Uittog en vestiging van die Voortrekkers in die binneland

Die meeste Voortrekkers het die bestaande roetes na die Oranjerivier gevolg. Geenn georganiseerde trekgeselskap het die ooskusroete geneem nie weens die ondervindinge van reisigers en grensboere op handels- en verkenningstogte langs die ooskus na Natal en ook vanweë die onstabiele veiligheidsituasie ná die Sesde Oosgrensoorlog (1834-1835).

In die jare 1835 tot 1845 het meer as 2 500 gesinshoofde aan die emigrasie deelgeneem. Daar word voorts bereken dat ongeveer 17 000 wit mense in hierdie jare na die noorde en noordooste verhuis het. Hierdie getal emigrante verteenwoordig ongeveer een vyfde van die wit bevolking van die destydse Kaapkolonie. Daar kan aanvaar word dat elkle wit gesin deur m instens twee of meer werknemers vergesel is. Dit kon insluit oud-slawe, mense van Khoekhoen- en Boesmanafkoms en lede van die swart gemeenskappe aan die grens. Dit sou die getal emigrante teen 1845 op minstens 23 000 te staan gebring het. In die geheel gesien was dit inderdaag 'n "Groot Trek" - ondanks beweringe dat dit nie die benaming "Groot" verdien nie.

Sommige families en miskien selfs die meeste van  hulle het eers noord van die Oranje bymekaargekom en dan as groep verder getrek. Baie families het in die binneland oor en weer van trekgeselskap verander sodat die trekke se getalle voortdurend gewissel het.

Leiers van die Groot Trek

Louis Tregardt

Louis Tregardt se trek het inderwaarheid reeds in 1834 begin toe hy sy plase in die wyk Oos-Rietrivier verkoop en hom in Gcalekaland by sy seun Karel aangesluit het wat toe al 'n jaar of langer daar was. Volgens oorlewering het Tregardt 'n groot stuk grond by die Gcaleka-opperhoof Hintsa gehuur. Tregardt het h om langs die Indwerivier gevestig met sowat agtien ander grensboergesinne, waaronder Jhannes Henricus de Lange (ook bekend as Hans Dons). Met die uitbreek van die Sesde Oosgrensoorlog het die meeste van dié uitgewekenes weer tot binne die noordoosgrens van die kolonie beweeg. Hier, net suid van die Stormberg, het Tregardt en 'n paar gesinne 'n ruk lank vertoef en toe in September 1835 finaal die kolonie verlaat deur die Oranjerivier by Buffelsvlei (die huidige Aliwal-Noord) met ongeveer sewe gesinne oor te steek.

Hoewel Tregardt se geselskap die eerste was wat getrek het, is dit belangrik om te onthou dat hulle eintlik buite die hoofstroom van die Groot Trek gestaan het. Behalwe die geselskap van Hans van Rensburg, wat 'n ent saam met hulle beweeg het, en Hendrik Potgieter, wat hulle by die Soutpansberg besoek het, het hulle nooit weer enige kontak met die ander Voortrekkers gehad nie.

In die dagboek wat Tregardt tydens sy geselskap se epiese tog na die noorde aangelê het, leer 'n mens hom ken as 'n saggeaarde persoon en vredemaker. Hy was goed vaardig met die pen, terwyl sy geskrewe Nederlands reeds 'n oorgang na Afrikaans toon.

Tregardt het hoogs waarskynlik in September-Oktober 1835 of kort daarna by Lang Hans van Rensburg met sy geselskap van 49 wit mense op Buffelsvlei of Zevenfontein (noordoos van die huidige Rouxville) aangesluit. Daarvandaan het hulle die pad na die noorde saam aangepak. Die twee geselskappe het trouens al van die suidooste van die Transoranje in mekaar se nabyheid gebly. Hul roete het deur die Transoranje en oor die Vaalrivier gegaan voordat hulle wes van die huidige Middelburg tot aan die Soutpansberg gereis het.

Naby Strydpoort het die Van Rensburgtrek vooruit begweeg en daarna heeltemal kontak met die Tregardt-trek verloor. Latere navorsing het tot die gevolgtrekking gekom dat die hele geselskap van Van Rensburg in Julie 1836 vermoor is ná 'n hewige stryd teen 'n impi van Manukozi aan die Djindispruit naby die Limpoporivier.

In Junie 1836 het die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter 'n ekspedisie na die noorde gelei en Tregardt by die Soutpansberg besoek. Kennelik was hul afspraak dat Tregardt vir die Potgietertrek daar sou wag. Toe Potgieter ná 'n jaar steeds nie weer by hulle opdaag nie, het Tregardt en sy mense in Augustus 1837 hul tog na Lourenço Marques in Delagoabaai voortbesit. In die omgewing van die Soutpansberg het ongeluk die geselskap getref toe minstens ses mense, onder wie drie jong kinders van die Tregardt, aan malaria beswyk het.

Ná 'n uiters moeisame tog oor die Drakensberg het Tregardt en sy oorblywende mense Delagoabaai bereik. Die siekte onder die Trekkers en hul armoede het die Portugese goewerneur genoop om te help waar hy kon. In Delagoabaai het nog twintig lede van die geselskap, onder wie Tregardt en sy vrou, egter aan malaria beswyk. Dit het 'n einde gebring aan Tregardt se droom om buite Britse gebied en naby 'n hawe 'n nuwe begin te maak.

Die groepie van 25 oorblywendes, hoofsaakllik kinders en weduwees, is deur die Natalse Voortrekkers met die boot Mazeppa laat haal en op 19 Julie 1839 het hulle veilig in Port Natal (die huidige Durban) aangekom.

Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers

Hendrik Potgieter was 'n gesiene en invloedryke persoon in die wyk Tarka naby die noordoosgrens, waar sy plaas Commandodrift geleë was. sy vader en oupa was reeds in die laat 18de eeu grensboerpioniers. Hy het 'n sterk persoonlikheid gehad en was streng konserwatief en godsdienstig.

Potgieter het sy plaas teen die einde van 1835 of vroeg in 1836 met 'n klompie gesinne verlaat, maar (soos die geval ook was met ander leiers) die meeste mense het eers later by hulle aangesluit. Tarka het meer Voortrekkers as enige ander wyk opgelewer en Potgieter was spoedig die leier van een van die grootste geselskappe. Die Potgietertrek is waarskynllik met die Boesmanspoortdrif deur die Oranjerivier net wes van die plek waar die Caledonrivier in die Orane vloei.

Vroeg in 1836 het die Potgietertrek  die eerste formele reëlings getref om 'n Voortrekkerbestuur saam te stel. By 'n vergadering noord van die Oranjerivier het die aanwesige mans Hendrik Potgieter op 'n demokratiese wyse tot kommandant verkies. Teen die einde van 1836 sou hulle saam met die Maritztrek by Thaba Nchu (Blesberg, soos die Trekkers dit genoeg het, oos van die teenswoordige Bloemfontein) oor die eerste bestuursinstelling besin.

Sarel Cillliers het uit die wyk Nuwe Hantam in die distrik Colesberg getrek. Onderweg het 'n aantal families by hom aangesluit. Eers by die Boesmansberg in die Transoranje het sy trek by die Potgietertrek aangesluit.

'n Trek met so baie waens en duisende stuks vee wat aangeja moet word, het beteken dat die Trekkers in kleiner groepe verdeel en oor 'n breër front voortbeweeg het. Sodoende het die onderskeie Trekkers se skape en beeste nie maklik deurmekaar geraak nie en was daar ook meer weiveld beskikbaar. Indien enige gevaar gedreig het, sou hulle nogtans vinnig nader aan mekaar kon beweeg en 'n laer trek.

By Thaba Nchu het hoofman Moroka van die Rolonggemeenskap en eerw. James Archbell van die Wesleyaanse sending die Trekkers vriendelik ontvang. Die Trekkers het vee en graan geruil en vir die Rolong wild geskiet. By die Groot-Vetrivier, min of meer waar Winburg vandag geleë is, het hulle die versplinterde Taunggemeenskap onder Makwana teëgekom. Potgieter het 'n ooreenkoms met Makwana gesluit waarvolgens die uitgestrekte streek tussen die Vet- en Vaalrivier aan die Trekkers gegee is in ruil vir 'n klompie beeste. Hierdie was die eerste van 'n paar ooreenkomste wat die Trekkers met binnelandse swart gemeenskappe gesluit het. As gevolg van hierdie transaksie het groepies Trekkers uitgesprei en die Liebenbergfamilile het selfs oorkant die Vaalrivier kamp opgeslaan.

Van die omgewing van die Vetrivier het Potgieter 'n k ommissie van elf persone na die Soutpansberg gelei en van daar verder noordoos gegaan om boererymoontlikhede te ondersoek. Hulle wou ook vasstel of 'n begaanbare roete na die see gevind kon word. Die kommissie het in Mei 1836 vertrek en, soos reeds genoem, ook by Tregardt se geselskap aangedoen. Redelik naby die ooskus het hulle omgedraai toe hulle blykbaar oortuig was van 'n deurgang na die Portugese hawe in Delagoabaai.

Die Potgieterkommissie was drie maande op reis. Met hul terugkeer op 2 September 1836 het 'n toneel van verwoesing by die trekwaens op hulle gewag. In Potgieter se afwesigheid is die Trekkers op 23 Augustus 1836 in die omgewing van die Vaalrivier naby die huidige Parys deur 'n Ndebele-impi onder aanvoering van Mkaliphi, Mzilikazi se bekwaamste aanvoerder, oorval. Die Trekkers het moontlik onwetend Mzilikazi se gebied betree en hy het hul perde en gewere waarskynlik ook as 'n bedreiging beskou. Nagenoeg twintig Trekkers en 'n onbekende getal gekleurde veewagters het omgekom, terwyl tot 150 Ndebelekrygers moontlik gesneuwel het in hierdie botsing, wat as die Vaalrivierslag bekend staan.

By hul terugkoms het Potgieter en die res van die kommissie die moedelose trekgeselskap by die Renosterrivier aangetref. Die Trekkers was versprei om 'n heuwel, 24 km suid van die huidige Heilbron. Mzilikazi het Mkaliphi weer teen die Trekkers uitgestuur, maar hierdie keer met die volle krygsmag van die Ndebele - tussen 3 000 en 5 000 man. Potgieter en sy manne is deur omgewing se swart mense oor die naderende Ndebelemag gewaarsku en 'n  patrollie van die Trekkers het bevestig 'n "vreeselijke commando" in aantog was. Dit was nie vir hulle moontlik om te vlug nie. Die enigste uitweg vir die 36 weerbare mans was om hulle so goed as moontlik te verskans in 'n walaer wat reeds sy waarde by die Vaalrivierslag bewys het. 'n Sirkelvormige laer van ongeveer 50 waens is onder die heuwel getrek. Om die vroue en kinders te beskerm, is 'n vierkantige laer van vier waens binne dié laer getrek. Alle openinge tussen die waens is met doringtakke toegemaak en die waens is met rieme aan ingeplante pale vasgemaak.

Op 29 Oktober 1836 is 'n groot patrollie ruiters uitgestuur om die Ndebelekrygers tegemoet te ry en die aanval te probeer afweer. Daar is probeer om met die krygers te onderhandel, maar Mkaliphi het gekom om te veg. Trouens, die Ndebele het die patrollie dadelik aangeval en probeer om die ruiters te omsingel. Die Trekkers moes al skietend na die laer retireer. Toe die Ndebele ongeveer 30 tree van die laer af was, het Potgieter die teken gegee om te skiet. Die Ndebelekrygers het tot dig teen die waens gekom en probeer om deur te breek. Sommige het bo-oor die verskansings probeer klim of onder deur die takke en ander het die waens uit die kring probeer sleep. maar die Trekkers kon vinnig genoeg skiet om hulle te keer. Van die vroue en kinders het die mans gehelp om die ou voorlaaiergewere (sannas) te laai. Elke man het minstens twee voorlaaiers gehad sodat hulle net kon skiet. so is die omslagtige laaiproses van die ou gewere versnel en kon elkeen ongeveer vier skote per minuut vuur.

Ander v4roue het hulself met stokke en byle bewapen en die krygers wat nog daarin kon slaag om halfpad deur te kruip, met dié wapens bygekom. Ten spyte van die geweldige oormag, kon nie een Ndebelekryger daarin slaag om die laer binne te kom nie. Gevolglik het hulle hul taktiek verander en  hul kort assegaaie oor die waens binne-in die laer begin gooi. dit het uieindelik ok die meeste ongevalle en wonder onder die Trekkers veroorsaak. Meer as 'n duisend assegaaie is ná die gevag binne die laer opgetel. Dit het egter ook beteken dat die Ndebelekrygers besig was om hulself geleidelik te ontwapen.

Die geveg het nagenoeg ' n halfuur geduur voor dat die Ndebele skielik besluit het om pad te gee. Die Trekkers het hulle tot sononder agternagesit, maar kon geen vee terugkry nie. Die slag was 'n oorwinning vir die Trekkers, maar die groot hoeveelheid buit wat die Ndebele weggevoer het, het die oorwinning bederf. bykans al die skape, beeste en trekosse is gebuit, ongeveer 6 000 beeste en 41 000 skape. Die perde is in die laer gehou en is nie weggevoer nie. Onder die Trekkers was daar twee ongevalle en 'n onbekende getal gewondes. Daar word geskat dat die Ndebele ongeveer 400 man verloor het. Ná die slag is die heuwel waaronder die Trekkers laer getrek het, Vegkop genoem.

Die paar weke ná die geveg moes die Trekkers sonder slagvee en melkkoeie klaarkom en het hulle baie ongerief verduur. Uitkoms het eers gekom toe Moroka, die Rolonghoofman, trekosse aan hulle geleen het. Die vyftig waens en die mense kon toe uiteindelik na Thaba Nchu terugkeer waar eerw. Archbell ook voorrade aan hulle geleen het. Enkele dae daarna sou die trek van Gert Maritz Thaba Nchu bereik en is die Trekkergeledere versterk.

Gert Maritz en Piet Retief

Gert Maritz, 'n welvarende wamaker en sakeman, was maar 40  jaar oud toe hy in September 1836 sy trekgeselskap uit Graaff-Reinet gelei het. Hy en sy suster Susanna Maria, wat later getroud is met die Nederlands gebore sendeling eerw. Erasmus smit, het klaarblyjklik 'n goeie skoolopleiding gehad. Maritz se regsboeke het hom gedurende die Trek goed te pas gekom. Op die trekpad en later in Naztal was Maritz die verkondiger van wet en orde, gebaseer op die waardestelsel van die Voortrekkers.

Die Maritztrek is by Sanddrif, wes van die huidige Aliwal-Noord, oor die Oranje en het Thaba Nchu op 19 November 1836 bereik. Eerw. Smit was die enigste predikant wat saam met die emigrante getrek het, maar baie van  hulle het - tot onsteltenis van Smit - ook eerw. Arcyhbell se kerkdienste by Thaba Nchu bygewoon.

Die groot getal Trekkers van Potgieter en Maritz se geselskappe wat teen die einde van 1836 by Thaba Nchu saamgetrek het, het die behoefte aan 'n bestuurslliggaam aangevoel en op 2 Desember 1836 is die eerste volksvergadering belê.'n Bestuur van sewe lede, bekend as die Burgerraad, is verkies. Die Raad sou die hoogste wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag in die T4rekkergemeenskap wees. Maritz het as voorsitter opgetree by sittings van die Burgerraad en was ook die regter as die Raad as 'n geregshof byeengekom het. Potgieter is aangestel as die laerkommandant. Die bestuurstelsel het ook vir 'n volksvergadering voorsiening gemaak wat van tyd tot tyd byeengeroep sou word om oor sake van gemeenskaplike belang te besluit.

Dit is opmerklik dat die Trekkers magsmisbruik wou vermy deur te sorg dat een persoon nie oor te veel mag beskik nie. Daarim is geen leier as regeringshoof verkies nie. Die Voortrekkerbestuur is voorts op 'n vrye en demokratiese wyse verkies deur middel van geheime stembriewe en die Burgerraad was vir sy optrede aan die volksvergadering verantwoordelik.

Piet Retief het in Februarie 1837 met 'n groot geselskap uit die wyk Winterberg, distrik Albany, vertrek. Hy het die redes vir sy emigrasie in die vorm van sy Manifes in The Graham's Town Journal van 2 Februarie 1837 laat publiseer. Met die opstel van die dokument is Retief moontlik gehelp deur die koerantredakteur, L.H. Meurant, hoewel die kern daarvan Retief se eie werk sou gewees het. Van die redes wat hy aanroer, was o.m. die wit boere se gegriefdheid oor die swak beskerming wat hulle op die grens geniet het, asook irriterende wette en kapitaalverliese weens die vrystelling van die slawe en die filantrope se aanvalle op hul karakter.

Hy het die regering voorts verseker dat hulle beplan om die beginsels van vryheid in die binneland te handhaaf en te sorg vir behoorlike verhoudings tussen meeste en kneg. Die Trekkers het gehoop op 'n rustiger lewe en sou niemand molestreer of beroof nie. Retief het ook onderneem om  hul strewe om in vriendskap met die binnelandse gemeenskappe te lewe aan hulle bekend te maak, maar dat die Trekkers hul eiendom sou verdedig indien hulle aangeval word. Retief het voorts verklaar dat hulle die kolonie verlaat in volle vertroue dat die Britse regering niks meer van hulle verlang nie en dat hulle toegelaat sal word om hulself te regeer sonder inmenging.

Nog iets wat 'n rol gespeel het in Retief se besluit om te trek, was Andries Stockenström se hooghartige en selfs neerbuigende houding teenoor die Afrikanerboere. In 1836 het Stockenström luitenant-goewerneur van die oostelike distrikte geword, maar amper dadelik was daar groot vyandigheid tussen hom en die Britse setlaarboere en hul koerant, The Graham's Town Journal, enersyds en die Afrikanerboere andersyds. Die rede waarom hierdie voorheen gerespekteerde Afrikaneramptenaar in Britse diens so skielik die gramskap van feitlik die hele burgerbevolking aan die Oosgrens op hom gehaal het, was sy getuienis voor 'n komitee van die Britse laerhuis waarin hy onder meer die burgerkommando's se optredes in Xhosagebied gekritiseer het. Uiteindelik het hy en Retief 'n vurige korrespondensie gevoer wat uitgeloop het op Retief se ontslag as waarnemende veldkommandant.

Retief se geselskap het die Oranjerivier by Buffelsvlei (later Aliwal-Noord) oorgesteek en vroeg in April 1837 aan die Vetrivier uitgespan waar die meeste ander Trekkers reeds gewag het. Kort voor Retief se aankoms het Potgieter en Maritz besluit om 'n strafekspedisie teen Mzilikazi uit te stuur, want Mzilikazi was steeds 'n bedreiging vir die Trekkergemeenskap. Daar is ook gevoel dat Mzilikazi tot verantwoording geroep moet word vir sy rowery en bloedvergieting. Bowendien wou Potgieter van die Trekkers se buitgemaakte vee terugkry. Die aankoms van meer en meer Trekkers uit die kolonie het verdere stukrag aan só 'n ekspedisie verleen.

Vroeg in Januarie 1837 het Potgieter en Maritz met 107 wit mans en 'n honderdtal uit die swart gemeenskappe in die omgewing na Mosega vertrek. Mosega was die belangrikste stat van Mzilikazi en geleë in 'n vrubare kom waar die Hurutshe in 1832 verslaan en verdryf is.

Die Ndebele het nie in groot gemeenskappe gewoon soos bv. die Tswana nie, maar in kleiner los eenhede rondom die beeskrale. Vroeg die oggend van 17 Januarie het die kommando die Ndebele aangeval en teen 11:30 was o ngeveer 15 wooneenhede naby Mosega in puin gelê en 7 000 beeste gebuit. Hul afgematte perde het die kommando laat besluit om nie ook die koningstat eGabeni (Kapain) verder noord aan te val war sowel Mzilikazi as Mkaliphi hulle bevind het nie. Die slag was dus nie beslissend nie.

Die aankoms van Piet Retief en sy geselskap by die Vetrivier het 'n hersiening van die bestuursreëlings nodig gemaak. Op 'n openbare vergadering van 17 April 1837 is Retief tot "goewerneur" verkies, terwyl Maritz sy pos as voorsitter van die politieke raad ("Raad van Politie") en regter behou het.

Die rede waarom Potgieter nie tot enige amp verkies is nie, is waarskynlik omdat hy hom doelbewus afsydig gehou het weens sy meningsverskil met Retief oor die eindbestemming van die Trek. Retief het na Natal gemik, terwyl Potgieter van mening was dat dit onafwendbaar was dat die Britte hul gesag ook na Port Natal sou uitbrei. Daarom het hy van die begin af sy oog op die binnelandse Hoëveld gehad, d.w.s. noord van 25° suiderbreedte en dus buite die afgekondigde Britse jurisdiksie.

Retief het sy leierskap op 'n bekwame wyse uitgevoer, maar soms opgetree sonder om sy bestuurslede soos Maritz te raadpleeg. So het hy met die Britse goewerneur gekorrespondeer sonder om die Raad daarin te ken en teen Maritz se advier met 'n groep Trekkers na Dingane gegaan om oor grondoordrag te onderhandel.

Intussen het Piet Uys uit die wyk Gamtoosrivier, distrik Uitenhage, ook met sy trek by die Trekkergemeenskap aangesluit. In Oktober 1837 het Uys saam met Potgieter in 'n tweede ekspedisie teen Mzilikazi opgetrek. In die slag wat op 4 November 1837 begin en nege dae geduur het, is die Ndebelemag in die noordweste heeltemal verslaan en Mzilikazi gedwing om met sy volgelinge uit die gebied te vlug.

Natal as bestemming

Retief het finaal besluit om na Natal te trek nadat die Trekkers by 'n volksvergadering op 13 September 1837 nie oor die eindbestemming kon ooreenkom  nie. Hy h et sy laer aan die westekant van die Drakensberg agtergelaat en met net 15 man en vier waens na Dingane vertrek om met hom oor 'n grondgebied vir die Trekkers te onderhandel. By Port Natal (die huidige Durban) het hy die engelse handelaar Thomas Halstead versoek om hom as tolk te vergesel. Op 5 November 1837 het Retief in teenwoordigheid van eerw. Francis Owen, die Engelse sendeling by Dingane se kraal, vir Dingane gaan spreek.

Dingane het Retief se versoek aangehoor, maar aan hom genoem dat van sy beeste gesteel is deur 'n berede kommando wat Westerse klere gedra het. Dingane het die streek tussen die Thukela- en Mzimvuburivier aan die Trekkers belower indien Retief sy gesteelde vee aan hom sou terugbesorg. Retief h et, heeltemal korrek, vermoed dat die eintlike diewe die Tlokwa onder Sekonyela was en onderneem om Dingane se vee vir hom terug te haal. Retief het die vee sonder moeite van Sekonyela teruggekry deur die kaptein met 'n slenterslag in boeie te slaan en sonder enige bloedvergieting Dingane se nagenoeg 700 beeste terug te vat. As strafmaatreël het Retief ook tussen sestig en sewentig perde en ongeveer dertig gewere by Sekonyela afgeneem.

Hy het daarna met sowat sestig vrywillilgers en nog dertig gekleurde agterryers vir 'n tweede besoek na Dingane se hoofstat, Mgungundhlovu, vertrek. Retief en sy manne het op 3 Februarie daar aangekom, blykbaar onbewus van Dingane se wantroue teenoor hulle. Retief was oortuig van Dingane se goeie bedoelinge. Gevolglik het hy nog 'n paar dae daar vertoef nadat die koning die gebied tussen die Thukela en Mzimvubu in 'n dokument, gedateer 4 Februarie 1838 en bekend as die Retief-Dingane-traktaat, aan die Trekkers afgestaan h et. Op die oggend van 6 Februarie 1838 het die jong seun Willliam Wood, wat by eerw. Owen gewoon het en die Zulutaal goed kon verstaan, die groepie Trekkers gewaarsku dat Dingane bose planne in die mou voer, maar niemand het hulle aan die waarskuwing gesteur nie.

Die traktaat is eers op 6 Februarie onderteken. Retief en sy geselskap het op die punt gestaan om te vertrek toe Dingane hulle ontbied om hom te kom groet. Soos gebruik het hulle ongewapend voor die koning verskyn, saam bier gedrink en na 'n vertoning van die dansende krygsmanne gekyk. Skielik het Dingane egter 'n bevel gegee dat die "towenaars" doodgemaak moet word. Die Trekkers en hul agterryers is na 'n heuwel, Kwa-Matiwane, gesleep en almal gedood.

Dingane se motiewe

Nog voor en terwyl Retief besig was om Dingane se beeste by Sekonyela terug te neem, het die Zulukoning se komplekse verhouding met die sendelinge en Voortrekkers hom toenemend in onsekerheid gedompel. Die probleem is vererger omdat hy die sendelinge nie meer genoeg vertrou h et om hulle vir advies oor Retief te nader nie. Die feit dat die sendeling A.F. Gardiner Dingane in 'n brief daaraan herinnner het dat die gebied wat nou aan Retief belowe is, reeds aan hom afgetaan is, sou sekerlik tot die koning se irritasie bygedra het. Sy twee raadgewers Ndlela en Dambuza het ook nie juis gehelp om hom gerus te stel nie. Blykbaar was albei teen die sendelinge gekant en van mening dat Retief se versoek om grond geweier moet word.

Volgens Zulu-oorlewering het Dingane die Voortrekkers se maklike oorwinning oor Mzilikazise Ndebele, hul behendige ruitery, akkurate skietwerk en vindingryke wyse waarop Sekonyela uitoorlê is, as toordery beskou. Dinge het volgens hierdie oorlewering vir Sekonyela as 'n towernaar beskou en Retief was dus in sy oë 'n groter towenaar as Sekonyela. Zulutradisie lui voorts dat dit die rede is waarom Dingane die Trekkers se dood beveel het met die woorde: "Maak dood die towenaars!"

Aangesien die Zulu geweet het waar die Trekkerlaers was, het Dingane besluit om die verrassingselement te gebruik en op Retief se laers toe te slaan. Die Zulukoning het sy impi's beveel om die verspreide Voortrekkerlaers aan die Boesdmans- en Bloukransrivier aan te val. Langs hierdie twee sytakke van die Thukela en verdere vertakkinge soos die Moord- en Rensburgspruit het talle Trekkerfamilies op Retief se terugkoms gewag. Die verseigtige Maritz het 'n deeglike laer aan die Boesmansrivier, nie te ver van die huidige Estcourt nie, getrek. Die Potgieter- en Uysgeselskappe was nog gedeeltelik anderkant die Drakensberg, maar heelwat van hulle was reeds besig om teen die berg af te trek.

Vroeg die oggend van 17 Februarie het duisende Zulu die niksvermoedende Trekkergesinne aangeval en talle van hulle gedood. Die eerste mense wat aangeval is, was dié aan die Bloukransrivier en by Moordspruit waar geen laers getrek is nie. Maritz se laer is ook aangeval, maar die verrassingselement was daarmee heen. Die Zulukrygers se moegheid enersyds en Maritz se paraatheid andersyds, asook sy mense se dapper verdediging en die sterk stroom van die Boesmansrivier, het daartoe bygedra dat die Zulukrygers uiteindelik die aftog moes blaas. Die Zulu-impi het egter met hulle terugtog duisende stuks vee van die Trekkers meegevoer.

Die aanvalle op Retief se groepie en op die verspreide laers was 'n groot terugslag vir die Trekkers. Saam met Reteif en sy manne het bykans 350 wit Trekkers gesterf en bykans ewe veel van  hul bruin en swart werknemers. In totaal is 600 mense dood.

'n Kommando van ongeveer 350 man het op 'n strafekspedisie teen die Zulu onder die gesamentlike bevel van Potgieter en Uys vertrek. Op 11 April is hulle deur die Zulu in 'n hinderlaag oorkant die Buffelsrivier gelok en elf man het omgekom. Onder hulle was Uys en sy seun Dirkie. dit was 'n verdere terugslag vir die Trekkers in Natal. Potgieter het daarna teruggekeer na sy plan om na die Hoëveld - en so ver as moontlik van die Britse invloed af - te trek en hy het besluit om Natal te verlaat.

Was die Retief-Dingane-traktaat 'n egte dokument?

Die bekende Suid-Afrikaanse historikus George Cory het in 1923 die egtheid van die Retief-Dingane-traktaat bevraagteken. Dit het daartoe gelei dat die Universiteit van Stellenbosch vir proff. Cory, W. Blommaert en dr. Gustav Preller genooi het om aan 'n debat oor dié dokument deel te n eem. Die hulp van o.a. handskrifkundiges is ingeroep om die bestaande natrekke van die traktaat te ondersoek.

Een van Cory se bedenkinge het daaroor gegaan dat die oorspronklike traktaat tydens die Anglo-Boereoorlog verlore geraak het en dat die litografiese natrekke dus nie met die oorspronklike vergelyk kon word nie. Die natrekke en afdrukke van die traktaat was egter so akkuraat dat dit bewys kon word dat Retief en die ander Boeregetuies se handtekeninge wel outentiek is. Cory se ander bedenkinge oor die egtheid van die dokument is ook opgeklaar en hy het in Desember 1923 in 'n openbare toespraak erken dat die handskrif op die natrekke bewys dis van die oorspronklike Retief-Dingane-traktaat gemaak en dat die dokument inderdaad as eg besku kan word.

Die waarde van dié historiese dokument lê daarin dat vir Retief en sy manne die ooreenkoms met Dingane beteken het dat die streek tussen die Thukela en Mzimvuburivier aan die Voortrekkers afgestaan is en vir altyd aan  hulle en hul nageslag sou behoort. Maar volgens oorlewering het die traktaat vir Dingane en sy volgelinge die betekenis ingehou dat die Voortrekkers die grond kon bewoon, maar dat dit nie hul eiendom was nie. Alle grond waarop die Zulugemeenskappe gewoon het, was die eiendom van die Zulukoning of, soos dr. Oscar D. Dholomo dit in 1988 gestel het, "that the voortrekkers would occupy the land without necessarily owing it - as all land was owned by the King as trustee on behalf of his subjects".

Die Slag van Bloedrivier

Die jaar 1838 het die een na die ander rampspoedige gebeurtenis vir die Voortrekkers gebring. Skielik was hulle sonder hul vernaamste leiers, want nie alleen het Retief en Uys albei gesterf nie, maar Potgieter het teruggetrek oor die Drakensberg en Maritz is op 23 September 1838 oorlede. Die jaar het wel 'n positiewe wending geneem toe Andries Pretorius in November 1838 in hul laer aangekom het. Al hoe meer mense het ook in die voorafgaande w eke van oral uuit die Transoranje en die Kaapkolonie opgedaag om die Trekkers se getalle te versterk.

Ná 'n verkenningsbesoek aan die Voortrekkers aan die einde van 1837 het And4ries Pretorius en sy geselskap Graaff-Reinet in Oktober 1838 verlaat. Op 22 November het hy by die Trekkers se hooflaer aan die Klein-Thukela aangekom. Hier is hy dadelik as hoofkommandant van die strafkommando (later Wenkommando genoem) teen Dingane aangewys. Twee dae later het hy met sy kommando noordoos in die rigting van Zululand vertrek. Op pad het die Voortrekkerleier Karel Landman met sy volgelinge by hulle aangesluit, sodat die ekspedisiemag uiteindelik 470 man - met i nbegrip van drie Engelse, o.a. Alexander biggar, 'n voormalige Britse offisier en setlaar - sterk was.

Pretorius het die veldtog met groot deeglikheid b eplan. Onderweg het hy die idee van 'n gelofte met sy kommandante en manskappe bespreek en goedkeuring daarvoor gekry Gevolglik het Sarel Cilliers die gelofte in 'n gebed op Sondag, 9 Desember 1838 by die huidige Wasbankspruit, afgelê en daarna - tot en met die botsing met die Zulu, elke aand herhaal. Die gelofte het gelui dat as God die oorwinning aan hulle skenk, dié dat deur hulle en hul nakomenelinge herken sal word en dat 'n kerk gebou sal word.

Terwyl die kommando deur Zululand beweeg het, het hulle op 15 Desember berig ontvang dat die Zuluhoofmag in hulle rigting op pad was. Op die westelike oewer van die Ncomerivier, wat die Trekkers later Bloedrivier genoem het, het Pretorius sonder versuim 'n laer laat trek. Die laer se ligging was strategies goed gekies, in 'n hoek tussen die rivier en ' n diep sloot. In teenstelling met die vorige nag se digte mis, was Sondag, 16 Desember, 'n helder sonskyndag. Kort ná sonsopkoms het ongeveer 10 000 Zulukrygers onder aanvoering van Nzobo (Dambuza) en Ndlela herhaaldelik die laer bestorm, maar die Trekkers het telkens daarin geslaag om die aanvalle te stuit. Ná sowat twee uur het Pretorius die hekke van die laer laat oopmaak sodat die perderuiters die Zulukrygers kon bestorm. Die ruiters is twee keer na die laer teruggedryf, maar toe hulle 'n derde keer uitstorm, het die Zulu op die vlug geslaan.

Pretorius was deel van die groep wat die vlugtende krygers agtervolg het. Tydens die jaagtog het hy 'n pynlike assegaaisteek in sy linkerhand opgedoen. Teen sowat twaalfuur die middag is die agtervolging gestaak, maar ná 'n rusperiode het Pretorius weer 'n perdekommando uitgestuur. Die vlugende Zulu kon egter nie ingehaal word nie.

Aan die kant van die Voortrekkers was daar slegs drie gewondes, maar die volgende dag is meer as 3 000 Zululyke om die laer getel. In die lig van die groot lewensverlies was dié botsing die grootste enkele slag wat tot nog toe op Suid-Afrikaanse bodem geveg is. Pretorius het hom in die hele veldtog as 'n goeie organiseerder, mensekenner en uitnemende strateeg bewys. Hy is trouens as die held van Bloedrivier beskou en het bykans oornag beroemdheid verwerf, ook ver buite die grense van Natal.

Bloedrivier was' n ernstige terugslag vir die Zulu, maar hul mag is daardeur nie gebreek nie. Pretorius het sy Wenkommando verder laat beweeg na Mgungunddhlovu, sowat 60 km suidoos van die slagveld. Daar het hulle op 20 Desember 'n afgebrande en verlate stat aangetref. Hulle het voorts op die koppie Kwa-Matiwane op die oorskot van Retief en sy manne afgekom, asook op die erg verweerde leertas waarin die Retief-Dingane-grondskeningsakte nog was.

Die Republiek Natalia, 1838-1843

Danksy die vestiging van die Voortrekkers in Natal aan die einde van 1837 kon hulle ondanks al die teenspoed uiteindelik 'n eie Voortrekkerstaat stig. So is die Republiek Natalia gebore. Die grense van die republiek het ooreenkomstig die Retief-Dingane-traktaat die gebied tussen die Mzimvubu- en Thukelarivier beslaan. Aan die oostekant was die Indiese Oseaan, mar die wesgrens is nie vasgestel nie. In die loop van 1838 is begin om 'n nuwe grondwet op te stel en 'n Volksraad van 24 lede te verkies.

Die Volksraad was die hoogste bestuursliggaam en het oor die drie staatsmagte - die wetgewende, uitvoerende en regterlike magte - beskik. Lede van die Volksraad het bestaan uit mana tussen die ouderdom van 25 en 60 jaar en is jaarliks deur alle manlike burgers bo 21 jaar verkies. (In daardie tye het slegs mans stemreg gehad, ook elders ter wêreld.) Steeds was die Voortrekkers versigtig om te veel mag aan een persoon toe te vertrou, veral gedagtig aan Retief wat heelwat besluite op sy eie geneem het. Gevolglilk is geen staatshoof verkies nie en was al die mag in die hande van die Volksraad gesetel.

Die afwesigheid van 'n regeringshoof aan die spits van die uitvoerende gesag was 'n swakheid. Terwyl die Volksraad nie gesit het nie, was daar dus niemand om die wette uit te voer nie. 'n Nuwe liggaam, die Kommissieraad, wat in resestye as die uitvoerende gesag kon optree, het die probleem deels opgelos.

Die Voortrekkers het mettertyd die grondgebied beset wat deur Dingane afgestaan is. Plaaslilke bestuur is ingerig en die republiek verdeel in distrikte met ' n landdros en heemrade aan die hoof van elkeen. Die landdros en heemrade moes vir die regspleging en distriksadministrasie sorg, maar die regspleging was onderworpe aan die gesag van die Volksraad, wat as 'n appèlhof gedien het. Die Voortrekkers se plaaslike bestuurstelsel was vir hulle belangrik en kommissaris-generaal J.A. de Mist se destydse reëlings gedurende die Bataafse bewind (1804) is as voorbeeld gebruik. Die verdeling in distrikte en elke distrik in veldkornetskappe (wyke) was ook 'n logiese uitvloeisel van dit waaraan die Afrikanerboere gewoond was. Pietermaritzburg (vernoem na Pieter Retief en Gert Maritz) was die hoofsetel van die nuwe republiek.

Die vereniging van die Voortrekkergemeenskappe in Natal en die Potgieter-ondersteuners op Potchefstroom was vir die Natalse Volksraad ' n belangrike prioriteit. Pretorius is met hierdie doel deur die Volksraad afgevaardig om met Potgieter op Potchefstroom samesprekings te hou. Ná gesprekke in 1839 en 1840 is die Voortrekkers op 2 Februarie 1841 in een republiek verenig. Die Republiek Natalia het nou ook die gebied Potchefstroom-Winburg ingesluit. Laasgenoemde streek sou deur 'n Adjunkraad van twaalf lede verteenwoordig word. Potgieter was die erkende militêre bevelvoerder van die Voortrekkergebied wes van die Drakensberg. Die groot afstand tussen die twee gemeenskappe het gereelde skakeling bemoeilik en die twee rake het regeringsake bykans onafhanklik van mekaar gehanteer.

Die Volksraad het die Kaapse goewerneur, sr George Napier, in September 1840 versoek om die jong Voortrekkerstaat as 'n vry en onafhanklike staat te erken, maar die Britse regering het geweier om dit te doen en genoem dat hulle beoog om die Britse gesag oor Natal uit te brei. Die Voortrekkers se aansoek om hulpverlening by die Nederlandse koning het ook misluk. Die jong republiek kon dus nie internasionale erkenning kry nie.

In Mei 1842 het die Britte Port Natal beset toe 'n troepemag onder aanvoering van kapt. T.C. Smith daar aangekom en die Britse vlag gehys het. Die Britte se optrede is grotendeels veroorsaak deur die Voortrekkers se optrede teen die Zulu en ook die aanval op die Bhaca onder Ncapayi. Die Britte was veral bang dat die Trekkers se optrede teen die swart gemeenskappe aan die ooskus verdere probleme sou veroorsaak en druk op die swart gemeenskappe op die Oosgrens van die Kaapkolonie sou plaas.

Die Trekkers het die Britse mag by Congella beleër en hul oorgawe geëis. Ná 'n maand van beleg en enkele skermutselings het die Britte versterkings ontvang en het die Volksraad op 5 Julie 1842 besluit om oor te gee. Tien dae later is 'n vredesverdrag onderteken ingevolge waarvan die Britse gesag oor Natal erken is. Die amptelike anneksasie van Natal het eers 'n jaar daarna, op 9 Augustus 1843, plaasgevind toe Henry Cloete as kommissaris gestuur is om Natal tot Britse gebied te verklaar. In Mei 1844 is Natal 'n aparte distrik van die Kaapkolonie gemaak.

Hoewel die Natalse Voortrekkerrepubliek van korte duur was, het die Afrikanerboere daarmee tog 'n mylpaal bereik. Ondanks al die gebreke van hierdie eerste poging om hul eie staat te stig, was dit 'n leerskool in demokrasie en 'n proses waarin hul volksbesef veder ontwikkel het.

Die Voortrekkers by Potchefstroom-Winburg

Nadat Potgieter en sy geselskap hulle in 1838 by Potchefstroom gevestig het, het hulle hul eie bestuur verkies wat as die Raad van Hendrik Potgieter bekend gestaan het. Potbieter was die hoofleier van die gemeenskap en sy jurisdiksie het gestrek oor die Trekkers van die noordelike Transoranje (Winburg) en westelike Oorvaalse gebied (Potchefstroom en omgewing).

Die gemeenskap van Potchefstroom-Winburg het in 1841 by die Natalse Republiek ingeskakel en die gewone organisasie van distrikte, veldkornette en wyke is hier ingestel. Jan Mocke is as kommandant vir die streek tussen die Modder- en Vetrivier aangewys. Met die Britse anneksasie van Natal het Potgieter egter finaal sy bande met die Natalse Voortrekkers verbreek, die Adjunikraad is tot 'n Burgerraad omvorm en die grondwet van Natalia is oorgeneem.

Potgieter se vrees vir naderende Britse oorheersing het veroorsaak dat hy met 'n groep Voortrekkers van Potchefstroom na Ohrigstad (noord van die huidige Lydenburg) verskuif het. J.J. (Kootjie) Burger, vroeër sekretaris van die Natalse Volksraad, en sy ondersteuners se trek na Ohrigstad het meegebring dat daar teen die einde van 1846 twee regerings in Ohrigstad was wat al twee daarop aanspraak gemaak het dat hulle die wettige gesag oor hierdie streek gehad het.

Potgieter was uiters teleurgestel met die Burgergroep se miskenning van sy leierskap en het verder noord getrek en hom in 1848 by Schoemansdal (wes van die teenwoordige Louis Trichardt) gevestig.

Die onmin onder die Voortrekkers is daardie jaar verder aangevuur deur Andries Pretorius en sy geselskap se vestiging aan die Magaliesberge. Pretorius se invloed en aanhang het daarvoor gesorg dat hy dadelik 'n belangrike leiersrol onder die Voortrekkers van die Transoranje en Potchefstroom begin speel het. Sy hewige teenstand teen die uitbreiding van Britse gesag oor die Transoranje het daartoe gelei dat hy op 29 Augustus 18488 by Boomplaats in 'n geveg met troepe van goewerneur sir Harry Smith betrokke was. Pretorius is verslaan, maar sy opponering van die Britte het sy invloed versterk. Die Potgieter se ondersteuners het egter geglo Pretorius se geveg met die Britte kon ook die Oorvaalse onafhanklikheid in gevaar stel. Hulle het ook bedreig gevoel deur Pretorius se toenemende invloed onder die Trekkers.

Teen 1849 was daar in Transvaal dus drie faksies onder die Voortrekkers. Eerstens was daar die Potgieterondersteuners in die noorde onder hul eie regering, wat Potgieter as die hoofkommandant en leier van al die Trekkers in Transvaal beskou het. Tweedens was daar die groep onder leiding van Kootjie Burger by Ohrigstad en Lydenburg, wat nie Potgieter se gesag erken het nie, maar self ook nie buite hul streek enige gesag kon afdwing nie. Derdens was daar die groep in die suide van Transvaal wat Pretorius se gesag erken het.

Pretorius het hom daarop toegespits om een Voortrekkerstaat tot stand te bring. Ten spyte van volksvergaderings het onderlinge twiste voortgeduur. Met die Volksraad se sitting in Rustenburg in September 1851, waar sy opponente van Lydenburg nie teenwoordig was nie, het Pretorius volmag gekry om met die Britse regering oor die erkenning van onafhanklikheid te onderhandel.

Die mees betekenisvolle belangrikheid van die Groot Trek en die bestuursvorme wat daaruit gespruit het, is daarin geleë dat die Afrikaners die grondslag gelê het van die republikeinse staats- en regeringsvorm terwyl die Britse parlementêre stelsel in die Kaapkolonie nog besig was om te ontplooi.

Die Sandrivierkonvensie

In September 1851 het Pretorius majoor Henry Douglas Warden, die Britse resident in die Oranjerivier-Soewereiniteit (die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier wat in Februarie 1848 deur sir Harry Smith tot Britse gebied verklaar is), skriftelik meegedeel dat hy oor 'n "verstandhouding" wou onderhandel.

Die Britte het dié toenadering dadelik aangegryp, aangesien hulle ernstige probleme in hul suid-Afrikaanse gebiede ondervind het. Die Kaapkolonie was sedert 1850 in 'n Agtste Grensoorlog met die Xhosas gewikkel. Die Britse resident in die Oranjerivier-Soewereiniteit kon met die beperkte militêre en finansiële bronne tot sy beskikking nie sy posisie teenoor o.a. Mosjwesjwe volhou nie. Dit was juis 'n gebrek aan geld wat veroorsaak het dat die Britse regering nie hul grensreëlings kon afdwing nie en wat daartoe gelei het dat maj. Warden in Junie 1851 by die Slag van Viervoet deur die Sotho verslaan is.

Op 17 Januarie 1852 is die Sandrivierkonvensie onderteken deur Pretorius en 'n paar afgevaardigdes, asook kommissarisse W.S. Hogge en C.M. Owen namens die Britse owerheid. Daarvolgens het Brittanje die onafhanklikheid van die  Trekkerrepubliek noord van die Vaalrivier amptelik erken. Die Voortrekkers het een van hul groot ideale bereik en nog dieselfde jaar het die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) tot stand gekom. Vir die Britse regering aan die Kaap was dit 'n noodsaaklike besparings- en beveiligingsmaatreël, want nou kon die Voortrekkers as bondgenote gebruik word om die Britse kolonie se grense te beskerm.

Die Bloemfonteinkonvensie

Die heterogene bevolkingsamestelling van die suidelike Transoranaje wat voortdurend onrus veroorsaak het, het die Britse regering in die 1840's aangespoor om sy invloed ook daarheen uit te brei. In die suide het die Griekwas onder adam Kok gewoon, in die ooste was daar die Rolong onder Moroka en nog verder oos die Sotho onder Mosjwesjwe. Die Sotho het hul grondaansprake op die vrugbare streek wes van die Caledonrivier gerig.

Die verskillende groepe wit boere in die gebied was die trekboere ondr Michiel Oberholzer en die republikeinse Voortrekkers van die Winburgomgewing. Die trekboere was lojaalgesind teenoor die Britse regering en het hulle gedistansieer van die republikeinse Voortrekkers wat hoofsaaklik in die streek tussen die Vet- en Vaalrivier gewoon het. Laasgenoemde groep het ná die anneksasie van Natal hul eie bestuur ingestel en onder Potgieter deel van Potchefstroom-Winburg uitgemaak. Potgieter en die Burgerraad van die Voortrekkers het trouens daarop aanspraak gemaak dat hul gesag tot aan die Oranjerivier gestrek het.

Die Britte het spoedig hierna hul invloed oor die Transoranje uitgebrei. Goewerneur Napier het die gebied tot 25° suiderbreedte tot Britse gebied verklaar. Hy wou die Kaapse noordgrens sonder groot k oste met bufferstate beskerm en het dus probeer om indirekte beheer oor die Transoranaje uit te oefen. Gevolglik het hy einde 1843 verdrae met Adam Kok en Mosjwesjwe gesluit wat o.m. bepaal het dat die ondertekenaars getroue vriende van die Kaapkolonie sou wees en dat hulle die orde in hul onderskeie gebiede sou bewaar, misdadigers sou uitlewer en hul bondgenote wedersyds sou waarsku teen moontlike vyandelikhede.

Die Trekkers en die lojale trekboere was nie bereid om hulle aan die gesag van die swart leiers te onderwerp nie. Wit versetaksies teen Adam Kok het sterk toegeneem totdat Britse troepe in Mei 1845 'n gewapende groep Trekkers by Swartkoppies verslaan het. Sir Peregrine Maitland het met Adam Kok ooreengekom dat die streek suid van die Rietrivier as 'n onvervreembare en uitsluitlik Griekwareservaat behou sou word. In die noorde kon Britse onderdane grond koop of huur, m aar die grond sou onder die soewereiniteit van die Griekwakaptein bly.

'n Belangrike stap was die plasing van 'n Britse resident op Bloemfontein, maj. Henry Warden. Dit was die eerste aanstelling van 'n Britse amptenaar in die Transoranje. Warden moes egter feitlik sonder enige steun die mas opkom te midde van groeiende onrus onder die bevolkingsgroepe. Dit het uiteindelik tot regstreekse Britse inmenging gelei. In Februarie 1848 het sir Harry Smith die hele gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier en die Drakensberge as die Britse Oranjerivier-Soewereiniteit namens Brittanje geannekseer.

Tot in hierdie stadium wou Andries Pretorius nog deur vreedsame onderhandelinge onafhanklikheid vir die Trekkers probeer kry. Die anneksasie van die Transoranje het hom egter tot verset laat oorgaan. Pretorius het met die grootste kommando wat hy nog aangevoer het, teen Smith opgeruk in die suidelike Transoranje, maar op 29 Augustus 1848 is hy in die Slag van Boomplaats verslaan. Weer eens het die groot uittog van die Voortrekkers op 'n laagtepunt te staan gekm. Die enigste weg na vryheid het nou noord van die Vaalrivier gelê.

Nog voor die ondertekening van die Sandrivierkonvensie in Januarie 1852 het die Britse regering besluit om ook uit die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier te onttrek. Intussen het die Sotho onder Mosjwesjwe die Britse prestige 'n gevoelige knou toegedien toe hulle 'n Britse aanval by Bereaberg afgeweer het. 'n spesiale kommissaris, sir George Clerk, is vervolgens na die gebied gestuur. Ondanks teenkanting van talle Britse handelaars, sendelinge en trekboerlojaliste is die Bloemfonteinkonvensie op 23 Februarie 1854 met Josias Hoffman en ses ander voormalige Trekkers onderteken. Hiervolgens het die Britse regering die onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier erken en het die Republiek van die Oranje-Vrystaat tot stand gekom. Hierdie gebeurtenis was veral betekenisvol omdat die Britse regering uit 'n gebied onttrek het wat hulle voorheen geannekseer het.

Die betekenis van die Groot Trek

Met die totstandkoming van die twee onafhanklike Voortrekkerstate in die binneland van Suid-Afrika het die Afrikanerboere hul vryheidsideaal bereik. Daarmee is die land in twee Britse kuskolonies en twee binnelandse Afrikanerstate verdeel. Die Groot Trek kan as een van die belangrikste verskynsels in die Afrikaners se geskiedenis beskou word en was 'n beslissende keerpunt.

Met die Groot Trek het private Afrikanerinisiatief in die 1830's vir die eerste keer relatief geslaagde leiding geneem. Die emigrasie het met baie swaarkry en smart gepaardgegaan, maar 'n sterker gevoel van samehorigheid en identiteit het daaruit gegroei. Afrikaners kon aan die einde van die 19de eeu met trots terugkyk op wat hul voorgeslagte vermag het.

Hul emigrasie kan as 'n versnelde wit kolonisasieproses deur Afrikanergrensboere gesien word. Daarmee is vir kapitaalkragtige entrepreneurs, handelaars en beroepslui nuwe eksploitasiemoontlike in Afrika ooopgestel.

Die Voortrekkers het heeltemal weggebreek van die monargistiese staatstelsel en, ongeag die aanvanklike gebreke, 'n nuwe republikeinse bestuurstelsel geskep. Die Natalse Voortrekkerrepubliek was ook die eerste republiek in Afrika.

Die Voortrekkers se emigrasie en vestiging in die binneland het op 'n dramatiese wyse tot die opkoms van die Afrikaner gelei. soos die historikus C.W. de Kiewiet opgemerk het, het dit die toekoms van die hele Suid-Afrika onlosmaaklik aan die Boere gekoppel.

Jan Visagie

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5