Hulle het van sin verander

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Die weerberig oor die radio het gesê dat dit binnekort sou kapok. Dit was baie goeie nuus vir Joe en Gerald en hulle het sommer groot planne gehad.

Hulle het baiemaal al gesê dat hulle vir hul elkeen 'n slee gaan maak, maar tot dusver het daar nog niks van gekom nie. Maar toe hulle hoor dat daar kapok aan kom was, het hulle besluit om te begin werk en hulle het die werk met alle mag aangepak.

Hulle het toe al hulle vryetyd in die werkswinkel in Gerald se agterplaas deurgebring, waar dit 'n gesaag en geskaaf en gehamer van 'n ander wêreld was. Hoe bly was hulle toe hulle eindelik elkeen 'n slee klaar gehad het, reg vir die kapok.

Maar dit het nie gekapok nie, want ten spyte van die weervoorspelling, het die kapok weggebly. Vir baie dae kon hulle toe nie hulle sleë gebruik nie.

Eindelik het die Desembervakansie aangebreek en nog was daar geen kapok nie. Die dae was koud en nat, maar daar was hoegenaamd geen tekens dat dit binnekort sou kapok nie. Die seuns het naderhand moedeloos geword en hulle het begin spyt kry dat hulle ooit die sleë gemaak het. Eindelik het Kersaand aangebreek en daarmee ook 'n skielike verandering van die weer. Die reën het opgehou, die kwik het geweldig gedaal en daar het 'n sterk wind begin waai.

"Iets gaan nou gebeur," het Joe gesê toe hy daardie aand gaan slaap het. En daar het ook.

Die volgende môre was die wolke weg en die wêreld was wit van die kapok, want gedurende die nag het dit swaar gekapok en net waar jy kyk, het die kapok dik gelê.

Gerald was vreeslik bly. Hy was nog skaars wakker toe hy besef het wat gebeur het, want hy kon die weerkaatsing van die kapok teen die plafon van sy kamer sien. Hy was gou uit die vere, het vinnig aangetrek en toe na die werkswinkel gehaas waar die sleë so lank ongebruik gelê het. Hy het hulle altwee uitgesleep na die huis toe en toe oorgehardloop na Joe se huis.

Hulle was baie bly! Hulle het al begin twyfel of dit ooit weer sou kapok en nou sou hulle sommer 'n baie aangename Kersfees hê. Hulle het besluit om sommer dadelik na 'n heuwel te gaan om hulle sleë in te wy.

Toe die twee hulle sleë deur die straat gesleep het op weg na die heuwel, het baie van hulle skoolmaats vir hulle geskreeu.

"Julle is gelukkig," het hulle geskreeu, "laat ons ook 'n bietjie ry."

"Nie vandag nie," het Gerald geantwoord, "ons wil vandag self speel."

"Leen ons een sleep," het 'n ander seun geskreeu.

"Moenie glo nie," het Joe teruggeskreeu. "Jy moes vir jouself een gemaak het."
Ralph Morton, die krul seun, het vriendelik vir hulle gewaai en hulle 'n gelukkige Kersfees toegewens.

"Dit gaaf van hom, is dit nie?" het Geral gesê.

"Ja," het Joe gesê, "veral daar hy nooit kan hoop om op 'n sleep te ry nie."

Op daardie oomblik is hulle voor Madge Green se huis verby. Hulle het van haar en haar sussies gehou. Ook sy het hulle vriendelik gegroet en hulle 'n gelukkige Kersfees toegewens.

"Ek wens ek kon ook kom ry," het sy gesê, "maar nie vandag nie, ek moet Moeder met alles help sodat sy ook iets van Kersfees kan hê.'

Die seuns het maar aangestap. Na 'n rukkie was hulle buitekant die dorp en het hulle die sleë teen die heuwel  uitgesleep en toe het die ryery begin.

Heerlik het hulle teen die helling afgegly. Dan sleep hulle weer die sleë na bo en daar gly hulle weer. So het hulle aangehou vir 'n hele paar uur.

Ná hulle vir 'n hele ruk gespeel het, het Joe gemerk dat Gerald nie meer so lekker speel nie.

"Wat makeer, Gerald?" het Joe gevra toe hulle weer die sleë vir die soveelste keer teen die skuinste uitsleep.

"Niks nie," het Gerald gesê, "maar om die een of ander rede speel ek nie meer so lekker nie."

"O so," het Joe gesê. "Maar weet jy, ek speel ook nie meer lekker nie, ek voel half ongemaklik. Ek wonder waarom dit sou wees?"

"Dis nou snaaks dat ons albei so voel," het Gerald opgemerk.

"Dit is baie snaaks," het Joe gesê onderwyl hulle weer teen die heuwel uit is.

 Maar dit was nie lank nie, of daar gly hulle weer.

Op weg boontoe het hulle weer gesels oor die snaakse gevoelens wat hulle nou albei het.

"Ek dink ek weet wat skort," het Joe gesê.

"Wat?" het Gerald gevra.

"Dis Ralph, hy bly maar in my gedagtes."

"Dis snaaks, ek dink ook oor hom en oor Madge en die ander. Ons moes hulle saamgeneem het. Dit was 'n bietjie selfsugtig van ons, was dit nie?"

"Ja," het Joe gesê.

En toe het hulle weer stil die helling uitgeklim.

"Kon oms gly nog net een maal," het Joe voorgestel.

"Goed," het Gerald gesê.

Nadat hulle nog daardie een maal gery het, is hulle huis toe. Op weg het hulle bespreek wat hulle daardie middag sou doen. Toe hulle in die dorp kom, het hulle hier en daar by vriende aangegaan wat nie sleë van hulle eie gehad het nie. Wat hulle vir daardie kinders gesê het, het hulle baie opgewonde gemaak.

Hulle het nog skaars hul Kersmaal geëeet, toe daar hard geklop is aan die voordeur. Buite het Joe en Gerald 'n klomp opgewonde kinders gevind.

"Hoera!" het hulle geskree toe hulle vir Joe en Gerald sien. "Laat my eerste ry," het een seuntjie geskree. "Nee, ek wil," het 'n hele paar van die ander tegelyk geskree.

Joe en Gerald het toe die groep verdeel. Hulle het drie-drie op die sleë gelaai en hulle daar in die straat rondgery. 'n Mens moes die gelag en geskreeu gehoor het! Hulle het te heerlik gespeel.

Hulle het die hele middag so gespeel - behalwe so nou en dan wanneer hulle mekaar met kapok gegooi het. Die kinders het hulle so moeg gespeel, dat hulle nie langer kon rondhardloop nie. Joe en Gerald is toe huis toe en het hulle sleë gaan bêre.

"Was dit nie 'n heerlike dag nie?" het Gerald gesê, "maar ek het die middag die meeste geniet."

"Ek ook," het Joe gesê, "ons het regtig heerlik gespeel, baie lekkerder as in die oggend."

"Jy weet, Joe," het Gerald gesê, "ek het so in my enigheid besluit dat ek nooit iemand anders sal toelaat om met my slee te speel nie, maar dit was eers nadat ek ander daarmee laat speel het, dat ek dit self begin geniet het."

"Jy is heeltemal reg," het Joe gesê, "maar sê die Bybel nie êrens 'dit is saliger om te gee as om te ontvang' nie? Ek dink dat dit die rede is waarom ons vanmiddag lekkerder gespeel het as vanmore, dink jy nie ook so nie?"

Gerald het dit beaam deur te sê "Dit was die heerlikste Kersfees wat ek nog ooit gehad nie."