Die koms van die blankes onder Van Riebeeck

Toe die Drommedaris en die Goede Hoope op Saterdag, 6 April 1652, in Tafelbaai voor anker kom, het 'n nuwe tydvak in die geskiedenis van ons vaderland begin. Reeds meer as 50 jaar het talle skepe hul ankers in hierdie baai laat sak en was die berge die agtergrond vir tonele van vreugde en rampspoed. Dikwels het die matrose van verbyvarende skepe mekaar hier ontmoet en herstel gevind van die verwoestende skeurbuik. Dikwels ook het storms skepe uit,elaar gedruf, sodat die matrose die veilige strand nie kon bereik nie.

Die geskiedenis van al die dramatiese gebeurtenisse aan die voet van Tafelberg moet nog geskryf word. In die dagregister van die Kasteel Batavia word vertel hoe die gewese goewerneur-generaal Hendrik Brouwer in 1636 'n opstand onder sy vloot se bemanning onderdruk en agt van die belhamels in Tafelbaai "levendich over boort geseth" het. Die negende is drie maal gekielhaal en na Robbeneiland verban. Hoe lank hy daar geleef het, word nie vertel nie.

Nie alleen was die see langs die Afrikaanse kuste wispelturig nie; ook die inheemse bevolking, die swerwende Hottentotte, was onberekenbaar. Soms was hulle in die Tafelvallei met hul vee, gretig om ruilhandel te dryf, dan weer was hulle onwillig om van  hul beeste afstand te doen. In 1638 het hulle koopman Cornelis Specx en 14 van sy bemanningslede vermoor toe hulle hul te ver van die skepe gewaag het.

Met die wispelturigheid van die branding, die seestrome en die suidoostewind het die bemanning van die Nieuwe Haerlem kennis gemaak toe hul skip op 25 Maart 1647 in Tafelbaai gestrand het. Twee Nederlandse skepe wat saam met die gestrande Haerlem uit Batavia vertrek het, het vergeefs pogings aangewend om die skip vlot te kry en het met die vise-adminiraal, Reinier van 't Zum, vertrek, terwyl 40 lede van die bemanning van die Haerlem deur Engelse skepe na Europa teruggebring is. Aan die Kaap het onderkoopman Leendert Janszen met 60 lede van die bemanning agtergebly om so veel moontlik van die lading van die gestrande skip te red. Om hulself teen die Hottentotte te beskerm, het hulle 'n fortjie gebou, wat hulle Sandenburgh genoem het.

In Maart 1648 het 'n vloot van 12 skepe met 'n kosbare lading ter waarde van meer as twee miljoen gulden onder die gesag van Wollebrandt Geleijnsen die Kaap bereik. Vyf van die skepe, wat die eiendom van Amsterdam was, het opdrag gekry om die bemanning en die lading van die Haerlem aan boord te neem. Op een van die vyf skepe, die Coninck van Polen, het koopman Jan van Riebeeck na sy land teruggekeer.

Hierdie koopman wat so 'n groot rol sou speel by die vestiging van die Westerse beskawing aan die Kaap, is op 21 April 1619 in Culemborg gebore en het in 1639 as onderchirurgyn na Batavia gegaan. Ná sy aankoms in Batavia het hy as assistent in die Kasteel begin werk en in Mei 1642 is hy as sekretaris met 'n gesantskap na Atjeh gestuur. Die volgende jaar is hy bevorder tot onderkoopman en na Japan gestuur. So het hy die stad Tonkin en die kasteel Zeelandia op die eiland Formosa (Tai Wan) leer ken, asook die handel op die eiland Deshima in die Baai van Nagasaki. Vir die Kompanjie het hy skatte help verdien en hy is bevorder tot die rang van koopman.

In 1645 is goewerneur-generaal Antonio van Diemen, wat verwant was aan Van Riebeeck, oorlede en deur goewerneur-generaal Cornelis van der Lijn opgvolg. In 1647 het die Bewindhebbers in Nederland Van der Lijn daarvan beskuldig dat hy te veel amptenare toegelaat het om  hulself met die handel te verryk. Om homself te verdedig, het Van der Lijn ywerig begin soek na slagoffers. In Japan is ook Van Riebeeck aangekla van privaathandel en hy is teruggeroep na Batavia. Daar is het 'n klein bedrag beboet. Hoewel hy dus nie daarin geslaag het om sy onskuld te bewys nie, is hy tog met behoud van die rang van koopman en as betaalde amptenaar na Nederland terug. Amptenare wat op alle aanklagte skuldig bevind is, o.a. Jan van Riebeeck se oom, Gerrit van Harn, is sonder rang of betaling teruggestuur na Europa.

Nadat Van Riebeeck saam met ander lede van die vloot gehelp het met die bergingswerk van die goedere van die gestrande Haerlem en die 60 skipbreukelinge oor die skepe van Geleijnsen se vloot verdeel is, is die reis hervat. Aangesien die verversings aan die Kaap baie skaars was, is St. Helena aangedoen, waar die vloot van 21 April tot 5 Mei vertoef het. Eers in Augustus - 'n maand later as gewoonlik die geval was - het Geleijnsen se kosbare vloot die tuishawe bereik.

Van Riebeeck het in Amsterdam 'n verslag ingedien oor die handel in Tonkin. Daar is ook sy verdiende maandgelde, wat ƒ 1919:12:9 beloop het, aan hom uitbetaal. In Schiedam, waar hy sy kinderjare deurgebring en waar sy steirfmoeder nog gewoon het, het hy kennis gemaak met Maria de la Queillerie. Hierdie negentienjarige meisie, opgevoed in Rotterdam, waar haar vader predikant van die "Franse en Duytse Nederlandse Gereformeerde Gemeente" was, is op 28 Maart 1649 met hom in die eg verbind.(1) Die egpaar het in Amsterdam gaan woon, waar hul oudste seun op 20 Maart 1650 gedoop is. Hulle het hom Anthony, na Jan van Riebeeck se vader, genoem. 'n Tweede seun, Lambertus, is op 11 Augustus gebore, maar Anthony is op 9 September dieselfde jaar oorlede. (1 )Vgl. D.B. Bosman: Brieven van Johanna Maria van Riebeeck en ander Riebeeckiana, p.25.

Die lewe in Amsterdam het Van Riebeeck egter nie bevredig nie. Soos so baie van sy landgenote het hy onder die bekoring van die lewe in die Ooste gekom. Toe hy hoor dat die Bewindhebbers besluit het om aan die Kaap 'n "rendevous en sterckte" (soos hulle dit genoem het) op te rig, het hy sy dienste aangebied. Ondersoek is ingestel na sy persoonlikheid en gedrag en daarna is hy gevra om skriftelik 'n mening uit te spreek oor 'n "remonstrantie" of vertoog wat Leendert Janszen en M. Proot oor die Kaap ingedien het.

In sy antwoord het Van Riebeeck gewys op die voordele van 'n nedersetting aan die Kaap en twens die hoop uitgespreek dat hy in aanmerking sou kom vir bevordering in die Ooste. Sy aanstelling het gevolg. Met 'n maandgeld van 75 gulden het hy hom op 16 Desember met sy vrou en seuntjie Lambertus op die Drommedaris ingeskeep.

'n Vlootjie van vyf skepe het onder sy bevel gestaan. Twee was te swaar gelaai en kon nie saam met die ander vertrek nie, maar die Drommedaris, Reyger en Goede Hoope het Texel op 24 Desember verlaat. Die Drommedaris en Goede Hoope het die Kaap op 6 April 1652 bereik, die Reyger die volgende dag en die Walvis en die Oliphant op 7 Mei.

Van Riebeeck se opdrag was duidelik. Hy moes 'n fort bou met die naam Fort de Goede Hoop, waarin ongeveer 80 mense gehuisves kon word. Hulle sou help tuinmaak, vrugtebome plant en vir bou- en weiland sorg. Opdrag is gegee om die koste van die onderneming laag te hou! 'n Mas om seine aan die skepe te gee, moes opgestel en loodsbootjies gebou word sodat die vloot veilig binnegelei kon word.

Uit alles blyk dit dat die onderneming hoofsaaklik daarop gemik was om die vloot te beveilig en van goeie verversings te voorsien. Streng opdragte is uitgereik om met die inboorlinge in vrede te lewe en ook vreemde moondhede wat hulle aan die Kaap wou vestig, moes met rus gelaat word. Die Kaap, het Here XVII gemeen, was groot genoeg om meer as een volk in vrede langs mekaar te laat lewe, elkeen binne sy eie afgebakende gebied.

Die organisasie onder wie se bewind die Kaap gestaan het, was bekend as die Vereenighde Oostindische g'octrooijeerde Compagnie. Die bestuur van die V.O.C. was in hande van 'n raad van 17 Bewindhebbers, bekend as Here XVII, wat ses agtereenvolgende jare in Amsterdam en dan twee jaar in Middelburg sitting gehou het. Hulle i s gekies uit 60 Bewindhebbers, koopmanne wat in ses bestuursliggame ingedeel was. Hierdie groepe, bekend as Kamers, het elkeen sy eie skepe uitgerus en sy eie seelui gewerf. Die 20 koopliede uit die Kamer van Amsterdam het agt, die twaalf uit die Kamer van Zeeland vier en die sewe koopliede uit elk van die Kamers van Rotterdam, Delft, Hoorn en Enkhuizen een lid elk na die Vergadering van XVII gestuur. Die sewentiende lid is beurtelings deur al die Kamers, behalwe dié van Amsterdam, afgevaardig. Só het Amsterdam nooit 'n volstrekte meerderheid gehad nie.

In Maart 1602 het die V.O.C. deur middel van 'n oktrooi wat telkens verleng is, groot magte ontvang van die hoogste gesag in die Nederlande, die State-Generaal. Hierdie oktrooi het hulle 'n handelsmonopolie ten ooste van die Kaap die Goeie Hoop tot aan die Straat van Magellaan verleen. Hulle kon kontrakte sluit met "Princen ende Potentaten" en is toegelaat om goewerneurs, soldate en "officieren van justitie" aan te tel om die regering waar te neem en die orde in hul gebiede te handhaaf. Forte kon gebou en soldate gewerf word.

Die eerste plek waar Here XVII ten volle van hul mag gebruik gemaak het, was Djacatra, wat in 1619 gestig en in 1621 Batavia genoem is. Hier is 'n goewerneur-generaal aangestel; bygestaan deur die Raad van Indië, wat ook oor die Kaap gesag uitgeoefen het. Behalwe aan Here XVII moes Jan van Riebeeck dus ook aan die Goewerneur-Generaal en Rade van Indië verslag doen van alles wat aan die Kaap gebeur het. Die dagregisters, waarin die daaglikse gebeurtenisse geboekstaaf is, die resolusieboeke, waarin die besluite van die Raad aan die Kaap opgeteken is, asook die plakkaatboeke, memories, instruksies en reisjoernale, moes almal na Amsterdam, Middelburg en Batavia gestuur word. Antwoorde met opdragte en instruksies het die Kaap vanuit sowel Amsterdam as Batavia bereik.

Die eerste vyf jaar

Reeds op die skip Drommedaris het Van Riebeeck opgetree as gesagvoerder oor die nedersetting wat hy aan die Kaap moes gaan stig. Aan boord het hy die gebed wat later as Van Riebeeck se gebed bekend sou staan, eiehandig in die resolusieboek geskryf. Die resolusies van 30 Desember 1651, 20 Januarie en 29 Maart 1652 het hy ook self geskryf. Toe die werk egter op Maandagmore, 8 April, in alle erns begin, was daar vir Jan van Riebeeck geen tyd meer om self die resolusies neer te skryf nie, want onder die mense wat hom na die Kaap vergewsel het, was daar na die vertrek van die skepe volgens Van Riebeeck se eie opgaaf, slegs 90 "swacke oncundige" mense wat in alles van hom leiding verwag het. Hy moes almal van raad dien en as boumeester, grawer, tuinier, boer, timmerman, messelaar en smid het hy sy hande vol gehad om almal aan die gang te hou. Geen wonder nie dat hy vyftien dat ná sy aankoms reeds verlang het na "eenige laboreuse Chinesen", aangesien hy met so min mense nie 'n honderdste deel van die vrugbare aarde wat hy om hom heen gesien het, onder die ploeg kon kry nie.

Hoewel Van Riebeeck reeds in sy eerste brief aan Batavia geskryf het dat daar aan die Kaap genoeg werk vir duisend mense was en hy in tye van siekte slegs 60 en soms nie meer nie as 50 man op die been gehad het om al die werk te doen, is dit tog merkwaardig hoeveel hy gedurende die eerste jaar tot stand gebring en hoeveel struikelblokke hy een vir een uit die weg geruim het.  Hoewel die grond waar die fort se fondamente gegrawe moes word a.g.v. 'n langdurige droogte kliphard was, kon die naamgewing van die vier punte of bolwerke reeds op 15 Mei geskied. Die punte is na die vier grootste skepe in die stigtingsvloot genoem en die fort sou bekend staan as 't Fort de Goede Hoope.

Toe die winter aanbreek met "uijtermaten swaren h agel- en regenbuijen", het almal nog in ondigte tente van hout en seildoek gewoon. Die eerste groente en plant het weggespoel, die mense - ook Van Riebeeck se vrou - het siek geword, die vrou van die opperchirurgyn is oorlede, die werk aan die fort is bykans tot stilstand gebring en dit was vir almal, soos Van Riebeeck in die dagregister laat skryf het, "een arm ende ellendich leven". Tog is daar reeds op 4 Junie vir die eerste gesin 'n plek gevind in die fort en op 6 Junie is Bernert Willemsz Wijlant, die seun van die sieketrooster, gebore. Op 3 Augustus was die noordpunt, Reijger, voltooi en het almal in die fort gaan woon, waar die gebrul van die leeus minder skrikwekkend geklink het as voorheen.

Nadat die eerste winter verby was, het alles beter gegaan. 'n Groot verskeidenheid groente het goed geaard en die bemanning van die jag Goede Hoope is op 13 Oktober getrakteer op "hier aen de Caep aengefockte hoenders" en vars groente. Die fort was in September reeds "redelijck in deffentie" en toe die Hottentotte met beeste, skape, volstruise, ivoor en muskeljaat opdaag, is hulle aangemoedig om in steeds groter getalle na die fort te kom. Die eerste botter is op 26 Desember gekarring en aan die mond van die Soutrivier het Van Riebeeck met traankokery begin. Die traanketels sou later deur 'n fortjie, Duijnhoop, beskerm word.

Toe die eerste retoervloot uit Batavia in Maart 1653 onder admiraal Gerard Demmer aankom, was Van Riebeeck in staat om die skeepsvolk dadelik van "coebeesten", skape, kool, wortels en melk te voorsien was die admiraal baie tevrede met "onse fortificatie". Van Riebeeck het daarop gewys dat sy eie mense vanweë die aanhoudende arbeid afgemat was en Demmer gesmeek om toe te laat dat hy 200 matrose van die retoervloot 'n paar weke lank in die werk steek om die fort te help voltooi. Demmer het toegelaat dat rys, vleis en brood uit sy skepe gehaal word om die Kapenare te help voed, maar wou nie hê dat sy eie mense moes werk nie. Hulle was ook afgemat van die lang reis en moes rus. Toe Van Riebeeck later te doen gekry het met vlootvoogde wat hom nie belet het om matrose van verbygaande skepe te laat werk nie, is hy ernstig berispe deur goewerneur-generaal Joan Maetsuijcker, wat hom daaraan herinner het dat die Kaap nie gestig is om gesonde mense siek te maak nie, maar juis om siekes gesond te maak.

Aangesien die eerste see-oorlog teen Engeland aan die gang was, het Here XVII Van Riebeeck toegelaat om sy garnisoen met 25 man uit die verbygaande skepe te versterk. Behalwe 15 vroue en kinders was daar nou 136 man aan land en Van Riebeeck was oortuig dat "mettertijd hier een gezegende plaetse van de Caep zou groeien". Terselfdertyd het hy in 'n brief aan Here XVII sy spyt betuig dat hulle nog  nie daaraan gedink het om hom na Indië te bevorder nie en het hy gevra dat sy salaris van 75 tot 150 gulden verhoog word! In antwoord hierop het die Bewindhebbers op 15 April 1654 geskryf dat hulle hom die titel Kommandeur(2) sou gee, met 90 gulden per maand en nie sou nalaat "op desselfs vrlossing bij gelegentheijt nader te dencken". Voorlopig, het hulle met reg gemeen, doen hy goeie werk aan die Kaap.   (2)Jan van Riebeeck is aangestel as koopman en "opperhoofd" van die Kaap. Die eerste briewe uit Batavia is gerig "aen den coopman Johan van Riebeecq". Here XVII het hom in hul eerste briewe egter "kommandeur" genoem. Daarom het hy homself waarskynlik opperkoopman genoem, met die versoek aan Here XVII in sy brief van 14 April 1653 dat hulle hom ook in debita forma so noem, sodat hy nie vir 'n koopman aangesien word wanneer hy in Indië kom nie.

Van Riebeeck het sy tweede jaar aan die Kaap dan ook vol moed begin. Meer grond is bemes en die tuin is vergroot. Wingerdstokke, bome en plante  is ingevoer uit Brasilië, St. Helena, Batavia, Ambon, Japan, Spanje, Frankryk, Mauritius en Madagaskar. Aan die verlof om sy garnisoen te vermeerder, het Van Riebeeck 'n rekbare vertolking gegee en spoedig was hy besig om met 'n garnisoen van 150 en later 170 man aan die fort te werk, sodat Maetsuijcker op 7 November 1654 geskryf het dat hy die garnisoen met 50 man moes besnoei. Voordat hierdie opdrag uitgevoer is, het die werk egter vinnig gevorder. Die houthuise op die plein binne die fort is vervang deur "een vierkant huis van  hier gevonden steen". Die mure van dié huis was vier voet dik. Die houtbalke is met veel moeite uit die bosse gesleep. Die woonhuise was bo en die onderste deel is as pakkamers ingerig. Die fort self was teen die einde van die jaar 1653 voltooi. Die mure het altans gedurende die winterreëns van daardie jaar staande gebly.

In ander opsigte was dit geensins 'n voorspoedige jaar vir die amptenare aan die Kaap nie. Die tolk Herry, aanvoerder van 'n klein klompie Strandlopers of "Watermans", het op Sondag 19 Oktober 1653 die beeswagter David Jansz vermoor en met byna die hele veestapel die loop geneem. Van Riebeeck was diep geskok dat "den tot tolcq aengenomen hottento Herrij, die doorgaens van onse taeffel als een groot vrunt alle dagen is gespijst met Hollantse cleederen gecleet", so iets kon doen. Hoewel Herry agternagesit is, is hy nie opgespoor nie. Kos het skaars geword en toe die retoervloot in die herfs van 1654 by die Kaap verbygeseil het, het Van Riebeeck onrustig geword, "alsoo al seer beginnen te verhongeren". 'n Galjoot is na Saldanhabaai gestuur om vis en pikkewyneiers te gaan haal. 'n Ander galjoot, die Tulp, is na St. Helena gestuur om die retoervloot daar op te spoor en rys vir die Kaap te gaan haal en die Roode Vos na Madagaskar en Mauritius.

So het die derde winter aangebreek en het party van die mense opstandig geword omdat daar meer werk en minder kos vir hulle was. Ene Jan Danielsz van Veurne, "in de wandelingh toegenaemt doctor", het met twee messe rondgeloop en duistere toespelings gemaak dat hy sou weet teen wie om dit te gebruik indien  hulle net soos die vorige jaar "soo weynich te eten crijght ende evenveel wercken moeten". Van Riebeeck het dadelik opgetree. Jan Danielsz is veroordeel tot 100 houe; daarna sou hy gekielhaal word en moes ses maande in kettings en sonder gasie werk. Hy het dié strawwe oorleef, want hy is reeds in Augustus 1654 op vrye voet gestel om die heuglike tyding te vier dat die Vrede van Westminster 'n einde gemaak het aan die eerste see-oorlog teen Engeland. As daar in aanmerking geneem word dat die mure van die fort geen weerstand teen die winterreëns kkon bied nie, is hierdie vreugde begryplik.  Reeds op 1 Augustus 1654 het die bolwerk Walvis ineengestort en in Junie van die volgende jaar moes Van Riebeeck toegee dat die fort besig was om te verbrokkel, "sulcx dat mettertijt wel nootsaeckelijk 't fort sal moeten met steen opgemetselt worden".

Die herbou van die fort het egter in vredestyd nie in die middelpunt van die Bewindhebbers se belangstelling gestaan nie. Hoofsaak was dat die skepe goed versorg word en dat die Kaap so gou moontlik selfversorgend moes wees. Wat die eerste doelwit betref, het dit in die vierde en vyfde jaar van Van Riebeeck se verblyf aan die Kaap goed gegaan. Nie alleen is Nederlandse vlootvooge en hul skeepsvolk goed onthaal nie, maar ook Engelse en Franse is aan die tafel van die Kommandeur "fray getracteert ende verwillecompt" en het met allerhande verversings vertrek. Selfs hul siekes is in die Kompanjie se hospitaal versorg, soos blyk uit die dagverhaal van 12 Desember 1655. Hiervoor, skryf Van Riebeeck, was  hul dankbaar en het hul belowe "alles tendancke te compenseren".(3) Hulle het belowe  "om alles uit dankbaarheid te vergoed".

Die hoop om die Kaap selfversorgend te maak, het egter 'n wensdroom gebly. Die  uitvoer van robbevelle het 'n totale mislukking geword en geen edele metale is "tot soulaes van Comps, hier dragende oncosten"(4) gevind nie. Aangesien die wind die koringoes verniel het en Van Riebeeck nie daarin kon slaag om rys aan die Kaap te laat ryp word nie, moes rys ingevoer word. Namate die werk meer geword het, het die aantal amptenare toegeneem, wat beteken het dat meer kos ingevoer moes word en die Kompanjie se uitgawes gestyg het. In sy eerste brief aan Batavia  het Van Riebeeck 'n oplossing aan die hand gedoen toe hy geskryf het dat dit nie ondienstig sou wees nie om "eenige vrije luijden, 't sij uit India off vaderlandt" te laat kom om die werk te help verrig. (4)"tot verligting van die Kompanjie se onkoste aan die Kaap".

Die Bewindhebbers het 'n paar jaar later tot dieselfde gevolgtrekking kom. In 'n brief van 6 Oktober 1654 skryf  hulle dat 'n sekere skipper, avid Claesz Swaegh, vertel het dat Houtbaai 'n baie geskikte plek sou wees vir die vestiging van 'n paar Nederlandse huisgesinne. Van Riebeeck het op 28 April 1655 geantwoord dat dit onnodig en onwenslik was om vryburgers so ver van die fort te laat woon. Die oewers van die Versse Rivier, later bekend as die Amstel en daarna as die Lilebeeck, sou geskikter wees. Daar waai die wind nie so hard as in Tafelberg se vallei nie. Hy doen aan die hand dat die burgers hul produkte teen vasgestelde pryse aan die Kompanjie verkoop en toegelaat word om hul inkomste verder aan te vul d.m.v. die jag, die visvangs, die aanhou van varke en pluimvee en miskien biermakery. "Om deselve te eerder op de been te helpen:(5) sal dit ook nodig wees om slawe aan die vryburgers te verkoop. Drie maande later skryf hy aan Here XVII dat verskeie amptenare aan die Kaap hulle bereid verklaar het om vryburgers te word, maar dat hy ook die koms van gesinne uit Nederland wat die landbou kan behartig, sal verwelkom. (5)"om die vryburgers vinniger te laat slaag".

Hoewel die Bewindhebbers hom reeds in hul brief van 30 Oktober 1655 toestemming gegee het om amptenare "in vrijdom te stellen" en in hul brief van 12 Oktober van die volgende jaar hul tevredenheid te kenne gegee het met die feit dat daar nou voldoende "aertvruchten" en skape aan die Kaap was om die vlote te versorg, het hulle hom gemaan dat dit hoog tyd was om die Kaap selfversorgend te maak. Die middel daartoe, het hulle gemeen, was die oordrag van werk aan vryburgers, aangesien die werk dan "veel oncostelijcker sal cunnen verricht worden".(6) "aangesien hulle die werk baie billiker sou kan doen".

Wat die oordrag van werk betref, was reeds 'n proefneming gedoen met die verpagting van 10 melkkoeie op 1 Oktober 1655 aan die tuinman Hendrik Boom wie se vrou "in 't vaderlant met boerenwerck" vertroud was. Van Riebeeck het egter besef dat die vestiging van vryburgers aan die Kaap 'n baie ingrypender verandering sou wees en hy het met groot omsigtigheid te werk gegaan. By "'t ronde doornbosjen" word in Mei 1656 die eerste graan gesaai en ndat hierdie eerste oes slaag, word 'n tweede proefneming met welslae bekroon. Op 5 Desember 1656 laai die Kommandeur "alle de Nederlantsche vrouwen van de Caep" op 'n wa om aan hulle te wys hoe pragtig die koring, tabak en boontjies by Rondebosch vorder.

Die vryburgers

Op 3 Februarie 1657 laai Van Riebeeck hout by Rondebosch af om 'n fortjie te laat bou wat die koringlande van die vryburgers sou beskerm. Hierdie fortji is Coornhoop genoem. Twee dae later het hy die brief van 12 Oktober 1656  ontvang met die pertinente opdrag om "een man 8 - 10" in vryheid te stel om die boerdery te behartig. In dieselfde brief is hom meegedeel dat sy salaris tot 130 gulden verhoog is, maar dat hulle hom nog nie wou oorplaas na die Ooste nie. Hulle het hom nodig gehad om die handel met Madagaskar en Angola te reël  en deel hom tewens mee dat hulle van plan is om Mauritius "onder de Caep te betrekken".(7) onder die bestuur van die Kaap te plaas". Terselfdertyd stel hulle hom in kennis dat Rijckloff van Goens die Kaap op sy terugreis na Indië sou besoek en dan verslag lewer oor wat daar tot stand gebring was. As kommissaris sou hy voorsitter wees van die vergadering van die Politieke Raad, die bestuursliggaam bestaande uit die kommandeur, sekunde, fiskaal en sekretaris.

Nog vóór Van Goens se kkoms, toe die Raad op 21 Februarie 1657 vergader het, is die vryburgers in twee groepe verdeel. Steven Jansz van Wageningen en drie ander het hul plasies De Hollantsche Tuijn genoem. Hulle was ook bekend as Stevenscolonie en het nader aan die fort gewoon as Harmans Colonie, waar Harman Remajenna met vier ander hul plaas 't Groene Velt genoem het.

Van Goens, wat van 17 Maart tot 19 April aan die Kaap was, het op 16 April 1657 'n uitvoerige Instruksie onderteken wat hy aan die Kommandeur oorhandig het. In ooreenstemming met die wense van Here XVII het hy hom beveel om nie meer as 100 amptenare aan die Kaap te hê nie en die getal so spoedig moontlik tot 70 te verminder. Hy het verwag dat Van Riebeeck met hierdie paar mense eers twee waghuise sou bou en dan later 'n fortjie by die Bosheuvel, 'n hawehoof vir die skepe in Tafelbaai en 'n beeskraal in Rondebosch, maar dat hy veral die landbou moes behartig en die tuin van die Kompanjie vergroot. Hy het egter aan Van Riebeeck toestemming verleen om van die verbygaande skeepsvolk gebruik te  maak indien hy die goedkeuring van die skeepsowerhede kon verkry. Mettertyd moes nuwe pakhuise in die fort gebou en die kanaal dwarsdeur die skiereiland gegrawe word om die Hottentotte uit die blankes se gebied te hou.

Wat die vryburgers betref, is die tiende vrybrief tydens Van Goens se verblyf aan die Kaap uitgereik. Hy het Van Riebeeck dit op die hart gedruk dat hy die vryurgers op alle moontlike maniere moes aanmoedig. Hulle moes toegelaat word om met die Hottentotte ruilhandel te dryf, hul ploeë moes drie jaar lank kosteloos deur die Kompanjie se smid herstel word. Die vergunning om tabak te verbou wat aan Stevenscolonie toegestaan is, het hy teruggetrek omdat dit die verkoop van tabak deur die Kompanjie aan die Kaap sou benadeel. Dit is opvallend dat Van Goens reeds  in 1657 waarsku dat die Kompanjie aan die amptenare nie dieselfde voorregte as aan die vryburgers moet verleen nie, omdat "de vrije luijden hier" nie sou kan leef nie, "soo de dienaren deselfdepreminentien hadden".(8) Omdat die vryburgers geen bestaan sou kon maak nie, indien die amptenare dieselfde voorregte sou hê. Die reg om vis te vang, moet egter aan almal toegestaan word, terwyl niemand mag jag sonder uitdruklike goedkeuring van die kommandeur nie.

Ooreenkomstig die Kompanjie se gebruik elders het Van Goens as eerste burgerraad Steven Jansz van Wageningen aangestel. Sy sitplek sou tussen die sekunde en die sersant wees, indien een van die vryburgers voor die regbank moes verskyn. Dit was in ooreenstemming met die beginsel van die Kompanjie dat die beskuldigde deur iemand van sy eie klas op die regbank verteenwoordig moes word. Die volgende jaar is Hendrik Boom, wat ook vryburger geword het, as tweede burgerraad deur Van Riebeeck aangestel. Elke jaar het een burgerraad afgetree en het die Kommandeur en sy Raad 'n ander uit 'n dubbele lys name aangestel.

Verder tref Van Goens voorsorgmaatreëls t.o.v. die verwagte slawe. Wanneer hulle aankom, moet die vryburgers eerste geholpe raak. Die amptenare moet egter toesien dat geen Portugees met die slawe gepraat word nie "ende sal UE geen tael als ons Moedertael tegens de slaeven gebruijcken".

Die omgang met die Hottentotte

Uit Van Goens se rapport blyk dat hy en Van Riebeeck die Kompanjie se Hottentotbeleid breedvoerig bespreek het. Aangesien Van Goens die Kaap in April 1655 besoek het, was hy reeds volkome op hoogte van wat voor daardie datum gebeur het. Hy het geweet hoe moeilik dit vir Van Riebeeck was om, nadat Herry verdwyn het, die ruilhandel met die Saldanhars weer op dreef te kry. Van Riebeeck het hom vertel van 'n groepie Hottentotte wat naby die Fort gekom en so astrant geword het dat hulle selfs die koperknope van die kinders se klere afgeruk het. Soldate moes gebruik word om die werkvolk teen hierdie groep Hottentotte te verdedig.

Die kommandeur het die kommissaris ook ingelig oor die Kaapmans wat baie beeste gehad het, maar nie gretig was om ruilhandel te dryf nie. Dikwels het hy groot troppe beeste en skape in die nabyheid van die Fort gesien, maar as die Hottentotte geen ruilhandel wou dryf nie, was hy magteloos om iets te doen. Ook kon hy hulle nie as arbeiders gebruik nie, wat as hulle een dag hout uit die bosse help dra het, was hulle die volgende dag moeg. Tot volgehoue werk was hulle nie in staat nie.

Nou, twee j aar later, het Van Riebeeck hom meer vertel oor sy moeilikhede met die Hottentotte. Herry het in Junie 1655 teruggekom met die bewering dat die Kaapmans, en nie hy nie, die beeswagtertjie vermoor en die vee gesteel het. Hoewel Van Riebeeck Herry nie geglo het nie, word hy nie gestraf nie en maak die kommandeur gebruik van sy dienste waar hy kan. Herry word saam met korporaal Willem Muller die binneland ingestuur om ruilhandel te dryf en bedrieg hom. Muller kom by die Fort terug sonder beeste; Herry kom twee maande later met 13 beeste vir die Kompanjie en die storie dat die koper in die nag deur sy vyande gesteel is. Weer glo Van Riebeeck hom nie, omdat Herry nou self ook 'n hele klomp beeste en skape besit. Hoe anders sou hy hulle in die hande gekry het as met die koper, die vernaamste artikel vir die ruilhandel wat hy van die Kompanjie gesteel het?

Om diefstalle te voorkom, het Van Riebeeck die meeste van die skape wat hy deur die ruilhandel bekom het, oorgeplaas op Robbeneiland. Hoe om Herry, die Kaapmans en die Saldanhars, met wie die meeste ruilhandel gedryf is, te behandel, het hoofbrekens gekos en Van Riebeeck het die Hottentotbeleid binne en buite die Raad met Van Goens bespreek. Hulle het saamgestem dat die Saldanhars, wat in die noorde gewoon het, die meeste vee besit en ook gewillig sou wees om ruilhandel te dryf, indien Herry en sy "g'allieerdes"(9) dit nie verhoed nie. Hulle het saamgestem dat daar drie maniere was om 'n gereelde toevoer van vee na die Kaap te verseker. Dit sou moontlik wees om Herry en sy volgelinge dood te slaan of weg te voer. Dit sou egter "barbaars en onchristelijck" wees en daarom sou dit deur God gehaat en gestraf word. Die Bewindhebbers sou dit ook nooit goedkeur nie. Om in vrede en vriendskap met al die Hottentotstamme te lewe, het Van Riebeeck gesê, was onmoontlik. Daarom het daar net 'n derde moontlikheid oorgebly "te weten haer af te snijden op den pas, door middel van omse fortificatiën en wachthuijsen".(10)

(9)bondgenote. (10) ...te wete om hulle d.m.v. forte en waghuise te keer.

Hierdie derde metode van gebiedskeiding is as beleidsrigting aanvaar. Van Goens sou liewer gesien het dat Van Riebeeck 'n kanaal moes bou wat van die Skiereiland 'n eiland sou maak, maar Van Riebeeck het aangetoon dat dit te duur sou wees. Verder het Van Goens Van Riebeeck beveel om soos in die verlede die Hottentotte "met alle sachtmoedigheijt" aan sy kant te kry. As hulle dan nog roof en steel, kan die oortreders na Robbeneiland gestuur word. Indien die skuldiges nie gevind kan word nie, kan Van Riebeeck stamgenote van die skuldiges op Robbeneiland hou, totdat hulle die regte man aanwys. Wanneer daar gemoor word en die moordenaar gevang word, moet die doodsvonnis indien moontlik deur sy eie mense voltrek word. Hierdie instruksies van Van Goens was van groot betekenis, omdat hulle inderdaad later toegepas is.

Laaste jare van Van Riebeeck se verblyf aan die Kaap

Die welwillendheid wat op aanbeveling van Van Goens as maatstaf vir die behandeling van die vryburgers vasgelê is, het 'n goeie uitwerking gehad. Die monsterrolle toon dat daar in 1658 reeds 15 boere, 2 kleremakers, 2 jagters ("wiltschutten" genoem), 1 dokter, 3 traankokers en vissers, 1 houtsaer, 2 timmermans en 24 knegte was. Die getal amptenare het op 91 gestaan, die aantal vroue en kinders op 22. Saam met 10 bandiete en 16 slawe moes 189 monde aan die Kaap gevoed word. Kommissaris Joan Cunaeus, wat die Kaap daardie jaar besoek het, was van mening dat dit meer as genoeg was. Solank hulle nog vir hul voedsel van die Kompanjie afhanklik was, behoort hul getal nie verhoog te word nie. Die amptenare, wat deur Van Goens verbied is om tuin te maak, is deur Cunaeus toegelaat om hul eie groente te verbou, met die uitdruklike opdrag dat die grond by hul vertrek aan die Kompanjie teruggegee moes word.

Ook die kommandeur het grond gekry, maar blykbaar nie op voorwaarde dat hy dit aan die Kompanjie moes teruggee nie. Hierdie grond het eers agter Leeukop gelê, maar Van Riebeeck het dit spoedig verruil vir grond agter die Windberg, wat hy Bosheuvel genoem het. Soos uit die Transporten en Schepenenkennisse blyk, het Van Riebeeck ook grond besit ten suide van die fortjie Coornhoop, asook tussen Soutrivier en die land van Hendrik Boom. Op laasgenoemde plaas het "seecker huijs, bijhuijsje erve en crael" gestaan, waaraan die naam Uijtwijck gegee is. Die meeste werk het hy egter op sy plaas Bosheuvel verrig. Daar het hy nie alleen koring geoes om aan die Kompanjie te verkoop nie, maar ook volgens eie opgawe voor sy vertek 1 244 vrugtebome en 'n paar duisend wingerdstokke geplant. Hierdie plaas wou hy voor sy vertrek aan die Kompanjie verkoop, maar toe hy nie daarin slaag nie, het Jacob Cornelis van Rosendaal dit gehuur en later, in November 1665, vir 1 600 gulden gekoop

Dat Van Riebeeck in 'n tydperk van skaarste amper net soveel morg onder die ploeg gebring het as die amptenare, was onder die omstandighede prysenswaardig. Hy het sy toesig oor die vryburgers nie daardeur verwaarloos nie en kon hulle deur sy kennis van die boerdery des te beter help. Hul klagte teen die einde van die jaar 1658 oor die lae pryse wat die Kompanie gewillig was om vir hul produkte te betaal, kon hy regverdig, maar aan hul dreigemente het hy hom nie gesteur nie. Hulle het beslis vir hom ontsag gehad. Ondanks sy harde werk moes hy egter in die loop van 1661 toegee dat die vryburgers aan die Kaap "op verre na uijt den landtbouw van haer coren tot spijse niet connen werden gevoer".(11) Daar moes dus rys ingevoer word - hoe meer burgers, hoe meer rys. Gevolglik het Here XVII in hul brief van 23 Augustus 1661 gelas dat slegs amptenare wat wou boer, in vryheid gestel moes word. Origens moes die aantal vryburgers so klein moontlik gehou word.

(11)Hy moes toegee dat die vryburgers glad nie genoeg koring geoes het om in hulle eie behoeftes te kan voorsien nie.

.Al die bedrywighede van die vryburgers het die Hottentotte, veral die Kaapmans, nie aangestaan nie. Toe hulle in Julie 1657 begin ploeg, vertolk Herry die gevoelens van die Kaapmans, wat hulself beskou het as die wettige eienaars van die land en vra waar hulle nou moet gaan woon en weiveld vind vir hul kuddes. Van Riebeeck antwoord dat die land groot genoeg is vir almal. Ook sal die Hottentotte kan deel in die opbrengs van die land.

In die loop van hierdie jaar leer Van Riebeeck ook die name van die omringende Hottentotstamme. Herry en sy Strandlopers word nou Goringhaiconas, die Kaapmans Goringhaikwas en die Saldanhars Cochokwas. 'n Ander groep Saldanhars was bekend as die Charigurikwas. Hy het ook die Hottentotname van hul  kapteins leer ken. Herry se Hottentotnaam Autshumao word selde gebruik, en ook Eva, 'n niggie van Herry, wat in die Fort deur Maria van Riebeeck opgevoed was, word selde Krotoa, of Krotwa, genoem. In 1657 is sy volgens skatting vyftien of sestien jaar ouod en begin sy volgens die Dagregister "fray Duyts" d.w.s. Nederlands, te praat.

Beter kennis van die Hottentotstamme en hul onderlinge verhoudinge het egter nie gelei tot 'n beter verstandhouding tussen die Hottentotte en die blankes nie. Die vryburgers kom kla dat  hul beeste deur die Hottentotte gesteel word en hul slawe gehelp word om te vlug. Herry word onder verdenking geplaas en in die vergadering van die Pollitieke Raad van 8 Julie 1658 word besluit om hom en twee van sy maats na Robbeneiland te verban.

Baie van Van Riebeeck se tyd gedurende hierdie laaste jare van sy verblyf aan die Kaap is in beslag geneem deur sy poging om die ruilhandel te laat vlot en die Hottentotte beter te verstaan. Twee dinge het hierdie handel in die wiele gery: die vryburgers het op eie houtjie ruilhandel met die Hottentotte gedryf en tewens het die Hottentotstamme onder mekaar rusie gemaak.

Die vryburgers het op hul beurt gekla dat die Hottentotte hulle nie met rus laat nie en, afgesien van hul vee, ook hul ploeë en gereedskappe steel. Van Riebeeck het die saak nader ondersoek en bevind dat die Kaapmans die hoofskuldiges was en dat hulle deur Doman, een van die Hottentottolke, aangehits word. Op 17 Mei 1659 onderteken die vryburgers 'n petisie waarin hulle Van Riebeeck vra om op te tree teen die Kaapmans en die "tabakdiewe", t.w. die Gorachoukwas. Twee dae later, op Maandag 19 Mei, vergader die Politieke Raad saam met die Burgerrade en besluit dat dit tyd geword het om die Kaapmans 'n les te leer. Nog geen uur later nadat dié besluit geneem is nie, kom een van die vryburgers, Caspar Brinkman, met die ontstelloende nuus dat die Kaapmans sy maat, Symon in 't Velt, met 'n asgaai doodgesteek het en 70 van sy skape en 30 beeste gebuit het.

Onmiddellik word tot aksie oorgegaan en begin wat in party van ons geskiedenisboeke die eerste Hottentotoorlog genoem word. Eintlik is dit net 'n reeks skermutselings teen die Kaapmans, of Goringhaikwas, en die Tabakdiewe, of Gorachoukwas. Soldate word na die vryburgers se huise gestuur om hulle te bewaak. Slawe word bewapen en die vlugtende Hottentotte agternagesit om die beeste en skape wat hulle gesteel het, te probeer terugkry. Alles tevergeefs, want geen enkele bees is teruggebring na die Fort nie.

Die Hottentotte het in groepe van twintig, dertig of sestig man aangeval. Ná so 'n aanval het hulle gemaak dat hulle wegkom met die buit en hulle is selde gevang. 'n Paar is doodgeskiet, maar die meerderheid het na veiliger weivelde weggetrek. Ander Hottentotstamme het veiligheidshalwe ook van die Fort af weggebly.

Hoewel Oedasoa(12) en die Cochokwas, of Saldanhars, hulle hulp teen die Goringhaikwa en die Gorachoukwas aangebied het, bring hulle min vee na die Fort en is Van Riebeeck nie seker of hy hulle kan vertrou nie. Hy het egter bevel gegee dat geen ongewapende Hottentotte deur die vryburgers aangeval mog word nie. Herry, wat aan die begin van die oorlog van Robbeneiland gehaal, maar later teruggestuur is, het teen die einde van 1659 ontsnap.

(12) In die Resolusies word dié Hottentotnaam dikwels as Oldasoa weergegee. Die South African Archaeological Bulletin van Junie 1952 volg prof. A.J.H. Goodwin se ortografie deur die naam as Wedaswa weer te gee.

In Maart 1660 begin die vryburgers aandring op vrede en op 5 en 6 April knoop Van Riebeeck vredesonderhandelings aan. Hoewel die Kaapmans aanspraak maak dat hulle die oorspronklike eienaars van die land is, word hulle deur Van Riebeeck aangesê dat hulle nou 'n deel van hul weivelde a.g.v. oorlog verloor het. Daardie deel sal in die toekoms beskerm word deur 'n heinig van bitter amandelbome (Brabeium stellatifolia) en binne daardie omheining mog hulle nie meer hul beeste laat wei of worteltjies kom uitgrawe nie. Op 27 April word hierdie nuwe beleid ook aan die Gorachoukwa verduidelik.

Toe Van Riebeeck in Mei 1662 gereed staan om met sy gesin(13) op die Mars na Batavia te vertrek, was hy veral ingenome met die wyse waarop hy die aanvanklike moeilikhede met die Hottentotte te bowe gekom het. Met die fortjies Kijckuijt, Keert de Koe, Houdt de Bul en Ruiterwacht, asook die heining van bitteramandelbome, het dit moontlik geblyk om die vee van die Kompanjie en die vryburgers volkome teen die rooftogte van die Hottentotte te beveilig. Verder het die gebruik van 'n steeds toenemende aantal perderuiters dit vir die Hottentotte onmoontlik gemaak om met die gesteelde vee die binneland in te vlug.

(13)Van Riebeeck het met sy vrou en drie dogters, Maria (geb. 17 Junie 1657), Eisabeth (geb. 25 September 1658) en Joanna (geb. 13 Januarie 1662), na die Ooste vertrek. Sy twee seuns, Lambertus en Abraham, is in 1660 met die vloot van Pieter Sterthemius na Nederland gestuur. Twee ander seuntjies is as babas oorlede, een in Nedeerland en een aan die Kaap. Albei was na sy vader Ahtony genoem.

In die "Memorie tot informatie" wat hy aan sy opvolger rig en wat hy op 5 Mei 1662 onderteken, skryf Van Riebeeck uitvoerig oor die handel met die Hottentotstamme met wie hy in aanraking gekom en oor wie hy net inligting gehad het. Dit is opvallend dat hy niks sê oor die bekering van die Hotentotte tot die Christelike geloof nie. In die gebed wat hy voor-in die Resolusieboek geskryf het, word gebid dat "onder dese wilde brutale menschen uwe ware gereformeerde Christelijcke Leere voortgeplant en verbreit"(14) mag word. Van Riebeeck het later die woorde "mogelijck sijnde"(15) hieraan toegevoeg, asof hy aan die moontlikheid begin twyfel het. Inderdaad is voor sy vertrek slegs één persoon uit die Hottentotnasie gedoop, t.w. Krotoa, of Krotwa, wat deur Van Riebeeck en sy mense Eva genoem is en wat in die Fort opgevoed was.

(14)Die bede was dat onder hierde wilde, onbeskofte mense die ware Gereformeerde Christelike leer oorgedra en versprei mog word.

(15)Van Riebeeck het later die woorde "indien dit moontlik sou wees" hieraan toegevoeg.

Hoe groot Van Riebeeck se liefde vir die tuinbou was, kan gesien word in die dokument waarin hy sy werk aan Zacharias Wagenaer oordra. Die tuine by die Fort, skryf hy, is "21 mergen" (byna 18 hektaar) groot. Daar is egter te veel as te min kos. Die tye wanneer daar geplant en gesaai moet word, het hy eiehandig opgeteken in die Caepsen Hoveniers Almanach.(16)

(16)In die Von Dessin-versameling is 'n MS. Kaapse Hovenier's Almanak. Dit is nie in Van Riebeeck se handksrif nie.

Dis opmerklik dat Van Riebeeck niks skryf oor die geestelike versorging van die mense aan die Kaap nie. Blykbaar het hy dit as vanselfsprekend beskou dat die voorskrifte van die Kompanjie in daardie opsig nagekom is. Die twee ssieketroosters wat tydens sy verblyf die aandgebed en die Sondagpreek voorgelees het, was Willem Barentsz Wylant en Van Riebeeck se swaer Pieter van der Stael. Eersgenoemde het tot 10 Maart 1656 aan die Kaap gebly en laasgenoemde het op 5 Maart van dieselfde jaar sy intrek in die Fort geneem. Die Heilige Nagmaal en die doop kon bedien word slegs wanneer 'n predikant aan boord was op een van die skepe wat 'n paar dae of weke in Tafelbaai voor anker gelê het. Tydens Van Riebeeck se hele verblyf aan die Kaap moes die sakramente dus bedien word deur predikante wat die Kaap slegs vlugtig besoek het. So het die opvarendes van die vlote vir die geestelike welsyn van die Kaap gesorg, terwyl hulle op hul beurt geniet het van die opbrengs van die land wat deur harde gereelde arbeid verkry is.

A.J. Böeseken

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134