Die vestiging van die blankes onder die Van der Stels

Vryburgers of amptenare?

Jan van Riebeeck se opvolger, Zacharias Wagenaer, soos hy sy naam geskryf het, was die seun van 'n Dresdense stadsmagistraat genaamd Wagner. Gebore in 1614, het hy sy loopbaan in 1633 begin by die beroemde Amsterdamse kaartemaker Joan Blaeu. Toe hy Jan van Riebeeck in 1662 opgevolg het, het hy sewe jaar in die Wes-Indiese en 20 jaar in die Oos-Indiese Kompanjie agter die rug gehad. Sy belangstelling vir plante en diere was groot en hoewel hy revergeefs probeer het om rys uit Japan, Java, Arrakan en Siam aan die Kaap te kweek, het hy uitstekend daarin geslaag om die groot vlote van vleis en groente te voorsien. Selfs die vloot van Pieter de Bitter, wat i n die nasomer van 1665 met ongeveer 3 000 man meer as 40 dae lank aan die Kaap vertoef het, het geen klagte gehad oor die verversing wat Wagenaer hulle aangebied het nie.

Wagenaer self het egter dikwels en uitvoerig oor die Kaap en sy inwoners gekla. Drie maande ná sy aankoms het hy aan die Here XVII geskryf dat hy nie kon saamstem met wat deur Jan van Riebeeck oor die vryburgers "geschreven, getuyght ende gehoopt is" nie; met uitsondering van ses of agt goeies was almal lui en losbandig. Hy pleit derhalwe dat 'n predikant na die Kaap gestuur moet word en gaan in sy brief van 21 November 1663 selfs so ver om die Here XVII te vra om nie minder nie as 67 vryburgers uit die land te verwyder en arbeidsame gesinne in hul plek te stuur. Hoewel die Bewindhebbers nie aan sy versoek voldoen het nie, het die tyd die onbevoegdes uitgesig en was daar aan die einde van die 17de eeu slegs tien of twaalf van hierdie eerste vryburgers wat nakomelinge aan die Kaap gehad het. Oor die vryburgers wat toe aan die Kaap was, het Daniël Heins, een van die kommissarisse, in 1699 geskryf dat hy "in conscientie" verplig was om te sê "dat niet weet oit gehoorsamer en dienstwilliger onderdanen gesien te hebben, als dese lieden sijn en van welke de notabelste mij verseeckert hebben dat noit gedagten sullen nemen om na haar vaderland te keeren".(1) Heewlat water sou egter nog in die see loop alvorens besluit is wie die vernaamste rol aan die Kaap sou speel, die vryburgers of die amptenare.

(1)Film W 315 in die Kaapse Argief, synde die mikrofilm van Kol. Arch. 4018, pp. 1177-1184, uit die Rijksarchief, Den Haag. Daniël Heins se getuienis was dus dat sy gewete hom verplig om te sê dat hy nêrens gehoorsamer en gewilliger onderdane teëgekom het as die mense aan die Kaap nie. Die leiers van die gemeenskap het hom verseker dat dit nie in hul gedagtes opkom om na hul vaderland terug te keer nie.

Toe die winterreëns van 1663 Van Riebeeck se fort op vyf en ses plekke laat instort het, het Wagenaer aan die Here XVII geskryf dat "een wel geproportioneerde steene fortresse" opgerig moes word om die plek waar jaarliks duisende "van Christen menschen haer comen laven en verquicken". Verskeie van Wagenaer se voorstelle het vrug gedra. Nog voor sy vertrek is die eerste prdikant, Joan van Arckel, n a die Kaap gestuur en op 2 Januarie 1666 is die eerste hoeksteen van die nuwe vyfuntige kasteel gelê.

Hoewel Here XVII dus besluit het dat die Kaap belangrik genoeg was om te verdedig, was hul houding jeens die nedersetting in die algemeen negatief. Togte na die binneland is aangemoedig slegs wanneer die tasbare vrugte kon afwerp. Aan uitbreiding en kolonisasie is in die sestiger- en sewentigerjare nie gedink nie. Toe een van die assistente, Georgiuis Fredrikus Wreeden, op eie inisiatief die Hottentotte se taal geleer en 'n woordelys opgestel het, was Here XVII nie geesdriftig nie. Hulle het ingewillig om dit te laat druk en het hom selfs met 'n beloning van 100 riksdaalders "vereer", maar bygevoeg dat dit "veel dienstiger" sou wees "dat de inwoners onse dan wij haer tale leren".(2)Die Bewindhebbers het gevoel dat dit nuttiger sou wees dat die Hottentotte die blankes se taal sou leer as dat die blankes die Hottentotte se taal sou aanleer.

Toe Wagenaer die bewind aan Cornelis van Quaelbergen (27 September 1666 - 18 Junie 1668) oordra, was die tweede oorlog van die Republiek van die Verenigde Nederlande teen Engeland nog aan die gang. Hoewel die oorlog in Maart 1665 begin het, het Here XVII nog voordat die Vrede van Breda in Julie 1667 gesluit is, besluit dat die gevare van die stryd vir die Kaap verby was en dat die soldate wat besig was om die Kasteel te help bou, elders gebruik kon word. Die Franse moes egter dopgehou word en toe Van Quaelbergen die Franse admiraal De Montdevergue te gul onthaal het, is hy vervang deur Jacob Borghorst (18 Junie 1668 - 25 Maart 1670). Al hierdie kommandeurs het net soos die vryburgers grond besit en geboer. So het Borghorst ook van die vertrekkende kommandeur en ander amptenare beeste, skape en waens gekoop. In April 1668 het Here XVII egter besluit dat geen amptenare in die vervolg toegelaat sou word om te boer nie. Borghorst het sy skape vir 3 722 en sy waens en osse vir 1 450 gulden verkoop. Weens swak gesondheid het hy voorheen reeds gevra om die Kaap te mag verlaat. Hy het sy versoek nou herhaal en is op 25 Maart 1670 deur Pieter Hackius opgevolg. Hackiius was vanaf sy aankom sieklik en is op 30 November 1671 oorlede.

Aangesien Here XVII daarvan bewus was dat 'n nuwe stryd teen Engeland en Lodewyk XIV van Frankryk op hande was, het Isbrand Goske in Februarie 1671 - toe hy as kommissaris op pad na die Ooste was - opdrag gegee dat die bou van die kasteel hervat word. Daar is 300 man van die skepe geneem om daarmee te help en op 2 Oktober 1672 het Goske self as goewerneur na die Kaap gekom sodat die werk onder sy toesig gedoen kon word. Die Kapenare het toe reeds geweet dat die "langh geduchte duijstere wolcken" in Europa op oorlog uitgeloop het. Daar is besluit dat indien 'n vyand die land binneval, al die vryburgers se vroue en kinders na die Kompanjie se eerste buitepos, Hottentots-Holland, gestuur sou word. Die amptenare moes dan onder vyf vaandels teen die vyand optrek en die vryburgers is in twee kompanieë verdeel.

Hoewel die garnisoen tot 420 man vermeerder is, was die vordering met die bou van die kasteel stadig. Toe die tyding dat vrede met Engeland op 6 Maart 1674 gesluit is die Kaap op 13 Julie 1674 bereik, was vier van die vyf punte egter reeds voltooi. Die vyfde punt, asook die poort aan die seekant, is voltooi deur Goske se opvolger, Joan Bax genaamd Van Herentals (13 Maart 1676 - 29 Junie 1678). Eers ná Joan Bax se dood is daar besluit om ter ere van prins Willem III die vyf punte Oranje, Nassouw, Catsenellenbogen, Buren en Leerdam te noem. Dié plegtigheid het op 26 April 1679 plaasgevind, toe kommissaris Dirk Blom aan die Kaap was.

Hoewel daar nog geen positiewe stappe gedoen was om kolonisasie aan die Kaap aan te moedig nie, het die getal vryburgers deur natuurlike aanwas geleidelik toegeneem. In 1679 was daar volgens 'n brief aan Here XVII 62 gesinne met 117 kinders aan die Kaap. Onder die 87 vrye manspersone was daar net 22 wat die landbou beoefen het; die ander was ambagsmanne, vissers en herbergiers. Saam met 191 slawe en 30 knegte was daar teen 1679 480 manspersone, en nadat die garnisoen weer eens met 60 man verminder is, het hul getal dié van die betaalde dienare van die Kompanjie oortref.

Aangesien die kasteel nou byna voltooi was en die gevaar van 'n aanval nie meer bestaan het nie, het Here XVII besluit dat dit onnodig was om 'n amptenaar met die rang van goewerneur na die Kaap te stuur. Die hoogste gesag aan die Kaap sou weer deur 'n kommandeur gevoer word. Die persoon wat vir dié pos gekies is, was Simon van der Stel, wat op 12 Oktober 1679 die gesag oorgeneem het.

Simon van der Stel

Die nuwe kommandeur is op 14 Oktober 1639 gebore, toe sy ouers, Adriaan van der Stel en Maria Lievens, op pad was na Mauritiius, waar Adriaan as gesagvoerder aangestel is. Maria Lievens was 'n dogter van 'n seekaptein, Hendrik Lievens, en Monica da Costa. Die eerste 5-1/2 jaar van sy lewe het Simon deurgebring op Mauritius, waar een sustertjie, Maria, gebore is. In Mei 1645 het die gesin na Batavia vertrek. Daar is Simon en sy suster op 3 Januarie 1646 gedoop en is nog 'n suster, Adriana, gebore. Enkele maande later, op 16 Mei, is Adriaan van der Stel tydens 'n veldtog teen Radja Singa op Ceylon onthoof. Simon se moeder is in Batavia weer met 'n skeepskaptein getroud en is in 1652 daar oorlede. In 1659 het Simon met die vloot van Pieter Sterthemius na Nederland gegaan om - soos dit in die Dagregister van Batavia heet - sy "studie te vervolgen". Besonderhede oor die aard van hierdie studie is nog nie gevind nie.

Op 23 Oktober 1663 het hy met Johanna Jacoba Six in die huwelik getree en uit dié huwelik is vyf seuns en 'n dogter gebore. Die drie oudste kinders, Wilhelmus Adrianus, Adriaan en Cateline, is onderskeidelik 1664, 1665 en 1667 in Haarlem gebore, terwyl Frans, Hendrik en Cornelis in amsterdam gebore is en aldaar in die Suiderkerk gedoop i s. Uit aktes wat in die Amsterdamse Gemeente-argief gevind is, blyk dit dat Simon grondbesitter en sakeman was en ook baie belang gestel het in die maak van wyn en brandewyn. Deur sy huwelik was hy verwant aan die alombekende familie Six en die skatryk Van Waverens. Toe Lodewyk XIV se leërs die land binneval, het hy as kaptein van 'n kompanie voetsoldate die land help verdedig. Moontlilk het die lang afwesigheid van sy huis hom van sy vrou vervreem, moontlilk het die Vrede van Mijmegen, wat in Augustus 1678 gesluit is, hom laat verlang na 'n avontuurlilker lewe as dié van 'n Amsterdamse koopman. Hy moes ook aan die toekoms van sy kinders begin dink het. Wat ook al bygedra het tot sy besluit om Nederland weer te verlaat, dit is seker dat dit vir hom 'n blye dag was toe hy in Maart 1679 die aanstelling van kommandeur van die Kaap gekry het. In Mei 1679 het hy hom met sy ses kinders en sy vrou se jongste suster, Cornelia Six, op die Vrye Zee ingeskeep.

Toe Simon van der Stel op 12 Oktober 1679 verwelkom is deur die waarnemende gesaghebber aan die Kaap, Hendrik Crudop, het die amptenare en vryburgers met hul vroue, kinders, slawe en knegte 767 siele getel. Aangesien slegs 22 gesinne by die landbou betrokke was, was die Kaap nie selfonderhoudend nie. Groot hoeveelhede rys moes jaarliks ingevoer word. Van der Stel se probleem was in die eerste plek dus hoe om genoeg graan te produseer om die bevolking aan die Kaap te voed. Daaraan het hy onmiddellik sy aandag gewy. Nadat die dringendste skeepsake eers afgehandel is, vertrek hky en 'n paar lede van die Politieke Raad te perd na die binneland en by van 3 tot 8 Novmber weg. Ná 'n besoek aan Hottentots-Holland, waar die suidoostewind kwaai gewaai het, besluit hy om 'n nuwe nedersetting langs die oewers van die Eersterivier te vestig. In die dagregister laat hy aanteken dat, aangesien hy die eerste persoon was wat op daardie "eijlandeken" oornag het, hy dit Stellenbosch sou noem, mede ter herinnering aan die mooi bome wat hom daar so bekoor het.

Hierdie nedersetting wat so na aan sy hart gelê het, was anders as die buiteposte wat deur die Kompanjie gestig is. By die buitepos "De Kuijlen" het 'n paar amptenare al die wer gedoen, terwyl Hottentots-Holland deur die Kompanjie aan die vryburgers verhuur is. In Stellenbosch het die eerste vryburger reeds in 1679 vingeralleen begin werk. In Mei 1680 kon Van der Stel aan die Here XVII skryf dat daar "nu al eenige vrijluijden" op Stellenbosch gevestig was. Die getal het gaandeweg toegeneem. In 1681 het een vyfde van die graanproduksie uit Stellenbosch gekom, in 1682 een derde, en in 1684 het altesame 40 gesinne 3 021 mud graad op Stellenbosch goes. Daar het nog steeds net vryburgers op Stellenbosch gewoon. In 1682 het Van der Stel vier van hulle aangestel om as heemrade op te tree en geskille onder hulle te besleg. Ná die besoek van Hendrik Adriaan van Reede, wat as hoë kommissaris uit Nederland gekom het, is die eerste amptenaar na Stellenbosch gestuur. Hy is landdros genoem en in 1687 is 'n kerk, 'n raadhuis en 'n woning vir die landdros gebou. Hierdie vinnige groei en welslae van die nedersetting was in hoë mate aan Simon van der Stel se ywer en werkkrag te danke.

In die dagregister en briewe is daar oral blyke van die dryfkrag en deursettingsvermoë waarmee die kommandeur sy taak aangepak het. Eers is die kasteel bewoonbaar gemaak en in Junie 1680 neem hy met sy kinders en skoonsuster sy intrek daar. In eie persoon besoek hy Houtbaai, waar hy 'n houtsaery aan die gang sit. Hy besoek Robbeneiland om die visvangs en behandeling van bandiete te reël en begin 'n steenbakkery by De Kuijlen. Die grag rondom die kasteel word met buskruit dieper gemaak. Leerdam, een van die kasteel se vyf punte, word herstel en besoekers word mild en gasvry in die kasteel onthaal. Hy straf oneerlikheid onder die amptenare en skippers van besoekende skepe en haal hom sodoende die vyandskap van baie op die hals.

Hy pas sy kennis van wynmakery toe en help ook die vryburgers om beter wyn te maak. Die hulp wat hy van die Hoë Regering gekry het, was egter nie bemoedigend nie. Batavia gee toe dat die wyn wat hy aan hulle stuur, "van redelijcken goeden smaack" is, maar raai hom aan o m dit aan die Kaap te gebruik, sodat dit nie vir hom nodig sou wees om Spaanse of Franse wyn van die skepe te kry nie. Ook in Amsterdam was die pryse wat die Kaapse wyne behaal het, nie lonend nie.

Gedurende die eerste jare van sy bewind het die jaarlikse besoeke van die retoervloot en die strewe om genoeg voedsel vir die bemanning gereed te hê, in die middelpunt van sy belangstelling gestaan. Die organisasie van die garnisoen en die burgermilisie het egter ook aandag geverg en h ier het sy ervaring as kaptein van die waardgelders(3) hom uistekend te pasgekom. Daarbenewens het die koms van die hooggeplaaste Oosterlinge, wat in Maart 1681 as bannelinge aan wal gesit is, ook die kommandeur se aandag vereis. Die Raad van Batavia, wat hierdie mense na die Kaap verban het, het die kommandeur gemaan om veral te sorg dat hulle nie vlug of in Franse, Deense of Engelse hande val nie. In sy antwoord het Simon geprotesteer dat hy nie genoeg mense gehad het om hierdie gevangenes te bewaak nie, maar die Bataafse owerheid het hom nie daaraan gesteur nie en die Kaapse kommandeur die raad gegee om hierdie politieke gevangenes oor die hele land verspreid te laat woon sodat hulle geen sameswering teen die Kompanjie op tou kon sit nie.

(3)Die waardgelders was  huursoldate wat van dag tot dag betaal moes word.

Byna elke jaar het die vlote van en na die Ooste 'n kkommissaris na die Kaap gebring wat in rang hoër as die Kommandeur was en dan 'n verslag oor sy werk moes uitbring en hom met raad en daad bystaan. Dit is opvallend dat hierdie hoë amptenare hom byna sonder uitsondering veel lof toegeswaai het. Reeds in 1681 het Rijckloff van Goens jr. gerapporteer dat die Kaap se oes in sy eie behoeftes kon voorsien en dat net vir die slawe rys ingevoer sou moet word. Hy en sy vader, Rijckloff van Goens sr., wat die Kaap die volgende jaar besoek het, het egter albei gemaan dat Van der Stel meer bome moes plant en alles in die werk moes stel om die jaarlikse verliese wat die Kompanjie aan die Kaap gely het, te laat daal.

Een van die maniere waarop die kommandeur probeer het om aan  hierdie opdrag te voldoen, was die soek na minerale. Hy het die kuns verstaan om erts te smelt en het die erts wat Oloff Bergh in 1682 en 1683 uit die noorde saamgebring het, self ondersoek. Hy het vurig gehoop dat daar koper of silwer in Namakwaland sou wees, maar ook aandag geskenk aan moontlikhede nader aan die Kaap. So het die kommandeur in November 1683 deur Simonsvallei langs die geberte tot aan die Crusenvliet gegaan en die volgende dag die berge bestyg om ondersoek in te stel na gerugte dat daar minerale was.

Wat sy persoonlike lewe betref, was hierdie eerste jare aan die Kaap geensins gelukkig nie. Sy skoonsuster het hom in Mei 1681 ontval. Here XVII het sy persoonlike uitgawes en die indiensneming van sy seuns gekritiseer, sodat hy gevolglik besluit het om sy oudste seun aan te raai om na Nederland terug te keer. Later het ook sy dogter en sy seuns Adriaan, Hendrik en Cornelis die Kaap verlaat, sodat net Frans oorgebly het. In die Kasteel het dit stil geword en Simon het reeds in 1683 begin belang stel in die buiteverblyf Rustenburg waar hy nuwe wingerde en baie bome aangeplant het.

Die jaar 1685 was nie alleen in sy lewe 'n betekenisvolle keerpunt nie, maar was ook in die geskiedenis van ons land van deurslaggewende belang. Toe Hendrik Adriaan van Reede aan die begin van daardie jaar die Kaap besoek het, het Here XVII nog steeds besluiteloos gestaan teenoor die Kaap. Hulle het nog geen antwoord gegee op die vraag of vryburgers of amptenare gebruik moes word om hul vlote van verversings te voorsien en die Kaap teen moontlike aanvalle te verdedig nie. Wel het sekere riglyne van hul beleid sigbaar begin word. Reeds in 1682 het goewerneur-generaal Van Goens Simon van der Stel opdrag gegee om alle bloedvermenging aan die Kaap teë te gaan. Daarmee het Van Reede heelhartig saamgestem. Hy het verder gegaan en bepaal dat slawekinders deur hul eie leermeesters onderrig moes word. Ook het hy die lot van die slawe aan die Kaap deur beter kleding en behuising aansienlik verbeter. Huwelike tussen Nederlanders en vrygemaakte slavinne is na 1685 verbied, behalwe wanneer sulke slavinne Nederlandse vaders gehad het. 'n Skool wat net vir blankes bedoel was, het volkome met hierdie beleidsrigting gestrook.

Van Reede en Van der Stel het mekaar wedersyds goed begryp en gerespekteer. Die hoë kommissaris het die kommandeur gehelp om oneerlike amptenare te straf en het hom tewens die raad gegee om sy mede-raadslede nie al te hooghartig te behandel nie. Hy het hom geprys oor die goeie toesig wat hy oor die Kompanjie se skape en beeste gehou het en oor die vooruitgang van die landbou onder sy bewind. In sy verslag meld hy dat in 1685 nie minder nie as 370 morg onder die ploeg gebring is en dat 'n oes van 2 400 mud verwag word, sodat die slawe en die garnisoen gevoed kan word en dit moontlik sal wees om van die oorvloed na Indië te stuur. Die wynbou het die hoë kommissaris eweneens bevredig.

Twee dinge het Van Reede egter nie behaag nie. Die kommandeur moes volgens hom yweriger wees met die aanplant van bome en die verbetering van die bestaande boustyl. Veral Hottentots-Holland het kwaai onder kritiek deurgeloop. Die huise en stalle was so vervalle en primitief dat hulle heeltemal onbruikbaar was. Aangesien dié opstal voor Simon van der Stel se koms na die Kaap gebou was, was hy dit volmondig eens met die kommissaris dat die werk oorgedoen moes word. Die mure, het Van Reede gesê, moes van klip gebou word en h uise, krale, stalle en ander buitegeboue moes dan deur 'n omringende muur beskerm word, alles netjies en doeltreffend, sodat die vryburgers kon leer hoe om hofstede op hul plase te bou en hulle teen wilde diere te beskerm. Alle klipsteenmure moes dan met klei toegemessel en met kalk afgewit word. So het Van Reede sy bydrae gelewer tot wat bekend sou word as die Kaaps-Hollandse boustyl.

Die groot probleem om die Kaap 'n winsgewende besitting van die Kompanjie te maak, het die hoë kommissaris ook van vele kante benader. Benewens besuiniging en verhoging van die opbrengs van die jaarlikse pagte, doen hy aan die hand dat daar ywerig na minerale gesoek word. Hy gee Van der Stel toestemming om persoonlik 'n tog na die Noorde te lei. In die volgende hoofstuk sal gesien word hoe gretig die kommandeur van hierdie vergunning gebruik gemaak het.

Nie lank ná Hendrik Adriaan van Reede se vertrek nie, het Here XVII besluit om die nedersetting aan die Kaap te "stabiliseren", d.w.s. te bestendig en vryburgers aan te moedig om hulle daar te vestig. Met die doel om Franse vlugtelinge aan te moedig om na die Kaap te verhuis, is aanloklike voorwaardes opgestel en 150 Hugenote het daarvan gebruik gemaak. Ook is Van der Stel toegelaat om Nederlanders op skepe aan te spoor om hulle as landbouers aan die Kaap te vestig. In Oktober 1686 het hy 23 plasies aan sulke mense toegewys en ter ere van die hoë kommissaris is die nuwe nedersetting Drakenstein(4) genoem. Die eerste Franse het vroeg in 1688 met die Oosterland aangekom en hulle en ander wat in die loop van 1688 en 1689 die Kaap bereik het, is gevestig op plasies tussen die Nederlandse en Duitse vryburgers. Aan hul predikant, ds. Pierre Simond, is grond gegee tussen Drakenstein en Stellenbosch, terwyl Paul Roux as hul voorleser en skoolmeester aangestel is. 'n Doelbewuste poging is aangewend om die Franse so gou moontlik by die Nederlanders in te lyf, en hoewel Here XVII hulle toegelaat het om hul eie kerkraad te hê, is hulle nie toegelaat om 'n afgeslote gemeenskap onder mekaar te vorm nie. Die kinders het gou hul Nederlandse maats se taal leer praat en ná 20 jaar was daar net 'n paar bejaardes wat niks anders as Frans kon verstaan nie. Hoewel die Franse in die 18de eeu versoek is om by hul briewe aan die regering 'n Nederlandse vertaling in te sluit, is hulle nooit verbied om met mekaar Frans te praat nie. Die opgroeiende geslag het hul moedertaal egter al hoe minder gebruik en so het die taal van die minderheidsgroep gaandeweg verdwyn.

(4)Die juiste spelling van die naam is eintlik sonder die n, aangesien die hoë kommissaris Hendrik Adriaan van Reede (sonder die h) tot Drakestein (sonder die n) was.

Dit is opvallend dat die toename van die bevolking gedurende die dekade ná 1690 nie aan immigrasie te danke was nie, maar aan 'n stygende geboortesyfer. Byna elke Sondag het paartjies voor die kansel gestaan om te trou of kinders te laat doop. Toe Simon van der Stel in 1699 die tuig neerlê, het die bevolking 402 mans, 224 vroue en 521 kinders getel.

Wilhem Adriaen van der Stel

Na 'n afwesigheid van meer as 14 jaar moes dit vir die nuwe goewerneur, Wilhem Adriaen van der Stel, 'n aangename gewaarwording gewees het toe hy die Kaap in 1699 met sy vrou, Maria de Haese, en kinders bereik. Ywerig, soos sy vader, het hy dadelik bome wat hy uit Nederland saamgebring het, begin plant. Hy was 34 jaar ouden het uit die staanspoor 'n eie koers ingeslaan. Net soos sy vader, het hy self 'n reis na die binneland onderneem om ondersoek in te stel na geskikte plasies vir vryburgers wat gewillig was om dieper die land in te trek. In November 1699 ry hy te perd oor Stellenbosch en Drakenstein, totdat hy anderkant die Ubikwaseberge afkyk op 'n lieflike vallei waaraan hy die naam Land van Waveren gee. In weerwil van sy vader se waarskuwing om die vryburgers met alle middele in sy mag te verhinder om dieper die binneland in te trek, reik hy 'n aantal weilisensies hier uit. Die nuwe gemeenskap in die land van Waveren, wat onder die administrasie van die landdros van Stellenbosch gestaan het, het sodoende die voorpos van die veeboer geword. Toe hulle in 1701 deur die Ubikwas of Boesmans aangeval is, het 40 man - bestaande uit amptenare en die burgers van Kaapstad, Stellenbosch en Drakenstein, kom help om hul vee terug te kry en die Ubikwas te verdryf.

Verder het die eerste jare van sy bewind sonder opspraakwekkende gebeurtenisse verbygegaan. Henning Hüsing het op 17 Februarie 1700 in die teenwoordigheid van kommissaris Wouter Valckenier sy vleiskontrak met die Kompanjie vir tien jaar verleng gekry. Die kommissaris het ook teen Wilhem Adriaen se sin daarvoor gesorg dat die vryburgers in kennis gestel word dat die verbod op ruilhandel met die Hottentotte opgehef is. Dit het die vryburgers die reg gegee om ruilhandel te dryf met die Hottentotte, 'n reg waarvan hul gretig gebruik gemaak het. Wilhem Adriaen, wat eweneens vir die Kompanjie en vir eie rekening ruilhandel met die Hottentotte wou dryf, het nie van hierdie mededinging gehou nie. Toe 'n groep burgers in Oktober 1702 met 2 000 beeste by die Kasteel aankom, is die gerug versprei dat hulle die beeste van die Hottentotte gebuit het. Op grond daarvan het die goewerneur die toestemming om ruilhandel te dryf, weer ingetrek. In sy brief aan die Here XVII het hy egter toegegee dat die "voornaamste en vroomste" burgers nie aan die "gepermitteerde" ruilekspedisies na die binneland deelneem nie.(5)  Aangesien Van der Stel deur die Vryburgers daarvan beskuldig is dat hy 15 veeposte in die binneland gehad en self toegegee het dat hy nie meer as agt gehad het nie, is die suiwerheid van sy motiewe nie bo verdenking nie, want indien die vryburgers belet is om handel te dryf, sou die amptenare sonder mededinging in die veld wees.

(5)C.507: Uitg. Br., 20 Maart 1702, p. 418 (Kaapse Staatsargief).

Die stryd wat drie jaar later tussen die vryburgers en die amptenare begin het, het egter hoofsaaklik oor die reg van grondbesit gegaan. Toe Wilhem Adriaen aan die Kaap gekom het, het die meeste amptenare grond besit en geboer. Sy vader, Simon, het op Constantia 'n pragtige woning gebou op grond wat hy van Hendrik Adriaan van Reede gekry het. Die kommissarisse Daniël Heins en Wouter Valckenier het hom in die jare 1699 en 1700 nog meer grond gegee, terwyl eersgenoemde eweneens aan Frans 'n mooi plaas gegee het. Die gewese sekunde, Andries de Man, die kassier, Hendrik ten Damme, die chirurgyn, Willem ten Damme, die nuwe sekunde, Samuel Elsevier, die predikant, Petrus Kalden, die sieketrooster, Albert Coopman, die kaptein, Oloff Bergh, het almal erwe gehad en die meeste het ook plase besit. Die verbod van 1668, met die strekking dat amptenare geen grond mag besit nie, was dus 'n dooie letter toe Wilhem Adriaen aan die Kaap gekom het. Saam met Frans en Simon het die nuwe goewerneur van Daniël Heins 'n erf in Tafelvallei ontvang. Eers die volgende jaar, toe hy die wêreld self deurgekyk het, het Wouter Valckenier 400 morg in die omgewing van Hottentots-Holland aan hom geskenk. Hierdie plaas het Vergelegen genoem.

Hoewel hy die afstand tussen Vergelegen en die Kasteel aan die Kaap deur verwisseling van perde binne ses uur kon aflê, is dit uit die resolusieboek en die dagregister duidelik dat hy al hoe minder Kaap toe gekom het. Waar die Politieke Raad in 1700 nog elf keer byeengekom het, wat reeds min genoeg was in vergelyking met Van Riebeeck se dae, toe die Raad minstens 52 keer per jaar vergader het, het die Raad in 1701 sewe keer, in 1702 ses keer en in 1704 en 1705 net vyf keer per jaar vergader. Tog het Van der Stel die werk wat gedoen moes word, nie geheel en al verwaarloos nie. In 1703 is 'n nuwe perdestal naby die Kasteel voltooi en in April 1703 kon hy aan Here XVIIskryf dat nog net die toring van die nuwe kerk aan die Herengracht nie voltooi was nie.

Dat hy op Vergelegen nie stilgesit het nie, blyk uit sy eie geskrifte oor sy werk en uit amptelike stukke. Nie tevrede met 400 morg nie, het hy aan die baastuinier 'n aangrensende plaas van meer as 100 morg geskenk en dié grond daarna van hom "gekoop". 'n Sierlilke woning met omringende geboue, o.m. 'n woning vir sy slawe, 'n parshuis en stalle, is in die loop van 'n paar jaar opgerig. Hier het honderde slawe en ook blanke knegte vir hom gewerk. In sy Korte Deductie, waarin hy later sy optrede aan die Kaap probeer regverdig het, het hy toegegee dat die Kompanjie party van hulle betaal het. As goewerneur het hy reg gehad op bediendes wat deur die Kompanjjie betaal word. In dieselfde geskrif gee hy toe dat hy honderdduisende wingerdstokke geplant het, agt veeposte oorkant die berge besit en 2 600 skape gekoop het. Die burgers het sy besittings en bedrywighede baie hoër aangeslaan. Hoe groot die omvang van Van der Stel se boerdery was, is eintlik weinig ter sake. Die feit dat hy en sy mede-amptenare, asook die voormalige amptenare Simon en Frans van der Stel, met so baie welslae geboer het, het die vryburgers met vrees vervul. Die amptenare het van hulle kant die burgers beskou as onskuldige boere wat toegelaat het dat hul landerye uitgeput raak, wat niks gedoen het om grondverspoeling te keer of skurfte onder hul skape te stuit nie.

Simon van der Stel was bekommerd oor die landbou, oor die gebrek aan trekkosse, oor die moontlikheid dat daar nie genoeg beeste sou wees om in die behoeftes van die hospitaal en skepe te voorsien nie en sy raad aan sy seun was om al die uitbreiding van die vryburgers na die binneland te verhinder en om amptenare wat reeds lank in die land was, 'n kans te gee om hulle as vryburgers te vestig en te boer soos hy en sy seun Frans.

Wilhem Adriaen het egter verkies om die probleme wat hy van sy vader geërf het, op sy eie manier op te los. Hy het die vryburgers eerder aangemoedig om veeboere te word en verder die land in te trek. Hy wou hulle egter verhinder om ruilhandel met die Hottentotte te dryf, aangesien hy besig was om sowel die Kompanjie se veestapel as sy eie uit te brei. Waar Simon amptenare in vryheid wou stel om te gaan boer, het Wilhem Adriaen geen rede gesien waarom 'n amptenaar moes bedank as hy wou gaan boer nie. Sy eie vader het 15 van die 19 jaar van sy bewind geboer en ander goewerneurs en kommandeurs het dieselfde gedoen.

Intussen was die burgers nie blind en doof vir alles wat die amptenare besig was om tot stand te bring nie. Daar was selfs gerugte in omloop dat die amptenare die vryburgers geheel en al as produsente wou uitskakel. Veral die ryk burgers het h ulle daardeur bedreig gevoel. Toe die goewerneur - in 'n poging om die inkomste uit die jaarlikse pagte te vergroot - die wynpag aan een in plaas van vier burgers toeken, het die smeulende ontevredenheid teen die hooghartige optrede van die amptenare skielik opgevlam. Henning Hüsing, wat reeds aan Here XVII geskryf het oor die optrede van die goewerneur en die amptenare aan die Kaap, het saam met Adam Tas, wat al sy skryfwerk gedoen het, verdere klagtes begin insamel. Hulle het daarop gewys dat die nuwe pagter, Johannes Phijffer, 'n vriend van die Van der Stels was wat self geen geld gehad het om vir die pag te betaal nie. Hy sou dus geheel en al na die amptenare se pype dans.

Terwyl die burgers gewag het vir 'n antwoord op hul eerste briewe aan Here XVII en die goewerneur-generaal en Raad van Batavia, het Tas ywerig alle klagtes wat teen die goewerneur en sy vriende ingebring kon word, opgeteken. Dit het uiteindelik 'n klagskrif van 38 punte geword, wat deur 63 vryburgers onderteken is. Behalwe teen die goewerneur, is daar hoofsaaklik te velde getrek teen Jonker François van der Stel en teen die predikant, Pieter Kalden. Ook die boerdery van Samuel Elsevier is genoem. Veral die omvang van die amptenare se bedrywighede het die vryburgers ontstel.

Die amptenare was van hulle kant ook nie doof en blind vir die bedrywighede onder die vryburgers nie. Die gevoelens van party van die vernaamste vryburgers het trouens duidelik genoeg uit hul gedrag geblyk. So het die ouod-burgerraad Jan Rotterdam op Sondag, 11 Oktober 1705, in die kerk bly sit toe al die ander soos gebruiklik opgestaan het toe die goewerneur en sy familie die kerk binnegekom het. Wilhem Adriaen het die saak in 'n ernstige lig beskou en die volgende dag 'n spesiale vergadering van die Politieke Raad belê. Afgevaardigdes is na Jan Rotterdam gestuur en toe dé se antwoord beledigend was, het Van  der Stel en sy Rad besluit om die oubaas na Batavia te stuur om voor die Raad van Justisie aldaar tereg te staan. Teen Desember was dit onder die burgers bekend dat die goewerneur 'n brief uit Batavia ontvang het, dat hy geweet het dat Henning Hüsing, Jacobus van der Heiden, Jan van Meerland en Adam Tas sy vernaamste vyande was en dat hy gedreig het dat hy hulle sou ophang.

'n Harde stryd het nou begin. Op 19 Desember 1705 het Henning Hüsing sy winsgewende vleiskontrak verloor. Hoewel dit in opdrag van Here XIV geskied het, ht Adam Tas dit nie geweet nie en op 25 Desember in sy dagboek geskryf: "...nu heeft ten gouvernr. het na zijn zin, hij heeft het kunsje nu uijtgevonden om zijn schapen en van meer andere van zijn volk aan de man te helpen."(6) En dit was ook inderdaad ook die uitwerking wat dié opdrag van Here XVII sou gehad het. Die burgers het dit in die 33ste punt van hul klagskrif teen die amptenare aan Here XVII verduidelik.

(6)"...nou het die goewerneur dit na sy sin. Hy het 'n manier gevind om sy eie skape en die skape van dié wat hom ondersteun, te bemark."

Die retoervloot van 1706 het verdere berigte uit die Ooste gebring. Adriaan van die Stel, lid van die Raad van Indië, het sy broer ingelig oor alles wat teen hom aan die gang was en Wilhem Adriaen het dadelik begin teenmaatreëls tref. 'n Paar amptenare is haastig uitgestuur om die vryburgers te vra of hulle nog wyn het wat hulle aan die Kompanjjie wil lewer en inderhaas is 'n getuigskrif opgestel waarin die goewerneur se "seer goedertieren en zachtmoedigen aart" geprys word. Verskeie persone is na die Kasteel genooi en gevra om die stuk te onderteken. Baie doen dit, tot "Zwarten in Cluijs", skryf Adam Tas. Daarna word landdros Starrenburg na Stellenbosch en Drakenstein uitgestuur om meer handtekeninge in te samel. Terselfdertyd begin Wilhem Adriaen drasties optree. Op 28 Februarie 1706, douvoordag, word Tas in hegtenis geneem en sy lessenaar na die Kaap vervoer. Daarin kon Wilhem Adriaen presies sien watter klagte teen hom ingebring is. Hy besluit om die skuldiges nie langer te probeer paai nie, maar om streng op te tree. Die Politieke Raad besluit op 8 Maart om Henning Hüsing, Jacobus van der Heiden, Pieter van der Bijl, Ferdinandus Appel en Jan van Meerland met die retoervloot Nederland toe te stuur. Hulle en ander Kaapse burgers is "verhoor" in 'n poging om hulle te beweeg om hul klagtes teen die goewerneur terug te trek, of altans te wysig. Van der Heiden, wat een van die halsstarrigste getuies was, is in die Donker Gat van die Kasteel opgesluit, maar die ander vier is na Patria gestuur. Van Meerland is tydens die reis oorlede, maar Hüsing, Appel en Van der Bijl het "een nederig smeekschrift, verzelt van 't Klachtschrift der vrijburgeren" aan Here XVII oorhandig.

Onderwys 'n kommissie van ondersoek op die saak ingegaan  het, het Wilhem Adriaen die Kaapse burgers links en regs gedagvaar. Nege wat geweier het om aan die dagvaarding gehoor te gee, is in Augustus 1706 in hul afwesigheid vir vyf jaar na Mauritius verban en 'n boete van 200 riksdaalders elk opgelê. Teen die einde van die jaar was nog niemand gevang nie. Hoewel Wilhem Adriaen uiteindelik daarin geslaag het om drie van die nege voortvlugtiges in die hande te kry, is sy mag om op die burgers wraak te neem op 17 April 1707 beëubdug, Die brief wat hy op daardie dag ontvang het, is op 30 Oktober 1706 deur die Here XVII onderteken en was ondubbelsinnig gestel. Dit het die goewerneur, die sekunde, die landdros en die predikant, Petrus Kalden, na Amsterdam ontbied, en vryburger Frans van der Stel uit al die gebiede van die Kompanjie verban. Al die ander amptenare is kategories belet om grond te besit of handel te dryf - dus 'n algehele oorwinning vir die vryburgers.

Ná sy terugkeer in Europa het Wilhem Adriaen alles in die werk gestel om te bewys dat hy nie skuldig was aan alles wat die burgers hom ten laste gelê het nie. Hy het hom verdedig in 'n lywige geskrif wat hy die Korte Deductie genoem het. Dit het anoniem verskyn en is deur 'n aantal Kaapse burgers beantwoord met 'n nog lywiger geskrif wat hulle die Contra Deductie genoem en wat in 1711 die lig gesien het. Hierdie geskrifte het heelwat penne vir en teen die goewerneur in beweging gebring. Die twee partye kon nie daarin slaag om mekaar van die skuld of onskuld van Wilhem Adriaen van der Stel en sy mede-amaptenare te oortuig nie.

Vir Wilhem Adriaen was die vraag of hy hom skuldig gemaak het aan alles waarvan die burgers hom beskuldig het, natuurlik belangrik.Van wesenlike belang vir die geskiedenis van ons land is die vraag of daar in die begin van die 18de eeu plek was vir amptenaar-boere en vryburgers. Die vryburgers het bewys dat die amptenare deur misbruik te maak van hul voorregte as amptenare, 'n voorsprong op hulle gehad het. Wilhem Adriaen het dit erken, maar beweer dat die vryburgers oordryf het. Die jare ná die vryburgers se sege oor die amptenare het die bewys gelewer dat die vryburgers volkome in staat was om in die behoeftes van die vlote, die hospitaal en die garnisoen te voorsien.

Die vryburgers het uit hul stryd teen die amptenare 'n belangrike les geleer en wanneer een van die amptenare daarna deur erflating of huwelik grond in die hande gekry het, is hy onmiddellik voor die keuse gestel om òf vryburger te word òf sy grond te verkoop. Soos in die volgende hoofstuk aangetoon sal word, het die toename in vryburgers in die loop van die 18de eey die toename in amptenare oortref. Die Kaap sou nie, soos die Kompanjie se besittings in die Ooste, telkens deur 'n nuwe geslag amptenare gekoloniseer word nie, maar bewoon word deur blankes wat 'n blywende tuiste op die vasteland van Afrika gevind het.

A.J. Böeseken 

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134