Hondeliefde

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Almal van ons is lief vir honde, is ons nie? Ek bedoel goeie honde. Ek is seker dat julle baie hou van klein hondjies en het seker al gewens dat hulle teen julle kan opspring. Ek wens dit ook, want ek weet dat dit julle sommer bly sou maak.

Honde kan baie vriendelik en vol liefde wees. Maar, net soos seuns en dogters, kan hulle ook baie kattekwaad aanvang en tog kan ons nie help om van hulle te hou nie.

As honde goed behandel word, kan ons seker nie getrouer vriende hê nie, nie alleen bly hulle getrou aan hul base nie, maar ook aan die ander honde wat hulle maats is.

En dit laat my nou dink aan 'n baie treurige verhaal. Haal maar solank julle sakdoeke uit, want ek is seker julle sal dit nodig kry.

Jare gelede was daar in die stad Liverpool 'n hond met die naam Chubby en nog een, Ou Bob. Die twee honde was baie groot vriende. Hulle het saam geëet, saam gespeel en saam kattekwaad aangevang. Waar 'n mens Ou Bob gesien het, kon jy maar seker wees dat Chubby nie ver daarvandaan was nie. Hulle was vreeslik lief vir mekaar.

Maar toe - eendag - het daar iets baie treurigs gebeur. Chubby het siek geword en doodgegaan. Ou Bob kon nie verstaan wat met hom gebeur het nie. Al wat hy geweet het, was dat daar geen Chubby meer was om mee te speel nie. Hy het orals na hom gesoek, maar kom hom nie vind nie. Hy het in sy eie hondetaal na hom geroep, maar daar was geen antwoordn ie.

Toe het hulle hom geneem na die hondebegraafplaas van Liverpool waar hulle vir arme Chubby begrawe het. Daar was geeen Chubby vir Ou Bob om te sien nie, maar op die een of ander manier het hy verstaan. Die volgende dag het hy self na die graf gegaan en die dag daarna het hy weer gegaan. Hy kon nie meer van die plek af wegbly nie. Vir dir ejaar het Ou bob elke dag na die graf van sy hondevriend gegaan en miskien gaan hy vandag nog daarheen.

Ek wonder wat hy dink wanneer hy daar is en of hy enige hoop het om eendag miskien weer vir Chubby daar raak te loop. Die arme Ou Bob!  Het julle al ooit voorheen van sulke getroue hondeliefde gehoor soos hierdie?