Besluit

Die geskiedskrywer beweeg nie op die terrein van die toekoms nie. Dit is inderdaad moeilik gaenog om die kernprobleem van 500 jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis te probeer oplos. Soos in die Inleiding gestel, lui dit: Hoe het dit gebeur dat so 'n klein getal blankes (sowat4 miljoen) so 'n magsposisie verwerf het en as gevolg daarvan in die sewentigerjare van hierdie eeu in die vasteland van Afrika en internasionaal van soveel betekenis geword het? Ons onderskei enersyds faktore wat die ontwikkeling van Suid-Afrika tot die magtigste staat in sy vasteland bevorder het en andersyds faktore wat sy ontplooiing in dié rigting gestrem  het. Ook moet daarop gelet word dat die internasionale bekendstelling van Suid-Afrika geensins 'n onvermengde seën was nie: vir Suid-Afrika was dit in baie opsigte en in baie gevalle in die verlede onwelkome aandag.

Vir die vaarders na Oos-Indië was die Kaap hoofsaaklik 'n belemmering in stormagtige suidelike waters wat so goed moontlik omseil moes word alvorens daar weer noordwaarts gevaar kon word. Die benadering van die eerste omseilers, die Portugese, was deurgaans negatief, ontwykend. Ná 'n eeu het die Nederlanders en die Engelse 'n meer positiewe, mar nog weifelende houding begin inneem. Hulle het aan land gegaan, maar dit nie altyd die moeite en risoko werd gevind nie. Dit het die eerste groot vertraging in die vroegste onwikkeling van 'n blanke Suid-Afrika meegebring. Eers na afloop van meer as anderhalf eeu gee die Here XVII van die N.O.I.K. op positiewe wyse aan die uitdaging van die Stormkaap se onherbergsame kuste gehoor deur Jan van Riebeeck 'n klein verversings- en verplegingspos vir matrose en 'n herstellingshawe vir skepe aan die voet van Tafelberg te laat aanlê.

Selfs ná die lang vertraging met die stigting van die eerste blanke kolonie heel aan die suidpunt van die versperringskontinent het dit nog geruime tyd 'n onpretensieuse, swak vestiging gebly wat skerp by sy tydgenootlike Noord-Amerikaanse stigtings afgesteek het. Vanweë plaaslike omstandighede was daar reeds vroeg min heenkome vir blanke arbeiders. Dit is begryplik. Volgens die N.O.I.K. se ekonomiese beleid moes die Kaap slegs dien om sy aandeelhouers se winste so spoedig moontlik en soveel moontlik te vergroot. Dié enge, monopolistiese, merkantilistiese benadering het die tweede groot belemmering vir die ontwikkeling van blanke Suid-afrika ingehou. Bloot ter wille van nasionale prestige is daar nie na 'n tweede Holland in die verre suidelike "Uithoek" gestrewe nie. Om verskeie redes het die getal blanke Kapenaars baie beperk gebly. Die diamante en minrale skatte waarna die Kompanjie so gretig gesoek het, was juis in Suider-0Afrika aanwesig op 'n skaal ongeëwenaar in die ganse Afrika. Die ironie was dat hulle toe nie gevind kon word nie - en, indien gevind, nie maklik ontgin sou kon word nie. Nòg in die Kaapse binneland nòg in die uitgestrekte kusstreke, van Suidwes-Afrika tot by Portugees-Oos-Afrika, het destydse verkenning ontginbare hoeveelhede blootgelê.

Toe die onmiddellike probleem om voldoende vars voedsel te voorsien teen die begin van die 18de eeu deur die vryburgers opgelos is, het die Kompanjie dit mie nodig geag om verdere immigrante na die Kaap te bring nie. Hierdie beleidsrigting is bevestig deur die heftige burgerstryd teen goewerneur Wilhem Adriaen van der Stel. Kort daarna is ook besluit om slawe-arbeid bo vrye blanke-arbeid te verkies. Hoewel lastige bergreekse versperrings uitgemaak het en die Karoo direk na die noorde onaantreklik was, was die Kaapkolonie 'n betreklik oop, besonde land wat 'n groot bevolking sou kon dra. En so het hy in sy vormende, grondleggende tydperk 'n standhoudende, sterk stroom immigrante ontbeer, wat die doeltreffendheid van blanke daadkrag eeue lank sou verswak.

Die Kompanjie se beleid, gepaard met die geografiese gesteldheid van die land, het landbouers in veeboere laat ontwikkel en veeboere in half-nomadiese trekboere. Die trekboere het die Suid-Afrikaanse binneland met sy oorgeblewe inboorlinge diensbaar gemaak aan 'n primitiewe vorm van die Wes-Europese beskawing. Die klein aantal individualistiese, selfstandige Afrikaners het gepresteer grotendeels ten spyte van die Kompanjiesbeleild, wat die Kolonie beperk wou hou - en dikwels as 'n uitdagende reaksie daarop. Die Kompanjie was nie bereid om ter wille van die geringe rekognisiegelde wat hy op die boere in die arm land as belasting kon verhaal, die afgeleë, uitgestrekte grense doeltreffend te verdedig teen die Boesmans en die veel sterker Xhosas nie. Dit het die uitbreiding van die blankes in Suid-Afrika gestrem, maar terselfdertyd 'n gees van eie daadkrag en selfstandighed aangewakker wat heelwat tot die ontluiking van 'n Afrikaanse nasionale bewussyn sou bydra. In die smeltkroes van die stryd om hom te handhaaf teen die oorwig van die swartman, het die binnelandse Afrikaner of Boer binne enkele geslagte blanke buitelanders volkome by sy gemeenskap ingeskakel. Die bekende grensfamilie Tregardt (van Sweedse herkoms), van wie ons 'n unieke pioniersdagboek geërf het, is 'n goeie voorbeeld hiervan.

Weens 'n chroniese gebrek aan 'n sterk immigrasiestroom was die toename in die blanke bevolking in baie aansienlike mate slegs op 'n snelle natuurlike aanwas aangewys. Omdat die aanvanklike getalle so klein was, kon die Kaapse bevolking in vergelyking met ander soortgelyke Europese kolonies nie vinnig ontwikkel nie. Laat ons met die Brits-Noord-Amerikaanse kolonies, later die Verenigde State van Amerika, 'n vergelyking tref. Terwyl daar in 1660 in dié kolonies reeds 80 000 blanke Amerikaners was, het die Kaap toe nog maar sowat 200 gehad. En teenoor een miljoen Amerikaners in 1743, het die Kaapse vryburgers in 1750 slegs 5 000 getel. Teen 1820 sou die blanke Amerikaners tot meer as 7,75 miljoen aangroei; maar die Kaapkolonie sou op die vooraand van die Groot Trek deur slegs sowat 65 000 blankes bewoon word - dus nog steeds minder as 1% van die Amerikaanse blanke bevolking. Dieselfde ongunstige tendens (ofskoon in mindere mate) word in 'n vergelyking met die blanke bevolkingsaanwas van Australië aangetref, hoewel lg. vasteland eers veel later gekoloniseer is.

Die Kompanjie se beleid het nie alleen die bedrywighede van die Afrikanerboer aan bande probeer lê nie, maar ook dié van die kapitaalkragtiger, wêreldwyser inwoners van die Kaapse skiereiland. Met ysere hand is daar gepoog om hul ondernemingsgees in toom te hou. Handels-, skeepvaart- en enige ander winsgewende bedrywighede is gevolglik so ver moontlik vir die Kompanjie self voorbehou. Daar is skiet gegee slegs waaar die Kompanjie nie kon of wou optree nie. Onder dié ondernemers het kapitaalvorming dus moeilik plaasgevind. Dit het nie beteken dat alle private ondernemingsgees uitgeskakel is nie; inteendeel, dit word op uitgebreide skaal aangetref.

Enersyds was Kompanjiesdienaars en hul familie en vriende agter die skerm van die Kompanjie se monopoliestelsel in baie rigtings bedrywig en andersyds het private instansies in en om die skiereiland op so 'n wyse onwettige en ondernemings aangepak dat die praktyk glad nie meer met die teorie tred gehou het nie. Die eintlike grondslag van die hele ekonomiese stelsel, die bevordering van die Kompanjie se belange, was nêrens meer sterk vooropgestel nie. Die slappe hand van die sterwende Kompanjie kon egter nog sorg dat ondernemerskap aan die Kaap in 'n ongunstige patroon gedruk word en sodoende is die vorming van grootkapitaal byna onmoontlik gemaak. Die talle besoekers aan die Kaap laat in die 18de eeu, wat heelwat gasvryheid by die skiereilanders geniet het en hulle hul rustige bestaan by die afgeleë "Uithoek" om Tafelberg soms beny het, getuig dat geen werklike grootkapitalis onder hierdie omstandighede daar ontstaan het nie.

Hierdie feit het belangrike gevolge gehad. In 'n tyd toe die Industriële Revolusie in Europa en in die VSA begin ontkiem het en onbeperkte moontlikhede vir verbeeldingryke, kapitaalkragtige, vrye onderneming aan die suidpunt van Afrika (met 'n heel strategiese ligging) oopgestel is, is sowel binnelandse as oorsese ondernemings aan bande gelê. Geen besonder lonende en dankbare private handelsvaart ontstaan langs die Suid-Afrikaanse kuste en hoër op na die Portugese gebied en in die rigting van die ewenaar nie; ook nie na Afrika se oostelike eilande of die Oos-Indiese eilande en hul handelskompleks of na Suid-Amerika en sy handelskompleks nie. Die gebruikmaking van die ontsaglike potensiële voordele verbonde aan die benutting van die Kaap se strategiese posisie in 'n winsgewende suidelike  halfrond word dus aan bande gelê of heeltemal verydel. So word die ontdekking van minerale en diamante (wat meer blankes veel vinniger sou aanlok) onvermydelik tot heelwat later uitgestel, soos ook die opening van die meeste van die vrugbaarste dele van Suid-Afrika met die beste reënval vir die kweek van 'n veel groter verskeidenheid van produkte.

By gebrek aan standhoudende trans-oseaniese bedrywighede na weerskante van Suid-Afrika, het daar nou ook geen blywende kolonisasie plaasgevind nie. Die uitbreiding het nie snel oor see plaasgevind nie, maar betreklik stadig deur die binneland. Vir die Kompanjie bly die Kaapkolonie tot laat in die 18de eeu basies nog 'n klein strategiese kuspos vir die herstel en verversing van sy vlote. Onder die behoudende bewind van 'n uitgediende Kompanjie wat reeds in die 17de eeu begin verstar het, word grootse nuwe geleenthede op verbeeldinglose wyse verkyk. So word die natuurlike uitbreiding van die Kaapkolonie na Suidwes-Afrika en Natal, op 'n geleë tydstip en sonder buitelandse wedywering, nie bewerkstellig nie. Later sou dit veel moeiliker word en gepaard gaan met aansienlike risiko. Gedurende die derde dekade van die 18de eeu het die Kompanjie die uitstekende hawe van Delagoabaai as 'n handelspos beset, maar dit weer as 'n onwinsgewende en ongesonde stasie ontruim.

Die talle skynbaar verlore kanse in en om Suider-Afrika gedurende die anderhalf eeu van Kompanies-bestuur het - aan die kredietkant - weer die horison oopgehou vir die steeds meer selfstandig wordende Afrikanergrensboer om, nadat hy hom aan die einde van die 18de eeu teen die Kompanjie se gesag asook dié van Brittanje verset het, as onafhanklike Voortrekker in die dertigerjare van die 19de eeu sy Britse owerheid te ontwyk. Wat in die 18de eeu nagelaat is, het in die 19de 'n nuwe geleentheid gebied. Grotendeels in samewerking met Britse setlaars het die Voortrekkers Natal met sy hawe Port Natal tydelik bekom. Die Voortrekkers het hul onderneming byna te laat aangepak. Swart ryke en stamme was reeds besig om die assegaai en skild vir die vuurwapen te verwissel. Sodra hierdie militêre revolusie onder die swartman deurgevoer was, sou die Trekkerverowering van die binneland baie moeiliker wees Die Trekkers het die skitterend gedissiplineerde Matebeles en Zoeloes, wat deur steekassegaaie na reuse-oorwinnings oor mede-swartes gevoer is, slegs met groot inspanning en ná storting van baie bloed en trane finaal verslaan.

As gevolg van sowel die prestasies as die lyding op trek het die beperkte mate van nasionale bewussyn wat reeds onder die Afrikaners as grensboere bestaan het, nou in standhoudende nasionaal-religieuse tradisies ontwikkel wat later in die 19de eeu kragtig saamsnoerend op Afrikaners oor die hele Suid-Afrika ingewerk het. Selfstandige Voortrekker-republieke (hoewel geïsoleer in die binneland, sonder 'n eie poort na die buitewêreld) is in die vyftigerjare deur Brittanje erken. Daarin sou die Afrikaner se taal, tradisies en aspirasies tot die end van die 19de eeu bewaar word om daarna deur 'n massiewe aanslag van Britse imperialisme tot 'n algemene nasionale ontwaking gewerk te word. Geïnspireer deur 'n sterk Calvinisteise godsvertroue het die Afrikaners hulle geroepe begin voel om as selfstandige volk die taak van die uitdra van die Westerse Christelike beskawing - op die patroon soos hulle dit gesien het - in Afrika aan te durf. Hierdeur word in sommige tye 'n buitengewone stukrag en doeltreffendheid aan hul optrede verleen.

Die Groot Trek was oor die algemeen, in sy indirekte gevolge, die groot vereniger van die Afrikaner (nieteenstaande sy erfenis van kerklike verdeeldheid), maar die groot verdeler van die twee blanke groepe in Suid-Afrika. Vanaf die Groot Trek, en tot byna anderhalf eeu daarna, duur die verdeling van blanke kragte in Suider-Afrika voort. Intense bitterheid en die versterking van 'n enger Afrikaner-nasionalisme vloei voort uit die blanke bloedvergieting van 1899-1902. Die Afrikaners, wat reeds in die 18de eeu in 'n aparte nasionale groep begin kristalliseer het, sou nou in die 20ste eeu veel sterker nasionale tradisies ontwikkel. Die Anglo-Boere-oorlog het hulle aangevuur om hul eie identiteit tot elke prys as een van hul grootste lewenswaardes te bewaar. Aan Boerekant is sowat 30 000 mans, vrouens en kinders gedurende die jare 1899-1902 dood, terwyl 22 000 Britse Imperiale en koloniale soldate gesterf het en byna 100 000 ander Britte deur wonde of siekte getref is. Heelparty van die Britte was uit Suid-Afrika.(1) Dit was die prys wat vir die beëuindiging van die balkanisering van die laat 19de eeu betaal is Uit Blanke oogpunt het dit 'n katastrofiese vermindering van die reeds karige blanke bevolking in Suid-afrika beteken. Aan die ander kant het heelparty van die Britse en Imperiale soldate, tegnici, verpleegsters, e.a. hulle permanent in Suid-Afrika gevestig. Omdat die oorlog baie belangstelling opgewek het, is verdere immigrante aangelok.

(1) Cd. 990: Army: Return of military forces in South Africa, 1899-1902 (Londen, 1902)

Die uiteindelike ontdekking van diamante, goud e.a. minerale in Suid-Afrika en die spoedige en deeglike benutting daarvan, is deur die Groot Trek verhaas. Dit was veral die voortdurende Anglo-Boere-wrywing en militêre botsings wat uit die Groot Trek voortgevloei het wat by die Boer van die Suid-Afrikaanse Republiek sterk agterdog opgewek het teen alle vreemde blankes wat ingestroom het om die Suid-Afrikaanse bodem sy rykdomme te ontgin, te verwerk en te versprei. Die bestaan van buitengewone goudafsettings in die Suid-Afrikaanse Republiek het dus indirek meegewerk tot die Groot Blanke Burgeroorlog in Suid-Afrika, wat gevoer is hoofsaaklik om die Britse oppergesag in Suider-Afrika te herbevestig.

Met die Britse anneksasie van die twee Boererepublieke is die herstel van stemreg op demokratiese grondslag in die vooruitsig gestel en is daar tegelykertyd onderneem om nie van Britse owerheidskant die stemreg aan die nie-blankes in die voormalige republieke te gee nie. Dit was een van die aller-belangrikste voorwaardes wat deur die besonder hardnekkige verset van die republikeine van die Britse regering afgedwing is. Dit het beteken dat die aanwending van die enorme Transvaalse rykdomme as magsfaktor grotendeels permanent tot die beskikking was van die blankes, wat, in soverre dit getalle betref, die nie-blankes se mindere was, maar wat organisatories, tegnologies, kultureel en militêr as 'n groep die nie-blankes se meerdere was.

'n Uiters belangrike faktor in die handhawing van die blanke se magsposisie in Suid-Afrika is die feit dat verreweg die meeste swartmense in 'n hele aantal uiteenlopende, soms tradisiioneel vyandige, stamme en stamgroepe verdeel was. Gedurende die tydperk van skerp blanke verdeeldheid in die laaste dekade van die 19de eeu en die vroeë dekades van die 20ste eeu was die swartes van Suid-Afrika geografies nog baie geïsoleer in afgeleë uithoeke van die land en sonder nasionale leiers wat algemene en blywende aansien geniet het. Die groot swart massa was nog ongeletterd en het hoofsaaklik in sy beperkte stamverband gelewe.

'n Verdere vername faktor was die feit dat Swart Afrika in die Noorde nog nie behoorlik ontwaak het om hom te interesseer in sy mede-Afrika-bewoners in die Blanke Suide en hulle sy steun aan te bied nie. Sonder radio en lugvaartverbindings was dit inderdaad byna onmoontlik vir die geïsoleerde swartmense in die talle Europese kolonies, waar baie verskillende tale gepraat is, om 'n lewendige belangstelling in die Suide te ontwikkel en dit daadwerklik te toon.

Eers ná die Tweede Wêreldoorlog toe daar 'n vlymskerp reaksie teen alle vorms van rassediskriminasie ontstaan het, het die posisie verander. Teen die helfte van die veertigerjare het dekolonisasie met rasse skrede toegeneem, eers in die Ooste met die onafhanklikheid van Indië en toe vanaf laat in die vyftigerjare, met die onafhanklikheid van Ghana, blitssnel in Afrika om sodoende die emansipasie van die swartman in te lui. Sterk gesteun deur Asiatiese en kommunistiese moondhede, het die nuwe state numeries spoedig 'n dominerende blok in die VVO gevorm. Vanselfsprekend sou hulle hul as 'n g roep daarop toespits om ook die swart meerderheid in die Blanke Suide van blanke beheer te bevry.

Intussen is die witman se posisie in die Unie van Suid-Afrika deur 'n betreklik passiewe rassebeleid van differensiasie en segregasie tydens die eerste helfte van die 20ste eeu gehandhaaf. Die nie-blanke, wat steeds sterker ingeskakel is in die ekonomiese struktuur wat die witman opgerig het, het reeds as nie-blanke arbeider landswyd begin organiseer. Hierdeur het die blanke steeds meer afhanklik geword van nie-blanke (en v eral van swart) arbeid en het dit steeds moeiliker geword om later gebiedskeiding deur te voer. Nog so weinig nie-blankes het teen hierdie tyd egter die stemreg verwerf, dat dié reg nog verminder en verwyder kon word in die twee dekades sedert die dertigerjare. Sowel die binnelandse stryd oor die nie-blanke stemreg as talle ander wetgewende maatreëls wat die nuwe Nasionale regering vanaf 1948 begin tref het, is in die gevoelige internasionale atmosfeer spoedig na die buiteland uitgedra. 'n Steeds heftiger veroordeling van Suid-Afrika se tradisionele kleurbeleid (wat nou tot sommige logiese konsekwensies gevoer is) het gevolg; in so 'n mate dat dit 'n buitengewoon ongunstige internasionale kleur daaraan verleen het.

Ná die verwoestende blanke burgeroorlog van 1899-1902 het Suid-Afrika a.g.v. nuwe energie en sy enorme natuurlike  hulpbronne wonderbaarlik gou op ekonomiese gebied herstel. Weliswaar het sy deelname aan twee wêreldoorloë baie lewens en fondse geëis, maar dit het terselfdertyd plaaslike nywerhede gestimuller, sy perspektief verruim en Suid-Afrika vir die eerste keer ná die Anglo-boere-oorlog weer op die wêreldhorison geplaas. Hy het Suidwes-Afrika, wat a.g.v. "verlore kanse" in die vorige eeue in Duitse hande geval het, as mandaatgebied van die Volkebond bygekry en so is die grense van Suid-Afrika geografies beter afgerond. In en om SWA en in die Unie van Suid-Afrika is al hoe meer en 'n groter verskeidenheid van natuurlike hulpbronne ontdek. In die geheel is die Republiek van Suid-Afrika in die laat sewentigerjare verreweg die bes bedeelde en ontwikkelde Afrikaland. Met behulp van blanke kapitaal en onderneming en 'n voldoende, betreklik ontwikkelde nie-blanke arbeidsmag, is hy tot sy huidige toonaangewende posisie in Afrika en in die suidelike halfrond uitgebou.

Die moontlikheid om die protektorate in te lyf, wat in die Uniegrondwet in die vooruitsig gestel is, het mettertyd steeds skraler geword en teen die helfte van die 20ste eeu het dit duidelik begin word dat die Unie van Suid-Afrika nie daarin sou slaag om sy gebied deur inlywing van die drie protektorate op natuurlike wyse verder af te rond nie. Basoetoland was heeltemal deur hom ingesluit; die uitgestrekte Betsjoeanaland grotendeels deur hom en SWA van die buitewêreld afgesluit; terwyl Swaziland deur hom en Portugees-Oos-Afrika ingesluit is.

In 1966 is die Republiek van Suid-Afrika deur die onafhanklikwording van die eerste twee as Lesotho en Botswana voor ' n splinternuwe situasie geplaas. Daarmee skyn die verdeling van Suider-Afrika in een groot wit staat en 'n aantal swart state - sowel binne as buite die Republilek - ingelui te wees. Die swart gebiede binne die Republiek het nie minder as 260 los eenhede bedra nie en 'n reuse-hoefyster gevorm wat om die Transvaal en die Oranje-Vrystaat gebuig is.

Die nuwe situasie waarvoor die Republiek geplaas is en waarvoor hy beplan, beteken skynbaar 'n terugkeer na die blank-swart-grenstoestand van die 18de en 19de eeue. Dit is egter geen presiese parallel nie, omdat die swartman gedurende byna twee eeue in baie oopsigte verwesters is. Probleme eie aan 'n grenssituasie sal Suider-afrika weer konfronteer: dit hou die gevare in van 'n situasie wat soms moeilik beheer sal kan word; maar tydens die sewentigerjare van die 20ste eeu word dit oorwegend onder blankes beskou as die enigste alternatief vir rasse-integrasie.

Weens die vinnige ontwikkeling van die Republiek kon omvattende skemas ter beveiliging van die blanke naas die nie-blankes met heelwat sukses aangepak word - en dit ondanks buitelandse vyandigheid. Waar die blankes in die hegte Unie van Suid-Afrika meer as 'n halfeeu verenig is, kon die blanke magsposisie op Suider-Afrika se gesonde, skatryk bodem, besonder strategies gesetel en moeilik bereikbaar oorland uit die tropiese woude en vlaktes van Sentraal-afrika, nie lig sonder die hulp van 'n grootmoondheid van buite Afrika suksesvol aangetas word nie. Egipte en Nigerië, van die sterkste Afrikastate, lê geografies ver verwyder. Van die Republiek se grootste, natuurlike handels- en finansiële bondgenote, Brittanje en die VSA, sou geeneen florerende handelsbetrekkinge wou p rysgee bloot om ideologiese boikotte te help deurvoer nie.

Terwyl die Republiek van Suid-Afrika uit hoofde van sy numeries klein - en in verhouding tot die nie-blanke bevolkingselemente steeds krimpende - blanke bevolking dus geensins tot die jaar 2000 van sy posisie as 'n staat onder blanke beheer in 'n swart vasteland verseker is nie, verkeer hy tog in 'n oënskynlik sterk posisie. Sy swakheid en sy krag put hy uit die heel besondere ontwikkelingsgang wat  hy oor bykans 'n halfmilleniuim deurgemaak het. Aan die een kant is daar faktore wat die blanke magsposisie eeue lank aan bande gelê het; aan die ander kant vind ons faktore wat sporadies daartoe bygedra het om die blanke mag geleidelik, hoewel met rukke en stote, op te bou. Die werking van die twee groepe faktore kan nie altyd skerp van mekaar onderskei word nie: soms word 'n h eel besondere nuwe geleentheid juis geskep deur 'n skynbaar "verlore kans" van vervloë dekades. Só laat die beperkende uitbreidingsbeleid van die Kompanjie streke "oop" vir die Voortrekkers om hulle op 'n ander geleë tydstip buitekant Britse beheer te vestig. Net so bring die ontsettende bloedvergieting van die Anglo-boere-oorlog weer mee die samesnoering van blanke kragte in 'n staatkundige eenheid en die formulering van 'n gemeenskaplike rassebeleid.

Die nie-onaantasbare magsposisie van die blanke in Suid-Afrika in die laat sewentigerjare van die 20ste eeu mot daardeur verklaar word dat die blanke in Suid-Afrika selde 'n lang reeks suksesse of oorwinnings behaal het (wat so dikwels in die geskiedenis van die VSA voorgekom het). In Suid-afrika het sukses en mislukking mekaar gewoonlik opgevolg: skitterende oorwinning is lig met ernstige terugslae afgewissel. Só het Suid-Afrika sy posisie van relatiewe krag en gedeeltelike sekuriteit verwerf.

Kan daar "lesse" geleer word uit hierdie relaas van die blanke se belangstelling en optrede in Suidelike Afrika? Daar kan soveel en sulke verskillende lesse uit die geskiedenis gehaal word, dat dit betwyfel moet word om daar hoegenaamd enige les uit te leer is. Of die witman oor hierdie byna vyf eeue in Suid-Afrika "foute" begaan het wat, indien hulle vermy kon gewees het, Suid-Afrika vandag 'n beter plek vir die witman sou gemaak het, kan in dieselfde gees beantwoord word. "Lesse" en "foute" waarna gesoek word, sal gevind kan word. Die "foute" wat in die verlede begaan sou gewees het, kan egter nie meer in hulle tydsverband gekorrigeer word nie. Of hulle in die onbekende toekoms in 'n nuwe tydsverband nog as foute beskou (laat staan gekorrigeer) sal kan word, is te betwyfel.

Hier is kortliks vertel die  unieke verhaal van die doen en late van die witman in Suid-Afrika vanaf sy vroegste jare en probeer verkláár hoe dit gebeur het dat hy hom in die sewentigerjare van die 20ste eeu in dié heel besondere posisie bevind. In min lande en tye in die wêreldgeskiedenis is soveel deur so min persone gedoen wat soveel aandag buitekant die land getrek het as in Suid-afrika oor bykans 500 jaar. Die feit is te meer merkwaardig as daar in ag geneem word dat gedurende die eerste 400 jaar alles nog teen 'n slakkepas beweeg het. En teen die begin van hierdie eeu was 'n afbrekende, bittere burgeroorlog nog aan die gang. Hoe dit ook al vertel word, en uit watter oogpunt dit ook al aangebied word, vir sy blote dramatiese intensiteit staan dit by min ander geskiedsverhale agter. In die krisisspanning van die sewentigerjare van die 20ste eeu lewe die inwoners van die Republiek van Suid-Afrika sy gevolge en sy uiteindelike, diepe betekenis tegemoet.

Daar is op die lang termyn twee uiterste moontlikhede: Die blanke Republiek kan die lot van ou Karthago aan die Afrikaanse noordkus deel; Karthago, wat ná 700 jaar van bloei totaal verdwyn het. Die Republiek kan egter ook in Afrika se magtigste draer van die Westerse beskawing ontplooi, juis in 'n tydperk waarin die Westerse magsposisie in Afrika en elders afgetakel is. Tussen die twee uiterste pole lê tallose moontlikhede en waarskynlikhede, verskuil agter die sluier wat die laaste dekades van die 20ste eeu verberg.

Die eeu, beskryf  as "this harsh and terrible twentieth century, the bloodiest and most turbulent era of recorded history",(2) het talle potensiële brandpunte van 'n atoomoorlog. Die some van die reusagtige vasteland Asië, waar meer as die helfte van die wêreld se bevolking woon, ksyn die meeste ontvlambare materiaal te bevat. Die Asiatiese brandpunt wat die Republiek die nouste raak, is die Midde-Ooste Elke keer wanneer 'n oorlog daar ontvlam, kan dit die Suezkanaal sluit en só die weg om Suid-afrika weer tot die belangrikste seeroete tussen die Ooste en die Weste verhef. En dit kan ook die toevoer van die steeds duurder wordende olie na die Weste afsny.

(2) D. Donelly: The struggle for the world: The Cold War from its origins in 1917 (Londen, 1965)

Hoewel dit nog onduidelik is hoe die moderne tegnologie die Republiek geïsoleerde posisie in die verre suidelike halfrond militêr gaan raak, sal die belange en beleid van die grootmoondhede in die noordelike halfrond, soos in die verlede, weer grotendeels die lot van Suid-afrika kan bepaal. In 'n tyd dat die probleme van Suider-Afrika - soos in die meeste ander dele van ons laat 20ste-eeuse wêreld - deur omstandighede grotendeels buite beheer van Westerse leierskap skynbaar onoplosbaar voorkom, het leiers van die Republiek heelwat kritiek verduur. Die ooplossing wat wel sover gevind is, het blykbaar slegs die porobleme 'n ander voorkoms gegee, sonder om dit wesenlik uit die weg te ruim.

Die sukses waarmee die Republiek die oorgrote meederheid van sy bevolking kan oortuig dat die huidige orde in die Republiek van Suid-Afrika verdedig moet word teen die militêre en ideologiese aanslag uit die Noorde op die Kunene, Caprivi, Zambesi en Limpopo-fronte (afgesien van sy kuste), sal 'n vername rol speel. Dit bring dadelik die vraag na vore hoe dringend die afskaffing van sekere vorms van rassediskriminasie is Waar rassediskriminasie besig is om te verdwyn in Zimbabawe-Rhodesië en in Suidwes-Afrika (Namibië), ontstaan die vraag natuurlikerwys hoe lank drastiese veranderinge in die Relpubliek self kan uitbly. 'n Belangrike faktor is die bereidwillligheid van die blanke Suid-Afrikaners - en veral die Afrikaners - om hul karige getalle baie aansienlik aan te vul uit die oorbevolke noordelike halfrond en daarby aan te pas wanneer die samestelling van die blanke bevolking desnoods radikaal gewysig word. So sou die ndele van die vroeë kristallisering van die Afrikanervolk in 'n te beperkte getallestruktuur en te vaste patroon tereggestel kon word en 'n chronies onderbevolkte land met enorme potensiaal beter in pas met die aanwastempo van die wêreldbevolking gebring kon word.

Geleë in die uiterste suide van een van die mees onontwikkelde vastelande, gaan die Republiek - nieteenstaande sy isolasie - met sy hoogs ontwikkelde tegnologie en stabiele regering die einde van die 20ste eeu tegemoet met 'n groot voorsprong op die res van Afrika. En dit is die geval nieteenstaande die Suid-Afrikaanse geskiedenis gekenmerk is deur 'n merkwaardige mengsel van sukses en mislukking. Die kardinale probleem sal nog steeds wees watter soort plek blankes aan nie-blankes in Suider-Afrika gun - en omgekeerd. Die besondere sinchronisering van binnelandse en buitelandse gebeure - en gevolglik die regte aanpassings oop die regte tye - sal die Republiek se gang bepaal deur die nou poort van die 20ste na die 21ste eeu.

BYLAE: Suid-Afrikaanse Geldstelsels: 'n Vergelykende Tabel met Verklarende Aantekeninge

Gedurende die 17de en 18de eeu kan die volgende Kaapse geldwaardes by benadering as algemene leidraad geneem word. Vanselfsprekend was die waarde van geld in terme van goedere so verskillend in verskillende tye, dat 'n direkte vergelyking onrealisties is.

                                                                  Hollandse geld         Engelse geld        Suid-Afrikaanse geld

                                                                   waarde in                Waarde in            Waarde in Rand en

                                                                    stuiwers                 £.s.d                       sent

stuiwer                                                                  1                          1d                          5/6c

dubbeltjie ("dubbelde" stuiwer)                             2                          2d                          1-2/3c

1-1/2 dubbeltjie                                                      3                         3d                           2-1/2c

skelling                                                                   6                         6d                            5c

2 skelling                                                              12                        1/-(sjiel)                   10c

Kaapse gulden (f)                                                  16                       1/4d                          13-1/2c

Hollandse gulden                                                    20                       1/8d                         16-1/2c

Kaapse riksdaalder (rd)                                           48                       4/-(sjiel)                   40c

Silwer ducaton                                                         72                       6/-(sjiel)                   60c

             ---                                                               120                       10/-(sjiel)                R1

              ---                                                               240                       £1                          R2

Vanselfsprekend het geldwaardes nie konstant gebly nie, maar ook tydens die 17de en 18de eeu gewissel. In die tweede kolom word laat 18de-eeuse ekwivalent in pond sterling gegee van die Hollandse geld. Die Kaapse riksdaalder, wat vroeg in die 19de eeu sterk gedepresieer het, se waarde is teen 1825 op 1/6 in Engelse geld vasgestel (dus 100 rds = £7.10/-). Tydens die Groot Trek - en ook daarna - is die Hollandse en Engelse stelsels langs mekaar in berekenings gebruik. Nadat Engelse geld langer as 100  jaar in die 19de en 20ste eeu gebruik is, is die Suid-Afrikaanse desimale geldstelsel in 1961 ingevoer. In die derde kolom word die pond sterling in terme van die hedendaagse Suid-Afrikaanse geldstelsel aangegee. 

Enkele voorbeelde kan die vermindering van die koopkrag van ons geld deur die eeue illustreer. Van 1690 tot 1750 het die gemiddelde pryse van Kaapse skape gewissel van sowat 1-1/2 gulden tot sowat 7-1/2 gulden per skaap. Toe Henning Hüsing in 1700 onderneem het om die Kompanjie 10 jaar lank van goeie skaap- en beesvleis te voorsien, was die prys 2-1/2 stuiwers perpond. Hy souo ook skape van die Kompanjie oorneem teen 3 gulden stuk. As gevolg van die Groot Trek en die Sesde Oosgrensoorlog (1834-1835) het die prys van skaapvleis so erg gestyg dat die inwoners van Kaapstad selfs tot 4d per pond moes betaal! In 1834 is Saksiese stoetramme uit Nieu-Suid-Wallis na die Kaap ingevoer en het hulle op 'n openbare veiling gemiddeld £17.13s.4d stuk behaal, wat in dié tyd vir stoetskape 'n buitengewoon goeie prys geag is. Gedurende 1903-1907 het die gemiddelde prys van skaapvleis in die Kaapkolonie gedaal van 9-1/2d per pond net ná die Anglo-Boere-oorlog tot 6-1/2d per pond in 1907. Die gemiddelde prys van Kaapse skape het in dieselfde jare weer van 26/2 stuk na 18/2 stuk gedaal.

Met die 3 gulden waarmee Henning Hüsing aan die begin van die 18de eeu 'n skaap kon gekoop het, sou hy gedurende die aanvang van die Groot Trek 4 of 5 pond skaapvleis kon gekoop het, ná die Anglo-Boere-oorlog sowat 2 pond en in die Republiek van Suid-Afrika nog nie 'n halfpond nie.

Ons kan dus begryp waarom salarisse aan die Kaap vroeër na verhouding laag was. Jan van Riebeeck het sy verversingspos op 75 gulden per maand kom stig. Veldkornette het gedurende die aanvang van die Groot Trek gewoonlik £15 per jaar ontvang vir lastige en tydrowende dienste in hul groot wyke gelewer. Polisiekonstabels, eerste klas, op Stellenbosch, bv., het toe 'n jaarlikse salaris ontvang van £31.10/- met inwoning. Distriksgeneeshere het aan die begin van die Groot Trek op die Kaapse platteland £100 tot £150 jaarliks gekry, met reg van privaatpraktyk. Terwyl ds. A. Smith, die predikant van Uitenhage, toe £200 per jaar, met 'n vryhuis, toegelaat is, het die Voortrekkerpredikant Daniel Lindley 1 333 riksdaalders 2 skellings en 4 stuiwers (£100) jaarliks gekry, met vry woning. Eerw. Erasmus Smit moes met 'n maksimum kerk van 800 riksdaalders tevrede wees.

Die destydse geldwaardes en lewenskoste in ag genome, was lord Macartney, wat in 1797 as goewerneur aangekom het, in verhouding seker een van die hoogs besoldigde staatsamptenae van alle tye in die Suid-Afrikaanse geskiedenis £10 000 per jaar, met 'n tafeltoelae van £2 000 daarby, was sy salaris.(*)

(*) LITERATUUR: E.H.D. Arndt: Banking and Currency development in South Africa (1652-1927), Kaapstad, ens., 1928; H.B. Thom: Die Geskiedenis van die Skaapboerdery in Suid-Afrika, Amsterdam, 1936; J.T. Becklake: From Real to Rand, plek en datum van publikasie onvermeld; K.M. Jeffreys (ed.): Kaapse Archiefstukken lopende over het jaar 1779, Kaapstad, 1927

CFJ Muller

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en Geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134