Die Nasionale Party aan bewind, 1948 - 1961

Die oorwinning wat die Herenigde Nasionale Party in Mei 1948 by die stembus behaal het, was 'n belangrike keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika. Waar die land tot in daardie stadium 'n dominium van die Britse Statebond was en deur talle bande aan Brittanje verbind was, het die nuwe regering syvisier op 'n onafhanklike republiek gestel. Waar daar voorheen 'n neiging was om in die rigting van 'n veelrassige staat beweeg en aan die nie-blankes groter verteenwoordiging in die wetgewende liggame te gee, het die nuwe regering die een apartheidswet ná die ander in die wetboek geplaas. Die regering se oogmerke was om 'n republiek tot stand te bring en sy apartheidsbeleid uit te voer.

Die Nasionale Party: eenheid en groei

Die nuwe eerste minister, dr. D.F. Malan, was reeds 'n man van 74 jaar toe hy by Smuts oorgeneem het. Hy het nie Smuts se internasionale aansien gehad nie, maar was 'n ervare politikus en iemand wat die vertroue van die Afrikaanssprekendes geniet het. Hy het sy loopbaan as 'n predikant begin, maar in 1915 ingewillig om redakteur van 'n nuwe Kaapse dagblad, De Burger, te word. In 1924 het hy 'n lid van Hertzog se kabinet geword, maar toe Hertzog en Smuts in 1934 ooreenkom om hul partye saam te smelt in die Verenigde Party, het Malan met 'n klein groepie ondersteuners geweier om saam te gaan. Van 1934 tot 1948 was hy as leier van die Nasionale Pasrty ook leier van die opposisie - aanvanklik tydens Hertzog se bewind en later, gedurende die oorlogsjare, tydens Smuts se bewind. Hy het in die loop van sy lang politieke loopbaan indruk gemaak as 'n grondige denker, 'n koersvaste leier en 'n bekwame parlementariër. Hy was nie iemand vir die vinnige antwoord, die spitsvondige tussenwerpsel of die behendige systap nie, maar het in 'n besondere mate oor die vermoë beskik om die korrels van die kaf te skei, sy gedagtes helder te formuleer en sy gehoor met hom mee te voer. As redenaar het hy in sy tyd geen gelyke in Suid-Afrika gehad nie.

Malan het die leier van die Afrikanerparty, N.C. Havenga, in sy kabinet opgeneem en hom Minister van Finansies gemaak. Die ander ministers wat hy aangestel het, was E.G. Jansen (Naturellesake), J.G. Strijdom (Lande), C.R. Swart (Justisie), P.O. Sauer (Vervoer), S.P. le Roux (Landbou en Bosbou), E.H. Louw (Mynwese en Ekonomiese Ontwikkeling), A.J. Stals (Onderwys, Gesondheid en Volkswelsyn), T.E. Dönges (Binnelandse Sake en Pos- en Telegraafwese), F.C. Erasmus (Verdediging) en B.J. Schoeman (Arbeid en Publieke Werke). Jansen is sowat twee jaar later bevorder tot Goewerneur-generaal en in sy plek is dr. H.F. Verwoerd as Minister van Naturelle sake aangestel. Die kabinet is terselfdertyd vergroot van 12 tot 14 lede en Malan het J.F.T. Naudé en J.H. Viljoen as nuwe ministers aangestel. Die aanstelling van Viljoen het meegebring dat die Afrikanerparty 'n tweede verteenwoordiger in die kabinet gekry het.

Ná die verkiesing van Mei 1948 het die regering 'n m eerderheid van slegs vyf in die Volksraad gehad as die drie Naturelle-verteenwoordigers by die opposisie getel word. Dit het beteken dat die Herenigde NP op die steun van sy bondgenoot, die Afrikanerparty, aangewese was, want hierdie party het nege verteenwoordigers in die Volksraad gehad. As dié nege besluit het om die opposisie te steun, sou die Herenigde NP nie aan bewind kon gebly het nie. Die Herenigde NP se posisie het nietemin gaandeweg sterker geword. In Mei 1949 het hy die kiesafdeling Vereeniging in 'n tussenverkiesing verower. In Augustus 1950 het hy al ses setels in die verkiesing in Suidwes-Afrika verower.

Die Herenigde NP was toe nie meer op die Afrikanerparty se steun aangewese nie, maar die twee partye het nogtans sonder enige noemenswaardige wrywing bly saamwerk. Die twee leiers, Malan en Havenga, het goed oor die weg gekom - só goed dat hulle in Augustus 1951 besluit het om hul partye saam te smelt in die Nasionale Party. Die weglating van die woord Herenigde voor die naam Nasionale Party het beteken dat teruggekeer is na die ou naam wat die party van sy stigting in 1914 tot 1939 gehad het.

In die algemene verkiesing van April 1953 het die Nasionale Party sy setels in die Volksraad opgestoot van 85 (die 6 verteenwoordigers van Suidwes-Afrika ingesluit) tot 94, terwyl die VP se setels gedaal het van 64 tot 57 en dié van die Arbeidersparty van 6 tot 4. Die NP het ook 'n groter getal stemme op hom verenig as in Mei 1948, maar die 49% wat hy gekry het, was nog minder as die 50,2% van die Verenigde Demokratiese Front - d.w.s. die bondgenootskap wat bestaan het uit die VP, die Arbeidersparty en die Torch Commando.

In Oktober 1954 het Malan, wat reeds 80 was, aangekondig dat hy aan die einde van die daaropvolgende maand as Eerste Minister sou uittree. Op die vraag wie hom moes opvolg, is twee name genoem: Havenga en Strijdom. Havenga, die eertydse vertroueling van Hertzog en politieke teenstander van Malan, was 'n man van 72 jaar, leier van die NP in Natal en Minister van Finansies. Strijdom, die vurige nasionalis wat in 1934 saam met Malan van Hertzog weggebreek het, was 61 jaar oud, leier van die NP in Transvaal en Minister van Lande en Besproeiing. Malan se keuse was Havenga. Hoewel Havenga van 1934 tot 1951 aan 'n ander party behoort het en dus 'n betreklik nuweling in die NP was, het hy sedert Mei 1948 lojaal by Malan gestaan. Hy was inderdaad in die tydperk 1948-1954 besonder na aan Malan - veel meer as Strijdom. Strijdom het vóór en ná die verkiesing van Mei 1948 herhaaldelik oor belangrike beleidspunte met Malan gebots. So was Malan in 1947 t.g.v. 'n koalisie met die Afrikanerparty; Strijdom was daarteen. Malan wou 'n republiek binne die Britse statebond hê; Strijdom daarbuite. Malan en Havenga het die standpunt gehuldig dat 'n tweederde-meerderheid verkry kon word om die Kleurlinge op 'n aparte kieserslys te plaas, dit nie langer nodig sou wees om die geskil oor soewereiniteit van die parlement verder te voer nie; Strijdom wou die soewereiniteit van die parlement tot elke prys verseker. Die ekstremistiese houding wat Strijdom telkens ingeneem het, het verwydering tussen hom en Malan gebring.

Malan was daarvan bewus dat Strijdom 'n sterker aanhang in die koukus gehad het as Havenga en dat hy beslis verkies sou word as hy voorgestel word. Met die doel om te verhinder dat Strijdom in die koukus voorgestel word, het Malan 'n kabinetsvergadering vir 18 November 1954 belê. Hier hiet hy, in die afwesigheid van Havenga en Strijdom, o penlik kant gekies vir havenga. Hy het Havenga geloof as 'n m edebouer van Afrikanereenheid en na hom verwys as 'n groot nasionale in internasionale figuur. Na Strijdom het hy verwys as Havenga se junior en iemand wat herhaaldelik 'n klip in die weg van Afrikanereenheid gerol het. Hy het vervolgens 'n beroep oop die kabinet gedoen om te verseker dat slegs een man, dié van Havenga, aan die koukus voorgelê word. Hiermee was Strijdom se ondersteuners nie gediend nie. Verwoerd, S.P. le Roux en Ben Schoeman het laat blyk dat hulle nie van plan was om aan die Eerste Minister se versoek gehoor te gee nie. Die gevolg was dat sowel Havenga as Strijdom op 30 November 1954 in die koukus benoem is. Havenga het besef dat hy geen kans het om verkies te word nie en sy uittrede uit die politiek aangekondig. Strijdom is daarop eenparig verkies tot Eerste Minister.

Die nuwe eerste minister was 'n vurige republikein, 'n voorstander van apartheid en bekend vir sy onverdraagsaamheid wat on-Afrikaanse en liberale gedagtes betref. Vir hom was apartheid sinoniem met blanke baasskap. Hy was beginselvas en het alle kompromieë afgewys. Die kragdadigheid en strydvaardigheid waarmee hy sy taak gestel het, het sy gehoor meegevoer en sy ondersteuners het met trots na hom verwys as "die Leeu van die Noorde".

Strijdom het sy voorganger se ministers behou en slegs enkele veranderinge in die toekenning van portefeuljes gemaak. Die twee vakatures wat a.g.v. Malan en Havenga se uittrede ontstaan het, is deur J.J. Serfontein en Jan de Klerk gevul.

In die verkiesing van April 1958 was die apartheidsbeleid weer eens in die middelpunt van die stryd. Die VP het aangevoer dat dit 'n beleid is wat nie in die praktyk kan werk nie.

Die NP het verklaar dat dit kán werk en dat dit sekuriteit bied vir die blankes se voortbestaan in Suid-Afrika. Die uitslag van die verkiesing het getoon dat die steun vir die NP steeds toeneem. Die party het sy getal setels opgestoot van 94 tot 103, terwyl die VP" s'n gedaal het van 57 tot 53 en die Arbeidersparty al 5 sy setels verloor het. Die NP het nou ook vir die eerste keer meer stemme as die VP" gekry - 55,1 teenoor 43,3%.

Ná die algemene verkiesing het Strijdom twee nuwe ministers aangestel in die plek van J.H. Viljoen, wat in Desember 1957 oorlede is, en S.P. le Roux, wat in Mei 1958 bedank het. Die twee nuwelinge was M.D.C. de Wet Nel en P.M.K. le Roux.

Strijdom was nie bestem om lank die amp van Eerste Minister te beklee nie. Ná 'n dienstermyn van 'n bietjie meer as drie jaar,  is hy in Augustus 1958 oorlede. Oor sy opvolger het daar nie eenstemmigheid bestaan nie en drie persone is in die NP se koukus voorgestel: C.R. Swart, dr. T.E. Dönges en dr. H.F. Verwoerd. Swart was 'n veteraan-politikus, leier van die NP in die Vrystaat en Minister van Justisie. Dönges was 'n bekwame parlementariër, leier van die NP in Kaapland en Minister van Binnelandse Sake. Verwoerd was die jongste van die drie kandidate, 'n vertroueling van Strijdom en Minister van Naturellesake. In die eerste stemming was die uitslag: Verwoerd 80, Dönges 75 en Swart 41. Met Swart uitgeskakel, is weer gestem en hierdie keer het Verwoerd 98 en Dönges 75 stemme gekry. Die 57-jarige Verwoerd het dus die sesde premier van Suid-Afrika geword.

Die nuwe eerste ministers was 'n Hollander van geboorte en het as 'n kleurter met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Ná die voltooiing van sy skoolloopbaan is hy na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy 'n doktorsgraad in die Sielkunde behaal het. Hy is daaroop vir verdere studie na Duitsland en met sy terugkeer in Suid-Afrika het hy 'n professor aan sy ou universiteit geword. In Januarie 1937  aanvaar hy 'n aanbod om redakteur van Die Transvaler te word. Met die bewindsoorname van die NP in Mei 1948 is hy as senator aangestel. In die Senaat het hy voorstanders en teenstanders beïndruk met sy kennis, logika en welsprekendheid. Hy het met groot bekwaamheid die regering se omstrede apartheidsbeleid verdedig en riglyne vir die toekoms uitgestippel. In Oktober 1950 het Malan hom dan ook in dr. E.G. Jansen se plek aangestel as Minister van Naturellesake, in welke amp hy 'n sleutelrol gespeel het met die toepassing van die apartheidsbeleid. Hy was die vindingryke argitek wat die beleid in besonderhede uitgespel het, die ywerige verkoopsman wat die wêreld probeer oortuig het dat dit 'n regverdige beleid was en die bekwame administrateur wat die beleid in die praktyk begin toepas het.

Onder Verwoerd se leiding het die NP verder gegroei. In die referendum van Oktober 1960 het 52% van die kiesers hul steun toegesê aan die NP se plan om Suuid-afrika van 'n monargie in 'n republiek te omskep. In die verkiesing van Oktober 1961 het die NP se stels in die Volksraad van 103 tot 105 vermeerder.

Waarom het die kiesers in die verkiesings van 1953, 1958 en 1961 in steeds toenemende getalle vir die NP gestem? Een rede is ongetwyfeld dat die kiesers gunstig beïndruk was deur die NP se apartheidsbeleid. Die feit dat die res van die wêreld die beleid veroordeel het as onprakties, onregverdig en onchristelik, het op die meerderheid kiesers geen indruk gemaak nie. Hulle was tevrede dat dié beleid hulle teen die nie-blankes se mededinging sou beskekrm en sou verseker dat die blankes nie die politieke mag verloor nie. 'n Tweede rede vir die groeiende gewildheid van die NP was die feit dat die party hom in toenemende mate geïdentifiseer het met die Afrikanervolk. Die opvatting het gaandeweg begin veld wen dat 'n Afrikaner wat werklik 'n Afrikaner is, slegs aan die NP kan behoort. Dat hierdie identifisering van die NP met die Afrikanervolk toenemende steun vir eg. verseker het, word duidelik as 'n mens in gedagte hou dat daar heelwat meer Afrikaans- as Engelssprekendes in Suid-afrika is (sowat 60% tenoor 40%); dat die Afrikaanssprekendes vinniger aanwas as die Engelssprekendes; en dat die afbakening van kiesafdelings die platteland, waar die meerderheid Afrikaanssprekendes gevestig is, bevoordeel. As 'n derde rede vir die groei van die NP kan genoem word dat die party op die golf van Afrikanernasionalisme gery het. Dit was 'n golf wat in die vyftigerjare steeds aangegroei en die NP met hom saamgedra het. Die idealisme, geesdrif en doelgerigtheid wat kenmerkend van nasionale bewegings is, het die NP sterk bevoordeel.

Die opposisie: struweling en agteruitgang

Terwyl die NP in die jare 1948-1960 van krag tot krag gevorder het, is die VP deur inwendige twiste benadeel. Die uiteenlopende elemente wat in die VP byeen was, het op belangrike punte nie altyd saamgestem nie. Soms i s daarin geslaag om die barste toe te smeer, maar ander kere het die minderhede weggebreek en hul eie partye gestig.

Die eerste tekens van onenigheid in die VP het reeds enkele dae ná die verkiesingsuitslag verskyn. Op 31 Mei 1948 het senator Andrew Conroy op 'n vergadering van oud-ministers, waar Smuts nie teenwoordig was nie, 'n beroep op Jan Hofmeyr gedoen om te bedank as voorsitter van die VP se Uitvoerende Raad. Ander konserwatiewe lede van die party het dieselfde menign gehuldig. volgens hulle was dit Hofmeyr se liberale uitlatinge wat hulle die verkiesing laat verloor het. Hofmeyr was na hul mening 'n verleentheid vir die party en geheel en al onaanvaarbaar as Smuts se opvolger. Smuts het sy bekwame luitenant verdedig, maar het besef dat dit nie in belang van die VP sou wees as hy in daardie stadium die leisels aan Hofmeyr oorhandig nie. Die bejaarde Smuts, wat reeds 78 was, het dus as leier van die VP aangebly.

Hofmeyr sou egter nie lank 'n verleentheid vir die VP bly nie. In Desember 1948 is hierdie begaafde man in die ouderdom van 54 jaar oorlede. Hy was Smuts se bekwaamste luitenant, 'n briljante administrateur, 'n toegewyde werker en iemand met hoë morele beginsels. "He was," het Smuts met sy heengaan geskryf, "in a sense the conscience of south Africa."(1)

(1) W.K. Hancock: Smuts, vol. 2, p. 516

Smuts het Hofmeyr nie lank oorleef nie. In September 1950, nie 'n volle twee jaar ná Hofmeyr se dood nie, is hy in die ouderdom van 80 jaar oorlede. Vir die VP was dit 'n groot verlies. Hoewel Smuts reeds 'n ou man was en ietwat verdwaas gelaat is deur die nederlaag van Mei 1948, was sy leierskap vir die VP van onskatbare waarde. Hy was 'n Afrikaner wat ten volle deur die Engelssprekendes vertrou is, 'n heroïese figuur uit die Anglo-boereoorlog, 'n skerpsinnige en ervare politikus en 'n staatsman van wêreldformaat.

Smuts is as leier van die VP opgevolg deur J.G.N. Strauss. Die nuwe leier was 'n bekwame poliltikus, maar hy het uit die staanspoor op weerstand in sy eie party gestuit - deels omdat hy sulke uiteenlopende elemente in sy party moes bymekaar hou; deels omdat hy n ie in staat was om dieselfde agting as Smuts af te dwing nie.

Die wetsontwerp wat die regering in Maart 1951in die Volklsraad ter tafel gelê het om die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder en op 'n aparte kieserslys te plaas, het tot gevolg gehad dat die VP 'n nuwe bondgenoot bygedkry het - die Torch Commando. Dit was 'n organisasie wat d.m.v. fakkeloptogte, protesvergaderings en petisies teen die regering se wetsontwerp geprotesteer het en op die hoogtepunt van sy bestaan byna 'n kwart miljoen lede gehad het. Die stigters van die beweging was 'n aantal oud-soldate wat 'n sterk ooreenkoms gesien het tussen die idees van die regering en dié van Adolf Hitler en Benito Mussolini, teen wie hulle in die Tweede Wêreldoorlog geveg het. Hulle het dit veral gehad teen die regering se beheptheid met apartheidswetgewing, sy ophemeling van Afrikanernasionalisme, aantasting van minderheidsregte, minagting vir die konstitusie en onverskilligheid jeens kritiek. Die wetsontwerp om die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder, was volgens hulle verteenwoordigend van al hierdie euwels. Wat hulle veral ontstel het, was die regering se voorneme om die wetsontwerp sonder 'n tweederde-meerderheid deur die parlement te loods. Dit was vir hulle 'n verkragting van die grondwet en hulle was vasbeslote om die wetsontwerp teen te staan.

In Mei 1951 het hierdie oud-soldate gevolglik 'n aantal protesvergaderings in Johannesburg, Port Elizabeth en Kaapstad gereël. Die reaksie was so bemoedigend dat daar kort daarna 'n War Veterans Torch Commando, wat spoedig verkort is tot Torch Commando, gestigis om landwyk druk op die regering uit te oefen. Die leier was A.G. (Sailor) Malan, 'n oud-vlieënier wat tydens die Tweede Wêreldoorlog beroemdheid verwerf het vir sy rol in die Britse lugmag. Hy het dit duidelik gestel dat die Torch Commando nie 'n politieke party wou wees nie, maar slegs 'n drukgroep wat die regering wou dwing om sy wetsontwerp oor die Kleulrlinge se stemreg te laat vaar. Die regering het hom nie veel aan die proteste gesteur nie en voortgegaan met sy plan om die Kleurlinge m.b.v. 'n gewone meerderheid van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder. Die Torch Commando het daarop besluit dat daar dan net een uitweg oorbly en dit was om die amptelike opposisie te help om die regering met die volgende verkiesing uit die kussings te lig. Die VP het hierdie steun van die kant van die Torch Commando verwelkom. "The are," het Strauss verheug verklaar, "General Smuts' boys. They are our friends. They are good material, and their program is a good one."(2) Die Torch Commando en die VP het gevolglilk al nader aan mekaar beweeg. In April 1952 is bekend gemaak dat die Torch Commando, die VP en die Arbeidersparty 'n United Democratic Front gevorm het met die doel om die regering met die verkiesing uit die kussings te lig. Hierdie samesnoering van kragte het weinig gehelp. In die verkiesing van April 1953 het die getal setels van die VP en Arbeidersparty verder gedaal - die VP s'n van 65 tot 57 en die Arbeidersparty s'n van 6 tot 4. Die Torch Commando jhet dus geheel en al misluk in sy poging om die regering tot 'n val te bring.

Op die vraag waarom die Torch Commando die kiesers eerder afgeskrik as aangetrek het, kan meer as een antwoord gegee word. Een rede is dat die organisasie te oorwegend Engelssprekend was. Die leiers was in groot mate Engelssprekende oud-soldate wat vol lof vir Brittanje was. Hul voortdurende verwysings na hul aandeel ind ie oorlog en die stryd wat hulle vir die demokrasie gestry het, het diegene wat teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog was verder afgestoot. Afrikaanssprekendes het die Torch Commando as die Engelse ekwivalent van die Ossewa-Brandwag gesien en wou niks daarmee te doen hê nie. As 'n tweede rede kan gemeld word dat die Torch Commando se semi-militêre aard, dreigemente teenoor die regering en botsings met lede van die NP en die polisie die indruk by sommige kiesers gewek het dat dit 'n militante, anargistiese en gewelddadige organisasie was. 'n Derde rede vir die Torch Commando se onvermoë om die kiesers te beïndruk, was die feit dat die lede van die organisasie oor verskeie belangrike punte nie saamgestem het nie. Sommige wou die Kleurlinge as lede toelaat, andere wou nie. Daar was enkele lede wat werklik bekommerd was oor die Kleurlinge se regte, maar die meerderheid het koud daarteenoor gestaan. Die Natalse lede wou die reg hê om van die Unie van Suid-Afrika weg te breek as hulle dit verkies, maar Sailor Malan e.a. lede van die organisasie was nie gelukkig daaroor nie.

Die nederlaag wat die VP in die verkiesing van April 1953 gely het, het tot gevolg gehad dat drie nuwe partye gestig is: die Liberale Party, die Unie-Federale Party en die Konserwatiewe Party.

Die Liberale Party is in Mei 1953 in Kaapstad gestig. Onder die leidende persone daarin was mev. Margaret Ballinger, L.V., haar eggenoot, sen. Willion Ballinger, die bekende skrywer Alan Paton, dr. O. Wolheim, Leo Marquard, Patrick Duncan (seen van 'n voormalige goewerneur-generaal) en die swart joernalis Jordan Ngubane. Heelwat later, in die sestigerjare, het oud-senator Edgar Brookes ook amptelik by die party aangesluit.

Die beleid van die Liberale Party was feitlik in elke opsig presies die teenoorgestelde van dié van die NP. Waar die NP 'n beleid van rasseskeiding voorgestaan het, wou die Liberale Party alle skeidslyne tussen rasse verwyder. Die party het gestreef na 'n veelrassige staat met gelyke politieke regte vir almal. De klem het swaar op die vryheid van die individu geval. Die individu moes vry wees om na goeddunke te handel - met die enkele voorbwehoud dat hy nie inbreuk maak op die regte van ander nie. Hy kon woon waar hy wou, werk waar hy wou, aanbid waar hy wou, trou met wie hy wou - ongeag ras, kleur of geloof. Hiermee het die NP - en in 'n mindere mate ook die VP - radikaal verskil. Die klem wat die Liberale Party op vryheid gelê het, het ook geïmpliseer dat hy sterk gekant was teen enige vorm van diktatuur - of dit nou fascisme of kommunisme was.

Die Liberale Party het homself gesien as 'n brug tussen blank en nie-blank, maar weinig blankes en nie-blankes was bereid om mekaar op hierdie brug te ontmoet.

Die blankes het die beleid van die party as te radikaal beskou. Die idee van 'n veelrassige staat met gelyke politieke regte vir almal was vir hulle totaal onaanvaarbaar. In die verkiesing van April 1958 is die Liberale Party se drie kandidate gevolglik verpletterend verslaan. Die enigste lede van die party in die parlement was diegene wat as Naturelle-verteenwoordigers gekies is - in die Volksraad mev. Margaret Ballilnger (sedert 1937) en Walter Stanford (sedert 1954; in die Senaat William Ballinger (sedert 1948) en dr. Leslie Rubin (sedert 1954). Hierdie vier lede van die Liberale Party is egter in Junie 1960 ontsetel toe die Wet op Bevordering van Bantoe-selfbestuur (No. 46 van 1959) die verteenwoordiging van swartes in die parlement beëindig het.

Waar die blankes die Liberale Party se beleid as te radikaal van aard beskou het, was die nie-blankes weer van mening dat die party nie radikaal genoeg was nie. In 'n poging om groter nie-blanke steun te verkry en die polarisasie van nie-blankes in swart organisasies soos die ANC teen te werk, het die party daarop verder links beweeg. Dit blyk o.m. uit die agtereenvolgende antwoorde wat die party gegee het op die vraag wie almal mag stem - alle volwassenes of net beskaafde volwassenes? Op die party se eerste kongres in 1953 is daar by Cecil Rhodes se "equal rights for all civilized men" aangeknoop en 'n vorm van gekwalifiseerde stemreg is voorgestaan. Hierdie beleid is gekritiseer omdat dit 'n onderskeid getref het tussen eersteklas- en tweedeklasburgers. Op die party se tweede kongres in 1954 is gevolglik besluit dat algemene stemreg die einddoel is, maar dat daar moontlik aanvanklik, as 'n tussentydse maatreël, gekwalifiseerde stemreg sou wees. Ook hierdie toegewing het sommige lede nie bevredig nie. Tydens die kongres van 1960 is nog verder gegaan en bepaal dat alle volwassenes, beskaaf en onbeskaaf, die stemreg sou kry.

Die Liberale Party het van sy stigting tot sy ontbinding 'n sukkelende bestaan gevoer. Die totale getal lede (blank en nie-blank) het nooit 5 000 oorskry nie. In Mei 1968 is die party ontbind omdat die Wet op die Verbod van Politieke Inmenging (No. 51 van 1968) 'n verbod geplaas het op politieke partye wat veelrassig is.

In dieselfde maand dat die Liberale Party gestig is (Mei 1953), het senator Heaton Nicholls en 'n aantal ondersteuners van die VP weggebreek en die Unie-Federale party gestig. Hulle was t.g.v. die toekenning van groter magte aan die provinsies sodat die Engelssprekendes in Natal hul eie sake kon reël. Die ondersteuners van hierdie party was hoofsaaklik Engelssprekende Natallers wat hulle wou verset teen die toenemende invloed van Afrikaanssprekendes en die plan om 'n republiek in Suid-Afrika tot stand te bring. Hulle wou die reg hê om, indien 'n republiek tot stand kom, van die ander provinsies weg te breek en binne die Britse Statebond te blyl Hierdie U-FP kon egter nie eens daarin slaag om 'n setel in die Natalse Provinsiale Raad te wen nie. Dit was so goed as doodgebore.

In die somer van 1953-1954 is die VP verder verswak toe eers vier en later twee Volksraadslede teen die partyleiding in opstand gekom het. Hierdie ses rebelle, Bailey Bekker, Blaar Coetzee, Frank Waring, dr. Abraham Jonker, Arthur Barlow en dr. Vernon Shearer, was van die VP se konserwatiewe vleuel en het Strauss se onversetlike houding teenoor die regering se voorgenome verwydering van die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys afgekeur. Hulle was bereid om met die NP oor 'n k ompromis te onderhandel. Toe Strauss nie daartoe wou instem nie, het hulle uit die VP bedank. Daarna het hulle aanvanklik na hulself verwys as die Onafhanklike Verenigde Party, maar later die naam Konserwatiewe Party aangeneem. Uiteindelik het drie van hulle - Waring, Coetzee en Jonker - hulle by die NP aangesluit. Shearer het weer teruggekeer na die VP en Bekker en Barlow het uit die politiek verdwyn.

Die ontevredenheid in die geledere van die VP met Strauss se leiding, het gaandeweg toegeneem. Daar is vergelykings getref tussen hom en Smuts. Sommige het die skuld vir die afsplintering van die weerbarstige groepe op hom gepak. Andere het beweer dat hy nie die persoonlikheid vir 'n leier het nie. Hierdie kritiek, wat nie altyd heeltemal billik was nie, het daaroop uitgeloop dat die VP se Uniale kongres in November 1956 eenparig besluit het om Strauss deur sir De Villiers Graaff te vervang. Die nuwe leier was 'n jong man van 43 jaar, lid van 'n ou en gerespekteerde Kaapse familie, innemend van geaardheid, hoflik teenoor almal en waardig in sy optrede. Hy het egter nie oor die vermoë beskik om die massa te inspireer nie. Die nuwe leier kon ook nie voorkom dat die VP in die verkiesing van April 1958 verder veld verloor nie. In die Volksraad het die party se setels afgeneem van 57 tot 53.

In Augustus 1959 het nog 'n skeuring in die VP plaasgevind - hierdie keer veel ernstiger as die vorige kere. Dit was 'n skeuring tussen die konserwatiewe en die liberale. Op die VP se kongres in Bloemfontein het twee vrae opgeduik waarop antwoorde gegee moes word. Die eerste was: Moes die swartes se parlementêre verteenwoordigers d.m.v. 'n gemeenskaplike of aparte kieserslys verkies word? Die tweede was: Moes bykomende grond aangekoop word vir die swart tuislande? Die kongresgangers het verskillende antwoorde gegee. Wat die eerste vraag betref, het dr. Louis Steenkamp voorgestel dat die VP as beleid neerlê dat die swartes se parlementêre verteenwoordigers d.m.v. 'n aparte kieserslys verkies word. Dit was die bestaande stelsel wat in gebruik was sedert Hertzog se 1936-wette. Die konserwatiewe was dit eens met dié voorstel. Die liberale het beswaar gemaak. Hulle wou die deur oop hou vir 'n gemeenskaplike kieserslys waarvolgens blank en nie-blank vir dieselfde kandidate kon stem. Toe die aangeleentheid tot stemming gebring word, was die konserwatiewe ver in die meerderheid. Wat die tweede vraag betref, het die Natalse leier, Douglas Mitchell, voorgestel dat die VP hom moes uitspreek teen die aankoop van verdere grond vir die swart tuislande. As rede het hy aangevoer dat die NP se nuwe beleid van onafhanklike swart tuislande twee groot euwels tot gevolg sou  hê - die verbrokkeling van Suid-Afrika in 'n aantal klein staatjies en die skep van state wat 'n vyandige houding teenoor Suid-Afrika kon inneem. Die konserwatiewe het met hom saamgestem. Die liberale het so 'n beleid as suiwer opportunisme bestempel en verklaar dat dit in stryd was met die standpunt wat die VP sedert die aanvaarding van Hertzog se 1936-wette ingeneem het. Die leier van die VP, Graaff, het met die liberale saamgestem, maar hy kon nie verhinder dat die kkonserwatiewe 'n meerderheid behaal nie.

Die liberale minderheid was bitter ontevrede oor die koers wat die VP onder druk van die konserwatiewe meerderheid ingeslaan het. Vir hulle het dit voorgekom of die konserwatiewe daarop uit was om die rassistiese beleid van die NP te probeer oortref. Wanneer iets tot voordeel van die swartman geag is (soos die aankoop van verdere grond vir die swart tuislande), dan bestry die konserwatiewe dit. Die liberale het nie hulle weg oopgesien om langer met die konserwatiewe saam te werk nie en verskeie liberale, waaronder 12 Volksraadslede, het gevolglik uit die VP bedank.

In November 1959 het hierdie rebelle die Progressiewe Party gestig. Die leier van die nuwe party was dr. Jan Steytler, die voormalige leier van die VP in Kaapland. Een van diegene wat by die party aangesluit het, was die bekende en invloedryke sakeman Harry Oppenheimer.

Die Progressiewe Party het uitgegaan van die standpunt dat daar een Suid-Afrikaanse nasie is en dat daar binne hierdie nasie verskillende groepe onderskei kan word. Elke groep was geregtig op deelname aan die land se regering. Ten opsigte van die nie-blankes het die Progressiewe Party sy plek tussen die VP en die Liberale Party ingeneem. Dit was minder radikaal as die Liberale Party in die sin dat waar die Liberale Party een mens een stem as doelwit gestel het, die Progressiewe Party 'n vorm van gekwalifiseerde stemreg voorgestaan het. Dit was meer radikaal as die VP in die sin dat waar die VP blanke leierskap voorop gestel het, die PP toegegee het dat sy beleid tot 'n swarat regering kan lei.

Van 1959 tot 1961 het die PP oor 12 verteenwoordigers in die Volksraad beskik, maar in die verkiesing van Oktober 1961 is hulle op een na almal uitgeskakel. Slegs mev. Helen Suzman het daarin geslaag om 'n kiesafdeling (Houghton) vir die PP te verower.

Die agteruitgang van die VP in die vyftigerjare kan aan verskillende redes toegeskryf word. Een van die vernaamste redes is ongetwyfeld dat die kiesers nie genoegsame vertroue in die party se nie-blanke beleid gehad het nie. Die VP het wel 'n beleid van blanke leierskap verkondig, maar in die lig van die toenemende ontevredenheid onder die nie-blankes in Suid-Afrika en elders in Afrika, het die kiesers 'n duideliker, fermer en konsekwenter beleid verkies. Die NP se apartheidsbeleid het na hul mening groter sekuriteit vir die blankes gebied as die VP se beleid van blanke leierskap. 'n Tweede rede vir die VP se agteruitgang, lê in die party se onvermoë om genoegsame steun van die Afrikaanssprekendes te verkry. Die Afrikaanssprekende kiesers was en is aansienlik meer as die Engelssprekende kiesers en 'n party wat nie hulle steun het nie, kan nooiot in Suid-Afrika aan bewind kom nie.

Die stryd oor Kleurlingstemreg

In Maart 1951 het die Minister van Binnelandse Sake, dr. T.E. Dönges, 'n wetsontwerp by die Volksraad ingedien wat voorsiening gemaak het vir die verwydering van die stemgeregtigde Kleurlinge in Kaapland van die gemenskaplike kieserslys. Die sowat 47 000 Kleurlinge, wat maar slegs 3,1% van die totale aantal kiesers in Suid-Afrika uitgemaak het, sou op 'n aparte kieserslys geplaas word. Hulle sou die reg hê om vier blanke verteenwoordigers vir die Volksraad, een blanke verteenwoordiger vir die Senaat en twee blanke of bruin verteenwoordigers in die Kaapse Provinsiale Raad te kies. Hierdie Wetsontwerp of Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers, wat die kwalilfiserende Kleurlinge van 'n kieserslys verwyder het waarop hulle reeds vir 'n eeu was, het 'n hewige stryd ontketen - 'n stryd wat byna ses jaar geduur het.

Waarom wou die regering die Kleurlinge op 'n aparte kieserslys plaas? Die eerste en vernaamste rede was ongetwyfel 'n vrees dat die Kleurlinge met verloop van tyd die politieke mag uit die blankes se hande kon neem. Hoewel die stemgeregtigde Kleurlinge in 1951 slegs sowat 3,1% van die totale aantal kiesers in Suid-Afrika uitgemaak het, was die regering van mening dat hulle in die toekoms 'n bedreiging vir die blankes kon word. As bewyse vir hierdie standpunt is aangevoer dat daar in 1951 in Kaapland reeds 183 552 bruin kinders op skool was, teenoor slegs 170 223 blanke kinders; dat die Kleurlinge 'n veel hoër geboortesyfer as die blankes het; en dat die getal Kleurlinge dus van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder, sou verseker word dat die politieke mag in die hande van die blankes bly. Die opposisie het nie met hierdie standpunt saamgestem nie. Die Kleurlinge was vir hulle geen bedreiging nie, maar bondgenote van die blankes. En ter ondersteuning van hul standpunt het die opposisie hulle o.m. op die uitsprake van genl. J.B.M. Hertzog beroep. Hertzog se mening was dat daar 'n noue verbintenis tussen die Kleurling en die blanke was en dat die Kleurling daarom dieselfde politieke regte as die blanke behoort te hê.

Daar was ook 'n tweede rede waarom die regering die Kleurlinge op 'n aparte kieserslys wou plaas. Dit was omdat die Kleurlinge, wat niks wou weet van apartheid nie, in die reël nie die NP ondersteun het nie. In die provinsiale verkiesing van Maart 1949 het die VP m.b.v. die Kleurlinge twee setels van die NP verower. Die voorkeur wat die Kleurlinge vir VP" getoon het, was dus vir die regering 'n verdere aansporing om hulle op ' n aparte kieserslys te plaas. Dit sou verseker dat hulle geen verdere faktor in die blankes se politiek sou wees nie.

Toe die regering sy Wetsontwerp op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers voor die Volksraad lê, was hy daarvan bewus dat artikels 35 en 152 van die Zuid-Afrika Wet vereis dat enige verandering aan die Kleurlinge se stemreg alleen kon geskied d.m.v. 'n tweederde-mneerderheid in 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat. Daar was egter vooraanstaande regsgeleerdes in Suid-Afrika en in die buiteland wat gemeen het dat artikels 35 en 152, die sg. verskanste artikels,  nie meer verskans was nie. Hulle het verskeie argumente vir hul standpunt aangevoer. In die eerste plek het hulle beweer dat die Statuut van Westminster die Unie van Suid-Afrika in 1931 soewerein onafhanklik gemaak het. Die parlement van die Unie van Suid-Afrika het dus die reg verkry om die grondwet na willekeur te wysig - met of sonder 'n tweederde-meerderheid. Tweedens is aangevoer dat die Appèlhof in 1937 in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr bevind het dat die Suid-Afrikaanse parlement soewerein is, dat die parlement wetgewing langs die weg van enige prosedure, d.w.s. met of sonder 'n tweederde-meerheid, kon aanneem en dat geen hof die bevoegdheid besit om oor die geldigheid van 'n wet van die Suid-Afrikaanse parlement te beslis nie. Ten derde is betoog dat die bepaling van 'n tweederde-meerderheid nie in hierdie geval ter sake was nie, aangesien die Kleurlinge se stemreg hulle nie ontneem word nie, maar nul name  slegs op 'n aparte kieserslys geplaas word. 

Enkele regsgeleerdes het egter nie met hierdie argumente saamgestem nie. Een van hulle was prof. D.V. Cowen van die Universiteit van Kaapstad, wat van mening was dat die verskanste artikels in die grondwet nog steeds van krag was en dat daar dus 'n tweederde-meerderheid nodig was om die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder. In stryd met die mening van die meerderheid regsgeleerdes, het hy verklaar dat die Statuut van Westminster nie die verskanste klousules opgehef het nie en dat die Appèlhof se uitspraak in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr  verkeerd was. Die regering was egter vol vertroue dat sy regsadviseurs, wat op die mening van verskeie buitelandse gesaghebbendes gesteun het, reg was en die wetsontwerp is dan ook op die gewone wyse by die Volksraad ingedien.

Die leier van die opposisie, J.G.N. Strauss, het sonder versuim teen die prosedure beswaar gemaak. Hy het daarop bewys dat die wetsontwerp deur artikels 35 en 152 van die Zuid-Afrika Wet geraak word, wat impliseer dat dit deur 'n gesamentlike sintting van die Volksraad en die Senaat bespreek moes word en slegs met 'n tweederde-meerderheid aangeneem kon word. Die speaker, J.H. Conradie, het 'n lang uitspraak, wat swaar geleun het op die menings van Britse regsgeleerdes, die leier van die opposisie se standpunt verwerp. Hy het beslis dat die wetsontwerp op die gewone wyse deur die parlement geloods kon word. Die regering het dit dan ook gedoen en nòg die teenkanting van die opposisie, nòg die besware van die Kleurlinge en die proteste van die Torch Commando kon verhinder dat die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (no. 46 van 1951) aangeneem word.

Die opposisie wou nie daarmee genoeë neem nie en het die wet in die naam van vier Kleurlingkiesers hof toe geneem. In Oktober 1951 het die Kaapse Hooggeregshof bevind dat die Appèlhof se 1937-uitspraak in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr hom verplig om die geldigheid van die betrokke wet te erken. Die Kaapse Hooggeregshof was trouens nie by magte om 'n beslissing van die Appèlhof tersyde te stel nie. Die opposisie het die wet daarom na die Appèlhof in Bloemfontein geneem. Vyf regters - hoofregter A. van de Sandt Centlivres en appèlregters Greenberg, Schreiner, Van den Heeven en Hoexter - het ses dae lank na die argumente van die advokate geluister. In Maart 1952 het die Appèlhof sy opspraakwekkende uitspraak gegee Die eenparige bevinding was dat die betrokke wet ongeldig was, aangesien die parlement nie die korrekte prosedure gevolg het nie. Die Appèlhof het ten eerste bevind dat die Statuut van Westminster geen uitwerking op artikels 35 en 152 van die grondwet gehad het nie. Die betrokke artikels was steeds van krag en daarom kon 'n wysing rakende die Kleurlinge se stemreg slegs deur 'n tweederde-meerderheid in 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat aangebring word. Die Appèlhof het ten weede ook die 1937-uitspraak in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr verwerp omdat die regters toe sondeer meer aangeneem het dat die Statuut van Westminster artikels 35 en 152 herroep. Ten derde het die Appèlhof verklaar dat hy nie die argument kon aanvaar dat die betrokke wet geen aantasting van die Kleurlinge se regte was nie. Hierdie argument het volgens die Appèlhof daarop neergekom dat iemand van sy eiendom beroof mag word solank die rower bereid is om i ets van gelyke waarde in die plek daarvan te gee. Die Alppèlhof het dus bevind dat die Kleurlinge alleen op 'n afsonderlike kieserslys geplaas kon word as 'n tweederde-meerderheid in 'n gesamentlike sitting van beide huise van die parlement so besluit.

Die uitspraak het groot opslae gemaak. Die Eerste Minister, dr. D.F. Malan, het onmiddellik verklaar dat die regering die nodige stappe sal doen om die soewereiniteit van die parlement te verseker. Dit was vir hom ondenkbaar dat 'n wet van die parlement deur 'n hof ongeldig verklaar kon word. In 'n gesamentlike verklaring op 24 Maart 1952 deur die vier provinsiale leiers van die NP is na die grondwet verwys as "wetgewing deur 'n Britse parlement" en die VP is daarvan beskuldig dat hy die volk in 'n "toestand van konstitusionele slawerny" wou hou deur op die bepalinge in die grondwet te wys. Die vier leiers het dit duidelik gestel dat die regering nie by die uitspraak sou berus nie. "Staan saam." was hul wekroep, "in hierdie nuwe wending van die Vryheidstryd. Die geveg sal enduit gevoer word ... Geen kompromis is moontlik nie."(3)

(3) Die Transvaler, 25 Maart 1952, p. 2

Sowat 'n maand ná die uitspraak van die Appèlhof het dr. T.E. Dönges 'n wetsontwerp aan die Volksraad voorgelê waarin voorsiening gemaak is vir 'n Hoë Hof van die Parlement. Hierdie nuwe hof wat uit die lede van die Volksraad en die Senaat sou bestaan, sou die bevoegdheid besit om wette wat deur die Appèlhof ongeldig verklaar is, weer geldig te verklaar. Die opposisie het hierdie wetsontwerp met alle mag bestry, maar hulle kon nie verhinder dat die Hoë Hof van die Parlement 'n werklikheid word nie. In Augustus 1952 het die Volksraadslede en senatore van die NP in Pretoria as die Hoë Hof van die Parlement byeengekom en die Appèlhof se uitspraak oor die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers nietig verklaar. Enkele dae later is die Hoë Hof van die Parlement op sy beurt deur die Kaapse Hooggeregshof nietig verklaar. Die regering na die Appèlhof geappelleer, maar die appèkl is in November 1952 verwerp. Die Appèlhof het bevind dat die Hoë Hof van die Parlement geen geregshof kon wees nie, o.m. omdat sy lede nie regskwalifiskasies besit het nie. En bowendien was die Hoë Hof van die Parlement in stryd met die regsbeginsel dat niemand sy eie regter mag wees nie.

Hierdie uitspraak was 'n swaar slag vir die regering, maar nie die einde van die stryd oor die Kleurlilngstemreg nie. Die ontevredenheid wat omstreeks hierdie tyd in die VP ontstaan het oor die leiding wat Strauss gegee het, het die regering laat glo dat daar 'n moontlikheid bestaan dat hy die regtervleuel van die VP kon oorreed om sy saak te steun. In Julie 1953 het Malan gevolglik by 'n gesamentlike sitting van beide huise van die parlement 'n wetsontwerp ingedien met 'n drieledige doel: om die Wet op Afronserlike Verteenwoordiging van Kiesers geldig te verklaar; om die grondwet sodanig te wysig dat die nie-blankes se stemreg nie langer deur 'n tweederde-meerderheid verskans sou wees nie; en om die bevoegdheid van geregshowe te omskrywe.

Die regering se verwagting om die steun van die VP se regtervleuel te verkry, is egter nie bewaarheid nie. Met die finale stemming in September 1953 was daar 16 stemme kort vir 'n tweederde-meerderheid. In die maand daarop, Oktober 1953, het die regering weer probeer. Hierdie keer is die bepalinge oor die wysiging van die grondwet en die bevoegdhede van die geregshowe uit die wetsontwerp weggelaat. Voor die tweede lesing is die wetsontwerp egter na 'n gekose komitee verwys ten einde die kloof tussen die opposisie en die regering te probeer oorbrug. In Mei 1954 het die regering vir die derde keer 'ng esamentlike sitting van beide huise van die parlement belê om 'n tweederde-meerderheid vir sy wetsontwerp te probeer verkry. Hoewel die regering nou op die steun kon reken van die ses lede wat onder die leiding van Bailey Bekker van die VP weggebreek het, het in die finale stemming nog 9 stemme kortgekom vir 'n tweederde-meerderheid.

Nog was dit nie die einde van die uitgerekte stryd oor die Kleurlinge se stemreg nie. Malan is in Novermber 1954 deur Strijdom opgevolg en die nuwe eerste minister het laat blyk dat hy vasbeslote was om die stryd voort te sit. Daar is nou met die nuwe plan gekom om sowel die Appèlhof as die Senaat te vergroot. In Mei 1955 is die Wet op die Kworum van die Appèlhof (No. 27 van 1955) aangeneem. Dit het die aantal appèlregters van vyf tot 11 vermeerder wanneer oor die geldigheid van 'n wet beslis moes word. Die regering het blykbaar gemeen dat die ses nuwe appèlregters sy saak gunstiger gesind sou wees as die bestaande vyf. In Junie 1955 is ook die Senaatwet (No. 53 van 1955) in die wetboek geplaas. Hierdie w et het nie alleen die aantal senatore van 48 tot 89 vermeerder nie, maar ook die samestelling van die Senaat sodanig verander, dat die regering in die nuwe Senaat 77 senatore sou hê teenoor die opposisie se 12. Dit sou die regering van 'n tweederde-meerderheid verseker. Die taktiek wat die regering gevolg het om sy doel te bereik, het hewige reaksie uitgelok. Die opposisie het die vergroting van die Senaat bestempel as 'n verkragting van die grondwet. En selfs in die geledere van die NP was daar persone wat nie die regering se taktiek goedgekeur het nie. In Pretoria het 13 universiteitsdosente, almal ondersteuners van die NP, 'n petisie teen die vergroting van die Senaat geteken. Die proteste het niks gehelp nie. 

B.J. Liebenberg

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en Geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134