusionele gebied reeds verder gevorder as in 1856, toe 'n wetgewende raad ingestel is. In 1865 is die stemreg hersien met die doel om dit vir die swartmense moeilik te maak om hierdie reg uit te oefen. Wanneer 'n swartman aan die besitkwalifikasie voldoen, 12 jaar in die kolonie gewoon het en sewe jaar van die tradisionele stamreg kwytgeskeld was en beskik het oor 'n sertifikaat van goeie gedrag, onderteken deur drie kiesers en 'n magistraat, kom hy om stemreg aansoek doen by die luitenant-goewerneur, wat dit nogtans kon weier. Hoe moeilik dit vir 'n swarte was om stemreg te verkry, of dat hulle min daarin belang gestel het, word bewys deur die feit dat tot 1876 niemand om kwytskelding van tradisionele stamreg aansoek gedoen het nie. So 'n swartman moes natuurlik baie prysgee en 'n lang proeftydperk deurmaak voordat hy van sy tradisionele reg vrygesel is. Onder meer kon hy net een vrou trou, terwyl hy onder die stamwette soveel kkon aanhou as wat hy wou. In alle geval was die weg vir die swartes oop om wel die stemreg te verkry, dog teen 1893 het slegs drie hierdie voorreg geniet. Gekleurdes, aan die ander kant, kon stem as hulle aan die gewone kieskwalifikasies voldoen het.

Ook die ledetal van die wetgewende raad het wysigings ondergaan. In 1869 het die "Protector of Immigrants", later vervang deur die koloniale ingenieiur, as amptelike lid bygekom en het twee wetgewende raadslede ook sitting in die uitvoerende raad gekry. Vier jaar later is die getal verkose lede met drie verhoog. Met Wolseley se aankkoms het die wetgewende raad dus uit vyf amptenare en 15 verkose lede bestaan. Die vorige jaar het die wetgewende raad ook om verantwoordelike bestuur gevra, dog Wolseley "drowned their liberties in sherry and champagne".(2)

(2) F. Maurice en G. Arthur: The Life of Lord Wolseley (Londen, 1924), pp. 126-127

In Londen was dit die bedoeling dat Wolseley die Natalse naturelle-administrasie sonder teenkanting van die verkose lede van die wetgewende raad moes verander. Dit sou beteken dat die amptelike en verkkose lede min of meer gelyke verteenwoordiging moes hê. Wolseley slaag dan ook daarin om met die raad se goedkeuring die grondwet so te wysig dat die raad se ledetal die volgende vyf jaar sou bestaan uit 15 verkose en 13 nie-verkose lede. Die nie-verkose lede is saamgestel uit vyf amptenare en agt genomineerde nie-amptenare wat ten minste twee jaar in Natal woonagtig was en vaste eiendom ter waarde van £1 000 besit het. Met partytjies waarop wyn en sjampanje vrylik gevloei het, het Wolseley hom gewild gemaak en die Natallers se vertroue gewen. So kon hy daarin slaag om die Natallers van konstitusionele vryhede te beroof. Die samestelling van die raad was nou sodanig dat die nie-verkose lede, wat die regeringsbeleid moes ondersteun, van 'n meerderheid verseker sou wees as slegs twee verkose lede hulle steun. Dit sou maklik gebeur, want die verkose lede van die kus- en binnelandse gebiede het reeds nie saamgetrek nie.

Selfs met byna onbeperkte magte het Wolseley tog nie die Natalse rassebeleid drasties verander nie. Gebrek aan troepe het verhoed dat hy die magte van die kapteins ingrypend inkort. Boonop vind hy dat die Natalse Naturelle-administrasie nie so swak was as wat geglo is nie. Hy stel nietemin 'n hoërhof vir swartmense van een regter in, wat appèlsake van magistraatshowe in die lokasies kon aanhoor en van wie selfs na die hooggeregshof geappelleer kon word. Voorts stel hy 'n kommissie aan om die stamreg te kodifiseer, skaf die gehate huweliksbelasting van £5, wat in 1873 gehef is, af en verhoog die hutbelasting na 14 sjielings om hierdie verlies te vergoed.

Hierdie maatreëls, sowel as die swaar straf wat die Hlubistam opgelê  is, het daartoe bygedra om Natal vreedsaam te hou. Wolseley se hoofoogmerk was immers om 'n rasse-oorlog te verhoed en Natal 'n veilige belegging vir die beoogde Suid-Afrikaanse federasie te maak. Sake sou egter anders verloop, want in Natal se noordelike buurstaat, Zoeloeland, het verwikkelinge op 'n krisis afgestuur en in 1870 'n oorlog tussen Brit en Zoeloe ontketen.

Oor die oorsake van die Anglo-Zoeloe-oorlog is sedert die uitbreek daarvan nie alleen veel geskyf nie, maar ook veel geargumenteer. Die een gee voor dat die oorlog aan die Zoeloes opgedwing is, terwyl 'n ander meen dat opperhoof Cetshwayo, wat talle karaktertrekke van sy oorlogsugtige oom, Tsjaka, geopenbaar het, 'n bedreiging vir die blankedom van Suid-Afrika was. Miskien was die oorlog 'n direkte uitvloeisel van lord Carnarvon se plan vir 'n Suid-Afrikaanse federasie. Die Zoeloes, wat die grense van sowel Transvaal as Natal geminag het, en Cetshwayo, wat 'n vyandige houding ingeslaan en volgens Shepstone e.a. selfs oor ander swart stamme invloed uitgeoefen het en 'n algemene swart opstand kon aanwakker, moes 'n les geleer word voordat tot federasie oorgegaan kon word. Die Zoeloes het egter nie gou gaan lê nie en van 10 Januarie 1879, toe Britse troepe Zoeloeland igneval het, tot Cetshwayo se gevangeneming op 28 Augustus 1879, moes Brittanje duur betaal in klinkende munt en menselewens. By Isandhlwana het die Zoeloekrygers byna 'n volle bataljon troepe en vrywillilgers uitgewis. Eers met die slag van Ulundi, op 4 Jullie 1879, was dit duidelik dat die Zoeloes die swakste daaraan toe was.

Hierdie duur oorlog het 'n kentering in die Britse koloniale beleid gebring en het daartoe bygedra dat die Liberale Party die Konserwatiewe Party in 1880 uit die kussings gelig het. Britse imperialisme is gedemp. In Natal het menige kolonis begeer dat Zoeloeland geannekseer en vir blanke bewoning oopgestel word. Dit sou vergoed vir die vrywilligers en £250 000 wat Natal tot die oorlog moes bydra. Zoeloeland is egter nie geannekseer nie. Sir Garnet Wolseley, hoë kommissaris vir Suidoos-Afrika,  het met behulp van Henry Bulwer, die Natalse luitenant-goewerneur, 'n reëling getref wat daarop gemik was om die Zoeloes se eenheid te verbreek. Hy het die saambindende faktor, Cetshwayo, na Kaapstad verband, Zoeloeland in 13 distrikte verdeel en oor elk 'n hoofman aangestel wat onder toesig van 'n Britse resident moes regeer. Verdere gevaar van die kant van die Zoeloes was na die mening van Wolseley afgeweer.

Op die gebied van die landbou het Natal sukses sowel as teenslae beleef. Koffie, tee, katoen, mielies e.a. produkte is suksesvol gekeek, dog die suksesse was nie in alle gevalle blywend van aard nie. So het koffie opgang gemaak tot in 1870, toe byna eenduisend ton geproduseer is, dog daarna het plantsiektes en arbeidsprobleme dié bedryf ondergraaf. Katoenverbouing, waarmee 30 jaar lank volgehou is, is teen 1875 gestaak, hoofsaaklik weens die wisselende oorsese aanvraag. Daarenteen het suiker in aanvraag gebly en in 1872 was daar reeds 6 280 acres onder suikerriet en 83 fabrieke in werking, wat 8638 ton suiker gelewer het.

Die Natalse regering het ook pogings aangewend om die binnelandse handel te bevorder. Dit het nie alleen om die handel self gegaan nie, maar ook om die oogmerk om soveel moontlik goedere in die Durbanse hawe te hanteer, want doeanegelde was 'n belangrike bron van inkomste. 'n Belangrike stap om die verkeer deur Durban te vergroot, is in 1867 gedoen, toe die invoertariewe laer as dié van die Kaapkolonie gemaak is. 'n Netelige probleem was egter die sandbank in die ingang van die Durbanse hawe. Die eerste pogings om die sand te weer, wat teen groot koste aangewend is, het misluk. In 1878 het die regering 'n plan van sir John Coode aanvaar om die hawe-ingang nouer en die water dieper te maak. Nadat sowat £1 miljoen aan die hawe bestee is, het Coode se plan uiteindelik sukses behaal. Vir die vervoer van goedere oor die sand tussen die Punt en Durban het 'n plaaslike maatskappy 'n spoorlyn van byna twee myl gebou - die eerste in Suid-Afrika - en in 1860 geopen. Sewe j aar later het die eerste vuurtoring sy lig vanaf die Bluff oor die Indiese Oseaan uitgestuur. Ook paaie en brûe is gebou om die verkeer na die binnelandse republieke te verbeter. Vinniger verkeersmiddels het egter noodsaaklik geword.

Die eerste vinnige vervoermiddel in Natal was 'n koets wat vanaf 1860 tussen Pietermaritzburg en Durban gereis het. Aanvanklik is die afstand van 58 myl in ongeveer 11 uur afgelê, met 'n rusverposing vir passasiers by Halfweghuis. Later het die koets daagliks gery en die tydsduur is na ongeveer ses uur verminder. Tog het spoorverkeer hoe later hoe dringender nodig geword, veral as Natal hom wou handhaaf t.o.v. die handel en algemene vooruitgang. In 1875 het die regering 'n spoorlyn tussen Durban en Pietermaritzburg met 'n sylyn na Isipingo, asook 'n lyn na Verulam, goedgekeur. Op Nuwejaarsdag 1876 het sir Henry Bulwer die eerste sooi gespit vir die Durban-Pietermaritzburg-spoor. Op 1 Desember 1880 was die spoorlyn, wat oor moeilike bergterrein gebou is, voltooi en het die eerste trein Pietermaritzburg binnegestroom terwyl 'n militêre orkes "See the Conquering Hero Comes" gespeel het.

Die ekonomiese terugslag wat Suid-Afrika in die sestigerjare ondervind het, het ook Natal geraak. Ná 1857 was daar roekelose speukulasie, Geld was volop, verskeie banke het takke geoopen en selfs private agentskappe het geld uit Engeland belê. Suikerboere, handelaars e.a. het op groot skaal geleen sonder om aan die terugbetalingskanse te dink. Teen 1865 het die insinking gekom en het menige Nataller bankrot gespeel. Die Basoeto-oorlog van daardie jaar wat Natal se handel met die Oranje-Vrystaat benadeel het, het andermaal die belangrikheid van die binnelandse handel beklemtoon.

Die toestand het hierna verbeter, hoewel krediet sonder sekuriteit nie maklik bekombaar was nie. Die ontdekking van diamante het handelsgeleenthede uitgebrei, 'n kans wat die Natalse handelaars gretiglik benut het. Nie alleen ingevoerde ware nie, maar ook plaaslike produkte soos suiker en koffie het hulle weg na die Diamantvelde gevind en goeie pryse behaal. Op alle gebiede was daar vir Natal vooruitgang in sig.

Vooruitgang en Verantwoordelike Bestuur 

Ná die Anglo-Zoeloe-oorlog word die Natalse geskiedenis oor die algemeen gekenmerk deur vooruitgang op die meeste gebiede. Die vernaamste vordering was op eknomiese gebied, waar die uitbreiding van spoorweë 'n veilige belegging vir die toekkoms geword het en op konstitusionele gebied, waar die koloniste uiteindelik verantwoordelike bestuur bekom het. Ook die bevolkingsgetalle het toegeneem. Die toename in die Indiërs se getalle het die kolonie se arbeidspotensiaal vergroot, maar het aan die ander kant ook nuwe probleme geskep. Daarby het onrus in Zoeloeland nie alleen 'n gevaarlike situasie aan Natal se noordgrens geskep en die handel met die Zoeloes benadeel nie, maar ook die vrees gewek dat die onrus na die Natalse swartes kon uitbrei.

Die wysiging wat Wolseley in 1875 aan die ledetal van die wetgewende raad aangebring het, h et in 1880 verval, toe die getal raadslede weer vasgestel is soos dit in 1869 was, nl. 12 verkose lede en vyf amptenare. Reeds in Februarie 1880 het die wetgewende raad hom t.g.v. verantwoordelike bestuur uitgespreek, dog die Britse regering wou dit slegs toestaan as Natal sy eie verdediging waarneem. In Natal het die kiesers geredeneer dat hulle die enigste gemeenskap in Suid-Afrika was wat nie oor parlementêre regering beskik nie. Tog was die kiesers nie bereid om verdedigingsake oor te neem n ie, want in die verkiesing van 1882 het hulle hul teen verantwoordelike bestuur uitgespreek. Die feit dat die Natallers nie hul eie verdediging wou behartig nie, was hoofsaaklik te wyte aan verwikkelinge in Zoeloeland.

Die Wolseley-reëling van 1879 het nie tevredenheid nie, maar wanorde in Zoeloeland geskep. Dit het die Zoeloes oor die algemeen in twee kampe verdeel: dié wat Wolseley se 13 hoofmanne ondersteun het, en dié wat hulle teengestaan het. Lg. groep, wat familie van die verbanne Cetshwayo (o.a. sy broers Ndabuko en Shingane) asook sy hoofindoena, Myamana, ingesluit het, en as die Usutu's bekend gestaan het, het hulle beywer om Cetshwayo in Zoeloeland terug te kry. Daarenteen wou die aangestelde hoofmanne, veral Usibepu en Uhamu, wat nie hul posisies wou prysgee nie, Cetshwayo liewer wegbou. Botsings het dus gevolg en onrus het in Zoeloeland geheers.

Met onrus in sy grensgebied wou Natal gevolglik nie afsien van die beskerming wat die Imperiale toepe gebied het nie. Eerder sou die wetgewende raad probeer om sy ledetal te vergroot en die stemreg uit te brei. Hieraan is in 1883 uitvoering gegee. Die stemreg is sodanig gewysig dat manlike inwoners wat nie vaste eiendomme besit of gehuur het nie, maar drie jaar in die kolonie woonagtig was en £8 per maand verdien het, stemreg kon kry. Die ledetal van die raad is uitgebrei na 30. Hiervan was 23 verkose lede, vyf was hoofde van departemente en twee is deur die goewerneur genomineer uit vooraanstaande koloniste wat grond ter waarde van £1 000 besit het en ten minste twee jaar lank Natalse kiesers was. In 1889 het nog een verkose lid bygekom.

Nadat die kwessie van verantwoordelike bestuur agt jaar met rus gelaat is, het sir John Robinson die bal in 1890 weer aan die rol gesit, dié keer met die ondersteuning van 'n vroeëre opponent, Harry Escombe. Twee verkiesings is daaroor gevoer en op 10 Mei 1893 het die wetgewende raad 'n wet vir die instelling van verantwoordelilke bestuur aangeneem. Twee maande later het die Britse regering die wet goedgekeur. Hiervolgens het Natal 'n tweekamerparlement verkry: 'n wetgewende raad van 11 lede, genomineer vir 10 jaar, en 'n verkose wetgewende v ergadering van 37 lede, verkies vir vier jaar. Die uitvoerende gesag het berus by die goewerneur en 'n kabinet van hoogstens ses lede. Ministers moes lede van een van die huise wees, dog nie meer as twee ministers kon uit die wetgewende raad kom nie. Vir die wetgewende vergadering kkon enigeen wat aan die kieskwalifikasies voldoen het, verkies word, dog lede van die wetgewende raad moes ten minste 30 jaar oud wees, 10 jaar in Natal gewoon en 'n vaste eiendom van £500 besit het.

In 'n sekere mate het die instellilng van parlementêre regering verband gehou met Natal se materiële vooruitgang sedert 1880, asook met die rus wat op sy noordgrens verseker is. Die produksie van suiker het goegeneem e.a. produkte is winsgewend verbou. Ook steenkoolontginning het belangrik geword, veral in die lig van die Durbanse hawewerke, wat voltooiing genad het en die uitbreiding van die Natalse spoorweë. Durban kon 'n steenkooldepot vir stoomskepe word. Met die oog hierop - en om die binnelandse handel te behou - wou die Natalse regering 'n spoorlyn na die binneland bou wat met die Vrystaat en Transvaal aansluiting sou vind en ook deur die Natalse steenkoolvelde sou loop. Gevolglik is in 1883 begin met die spoorverlenging van Pietermaritzburg oor Newcastle na Charlestown, aan die Transvaalse grens, en op 7 April 1891 is dit geopen. In 1892 is ook 'n taklyn wat noord van Ladysmith na die Vrystaat wegswaai, tot by Harrismith voltooi. Hierdie verbinding van Durban m et die binneland het nie alleen die handel bevorder nie, maar ook 'n oplewing veroorsaak in dorpies soos Ladysmith, Dundee en Newcastle. Voorts is werkkrag en tyd wat tot hiertoe aan transportryery bestee is, nou in die boerdery gesteek, sodat ook hier 'n verbetering ingetree het.

Die ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1886 het die noodsaaklikheid van ' n spoorverbinding tussen Durban en Johannesburg beklemtoon. Die spoorlyn tot by Charlestown het wel gehelp, want goedere is van daar met vragwaens en passasiers per koets na Johannesburg vervoer, dog die ideaal was om die Natalse spoor tot in Johannesburg te verleng. Dit was van belang indien Natal nie deur die beoogde Kaapse en Delagoabaaise lyne na die Rand verdring wou word nie. Pogings tot 'n vergelyk tussen die Kaapkolonie en Natal oor eenvormige tariewe en spoorverlenging na Johannesburg het egter misluk, want Natal wou nie sy tariewe verhoog nie. Toe Natal hom weer kom kry, was die Kaapse spoorlyn verbind met Johannesburg, terwyl sy eie spoor nog steeds tot by Charlestown gestrek het. Boonop was die Transvaalse regering onwilllig om die Natalse spoor te verleng. Natal se handel het begin ly en selfs die ontwikkeling van die Natalse steenkoolvelde kon nie hiervoor vergoed nie. Die besef dat die Transvalers 'n kolonie met selfregering beter gesind sou wees, was die laaste druppel in die emmer om Natal onder verantwoordelike bestuur te lei. Een van die eerste take wat Natal onder verantwoordelike bestuur aangepak het, was dan ook om die spoorverlenging suksesvol deur te druk. In Oktober 1895 was Johannesburg en Durban per spoor verbind en kon die Natallers weer vrylik asemhaal.

Die spoorverlenging en die verbeterde Durbanse hawe het vir Natal onmiddellik 'n uitwerking ten goede gehad. Die spoorverdienste vir 1896 was bv. meer as twee keer soveel as dié van 1895 (£1 136 000 in 1896 en £526 500 in 1895), wat veral te danke was aan die vermeerderde goedereverkeer tussen Durban en Johannesburg. Natal het met sy hawe- en spoorwegwerke die vernaamste verspreider van invoerware geword. Met verbeterde hawegeriewe kon hierdie verkeer met gemak gehanteer word. In 1899 heet 734 skepe, met 'n totale tonnemaat van 1 397 306, Durban aangedoen, in vergelyking met 98 skepe, met 'n totale tonnemaat van 25 961 in 1869. In 1869 het die invoer £380 000 en die uitvoer £363 000 bedra, teenoor onderskeidelik £5 359 000 en £3 027 500 vir 1899. Doeane het Natal se vernaamste inkomstebron gebly en het in 1902-1903, toe die totale inkomste van die kolonie net minder as £4 350 000 was, reeds die £1 000 000-kerk verbygesteek.

In Zoeloeland het die onluste voortgeduur gedurende die tagtigerjare. Die Britse regering wou nie uitgawes aangaan om die vrede te herstel nie en besluit in 1882 om Cetshwayo as Zoeloeheerser te herstel. Sir Henry Bulwer, die Natalse goewerneur, was nie h iermee gedien nie en wou verhoed dat diegene wat Cetshwayo teengestaan het, onder hom geplaas word. Met behulp van Melmoth Osborn, die Britse resident in Zoeloeland, reël hy dit dus so dat Cetshwayo slegs oor die sentrale deel van Zoeloeland as opperhoof herstel is. Die noordelike deel is onder die gesag van Usibepu geplaas, terwyl die suidelike deel, die Zoeloe-reservaat, onder 'n Britse resident-kommissaris se gesag gekom het. Hierdie reëling het egter net soos die Wolseley-reëling misluk. Die vyandskap tussen die Usutu's en die anti-Usutu's was reeds so diep gewortel, dat botsings nie verhoed kon word nie. Dit het tot 'n stryd tussen Usibepu en Cetshwayo gelei en op 21 Julie 1883 moes Cetshwayo op Ulundi die vlag stryk en op die vlug slaan na die Reservaat. Wanorde het gevolg en selfs Cetshwayo se dood, op 8 Februarie 1884, kon dit nie beëindig nie.

Die Usutu's het hierop aan Coenraad Meyer e.a. Boere 'n uitnodiging gerig om die vrede te herstel. 'n Klompie Boere wat daarvan bewus was dat die Britse regering nie wou ingryp nie, het Zoeloeland dus teen April 1883 binnegegaan, Dinuzulu as Cetshwayo se opvolger aangewys, gehelp om Usibepu te verslaan, grond vir hul dienste ontvang en in Augustus 1884 die Nuwe Republiek te stig. Die boere-inmenging en veral die gedagte dat die Boere St. Luciabaai, in Zoeloeland, kon inpalm en daardeur 'n eie seehawe bekom, het die Britse regering uiteindelik tot optrede aangespoor. Namens die Britse regering onderhandel die Natalse goewerneur, sir Arthur Havelock, dus met die Nuwe Republiek-Boere, stel 'n grens tussen die Boere en die Zoeloes vas en annekseer die res van Zoeloeland op 19 Mei 1887. Hiermee was al die probleme nog nie opgelos nie. Die Usutu's wou nie in die anneksasie berus nie en het in 1888 o.l.v. Dinuzulu en sy twee o oms, Ndabuko en Shingane, in opstand gekom. Die opstand is egter onderdruk en die drie leiers is verhoor en na St. Helena verban. Hierna het die toestand in Zoeloeland verbeter en kon die Natallers met meer gerustheid op verantwoordelike regering aandring. Tog wou Natal nie graag van die Britse troepe afsien nie en is met die Britse regering ooreengekom dat hulle nog vyf jaar ná die instellilng van verantwoordelike bestuur, in Natal sou bly.

Die ekonomiese oplewing in Natal het daartoe gelei dat meer immigrante binnegekom het. In Oktober 1880 was daar bv. reeds 734 nuwe intrekkers, teenor die 287 van die vorige jaar. Ook meer Indiërs het binnegekom; nie net ingeboektes nie, maar ook talle wat op eie koste gekkom en hul merendeels as handelaars in Natal gevestig het. Lg. en dié wat hul inboektyd uitgedien en nie Indië teruggekeer het nie, het as vrye Indiërs bekend gestaan. Dit was veral hulle wat vir Natal 'n probleem geskep het.

As klein grondeienaars, handelaars en arbeiders het die vrye Indiërs voorkom dat Natal 'n groter blanke bevolking kon opneem. Boonop het hierdie Indiërs met die blankes begin meeding en van die Natallers proteste uitgelok. 'n Kommissie wat die regering in 1885 aangestel het om Indiërimmigrasie te ondersoek, het gevind dat die blankes oor die algemeen gekant was teen die "presence of the free Indian as a rival or competitor, either in agricultural or commercial pursuits".(3) Die belange van die suikerboere het egter so swaar geweeg, dat die Natalse parlement eers in 1894 besluit het om die jaarlikse regeringsbydrae tot Indiërimmigrasie op te hef. Druk is ook uitgeoefen om Indiërs wie e inboektyd verstryd het, te laat terugkeer. 'n Wet van 1895 het o.m. bepaal dat elke inboekeling wat ná vyf jaar nie terugkeer of hom weer inboek nie, 'n jaarlikse lisensie van £1 10s moet uitneem.

(3) Aangehaal in The Cambridge History of the British Empire, VIII (Cambridge, 1936), p. 550 

Desnieteenstaande het Indiërimmigrasie op groot skaal voortgegaan en in 1897 is die openbare mening só opgesweep, dat 'n poging aangewend is om te verhoed dat 'n paar honderd vrye Indiërs in Durban voet aan wal sit. Gevolglik het die Natalse regering wette deurgeloods wat nie alleen die immigrasie van vrye Indiërs aan bande gelê  het nie - 'n bevoegdheidstoets in 'n Europese taal is vereis - maar ook Indiërhandelaars beperk het. In 1896 is die Indiërs ook van die stemreg uitgesluit toe 'n wet aangeneem is dat geen nie-blankes, of hul afstammelinge, wat afkomstig is van lande waar daar geen paprlementêre instellings was nie, as kiesers geregistreer sou word nie.

Ten spyte van die teenstand en beperkings, het die suikerbase tot in 1911 voortgegaan om ingeboekte Indiërs in te voer. Vrye Indiërs het ook ingekom tot in 1913, toe die Unieregering verdere immigrasie verbied het. As gevolg van immigrasie, het die Indiërgetalle dus steeds toegeneem. Hierdie aanwas, sowel as die hoë geboortesyfer, het daarvoor gesorg dat die 49 000 vrye Indiërs en 26 000 ingeboektes reeds teen 1902 die 73 000 se blankes in getalle oortref het.

Ook op die gebied van die onderwys het Natal goeie vordering gemaak. Teen 1883 was 96 persent van Natal se blanke kinders oop skool - die Kaapkolonie het toe slegs 65% op skool gehad. Van die meer as 260 skole wat in 1897 bestaan het, was slegs 15 volwaardige staatskole. Die res was staatsondersteunde private skole. Daar was ook 'n aantal private skole wat staatsondersteuning van die hand gewys het. Hierdie skole was slaagse navolgers van die Britse "public schools" en het die ondersteuning geniet van ouers wat gelo het dat die staatskole nie die ware Britse tradisie gehandhaaf het nie. Andere het aan kerkskole voorkeur gegee omdat die staatskole as "Godless schools" beskou is. Vir nie-blanke onderwys is ook voorsiening gemaak. Teen 1894 was daar behalwe die 7 139 blankes ook 5 064 swartes en 2 600 Indiërs op skool. Die snelle vordering op onderwysgeboed was kenmerkend, veral ná 1877. In hierdie jaar is in 'n onderwyswet vir die onderwysbeheftes van die kolonie voorsiening gemaak en 'n Onderwysraad ingestel. Ná die instelling van verantwoordelike bestuur in 1893 is onderwysaangeleenthede onder die vleuels van 'n minister geplaas.

Groter Natal

Die grense van Natal is in 1845 vasgestel as die Tugelarivier met sy sytak die Buffelsrivier in die noorde, die Drakensberge in die weste, die Umzimkulurivier in die suide en die Indiese Oseaan in die ooste. Aanvanklik was daar voldoende ruimte vir sowel blank as nie-blank, dog die moontlikheid dat 'n versadigingspunt bereik kon word, is nie uitgesluit nie. Die Natalse regering moes dus sy oë oophou vir die uitbreidingsmoontlikhede, veral na die weste oor Basoetoland, na die suide oor Pondoland en na die noorde oor Zoeloeland.

In 1866 het Natal 'n deel van Pondoland as die distrik Alfred ingelyf. Voor die Britse anneksasie van Basoetoland in 1868 het die Natallers ook begeer dat hierdie gebied hulle moet toeval, maar dit het nie gebeur nie. Reeds in 1861 het luitenant-goewerneur Scott aanbeveel dat Zoeloeland by Natal ingelyf word, omdat hy bang was dat die Suid-Afrikaanse Republiek 'n houvas op Zoeloeland sou kry. Die Britse regering was egter gekant teen gebiedsuitbreiding en Natal was self nie by magte om dit te onderneem nie. Tog het die Natallers steeds begerige oë op Zoeloeland gerig en ná afloop van die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879 het hierdie begeerte sterker geword. Hulle sou desnoods tevrede wees indien Brittanje Zoeloeland annekseer en op 'n latere tydstip by Natal inlyf.

Vreemd genoeg het die Natalse wetgewende raad hom in die tagtigerjare nie veel oor Zoeloe-aangeleenthede bekommer nie. Oor die algemeen het die Natallers gevoel dat die Britse regering 'n verkeerde beleid in Zoeloeland toegepas het en self die kastaiings uit die vuur moes krap. Op 15 Julie 1885 het die wetgewende raad vir die eerste keer in 'n aantal besluite die wens uitgespreek dat Brittanje Zoeloeland onmiddellik moet annekseer, die Zoeloemoeilikhede oplos en daarna die swart gebied noord van Natal, tot aan die Portugese grens, by Natal inlyf. Hierdie besluite is geneem omdat die raad gevrees het dat die Boere zoeloeland sou inpalm. Toe goewerneur Havelock boonop met die Nuwe Republiek onderhandel sonder om die Natalse wetgewende raad te raadpleeg, het die raad daarop aangedring dat Natal toegelaat moet word word om Zoeloeland te annekseer. Hierdie wens is egter veronagsaam. Die Britse regering het Zoeloeland, met die uitsondering van die Nuwe Republiek, in 1887 as 'n Britse kolonie los van Natal geannekseer.

In Natal het die hoop bestaan dat die Nuwe Republiek met Natal sou verenig, dog hiervan het niks gekom nie, want hierdie Republiek het in 1888 met die Suid-Afrikaanse Republiek verenig en die distrik Vryheid geword. Die moontlikhkeid dat Natal die Zoeloelandse kolonie sou verwerf, het egter voortbestaan. Tog wou die Britse regering nie in die inlywing van Zoeloeland by Natal toestem nie, hoofsaaklik omdat Natal nie oor verantwoordelike regering beskik het nie. Die Natallers moes eers toon dat hulle hulself kon regeer voordat verdere verantwoordelilkhede aan hulle opgedra word.

Natal het in 1893 parlementêre regering verkry, dog voordat dit uitgetoets is, het die inlywingskwessie sterk op die voorgrond getree. Dit het gebeur omdat filantope druk op die Britse regering uitgeoefen het om Dinuzulu, Ndabuko en Shingane, wat ná die Usutu-opstand van 1888 na St. Helena verband is, na Zoeloeland terug te stuur. Teen die end van 1894 het die Britse regering geheime reëlings getref vir die repatriasie van die bannelinge. Nòg die Britse resident-kommissaris in Zoeloeland, sir Marshall Clarke, nòg die Natalse goewerneur, sir Walter Hely-Hutchinson, het verwag dat die repatriasie reperkussies in Zoeloeland sou hê. Hely-Hutchinson was tewens van mening dat Dinuzulu se terugkeer die onsekerheid in Zoeloeland sou beëindig en dat 'n gesonde administrasie daarna 'n uittog van Natalse swartes na Zoeloeland tot gevolg kon hê.

Oor die algemeen het die Natallers gevrees dat Dinuzuly se terugkeer slegs onrus in 'n anders rustige Zoeloeland sou ontketen. Gevolglik het Hely-Hutchinson, wat in die ongelukkige posisie was om goewerneur van sowel Natal as Zoeloeland te wees en wat nie graag die Natalse ministers teen hom in die harnas wou jaar nie, dit noodsaaklik geag dat die Natalse kabinet dit sou teenstaan, want premier sir John rRbinson het in Mei 1894 te kenne gegee dat die inlywing van Zoeloeland by Natal die repatriasie van die bannelinge moes voorafgaan. Hy het verwag dat Dinuzulu se terugkeer moeilikhede in Zoeloeland tot gevolg sou hê en skynbaar geglo dat Natal beter as die Britse regering in staat sou wees om probleme te voorkom. Cetshwayo se repatriasie in 1883 deur die Britse regering en die daaropvolgende moeilikhede was nog vars in die geheue. Robinson het die standpunt van die kabinet weergegee en hierin is in so 'n mate volhard dat die Britse regering verplig was om die repatriasie van die bannelinge voorlopig af te las.

'n Bydraende faktor tot die Natalse kabinet se standpunt dat die inlywingskwessie voor Dinuzuly se terugkeer afgehandel moes word, was Cecil Rhodes, die Kaapse premier, se anneksasie van Pondoland en sy uitlatings oor Natal, wat die vrees gewek het dat Rhodes ook Zoeloeland vir die Kaapkolonie sou inpalm. Die Natallers was begerig om ten minste 'n deel van Pondoland te k ry wanneer daar tot anneksasie in heirdie geweste oorgegaan word. Rhodes annekseer Pondoland egter in 1894 vir die Kaapkolonie en verklaar dat Natal met sy bekrompe parlement en karige blanke bevolking nie 'n deel van Pondoland kon kry nie en eerder die distrik Alfred, ten suide van die Umzimkulu, aan die Kaapkolonie moes afstaan. Hierdie optrede en uitlatings het die Natallers op hul tone gebring en toe dit in 1894 met die publikasie van die Pondoland-korrespondensie boonop bekend raak dat die Kaapkolonie reeds in 1892 geheime goedkeuring van die Britse regering gekry het om Pondoland te annekseer, was daar volgens Hely-Hutchinson "a widespread impression that a similar surprise may be in store for Natal as regards Zululand".(4) Gevolglik het die Natalse kabinet aangedring op 'n Britse belofte dat Zoeloeland wel by Natal ingelyf sou word.

(4) Aangehaal in M.C, van Zyl: Die Uitbreiding van Britse Gesag oor die Natalse Noordgrensgebiede 1879-1897 (Argiefjaarboek vir S.A. Geskiedenis, 1966, deel I), p. 265

Hierdie belofte het die Britse regering in Julie 1894 gedoen, dog die Natalse kabinet het Rhoides ten onregte steeds verdink, aangedring oop spoedige inlywing en gehou by sy standpunt dat Dinuzulu eers daarna kon terugkeer. Natal het op dié wyse 'n houvas op die Britse regering gekry, want die repatriasie van Dinuzulu kon nie onbepaald uitgestel word nie, daar hy reeds in 1894 meegedeel is dat hy teruggestuur sou word. Die aangewese utiweg was om in die inlywing van Zoeloeland by Natal toe te stem, dog die Britse regering het die tyd nog nie ryp geag vir so 'n stap nie. Moontlik is daar geredeneer dat verantwoordelike regering nog nie behoorlik in Natal uitgetoets was nie. Die ware rede skyn egter te wees dat die Britse regering eers van Zoeloeland gebruik wou maak om sy gesag uit te brei oor die swart gebiede tussen Zoeloeland en Portugees-Oos-Afrika, nl. die Cispongolagebied in die suide, die Transpongolagebied in die noordwese en Tongaland in die noordooste. Hierdie gebiede het uit die aard van  hul ligging aan die ooskus in die gedrang gekom.

Reeds in 1888 en 1890 het die Britse regering die Cispongolagebied stuksgewyse by Zoeloeland ingelyf om te verhoed dat die Sordwanabaai in vreemde hande val. Verdere anneksasie sou volg omdat die Suid-Afrikaanse Republiek dit beoog het om Kosibaai, aan die Tongalandse kus, oor Swaziland en die Transpongola te bereik. Met die oog op Kosibaai gerig, het naturellekommissaris J.J. Ferreira in 1887 die distrikte van die Transpongolakapteins Zambaan en Mbegisa vir die Suid-Afrikaanse Republiek verkry. Ferreira loop egter 'n bloutjie in Tongaland, waarvolgens hulle grond of konsessies slegs aan Brittanje sou afstaan. Tog kon die Suid-Afrikaansse Republiek nie sy gesag oor die Transpongolagebied uitbrei nie, want ingevolge die Londense Konvensie van 1884 moes die Britse regering dit eers goedkekur. Boonop moes die Republiek ook seggenskap verkry oor Swaziland.

Ná jarelange onderhandelings het die Suid-Afrikaanse Republiek in Februarie 1895 beheer oor Swaziland verkry, dog 'n paar maande later het die Britse regering die Transpongolagebied by Zoeloeland geannekseer en 'n protektoraat oor Tongaland afgekondig. Die vernaamste dryfvere was om die Suid-Afrikaanse Republiek van die see weg te hou om te verhoed dat 'n vreemde hawe aan die ooskus 'n bedreiging vir die Durbanse hawe word en om Natal se handelspad deur Zoeloeland en Zambaansland na Swaziland oop te hou - die Natalse handel met Swaziland het as £70 000 per jaar bedra. Ofskoon die Natallers regstreeks by hierdie anneksasie belang gehad het, wou hulle dit nie openlik erken nie. Hulle was bevrees dat hul spoorverbindings met die Suid-Afrikaanse Republiek, waaronder die verlenging van die Charlestownspoor na Johannesburg vir Natal van lewensbelang was, dan sou verongeluk. Die Britse regering moes dus die anneksasie deurvoer onder die skyn dat Natal niks daarmee te doen het nie. Met Zoeloeland as Britse kolonie los van Natal kon die Transpongolagebied dus maklik by Zoeloeland ingelyf word. As Natal reeds beheer oor Zoeloeland gehad het, sou die Natalse regering beswaarlik die aanspraak van die Suid-Afrikaanse Republiek op die Transpongola-gebied kon teenstaan. Gevolglik kon Zoeloeland nie voor die tyd by Natal ingelyf word nie.

In 1896 het die Natalse regering die inlywingskwessie weer te berde gebring, dog die Britse regering het dit weens die nadraai van die Jameson-inval ongewens geag. Nogtans wou Joseph Chamberlain, die Britse Minister van Kolonies, Dinuzulu graag na Zoeloeland terugstuur. Weer eens staan die Natalse ministers daarop dat Dinuzulu slegs ná die inlywing van Zoeloeland kon terugkeer. Chamberlain wou egter eers die anneksasie van Tongaland deurvoer. Die Tongas was aanvanklik teen die anneksasie van hul land gekant, maar a.g.v. moeilikhede tussen hulle en die Portugese, is die anneksasie op 22 November 1897 en die inlywing daarvan by Zoeloeland op 27 Desember 1897 sonder teenstand deurgevoer. Intussen het die Britse en Natalse regerings ook oor die inlywing van Zoeloeland by Natal ooreengekkom en op 30 Desember 1897 het dit van krag geword. Sewe dae later het die Zoeloebannelinge Dinuzulu, Ndabuko en Shingane in Durban aan wal gestap en nog dieselfde dag na Zoeloeland vertrek.

Natal het Zoeloeland voorwaardelik oorgeneem. Onder meer moes die bestaande grondbesitstelsel vyf jaar lank in Zoeloeland gehandhaaf word, sodat in hierdie tydperk voldoende grond vir bewoning deur die Zoeloes afgebaken kon word. Daarna kon die Natalse regering doen wat hy wou met die grond wat nie vir lokasies gereserveer is nie. Hierdie reëling het nie heeltemal in die Natallers se smaak geval nie, want hulle het by monde van goewerneur Hely-Hutchinson geredeneer dat "both in the interests of the advancement of the natives, and the interests of public order, it is not advisable that the natives should be collected into one vast reserve".(5) Anders as wat tans in Suid-Afrika die geval is, het hulle geredeneer dat blankes tussen die swartmense moes bly om hulle te beskaaf en in bedwang te hou. Die gedagte om die oop ruimtes in Zoeloeland te vul met oortollige Natalse swartes, waarvan die meeste Zoeloes was, ten einde meer grond in Natal vir blankes oop te stel, het nie by hulle opgekom nie.

Die inlywing van Zoeloeland het beteken dat die oppervlakte van die kolonie Natal byna verdubbel het. Boonop moes die Natalse regering - afgesien van die 535 000 Natalse swartes - vir 'n verdere 188 000 Zoeloes instaan. Ná afloop van die Anglo-Boere-oorlog het Natal verder uitgebrei toe die Transvaalse distrikte Vryheid, Utrecht en 'n deel van Wakkerstroom hom toegeval het. In 1904 is byna die helfte van Zoeloeland, wat sedert 1897 tot aan die Portugese grens gestrek het, vir blanke bewoning oopgestel. Afgesien van die lokasies wat vir bewoning deur swartes gereserveer is, was daar in groter Natal geen gebiedskeiding tussen blank en swart nie.

(5) Ibid, pp. 271-272

M.C. van Zyl

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en Geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134