Die Oranje-Vrystaat

Grondvestiging van 'n republiek

Selde in die geskiedenis was 'n staat by sy onafhanklikwording só onvoorbereid en ontoegerus as die Oranje-Vrystaat die dag toe die Bloemfontein-konvensie op 23 Februarie 1854 formeel deur 'n aantal verteenwoordigers van die oorspronklike blanke inwoners tussen die Oranje- en Vaalrivier en die Britse Spesiale Kommissaris, sir Geo. Clerk, onderteken is. Sedert die Oranjerivier-Sowereiniteit in 1848 deur sir Harry Smith geproklameer is, is ses jaar lank tevergeefs pogings aangewend om rus en orde in hierdie streek met sy verskeidenheid inwoners - blankes, Griekwas, Korannas, Barolongs en Basoeto's - tot stand te bring. Basies het die geskille om die besitreg van grond gegaan. Omdat die Britse owerheid veral vanweë die finansiële implikasies nie die uiteenlopende grondaansprake met mekaar kon versoen nie, is die Britse Ryk vir die eerste keer in die geskiedenis as't ware verklein.

Die bepaling van die Konvensie dat die inwoners van die gebied voortaan "in alle opzichten geheel en al een vrij en onafhankelijk volk" sou wees en van hul onderdanigheid aan die Britse Kroon onthef is, moes soet geklink het in die ore van  hulle wat al 'n dekade of meer daardie juk probeer afwerp het. Uiterlike tekens van vreugde was daar egter nie daardie dag toe die ou Bataafse Driekleur uit gebrek aan ' n eie landsvlag die Union Jack by die fort vervang het. In die distrikte het die geleentheid haas ongemerk verbygegaan en in Bloemfontein het die oorwegend Engelse bevolking, vanweë hul verontwaardiging en gegriefdheid oor die Britse ontruiming, hul van die onafhanklikheidsverrigtinge weerhou.

Diegene wat egter wel bereid was om die verantwoordelikheid van die oprigting en instandhouding van 'n nuwe regering op hul skouers te neem, sou dit nie sonder vees en huiwering doen nie. Die posisie waarin hulle verkeer het, word tereg 'n aantal jare later soos volg deur De Tijd beskryf: "Een machtige rijk nam wederegtelik ons in bezit en wierp ons minachtend weg toen de willekeurig daad niet betaalde. Daar stonden nu eenvoudige lieden in een uitgestrekt open land, omringd van alle kanten door vijanden, zonder regters, zonder soldaten, zonder geld, verdeeld door onkunde, uitgezogen door gelukzoekers, bespot dood eene Kolonie, aan welke zij tot voormuur strekken."(1)

(1) De Tijd, 27.2.1866

Die historiese betekenis van die dag het die ondertekenaars van die Konvensie nie verbygegaan nie, want die waarnemende president, J.P. Hoffman, verklaar in 'n sirkulêre: "De dag van heden was een der zeldzame, indien niet de eenigste, in de wereldgeschiedenis, en voor ons de geboortedag onzer onafhankelykheid. Wat wij op denzelven werden, verkregen wy ongevraagd..."(2) Uit die staanspoor het die "Provisioneel Gouvernement" h om dit ten doel gestel om "eendragt en orde van binnen en vrede naar buiten" te handhaaf - 'n ideaal wat die Oranje-Vrystaat enduit gehandhaaf het.

(2) The Friend of the Sovereignty, 25.2.1854 

Daar is met moed aan die werk gespring,maar dit was asof elke poging tot vooruitgang en grondvesting van die jong staat gedurende die aanvangsjare telkens nuwe struikeklblokke en terugslae teëgekom het. Spanning met en oorlog teen die gedugte Basoetostam aan die oosgrens, knellende droogtes, sprinkane, gebrek aan finansies en ervaring, onderlinge tweedrag, dislojaliteit en voortdurende verwisseling van staatshoofde het die jong republiek dikwels teenoor inwendige beroerings en buitelandse vyande kragteloos gemaak en in sy voortbestaan laat wankel.

Naas die bestendigheid van die bestaande administrasie het die voorlopige regering 29 volksverteenwoordigers laat kies om te besluit hoe die land regeer moet word. Met die byeenkoms van die Volksraad op 28 Maart 1854 is die oopstel van 'n grondwet as die eerste en vernaamste taak beskou. Na die model van die Franse grondwet van 1848 en sekere bepalings in die grondwet van die V.S.A. het hierdie groepie eenvoudige Boere, reeds jare lank van gereëlde onderwys verstoke en onervare in grondwetlike sake, met die hulp van enkele "uitlanders" daarin geslaag om die ganse republikeins-demokratiese strewe van die Afrikaner-Boer in hierdie grondwet gestalte te gee. Hoewel die grondwet by twee latere geleenthede in sy geheel hersien is, het dit van begin tot einde wesenlik onveranderd gebly en die grondslag gevorm waarop die modelrepubliek van die Oranje-Vrystaat gebou sou word.(3)

(3) Vgl. G.D. Scholtz: Die Konstitusie en die Staatsinstelling van die Oranje-Vrystaat, pp. 1-17, en M.C.E. van Schoor en J.J. van Rooyen: Republieke en Republikeine, p. 103 et seq

Oorspronkllik het die grondwet bepaal dat elke persoon wat ses maande in die staat woonagtig was, burgerreg sou verkry en op 18-jarige leeftyd stemgeregtig sou wees. Die hoogste wetgewende gesag het by die Volksraad berus en die lede is uit verteenwoordigers vir veldkornetskappe en hoofdorpe van die verskillende distrikte saamgestel. Die lede is vir vier jaar gekies en die helfte sou al om die die twee jaar aftree. Die Raad kon geen wette maak wat die inwoners sou verhoed om vreedsaam te vergader en vertoë tot die regering te rig om wette te aanvaar, te wysig of te herroep nie. Die bevordering van godsdiens en onderwys was in die hande van die Raad, terwyl die N.G. Kerk dieselfde voorregte as 'n staatskerk geniet het.

Alle uitvoerende en administratiewe gesag is aan die staatspresident toevertrou en hy is vir vyf jaar deur die volk verkies. Hy was vir sy optrede slegs aan die Volksraad verantwoordelik. In sy werksaamhede as staatshoof is hy bygestaan deur die Uitvoerende Raad, wat uit die goewermentsekretaris, die landdros van Bloemfontein en drie nie-amptenaarlede bestaan het. Naas die uitroep van krygswet of die opheffing daarvan, kon hierdie liggaam by alle kriminele vonnisse die reg van genade uitoefen.

Die veldkorenette en -kommandante vir die wyke en distrikte is verkies deur die burgers, wat op 16-jarige leeftyd reeds dienspligtig was. In tye van oorlog het hierdie offisiere 'n kommandant-generaal uit hul midde gekies. Om die onenigheid te vermy wat vroeër in Natal en Transvaal oor die amp voorgekom het, moes hy ná afloop van die oorlog sy betrekking neerlê.

Die grondwet het verder bepaal dat die Romeins-Hollandse regspraak sou geld en dat private eiendom, persoonlike vryheid en die vryheid van die pers gewaarborg word.

Met hierdie grondwet en 'n administrasie wat hoofsaaklik op Kaaps-engelse lees geskoei was, kon die Vrystaat daartoe oorgaan om sy eerste president, Josias Philip Hoffman, te verkies. Hoewel sy politieke beskouings veel eerder by die lojaalgesindes as die rasegter republikeine aansluiting gevind het, was dit sy besonder vriendskaplike betrekkinge met die Basoeto-opperhoof wat hom die presidentstoel besorg het. Daar is gehoop dat hy deur 'n versoenende houding met Mosjesj die gevaar van roof- en plundertogte op die staat kon afweer.

Welsrekend, redelik vlot met die pen, bedeel met genoeg selfvertroue (in weerwil van sy kreupel figuur) en bygestaan deur die onderlegde en ook kreupele Nederlandse onderwyser, J.J. Gronendaal, as goewermentsekretaris, het hy in die enkel jaar wat hy geregeer het, getoon dat hy wel oor staatsvernuf beskik. Die Vrystaat het sy eerste lewensjaar oorleef sonder dat die burgers tot oorlog opgeroep is en 'n eerste poging van M.W. Pretorius om 'n aansluiting te vind tussen die republikeine weerskante van die Vaalrivier is teengestaan.

Dat dit pres. Hoffman egter aan die nodige takt en insig ontbreek het om aan die hoof te staan van mense wat verskillende en uiteenlopende standpunte oor hul staatkundige toekoms gehuldig het, het veral tydens die sg. "buskruit-voorval" geblyk. Oppervlakkig beskou, wil dit voorkom asof Hoffman moes bedank a.g.v. die skenking van kruit aan Mosjesj en Adam Kok, 'n handeling wat nie ten volle aan die Volksraad vermeld is nie. In werklilkheid was die Volksraad nie oor sy filantropiese neigings ontstig nie, maar het hy na die sin van die republikeine, wat aansluiting met die noorde gesoek het, glad te veel na die pype van die sg. Engelse party gedans - die Engelssprekende bevolkingsdeel, veral in die dorpies Bloemfontein en Smithfield, wat opnuut aansluiting met die Kaapkolonie begeer het.

Worsteljare en die grondlegging van 'n eie staatsdiens

Met die keuse van hul tweede president h et die Vrystaters dit veel gelukkiger getref. In Johannes Nicolaas Boshof het hulle iemand gevind wat reeds beskik het oor ryke ondervinding van staatsadministrasie, eers in die Kaapse staatsdiens en later in Natal. Met geesdrif en offervaardigheid het hy die moeilike taak aangepak om die warboel waarin die geldsake en staatsdiens van die republiek verkeer het, reg te stel. Met die bystand van die Volksraad het hy planmatig 'n reeks ordonnansies en administratiewe reëlings deurgevoer waardeur die ganse staatsbestuur op 'n vaste grondslag geplaas is. Dit was by uitstek sy arbeid en insig as grondlegger van die Vrystaatse staatsdiens wat die digter van die Vrystaatse volkslied sou besiel tot die woorde "op orde, recht en wet gevest".

Boshof se gesonde staatsbestuur het 'n dubbele uitwerking gehad. Dit het die latere presidente die geleentheid gebied om kommerloos en met vertroue op hierdie fondament voort te bou. Sy geslaagde poging om orde en reëlmaat in staatsake te bring, het ook as eerste prikkeling tot 'n eie nasionale trots by die Vrystaters gedien en 'n nuwe politieke bedeling ingelui waarom veral pres. Brand sou voortbou, nl. deur die Vrystaat se onafhanklikheid tot elke prys te handhaaf en uit te bou.

In weerwil van die goeie werk wat Boshof verrig het, sou hy tog vyf moeilike en dikwels onaangename jare as president beleef. Sy strewe om die onafhanklikheid van die Vrystaat na binne en buite te handhaaf, waarvoor hy weinig steun ontvang het, het hom in botsing gebring met die vurige ondersteuners van vereniging met Transvaal, asook met aanhangers van 'n federasie met die Kaapkolonie. Laasgenoemde, die "re-annexationists", sou na elke moontlike middel gryp om die republiek by die Kolonie in onguns te bring. 'n Hewige agitasie is op tou gesit teen die doosvonnis van 'n sekere C.L. Cox, wat aan moord op sy vrou skuldig bevind is. Naas die drogredenasie dat hy as Britse onderdaan nie aan die Vrystaatse regspraak onderhewig was nie, is aangevoer dat hy uit rassehaat veroordeel is. Die Engelse in die Vrystaat het hulle selfs op sir George Grey beroep, maar hy het botweg geweier om hom met die saak in te laat, aangesien hy die volste vertroue in Boshof se regering en die republiek se regspleging gehad het. Die argument van rassehaat het ook nie steek gehou nie, want die Vrystaatse regering het sy vertroue in die Engelse getoon deur verskeie belangrike regeringsampte aan hulle toe te sê.

Met die Vrystaat se tweede verjaarsdag het die inwoners op feestelike wyse hul nuwe vlag en wapenskild in gebruik geneem. Op versoek van die Hoffman-regering het Willem III van Nederland dit uit welwillendheid aan die republiek geskenk. Onbewus van hierdie versoek, het die Boshof-regering intussen 'n grootseël laat ontwerp wat toe in die wapen opgeneem is. Te midde van die feestelikhede het M.W. Pretorius met 'n afvaardiging in Bloemfontein opgedaag om die Vrystaat op te eis op grond van beloftes van die Britse regering aan sy vader. Dit is summier verwerp en toe hy die gesag van die Vrystaatse regering in twyfel trek, is hy gelas om die republiek onverwyld te verlaat. In die loop van die volgende jaar sou daar al hoe groter spanning in die Vrystaat en tussen die twee republlieke oplaai. Terwyl die "re-annexationists" met Grey se federasieplan vir Suid-Afrika nuwe hoop vir Britse aanhegting gekry en 'n vereniging met Transvaal hand en tand beveg het, het die verenigingsgesindes hulle in die noordelike streke tot allerlei onwettighede gewend om die Boshof-regering tot vereniging te dwing. Daar was egter ook 'n sterk groep wat Boshof se standpunt ondersteun het dat die twee republieke afsonderlik moet bly voortbestaan en "met elkander wedyweren in den stryd tot ware Christelyke beschaving, en een goed bestuur".

Uit agterdog en vrees vir wedersydse inmenging, het 'n Vrystaatse en Transvaalse kommando in 1857 by Renosterrivier teen mekaar opgeruk en die vergieting van broederbloed is ter elfder ure verhoed. Met die sluiting van 'n vredesverdrag tussen die twee state, waardeur hulle wedersydse onafhanklikheid erken is, Pretorius sy aansprake laat vaar en die Vrystaat belowe het om hom nie met Transvaal se binnelandse twiste te bemoei nie, is 'n grondslag vir noue samewerking tussen die twee republieke gelê wat eers in die tagtigerjare tot volle ontplooiing sou kom.

Die gebrek aan dissipline wat tydens krygswet deur die Vrystaters aan die dag gelê is, het Boshof laat besluit om die diensplig van burgers aan te skroef, maar dit het so 'n skerp reaksie uitgelok, dat dit tesame met ander wrywings tussen hom en die Volksraad tot sy bedanking gelei het. Hieroor was veral die inwoners van Bloemfontein so onsteld, dat Boshof sy bedanking teruggetrek het. Op die oosgrens het die Basoeto's 'n dreigende houding ingeneem en die republiek kon op hierdie stadium nie 'n soeke na 'n nuwe president bekostig nie.

In hulle sug na groter lewensruimte, het die Basoto's hulle in die oostelike streke al hoe meer skuldig gemaak aan grensoorskryding, gepaard met roof en plundering van blankes se vee en eiendom. Al die uitgerekte briefwisseling, onderhandelinge en selfs die persoonlike bemiddeling van sir George Grey kon Mosjesj nie oorreed om sy onderdane en veral onderkapteins in toom te hou nie. Toe al die beloftes om die gesteelde vee uit te lewer op niks uitloop nie, het die Vrystaat op 19 Maart 1858 die Basoeto's die oorlog aangesê. Aanvanklik is groot sukses behaal, maar toe dit blyk dat die beleëring van Thaba Bosiiu 'n lang proses sou wees, het Boshof na bondgenote begin soek. Die Transvalers was bereid om te help slegs as dit op die grondslag van die vereniging van die twee republieke kon geskied. Grey se geneentheid tot die Vrystaat, wat o.m. 'n skenking vir die oprigting van 'n kweekskool ingesluit het, was egter net in terme van Britse koloniale belange te meet. Hy het die Kolonialers verbied om die Vrystaters te hulp te snel, veral met die hoop dat die oorlog die Vrystaat sou noodsaak om sy federasieskema te aanvaar.

Toe die burgers tot hewige ontsteltenis van Boshof in groot getalle van die kommando's begin dros, het hy geen ander keuse gehad as om op 1 Junie 1858 'n wapenstilstand met Mosjesj te onderteken en Grey as bemiddelaar te aanvaar nie. Ondanks die skadevergoeding wat die Basoeto's moes betaal, het die oorlog die Vrystaat feitlik tot die bedelstaf gebring. Om 'n uitweg ui sy moeilikhede te probeer vind indien die Basoeto's weer toeslaan, is daar met 'n groot meerderheid besluit om met Transvaal te verenig. Toe Grey egter op eie gesag, om sy federasie-plan te red, verklaar dat dit 'n verbrekeing van die konvensies sou beteken, is van die plan afgesien. In hul vrees en wanhoop het die pendulumnou na die ander kant toe geswaai en het die Volksraad besluit om tot 'n Britse federasie toe te tree. Toe die Britse regering op grond van geen-uitbreiding en handhawing van die konvensiebeleid Grey se planne afkeur, het die Vrystaat hom nog steeds op eie maar wankele bene bevind.

Vir die Vrystaat is egter ellende op ellende gehoop. Te midde van al die vertroebelings het die Koranna-kaptein, Skeelkoos, in Mei 1858 sy kans waargeneem en op Boeregesinne in die Wes-Vrystaat toegeslaan. Mans en weerlose vroue en kinders is wreed vermoor en duisende skape en beeste weggevoer. 'n Kommando moes opgeroep word om die verskrikkers eens en vir altyd uit hul skanse aan die Vaalrivier te verdryf.

Ondanks al die politieke onsekerheid en die inboorling-gevaar, het die republilek tog op maatskaplik-ekonomiese gebied gevorder. Waar die volkstelling van 1856 'n totale blanke bevolking van 12 589 en 1-1/4 miljoen stuks groot- en kleinvee in vyf distrikte aangedui het, blyk dit dat die bevolking veral deur immigrasie drie jaar later byna verdubbel het. Die republiek se groei is ook weerspieël deur die geleidelike styging van die staat se inkomste en uitgawes, wat teen alle teenslae in - danksy Boshof se streng besuinigingsmaatreëls - gewoonlik geklop het.

Dit was hoofsaaklik die Vrystaters se gebrek aan patriotisme, lojaliteit en koersvastheid wat die gewillige Boshof laat besluit het dat hy nie vir altyd in "stille onopmerksaamheid" kon dien nie. Ondanks sy optimistiese administratiewe beleid was hy as mens te gevoelig om die kleinlikhede en terugslae van politieke krisisse te oorleef en het hy die presidentstoel weer vir die plaaslewe in Natal verruil.

'n Poging tot samesnoering van republikeinse hartstogte 

Deels omdat die verenigingsgesindes 'n sterk groep in die Vrystaat uitgemaak het en deels omdat die res van die bevolking in hul verslaenheid oor die federasie-skema wat deur Brittanje afgekeur is, geen ander uitkoms gesien het nie, is Marthinus Wessel Pretorius, president van die Suid-Afrikaanse Republiek tot president van die Vrystaat verkies. Hierdie boer sou as praktiese pioniersleier in sy omgewing wel bepaalde deugde gehad het, maar dit was reeds didelik dat hy as staatsman lank nie oor die talente en versiendheid beskik het om sy vader se ideale van 'n verenigde republiek ten noorde van die Oranjerivier te verwesenlik nie. 'n Tyd lank is in sy persoon 'n persoonlike unie tussen die twee republileke gehandhaaf en alhoewel die Vrystaat uitdruklik met 'n oorweldigende meerderheid tot eenwording met Transvaal besluit het, wou die Suid-Afrikaanse Republiek nie tot so 'n eenheid toetree nie uit vrees dat die Sandrivier-konvensie, wat hul onafhanklikheid gewaarborg het, sou verval. Ná ses maande is Pretorius gedwing om sy presidentskap in Transvaal op te sê. Pretorius sou nog pogings aanwend om die Vrystaatse grondwet met dié van die Suid-Afrikaanse Republiek in ooreenstemming te bring, maar die Transvalers se ongeneentheid om tot 'n vereniging toe te tree, het die beweging sy krag verloor. Eers teen die einde van pres. Brand se bewind sou die eenheidstrewe van republikeinse Afrikaners oopnuut as 'n politieke faktor op die voorgrond tree.

Sy besondere takt en aanleg om met inboorlinge om te gaan, sou die Vrystaat hoopvol na Pretoria laat opsien om die Basoeto in toom te hou. Omdat die sg. Warden-lyn aan sy stam se grondbesit paal en perk gestel het, het Mosjesj niks gedoen om die aanhoudende en verspreide veediefstalle onder die Vrystaatse burgers te keer nie. Deur Mosjesj herhaaldelik te besoek - veral nadat ' n gruwelike moord op 'n blanke boer die spanning hoog laat loop het - kon Pretorius tog daarin slaag om 'n uiters gespanne vrede aan die oosgrens te handhaaf. Mosjesj het klaarblyklik besef dat 'n oorlog met die Vrystaat ook die Transvalers daarin sou betrek. Om die veediefstalle te bekamp, het Pretorius die instelling van 'n gereelde grenswag voorgestel, maar die leë staatskas het so iets verhhoed. In stryd met die Bloemfontein-konvensie sou die Britse hoë kommissaris hom nou ook tot groot onsteltenis van die Vrystaat die reg aanmatig om hom met die Basoeto-vraagstuk in te m eng. Ten einde die Vrystaat se goeie reg te handhaaf, het Pretorius dit gerade geag om sir Philip Wodehouse te n ader om opnuut die grenslyn vas te stel wat reeds gedurende die Soewereiniteitsjare afgebaken is. Dit sou eers onder die bewind van pres. Brand geskied.

'n Besondere verdienste van pres. Pretorius was dat hy die jarelange geskille oor eiendomsregte van blankes in die onvervreemdbare Griekwa-gronde finaal beïindig het. Toe die Britse regering Adam Kok se Griekwas 'n nuwe tuiste aanbied in Niemandsland, die latere Griekwaland-Oos, is die geleentheid met albei hande aangegryp en die oorblywende Griekwa-gronde rondom Philippolis en die Campbell-gronde van Cornelis Kok vir £4 000 aangekoop. Hoewel die Vrystaat sedert sy republiekwording in 'n besonder goeie buurskap met die Griekwas geleef het, soos met die Barolongs by Thaba 'Nchu, het die verhuising van die Griekwas alle moontlike wrywing vir goed uitgeskakel en meer grond aan 'n aanhoudende stroom immigrante vanuit die Kolonie beskikbaar gestel.

In weerwil van die groeipyne en pioniersvraagstukke wat die jong republiek in hierdie jare moes deurmaak, was daar tog ' n stadige maar gewisse ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling waar te neem. Die eenvoudige en hoofsaaklik selfgenoegsame landelike ekonomie was dan ook in staat om selfs die ergste droogtes in menseheugenis, dié van 1860 en 1862, asook verwoestende haelstorms en oorstromings wat in sommige streke voorgekom het, te oorbrug. Naas 'n toename in die dorpe se uitlander-bevolking, veral Nederlanders en Engelse, sou nege jaar ná die totstandkoming van die republilek dorpies te Boshof, Kroonstad, Bethulie, Jacobsdal en Philippolis verrys. Teen 1860 het die invoerhandel vanuit die Kolonie en Natal reeds £250 000 bedra. Van die invoerregte wat op Vrystaatse goedere in die Britse hawens gehef is, het die republiek nie 'n bloue duit ontvang nie. Omdat die Vrystaat se groei en bloei in 'n groot mate van die vermeerdering van die staatsinkomste afhanklik was, het die Volklsraad dit aan Pretorius opgedra om saam met die staatsekretaris, J. Allison, in Kaapstad voorspraak te doen vir 'n gedeelte van die doeane-inkomste. Die sending moes egter onverrigtersake na Bloemfontein terugkeer. Van hierdie ekonomiese houvas op die republieke sou die Britse kolonies baie jare lank nie maklik afsien nie.

Die voortdurende afwesigheid van Pretorius ten einde broedertwiste in Transvaal te probeer besleg, het 'n kennelike gemis aan 'n duidelike en volgehoue staatsbeleid in die Vrystaat meegebring en boonop 'n rampspoedige uitwerking op die finansiële reëling van die staat gehad. Die jaar 1863 sou met 'n tekort van £12 500 afsluit. Nadat dit by vorige geleenthede geweier is, het die Volksraad nou besluit om Pretorius se bedanking te aanvaar. Hoogstens op die minder skouspelagtige staatsregtelike en administratiewe staatsterrein, su Pretorius wel sy invloed agterlaat. Die regterlike mag, onderwys, gevangeniswese en verdediging van die republiek is ten minste op 'n hegter organisatoriese grondslag geplaas. Die mislukking van sy ideaal om 'n staatkundige vereniging van die twee republiek te verseker, is kort ná sy bedanking beklemtoon toe 1 550 burgers versoek het dat die Vrystaat met die Kaapkolonie in 'n fedrasie moet tree omdat die republiek nie instaat was om uit eie krag die Bassoeto-bedreiging die hoof te bied nie. Die Volklsraad, o.l.v. waarnm. president J.J. Venter, o.m. die stigter van die Gereformeerde Kerk in die Vrystaat, het egter die standpunt van 'n teen-petisie van 1 014 burgers onderskryf dat die republiek onder geen omstandighede sy onafhanklikheid moet prysgee nie.

J.H. Brand, die boumeester van 'n modelrepubliek

Die beweging "Vrij zijn wij en vrij willen wij blijven", wat veral deur die weekblad De Tijd en 'n aantal invloedryke Nederlanders gesteun is en die oortuiging van die oorgrote meerderheid Vrystaatse burgers vir die volgende kwarteeu sou aandui, het egter besef dat die voortbestaan van die republiek suiwer en alleen van die keuse van hul nuwe staatshoof sou afhang. In der waarheid het die verkiesing van die knap Kaapse advokaat en parlementslid vir Clanwillilam, dr. Johannes Henricus Brand, tot vierde staatsresident van die Vrystaat nie net die republiek se toekoms verseker nie, maar aan die republiek 'n ongekende glorie verleen. Vir 'n kwarteeu sou hierdie voortreflike staatsman, taktvolle diplomaat en briljante administrateur die presidentsamp op so 'n wyse beklee dat die burgers hom met die titel "Vader des Volks" vereer het. Sy breë regsagtergrond, sy vriendelike, besadigde en goedgeaarde persoonlikheid, sy onkreukbare eerlikheid, sy deeglike en versiene beplanning en sy besonder helder insig in die pollitieke situasie van sy staat en Suid-Afrika in die geheel, het verseker dat hy nie net die republiek se vraagstukke stelselmatig en blywend kon oplos nie, maar die hele staatsbestuur is op so 'n wyse uitgebou dat dit allerweë as 'n model beskou is.

Hoewel Brand nie ongeneë was om hartlike samewerking tussen die state en kolonies in Suid-Afrika te bevorder nie, het hy van die begin af sterk daarop gestaan dat die Vrystaat se onafhanklikheid in alle rigtings versterk moet word sodat die republiek as gelyke en volwaardige deelgenoot van die breër en algemene politieke, ekonomiese en maatskaplike vraagstukke kon meedoen. Om die rede het hy die oplossing van die netelige Basoeto-vraagstuk - wat die republiek se politieke en ekonomiese selfstandigheid so verlam het - as eerste en onmiddellike taak gestel.

Aanvanklik sou hy die eerbare weg van onderhandeling met Mosjesj volg om die Basoeto's wat op plekke reeds meer as 20 myl die republiek binnegedring het, te laat terugtrek. Toe daar egter aangevoer word dat daar by die Basoeto's geen sekerheid oor die grense was nie, het Brand dadelik sy voorganger se maatreël aangegryp, nl. dat die Britse hoë kommissaris verbind word om die integriteit van die Vrystaatse oosgrens bo alle twyfel vas te stel. Dit het geskied toe die ou Warden-lyn in Oktober 1864 met geringe wysiginge herbevestig is.

Toe verskeie kapteins onder aanhitsing van sekere sendelinge van die Paryse Sendinggenootskap weier om die vasgestelde grenslyn te eerbiedig en 'n paar burgers in die spanning om die lewe gebring word, het Brand die Volksraad ooreed om die indringers en plakkers die oorlog aan te sê. Aan grensoorskrywing moes vir goed 'n einde gemaak word. Dit sou nie maklik gaan nie, want die Basoeto's is intussen d.m.v. die sluikhandel ryklik van gewere voorsien en dit was geen geringe taak om hulle in hul bergversting te oorrompel nie. Die kommando's onder bevel van kommandante Fick, Wepener en De Villiers was dié keer veel beter gedissiplineer en is boonop deur pres. Brand se persoonlike besoeke en aanmoediging besiel. Die moord op 'n paar Transvaalse togryers het ook die Suid-Afrikaanse Republiek tot die oorlog laat toetree en 'n kommando onder Paul Kruger het daadwerklike steun verleen. Spoedig het die verenigde kommando's hulle voor Mesjesj se vesting bevind, maar ná 'n halfhartige en mislukte poging om Thaba Bosiu in te neem, toe Louw Wepener op heldhaftige wyse die lewe moes laat, het die ou verskynsel van neerslagtigheid onder die burgers ingetree en was dit slegs aan pres. Brand se persoonlike optrede te danke dat 'n ineenstorting aan die font verhoed is. Die beleid om die Basoeto's se vee oral af te neem en gesaaides te verwoes, het die gewenste uitwerking gehad. Mosjesj het hom nou tot Wodehouse gewend en hom versoek om sy stam onder Britse beheer te plaas, maar hoewel Wodehouse dit sterk aanbeveel het, was die Imperiale regering steeds teen enige vorm van gebiedsuitbreiding in Suid-Afrika gekant.

Wodehouse sou egter sake vir die Vrystaat bemoeilik, want toe Brand - met die oog op 'n finale nekslag - Koloniale vrywillligers plase in die verowerde grondgebied beloof, het hy uit vrees vir 'n totale oorweldiging van die Basoeto deur die Vrystaters en in stryd met die Bloemfontein-konvensie, verklaar dat hy die toevoer van wapens en ammunisie sou afsny indien die Vrystaat van vreemde hulp gebruik maak. Omdat die oorlog 'n uiters nadelige uitwerking op die Kolonie se handel gehad het, het hy sy dienste aangebied om die vrede te herstel. Dit is van die hand gewys en eers toe Molapo, een Mosjesj se sterkste bondgenote, hom oorgee, het die Basoeto-opperhoof by die Vrystaat om vrede kom smeek. Met die Verdrag van Thaba Bosiu (April 1866) het Mosjesj nie alleen ooreengekom om skadevergoeding te betaal nie, maar het hy ingestem odat die Vrystaat die Verowerde Gebied kon annekseer. Terwyl Wodehouse ernstige bedenkinge gehad het oor die Basoeto's se vermoë om hulle op die oorblywende gebied te handhaaf, was Brand begering om die Verowerde Gebied so gou moontlik in drie rye plase te laat opdeel en bewoon ten einde dit as hegte buffer teen enige indringing te laat dien. Ingevolge die politieke bemoeienisse van enkele Franse sendelinge, het die Volksraad op aandrang van die burgers besluit dat alle Franse sendingstasies binne die grense van die republilek ontruim moes word. Die onskuldiges is ook daardeur getref en dit sou tot selfs in die buiteland skerp reaksie uitlok. Volgens tradisionele beleid is Molapo toegelaat om sy stamgebied vir sy onderdane te behou, maar om die vrede te bewaar, is 'n blanke kommandant in 'n toesighoudende hoedanigheid by sy stat aangestel. Geen blankes kon sonder verlof die gebied binnegaan nie en slegs die N.G. Kerk is toegelaat om daar sendingwerk te verrig.

Die toegeeflikse gebaar van die kant van pres. Brand om die Basoeto's toe te laat om eers hul oeste in te samel voordat hulle die Verowerde Gebied moes verlaat, het Mosjesj egter die geleentheid gebied om krygers die gebied te laat binnesypel. 'n Kommando is opgeroep om die gebied van alle Basoeto skoon te maak. Hierop het twee onderkapteins, Mopeli en Letsie, versoek om Vrystaatse onderdane te word. Eerstenoemde is uiteindelik onder dieselfde voorwaardes as Molapo in Witzieshoek gevestig, maar toe lg. verraad pleeg en moorde in die Verowerde Gebied voorkom, het twee sterk kommando's onder kommandante Joubert en Pansegrouw in Julie 1867 te velde getrek. In 'n heel ander gees is nou aan die opdrag gehoor gegee om aan Mosjesj en sy onderkapteins se uittarting finaal 'n einde te maak.

Reeds in die korte tyd het pres. Brand daarin geslaag om by die Vrystaters 'n selfstandigheidstrots wakker te wek en 'n oortuiging te kweek dat hulle uit louter patriotisme hul vryheid en onafhanklikheid eendragtelik moes verdedig. 'n Paar vinnige suksesse en die stelselmatige verwoesting van die Basoeto's se gesaaides het Mosjesj spoedig in die moeilikheid laat beland, sodat hy opnuut op Britse anneksasie aangedring het. Wodehouse, wat intussen allerlei strukelblokke in die Vrystaat se weg gelê het in  hul poging om die Basoeto's te oorrompel, kon uiteindelik die Britse regering oorreed om tot dié stap oor te gaan op grond daarvan dat die Vrystaat se optrede 'n gevaar vir inboorlingbetrekkinge in Suid-afrika inhou en waarskynlik daarop uit was om oor 'n verowerde Basoetoland 'n weg na die see te vind. In 'n stadium toe die vasberade en seëvierende kommando's Mosjesj die nekslag wou toedien, het Wodehouse tussenbeide getree en Basoetoland in Maart 1868 vir Brittanje geannekseer (kyk Hoofstuk 14).

Die gebelgde Vrystaatse afvaardiging na Brittanje om teen hierdie stap en die herhaalde verbreking van die Bloemfontein-konvensie protes aan te teken, het niks gebaat nie. Andersyds was daar tog 'n diepe vreugde oor die beëindiging van die lange worsteling wat soveel menselewens, eiendom, staatsgeld en kosbare tyd en energie van burgers en regering in beslag geneem en die republiek se ekonomiese ontwikkeling aan bande gelê het. Tydens die Londense konferensie in 1876 kon Brand ook verklaar: "Die Vrystaat het geen naturellevraagstuk nie: ons het dit reeds geskik. Die blankes staan teenoor die naturelle soos twee teenoor een." Afgesien van die beleid om die kapteins onder blanke waarneming in hul stangebiede te handhaaf, het die republiek die inboorlinge in sy midde nooit as 'n "vraagstuk" benader nie. Alle reëlings en betrekkings m.b.t. die inheemse nie-blankes het op die beginsel van differensiasie en voogdyskap berus. Na hul maatskaplike heil, kerstening en opvoeding is ook binne perde omgesien. Met Maroko en sy Barolongs te Thaba 'Nchu is die tradisionele vriendskapsbetrekkinge van die Voortrekkertydperk voortgesit en dwarsdeur die republikeinse jare gehandhaaf. Die Barolongs was altoos erkentlik en dankbaar vir die beskerming wat hulle van die Vrystaat teen die vyandelike Basoeto's geniet het. Mat Maroko se dood in 1880 was daar etlike jare 'n stryd oor sy opvolging wat uiteindelik sulke afmetings aangeneem het, dat Brand in 1884 by die Volksraad aangedring het dat hulle die gebied onder die republiek se voogdyskap plaas. Die Barolongs is ontwapen, maar het steeds hul volle grondregte behou.

Intussen het die toestand an die staatskas 'n krisispunt bereik. Om geld vir noodsaaklike en nuwe dienste beskikbaar te stel, het Brand by die Volksraad aanbeveel dat papiergeld, die sg. "blue-backs" met 'n sigwaarde van £30 000 en staatsplase en -eiendom as borg, gedruk word. Omdat oorlogskoste hierdie bedrag opgeslurp het, is in 1866 besluit om nog £100 000 se "blue-backs" uit te gee. Die ontwrigting wat die Basoeto-oorlog veroorsaak het, het die papiergeld egter tot soveel as die helfte van sy sigwaarde laat daal en koloniale handelaars wou dit nie eens as wettige betaalmiddel aanvaar nie. Ná die beëindigingvan die stryd teen die Basoeto's, het die republiek se ekonomie nog steeds gewankel, maar ná die ontdekking van diamante en ontvangs van 'n gedeelte van die doeanegelde op Vrystaatse goedere wat in die Britse hawens gehef iis, kon die eens so veragte papiergeld teruggetrek word. Teen 1875 was slegs 'n kwart van die note teen volle sigwaarde nog in omloop. Brand en die Volksraad se waagstuk het die krisis oorbrug.

Die oosgrensvraagstuk was nouliks opgelos, of die Vrystaat sou hom voor 'n ewe groot vraagstuk aan die wesgrens bevind. Met die ontdekking van diamante in die distrik Hopetown in 1867 en kort daarna langs die oewers van die Vaalrivier en in die omgewing van Dutoitspan en Vooruitzicht, het duisende fortuinsoekers uit alle dele van die wêreld gestroom na die streek rondom en tussen die Oranje- en Vaalrivier, waar die diamantstad Kimberley mettertyd sou verrys. Ingevolge uitoefening van Britse gesag gedurende die Soewereiniteitsjare, die  uitdruklike bepalinge van die Bloemfontein-konvensie en die grondaankope van die Griekwas wat die Campbell-gronde ten weste van die Vaalrivier ingesluit het - deur pres. Pretorius in 1861 - het die Vrystaat volle en regmatige aanspraak op die grond tussen die Vaal- en Oranjerivier gemaak. Om dit bo alle twyfel te bevestig, is hierdie aanspraak in 1870 opnuut geproklameer en amptenare onder die delwers aangestel om wet en orde te handhaaf. Die maatreëls wat getref is, was by die delwers besonder gewild.

Die Colesbergse prokureur en avonturier, David Arnot, het egter namens die Griekwa-kaptein, Nicolaas Waterboer, aanspraak gemaak op al die grond wat die delwerye ingesluit het. Dit het geskied op grond van 'n ou traktaat wat goewerneur D'Urban destryds met sy vader, Andries Waterboer, gesluit het en die feit dat sowel Adam as Cornelis Kok sy onderdane was en geen grondtransaksies kon aangaan sonder sy toestemming nie. Omdat Waterboer se aansprake, hoe swak en onseker ook al, aan die Boere-republieke se westelike uitbreiding paal en perk sou stel en Britse oppergesag in Suid-Afrika kon verseker, het dit sterk steun geniet van Richard Southey, die Kaapse koloniale sekretaris, en het hy by Waterboer daarop aangedring dat hy al sy grond onder Britse beheer plaas. Toe die Suid-Afrikakanse Republiek sy aanspraak op die driehoek tussen die Vaal- en die Hartsrivier aan die arbitrasie van luit.-goew. Keate van Natal onderwerp en boonop op 'n onbeholpe wyse voordra, het Keate hom nie by sy opdrag bepaal nie, maar ook beslis dat al die grond wes van die Ramah-Davidsgraflyn, d.w.s. Vrystaatse grond, aan Waterboer behoort. Kort ná sy aankoms, het die reeds bevooroordeelde sir Henry Barkly, die nuwe hoë kommissaris, al die grond waarop Waterboer aanspraak gemaak het, tot Britse gebied verklaar ten einde die duisende delwers in toom te hou en die Griekwas sg. in hul grondregte te beskerm. In werklikheid het gewetenlose spekulante alles ingepalm en toe die Griekwas later in 1878 saam met ander stamme oor die verlies van hul grond in opstand kom, is hulle wreed onderdruk.

Pres. Brand was wel bereid om die besitreg van die Campbell-grinde aan buitelandse arbitrasie te onderwerp, maar het Brittanje se reg om die Vrystaatse gronde tussen die Oranje- en Vaalrivier te beset, konsekwent bestry, aangesien dit naas die rykste diamantmyne ter wêreld ook die verlies van 143 bewoonde plase beteken het. Omdat dieVrystaat hom nie met wapens teen hierdie nuwe Britse imperialisme kon verset nie, het Brand onvermoeid, volhardend en met takt meer as vier jaar lank en ten spyte van 'n ernstige siekbed, die goeie reg van die Vrystaat met die geskrewe en gesproke woord bly verdedig. 'n Wederkerige beleefdheid en tegemoetkomendheid aan die kant van Barkly, het Brand selde in sy korrespondensie en onderhandelinge ondervind. Om die Vrystaat se saak wêreldkundig te maak, is adv. H.A.L. Hamelberg as diplomatieke verteenwoordiger na Europa gestuur. Dit het Brittanje enigsins in die verleentheid gestel en die verdrae van handel en vriendskap wat met die V.S.A. e.a. Europese moondhede gesluit is en die aanstelling van konsulêre verteenwoordigers, het ook die gevaar afgeweer dat die Vrystaat weer deur Brittanje geannekseer kon word. Selfs diegene wat vroeër 'n herinlywing by die Kaapkolonie bepleit het, het nou soos een man agter Brand gestaan en eendragtelik die Vrystaat se goeie reg en integriteit verdedig. Teenoor The Friend of The Free State, wat Carnarvon se konferederasieskema nie holus bolus wou verwerp nie, het sedert 1875 'n nuwe weekblad, De Express, verskyn, wat ook in die republieke 'n geweldige stukrag aan die ontluikende Afrikaner-nasionalisme sou verleen.

Die Britse besetting van Griekwaland-Wes is intussen lydelik deur die Vrystaat aanvaar en om die geskil op te los, is daar selfs op buitelandse arbitrasie aangedring, maar uit vrees dat die ekonomiese voordeel van die diamantstreek uit Britse hande sou raak en Brittanje sy oorheersende posisie in Suid-Afrika sou verloor, is al die voorstelle van die kant van Brand voortdurend omseil of op die lange baan geskuif. Die keerpunt het egter vanuit 'n onverwagte oord gekom toe die Kaapse landhof i n 1876 self besluit dat die Vrystaat en die Suid-Afrikaanse Republiek se onderskeie aansprake op die betwiste gebied in alle opsigte geregverdig was en dat die anneksasie sonder toestemming van die Griekwa-volk geskied het. Brand het hom onmiddellik na Londen gehaas om die diamantvelde tussen die Vaal- en die Oranjerivier op te eis, maar dit was duidelik dat Brittanje die onreg alleen met skadevergoeding sou skik. Omdat die Vrystaat nie oor die mag beskik het om die teruggawe van die gebied af te dwing nie, moet Brand hom tevrede stel met 'n bedrag van £90 000 wat die Vrystaat skade sou gely het. Brittanje se houding het groot verbittering onder die Vrystaters en ook die Transvalers verwerk en verseker dat die Vrystaat geen deel sou hê aan die konfederasie-skema wat lord Carnarvon in  hierdie stadium op Suid-Afrika wou afdwing nie. Die vorm wat die nuwe Britse imperialisme in Suid-Afrika aangeneem het, het egter die twee Boere-republieke veel nader aan mekaar gebring en opnuut die strewe na nouere vereniging wakkergeroep.

Vanselfsprekend sou die Vrystaat ook deel in die fenomenale voorspoed van die omvangryke handel, veral in voedselprodukte en die transportbedryf, met die diamantvelde. Afgesien van tydelike resessies en ernstige droogtes en sprinkaanplae wat van tyd tot tyd voorgekom het, was die ekonomiese krisisse van die republiek iets van die verlede. Die grootste gedeelte van die £90 000 wat as vergoeding ontvang is, is aangewend vir die oprigting van 'n staatsbank, wat dwarsdeur die republikeinse jare gefloreer het. Ook Brand se oordeelkundige finansiële beleid het verseker dat die staatsinkomste steeds die uitgawe oorskry en dat die staat - net soos sy burgers - kapitaalfondse kon begin opbou. Dit het die republiek in staat gestel om sy pionierstadium te ontgroei en tot 'n volwaardige moderne staat te ontwikkel.

Van sy bewindsaanvaarding tot aan sy dood was pres. Brand 'n vurige pleitbesorger vir die bevordering van die onderwys en het hy die Volklsraad daarop bedag gemaak dat 'n staat so ver moontlik sy eie seuns en dogters moet oplei om die otenemende aantal beroepe te vul. Veral die N.G. Kerk se belangstelling in onderwysaangeleenthede het in die sewentigerjare 'n keerpunt ten goede gebring. Aan die Greykollege, wat saam met die damesinstituut Eunice die enigste gevorderde onderwys in die Vrystaat verskaf het, is die voortreflike dr. J. Brill vanuit Nederland as hoof aangestel, terwyl daarin geslaag is om die bekwame Skot, dr. John Brebner, van 1874 tot dip in die negentigerjare aan die hoof van onderwyssake te hê. Hoewel daar voortdurend gekla is dat die onderwys in die Vrystaat te Engels georiënteer was en in menige opsig weinig gedoen het om 'n eie Afrikaanse kultuur in die republiek te bevorder, het dit as stelsel vir weinig ander in die wêreld agteruitgestaan.

As regskenner sou Brand uiteraard 'n besondere belangstelling in die regspleging toon. Nadat hy in 1872 daarin geslaag het om 'n afsonderlike appèlhof in die lewe te roep, is hierdie hof drie jaar later tot 'n volwaardige hooggeregshof omgeskep met F.W. Reitz as eerste hoofregter. Brand het ook 'n besonder hoë waarde aan 'n deeglike staatsdiens geheg en sy amptenare met die grootste sorg aangestel. Baie jare lank moes hy sy personeel uit die Kaapkolonie trek. Naas sy eie geniale administratiewe talente het hy ook die dienste van die bekwame F.K. Höhne, en vanaf 1879 dié van P.J. Blignaut, as goewermentsekretaris gehad. Die versiende Brand het ook voortudrend wetgeweing aan die Volksraad voorgelê om die staat se openbare dienste te moderniseer en uit te bou. Sy progressiwiteit het altoos die heelhartige samewerking van sy hoofamptenare en die Volksraad geniet en is hoogstens deur 'n gesonde konserwatisme van die kant van die Volksraad getemper.

Hoe sterk Brand hom ook al op die standpunt van die Vrystaatse onafhanklikheid gestel het, was hy ewe sterk daarop bedag dat die republiek nie in isolasie moet verval nie. Afgesien van diplomatieke kontak met die buiteland en gesonde handelsbetrekkinge met die omringende gebiede, het hy hom veral vir die moderne kommunikasiemiddele soos die telegraaf en spoorweë beywer. Teen 1879 was die Vrystaatse hoofstad reeds met al die Britse gebiede verbind, maar wat die aanbou van spoorlyne betref, sou hy meer as 10 jaar met die Volksraad 'n stryd voer om sy vooroordeel teen hierdie nuwe vervoermiddel te laat vaar. Afgesien van die koste het die Volksraad ook gevrees dat die Britse kolonnies daardeur 'n te sterk houvas op die republiek sou kry. In 1888 is daar egter met die beslissende stem van die voorsitter besluit om die spoorlyn van die Kolonie na Bloemfontein te verleng.

As staatsman sou Brand in die begin van die tagtigerjare 'n besondere status geniet en dit is nie verbasend nie dat hy versoek is om as bemiddelaar op te tree toe die Transvalers die Britse troepe in 1881 gevoelige nederlae toegedien het. Hoewel Brand verkies het dat die Vrystaat in die stryd 'n strenge neutraliteit moes handhaaf, kon hy nie verhoied dat honderde Vrystaters die Transvalers te hulp snel nie. Ten spyte van die hoë agting wat die Vrystaters vir hul staatspresident gehad het, het ná  hierdie jare 'n sterk politieke verwydering ingetree. Vanweë sy sterk Kaap-Engelse agtergrond het Brand geen besondere toegeneentheid teenoor Transvaal getoon nie en nieteenstaande die nuwe Britse imperiale politiek steek die bande met die Kaapkolonie probeer nouer trek. Brand het hom soos verskeie ander Kaapse staatsmanne by die gedagterigting aangesluit dat vanuit 'n noue ekonomiese samewerking uiteindelik 'n verenigde Suid-Afrika tot stand moes kkom, desnoods onder die Britse vlag, maar sonder die voorskrifte van 'n Downingstraat. Hoewel geen voorstander van Rhodes se imperialisme nie, het hy ook geen vinger verroer om die ontluikende Afrikaner-nasionalisme ook onder sy eie Vrystaters te bevorder nie. Met die skerpe veroordeling van die Afrikanerbond, wat alle Afrikaner-kragte wou saamsnoer, as 'n seksionele beweging en die aanvaarding van 'n Britse sir-skap om die betrekkinge tussen die twee blanke bevolkingsdele te bevorder, sou hy finaal wegdryf van die meerderheidsgevoel in die Vrystaat, nl. dat 'n nouer vereniging tussen die twee Boere-republieke tot stand moes kkom ten einde hul nasionale aspirasies as 'n bolwerk teen die opkomende Britse imperialisme saam te snoer. Toe goud aan die Witwatersrand ontdek is en Kruger die Vrystaat die geleentheid bied om te deel in die voordele wat 'n onafhanklike weg na die see die twee republieke kon bied, het Brand steeds verkies om die Vrystaat se ekonomiese afhanklikheid van die Britse kolonies te handhaaf. Hy was hoogstens bereid om 'n hernieude traktaat van handel en vriendskap met die Suid-Afrikaanse Republiek te sluit. Die veranderde ekonomiese posisie in Suid-Afrika het in ieder geval vir Brand die hef in die hande geplaas om in 1888 'n uiters voordelige tolooreenkoms met die Britse kolonies te sluit en die aanlê van spoorlyne wat die Vrystaat sou begunstig, af te dwing.

By sy oorlye in 1888 het pres. Brand voorwaar 'n ryke erfenis aan die florerende Vrystaat agtergelaat. In 'n sekere sin was dit tragies dat hierdie vader van sy volk gedurende sy laaste twee dienstermyne van sy burgers verwyder geraak het en tog was dit sy besondere verdienste dat, sonder om doelbewus die Afrikaner se staatsbeskouinge te vorm, op 'n besondere wyse die grondslae van Afrikaner-republikanisme versterk het. Die jare 1864-1888 het van die Vrystaat 'n republikeinse protoripe gemaak wat nie net in die buiteland bewondering afgedwing het nie, maar ook vir handhawers van republikanisme as bewys gedien het van hoe suiwer die demokrasie wel binne 'n republikeinse staatsvorm gedien kan word.

Boerdery en blank-swart-verhoudinge

Vóór die ontdekking in 1870 van diamante het die boere hulle hoofsaaklik op veeteelt en wolproduksie van 'n mindere gehalte toegelê. Dikwels is nie eens genoeg graan vir eie gebruik verbou nie en moes graan van Transvaal verkry of van die Basoeto's geruil word. Op wild en allerlei soorte, wat in die Vrystaat tot diep in die sewentigerjare volop was, is ook vir voedselvoorsiening jag gemaak.

Die toestroming van duisende fortuinsoekers na die diamantvelde en die gevolglike ekonomiese bloei, het 'n duidelike patroonsverandering in die Vrystaatse boerderypraktyk laat intree. Feitlik alle grond is beset en grondpryse het gestyg. Die roekelose en genadelose slagting van wild, veral wildebeeste en blesbokke, omdat op reuseskaal met die velle handel gedryf is, het binne 'n dekade tot skande vir die inwoners die Vrystaatse wildprag eens en vir altyd beëindig.

Talle boere het hulle toe in die posisie bevind dat hulle nie van die tradisionele boerdery alleen 'n bestaan kkon maak nie. Terwyl sommige tot 'n bywonersklas gedwing is en so die armblankevraagstuk in die Vrystaat laat ontstaan het, het ander hulle weer op die kortstondige maar winsgewende transporthandel na en van die diamantvelde toegespits. Omdat die inwoners van Kimberley en omstreke 'n uitstekende afset vir vars prodoukte en graan geword het, het baie boere hulle naas die veeteelt ook met inisiatief op die akkerbou ingestel. Die ontluikende akkerbedryf is verder gestimuleer deur die ontdekking van goud in 1886 aan die Witwatersrand. Terwyl sowat 60 000 morg in 1880 vir akkerbou gebruik is, het dit binne 'n dekade verdubbel.

'n Opvallende verskynsel was dat die Volksraad tydens die eerste kwarteeu van die Republiek se bestaan weinig gedoen het om die veeteelt en akkerbou met nuwe metodes of skemas te bevorder. Kritiek van die kant van die prs en die goed bedoelde pogings van pres. Brand om veral in die tagtigerjare boomaanplanting, besproeiing en omheining deur die staat te bevorder, is telkens deur die Volksraad agewys of op die lange baan geskuif. Kortsigtigheid en waarskynlik partikuliere belange het daartoe meegewerk dat geen projek steun geniet het wat nie die hele Vrystaat sou bevoordeel nie. Verstokte tradisionele boerderymetodes en gebrek aan verbeelding het jare lank voorkom dat 'n nuwe en progressiewe uitkyk onder boere posvat.(4)

(4) D.J. Jacobs: Landbou en Veeteelt in die Oranje-Vrystaat, 1864-1888 (Argiefjaarboek 1969/I), pp. 260-261

Hoewel Brand die noodsaaklikheid van 'n sneller ontwikkeling van die akkerbou en veeteelt besef het, sou dit eers ná sy dood in 1888 enigsins tot groter ontplooiing kom, veral vanweë die oplossing van die hinderlike doeanekwessie, die aanbou in die negentigerjare van 'n spoorlyn na en uiteindelik deur die Vrystaat en die aanvaarding van nuttige wette soos die Omheiningswet.

Tydens die laaste dekades van die 19de eeu het 'n gevestigde en stabiele samelewing finaal die "grens"-mentaliteit en "mobiele"-kompleks onder die boere beëindig. Van 'n ekstensiewe is al meer na 'n intensiewe maar ook gekommersialilseerde boerderybedryf oorgeskakel.

Aan 'n sterk ondernemingsgees by die boere het dit steeds ontbreek, terwyl beperkte leningsfasiliteite en kapitaal vooruitstrewende boerdery gestrem het. Verskeie landbougenootskappe is op die platteland gestig wat hulle veral op die tentoonstelling van vee- en landbouprodukte toegespits het. Daarenteen was die verskillende boerebeskermingsverenigings eerder politiek georiënteer as om hulle hoofsaaklik op streng boerderybelange te rig.(5)

(5) D.J. Jacobs: Die ontwikkeling van landbou in die Vrystaat, 1890-1910 (Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Unisa, 1979), pp. 351-356

Die tertende en knaende arbeidsprobleem waarmee die boere in die negentigerjare in steeds groter omvang te doen gekry het vanweë hul gemengde boerderybedryf, hou ten nouste verband met die verhouding tussen blank en swart in die Vrystaat.(6)

(6) H.J. van Aswegen: Die Verhouding tussen Blank en Nie-Blank in die Oranje-Vrystaat 1854-1902 (Argiefjaarboek 1971/I)

Nadat pres. Brand in die sestigerjare die vyandelikhede met die Basoeto aan die oosgrens uitgeskakel het, sou die Republiek sedert die sewentigerjare toenemend te doen kry met die probleem van die saamwoon van sy blanke inwoners met die minder beskaafde inboorlinge binne sy grense.

Om die groeiende swart bevolking in die dorpe te huisves, is dorpslokasies geskep. In die reë was die lokasies betreklik klein en was daar weinig probleme om beheer daaroor uit te oefen. In hierdie afgebakende woonplekke is haas geen voorsiening vir maatskaplike en opvoedkundige ontwikkeling gemaak nie en die woontoestande was in die algemeen nie ideaal nie. Soos elders kon die swartmense hier nie eiendom besit of aankoop nie. Verder is geen beperkinge op die vryheid van die swartes gelê nie, behalwe op daardie terreine waar hulle vir die blanke 'n bedreiging kon wees. Naas grondbesit was burgerskap, stemreg en vrye ekonomiese bedrywighede dus vir die swartes in die Vrystaat taboe.

Die Republiek sou ook met die aanwesigheid van swart stamme binne sy gebied gekonfronteer word. Aanvanklik is drie Basoeto-reservate langs die oosgrens geskep, waarvan Witsieshoek (die huidige Qwa-Qwa) die enigste is wat bly voortbestaan het. In 1884 is ook 'n Barolongreservaat geskep in omstandighede waarna reeds verwys is. Hierdie stelsel, wat die probleem van vreemdelingstamme die doeltreffendste opgelos het, het berus op die beginsel dat die blankes formeel en volledig seggenskap oor die stamme aanvaar ind ie vorm van verantwoordelike voogdyskap.

Binne hierdie voogdyskap is die swartmense nòg polities, nòg ekonomies uitgebuit. Die onverbiddelike eis was egter dat daar binne die reservaat rus en vrede moes wees sodat die stam geen bedreiging vir die blankes sou word nie. Origens kon hulle ongehinderd hul stamtradisies en -gebruike beoefen. By Witsieshoek is ook wel na die swartes se materiële en geestelike belange omgesien. Daar was nietemin ook bedenkinge dat die vestiging in hierdie reservate van heelwat swartes van buite die grense van die Vrystaat tot veerowery aanleiding kon gee.

Die verhouding tussen blank en swart het in die Vrystaat, soos elders, veral om die landelike arbeidsvraagstuk gewentel. Hoewel nie oorheersend nie, het die vraagstuk in die negentigerjare 'n wye omvang angeneem veral weens 'n tekort aan beskikbare swart arbeid vir die boere, die ongelyke verspreiding van die swartmense ind ie staat, die gepaardgaande plakkery en landlopery en 'n onwilligheid om vir die blankes te werk.

Herhaalde en hersiene arbeidswetgewing, veral dié van 1883 en 1895 waardeur 'n boer toegelaat is om hoogstens vyf swart gesinne op sy plaas te vestig, sowel as die wetgewing om plakkery, landlopery en veediefstalle te bekamp, het die vraagstuk nooit volkome onder die knie gekry nie. Feit van die saak is dat daar net nie genoeg swartmense ind ie Vrystaat was om in die behoefte aan werkers te voorsien nie. Die koms van die spoorweë en die oprigting van die myne in die Vrystaat sou, met hul hoë lone, die beperkte arbeidsbronne in die negentigerjare nog verder tap. Die gebrek aan behoorlike wetstoepassing en aan die ander kant wetsontduiking, sou die probleem vererger. Eers met die instelling in 1889 van 'n "Rijdende Dienstmacht" - 'n berede polisiemag - en die uitbreiding daarvan, is veediefstalle doeltreffend bekamp en die bepalings van die arbeidswetgewing behoorlik toegepas.

Die arbeidskwessie was eerder irriterend as werklik chronies. Daar kon verligting gewees het as die blankes eensgesind saamgewerk het om dit op te los. Die belange van die saaiboere in die noordelike streke en dié van die veeboere in die suidelike dele is nooit versoen nie. Genoeg rekening is ook nie gehou met die feit dat die swarte se leefwyse nie op harde werk ingestel was nie en dit is opvallend dat die arbeidsvraagstuk altoos net die belange van die blanke en selde dié van die swarte in ag geneem het.

Die swartmense was dus deur die hele republikeinse tydvak aan die gesag van die blankes onderworpe. Aan hulle is geen seggenskap op politieke of ekonomiese gebied toegeken nie en dit is so deur die swartes aanvaar. Nooit was daar van hul kant enige agitasie of druk op die blankes om enige toegewinge te doen nie. Die amptelike blank-swart-verhouding is in die volgende woorde raak saamgevat: "Ten spyte van die deursnee opvatting dat die nie-blanke die mindere van die blanke en eintlik maar sy dienskneg was, is die staat se nie-blanke-beleid tog deur begrip en algemene menslikheid gekenmerk."(7) Die persoonlike optrede en houding van die meerderheid blankes teenoor die swartmense was dié van 'n gesonde verhouding tussen heer en dienskneg, waar die blanke sy verantwoordelikheid as Christen-voog teenoor die minder ontwikkelde swarte besef het, terwyl die klein minderheid die swarte letterlik soos 'n slaaf behandel het.

(7) Ibid, p. 359

Herontwaking van 'n Afrikaner-eenheidstrewe

Hoofregter F.W, Reitz, wat in die plek van Brand tot staatspresident verkies is, sou merkwaardig genoeg met bykans dieselfde agtergrond as sy voorganger bedeeld wees. Ook Reitz het in Kaapstad sy skoolopleiding ontvang en hom in Europa vir die regte bekwaam. Vanaf 1874 was hy op die Vrystaatse regbank, maar reeds as regter was dit duidelik dat sy politieke uitkyk reëlreg van dié van Brand verskil het. As uitgesproke Afrikaner en sterk ondersteuner van die oorspronklike ideale van die Afrikanerbond, sou hy hom sterk verset teen die opvatting van die sg. merkwaardigheid van die Engelse taal en kultuur, wat selfs in die Boere-republilek geheers het en was hy 'n openlik voorstander van die strewe om die bande van bloed en tradisie met Transvaal staatkundig te versterk.

Een van Reitz se eerste take was om die voorlopige tolverbond wat Brand met die Kaapkolonie gesluit het, op 'n vaste grondslag te plaas. Daardeur het die Vrystaat driekwart van die doeane-belasting op ingevoerde goedere wat deur die Kaapse hawens ingevoer is, ontvang. Ná die eerste jaar het die Vrystaat reeds die reusebedrag van £130 000 ontvang. Dit het die Vrystaat in staat gestel om talle nuwe skole op te rig, waardeur die instelling van skoolplig moontlik gemaak is en die verarming van armes weens ongeletterdheid bekamp kon word. Tydens Reitz se bewind het die aantal leerlinge van 2 000 tot 5 000 gestyg.

Vervolgens het Reitz hom gewend tot die Transvalers, wat nou in so 'n oorheersende ekonomiese posisie verkeer het, dat Reitz sterk moes pleit dat die Suid-Afrikaanse Republiek nie 'n hoër belasting op die invoer en deurvoer van Vrystaatse goedere moes hef nie. Dit is in 1890 met 'n gewysigde traktaat van handel en vriendskap beklink. In ruil vir hierdie voorreg moes die Vrystaat ook 'n politieke verbond met die Suid-Afrikaanse Republiek aangaan waardeur ewigdurende vrede tussen die twee state gewaarborg word, asook die versekering dat  hulle mt alle middele sou help indien die een of die ander se onafhanklikheid bedreig word. Tydens die samesprekings is ook die aangeleentheid van die nouer vereniging van die twee republieke opgehaal, maar hoe sterk pres. Reitz en die redakteur van De Express, Carel Borckenhagen, ook al daaroor gevoel het, het dit nooiot tydens Reitz se bewind verder as die gedagte gevorder nie.

Reitz het ook van die Suid-Afrikaanse Republiek die versekering gekry dat die Johannesburgse mark nie met die Kaapse spoorlyn oor Betsjoeanaland verbind sou word nie. Om die volle voordeel van die mark te verkry, is die aanlê van die hooflyn van Norvalspont na Viljoenskroon bespoedig. Op 17 Desember 1890 het die eerste trein die Vrystaatse hoofstad feestelike binnegestoom en binne 'n anderhalfjaar is die Vaalrivier bereik. Omdat die Vrystaat nie alleen die koste van die spoorlyn kon dra nie, het die Kaapkolonie die beheer daaroor uitgeoefen. Dit het nietemin aan die Vrystaat 'n nuwe bedryf besorg en die vooroordeel teen spoorweë so vinnig laat verdwyn, dat distrikte en streke met mekaar gewedywer het om moontlike taklyne te bekom.

Reitz se bewind wat net soos sy voorganger s'n deur 'n partylose politiek gekenmerk is, het 'n innerlike vreedsaamheid van sy eie gehad, veral omdat die staatshoof se beleid so volkome in ooreenstemming met dié van die oorgrote meerderheid van die burgers was. Boonop het dit saamgeval met 'n tydperk toe daar rus, vrede en voorspoed oor heel Suid-Afrika geheers het. Hoeflorerend die Vrystaat werklik was, blyk uit die feit dat die blanke bevolking van 78 000, wat oorwegend tot die boerestand beperk was omdat die landbou en veeteelt steeds die kern van die Vrystaatse ekonomie uitgemaak het, in 1890 meer as 200 000 sak koring en 180 000 sak mielies gewin en 60 000 bale wol geskeer het. Die Vrystaat was nie net in staat om in sy eie voedselbehoeftes te voorsien nie, maar kon sy surplusse ook na die Johannesburgse, Kimberleyse en Kaapse markte uitvoer. Die oprigting van die nuwe en sierlike Raadsaal (1890-1893), 'n simbool van "de standvastigheid, de waardigheid, de deugden en de aspiratien van het volk", soos pres. Reitz dit gestel het, het ook die progressiewe vooruitgang van die republiek se staatsbestuur en -administrasie weerspieël. Die voortreflike staatsdiens van pres. Brand het onder Reitz se bestuur in doeltreffendheid toegeneem.

Hoewel die republiek se hoofstad oorwegend deur Engelssprekendes bewoon en ontwikkel is, in so 'n mate dat Anthony Trollip dit as die mees Engelse stad in Suid-Afrika bestempel het, het daar 'n besonder harmonieuse samewerking tussen Boer en Brits geheers. Ook op godsdienste gebied was daar, in teenstelling met toestande in Transvaal, 'n verdraagsaamheid wat veral deur buitelanders opgemerk is. Al het die N.G. Kerk die posisie van 'n staatskerk ingeneem, het dit nooiot ten koste van ander kerklike genootskappe geskied nie. Van die Volksraad kon altoos pro rata steun verwag word. Die N.G. Kerk het egter naas sy evangelisasiewerk en groot belangstellilng in die opvoeding, onderwys en bekamping van armoede, veel bygedra tot die stigting en groei van talle Vrystaatse dorpe wt reeds in Brand se tyd soos paddastoele verrys het.

Dit is miskien kensketsend van Reitz se bewind dat die eerste gekodifiseerde wetboek van die republiek in 1891 verskyn het. Op haas elke bladsy word die gees van die oorspronklike grondwet bespeur, soos dit in die wetgewing en staatsreëlings van meer as 'n geslag tot uiting gekom het. Een van die belangrikste wette wat ook tydens Reitz se bewind sy beslag gekry het en die Vrystaatse bevolkingspatroon sedertdien sou bepaal, is Ordonnansie 29 van 1890, ingevolge waarvan Asiate nie meer toegelaat is om hulle in die Vrystaat te kom vestig nie. In ooreenstemming met die simpatieke en verdraagsame houding van die Voliksraad sou die wet nie van toepassing wees op Asiate wat reeds in die Vrystaat gevestig was nie.

M.T. Steyn en die triomf van republikanisme

Toe pres. Reitz in 1895 weens gesondheidsredes genoodsaak was om sy amp neer te lê, sou nog eens 'n regsgeleerde en boonop 'n seun van die Vrystaat hom opvolg. Pres. M.T. Steyn, wat aanvanklik in die leerskool van Brand se staatsbeskouinge opgegroei het, het hom reeds as strafregter van die Vrystaat by die geestesrigting van 'n Reitz aangesluit. Toe hy die teuels oorneem, was die Jameson-inval pas afgeloop en die Rhodes-imperialisme in al sy naaktheid blootgestel. Tot Steyn het die besef sterker as tot enige ander staatsman deurgedring dat die samesnoering van die hele Afrikanerdom onder een republikeinse vlag die enigste hoop was om hierdie aggressiewe imperialisme teen te staan. Hierin het hy die steun van die oorgrote meerderheid Vrystaatse burgers geniet, soos blyk uit die verwerping van nouer samewerking met die Britse kolonies wat by die presidentsverkiesing met die Suid-afrikaanse Republiek die republikeinse beginsels in Suid-Afrika te handhaaf en te versterk. Eers afsonderlik en dan gesamentlik moes die twee republieke in alle opsigte innerlik versterk word. Stelselmatig en doelbewus het Steyn hom daarvoor beywer om op geestelike, kulturele, ekonomiese, staatsregtelike en landboukundige gebied die Vrystaatse republiek só uit te bou, dat dit as 'n modelstaat tot 'n groter Afrikaner-eenheid kon toetree en daarin desnoods die leiding neem. Onder sy uitmuntende leierskap en besielde staatsmansblik en met die steun van die begaafde Abraham Fischer, 'n lid van die uitvoerende raad, asook 'n aantal besonder knap Volksraadslede, o.m. H. Klein, sou hy die Vrystaat ook tot sy hoogste ontwikkeling voer.

Omdat die landbouer en veeboer in sy oë die ruggraat van die land was en die republilek se vooruitgang van hulle afgehand het, het Steyn die hele staatsmasjinerie in werking gestel om wetenskaplike boerderymetodes te bevorder. Die resultaat was uiteindelik dat die koringbou aansienlik verbeter is, besproeiing aandag geniet het en 'n landbouraad, staatsproefplaas en landbouskool in die lewe geroep is. Die welvarendheid van die boerestand is nie net om hulle onthalwe bevorder nie, maar om ook die toenemende aantal armblankes 'n heenkome te bied. 'n Reeks droogtes, waarvan dié van 1897 die ergste was, en die groot runderpes van dieselfde jaar het geruïneerde en verarmde boere na die dorpe laat stroom. Toe die pes hom teen die einde van die jaar uitgewoed het, het reeds byna 45 000 beeste gevrek.

Naa die aandag en groter hulpverlening wat aan bestaande skole gegee is, is ook veral na die kinders van behoeftige ouers omgesien sodat hulle 'n ambag kon leer om selfstandig die lewe in te gaan. Vir dié doel is 'n nywerheidsinrigting in Bleomfontein opgerig waar leerlinge veral by die spoorwegwinkels e.a. bedrywe in die stad ingeskakel is. Hoewel Steyn net soos sy voorgangers sterk daarop gestaan het dat alle Vrystaatse leerlinge Engels moet leer, het hy saam met die Volksraad ernstige stappe gedoen om die verdringing van die die Hollandse taal op skool te voorkom. Daar is besef dat die denasionaliserende uitwerking wat dit gehad het, al ver gevorder was. Omdat die buiteland of die Engels-georiënteerde Kaapse Universiteit die republieke se matrikulante weggetrek het, was Steyn 'n sterk voorstander vir die oprigting van 'n eie universiteit vir die republieke. Dit sou verhoed dat daar altyd op uitlanders staatgemaak moes word vir amptenare in die hoë betrekkings. Slegs die uitbreek van die oorlog het die verwesenliking van hierdie ideaal verhoed.

Die gevaar daarvan dat die beheer van die hooflyn wat deur die Vrystaat na Johannesburg geloop het, in vreemde hande was, is deur die Jameson-inval sterk onderstreep. Pres. Steyn het derhalwe by die Volksraad aanbeveel dat die Vrystaat die lyn oorneem, wat teen 'n bedrag van £1 690 000 in 1897 geskied het. Die wins wat die spoorweg afgewerp het, was egter so groot dat dit spoedig afbetaal is en selfs ander taklyne aangelê is.

Die vordering wat die Vrystaat op haas elke gebied gemaak het, het Steyn nou in staat gestel om met toewyding die saak van 'n nouer vereniging met die Suid-Afrikaanse Republiek te bevorder. Op sy aandrang het pres. kruger in 1897 Bloemfontein besoek en is 'n nuwe ooreenkoms tussen die twee republieke aangegaan. Die traktaat van handel en vriendskap wat vroeër op Potchefstroom oopgestel is, is breedvoeriger omskryf en dit het aan die Vrystaat veel groter handelsvoordele besorg. Die Politieke Vrbond is egter in so 'n mate uitgebrei, dat die twee republieke mekaar altyd op die hoogte moes hou oor enige saak wat die vrede of hul onafhanklikheid kon bedreig. Burgerreg is ook wedersyds sonder beperkinge toegeken aan burgers wat van die een republiek na die ander verhuis. Ook is 'n raad van afgevaardigdes, 'n federale liggaam, in die lewe geroep wat gereeld moes vergader en aanbevelings moes doen oor aangeleenthede van gemeenskaplike belang, soos verdediging, federale bestuur, gelykvormige wetgewing, onderlinge handelsverkeer, 'n gesamentlike appèlhof en 'n gemeenskaplike muntstelsel. Slegs die uitbreek van die oorlog het die finale stap tot eenwording in die weg gestaan. Met hierdie innige verbintenis tussen die twee susterrepublieke wou Steyn geen rassehaat of vooroordele opbou nie, maar slegs 'n vertroue in 'n eie Afrikaanse nasionale bestaan wek.

Steyn se besondere toenadering tot die Suid-Afrikaanse Republiek het nie beteken dat hy die Vrystaat van die Britse kolonies wou isoleer nie. Hy het alte goed besef dat die Vrystaat hom nie van die bloed- en geestesbande met die Kaapkolonie kon losmaak nie en dat die goedgesindheid van die Kaapse Afrikaners met die oog op sy uiteindelike ideaal van 'n verenigde Suid-Afrika onder 'n republikeinse vlag behou moes word. Sy poging om soos J.H. Hofmeyr, leier van die Afrikanerbond, 'n omvattende tolverbond tussen al die Suid-Afrikaanse state en kolonies in die lewe te roep, het misluk, maar 'n nuwe ooreenkoms met die Kaapkolonie in 1896, waarby Natal later aangesluit het, het aan die Vrystaat nog groter voordele verskaf. Dit het die natuurlike uitwerking gehad dat die handel met die Britse kolonies toegeneem het.

Intussen het die oorlogswolke steeds dreigender oor Suid-Afrika begin saampak. Steyn het besef dat, indien die Vrystaat sy verpligtinge teenoor die Suid-Afrikaanse Republiek wou nakom, hy sy eie verdediging sou moes opknap. Die kommandowet is so verander dat indien die twee republieke hul onafhanklikheid met die wapen moes verdedig, 'n gesamentlike krygsraad in die lewe geroep sou word. Wapenskouings en skiet-oefeninge is vir alle burgers van 18 tot 40 jaar verpligtend gemaak. Ook die Vrystaatse Artilleriekorps, wat deur toedoen van pres. Brand onder die bevel van kaptein Albrecht in in die lewe geroep is, is met ongeveer 30 kanonne op volle sterkte gehou. Die Mauser, wat die Martini-Henry (of "poena") vervang het, is saam met die nodige patrone in groot voorraad ingevoer. Die Vrystaat was teen 1899 in staat om meer as 23 000 burgers ten volle gewapen in die veld te stuur.

Pres. Steyn het tot op die laaste hard probeer om die oorlog tussen Groot-Brittanje en die Suid-Afrikaanse Republiek af te weer. Toe die lot eindelik gewerp is, het Steyn dit vir homself uitgemaak dat die Transvalers se stryd om die behoud van hul onafhanklikheid ook die Vrystaters daartoe verbind. Teenoor die voorstanders van Vrystaatse neutraliteit het hy openlik verklaar: "Ek verloor liewer die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer as om dit te behou deur oneer en ontrou."(8) Dat hy hierin die oorweldigende steun van sy volk gehad het, spreek immers uit die feit dat hy saam met 'n genl. C.R. de Wet en duisende getroue burgers - en onderskraag deur die morele steun van hul vroue en kinders - die heroïese stryd om die behoud van hul republikeinse ideale teen alle oormag in tot die bittere einde gevoer het.

(8) J.J. Oberholster en M.C.E. van Schoor: President Steyn aan die Woord, pp. 81-82

M.C.E. van Schoor

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en Geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134