Hoe Bobby se Gebed verhoor is

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Bobby was net oud genoeg om sy eie meccano-stel te besit. Hy het een op sy verjaarsdag 'n paar weke gelede gekry en hy was nou besig om een van die patrone in sy boek op te maak. Dit was 'n bietjie moeilik vir hom, want sy ou vet vingertjies was so klein dat hulle nie die skroefies maklik kon optel nie, maar hy het geduldig voortgesukkel.

Bobby was op die eetkamertafel besig en die tafel het vol van die stukke gelê. sy Mammie was in die kombuis besig om die skottelgoed te was. Ná 'n rukkie het sy iemand hoor praat in die ander kamer. Aangesien sy geweet h et dat daar niemand anders in daardie kamer behalwe Bobby was nie, het sy geluister.

"Daar is niks in nie, daar is niks in nie," het sy die stemmetjie hoor sê. "Ek het geweet daar is niks in nie."

Mammie het ingeloer en tot haar verbasing het sy gesien dat Bobby van sy knieë af opstaan en weer het hy gesê, "daar is niks in nie".

Sy het nou baie nuuskierig geword en toe het sy die kamer ingestap.  "Niks in wat nie?" het sy gevra.

"In die gebed nie," het Bobby baie ernstig gesê.

"Maar Bobby, wat bedoel jy?"

"Ek het Liewe Jesus gevra om my te help om hierdie ding reg te kry en Hy het dit nie gedoen nie."

Mammie wou op daardie oomblik lag, maar sy het haarself bedwing. Hierdie saak was te ernstig.

"Wel Bobby, soms antwoord God gebede nie dadelik nie. Sommige mense moet baie lank wag voordat hul gebede verhoor word, maar die Here verhoor hulle tog."

Dit het nie gelyk of Bobby saamstem met hierdie verduideliking van God se handelswyse nie.

"Miskien het jy genoeg vir vanaand gespeel," het Mammie gesê. "Waarom gaan jy nie nou maar slaap en wag tot more nie> Miskien sal jy dit dan beter regkry."

Bobby wat nou al regtig moeg was, het gereken dat dit nie 'n slegte plan was nie, hy het toe al die goed terug gesit in hul kassie en hy is kamer toe om te gaan slaap.

Soos gewoonlik het hy sy gebedjie opgesê en alhoewel hy netnou gesê het "daar is niks in nie", het hy weer die Here gevra om hom te help om more alles reg te kry.

Nadat hy gaan slaap het, het Mammie 'n blink gedagte gekry. Sy het nog nooit met 'n meccano-stel in haar lewe gespeel nie, maar sy h et die goed uitgehaal en probeer om die ding te bou wat Bobby nie kon regkry nie. Dit het maar moeilik gegaan om al die boutjies in te sit en vas te draai en meer as een maal het sy haar vingers seergemaak met die skroewedraaier. Langsaam  het sy die brug klaar gebou en en sy het later baie belang estel in die speelgoed en begin wonder of sy nou 'n werktuigkundige geword het.

Eindelik was die brug heeltemal inmekaar gesit en sy het dit opgeneem en so geplaas dat bobby dit sou sien sodra hy sy ogies die volgende oggend oopmaak.

Die more het gekom en toe Bobby wakkerskrik en sy oë oopmaak, was daar 'n kreet van blydskap.

"Mammie, Mammie," het hy geskree so hard as hy kon, "kom kyk gou wat staan hier."

Mammie het laggend kom kyk.

"Kyk Mammie, Liewe Jesus het tog my gebed verhoor."

"Ja, is dit nie wonderlik nie Bobby?"

Bobby het vir 'n oomblik gedink. "Ek wonder, Mamma, het Mammie hierdie ding inmekaar gesit?"

"Ja-a-a-a, ek het dit gisteraand gedoen nadat jy gaan slaap het."

"Wel, dan is dit nie Liewe Jesus wat dit gedoen het nie," en hy het baie teleurgesteld gelyk.

"O ja, dit was die Here, want sien jy, dis Hy wat my die gedagte laat kry en en Hy het my baie gehelp om dit te doen."

"O," het Bobby onseker gesê.

"Jy sien Bobby dit is om hierdie rede dat ons Hemelse Vader Moeders aan seuntjies gee - sodat hulle Hom kan help om die gebed van hul seuntjies te antwoord."