Joan se Juwele

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Moeder, ek wens dat ek juwele kan kry om te dra," het Joan eendag gesê. 

"Juwele!" het Moeder ontsteld uitgeroep. "Waar kry jy daardie verspotte idee?" 

"Wel, Moeder," het Joan gesê, "dit lyk baie mooi. Al die meisies dra dit, en ek voel so snaaks daarsonder." "Wat dra hulle nou juis wat so mooi is?" het Moeder gevra.

"Goue armbande, halssnoere en sulke dinge. En sommige van hulle dra ringe met diamante en pêrels daarin."

"Egte diamante?"

"Nee, nie egte stene nie," het Joan gesê. "Hulle kan nie egte stene bekostig nie."

"En dink jy nou regtig dat sulke goedkoop versiersels mooi is?" "O, Ja, dis baie mooi," het Joan gesê. "Eendag gaan ek vir my ook koop."

"Ek sou dit nie doen as ek jy is nie," het Moeder gesê. "Dit is net 'n verkwisting van geld. Geen meisie het nodig om goedkoop armbande te dra om mooi te lyk nie. Om die waarheid te sê laat sulke goed haar net goedkoop lyk."

Maar Joan het ander idees gehad. In haar hart het sy verlang om sulke goed te hê, net soos "die ander meisies". Eindelik het sy gevoel dat sy nie langer kon wag nie, en sy het besluit om vir haarself juwele te gaan koop. 

Sonder om 'n woord aan Moeder te sê, het sy die huis eendag verlaat met al haar spaargeld, en is sy winkel toe. 

Eerlank het sy by een gekom wat juweliersware vertoon het in die venster. En hoe goedkoop was die goed! Daar was pragtige goue halssnoere vir twee sjielings elk; 'n goue armband was nege pennies; daar was 'n diamant ring vir een sjieling en ses pennies, en 'n pragtige pêrel halsnoer vir slegs drie sjielings! Joan het soos iemand gevoel wat skielik op 'n hoop verborge skatte afgekom het. Hier was nou die goed wat sy altyd so graag wou hê, en nou kon sy alles koop wat haar hart begeer het. Sy het haar beursie styf vasgehou en die winkel binnegegaan.

Nog nooit was dit vir haar so heerlik om geld uit te gee nie, alhoewel sy diep in haar hart gevoel het dat dit Moeder nie sou behaag nie. 

Sy het twee halssnoere en vier armbande gekoop, want sy wou sommer twee van laasgenoemdes aan elke pols dra. Sy het ook twee goue ringe teen een sjieling stuk gekoop. Sy het baie sin gehad in die diamant ring, maar om twee sjielings daarvoor te betaal sou al haar geld neem, en dit het haar baie lank geneem om al daardie geld te spaar.

Maar die versoeking was sterk, en eindelik het sy ook die diamant ring gekoop, en sy het die winkel verlaat met al die goed aan, en net een pennie in haar beursie oor.

Sy het die straat af gestap so trots soos 'n pou. Toe sy van haar skoolvriendinne teëgekom het, het sy met groot gemaaktheid verbygestap asof sy wou sê, "Ek is nou net so mooi soos julle!"

Die meisies het vir haar geglimlag, en sommige van hulle het werklik gelag vir haar, maar Joan het gedink dat hulle maar net jaloers was.

Toe sy in de straat indraai waar haar huis was, het Joan se hart skielik onrustig begin klop. Daar het 'n rilling deur haar gegaan. Wat sou haar Moeder sê as sy haar sien met al die goed aan? Wel, het Joan gedink, Moeder sal die goed vroeër of later tog sien, dus hoe eerder hoe beter. Montlik kan Moeder sê dat dit baie mooi lyk.

Sy het die voordeur oopgemaak en ingegaan. Moeder was besig om te stryk in die kombuis. Sy het opgekyk en Joan vriendelik toegelag. 

"Was jy stad toe," het sy gevra.

"Ja," het Joan 'n bietjie verleë geantwoord.

"Dis 'n lekker dag vir 'n wandeling," het Moeder gesê.

"Ja," het Joan gesê.

"Wil jy nie help stryk nie?" 

"Ja, ek sal help," het Joan gesê.

Joan het toe begin stryk; later het sy gehelp tafel dek, en na die ete het sy gehelp met die skottelgoed. Dit het sy alles gedoen met haar armbande en ringe aan, maar Moeder het nie 'n enkele opmerking gemaak nie. Joan het gewonder of Moeder dan nie die goed raakgesien het nie; sy moes dit gesien het. 

Joan het glad nie van hierdie stilswye gehou nie -  hierdie gebrek aan belangstelling in haar juwele; maar sy het besluit om self nie die saak aan te roer nie, want dit kon miskien vir Moeder die geleentheid gee om haar afkeuring te betuig.

So het 'n hele paar dae verloop, en nog het Moeder nie 'n enkele woord gerep oor die juwele nie, alhoewel sy dit baie verfoei het. 

Toe het daar iets met die juwele gebeur. Die pêrel halssnoer was die eerste in die slag. Die tou het gereek en die pêrels het in alle rigtings gerol - sommige het in die afvoerpyp van die wasbak ingeval. 

Joan was baie ontsteld, maar sy het leed alleen gedra, want sy wou niks aan haar Moeder sê nie. Toe het die armbande gegin aanslaan en verdof. Eendag het Moeder so uit die hoek van haar oog gesien dat Joan besig was om hulle weer blink te skuur. Maar hoe meer sy geskuur het, hoe swarter het hulle geword. Toe het Moeder besluit dat die tyd aangebreek het om iets te sê.

Daardie aand, voor Joan gaan slaap het, het sy 'n paar versies uit die Bybel gelees: "So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding,...nie met...goud of pêrelds of kosbare klere nie, maar soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke." 1 Tim. 2: 9, 10.

Toe het sy verder gelees: "Julle versiering moet nie die uiterlike wees nie - haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie; maar die verborge mense van die hart in die onvergangklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is voor God." 1 Pet. 3: 3,4.

"Ek weet nie," het Moeder gesê, "of jy weet wat die woord, onverganklike beteken nie, maar dit beteken iets wat nie sal verslyt of verdof nie - iets wat 'n mens nie gedurig moet blinkskuur nie."

Joan het baie verleë gelyk, en sy het haar oë laat sak en gekyk na die armbande wat feitelik heeltemal swart aangeslaan het. 

Terwyl Moeder by die venster uitkyk, het sy gesê, niemand wat Jesus liefhet, en niemand in wie se hart die Heilige Gees woon sal probeer om haarself mooi te maak met allerhande versiersels nie. Dit is Jesus Self wat mense mooi maak in die woord en daad en gedrag. Sy skoonheid sal in hulle gesigte gesien word, en dit sal alle ander versiersels onnodig maak. 'n Mens hoef nie 'n mooi roos of lelie te versier nie, want hulle is vanself mooi."

Joan het nog so 'n rukkie gesit en peins, en toe het sy vir Moeder nag gesê en gaan slaap. 

Die volgende oggend het sy nie meer haar juwele gedra nie. en niemand het hulle ooit weer gesien nie.