Die Suid-Afrikaanse Republiek

Erkenning van Transvaal se onafhanklikheid

Op 17 Januarie 1852 is die Sandrivier-konvensie deur die verteenwoordigers van Brittanje en Transvaal onderteken. Daardeur het geen nuwe staat of regering tot stand gekom nie, maar het Brittanje bloot die soewereine onafhanklikheid erken van 'n staat wat alreeds bestaan het. Hierdie staat benoorde die Vaalrivier het in September 1853 kragtens 'n besluit van sy Volksraad die naam van De Zuid-Afrikaansche Republiek (Z.A.R.) gekry. Met die ondertekening van genoemde Konvensie het Brittanje hom ook verbind tot 'n beleid van nie-inmenging en nie-uitbreiding t.o.v. die aangeleenthede en gebied benoorde die Vaalrivier.

Regeringsprobleme en die verkryging van 'n grondwet

Die onafhanklikheidserkenning het geen einde gebring aan die wesenlike probleme waarmee die Z.A.R. reeds te kampe gehad het nie. Hierdie probleme was hoofsaaklik konstitusioneel en staatkundig van aard, terwyl knellende ekonomiese omstandighede ondervind is. Dit sou die taak wees van die manne wat aan die leiding van sake gestel is, om die probleme so gou moontlik te probeer oplos en die Republilek se sake op 'n vaste grondslag te plaas.

Een van die grootste tekortkominge was die staat se gebrek aan 'n behoorlike grondwet en 'n doeltreffende regeringstelsel. Regering het plaasgevind ooreenkomstig tradisies wat sedert die begin van die Groot Trek ontstaan en min of meer gevestig geraak het en veral ook ooreenkomstig die sg. Drie-en-dertig artikels van 9 April 1844, dikwels genoem die eerste Transvaalse grondwet of die Potgietergrondwet, wat in 1849 deur die Transvaalse Volksraad herbevestig is. 'n Grondwet was dit in die ware sin van die woord egter nie; eintlik het dit niks meer bevat nie as 'n aantal reëls en een bepaling i.v.m. die jaarlikse verkiesing van lede vir die Volksraad. Die regering is uitgeoefen deur 'n enkele liggaam, die Volksraad, wat nie net die wetgewende funksie vervul het nie, maar ook die hoogste regsprekende gesag in sy hande gehad het; en uit weinig konstitusionele kennis en wanbegrippe aangaande verhoudinge tussen verskillende regeringsmagte en die daaruit voortvloeiende vrees vir die moontlike ontwikkeling van 'n staatshoof tot die een of ander outokratiese mag, het die Volksraad ook probeer om die uitvoerende gesag te verteenwoordig. Dit was 'n uiters ongesonde toestand en die geskiedenis van die Volksraad en sy optrede voor en ná Sandrivier het onteenseglik bewys dat hy beslis nie in staat was om alle regeringspligte op doeltreffende wyse in eie hande te hou nie. Tot die ondoeltreffendheid van die regering het verder ook nog bygedra dat die Volksraad geen vaste setelplaas gehad het nie, maar driemaandeliks om die beurt op verskillende plekke, gewoonlik Lydenburg, Rustenburg en Potchefstroom, byeengekom het, wat derhalwe beteken het dat daar ook geen vaste regeringskantoor en -adres bestaan het nie.

Weens die uiters gebrekkige behartiging van die uitvoerende gesag deur die Volksraad, het die hoofkommandant of kommandant-generaal, aanvanklik in die persoon van Hendrik Potgieter en later ook Andries Pretorius, noodgedwonge in  uitvoerende hoedanigheid begin optree, tot groot verontwaardiging en misnoeë van die Volksraad, en is die bekleër van hierdie amp ook deur die buitewêreld as hoof van di e staat beskou. So was dit Andries Pretorius wat teen die einde van 1851 met die Britse owerhede oor die onafhanklikheidserkenning van Transvaal onderhandel en as verteenwoordiger van Transvaal die Sandrivier-konvensie onderteken het, wel met die toestemming van die Volksraad, ofskoon op 'n baie laat uur verleen, toe dié liggaam voor 'n voldonge feit te staan gekom het. Ná sy dood op 23 Julie 1853 het Andries Pretorius se mantel op sy seun, Marthinus Wessel Pretorius, as vernaamste kommandant-generaal in die Republilek, geval en was dit veral hy wat hom uit die staanspoor vir die oplossing van die jong staat se probleme sou beywer.

Bo-aan M.W. Pretorius se program het die verkryging van 'n behoorlike grondwet vir die Z.A.R. gestaan, maar 'n ander dringende probleem moes eers opgelos word. Die bevolking van die land het nie net geografies van mekaar afgesonderd gewoon nie, maar in sekere sin het daar ook 'n politieke verdeeldheid onder hulle bestaan wat sy oorsaak veral in die jare voor 1852 gehad het. So was daar die groep wat in die noorde in Soutpansberg, met Schoemansdal as sentrum, gewoon het en onder die persoonlike leiding van kmdt.-genl. Andries Hendrik Potgieter gestaan het, en ná sy dood, op 16 Desember 1852, onder die gesag van sy seun Piet Potgieter (in 1854 oorlede). In die noordooste was 'n ander groep in die omgewing van Lydenburg woonagtig. Hierdie groep, met W.F. Joubert as kommandant-generaal, was nie net tevrede met die volksraadregering soos dit bestaan het nie, maar was trouens vurige ondersteuners daarvan en geheel en al gekant teen die bestaan van 'n afsonderlike uitvoerende gesag. Nog 'n groep, wat aanvanklik buite Transvaalse gebied geval het, maar later by Lydenburg aangesluit het, het langs die Buffelsrivier (later Utrecht) gewoon. Die grootste saamtrekking was egter in die weste, nl. vanaf Potchefstroom tot by Marico en Rustenburg. Hierdie groep het kmdt.-genl. A. Pretorius se gesag erken en ná sy oorlye dié van M.W. Pretorius. Voordat 'n grondwet en 'n sterk sentrale regering tot stand gebring kon word, was dit dus eers nodig om alle verdeeldheid uit die weg te ruim en eenheid en saamhorigheid onder hierdie verskillende groepe te bewerkstellig. Ook aan hierdie taak sou M.W. Pretorius sy aandag skenk, maar nog 'n probleem, waardeur sy verenigingspogings belemmer sou word, het voorgeval. Dit was die moeilikhede wat op kerklike gebied ontstaan het.

Hierdie moeilikheid, wat aanvanklik van suiwer kerklike aard was maar spoedig tot die staatkundige terrein deurgewerk het, het uit die volgende omstandighede voortgespruit. Aangesien geen gelegitimeerde predikante die Voortrekkers uit die Kaapkolonie vergesel het nie vanweë die regeringsverbod en die onsimpatieke houding van die Kaapse Kerk teenoor die Trek, was daar in 1852 nog geen predikant permanent in die Z.A.R. werksaam nie. In hierdie jaar het ds. J.H. Neethling van die Kaapse Kerk Transvaal besoek en het die Transvalers die moontlikheid om 'n eie leraar te bekom, met hom bespreek. Die voorwaarde wat ds. Neethling daarvoor gestel het, nl. dat die Transvaalse gemeentes onder die Kaapse Sinode ingelyf moes word, is deur sowel die Transvaalse Kerkvergadering as die Volksraad aanvaar en die versoek wat dienooreenkomstig gerig is, is in Oktober deur die Kaapse Sinode goedgekeur.

Sake het egter in 1853, ná die aankoms van die eerste permanente predikant van die Z.A.R., in die persoon van ds. Dirk van der Hoff, 'n heeltemal ander wending geneem. Eers het die Algemene Kerkvergadering, waarvan ds. Van der Hoff die voorsitter was,  in Augustus 1853 in Rustenburg besluit dat die Nederduits Hervormde Kerk die enigste kerk was wat in die Z.A.R. erken sou word, wat beteken het dat geen inlywing meer onder die Kaapse Sinode sou geskied nie. Die rede vir dié besluit was dat baie Transvalers, o.m. Pretorius self, bevrees was dat die sodanige inlywing 'n kanaal kon skep waarlangs Engelse geestelike invloed na Transvaal sou kom, met moontlike nadelige gevolge vir die Republiek se vryheid en onafhanklikheid. Hierdie besluit het ' n kerklike twis meegewerk, nl. die rusie waarin ds. Van der Hoff met die Kerkraad van Lydenburg betrokke geraak het oor die pogings wat die Hollander J.A. Smellekamp aangewend het om nog 'n predikant vir die Z.A.R. uit Nederland te beroep. Toe die Volksraad hom in die aangeleentheid inmeng deur Smellekamp voor die Raad te daag, hom te verhoor, swaar te beboet en uiteindelik weens wanbetaling uit die land te verban, het die Lydenburgse Kerkraad op 31 Augustus 1853 hulle verbintenis met ds. Van der Hoff as predikant verbreek en besluit om by die Kaapse Sinode om inlywing  aansoek te doen. Hierdie volslae skeuring op kerklike gebied het Pretorius se pogings om staatkundige eenheid te skep, baie benadeel.

Wat die verkryging van 'n grondwet betref,  is redelik goeie vordering gemaak, sodat die Volksraad in Januarie 1857 die ontwerp, opgestel deur die Hollander Jacobus Stuart, met enkele wysigings kon aanvaar as grondwet van die Z.A.R. Daarin is voorsiening gemaak vir 'n wetgewende gesag gesetel in 'n volksraad waarvan die lede deur die volk gekies word; 'n uitvoerende gesag wat opgedra is aan 'n president (later staatspresident) as voorsitter van 'n uitvoerende raad waarin ook die kommandant-generaal, benewens ander lede, sitting sou hê; 'n regterlike gesag en 'n krygsmag, lg. onder bevel van die kommandant-generaal. Sowel die staatspresident as die kommandant-generaal sou in 'n verkiesing regstreeks deur die stemgeregtigde burgers verkies word, eg. vir 'n ampstermyn van vyf jaar en lg. vir 'n onbepaalde tydperk, wat egter in 1889 op 10 jaar en in 1896 op vyf jaar vasgestel is.

Nog in Januarie 1857 het die Volksraad, direk teen die bepalings van die pas aanvaarde grondwet in, M.W. Pretorius as eerste president en Stephanus Schoeman van Soutpansberg as eerste kommandant-generaal van die Z.A.R. gekies. By geleentheid van Pretorius se plegtige inswering as president, op 6 Januarie, ook die nuwe vlag van die Republiek - die Vierkleur - vir die eerste keer in Potchefstroom gehys.

Die verkryging van 'n grondwet was op sigself 'n heuglike gebeurtenis, maar dit het geen eenheid meegebring nie omdat Lydenburg dit nie wou aanvaar nie. Inteendeel, Lydenburg se volksraadslede het hulle gebied uitgeroep tot 'n afsonderlike republiek, waarby Utrecht die volgende jaar ingeskakel is. Naas die kerklike skeuring was daar nou ook 'n staatkundige skeuring, wat sou voortduur tot April 1860, toe Lydenburg weer met die Z.A.R. verenig is. Maar ook van Soutpansberg se kant het by monde van die pas gekose kommandant-generaal S. Schoeman, wat nou geweier het om die amp te aanvaar, beswaar en verset teen die grondwet gekom. Hierdie moeilikhede is egter met verloop van tyd d.m.v. onderhandelinge en kleinere wysigings van die grondwet uit die weg geruim, sodat die grondwet op 16 Februarie 1858 finaal aanvar kon word deur die Volksraad, waarin Soutpansberg ook verteenwoordig was. Daarop het Schoeman ook die kommandant-generaalskap aanvaar en het daar vir die Z.A.R. uiteindelik op grondwetlike gebied stabiliteit gekom.

Die tydperk van M.W. Pretorius

Intussen het Pretorius probeer om ook een van sy ander staatkundige ideale te verwesenlik, nl. om die Z.A.R. en die Republiek van die O.V.S. met mekaar te verenig. Hierdie pogings het in 1857 byna op 'n oorlog tussen die twee republieke uitgeloop; in 1858 het dit intervensie (in stryd met die Konvensies) van die kant van die Kaapse goewerneur, sir George Grey, ontlok; en uiteindelik het dit meegebring dat Pretorius ook as president van die O.V.S. gekies en in Februarie 1860 ingesweer is. (Pretorius se optrede i.v.m. die vereniging van die twee republieke en sy optrede as president van die O.V.S. word onderskeidelilk in Hoofstukke 14 en 12 behandel.) Sy aanvaarding van lg. presidentskap het vir die Z.A.R. onaangename en selfs ernstige reperkussies gehad. In die eerste plek is hy - nadat die ses maande verlof wat die Z.A.R. vir dié doel aan hom toegestaan het, verstreke was en die Vrystaatse Volklsraad om verlenging daarvan aansoek gedoen het - deur die Z.A.R. se Volksraad voor die keuse  gestel om as president van een van die twee state te bedank omdat die grondwet die bekleding van nog 'n amp naas dié van president verbied het. Daarna het Pretorius sy Transvaalse amp neergelê en is uitvoerende raadslid J.H. Grobler as waarnemende president benoem. Hierdie hele situasie het tot groot verwarring en uiteindelik tot burgeroorlog gelei, want Pretorius se ondersteuners en die voorstanders van vereniging van die twee repupblieke het nie met bg. volksraadsbesluite genoeë geneem nie. Hierdie mense het oop 'n volksvergadering in Potchefstroom besluit dat die bestaande Volksraad nie meer die vertroue van die volk geniet nie en dat 'n nuwe verkiesing derhalwe gehou moet word; dat Pretorius as president moet aanbly en dat 'n jaar verlof aan hom verleen moet word om hom in staat te stel om sy verenigingsplan deur te voer  en dat kmdt.-genl. Schoeman intussen as president moet waarneem. Toe daar in die loop van die volgende paar jaar probeer is om aan die besluite uitvoering te gee en die Volksraad teenmaatreëls getref het, het die gemoedere van die volk gaande geraak en het hulle weldra in twee gewapende kampe: die "Volksleër" (bestaande uit die ontevredenes) en die "Staatsleër (o.l.v. kmdt. Paul Kruger) teenoor mekaar te staan gekom. Op 5 Januarie 1864 het dit tot 'n openlike geveg gekom, maar die volgende dag het M.W. Pretorius vanuit die O.V.S. aangebied om as bemiddelaar in die moeilikhede op te tree. In die nuwe verkiesing waartoe die verskillende partye besluit het, is. M.W. Pretorius weer eens as president van die Z.A.R. gekies. Hy het as president van die O.V.S. bedank en daarmee het al die twiste, wat op stuk van sake oor sy persoon gegaan het, tot 'n einde gekom.

In die volgende paar jaar van sy presidentskap moes Pretorius ook aandag skenk aan etlike bedreigings van die kant van swart stamme. Die eerste was die dreigende houding van die Zoloe-opperhoof Cetshwayo, wat sy impi's tot gereedheid geroep het toe hy in 1865 die vroeëre skenking van 'n strook grondgebied wat Panda aan die Z.A.R. gedoen het met die oog op 'n deurweg na die see, gerepudieer het. 'n Botsing is gelukkig afgeweer, maar die hele situasie was van so 'n aard dat die Boere 'n ruk lank in laers langs die grens saamgetrek moes bly. In die noorde was dit egter 'n perd van 'n ander kleur; daar h et eers die Sjangaan-opperhoof, Mzila, net oorkant die Portugese grens, in 1864-1865 'n dreigende houding ingeneem, maar dit was veral die stamme in die Soutpansberge, d.w.s. binne Transvaalse gebied, wat in 1867 in opstand gekom het, gewapen met gewere en ammunisie wat smokkelaars aan hulle verskaf het. Die kommando wat inderhaas onder bevel van kmdt.-genl. Paul Kruger daarheen gestuur is, moes die aftog blaas. Dit het verreikende gevolge gehad, want die grootste deel van Schoemansdal, een van die oudste nedersettings in Transvaal, het daardeur uit die hande van die blankes geraak terwyl dit ook 'n afname in die swartman se ontsag vir die blanke meegebring het.

Sedert hy in 1854 kommandant-generaal geword het, het M.W. Pretorius hom in die besonder beywer vir die verbetering van die swak ekonomiese posisie van die Republiek. Vanweë 'n groot geldskaarste onder die burgers was die staatskas so goed as leeg. Lewensbenodigdhede, wat feitlik alles deur die hawens van Natal en die Kaapkolonie ingevoer is, was peperduur a.g.v. deurvoerregte wat dié kolonies daarop gehef het. Dit het vir die staatskas dié nadeel meegebring dat die Z.A.R. nie ook nog belastings op goedere kkon hef nie. Gevolglik het in 1854 die gedagte by Pretorius posgevat om deur onderhandeling, veral met die Natalse regering, 'n deel van die invoerregte op goedere wat vir die Republiek bestem was, vir Transvaal te bekom. Daarmee het hy egter geen sukses behaal nie.

Met hierdie weg gesluit, het hy - soos die Voortrekkerleiers voor hom - die gedagte aan 'n eie hawe begin koester en in 1858/9 probeer om dit in die praktyk te verwesenlik deur met die Zoeloe-opperhoof Panda te onderhandel om 'n strook grondgebied deur Zoeloeland tot aan die see aan die Z.A.R. af te staan. Daardeur sou die Z.A.R. na St. Luciabaai kon deurdring, maar hierdie en ook nog latere pogings in dié rigting het nie geslaag nie, veral nadat die Britse regering in September 1861 so 'n moontlikheid finaal verydel het. Nadat Pretorius weer in 1865-1866 vergeefse pogings aangewend het om direk met die Britse Ministerie van Kolonies en ook van die Natalse regering sekere toegewings te kry i.v.m. invoerregte op goedere wat vir Transvaal bestem was, het Pretorius op 'n Portugese kus begin konsentreer. Sy plan was om van die nedersetting wat 'n Skotse avonturier, Alexander McCorkindale, kragtens 'n ooreenkkoms wat met die Republiek in 1864 aangegaan is in Oos-Transvaal gestig het en van McCorkindale se hulp gebruik te maak om 'n vrye deurweg tot aan die monding van die Maputarivier te kry en aldaar 'n hawe in te rig. Groot dinge is in die vooruitsig gestel toe McCorkindale in September 1867 nie net met 'n uitgewerkte haweplan vorendag gekom het nie, maar ook met 'n hele reorganisasie- en moderniseringsplan vir die landsadministrasie, finansies, onderwys, die regstelsel, verkeer, ens. Hoewel die Republiek met McCorkindale 'n kontrak vir die bou en inrigting van die voorgestelde hawe aangegaan het, het ook van hierdie ambisieuse onderneming niks tereggekom nie. Van sy kant  het Pretorius, onder die indruk dat die suidelike deel van Delagoabaai (dus ook die Maputomond) nie Portugese besit was nie, met die toestemming van die Volksraad in April 1868 die Republiek se grense ooswaarts al langs die Maputa tot aan die see en weswaarts tot aan die Ngamimeer geproklameer. Die doel van die weswaartse uitbreiding was die insluiting van die noordelike gebied waar Karl Mauch kort tevore goud ontdek het. Portugal, maar veral Engeland (wat ten alle koste wou voorkom dat die Republiek 'n onafhanklike seehawe bekom), het egter so 'n heftige protes teen die proklamasie laat hoor en sulke dreigemente kwytgeraak en stappe gedoen, dat geen uitvoering aan die proklamasie gegee is nie en dit so stil-stil in die vergetelheid geraak het.

Met geen vooruitsigte meer op die verkryging van 'n eie hawe nie, het Pretorius nou van die nog bestaande goeie gesindheid van die Portugese gebruik gemaak om in 1869 'n ooreenkkoms van "vrede, vriendskap, handel en grense" met Portugal te sluit. Hierdie verdrag was vir die Z.A.R. van baie groot belang. Regstreeks het dit vir die Republiek, in ruil vir sy erkenning van Delagoabaai as Portugese besit, besonder gunstige handelsvoorwaardes meegebring, maar ook die amptelike erkenning van die Z.A.R. deur Portugal, waarop met verloop van tyd erkenning ook deur ander moondhede gevolg het.

Nog een gebeurtenis van besondere belang het tydens Pretorius se bewind plaasgevind, maar die afloop daarvan het vir hom persoonlik rampspoedige gevolge ingehou. Dit was die ontdekking van diamante in 1870 tussen die Vaal- en die Hartsrivier. Hoewel daar nooit 'n behoorlike en formele afbakening van die Transvaalse wesgrens was nie, het die Republiek die gebied waarin nou diamante ontdek is, as sy gebied beskou. Trouens, vóór die ontdekking van diamante het Transvaal nooit eens aan die moontlikheid gedink dat dit dalk nie aan hom kon behoort nie, want sedert Potgieter die gebied benoorde die Vaal in 1837 van Silkaats verower het, het hy op die hele gebied waaroor dié opperhoof geregeer het en wat nie juis in terme van grense bepaal kon word nie, aanspraak gemaak en niemand van buite het dit ooit betwis nie. Maarnog meer: met verloop van tyd het Transvaalse boere weswaarts langs die Vaalrivier tot teenaan die Hartsrivier plase beset en bewerk terwyl landdroste van die Z.A.R. al baie jare lank gesag daar uitgeoefen het en - les bes - die Transvaalse regering het ook al dorpe in die gebied begin uitlê, o.a. Bloemhof. Dit was die posisie toe diamante ontdek is, maar nou het daar ewe skielik ander aanspraakmakers op die gebied na vor getre, nl. die Griekwahoof Nicolaas Waterboer en - aangehits deur blanke agente - ook die Barolong- en Batlapinhoofde, terwyl die Britse magistraat van Kimberley deur waarnemende hoë kommissaris aangesê is om ook oor die nuwe diamantgebied gesag uit te oefen.

President Pretorius het hom onverwags in 'n baie netelige situasie bevind en, oortuig van die goeie reg van sy republiek, h et hy geredelik, soos die ander aanspraakmakers, ingestem om die hele geskil aan die arbitasie van luit.-goew. Keate van Natal voor te lê. Die groot fout wat hy egter begaan het, was om sonder voorkennis en toestemming van die Volksraad 'n dokument te onderteken waar hy onderneem het om die uitspraak van die hof as afdoende te aanvaar. Toe die hof in 1871, ná 'n uiters swak en onbeholpe verdediging van die Transvaalse saak deur die president en Fred Kleijn, die staatsprokureur, teen die Z.A.R. uitspraak gee en die diamantgebied aan die ander aanspraakmakers toeken, was die Transvaalse Volksraad bitter ontevrede en geensins van plan om hulle aan dié uitspraak te onderwerp nie. Die vernaamste redes vir hierdie weiering was in die eerste plek dat Pretorius ongrondwetlik gehandel het deur die akte van submissie te onderteken sonder om die saak eers aan die Volksraad voor te lê en ten tweede dat twee van die arbiters belanghebbende partye was en nie 'n onpartydige oordeel kon vel nie. Barkly het nog probeer protesteer teen die Z.A.R. se weiering om sy gesag uit die betwiste gebied te onttrek, maar toe dit geen uitwerking gehad het nie, is die betrokke gebied stilswyend in die besit van die Republiek laat bly. Vir Pretorius was die afloop van die saak egter rampspoedig. Sy ongrondwetlike handeling het soveel ontvredenheid gewek, dat hy in 1871 verplig was om as staatspresident van die Z.A.R. te bedank. Hoewel Pretorius nie daarmee uit die geskiedenis van Transvaal verdwyn het nie, het sy uittrede 'n bepaalde tydvak in dié geskiedenis afgesluit.

Die tydperk van T.F. Burgers

Nadat die diamantveld-ervaring was die Transvalers vasbeslote om nie weer 'n ongeleerde man as president te hê nie en is pres. J.H. Brand van die O.V.S. versoek om hom in die aanstaande verkiesing verkiesbaar te stel. Brand het hulle aandag egter op ds. T.F. Burgers van Hanover gevestig en lg. het hom bereid verklaar om kandidaat te wees. Om dit moontlik te maak, moes die grondwet egter eers gewysig word: (1) deur die skrapping van die artikel wat bepaal het dat 'n persoon, om vir die presidentskap verkiesbaar te wees, 'n burger van die staat moes wees; (2) deur die artikel wat bepaal het dat 'n kandidaat vir die presidentskap 'n lidmaat van die Hervormde Kerk moes wees, só te wysig dat net lidmaatskap van 'n Protestantse kerk vereis word.

Burgers is met 'n oorgrote meerderheid van stemme bo die ander kandidaat, Wm. Robinson, verkies en op 1 Julie 1872 in Pretoria as staatspresident  ingesweer. Op die nuwe president het daar nie 'n aangename tyd gewag nie, want Transvaal het in besonder moeilike omstandighede verkeer en verskillende sake het dringend aandag vereis. Daar het verwarring en ontevredenheid geheers oor die verlies van 'n groot stuk grondgebied a.g.v. die Keate-uitspraak; die finansiële en ekonomies etoestand van die staat was betreurenswaardig, want afgesien daarvan dat daar geen geld was nie, was die handel heeltemal onontwikkeld vanweë gebrek aan handelsfasiliteite en veral omdat Transvaal nie 'n eie hawe en/of 'n eie verbinding met die see gehad het nie; die onderwys was op 'n baie lae peil van ontwikkeling en, les bes, onder die swart stamme binne en onmiddellik buite die grense van Transvaal het onrus en opstandigheid geheers. Al hierdie en nog ander sake het om aandag geroep. Burgers was bekwaam, energiek en idealisties en bereid om al die probleme aan te pak, maar in sy pogings tot verwesenliking van al sy ideale sou hy met ernstige en soms oorweldigende struikelblokke te doen kry. Een daarvan sou die Britse optrede wees wat daarop berken was om te voorkom dat Transvaal tot 'n algeheel onafhanklike republiek otnwikkel. Daaroor sal aanstons meer gesê word.

Een van die eerste take wat pres. Burgers in die reine wou bring, was die vraagstuk van die betwiste diamantgebied. Ná deeglike ondersoek, het hy in Desember 1873 en Augustus 1874 aan sir Henry Barkly geskryf en die geldigheid van die Keate-uitspraak op grondige wyse betwis. Die uitwerking daarvan was dat van Britse kant geen aandrang op die toepassing van die Keate-uitspraak gekom het nie en dat die Z.A.R. voortgegaan het om gesag oor die gebied uit te oefen. Wat die geldsake van die Republiek betref, was daar - toe Burgers president geword het - papiernote wat vroeër by verskillende geleenthede uitgereik is, in omloop. Weens gebrek aan sekerheidstelling was die note egter so te sê waardeloos, sodat handelaars buite die Republiek dit nie wou aanneem nie en dié binne die Republiek die pryse van hul goedere verdubbel het. Burgers het besef dat, ten einde die land teen Brittanje sterk te maak, die geldsake in orde gebring moes word. Daarom het hy, met die goedkeuring van die Volksraad, £60 000 by die Cape Commercial Bank geleen, die waardelose note daarmee vervang en gereël dat die lening teen £3 000 per jaar gedelg sou word. Dit het meegebring dat die Republiek ook weer in die buiteland krediet kon kry, wat nodig was vir die algemene ekonomiese ontwikkeling.

Toe spoelgoud in 1873 in die omgewing van Lydenburg ontdek is, is nuwe hoop gewek op 'n verbetering van die ekonomiese toestand, maar hierdie goudvelde het met verloop van tyd vir Burgers 'n ander probleem meegebring. Die delwers wat daarheen gestroom het, was hoofsaaklik van vreemde herkoms, het nie 'n goeie gesindheid teenoor Burgers en die Republiek gekkoester nie en het oor die algemeen die Britse gedagte om Transvaal binne die Britse invloedsfeer te bring, verwelkkom en sterk ondersteun. Hierdie delwers het nog in 1873 vir hulle 'n koerant opgerig, The Goldfields Mercury, waarin hewige kritiek op die Transvaal kwytgeraak is. Dit was die tweede Engels-georiënteerde blad wat in Transvaal tot stand gekom het. Die ander een, die tweetalige The Transvaal Advocate and Commercial Advertiser, wat in Potchefstroom verskyn het, het reeds bestaan toe Burgers president geword het. Die enigste ander koerant in Transvaal was die Staatscourant en Burgers het besef dat 'n goeie Hollandse blad wat die standpunt en belange van die Republiek kon behartig, 'n allernoodsaaklike behoefte was. Deur sy bemoeiing het daar dan ook in Augustus 1873 so 'n koerant verskyn, nl. De Volksstem, wat dwarsdeur die verdere geskiedenis van die Z.A.R. 'n baie belangrike rol gespeel het en wat vandag nog een van die belangrikste bronne aangaande die geskiedenis van die Republiek is.

Om die onderwyspeil in die Republiek te verhoog, het die volksraad in 1874 Burgers se bekende Onderwyswet, die eerste van sy soort in die geskiedenis van Transvaal, aanvaar. Daardeur is voorsiening gemaak vir die stigting van plaas- en dorpskole en in Pretoria 'n middelbare skool, of gimnasium, waar veral amptenare en onderwysers - wat dringend nodig was - opgelei kon word Verder het dit die ouers se seggenskap in onderwyssake d.m.v. gekose skoolkommissies bepaal. In hierdie opsigte was die wet vooruitstrewend en het dit beloof om vir die Republiek van baie groot betekenis te wees, maar weens gebrek aan personeel kon dit nie onmiddellik in werking gestel word nie, maar eers in Februarie 1876, toe W.J. van Gorkom vanuit Holland as eerste superintendent van onderwys aangestel is. Die gimnasium kon ook eers op 5 Mei 1876 in Pretoria geopen word met vier leerlinge en twee dosente, t.w. dr. E.J. P. Jorissen en dr. J.A. Roorda Smit, wat ook hoof was. Intussen is die Onderwyswet egter deur diegene wat t.g.v. die Britse insluiting van Transvaal was, hetsy d.m.v. federasie of anneksasie, gebruik om pres. Burgers by die volk in onguns te bring. Hulle het hul nl. aangesluit by 'n sekere ontetevredenheid wat by 'n konserwatiewe deel van die burgers en veral die Nederduits Gereformeerde Kerk betaan het, enersyds oor die benoeming van vrysinnige onderwysers en veral dié van Van Gorkom en andersyds oor artikel 26 van die Onderwyswet wat bepaal het dat in elke skool in die Bybel gelees en die kinders in die Bybelse geskiedenis onderrig sou word, maar dat binne skoolure geen godsdiensonderwys, wat blykbaar dogmatiese onderwys beteken het, gegee mag word nie. Daar is o.m. in 1876, ten spyte van genoemde artikel, beweer dat die wet dit sou belet dat gedurende skoolure in die Bybel gelees en Bybelgeskiedenis geleer word en dat die wet teen die vryheid van die godsdiens was. Hoewel baie van die bewerings nie juis was nie, het die verspreiders daarvan tog in hul doel geslaag deurdat baie van die Transvalers, vir wie die wet eintlik te liberaal was, heeltemal te goeder trou tot ontevredenheid met Burgers beïnvloed is.  Dieverset teen Burgers se onderwysbeleid het ook nog daaruit geblyk dat ná die stigting van die gimnasium die Engelsgesindes onmiddellik 'n opposisie-inrigting en 'n -laerskool opgerig het.

Een van die Republiek se groot probleme was dat hy nie 'n eie verbinding met die see - 'n noodsaaklike voorwaarde vir algehele onafhanklikheid - gehad het nie. Pres. Pretorius het alreeds aan so 'n verbinding tussen die Relpubliek en Delagoabaai gedink en in 1870 het die volksraad die regering gemagtig om vanaf 'n sentrale punt in die republiek na die Portugese grens 'n pad te bou wat vir "trek- en ander machines" geskik sou wees. Byna onmiddellik ná sy bewindsaanvaarding het pres. Burgers egter die gedagte gelug dat dit wensliker sou wees om 'n spoorweg te bou.Hierdie gedagtes is nader deur die volksraad ondersoek en nadat hulle ook 'n memorandum, opgestel deur G.M. Moodie, onder oë gehad het, het dié liggaam die regering op 31 Julie 1872 gemagtig om pogings in die werk te stel om dit te verwesenlik. Aan Moodie is 'n konsessie vir die bou van die spoorweg verleen mits hy binne een jaar 'n maatskappy vir die doel kon oprig. Intussen het Burgers selfs die moontlik dat die Republiek in belang van sy onafhanklikheid Delagoabaai van die Portugese moes probeer koop, aan die volksraad voorgehou. Die volksraad was geesdriftig oor die gedagte, maar van die hele saak het niks tereggekom nie, aangesien die lot van Delagoabaai op dié tydstip nog in die hande van pres. MacMahon van Frankryk was vir arbitasie a.g.v. Engeland se aanspraak op die suidelike gedeelte van Delagoabaai ná Pretorius se grensproklamasie in 1868.

Toe die konsessie aan Moodie ná 'n jaar verstryd het sonder dat hy enigiets in verband daarmee tot stand gebring het, het die volksraad pres. Burgers se voorstel aanvaar dat die staat self die onderneming moes aanpak. aangesien die Republiek nie die nodige geld daarvoor gehad het nie, het die volksraad dit goedgekeur dat 'n lening van £300 000 in die buiteland aangegaan word en is die president persoonlik na Europa gestuur met magtiging om die nodige ooreenkomste te sluit. Burgers het die besluit verwelkom omdat hy daarin ook die geleentheid gesien het om die Republiek in Europe bekend te maak. Alles is vir hom gereed gemaak  om op 16 Februarie 1875 te vertrek en die dag tevore is P.J. Joubert as waarnemende president vir die duur van Burgers se afwesigheid ingesweer.

Aan die begin van April het Burgers vol moed vanaf Kaapstad vertrek, eers na Engeland, waar hy probeer het om 'n beter verstandhouding met die Britse regering te bewerkstellig en 'n misluke poging aangewend het om die voorgenome spoorweglening geplaas te kry. Die rede vir die mislukking was dat Brittanje nie wou toelaat dat Transvaal sy planne deurvoer nie omdat dit dan 'n ernstige hindernis in die weg van lord Carnarvon se Suid-Afrikaanse federasieplanne sou lê. (Vir meer besonderhede, kyk Hoofstuk 14.) In Europa het hy wel daarin geslaag om sy staat bekend te maak en veral in Holland, België en Portugal belangstelling vir Transvaal op te wek. Met die spoorwegplanne het dit egter nie so vlot gegaan nie, hoofsaaklik a.g.v. die subtiele maar doeltreffende propaganda vanuuit Londen teen Burgers se voornemens. In Desember 1875 het Burgers oor hierdie saak aan die Transvaalse regering geskryf dat oneindig baie moeilikhede hom in die weg gelê word deur "infame intriges uit Engeland" en dat sy pad letterlik deur spioene beset word. Die gevolg daarvan was dat die spoorweglening wat hy in Holland vir inskrywing oopgestel het, nadat hy uiteindelik die nodige ooreenkomste met Portugal oor die bou van die spoorweg gesluit het en met Belgiese fabrieke voorlopige reëlings i.v.m. die lewering van die spoorwegmateriaal getref het, nie volteken is nie. Van die benodigde £300 000 het die lening uiteindelik slegs ongeveer £90 000 opgelewer en Burgers het vir sowat £63 000 spoorwegmateriaal in België bestel. 'n Gedeelte van die materiaal is na Delagoabaai vervoer, waar dit verroes het terwyl die res in die have van Vlissingen nutteloos gelê het en later teen 'n groot verlies verkoop moes word. Die groot rede waarom die materiaal nie gebruik en die spoorweg nie gebou is nie, was die oorlog met die Bapedi se opperhoof Sekoekoenie waaraan Burgers onmiddellik ná sy terugkeer uit Europa sy onverdeelde aandag moes wy en die anneksasie van die Republiek in April 1877. Daar was ook ontevredenheid van die kant van die Transvaalse burgers oor die hele spoorwegaangeleentheid, maar dit was nie van so 'n aard en omvang dat dit die bou van die spoorweg heeltemal sou verongeluk ht nie. Buitendien het Burgers  ná sy terugkeer hierdie ontevredenheid gou uit die weg geruim.

Toe Burgers in April 1876 in Transvaal aankom, het hy die openbare mening sterk teen hom gevind - die resultaat van doeltreffende Engelse propaganda, wat daarop bereken was om sy planne te laat misluk. Om die toestand te vererger, het Sekoekoenie, wat in die Lydenburgse bergwêreld gewoon en in besit van gewere en ammunisie gekom het, só 'n aggressiewe en uittartende houding ingeneem dat die Republiek verplig was om hom teen die helfte van Mei die oorlog aan te sê. Behalwe dat die land nie vir 'n oorlog gereed was nie, was die oomblik vir burgers ook uiters ongeleë omdat hy bevrees was dat 'n oorlog op dié stadium nie net groot nadele vir sy spoorwegplanne en vir die verkryging van die nog ontbrekende geld in Holland kon inhou nie, maar ook die Britse planne i.v.m. Transvaal sou bevorder. Nie in staat om die oorlog te verhoed nie, was dit Burgers se voorneme om dit dan in alle geval so gou moontlik tot 'n einde te bring.

Burgers se eerste probleem was om 'n bevelvoerder vir die onderneming te vind, daar die kommandant-generaalskap in 1873 afgeskaf en nòg Paul Kruger nòg Piet Joubert gewillig was om aan die president se versoek te voldoen en die bevel op hulle te neem. Al uitweg was dat Burgers self die opperbevel moes aanvaar, in alle geval nominaal, met die onervare oud-president M.W. Pretorius aan die spits en Niklaas Smit om hom by te staan. 'n Ander moeilikheid was dat die burgers, onder wie teen hierdie tyd reeds soveel ontevredenheid gebroei het, nie in baie groot getalle gehoor gegee het aan Burgers se oproep om aan die kommando deel te neem nie. Ná 'n aanvanklike terugslag, het die bugers sonder meer huis toe gegaan nieteenstaande die president se vurige pleidooie om dit nie te doen nie. Van dié geleentheid het die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, sir Henry Barkly, gebruik gemaak om na Engeland te telegrafeer dat Burgers deur Sekoekokenie verslaan is en dat 'n vergadering wat in Lydenburg gehou is, besluit het om 'n versoek aan Brittanje te rig om Transvaal in besit te n eem. Die oorlogsituasie kon nie só gelaat word nie en met die goedkeuring van die volksraad het Burgers 'n aantal vrywillilgers, wat vir hul dienste betaal is, in die Lydenburgse omgewing gestasioneer om die Bapedi tot onderwerping te probeer bring. Hierdie optrede het die gewenste uitwerking gehad en teen die einde van 1876 het Sekoekoennie om vrede gevra. Van hierdie oorlog het die Engelse koerante in Suid-Afrika en Brittanje die volste gebruik gemaak om die Burgersregering en Transvaal nog meer in onguns te bring en aan die propagandaveldtog het selfs etlike Transvaalse predikante lustig meegedoen. Transvaal is daarvan beskuldig dat hy te swak was om homself te regeer en te handhaaf en dat hy in sy optrede teen die swartmense te wreed en onregverdig was en die anneksasie van die land deur Brittanje is openlik en vuriglik bepleit. Hierdie omstandighede, hoe verkeerd ook al voorgestel, sou dan aan Carnarvon 'n handige voorwendsel verskaf om sy anneksasieplanne spoedig deur te voer.

Intussen het pres. Burgersmet 'n steeds toenemende ontevredenheid onder die burgers van die republiek self te doen gekry, veral a.g.v. sekere belastings wt gehef is. Een daarvan was die, mens kan byna sê, gehate, belasting wat gehef was om die rente op die spoorwegskuld te delg en in September 1876 was dit vir die regering ook nodig om nog 'n groot oorlogsbelasting te hef. Dit was feitlik die laaste druppel in die emmer en teen die einde van 1876 en die begin van 1877 was dit baie duidelik dat die meerderheid van die Transvaalse burgers 'n ander president begeer het. Dit was juis die tyd vir 'n nuwe verkiesing en o.a. is ook Paul Kruger deur 'n groot aantal stemgeregtigde burgers versoek om hom verskiesbaar te stel. Eers het hy geweier, omdat - só het hy self verklaar - hy van sy eie tekortkominge bewus was, maar uiteindelik het hy tog besluit om hom, met die oog op die moeilike toestande en die heersende ontevredenheid, beskikbaar te stel. Vanweë die anneksasie van Transvaal, het die verkiesing nie plaasgevind nie, maar volgens alle aanduidings was dit duidelik dat Burgers nie weer verkies sou word nie.

Om lord Carnarvon, Britse Minister van Kolonies, se federasieplanne deur te voer, was die anneksasie van Transvaal 'n noodsaaklike voorvereiste en daarom het hy Theophilus Shepstone, ywerige Naturellekommissaris van Natal, opdrag gegee om dit so spoedig moontlik te verwesenlik. Shepstone het nie op hom laat wag nie en op 22 Januarie 1877 het hy met 'n klein lyfwag van 25 polisiemanne en agt amptenare in Pretoria aangekom om, soos hy pres. Burgers vooraf laat weet het, sekere moeillikhede in Transvaal wat ook vir die veiligheid van die Britse kolonies van wesentlike belang sou wees, te bespreek. Die Engelssprekende gemeenskap het hom en sy geselskap met groot geesdrif en vreugde ontvang, terwyl pres. Burgers hom, as gesant van die Britse Koningin, met 'n noenmaal verwelkkom het.

Aanvankllik het Shepstone die werklike rede vir sy besoek dig gehou en met gulhartige onthale die goedgesindheid van die regering en bevolking probeer wen. Shepstone is egter tydens sy samesprekings met die Uitvoerende Raad oor sg. griewe, wat spoedig geblyk het geen griewe te wees nie, gedwing om met die ware doel van sy besoek vorendag te kom. Hy het veral besware van Britse kant genoem teen die swak finansiële toestand van die republiek, die inrigting van die staatsmasjinerie en Transvaal se onmag om die swartes binne sy grense te beheer en in bedwang te hou. Daarby het hy duidellik te kenne gegee dat indien dié besware tot sy bevrediging opgelos word nie, hy nie sou aarsel om die land te annekseer nie.

Burgers het op die laaste oomblik nog sekere konstitusionele maatreëls deur die volksraad laat bekragtig om Shepstone se besware in dié opsig tegemoet te kom en Shepstone se ander groot beswaar is ook uit die weg geruim toe Sekoekoenie om vrede kom vra het. Ten spyte hiervan en ook van Burgers se formele protes, op 11 April, teen die anneksasie, was die Britse kommissaris nie te keer nie en het hy op 12 April aan sy opdrag uitvoering gegee en Transvaal as Britse gebied geannekseer, nadat hy ook probeer het om die Transvalers onder die indruk te bring van 'n dreigende gevaar van die kant van die Zoeloes. Burgers het Pretoria en Transvaal in Mei 1877 verlaat en hom eers in Kaapstad gevestig en later in die distrik Hanoven, waar hy in Desember 1881 oorlede is. Op 26 November 1895 is hy plegtig in Pretoria herbegrawe, by welke geleentheid ook pres. Kruger die woord gevoer het.

Anneksasie, oorlog en herwinning van onafhanklikheid

Die anneksasie van Transvaal het feitlik soos 'n donderslag gekom en dit is verbasend dat die Transvalers nie die Britse vlag neergehaal en Shepstone met sy klein lyfwag met geweld die land uitgejaag het nie. Trouens, dit was die plan van F. Wolmarans en sowat 400 gewapende burgers wat in Pretoria aanwesig was, maar hulle is deur die Uitvoerende Raad om dit nie te doen nie.

Die Uitvoerende Raad was nl. van gedagte dat die algemene toestand in Transvaal op dié tydstip sodanig was dat daar liewer eers berus moes word, eerder as om dalk 'n oorlog te ontketen. Buitendien het die Uitvoerende Raad ook geglo dat as die ware feite aangaande Transvaal en die begeerte van sy inwoners aan die Britse regering voorgelê word, Brittanje vanself van die anneksasie sou afsien. Vir dié doel het die regering op 11 April, die dag voor die anneksasie, besluit om 'n deputasie, bestaande uit S.J.P. Kruger en dr. E.J.P. Jorissen (lg. op versoek van Kruger vanweë Jorissen se regskennis en vermoë om verskeie tale te praat), te stuur om alles onder die aandag van die Britse regering te bring en indien dit nie die gewenste resultaat het nie, moes die vriendskaplike hulp en bemiddeling van ander moondhede gesoek word.

Dat Kruger gestuur is en nie pres. Burgers nie, is seker nie sonder betekenis nie. Dit bewys nie netdat geen vertroue meer in Burgers gestel ils nie, maar veral ook dat Kruger reeds as die nuwe leier in Transvaal beskou is. Dié eertydse kommandant-generaal, wat tydens die konstitusionele hervormings in Maart 1877 in die nuwe amp van vise-president benoem is, was reeds tydens Burgers se bewind 'n kragfiguur in die politieke lewe en hy sou die volgende vier jaar aan die spits van die versetbeweging teen die anneksasie staan.

Onder baie moeilike omstandighede van velerlei aard, waaronder sy eie totale onervarendheid in diplomatieke sake geen geringe plek ingeneem het nie, het Kruger die opdrag aanvaar en het die deputasie na Londen vertrek, waar hulle aan die begin van Julie 1877 die eerste samespreking met lord Carnarvon gehad het. In 'n reeks van vier samesprekings het Kruger alles in sy vermoë gedoen om Carnarvon te oortuig dat die oorgrote meerderheid van die bevolking teen die anneksasie gekant was. Gewapen met gegewens uit Suid-Afrika, deur Shepstone aan hom besorg, wat die teendeel beweer het, het hy Kruger se argumente nie aanvaar nie en was hy baie beslis dat die anneksasie onder geen omstandighede ongedaan gemaak kon word nie. Ook wou hy nie Kruger se voorstel aanvaar dat die gevoelens van die Transvalers d.m.v. 'n volkstemming getoets moes word nie omdat, so het hy beweer, dit in werklikheid niks anders as 'n stemming oor die anneksasie self sou wees nie. Daarmee kon die deputasie teen die einde van 1877 in Suid-Afrika terugkeer, nadat hulle nog eers 'n besoek aan Nederland gebring het om die Transvaalse saak daar te verduidelik. Hoewel hulle daartoe opdrag gehad het, het hulle geen ander state in Europa besoek nie.

Weer in Transvaal aangekom, het Kruger onmiddellik agtergekom dat die politieke opset sedert sy vertrek aansienlik verander het. Die verslaenheid en lamheid wat ná die anneksasie kenmerkend was, is vervang deur 'n nugterheid aangaande die gevolge en betekenis van die anneksaksie en die besef, gedra deur die ontwaking van 'n nasionale gevoel, dat eendragtige ooptrede baie noodsaaklik was. Enkele heethoofde wou, toe kruger op 7 Januarie 1878 in Pretoria aan sowat 1 400 burgers van sy sending verslag gedoen het, dadelik tot wapengeweld oorgaan, terwyl ander weer heelwat kritiek teen Kruger en veral Jorissen se optrede in engeland uitgespree het. Kruger het die klomp ontevredenes egter tevrede gestel en die heethoofde gekalmeer en dat indien hy oortuig kon word dat feitlik niemand in Transvaal Britse anneksasie begeer nie, die Britse regering daarvan sou afsien. Op die vergadering is besluit om self 'n volkstemming te hou om sodoende definitiewe syfers aan Carnarvon te kan voorlê. Carnarvon is nog dieselfde dag van die besluit in kennis gestel.  Op 4 April het die verskillende komitees wat die lyste t.g.v. en teen anneksasie laat teken het, te Doornfontein 'n dokument opgestel vir voorlegging aan Carnarvon. By die nagaan van die lyste was daar 6 591 handtekeninge teen en 587 t.g.v. die anneksasie - 'n oortuigende bewys, so het hulle gemeen - en derhalwe het die gesamentlike kommissie dadelik weer 'n afvaardiging benoem, nl. Piet Joubert en Paul Kruger, om hierdie gegewens aan Carnarvon te gaan voorlê in die vaste hoop dat dit Carnarvon sou oortuig dat sy inligting nog altyd verkeerd was.

Die tweede afvaardiging het alles in hul vermoë gedoen om die nuwe Minister van Kolonies, sir Michael Hicks-Beach, wat intussen vir Carnarvon opgevolg het, te oortuig van die goeie reg van die Transvaalse saak. Behoorlik "ingelig" deur Carnarvon en voorberei deur Shepstone, wou hy niks glo van wat die Boeredeputasie aan hom voorgelê en meegedeel het nie en was dit sy besliste antwoord dat Transvaal Britse gebied sou bly. Hy was nie bereid om die saak verder te bespreek nie - en daarmee kon Joubert en Kruger in Oktober 1878 terug vertrek. Hulle het ook tussen die onderhandelinge deur kkort besoeke aan Holland, Frankryk en Duitsland gebring, waar hulle saak heelwat aandag in die openbare pers geniet en sodoende bekend geword het.

Intussen het die gevoel teen Shepstone se administrasie en teen sy persoon in Transvaal daagliks toegeneem en die Boere meer vasberade geword. Op die byeenkoms van 2 000 tot 3 000 burgers te Wonderfontein, waar die deputasie op 10 Januarie 1879 verslag gedoen het, het die Boere in groter getalle op wapengeweld aangedring. Weer het Kruger die gemoedere gekalmeer en hulle verseker dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie en dat alle weë om die onafhanklikheid op 'n vreedsame wyse te herwin, eers beproef moes word. kruger se gedagte was ongetwyfeld dat daar nie van geweld gebruik gemaak moes word tensy dit doodseker was dat die bugers vasberade genoeg was om tot die einde met so 'n stryd te volhard nie. Die aanwesige burgers het egter 'n belangrike en plegtige belofte aan mekaar gedoen, nl. om aan land en volk trou te bly en, met die oog op God gerig, tot die dood toe saam te werk vir die herstel van die vryheid van hul republilek. Piet Joubert is na die hoë kommissaris, sir Bartle Frere, wat toe in natal was, afgevaardig om die Wonderfonteinse besluit aan hom mee te deel. Frere het nog eens selfregering aan Transvaal belowe, maar geen teruggawe van die onafhanklikheid nie, terwyl hy na Transvaal sou gaan om persoonlik van die mense te verneem presies wat hul griewe was. 'n Geringe nuwe hoop het opgevlam: Sou Frere se persoonlike kennismaking met die Boere nie dalk help om die Britse owerhede die saak in 'n ander lig te laat sien nie?

Frere het op 10 April aangekom by Kleinfontein, op pad van Heidelberg na Pretoria, waar tussen 4 000 en 5 000 burgers spesiaal vir die ontmoeting byeengekom het. Daar het hy met die Boere-komitee, onder voorsitterskap van M.W. Pretorius, samesprekings gevoer. Dit was 'n spannende en betekenisvolle samespreking: Frere het sy bes gedoen om die Boereleiers die voordele van die Britse administrasie te laat insien en weer 'n hele reeks beloftes gemaak aangaande selfbestuur, gebruik van hul taal en die Vierkleur en die opmeting vir die bou van 'n spoorweg na Delagoabaai. Die boereleiers het niks minder en niks anders geëis nie as die volledige herstel van hul vryheid en onafhanklikheid, maar Frere het beslis en finaal gesê dat so 'n moontlikheid nie bestaan nie. Nadat Frere ook die Boereleiers se versoek om hul saak by die Britse regering te gaan bepleit, geweier het, het hy darem ingestem om 'n nuwe versoekskrif van die Boere aan die Koningin deur te stuur en in 'n meegaande brief te meld dat die Boereleiers eerbare persone is. Frere het lg. belofte nagekom en ook nog o.m. in sy brief geskryf dat die argumente van die Boere die ernstige oorweging van die Britse regering verdien. Op die versoekskrif is egter nooit 'n antwoord ontvang nie wat, in 'n groot mate- indien nie geheel en al nie - gewyt moet word aan anders skrywes van Frere aan die Britse regering, waarin  hy vurig vir die behoud van die anneksasie gepleit het.

Al het die byeenkoms by Kleinfontein in dié opsig niks opgelewer nie, was dit wel in 'n ander opsig van betekenis. Die bymekaarwees van so 'n groot aantal burgers vir so 'n lang tyd aanneen - hulle het meer as drie weke op Frere se koms gewag - het hulle die geleentheid gebied om beter ingelig te word en tot groter eensgesindheid te kom. Ook die Republiek van die O.V.S., wat ná die anneksasie in 1877 onder invloed van pres. Brand slegs simpatie met hul broers oorkant die Vaalrivier betuig het, het nou, op versoek van die Kleinfonteinse vergadering, hul stem teen die anneksasie laat hoor deur 'n volksraadsbesluit waarin die vertroue uitgespreek word dat Transvaal in sy pogings sou slaag en dat hy sy onafhanklikheid sou terugkry. En uiteindelik is die Transvalers ook gesterk deur die meegevoel en daadwerklike belangstelling wat die Kaapse Afrikaners vir hul saak aan die dag gelê het, terwyl ook daarin geslaag is om selfs in Natal 'n sekere mate van weerstand teen die gedagte van anneksasie en federasie te wek deur bemiddeling van Alfred Aylward, die redakteur van die The Natal Witness.

Intussen het twee belangrike veranderings t.o.v. die administrasie van Transvaal plaasgevind. In Maart 1879 is Shepstone as administrateur vervang deur sir Own Lanyon, 'n man wat geen begrip van die Boere en hul probleme gehad het nie en ook geen poging aangewend of begeerte getoon het om dié begrip te kry nie. Dit, tesame met sy uiterste taktloosheid en neiging tot alleenheerskappy - direk in stryd met al die beloftes van selfbestuur - het hom beslis nie die geskikte persoon gemaak om die boere vir die anneksasie te wen nie. Die ander belangrike verandering was die ontheffing van Frere as hoë kommissaris vir Natal en Transvaal en die benoeming van Garnet Wolseley as goewerneur van Transvaal en hoë kommissaris van Transvaal en Natal in September 1879. Soos Lanyon van Shepstone verskil het, het Wolseley van Frere verskil. Hy was nie 'n diplomaat nie, maar 'n soldaat wat slegs aan strengheid van optrede geglo het. Dit blyk uit sy verklaring aan Piet Joubert dat die Vaalrivier eerder in die teenoorgestelde rigting sou loop as dat Engeland van die anneksasie sou afsien en sy proklamasie dat die Britse regering onwrikbaar besluit het dat Transvaal permanent 'n integrerende deel van Brits-Suid-Afrika sou wees. Verder het Wolseley Paul Kruger gevra om in die nuwe regering te dien, waardeur die angel uit die hele versetbeweging geneem sou word. Kruger het die aanbod egter met groot verontwaardiging van die hand gewys.

Teen die einde van 1879 het die sandloper, sover dit die Transvalers betref, begin leegloop. Ná Wolseley se beleidsverklaring is nog 'n volksbyeenkoms ondanks die Goewerneur se waarskuwende - eerder dreigende - proklamasieverbod, te wonderfontein gehou. Dit is vrywillig en spontaan deur meer as 6 000 burgers bygewoon, wat onomwonde en eensgesind verklaar het dat die tyd nou aangebreek het om die land terug te neem en 'n president en 'n volksraad te kry. kruger het hulle gevra om nog eens goed oor dié saak en sy moontlike gevolge na te dink, want as geweld afgeweer kon word, sou hy dit verkies. Die burgers was egter vasbeslote en, waarskynlik by aanblik van die vierkleur wat ook by dié geleentheid gehys is, is op 15 Desember formeel die volgende besluit geneem:

"Die tyd van versoeke aan die Engelse Regering is verby; langs dié weg is geen redding moontlik nie. Die amptenare van Haar Majesteit die Koningin van Engeland het deur hulle onware en valse voorstellings die deur na Haar Majesteit en die Parlement gesluit ... Ons kan dus nie meer tot Engeland spreek nie (want) daar is niemand wat ons antwoord nie. Dit is daarom dat ons, die volk van die Suid-Afrikaanse Republiek, daartoe oorgaan om vas te verklaar:

1. dat die Volk van die Suid-Afrikaanse Republiek nooit onderdane van Haar Majesteit was nie en dit ook nie wil wees nie; dat elkeen wat van ons as oproermakers spreek, dus 'n lasteraar is;

2. dat die Volk verlang dat die Regering van die Suid-Afrikaanse Republiek, wie se werksaamhede gestaak is, dit so spoedig moontlik weer sal hervat; en

3. dat die Volk verlang dat die Volksraad so spoedig moontlik byeengeroep word."(1)

(1) Proclamatie van de Gouvernement der Z.A.R., 16 Desember 1880, bijlage no. 4 (De Staatscourant gedurende den Vrijheidsoorlog van 1881, herdrukt op gezag der Regering van die Z.A.R., Pretoria, 1885, p. xi)

Hierdie besluit moes deur die bestaande komitee uitgevoer word en 'n verdere byeenkoms, by welke geleentheid die Republiek herstel sou word, is vir 6 april 1880 by Paardekraal belê.

Wolseley, wat pas as oorwinnaar van die bloedige oorlog teen Sekoekoenie teruggekeer het, was woedend omdat sy verbod nie nagekom is nie en het M.W. Pretorius en W.E. Bok, onderskeidelik voorsitter en sekretaris van die Volkskomitee, op 'n klag van hoogverraad laat arresteer, maar spoedig om taktiese redes weer op borgtog vrygelaat. 'n Aanbod wat Wolseley op dié stadium aan Pretoria gedoen het om lid van die uitvoerende raad te word, het hy - soos Paul Kruger vroeër - summier van die hand gewys. Die spanning was besig om op te laai en die volksleiers, wat bwesef het dat uitvoering van bg. besluite onvermydelik tot 'n gewapende botsing sou lei, is in 'n baie moeilike en uiters verantwoordelike posisie geplaas.

Twee aangeleenthede, albei van lewensbelang vir Transvaal, het egter 'n vertraging in die onmiddellike uitvoering van die besluit meegebring. Die een was die besluit van goew. Frere om tydens die eersvolgende byeenkoms van die Kaapse parlement wetgewing te laat indien om vir 'n konferensie oor 'n federasie, wat ook Transvaal sou insluit, voorsiening te maak. Gebeur dit, sou dit ook 'n einde aan die Transvaalse versetbeweging bring en om dit te keer, het die Volkskomitee in Maart Kruger en Joubert na die Kaapkolonie gestuur om propaganda teen so 'n wetsontwerp te gaan maak. Dat die wetsontwerp uiteindelik nie aanvaar is nie, was dan ook in hoëmate aan die twee here se optrede in die Kaapkolonie te danke.

Die ander saak was die verkiesing wat in Brittanje ophande was. Tydens sy verkiesingsveldtog het die liberale opposisieleier, W.E. Gladstone, Disraeli se beleid teenoor Transvaal heftig aangeval en veroordeel. Toe die tyding nog voor bg. deputasie se vertrek na die Kaapkolonie (10 April 1880) in Transvaal ontvang is dat Gladstone die verkiesing gewen het en Eerste Minister was, was dit 'n bron van vreugde en Kruger en Joubert het onmiddellik aan hom geskryf oor die teruggawe van die onafhanklikheid van Transvaal. In Junie, terwyl hulle nog in die Kaapkolonie was, het Gladstone se teleurstellende antwoord gekom: Hy kon die teruggawe van Transvaal se onafhanklikheid nie by die Koningin aanbeveel nie, maar was bereid om aan blankes algehele plaaslike selfregering toe te taan, wat die maklikste en spoedigste verwesenlik kon word as Transvaal lid word van 'n Suid-Afrikaanse rederasie. Daarmee was die hoop wat op Gladstone gevestig was, tot niet; maar daarmee het ook alle hoop op verdere onderhandelings met Brittanje tot 'n einde gekom.

In Transvaal is nou allerweë besef dat die tyd vir daadwerklike optrede aangebreek het, maar ook dat die Boere nog nie goed vir die stryd toegerus was nie. Die afwesigheid van verdere openlike protes teen die Britse administrasie, die redelike wyse waarop die Boere hul belastings betaal het - hoewel onder protes - en die algemene skyn van tevredenheid is deur Wolseley en Lanyon vertolk as 'n teken dat die Transvalers uiteindelik besig was om hulle aan Britse gesag te onderwerp. In werklikheid was dit 'n tyd van voorbereiding en is wapens en ammunisie in klein hoeveelhede aangekoo, terwyl die volksvergadering wat op 6 April te Paardekraal gehou sou word, belê is vir 8 Januarie 1881, by welke geleentheid Kruger en Joubert van hul handelinge verslag sou doen.

In die laaste maande van 1880 het snelle verwikkelinge plaasgevind wat 'n vervroeging van die volksvergadering tot 8 Desember 1880 meegebring het. Die veerwikkelinge was o.m. die skriftelike verklaring van kmdt. P.A. Cronje en 127 van sy burgers aan die Potchefstroomse landdros in Oktober 1880 dat hulle gewilllig was om hulle verskuldigde belastings te betaal, maar aan die wettige regering, en veral die episode met Bezuidenhout se wa in November. Piet Bezuidenhout was nie gewillig om sekere koste i.v.m. sy dagvaarding, wat hoër was as die deur hom verskuldigde belasting, te betaal nie. Daarop het landdros M.W. Goetz van Potchefstroom op sy wa beslag laat lê, maar die oggend toe die balju dit op 'n openbare veiling in Potchefstroom moes verkoop, het kmdt. Cronje en 'n aantal Boere die wa geneem en dit aan sy eienaar terugbesorg. Dit was ongetwyfeld 'n daad van openlike verset en Lanyon het gevoel dat hy dit nie sommer kon laat verbygaan nie. Daarmee was die vet in die vuur, veral nadat Kruger die koloniale sekretaris, George Hudson, duidelik laat verstaan het dat hy die volk nie langer in bedwang kon hou nie en dat dit nou nie meer 'n saak tussen die Britse regering en Cronje en Bezuidenhout en die wa was nie, maar 'n saak tussen die Britse regering en die Z.A.R, geword het. Hudson het dit verstaan.

Nieteenstaande die kort kennisgewing waarop die vergadering vervroeg is en Lanyon se verbod daarop, was daar op 8 Desember 1880 tog reeds van 4 000 tot 5 000 gewapende burgers daar by Paardekraal byeen en het die getal binne enkele dae tot tussen 8 000 en 10 000 aangegroei. Op 10 Desember het die volkskomitee besluit dat daar nou uitvoering gegee moes word aan die opdrag van 15 Desember die vorige jaar, nl. dat die regering sy werksaamhede hervat en die volksraad byeengeroep word. Die besluit is die volgende dag deur die duisende aanwesige burgers bekragtig en die regering geplaas in die hande van Paul Kruger, as vise-president (in Maart 1871 deur die volksraad as sodanig benoem), terwyl Piet Joubert as kommandant-generaal aangewys is. Op 13 Desember het die ou volksraad, wat sedert April 1877 nie vergader  het nie, byeengekom, die landsbestuur opgedra aan die "Driemanskap", vise-pres. Kruger, kmdt.-genl. Joubert en M.W. Pretorius, die uitvoerende raad voltallig gemaak, dringende finansiële maatreëls getref en is Heidelberg as voorlopige regeringsetel aangewys. Die Driemanskap het onmiddellik in die naam van die volk en onder biddende opsien tot God  'n proklamasie uitgevaardig waarin die herstel van die republiek se regering op 13 Desember 1880 en die stappe wat daartoe gelei het, afgekondig is. Verder verklaar die republiek hom bereid om op sekere voorwaardes met Brittanje saam te werk en om die federasievraagstuk gunstig te oorweeg, terwyl ten slotte die krygswet afgekondig word. Daarna het die herstelde regring na Heidelberg vertrek en is kmdt. Piet Cronje met sowat 400 burgers na Potchefstroom gestuur om die proklamasie daar te laat druk.

Op 16 Desember 1880 is die Vierkleur in Heidelberg gehys en het die Driemanskap geëis dat Lanyon die landsregering op vreedsame wyse aan hulle oordra. Lanyon het geweier en onmiddellik reëlings getref om die opstandige Boere met wapengeweld te onderwerp. Daarvoor was hy goed ingerig, want gedurende die anneksasietyd was Britse garnisoene in al die vernaamste dorpe in Transvaal gestasioneer. Op dieselfde dag het die eerste skote oop Potchefstroom tussen die Britse garnisoen en die Boere geklap, waardeur die Vryheidsoorlog ingelui is. Twee dae later het die Britse spesiale kommissaris op dié dorp aan die Boere oorgegee, maar kol. Winsloe en sy garnisoen, onmiddellik buite die dorp, het die Boere se beleg weerstaan tot op 21 Maart 1881, toe ook hy moes oorgee. Op 20 Desember 1880 het die eerste groot slag van die oorlog aan die Honderivier by Bronkhorstspruit plaasgevind toe die afdeling van die 94ste Regiment voetsoldate (217 man sterk) onder bevel van kol. Philip Anstruther, wat haastig van Lydenburg na Pretoria opgeroep was, deur kmdt. Frans Joubert (Frans Held) met sowat 200 man in 'n geveg van 20 minute feitlik heeltemal uitgewis is. In die geveg het kol. Anstruther self ook gesneuwel.

Die Driemanskap, met Paul Kruger aan die spits, het sake baie gou in hande geneem. Oral is landdroste benoem om die administrasie van die land te behartig en administratiewe maatreëls getref; die Britse garnisoene is in die verskillende dorpe vasgekeer en lamgelê om te verhoud dat hulle in Pretoria saamtrek; en kmdt.-genl. Joubert is met die Boere-hoofmag na Laingsnek, op die Natalse grens, om te verseker dat genl. sir George Colley, goewerneur van Natal, Transvaal nie met versterkings binnegaan om die garnisoene te ontset nie. So was die hele land binne die kort bestek van 'n week administratief en militêr in die greep van die Boere en het die Britse administrasie tot 'n feitlik algehele stilstand gekom.

Terwyl Joubert met groot sukses op 28 Januarie 1881 'n aanslag van Volley afgeslaan het en Niklaas Smit op 8 Februarie 'n oorwinning oor Colley behaal by Schuinschoogte, naby Ingogo, het Paul Kruger, bygestaan deur Jorissen en Bok as hoofraadgewers, die regering van die land waargeneem. Benewens die oorlog en alles wat dit meegebring het, het 'n groot aantal administratiewe, finansiële, politieke e.a. sake sy aandag in beslag geneem, terwyl hy ook steeds die swartmense in die staat, wat tekens van oproerigheid getoon het, in bedwang moes hou. In h ierdie moeilike tyd was die belangstelling en simpatie wat die Afrikaners in die O.V.S. en Kaapkolonie vir die saak van hul Transvaalse broers geopenbaar het, vir Paul Kruger tot die allergrootste steun. Terwyl die O.V.S. al hoe meer in die rigting van daadwerklike steun aan Transvaal beweeg en die gebeurtenisse in Suid-Afrika 'n baie simpatieke weerklank in die Erupese pers en selfs in sekere Britse koerante gevind het, het pres. Brand van die O.V.S. hom meer as ooiot beywer om die oorlog in Transvaal te beëindig. Vise-President Kruger was ook begerig en bereid om die oorlog in Transvaal te beëindig, maar slegs indien die anneksasie opgehef en die Britse garnisoene uit Transvaal onttrek word. Onderhandelinge in dié verband, wat alreeds 'n geruime tyd oor en weer gevoer is, was nog aan die gang toe Colley 'n wanhopige poging aanwend om Transvaal binne te val, met rampspoedige gevolge, want op 27 Februarie 1881 lewer die Boere die gevierde slag van Amajuba, waarin die Britte verslaan is en Colley self gesneuwel het, en wat tewens ook die oorlog beëindig het.

Die vredesonderhandelings is namens Brittanje gevoer deur 'n koninklike kommissie bestaande uit sir Hercules Robinson (Kaapse goewerneur), regter H. de villiers (Kaapse hoofregter) en sir Evelyn Wood (Colley se opvolger). Transvaal is deur die Driemanskap verteenwoordig, terwyl pres. Brand as vriend van albei partye die onderhandelinge as raadgewer bygewoon het. Ná ongeveer ses maande is 'n ooreenkoms bereik met die ondertekening van die Pretoria-konvensie op 3 Augustus 1881, waardeur Transvaal weer volle selfbestuur verkry het hoewel nie volkome onafhanklilheid nie, want Transvaal is aan die susereiniteit van die Britse Kroon en aan 'n hele aantal voorwaardes onderhewig gestel. So is bepaal:

(1) dat Brittanje beheer sou h ê oor Transvaal se buitelandse betrekkinge en die sluiting van ooreenkomste met vreemde state;

(2) dat die Britse regering die reg sou hê om 'n Resident in Pretoria aan te stel om o.m. oor die swart stamme binne Transvaal toesig te hou, terwyl die Transvaalse wetgewing aangaande die swartmense aan sy goedkeuring onderhewig sou wees;

(3) dat Brittanje die reg sou hê om Britse troepe in oorlogstyd deur Transvaalse gebied te laat beweeg;

(4) dat Swaziland van Transvaal onafhanklik is en die Transvaalse wesgrens ingekort is sodat dié staat 'n deel van sy grondgebied verloor het;

(5) dat die Transvaalse regering verantwoordelik sou wees vir die betaling van alle skuld wat voor die anneksasie gemaak is en vir die wettige uitgawes i.v.m. die bestuur van die land sedert anneksasie;  en

(6) dat die Konvensie binne drie maande deur 'n wettig gekose volksraad bekragtig moes word.

Daarbeneens het die Republiek nie sy oorspronklike naam terug gekry nie, maar sou dit voortaan as die Transvaal-staat bekend staan.

Sowel die Driemanskap as die nuwe Volklsraad het die bepalings van die Konvensie, wat baie ongunstiger was as wat verwag is, met 'n swaar hart aanvaar, maar onder die heersende omstandighede kon hulle nie anders as om die dokument te onderteken nie. Tog het die meeste bepalings 'n doring in die vlees gebly en nadat Paul Kruger as president van die herstelde Republiek gekies en in Mei 1883 ingesweer is, is daar allerweë gevoel, veral a.g.v. die gevaarlike onluste deur swartes op die swak afgebakende suidwesgrens, dat dit tyd geword het om opnuut met die Britse regering te onderhandel. Vir dié doel het die volksraad 'n deputasie, bestaande uit pres. Kruger,  genl. Niklaas Smit en ds. S.J. du Toit, na Londen gestuur, wat ná geslaagde onderhandelinge die Britse Regering beweeg het tot 'n nuwe konvensie met baie gunstiger voorwaardes.

Hierdie Londen-konvensie, wat op 27 Februarie 1884 (presies drie jaar ná Amajuba) ondeerteken is, het die naam Zuid-Afrikaansche Republiek weer herstel en geen melding van Britse susereiniteit gemaak nie. Inteendeel, dit het die Republiek se onafhanklikheid erken asook sy reg om sy eie beleid jeens die swartmense binne sy grense te reël en toe te pas. Wat buitelandse betrekkinge betref, het slegs die bepaling behoue gebly dat alle verdrae wat met 'n buitelandse moondheid of met swart stamme oos en wes van die republiek se grense, gesluit word, aan Britse goedkeuring onderworpe was. Die reg van die Kroon om troepe deur Transvaalse gebied te stuur, het verval; die Britse resident sou teruggeroep en deur 'n konsul vervang word; die wesgrens van die republiek is weer uitgebrei en die staatskuldelas is met die aansienlike bedrag van £131 000 verminder.

Onder die besef dat groot vordering gemaak is, het die volksraad, hoewel om begryplike redes nog nie ten volle tevrede gestel nie, die nuwe konvensie op 8 Augustus 1884 bekragtig. Daarmee was die republiek weer vry en onafhanklik behalwe vir die bepaling oor verdrae met buitelandse moondhede en kon pres. Paul Kruger en die Volksraad hul aandag aan die heropbou en vooruitgang van hulle staat wy.

Die tydperk van Paul Kruger: Driemanskapregering

In die verdere geskiedenis van die Z.A.R. is dié staat ekonomies, politiek en andersins deur verskeie faktore en omstandighede met state, regerings en persone buite sy grense in verhoudinge betrek. In hierdie verband is veral die strewe om 'n eie hawe te kry en die verhouding tussen Kruger en Rhodes van belang. Aangesien die buitelandse betrekkinge in Hoofstuk 14 behandel word, word in hierdie hoofstuk nie weer daaraan aandag gegee nie, behalwe vir sover dit nodig is vir die verhaal van die binnelandse gebeure en verwikkelings, waarop die res van hierdie hoofstuk toegespits sal word.

Nadat die republiek se regering in Augustus 1881 herstel is, het vise-president Kruger na Pretoria verhuis om sy onverdeelde aandag aan staatsake te gee. Eerste en belangrikste op die program was die heropbou van die Republiek. Geld was min en die staat se finansiële verpligtings groot; die staatsdiens moes gereorganiseer word, terwyl die onderwys, wat Kruger altyd baie na aan die hart gelê het, 'n algehele hervorming - op Christelik-nasionale grondslag - moes ondergaan. Oor dié sake het Kruger uit die staanspoor bepaalde voorstelle gehad, wat tydens die eerste byeenkoms van die nuwe volksraad in September 1881 goedgekeur is. So is daar bv. sekere fiskale en finansiële maatreëls, gegrond op gesonde besuiniging, getref en 'n konsessie- of monopoliestelsel aanvaar om die nywerheid te bevorder. Ds. S.J. du Toit, van Genootskap-van-Regte-Afrikaners-faam, is op Kruger se aanbeveling as superintendent van onderwys aangestel, wat hy tot 1889 gebly het en 'n onderwyswet (Wet 1/1882) is aanvaar. Hierdie wet het die verantwoordelikheid van die ouers t.o.v. hul kinders se onderwys beklemtoon, bepaal dat onderwys op 'n Christelike grondslag moes geskied en voorsiening gemaak vir laer, middelbare en hoër onderwys, vir geldelike ondersteuning en vir die "Nederduitse" taal as onderrigmedium. Met al hierdie maatreëls het Kruger 'n baie duidelike aanduiding gegee van sy beoogde beleid: 'n Nasionale ekkonomie en 'n nasionele onderwysstelsel as grondslag vir die staats- en volkslewe.

Gedagtig aan die gunstige afloop van die stryd teen Engeland, te meer waar dit vir die republiek 'n baie groot waagstuk was en die gedeeltelike herstel van die onafhanklikheid, het die regering die volk opgeroep om vanaf 13 tot 16 Desember by Paardekraal te vergader om hulle voor God te verootmoedig vir die groot dinge en die wonders wat Hy gedoen het en om die 16de Desember te vier. Dit is nl. die dag waarop die slag van Bloedrivier (1838) plaasgevind en waaroop die onafhanklikheidsoorlog 'n jaar tevore (1880) begin het. Van 12 000 tot 15 000 mense het aan die oproep gehoor gegee en vise-pres. Kruger het op die eerste dag van die byeenkoms self die woord gevoer. Tydens die feesverrigtings het ook 'n verdere klipstapeling plaasgevind op die hoop wat die burgers op 14 Desember die vorige jaar, toe hulle die regering herstel het, gestapel het as 'n sigbare teken van dié besluit en die belofte wat hulle gedoen het. Hierdie feesverrigtinge het nie net in die teken van dankbaarheid gestaan nie, maar was terselfdertyd ook in alle opsigte 'n magtige demonstrasie van 'n frisse nasionale gevoel, wat vir die toekkoms groot belofte ingehou het.

In die loop van 1882 is besluit en voorbereidings getref om die bewind van die Driemanskap te beëindig en weer 'n president en uitvoerende raad daar te stel. Voordat dit egter verwesenlik kon word, het die regering voor 'n swaar toets te staan gekkom toe Sekoekoenie, die herstelde stamhoof van die Bapedi, in 1882 deur sy halfbroer, Mampoer, vermoor is. Daarop het die moordenaar na 'n naburige stamhoof, Mapoch (ook as Njabel bekend), gevlug en toe lg. weier om hom aan die Transvaalse regering uit te lewer, moes onmiddellik teen hom opgetree word. Kmdt.-genl. Joubert het Mapoch met sowat 3 000 geesdriftige burgers in die moeilike bergwêreld van Oos-Transvaal gaan aanpak en 'n uiters doeltreffende belegtaktiek gevolg sodat die twee hoofde uiteindelik verplig was om oor te gee. Albei is deur 'n hof verhoor en ter dood veroordeel, maar Kruger (wat intussen president geword het) het Mapoch begenadig. Die geslaagde afloop van die Mapoch-oorlog was vir die verhoging van die pas herstelde republiek se aansien, veral in die oë van sy swart onderdane, van die allergrootste betekenis en het as sodanig veel tot die handhawing van vrede en orde in die toekoms bygedra. Dit was ook van groot betekenis vir die kommandant-generaal self, want dit het Joubert 'n krygsroem onder die burgers besorg wat tot sy dood in 1900 'n vaste fondament vir sy kommandant-generaalskap gevorm het, selfs toe dit later geblyk het dat hy nie altyd vir taak opgewase was nie.

Intussen het die regering uit die staanspoor ook nog met 'n ander probleem te kampe gehad, nl. die onluste oor die opperhoofskap van en die grense tussen die verskillende Tswanastamme, wat uitgebreek het terwyl die koninklike kommissie nog besig was met die afbakening van die wesgrens. Aangesien die Transvaalse regering geen beheer oor hierdie stamme gehad het nie, kon daar nie daadwerklik teen hulle opgetree word nie. Die probleem was egter dat, terwyl die onluste toegeneem het, blanke vrywilligers - ook ui tide aangrensende Transvaalse gebied - aan weerskante aan die stryd deelgeneem het met die hoop dat hulle van die strydende opperhoofde plase as beloning sou ontvang. Dit het groot wanorde veroorsaak en in Oktober 1881 het die regering sy burgers verbied om hulle met die twiste in te laat, ook omdat sodanige inmenging nuwe moeilikhede met Brittanje kon meebring. Dit was dan ook hierdie aanhoudende onluste en wanorde wat in 1883 een van die groot dryfvere tot Transvaal se aandrag op, en die hersiening van, die Pretoria-konvensie geword het.

Eerste presidentsverkiesing

Die eerste presidentsverkiesing ná die Vryheidsoorlog, waarna al enkele kere hierbo verwys is, het aan die begin van Februarie 1883 plaasgevind. Die kandidate was vise-pres. kruger en kmdt.-genl. Joubert. Kruger is met 3 431 stemme teen die 1 171 vir Joubert verkies en op 9 Mei as eerste staatspresident van die herstelde Republiek ingesweer.

In hierdie verband is veral van belang Kruger se beoogde binnelandse beleid, soos deur hom uiteengesit in sy antwoord op die vertoë van burgers wat hom versoek het om hom vir die presidentskap verkiesbaar te stel. Dit het kortliks op die volgende neegekom: Ontwikkeling van die land se hulpbronne veral die landbou, in so 'n mate dat goedere uitgevoer en geld ingevoer kon word; vryhandel, waarop die beginsel van konsessies so min moontlik inbreuk moes maak; aanmoediging en bevordering van nywerhede en fabrieke en die ontginning van die land se delfstowwe; verbetering van die vervoerwese deur die bou van paaie en veral van die uiters lewensnoodsaaklike spoorweg tussen Pretoria en Delagoabaai; aanmoediging van immigrasie uit Europa, veral Holland, maar beperk om te verhoed dat die eie nasionaliteit oorheers word; 'n Christelike, regverdige en beskawende beleid teenoor die swartes om barbarisme in toom te hou en van die swartman 'n gelukkige en tevrede onderdaan van die republiek te maak; skeiding tussen die gebiede van kerk en staat; bevordering en ontwikkeling van die Christelike onderwys na die beste van sy vermoë, gedagtig aan die woord: "My volk is uitgeroei omdat dit sonder kennis is" (Hosea 4:6). Aangaande die buiteland sou hy goeie verhoudinge met die soewereine mag van Brittanje nastreef en was hy ook t.g.v. die een of ander nouere vereniging van die Suid-Afrikaanse state en kolonies met die oog op die opbou van 'n Suid-Afrikaanse nasie, waarin die Republiek egter sy selfstandigheid moes behou.

Spoorwegbeleid en -ontwikkeling

Ná die ondertekening van die Londen-konvensie het lord Derby Kruger en sy mede-afgevaardigdes meegedeel dat, hoewel die ooreenkoms nog nie bekragtig was nie, hulle reeds op die voorwaardes daarvan met vreemde state kon onderhandel, d.w.s. sonder tussenkkoms van die Britse regering. Daarop het hulle na Europa vertrek met die onmiddellike tweeledige doel om die voorgenome Pretoria-Delagoabaai-spoorwegplan te bevorder en om die moontlikheid om 'n bank in die republiek op te rig, te ondersoek. Nadat dit duidelik geword het dat die ooprigting van 'n bank eers moes wag totdat die spoorwegplan verwesenlik was, is veral op lg. gekonsentreer en het dit uitgeloop op die ondertekening van 'n ooreenkkoms in dié verband met die Portugese regering op 17 Mei 1884. In Portugal is die Deputasie nie minder as drie keer aan die koninklike hof onthaal nie en het die koning Kruger vereer deur die Orde van die Groot Kruis van die Onbevlekte Ontvangenis aan hom toe te ken. Veral in Holland maar ook in België waar ook vorstelike onthale aangebied is, is die Transvaalse afvaardiging met groot geesdrif en vreugde ontvang en is inderdaad daarin geslaag om die kulturele betrekkinge aansienlik te verstewig. Tydens hierdie besoek het Kruger ook kennis gemaak met die 24-jarige dr. W.J. Leyds, wat ingestem het om staatsprokureur van die republiek te word in die plek van Jorissen, wat deur die volksraad ontslaan is. Die besoeke aan Frankryk en Duitsland, waar ook persoonlik met Bismarch en keiser Wilhelm kennis gemaak is, was eweneens van die grootste belang. Onder andere het die besoeke uitgeloop op die wedersydse benoeming van konsulêre verteenwoordigers, maar die grootste betekenis daarvan was ongetwyfeld die erkenning wat die Z.A.R. daardeur in idie nternasionale wêreld verkry het. Só kon die afvaardiging met groot dankbaarheid en vertroue oor hul werk in Engeland en Europa na hul land terugkeer.

Weer in sy eie land, met die onafhanklilkheid feitlik ten volle herstel, kon pres. Kruger en sy mede-standers nou aandag skenk aan die binnelandse ontwikkeling van die republiek. In hierdie stadium het veral een saak in belangrikheid alle ander oortref, nl. die beoogde spoorwegverbinding van die republiek en Delagoabaai. Die aangeleentheid het nog belangriker geword ná die ontdekking van goud in 1886 en tesame met die veranderde omstandighede, op alle lewensterreine, wat uit dié ontdekking voortgevloei het, het dit die oorheersende faktore in die binnelandse beleid geword tot aan die einde van die republiek bestaan. Daarmee het ook die hele onafhanklikheidsvraagstuk, wat steeds die grondslag van Kruger se interne en buitelandse beleid was, ten nouste verweef geraak en dit het die republiek weer in baie nouekkontak met Britse beleild en met die ander state en kolonies in Suid-Afrika gebring. Laasgwenoemde kontak en die ekonomiese en politieke betrekkinge wat daaruit voortgevloei het, word in Hoofstuk 14 behandel. Hoewel hier dus nie weer daarop ingegaan word nie, sal daar telkens daarna verwys moet word wanneer nader op die binnelandse aspekte van die spoorwegverbinding en die ontdekking van gouod gelet word.

Een van die belangrikste oogmerke van die Boeredeputasie se besoek aan Europa in 1884 was die bevordering van 'n spoorwegverbinding tussen Pretoria en Delagoabaai. So 'n spoorweg sou, enersyds, finansieel en ekkonomies vir die republiek en sy vooruitgang tot groot voordeel wees, maar andersyds sou dit die republiek, wat tot dusver vir sy in- en uitvoer noodgedwonge van die hawens van die Britse kolonies, Natal en die Kaapkolonie, afhanklik was, in 'n baie selfstandige posisie teenoor dié kolonies plaas. So 'n spoorweg, wat die ideaal van pres. Burgers was, is deur Kruger as die ekonomiese en politieke lewensaar van die Republiek beskou en, reeds in besit van die ooreenkoms met die Portugese, sou hy hom die volgende 10 jaar - nie sonder teenstand en probleme nie - met alle mag beywer om die spoorweg werklikheid te laat word.

Die eerste h indernis was die afkeer van 'n deel van die Transvaalse burgers van die spoorwegplan a.g.v. die ervaring en skuldelas van pres. Burgers se mislukte poging en uit vrees dat die spoorweg die transportryers hul bestaan sou ontneem. Transportry met wa en osse na en van die diamantvelde het sedert die grootskaalse ontginning van dié edelgesteentes weens die afwesigheid van ander verkeersmiddele tot 'n belangrike bedryf ontwikkel. Van hierdie houding van die burgers was pres. Kruger bewus toe hy die volksraad gevra het om die konsessie goed te keur wat hy in Holland aan ingenieurs Johannes Groll en David Maarschalk toegesê het om die spoor van die Portugese grens tot in Pretoria te bou. Die taktvolle wyse waarop hy sy saak gestel het, het alle besware by die volksraad laat verdwyn, sodat hulle die Nederlandse konsessie sonder aarseling goedgekeur het.

Die konsessiehouers moes so gou moontlik 'n maatskappy oprig om die nodige kapitaal te vind en met die bou van die spoorweg begin. Hier het egter 'n groot probleem opgeduik: Transvaal se swak ekonomiese posisie het geen vooruitsigte vir beleggers gebied nie. Gevolglik kon nie gou 'n maatskappy gevorm en met die bou van 'n spoorweg begin word nie. Hierdie vertraging het sake vir pres. Kruger baie bemoeilik, veral nadat die hoof-goudrif teen ongeveer die helfte van 1886 ontdek is. 'n Spoorwegverbinding met 'n seehawe het nou nodiger as ooit tevore geword en die Kaapkolonie was begerig om sy spoorweg van Kimberley na Johannesburg te verleng, terwyl Natal graag 'n verbinding tussen Durban en Transvaal wou sien. Die O.V.S. was eweneens geneë om die Kaapkolonie toe te laat om 'n spoorweg van Noupoort oor Norvalspont, deur Vrystaatse gebied, na Transvaal te bou, want benewens die gebruik van 'n spoorweg, sou dit dié staat besondere finansiële voordele besorg. (Kyk Hoofstuk 14, waarin aandag gegee word aan die onderhandelings tussen Transvaal, die Kaapkolonie, O.V.S. en Natal i.v.m. die aanlê van spoorweë.) En selfs in sy eie staat is daar voortdurend op Kruger druk uitgeoefen om, ook vanweë die vertraging, van die Nederlandse konsessie af te sien. Kruger was nie teen 'n spoorwegverbinding met die ander Suid-Afrikaanse gebiede gekant nie, maar hy was baie beslis van mening dat die spoorweg na Delagoabaai eerste moes kom, want wat vraggeld en doeaneregte betref, sou so 'n spoorweg, wat vir die grootste deel oor Transvaalse gebied strek, vir die Transvaalse skatkis baie voordelig wees; maar bo alles sou die eie spoorweg en die gebruik van die Portugese hawe, waaroor Brittanje geen beheer gehad het nie, vir die vryheid en onafhanklikheid van die Republiek 'n sekere waarborg wees. Die president kon dus nie aan die voorstelle en versoeke van die Kaapkolonie toegee nie.

In Maart 1887 was die regering verplig om die konsessiehouers te waarsku dat hulle binne ses maande met die uitvoering van die konsessie moes begin. Intussen het die goudontdekkinge Transvaal 'n beter beleggingsgebied gemaak, sodat die konsessiehouers Nedeerlandse en Duitse kapitaal in die hande kon kry en op 21 Junie 1887 die nodige maatskappy kon stig - die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (N.Z.A.S.M.). Die werk aan die republiek se lewensaar kon dus besgin, maar verdere vertraging is deur 'n ander groot hindernis meegebring.

Die N.Z.A.S.M. moes die spoorweg van die Portugese grens, waar dit by die spoor vanaf Lourenço Marques sou aansluit, na Pretoria bou. Vir die bou van die deel oor Portugese gebied het die Portugese regering 'n konsessie aan kol. Edward McMurdo se Engelse maatskappy toegestaan. Aangesien die N.Z.A.S.M. se materiaal e.a. benodigdhede vir die spoorweg oor die Portugese lyn vervoer moes word, en ook met die oog op die vasstelling van tariewe wanneer die hele spoorweg voltooi sou wees, was 'n vooraf-ooreenkoms - t.o.v. tariewe - met McMurdo se maatskappy noodsaaklik. McMurdo was egter nie vir so 'n ooreenkoms te vind nie, aangesien hy die hef in sy hande wou hê en 'n oorheersende posisie ook oor die Transvaalse deel van die spoorweg wou handhaaf. 'n Poging van die N.Z.A.S.M om McMurdo se aandeel in die Engelse maatskappy te koop, het weens McMurdo se onbillike eise misluk. Die gebrek aan so 'n ooreenkoms het die republiek se regering geen ander utiweg gelaat as om die N.Z.A.S.M in Julie 1888 te belet om met terreinwerksaamhede voort te gaan totdat 'n billike ooreenkoms met die Britse maatskappy getref was nie. so 'n bevredigende ooreenkoms is ná meer as 'n jaar (op 4 Selptember 1889) deur die Nederlandse maatskappy gesluit, nie met McMurdo se Britse maatskappy nie, maar met die Portugese spoorwegadministrasie, wat sedert Junie 1889 beheer oor die lyn verkry het toe die Portugese regering op die spoorweg beslag gelê het omdat die Britse maatskappy dit nie binne die vasgestelde tyd voltooi het nie. Vir die republiek was die konfiskering van die grootste belang omdat dit alle Britse invloed uit Delagoabaai en die lewensbelangrike spoorweg verwyder het. Intussen het die N.Z.A.S.M reeds al die nodige opmetings voltooi en kon op 1 November 1889 begin word om die Delagoabaai-spoorweg oor Transvaalse gebied te bou.

Met die probleme uit die weg geruim, het die bou van die oosterspoorweg besonder vinnig en voorspoedig verloop en was dit aan die einde van 1894 voltooi, waarmee 'n baie groot ideaal van Paul Kruger vervul is.

Vir die Republiek moes dit die einde van 'n spanningsvolle tyd gewees het, veral omdat die druk van buite af en selfs vanuit eie geledere om tot spoorwegverbindings met die O.V.S., Kaapkolonie en Natal toe te stem, steeds groter geword het, o.m. ook weens al die vertragings. Kruger het egter voet by stuk gehou en hoewel die Transvaalse regering onder die druk van omstandighede tog in 1892 en 1894 toegestem  het dat onderskeidellik die Kaap-Vrystaatse spoorweg van die Vaalrivier en die Natalse spoorweg van Charlestown na Johannesburg verleng kon word, is dit eers gedoen nadat dit heeltemal seker was dat die oosterlyn beslis binne afsienbare tyd voltooi sou wees. Toe dié spoorweg in Julie 1895 amptelik geopen is, het die Kaapse goewerneur, sir Hercules Robinson, heeltemal tereg verklaar dat die totstandkoming van die spoorweg aan die wilskrag en volharding van net een man - Paul Kruger - toe te skryf was. In sy feesrede het pres. Kruger die spoorweg as "ons nasionale sporweg" bestempel, wat nie net 'n waarborg vir die ekonomiese en politieke selfstandigheid van die republiek was nie, maar wat alle ander lande nader aan die republiek gebring het. Die totstandbrenging van die spoorweg was 'n gebeurtenis van die allergrootste belang in die geskiedenis van die Z.A.R. Die ingebruiknemeing daarvan het egter ook 'n tydperk van mededinging met die ander spoorweë ingelui, waaruit 'n intensiewe tariefwedstryd ontwikkel het wat op 'n stadium byna tot 'n gewapende botsing gelei het (Kyk Hoofstuk 14 vir besonderhede).

Nog twee ander belangrike spoorwegontwikkelinge, hoewel in omvang geensins vergelykbaar met die oosterspoorweg nie, moet genoem word. Die eerste is die bou van die sg. Randtrem, d.i. 'n tremweg vanaf die Boksburgse steenkoolvelde na die Johannesburgse goudmyne, wat in Maart 1890 geopen is. Die doel daarvan was om steenkool goedkoop aan die goudmyne te lewer. In Augustus 1889 het die volksraad magtiging verleen dat die tremweg na Krugersdorp verleng kon word. Die ander ontwikkeling het in verband gestaan met die aanlê van 'n spoorlyn tussen Pretoria en Johannesburg, wat uiters noodsaaklik geword het. In Augustus 1899 het die President 'n voorstel te dien einde aan die volksraad voorgelê, maar die opposie daarteen was so sterk, dat hy met al sy oorredingskrag nie 'n meerderheidsbesluit t.g.v. die voorstel kon verkry nie. Uiteindelik is die twee dorpe tog in 1893 met mekaar verbind met die voltooiing van die Pretoria-Vaalrivierspoorweg.

Namate die publiek die voordele van die spoorweë besef het, het dit vooroordele en teenstand daarteen afgeneem en die regering kon in die laaste jare van sy bestaan heelwat aandag aan die aanlê van 'n nuwe spoorweë skenk. So is bv. in 1895 besluit om 'n spoorweg van Pretoria na Pietersburg te bou, veral ook met die oog op die waarde wat so 'n spoorweg kon hê om die swart stamme in die noorde in bedwang te hou. Hierdie spoorweg is in 1899 voltooi. Ander noodsaaklike kleiner taklyne waaraan aandag gegee is, was die een wat Barberton met die oosterspoorweg verbind het (in 1896 voltooi) en die verbinding van Ermelo met die oosterlyn naby Machadodorp, waartoe reeds in 1896 'n konsessie verleen is, maar wat uiteindelik - vanweë die uitbreek van die oorlog met Brittanje - nie voltooi is nie Die laaste tenders wat gevra is, nl. vir die bou van spoorweë van Pretoria na Rustenburg en van Belfast na Lydenburg, het op 12 Oktober 1899 gesluit. Toe was dit reeds oorlog en is nie langer aan spoorwegbou gedink nie.

Ontdekking van goud en die gevolge daarvan

'n Gebeurtenis van groot belang, wat uiters verreikende veranderings en verwikkelings in die geskiedenis van die Z.A.R. meegebring het, was ongetwyfeld die ontdekking van die hoof-goudrif op die Witwatersrand in 1886, wat die hoogtepunt van 'n hele reeks ontdekkings van groter of kleiner belang gevorm het. Die ontdekking het gekom op 'n tydstip toe die republiek se ekonomiese posisie baie swak was.

Die geskiedenis van goudontdekking is op sigself 'n interessante en boeiende verhaal, wat egter nie volledig hier vertel kan word nie. Die eerste ontdekking van belang was dié van die ryk alluviale gouodafsettings by Pelgrimsrust, in die Lydenburgse omgewing, in 1873. Die gebied is deur pres. Burgers tot gouddelwery geproklameer en honderde fortuinsoekers van buite die Republiek, ook van oorsee, het hulle daar gaan vestig. Hierdie mense, wat aan Burgers baie teenstand en moeilikheid besorg het, het die Republiek reeds 'n voorsmaak gegee van wat so 'n uitlanderelement alles met hom kon meebring. In 1882 het verdere ontdekkinge gevolg in die De Kaap-vallei, waar in 1885 die ryk (tans nog steeds produserende) Skebamyn ontdek en kort daarna die dorp Barberton aangelê is. Ook hierheen het die mense uit alle oorde, veral ook gouddelwers uit Australië, gestroom en binne baie kort tydsbestek was ongeveer 10 000 mense op die goudvelde woonagtig. Hoewel daar baie goud geproduseer is, het hierdie goudvelde, nadat goud op die Witwatersrand gevind is, 'n minder belangrike plek in die Transvaalse mynbedryf ingeneem.

Op die Witwatersrand is reeds in 1876 na goud gesoek, sonder noemenswaardige resultate. Ná die anneksasietydperk en die Vryheidsoorlog is die soektog hervat en is goud veral op die volgende plekke gevind:

(1) op Kromdraai, 1882, deur J.G. Bantjes en S.J. Minnaar, waar die vonds so belowend gelyk het, dat die regering dit in Desember 1885 as openbare gouddelwery - die eerste in die Witwatersrandgbied - geproklameer het;

(2) op Tweefontein, ook in 1882, waar in 1885 'n battery met 10 stampers - die eerste masjien in die Witwatersrandse gebied om gouderts fyn te stamp - opgerig is;  en

(3) op die plaas Wilgespruit, in September 1884, waar die twee broers, H.W. en F.P.T. Struben, 'n besonder ryk rif - deur hulle die "Confidence"-rif genoem - ontdek en ontgin het; 'n rif waarin die regering meer as gewone belangstelling getoon het.

Bogenoemde vondste is teen Mei/Junie 1886 bekroon met die ontdekking van die hoofrif op Roodepoort deur J.G. Bantjes en van toe af het gebeurtenisse mekaar snel opgevolg. Op grond van  dié ontdekking, asook gunstige berigte van elders, het die regering in September 1886 die volgende nege plase tot openbare gouddelwery geproklameer: Driefontein, Elandsfontein, Doornfontein, Turffontein, Randjeslaagte, Langlaagte, Paardekraal, Vogelstruisfontein en Roodepoort. Vanaf September tot Oktober het mynkommissaris Carl von Brandis en assistent-mynkommissaris Jan Eloff die nodige delwerslisensies uitgereik en kleims vasgestel - en daarmee was alles gereed, sodat die bedrywighede op die goudvelde 'n aanvang kon neem.

Baie mense het dadelik na die nuwe goudveld gestroom, waar 'n groot delwerskamp spoedig verrys het. Nog voor die einde van 1886 het die regering 'n dorp laat uitmeet en is die naam Johannesburg daaraan gegee. Al hierdie gebeurtenisse het die republiek en sy bevolking as't ware uit hul rustige en kalme bestaan wakker geruk en nuwe geleenthede gebied, maar ook nuwe eise gestel waaraan onverwyld voldoen of waarteen teenstand gebied moes word.

Finansieel en ekonomies het die ontdekking en ontginning van goud vir die republiek groot voordele gebring. Hierdie staat het sedert sy ontstaan nog altyd in ernstige geldnood verkeer en ná die Vryheidsoorlog was hy nog boonop met 'n groot staatskuld belas. Uit die belastings wat die goudmyne moes betaal, het die regeringskatkis mettertyd 'n aansienlike bedrag ontvang. Waar geld vroeër skaars was, het die goudontginning en alles wat daarmee gepaard gegaan het, geld in omloop gebring, sodat ook die inwoners van die staat beter in staat was om hul belastings te betaal. 'n Toename in die uitvoerhandel het die republiek verder ten goede gekom en per slot van rekening is die republiek se posisie so verbeter dat hy, indien nodig, makliker in die buiteland geld te leen kon kry. Die vroeëre skaarste aan geld was daarvoor verantwoordelik dat daar tog nog toe geen selfstandige bank in die republiek bestaan het nie, maar slegs takke van banke in die O.V.S., die Kaapkolonie en Natal. 'n toename in die geldomloop het 'n toename van takke van dié banke, o.a. die Kaapse Handelsbank, die Natalbank, die Standardbank en die Bank van Afrika, meegebring, terwyl ook nuwe banke in Transvaal geopen is, t.w. die Nederlandse Bank in 1888 en die Nasionale Bank van die Zuid-Afrikaansche Republliek (later die Nasionale Bank van Suid-Afrika) in 1891. Groot somme geld het a.g.v. die behoeftes van die mynbedryf uit die buiteland die republiek binnegevloei, maatskappye is gestig en die kapitalisme het oor die algemeen die bestaande boerdery as grondslag van die ekonomiese lewe vervang.

Die snelle ontginning van goud en die toestroming van soveel mense het die spoedige ontstaan van 'n hele reeks dorpe op die Witwatersrand meegebring, nl. vanaf Randfontein tot by Springs, wat almal voor 1900 tot stand gekom het. Dit het weer die behoefte aan nywerhede van allerlei aard geskep, terwyl binne enkele maande 'n groot afsetgebied vir landbouprodukte ontstaan  het. Daardeur is 'n hele omwenteling teweeggebring in die bestaan van die boer, wat tot nog toe hoofsaaklik vir eie gebruik geproduseer en meestal 'n beperkte ruilhandel gedryf het, want voortaan sou hy vir die stedelike mark, wat hoë pryse gebied het, produseer. Dit het noodwendig 'n verandering en uitbreiding van boerderymetodes meegebring en saam met die goudmyne, nywerhede e.a. sake-ondernemings wat ontstaan het, is 'n groot vraag na swart arbeid geskep en die swartman die geleenthede gebied om in 'n (vir hom) nuwe wêreld 'n ander soort heenkome te vind. Nog 'n belangrike resultaat van die ontwikkeling van die goudbedryf en nywerhede was die snelle uitbreiding van verkeer, veral spoorweë, nie net in Transvaal nie, maar in die hele Suid-Afrika (Kyk Hoofstuk 14). Op ekonomiese gebied het die ontdekking van goud dus in 'n ommesien niks minder nie as 'n algehele omwenteling meegebring en daarmee moes die regering deeglik rekening hou.

Ook in die samelewing het die goudontdekking spoedig 'n rewolusionêre verandering teweeggebring. Die klein Transvaalse blanke bevolking het hoofsaaklik bestaan uit Afrikaners wat hul bestaan in die boerdery gehad het en konserwatief volgens 'n gevestigde Christelike en nasionale tradisie geleef het. Vreemdelinge, wat hoofsaaklik op die Lydenburgse goudveld saamgetrek was, was daar min en hulle het in geen opsig 'n invloed uitgeoefen nie. Naas die Afrikaners het egter nou in die nuwe hart van die republiek 'n nuwe kosmopolitiese vreemdeling-bevolking gekkom wat hoegenaamd geen gevoel of simpatie vir die geskiedenis, tradisies, kultuur en ideale van die Boere gehad het nie. Hulle het slegs belang gestel in die goud, handel, nywerhede en geld. Hulle was fortuinsoekers en tussen die "ou" en "nuwe" bevolking van Transvaal het uit die staanspoor 'n groot kloof bestaan. Die meeste mense wat nadie goudvelde gegaan het, het egter nie rykdom gevind nie, maar wel armoede en ellende, want blanke ongeskooldes moes as arbeiders in die myne, fabrieke en nywerhede werk, waar hulle ook nog met die goedkoper swart arbied moes meeding. Die laagbesoldigdes en werkloses het noodgedwonge in goedkoop woonbuurtes saamgedrom, waar baie ellendes ontstaan het. Ook allerlei nuwe maatskaplike gedragspatrone het toe tevoorskyn gekom, soos dobbelary, dronkenskap, vermenging van blank en swart, Sondagwerk  en -vermaak, wat die Transvaalse Boere as maatskaplike euwels en openbare sondes beskou het. Die nuwe lewe op die goudvelde was in meer as een opsig 'n totale verbreking van die tradisionele Boere-lewensorde. Die eerste aanduiding daarvan kon al by die Paardekraalfees van Desember 1886 bemerk word. 'n Groot aantal delwers het dit ook bygewoon en 'n heel ander karakter as vroeër aan die feesvierings gegee, o.m. deur die oprig van ongelisensieerde kantiene op die feesterrein en die aanbring van dobbeltafels wat hul bedrywighede nie eens tydens godsdiensoefeninge gestaak het nie. Hierdie dinge en die vreemde lewenswyse het Paul Kruger genoodsaak om by dié geleentheid 'n ernstige waarskuwende woord te laat hoor.

Maar ook die swartman se maatskaplilke orde is verander. Tienduisende swartes het op die goudvelde gaan werk om nie weer permanent na  hul tuistes terug te keer nie. Daardeur het hulle van 'n baie lang gevestigde en tradisionele stamverband losgeraak en enkelinge en stedelinge geword wat die blanke lewenswyse in alle opsigte probeer naboots het (Kyk Hoofstuk 14).

Die nuwe ontwikkelings op die Witwatersrand, die omwenteling op industriële en handelsgebied, die skielilke ontstaan van 'n hele aantal nuwe dorpe, die feitlik onmiddellike aanwesigheid van 'n baie groot aantal nuwelinge, het op staatkundige gebied belangrike gevolge gehad. In die eerste plek moes die regeringsmasjinerie baie gou so verander en uitgebrui word, dat die nuwe situasie doeltreffend beheer kon word. Dit, sowel as ander noodsaaklike formele aanpassings, kon gelukkig gedoen word.

Die Uitlandervraagstuk

'n Groter probleem is egter spoedig deur die nuwe bevolkingsgroep meegebring. Pres. Kruger en die ouer burgers het aanvanklik in die Uitlanders, soos die vreemdelinge genoem is, eerder 'n bedreiging vir die volk se sedes en gewoontes as 'n politieke gevaar gesien. Die herinnering aan die aandeel van die Uitlanders in die ondermyning en aftakeling van die republiek 'n tiental jare tevore, het waarskynlik al vervaag. Maar reeds in Februarie 1887, toe die President op sy jaarlikse rondreis deur 'n deel van die land ook die goudvelde besoek het en dáár baie goed en vriendelik ontvang is, het pres. Kruger aan die mense geleentheid gegee om hul wense en griewe aan hom bekend te maak. Griewe het oorheers en die delwers het hul ontevredenheid uitgespreek oor die feit dat hulle geen eiendomsreg op hul standplase gekry het nie, oor die hoë lisensiegelde en die hoë invoerregte. Hulle het munisipale selfbestuur versoek en verder het hulle gekla oor die swaar verdrukking terwyl hulle die grootste deel van die staatsinkomste lewer.

Pres. Kruger het in sy antwoord oorweging van hul griewe en tegemoetkoming aan die gouddelwers beloof. Hy was nie van plan om tussen die ou en nuwe bevolking te diskrimineer nie en van lg. het hy verwag dat  hulle die ou inwoners en die onafhanklikheid van die land steun. Verder het hy almal gelyke behandeling beloof.

Die griewe en versoeke van die Uitlanders het Kruger begin kwel en gedagtes en vrese in hom wakker geroep oor die moontlikheid van  'n latere getalle-oorwig van vreemdelinge oor die ou bevolking, die probleem wat dit sou meebring om met die minderheid van die bevolking te regeer en die gevaar waarin die vryheid van die republiek kon beland indien die Uitlanders op politieke regte aandring. Die Barbertonse delwersbevolking het juis al in 1886 stemme laat opgaan  oor verteenwoordiging in die regering van die land. Bewys van hierdie heimlike vrees het Kruger self gelewer toe hy in September 1887 by geleentheid van 'n tweede besoek aan die goudveld die belofte om geen onderskeid tussen die ou en nuwe bevolking te tref nie, herhaal het, maar daarby die voorbehoud gestel het dat gelyke behandeling nie die kwessie van stemreg en die verteenwoordiging van Uitlanders in die Volksraad inhou nie. Tog het Kruger en die regering geweet dat die eise wat geleidelilk begin stel is, op die lang duur nie veranagsaam en ook nie sonder meer aan voldoen kon word nie, want dit sou nie net die belange van die ou(gevestigde) bevolking aan dié van die vreemdelinge ondergeskik maak nie, maar ook die onafhanklikheid van die republiek in ernstige gevaar stel. Buitendien sou die Uitlanders ná 'n vyfjarige verblyf in die republiek volgens wet aan die n aturalisasievereistes voldoen. Om nie die onafhanklikheid in die gevaar te stel en die Uitlanders, sonder wie die republiek ook nie kon klaarkom nie, tog tegemoet te kom, moes iets gedoen word.

As oplossing vir dié netelige probleem het pres. kruger reeds in Junie 1888 die beginsel van die instelling van 'n tweede volksraad aan die volksraad voorgehou. Die voorstel is in Junie 1890 ná langdurige oorweging aanvaar in die vorm van Wet 4 van 1890. Daarmee het die bestaande volksraad die Eerste Volksraad geword, terwyl  'n Tweede Volksraad ingestel is. Die Eerste Volklsraad was die hoogste gesag en was verantwoordelik vir alle sake van landsbeleid en vir die onafhanklikheid van die staat. Aan die Tweede volksraad, wie se besluite aan die goedkeuring van die Eerste Raad onderworpe was, is seggenskap opgedra oor alle sake van plaaslike belang wat nie die staatsbeleid raak nie: mynwese, paaie, pos-, telegraaf- en telefoonwese, beskerming van uitvindings en van outeursreg, monsters en fabrieksmerke, bestryding van besmetlike siektes, sake rakende maatskappye,  insolvensie, burgerlike en kriminele prosedure e.a. sake wat deur die Eerste Volksraad na die Tweede verwys word. In 'n verkiesing van die staatspresident en lede van die Eerste Volksraad was alleen burgers stemgeregtig wat vóór die inwerkingtreding van die wet burgerreg verkry het,  of daarna deur geboorte en vanaf 16-jarige ouderdom. Uitlanders was dus hier van die kiesreg uitgesluit, maar kon dit t.o.v. die Eerste Raad verkry nadat hulle 10 jaar vir die Tweede Volksraad verkiesbaar was. Om vir die Tweede Raad verkiesbaar te wees, moes 'n persoon minstens 30 jaar oud wees, twee jaar onmiddellikvoor sy verkiesing stemgeregtig wees, 'n lidmaat van 'n Protestantse kerk wees, 'n inwoner van die republiek en besitter van vaste eiendom daarin wees. Alle burgers bó 16 jaar, d.w.s. ook alle vreemdelinge wat reeds twee jaar genaturaliseer was, was bevoeg om lede vir die Tweede Raad te kies.

Behalwe dat hierdie nuwe reëling nie altyd daartoe bygedra het om 'n goeie verhouding tussen die twee volksrade te bewerkstellig nie en die Tweede Raad spoedig op uitbreiding van sy mag aangedring het, het dit ook nie aan die Uitlanders genoegsame verteenwoordiging gegee en voorkom dat onaangename gevoelens tussen die Uitlanderbevolking en die regering ontstaan nie. Hierdie gevoelens is gewek deur die Uitlanders se baie griewe en het uiteindelik in Augustus 1892 uitgeloop op die totstandkoming van 'n definitiewe georganiseerde uitlanderbeweging, nl. die Transvaal National Union. In die stigting daarvan het adv. Charles Leonard 'n leidende aandeel gehad. Die doel van die organisasie was, volgens eie uiteensetting, die handhawing van die onafhanklikheid van die republiek, die verkryging van gelyke politieke regte en die bevrediging van die griewe van die Uitlanders. Die verborge doelwit was egter die uiteindelike vernietiging van die republiek.

Daar moet op gewys word dat die ontevredenheid aanvanklik nie soseer van die massa van die vreemdelinge gekom het nie. Veral dié van Britse herkoms het meer in die verkryging van stoflike welvaart as politieke regte belang gestel. Trouens, een van die mynmagnate, Lionel Phillips, het self verklaar dat dié mense vir stemreg hoegenaamd niks omgegee het nie en dat dit moeilik sou wees om hulle teen die Krugerregering tot die daad te bring. Eintlik was dit 'n aantal Randse magnate wat die heterogene massa op die goudvelde, myn- en fabrieksbase sowel as arbeiders, tot 'n ontevrede groep wou opsweep ten einde hul eie ekonomiese en politieke oogmerke te bereik. Veral Leonard, bekend vir sy vroeëre agitasie in die Kaapkolonie teen Transvaal, het in dié verband 'n groot rol gespeel.

Sommer uit die staanspoor het hierdie openlik Brits-georiënteerde organisasie op openbare vergaderings, by wyse van versoekskrifte aan die regering en in die pers 'n hewige agitasie teen sowel die sg. wanbestuur van die republiek as Paul kruger persoonlik op tou gesit en gelyke kiesreg geëis as enigste oplossing vir al die probleme. By geleentheid van die presidentsverkiesing van 1893 het die National Union probeer om so nou as moontlik met die opposisie, wat bestaan het uit kmdt.-genl. Joubert en sy "progressiewe" ondersteuners, teen Paul Kruger saam te werk omdat hulle daar die geleentheid gesien het om teen Paul Kruger saam te werk omdat hulle daar die geleentheid gesien het om Kruger - die grootste struikelblok in die verwesenliking van hul doelstellinge - grondwetlik uit die pad te kry. Ná die verkiesing, waarin Kruger met 7 854 teenoor Joubert se 7 009 en hoofregter J.G. Kotze se 81 stemme verkies is - die kleinste meerderheid wat hy ooit behaal het en wat o.m. ongetwyfeld 'n weerspieëling van die invloed van die Uitlanderpropaganda en - steun was - het die National Union steeds die opposisie teen die President gesteun, sowel in die volksraad as met die volksraadverkiesing van 1895.

In 1894 het 'n verslegting in die reeds troebel betrekkinge gekom. Vroeg in die jaar het die National Union 'n versoekskrif met meer as 13 000 handtekeninge by die regering op stemreg op billiker voorwaardes aangedring. Kort daarna, in Mei, het die regering die taktiese flater begaan om 'n paar Uitlanders wat Britse onderdane was, vir krygsdiens teen die swart stamhoof in Noord-Transvaal, Malaboch, op te kommandeer. Toe enkeles van hulle weier om te gehoorsaam en as rede aanvoer dat geen verpligte krygsdiens van hulle verwag kon word nie aangesien hulle geen politieke regte in die staat besit nie, is hulle gearresteer en het die hooggeregshof beslis dat hulle volgens landswette wel krygsdiens moes verrig. Onder leiding van die National Union is protesvergaderings gehou, die eerste daarvan reeds toe die kommandering nog aan die gang was, en vertoë tot die regering gerig. Toe dit niks opgelewer het nie, het hulle hul op die Britse regering beroep, wat dadelik sy hoë kommissaris in Kaapstad, sir Henry Loch, na Pretoria gestuur het om met die regering van die Z.A.R. te onderhandel. Met hierdie verwikkelings het die Uitlandervraagstuk heeltemal van aard verander: Tot dusver was die verhouding tussen die Uitlanders en die regering van die Z.A.R. 'n suiwer binnelandse aangeleentheid; die beroep op Londen en Londen se besluit om in die huishoudelike sake van die Z.A.R. in te meng, het dit binne die kader van buitelandse betrekkinge en, in sekere sin, internasionale betrekkinge, gebring

Pres Kruger het Loch, as verteenwoordiger van die Britse regering, self op 25 Junie op die Pretoria-stasie ontmoet, maar 'n groep Uitlanders wat hom ook ingewag het, het deur 'n pro-Britse betoging vir 'n eersterangse vernedering van die President gesorg. Hulle het "Rule Britannia" gesing, die perde voor die koets uitgespan en terwyl iemand met 'n ontplooide Union Jack voor op die bok van die koets plaasgeneem het, self die koets met Loch en Kruger daarin na Loch se hotel getrek. Loch het saam met die Uitlanders die hotel binnegegaan, Kruger net so laat sit en niks gedoen om die voorval af te keur nie, waaroop 'n aantal burgers en Hollanders die koets met die President weggeneem het. Die voorval het 'n storm van verontwaardiging uitgelok. Loch se samesprekings het die Transvaalse regering die opkommandering van Britse onderdane laat beëindig. Met die oog op die plofbare toestand het hy, op versoek van kruger, nie op die uitnodiging van die National Union Johannesburg besoek nie, hoewel die leiers tog met hom in verbinding was en hulle deur hom op die beskerming van die Britse regering beroep het.

Loch het alles geglo wat die Uitlanders hom vertel het en selfs met hulle oor die moontlikheid van 'n gewapende opstand en hulp en beskerming van die kant van Engeland gepraat. Aan Pres. Kruger het hy geskryf dat die stemregvraagstuk 'n regmatige grief van die Uitlanders was wat die Transvaalse regering tegemoet behoort te kom; en aan lord Ripon, Britse Minister van Kolonies, dat die politieke toestand so ernstig is dat 'n uitbarsting enige oomblik kon plaasvind. Loch se uiteensetting van sake is sonder meer deur die Britse regering aanvaar as die juiste todrag van sake.

Ná hierdie gebeurtenisse het die toestand in die republiek al hoe meer gespanne geraak. In 1895 is daar weer eens om uitbreiding van die stemreg gevra toe nog versoekskrifte met meer as 35 000 handtekeninge (waarvan baie met groot twyfel bejeën is) aan die regering voorgelê is. Hoewel die Transvaalse volksraad ná lang bespreking die versoeke van die hand gewys het, het dit 'n ander doel, waarvoor dit ook bestem was, gedien, nl. om die Engelse regering en volk onder die indruk te bring van die grote onreg waaraan die Uitlanders t.o.v. politieke verteenwoordiging blootgestel was. Intussen het die politieke agitasie, veral o.l.v. Leonard en Phillips, in Johannesburg sowel in omvang as in intensiteit toegeneem en is steeds sterker op Brite inmenging aangedring. Die agitasies het op 26 Desember 1895 uitgeloop op die uitvaardiging van die Nationale Union se woordryke manifes, geskryf deur Charles Leonard en gerig aan die volk van die Z.A.R.

In die manifes stel die National Union nog eens as sy oogmerke die handhawing van die onafhanklikheid van die Republiek, die verkryging van gelyke regte vir almal en die verwydering van alle griewe, waarvan 'n hele lys genoem word, sommige met reg, sommige oordrewe en.a. heeltemal ongegrond. As vernaamste bron van ontevredenheid word gestel dat, terwyl die Uitlanders die meerderheid van die bevolking uitmaak (wat beslis nie die geval was nie), hulle uitgesluit is van seggenskap "in all matters affecting our lives, our liberties, and our property", d.w.s. van die regering. Verder word gekla oor o.m. die dinamietmonopolie, waardeur die prys van dinamiet te hoog gehou is, oor die konsessie-stelsel oor die algemeen, die steenkoolprys, spoorwegtariewe, invoer- e.a. belastings wat te hoog sou wees, korrupsie wat in die volksraad en onder volksraadslede en amptenare sou bstaan, diktatoriale magte wat die President sou uitoefen, onvoldoende onderwys vir Uitlanderkinders, die miskenning van Engels, Hollands as voertaal in die skole, diskriminasie teen die Uitlanders op godsdienstige gronde, die staatsadministrasie van aangeleenthede rakende die swartmense, wat 'n "gross scandal and a source of immense loss and danger to the community" sou wees, gebrek aan voldoende selfbestuur vir Johannesburg, ens. Die hervormingsoogmerke was die omvorming van die bestaande republiek tpt 'n "true Republic" deur die opstel van 'n nuwe grondwet deur bevoegde verteenwoordigers van die hele blanke bevolking, die instellilng van 'n billike stemregwet en verteenwoordiging in die volksraad, gelykstelling van die Engelse en Hollandse tale, om dié wetgewende liggaam aan die hoofde van die groot departemente verantwoordelik te maak, verwydering van alle verskille op godsdienstige gebied, die onafhanklikheid van die geregshof, die instelling van 'n liberale en omvattende onderwysstelsel en 'n doeltreffende staatsdiens, en vryhandel t.o.v. Suid-Afrikaanse produkte. Dit is baie duidelik dat hierdie manifes veral ook bedoel was om Brittanje onder die indruk te bring van die haglike en onregverdige toestande waarin die Uitlanders in die republiek sou verkeer.

Intussen het D.J. Rhodes, Eerste Minister van die Kaapkolonie, reeds in 1894 op die gedagte en voorneme gekom om van die Uitlanders in Johannesburg gebruik te maak om die regering van die Republiek tot 'n val te bring. Ten spyte van sy beleid om Transvaal met Britse gebied te omring en van die see, ook van Delagoabaai af, weg te hou, en selfs ná sy onderhandelinge met Paul Kruger, kon hy nie daarin slaag om die Z.A.R. vir sy ideaal van 'n verenigde Suid-Afrika onder Britse vlag te wen of daartoe te dwing, of tot 'n Suid-Afrikaanse tolunie te beweeg nie. (Al hierdie sake word in Hoofstukke 10 en 14 behandel.) Voorheen het Rhodes hom nie veel aan die Uitlanderbeweging gesteur nie. Hierdie voorneme is nog verder versterk deur die toenemende Duitse belangstelling in die Z.A.R. en die gunstige houding van Brittanje teenoor sy planne. Om daaraan uitvoring te gee, het hy met die medewete en goedkeuring van die Britse Eerste Minister en Minister van Kolonies, onderskeidelik lord Salisbury en Joseph Chamberlain, en die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, sir Hercules Robinson, 'n opstand in Johannesburg beplan wat gelyktydig deur 'n militêre inval in Transvaal o.l.v. dr. L.S. Jameson ondersteun sou word. Wanneer die opstand slaag, moes Robinson na Pretoria gaan, as bemiddelaar tussen die Transvaalse regering en die Transvaal National Union optree en 'n "Constituent Assembly", wat die Z.A.R. tot 'n selfregerende Britse kolonie kon omvorm, in die lewe roep. So 'n kolonie sou dan gewillig wees om tot 'n federasie van Suid-Afrikaanse state toe te tree.

Rhodes se hele plan was gevestig op die geloof dat die Uitlanders die oorgrote meerderheid van die Transvaalse bevolking was, volgens hom 100 000 Engelse teenoor 14 000 Boere. In werklikheid was daar egter ongeveer 150 000 republikeinse burgers en bykans 76 000 Uitlanders, waarvan ongeveer 41 000 engelse was. Nog 'n faktor waarmee Rhodes en sy mede-samesweerders nie rekening gehou het nie, was die groot verdeeldheid wat onder die Uitlanders self geheers het, die gebrek aan genoeg wapens, en bo alles die gebrek aan geesdrif vir so 'n kunsmatig beplande opstand.

Jameson-inval

Toe dit enkele dae voordat die opstand in Johannesburg sou plaasvind, blyk dat dit 'n algehele mislukking sou wees, was Jameson met 500 uitgelese polisiemanne van die Chartered Company by Pitsani, op die Transvaalse wesgrens, gereed om n a Johannesburg op te ruk. In hierdie selfde tyd het die genoemde manifes van die National Union in die pers verskyn. Aan die boodskappe dat die opstand later sou plaasvind, het Jameson hom nie gesteur nie en op die aand van 29 Desember 1895 het hy die grens oorgesteek op weg na Johannesburg, vasbeslote om sy deel te doen om die Transvaalse regering omver te werp. Omdat sy mense nagelaat het om al die telefoondrade af te knip, is die Transvaalse regering nog die volgende oggend van die hele situasie in kennis gestel en is die westelike kommando's onder genl. P.A. Cronje opgeroep. Van heinde en ver het selfs ook burgers wat nie opgeroep was, hulle kom aanmeld. By Doornkop, digby Roodepoort, is Jameson voorgekeer en moes hy hom op 2 Januarie 1896 aan die Boere oorgee. Sowel Chamberlain as Robinson het Jameson se inval gerepudieer en hom sodoende tot die status van 'n vrybuiter verlaag. Die gevange Jameson en sy offisiere is op grootmoedige wyse deur Pres. Kruger aan die Britse regering uitgelewer om gestraf te word. Jameson is tot 15 maande tronkstraf veroordeel, waarvan hy 'n paar maande uitgedien het toe hy weens swak gesondheid ontslaan is. Rhodes is ook in Brittanje verhoor, maar van alle aandadigheid aan die komplot vrygespreek, terwyl 'n Committee of Inquiry deur die Britse regering benoem is om die Jameson-inval te ondersoek. Die komitee het sake egter só verbloem, dat die aandadigheid van Rosebery, Chamberlain en Robinson, wat deur hedendaagse navorsers bo alle twyfel bewys is, nie aan die lig gekom het nie. Geen wonder dat die Opposisie dit die "Committee of No-Inquiry genoem het nie!

Jameson se onverwagte inval in Transvaal het die Johannesburgse opstandleiers in 'n baie moeilike posisie geplaas, want hulle moes nou ook iets probeer doen. Bevrees vir die moontlike gevolge as sake dalk verkeerd sou loop, het Leonard, Beit en enkele ander leiers Johannesburg reeds voor die inval verlaat om elders veiligheid te soek. Die oorgeblewe leiers het die Transvaal National Union omgevorm tot die Reform Committee, die bestuur van Johannesburg oorgeneem en 'n afvaardiging na Pretoria gestuur. Op 6 Januarie 1896 het samesprekings tussen sir Hercules Robinson, wat intussen in Pretoria aangekom het, en Pres. kruger begin. Pres. Kruger het nou die hef in hande gehad. Terwyl sowat 12 000 van Kruger se burgers en die staatsartillerie gereed gestaan het indien daar nie aan die eis gehoor gegee word nie, het hy die onmiddellike inlewering van alle wapens geëis en aan al die opstandelinge, behalwe die leiers, amnestie verleen. Verder het hy die misleide Uitlanders beloof dat hul griewe ondersoek sou word en dat Johannesburg 'n stadsraad sou kry wat deur die inwoners van die stad gekies sou word en wat die volle p laaslike bestuur moes behartig.

Die wapeninlewering het op 10 Januarie 1896 plaasgevind en rus en orde is herstel. Die 64 lede van die Reform Committee is gearresteer en hul leiers, Lionel Phillips, John Hays Hammond, Frank Rhodes en George Farrar, is deur die hooggeregshof ter dood veroordeel op die aanklag van  hoogverraad, waarop hulle skuldig gepleit het. Pres. Kruger het die vonnisse tot 'n boete van £25 000 elk versag en die boetes is deur niemand anders as Cecil Rhodes betaal nie.

Z.A.R. vs. Chamberlain en Milner

Die Jameson-inval het belangrike gevolge gehad. Ruimte laat nie toe om alles hier te noem nie, maar saamgevat kom dit veral daarop neer dat dit 'n groei van Afrikaner-nasionalisme dwarsdeur Suid-Afrika meegebring het wat 'n magtige saambindingsfaktor geword het, soos vier jaar later sou blyk toe Transvaal verplig was om Brittanje die oorlog aan te sê. Aan die ander kant het die bekommernis wat die mislukking en onmiddellike reperkusies van die inval by die Engelsgesindes gewek het, 'n feitlik soortgelyke uitwerking onder dié deel van die bevolking gehad, sodat Suid-Afrika as't ware in twee kampe verdeel is. Die tydperk 1896 tot 1899 word dan ook in Suid-Afrika gekenmerk deur 'n botsing tussen Afrikaner-nasionalisme en Britse imperialisme, wat in 1899 op oorlog tussen Transvaal en Brittanje uitgeloop het. Aangesien hierdie botsing elders behandel word (Kyk Hoofstukke 14 en 15), word hier net met enkele woorde daarna verwys.

Die Johannesburgse Uitlanders was ná die mislukte inval 'n ruk lank doodstil, maar van Britse kant is die voorneme om Transvaal binne 'n Suid-Afrikaanse vereniging onder die Britse vlag te betrek, nie laat vaar nie. Trouens, hierdie voorneme is versterk, want die republiek was vanweë sy rykdom aan goud en sy eie spoorwegverbinding met die see besig om al hoe meer van die Britse kolonies onafhanklik - en dus meer selfstandig - te word en gevolglik steeds minder geneë om hom by die een of ander Suid-Afrikaanse vereniging te laat betrek.  Daarby was die uitbouing van die goeie betrekkinge tussen die Z.A.R. en Duitsland vir Brittanje 'n bron van groot onrus en 'n doring in die vlees In hierdie verband het die telegram van die Duitse Keiser aan Pres. kruger, waarin hy Kruger gelukwens dat hy die Jameson-inval afgeweer en die vrede herstel het sonder om hom op die hulp van bevriende magte te beroep, die Britse vrees bevestig en selfs die Brits-Duitse verhoudinge skade berokken.

Van Britse kant gesien, was daar nog één uitweg om so 'n vereniging tot stand te bring. Dit was om hom met die huishoudelike aangeleentheid van die republiek in te meng en die republilek sodoende te probeer dwing om die Uitlandsers stemreg te gee. Dit was dan ook, nog altyd in die waan dat die Uitlanders die meerderheid van die bevolking was, die beleid wat van Britse regeringsweë toegepas is deur die Minister van Kolonies, Chamberlain, en sir Alfred Milner, nuwe hoë kommissaris in Suid-Afrika sedert 1897, wat vasbeslote was om die Suid-Afrikaanse Republiek sy onafhanklikheid te ontneem, desnoods met geweld. (Besonderhede oor Chamberlain en Milner se optrede in Hoofstukke (14.)

Binnelandse aangeleenthede

Tot sover is hoofsaaklik op die spoorweg- en Uitlandervraagstuk klem gelê, as oorheersende en bepalende vraagstukke in die geskiedenis van die Z.A.R. ná die Vryheidsoorlog van 1880-'81. Voor hierdie hoofstuk afgesluit kan word, moet die aandag egter ook nog gevestig word op 'n paar ander sake, waarvan enkeles al terloops genoem is. Een daarvan is ongetwyfeld die opposisie wat Paul Kruger sedert sy presidentswording in 1883 vanuit eie geledere ervaar het. Hierdie opposisie, met kmdt.-genl. P.J. Joubert aan die spits, het hom veral gewend teen Kruger se konsessiebeleid, boweal die spoorwegkonsessie aan die N.Z.A.S.M., en Kruger se aanstelling van Hollanders as  hoof- e.a. amptenare in die land se administrasie. Langsamerhand het die opposisie in 'n "progressiewe" groep (nie party nie) ontwikkel, wat hulle o.m. beywer het vir meer liberale toegewings, ook wat die stemreg betref, aan die Uitlanders, en wat sterk ondersteun is deur koerante soos The Star en Ons Land. Bewys van die toenemende invloed van dié groep was die hierbo aangehaalde uitslag van die presidentsverkiesing in  1893 in vergelyking met dié van 1888. die Jameson-inval en die Britse houding daarna het die invloed en ondersteuning van die "progressiewe" egter aansienlik laat kwyn, soos weerspieël word deur die geweldige meerderheid waarmee Kruger in 1898 - wat 'n krisistyd was - vir die vierde keer as president herkies is (Kruger 12 864; S.W. Burger 3 814 en Joubert 2 009 stemme).

'n Saak wat Kruger baie na aan die hart gelê en vir die ontwikkelende republiek van dringende belang geword het, was die onderwys, wat ds. S.J. du Toit in 1889, toe hy as superintendent van onderwys bedank het, in 'n taamlik haglike toestand nagelaat het. In Mei 1889 het die President 'n verbetering in die toestand in die vooruitsig gestel en die klem veral op godsdiensonderrig en onderrig in die Hollandse taal laat val. Veral op die gebied van die hoër onderwys, moes veel gedoen word, want van al die mooi uitbreidinge deur die 1882-onderyswet in die vooruitsig gestel het, mede as gevolg van 'n gebrek aan geld, net die opleidingskool vir onderwysers werklikheid geword. Vanaf 1889 is ernstige pogings aangewend, ook deur onderhandelings met veral dr. A. Kuyper in Holland, om 'n universiteit in Pretoria tot stand te bring. Verskeie omstandighede, veral Kuyper se onwillilgheid om te help om die nodige dosente in Holland te vind, het die hele onderneming in 1891 op 'n dooie punt laat eindig.

Indien die universiteit tot stand gekom en jong Transvalers hul opleiding daar kon ontvang het, sou dit Kruger waarskynlik gehelp het om mettertyd hoof-amptenare uit eie geledere aan te stel en sou dit die belangrike punt van kritiek teen sy sg. Hollanderbeleid uit die weg geruim het. 'n ander verwikkeling het egter tot die verwydering van dié kritiek meegewerk. Dit was die Jameson-inval en sy nagevolge, want die veranderde houding  wat dit by Kaapse Afrikaners teenoor die Z.A.R. laat ontstaan het, het die President soveel vertroue gegee dat hierdie Afrikaners tot die bewaring van die republiek se onafhanklikheid sou meewerk, dat hy nie geaarsel het om Kaapse Afrikaners in hoë staatsposte wat eers deur Hollanders gevul is, te benoem nie. So is die vroeëre president van die O.V.S., F.W. Reitz, in 1898 in die plek van dr. Leyds as staatsekretaris benoem terwyl Leyds as die republiek se buitengewone gesant en gevolmagtigde minister in verskeie Europese state aangestel is. 'n Ander belangrike aanstelling in hierdie tyd was dié van die jong Kaapse regsgeleerde, adv. J.C. Smuts, as staatsprokureur.

Terwyl die Z.A.R. se volle aandag en diplomatieke vernuf deur Chamberlain se aanslae teen sy onafhanklikheid in beslag geneem is, het Paul Kruger se regering in 1897 'n onverwagte regskrisis beleef, wat sake nog meer gekompliseerd gemaak het. Dit het voortgespruit uit die reg wat hoofregter J.G. Kotze in 1896 vir die regbank opgeëis het om die geldigheid van die wetgewing van die volksraad aan die grondwet te toets. Kruger het in die volksraad as hoogste gesag in die staat geglo en het in die standpunt van die hoofregter, wat op daardie besonder moeilike tydstip na vore gebring is, die een of ander politieke bedreiging gesien wat vir die onafhanklikheid van die staat gevaar kon inhou. Daarom het die volksraad die president in Februarie 1896 by wyse van wetgewing gemagtig om van die regters te vra dat hulle dit as in ooreenstemming met hul plig en hul eed ag om volgens bestaande en toekomstige wette en volksraadsbesluite reg te spreek en om hulle nie die reg aan te matig om sodanige wette en besluite aan die grondwet te toets nie. Indien 'n regter dit nie wou onderneem nie, sou die president die reg hê om so 'n regter uit sy amp te ontslaan. Hierdie wet is deur die regters as 'n aantasting van die onafhanklikheid van die regbank bestempel en die hele voorval is deur die republiek se vyande aangegryp as 'n bewys van die regsonsekerheid wat in die republiek sou bestaan, ten spyte daarvan dat die verskil tussen die regters en die regering intussen bygelê is. Toe Pres. Kruger in Februarie 1898 van sy mag gebruik gemaak het om hoofregter Kotze te ontslaan toe hy weer op die toetsingsreg aanspraak gemaak het, het dit saamgeval met die geweldige losbarsting van die Uitlanders se woede oor die volksraad se optrede teen die verslag van die Industriële Kommissie van 1897, en die ontslag van die hoofregter is bestempel as niks minder nie as die vernietiging van die onafhanklikheid van die regbank. So het die regskrisis, wat eintlik 'n suiwer binnelandse aangeleentheid was, reg in Chamberlain en Milner se kraam gepas en hulle het nie geaarsel om dit ten volle uit te buit nie.

Die episode i.v.m. bg. Industriële Kommissie was een van die laaste gebeurtenisse wat die Uitlanders weer in hewige beroering gebring het. Hierdie Kommissie, onder voorsitterskap van S.W. Burger ('n "progressief" wat in 1898 teenkandidaat vir Kruger in die presidentsverkiesing sou wees), wat na die klagtes en probleme van die mynbedryf ondersoek ingestel het, het in Augustus 1897 sy verslag gelewer en - onder invloed van die mynmaatskappye - aanbeveel dat die regering 'n aantal baie belangrike toegewings aan die mynbedryf doen. Milner en die mynbase was baie hoog in hul skik met die aanbevelings, maar is in hulle vewagtins teleurgestel toe die volksraad, op grond van die verslag van 'n eie kommissie, teen die einde van 1897 nie aan al die aanbevelings van die Industriële Kommissie uitvoering gegee het nie. Daarmee was die vet in die vuur en het die Uitlanders opnuut teen die Transvaalse regering in beroering gekkom. Ook van hierdie verset het Milner kwistig gebruik gemaak.

Oorlog

Met die oorlog teen Malaboch in 1894 het dit geblyk dat die republiek se burgers, wat die krygsmag van die staat uitgemaak het, swak gewapen was. Tussen 1887 en 1891 is wel ongeveer 13 000 tweedehandse Martini-Henry-gewere aangekoop en sowat 9 000 daarvan onder die burgers versprei, maar dit was nog glad nie genoeg nie. Met die Jameson-inval het weer eens aan die lig gekom dat baie burgers nog heeltemal ongewapen was terwyl die ander ou of verouderde tipe gewere gehad het. Die republiek het ook nie oor die nodige voorrade beskik om die benarde posisie die hoof te bied nie.

Die Jameson-strooptog het aan die republiek getoon uit watter hoek die wind waai en die onmiddellike uitwerking daarvan was bewapening. Meer as 73 000 moderne Duitse Mausers en ammunisie is in die drie jaar ná die inval aangekoop en grofgeskut, waarvan die republiek baie arm was, is in Frankryk en Duitsland bestel. Die staatsartillerie is uitgebrei en forte is in Pretoria en in Johannesburg opgerig. Dit het heelwat kritiek van Britse kant uitgelok, maar dit het Transvaal in 'n redelike staat van gereedheid gestel.

Intussen was die onderhandelings tussen Milner en die republikeinse regering aan die gang, waaruit dit hoe langer hoe duideliker geword het dat Milner met niks minder as die ondergang van die republiek tevrede sou wees nie en dat hy onverbiddellik op oorlog afstuur. Aan die begin van 1899 het hy, soos Rhodes voor die Jameson-inval, ook van die Uitlanders gebruik gemaak om sy doel te bereik. Hy het nl. 'n versoekskrif met 21 684 Uitlanderhandtekeninge, wat hul griewe bevat het, aan die Koningin gestuur en hierdie versoekskrif is deur die Britse regering aanvaar. Daarmee is die regering van die Z.A.R. nou direk teenoor die Britse regering te staan gebring. Die verdere onderhandelings wat gevolg het, was van Britse kant alleen bedoel om tyd te win sodat Britse troepe so na as moontlik aan Transvaalse grense gebring kon word en het dit vir Transvaal nog duideliker gemaak dat hy tot oorlog sou moes oorgaan om sy onafhanklikheid te beskerm. Eerder as om te wag totdat die Britse troepe die republieke aan alle kante kon insluit, het die Z.A.R. dus geen ander uitweg gehad as om - ná deeglike raadpleging met die O.V.S. kragtens die ooreenkkoms van 1897 - aan Groot-Brittanje 'n ultimatum te stel nie. Brittanje het hierdie ultimatum verwerp sodat oorlog - wat nie deur die Z.A.R. gesoek is nie - op 11 Oktober 1899 uitgebreek het.

J.S. du Plessis

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en Geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134