Opstand, oorlog en oorgang, 1984-1994

 Nadat die driekamer-parlement ingestel is, was die vraag: Wat van swart mense se politieke regte? Die apartheidsbestel se grootste swak plek was inderdaad die gebrek aan verteenwoordiging vir veral stedelike swart mense, vir wie daar nie eens doeltreffende swart plaaslike besture was nie.

In die vroeë 1980's het die regering die rampspoedigste model van almal ingevoer. Vir die eerste keer in die geskiedenis het swart plaaslike besture 'n groot mate van selfstandigheid gekry met feitlik dieselfde magte as wit stadsrade. Hulle was egter sonder 'n voldoende belastingbasis en het dus nie genoeg geld gehad om behoorllike dienste te lewer nie. Baie min inwoners van swart woongebiede het eiendom besit, met die gevolg dat die inkomste uit belasting uiters beperk was.

Voorheen was die biersale 'n groot bron van inkomste, maar die meeste is in die opstande van 1976-1977 en die daaropvolgende onluste afgebrand. Daar was ook geen formule om inkomste van wit stadsrade na swart plaaslike besture te kanaliseer nie.

Die regering het vergeefs probeer om die nuwe vorm van swart plaaslike bestuur voor te hou as regverdiging vir die uitsluiting van swart mense uit die driekamer-parlement, waarin wit m ense, bruin mense en Indiërs verteenwoordig is. Intussen is swart stadsrade op 'n landwye basis verkies, maar met lae stempersentasies.

Baie inwoners het opgehou om hul huurgeld en water- en elektrisiteitsrekeninge te betaal. Van die nuwe rade het die huurgeld en tariewe boonop taamlik roekeloos opgestoot.

"Maak Suid-Afrika onregeerbaar"

In September 1984 het die driekamer-parlement vir die eerste keer vergader. In dieselfde maand het onluste wat met erge geweld gepaardgegaan het in die swart woongebiede van die Vaaldriehoek, suidoos van Johannesburg, uitgebreek. Die plaaslike burgemeester en adjunk-burgemeester was van die eerste mense wat in Seboken doodgemaak is. Hiermee het die laaste fase van die stryd teen apartheid begin.

Die protes in die Vaaldriehoekse woongebiede het in die laaste kwartaal van 1984 en die eerste kwartaal van 1985 na ander dele van Transvaal, Natal en die Oos-Kaap versprei. In Natal en KwaZulu het 'n kleinskaalse burgeroorlog uitgebreek tussen Inkatha, wat 'n sterk steunbasis in die landelike gebiede gehad het, en die United Democratic Front (UDF), wat die septer in die groter dorpe en stede geswaai het.

Daar was ook talle wegbly-aksies, stakings, verbruikersboikotte en protesoptogte, en stedelike swart mense het geweier om huur- en diensgeld te betaal. Die protesoptogte is in baie gevalle deur kerkleiers gelei en is deur baie mense, veral skoliere en studente, ondersteun. Geweld het dikwels uitgebreek. In baie swart woongebiede het oproerige skares die huise van swart stadsraadslede aangeval en hulle gedwing om te bedank. Die doel was om die hele stelsel van plaaslike regering in duie te laat stort. Skares het ook regeringsgeboue, winkel en drankwinkels afgebrand.

Aktiviste het die huise van swart polisiemanne ook aangeval en baie van hulle verplig om buite die dorpsgebiede te bly. Talle vermeende informante en spioene is doodgemaak, sommige volgens die berugte halssnoermetode. Die halssnoermoorde het die polisie se inligtingsbronne gou laat opdroog. Emosies was gaan by die begrafnisse van mense wat in botsings met die polisie dood is. Dikwels is die kis in 'n ANC-vlag gehul.

Nadat die pollisie in Maart 1985 op 'n vreedsame skare in Uitenhage geskiet het, het die protesoptredes van die Oos-Kaap na Kaapstad e.a. dele van die Kaapprovinsie versprei. Op 16 Junie 1985, die dag waarop die Soweto-opstande herdenk is, het bomme in Durban en Johannesburg ontplof. Op 20 Julie 1985 het die regering 'n noodtoestand afgekondig wat tot sekere landdrosdistrikte beperk was.

Twee dae later het die ANC by monde van sy leier, Oliver Tambo, in 'n radioboodskap 'n beroep op sy volgelinge gedoen om Suid-Afrika onregeeerbaar te maak. Dit het gelyk of Suid-Afrika huiwer tussen 'n volskaalse burgeroorlog en 'n dramatiese stap wat tot 'n onderhandelingsproses met die bevrydigngsbewegings sou kon lei. Daar is algemeen aanvaar dat Nelson Mandela se vrylating uit die tronk 'n vereiste vir onderhandelings was.

Die Rubicon-toespraak

Dit het teen die middel van 1985 duidelik geword dat slegs radikale hervormings 'n golf van buitelandse sanksies sou kon afweer en moontlik die weg vir onderhandelings kon baan. Groot verwagtinge het ontstaan oor pres. P.W. Botha se toespraak wat vir 15 Augustus 1985 beplan was. Op kabinetsvergaderings het Chris Heunis, minister van konstitusionele ontwikkeling, voorgestel dat swart leiers in die kabinet opgeneem word. Hy was onder die indruk dat die president saamgestem het, maar botha was nie van plan om betekenisvolle mag aan swart mense in die sentrale regering te gee nie. Al waartoe hy bereid was om in te stem, was 'n konfederasie van state waarin die regerings van die tuislande en die Republiek van Suid-Afrika van tyd tot tyd saam beraadslaag.

Toe hy die aand met sy toespraak begin, het miljoene mense plaaslike en oorsee dit met groot afwagting op televisie gevolg. Maar Botha was onversetlik. Hy het soos 'n weerbarstige voorstander van wit baasskap voorgekom. Hy het gesê hy is nie bereid om wit Suid-Afrika op 'n pad van abdikasie en selfmoord te lei nie. Volgens hom sou die land sonder wit Suid-Afrikaners en hul invloed in struweling, chaos en armoede verval. Hy het bygevoeg dat hy geen respek het vir revolusionêres wat Afrika in 'n "sterwende kontinent" omskep het nie. "Mandela en sy vriende" is in die tron ondat hulle 'n revolusie beplan het en hulle net sou vrygelaat word as hulle geweld afsweer, het Botha gesê.

Hoewel Botha aangekondig het dat sy regering die spreekwoordelike Rubicon oorgesteek h et, het die toespraak geensins voldoen aan verwagtinge vir daadwerklike hervormings nie. (Die Rubicon is 'n klein rivier in Italië wat Julius Caesar meer as 2 000 jaar gelede oorgesteek het toe hy met sy opstand teen die staat begin het.) Daar was groot ontevredenheid, veral in die buiteland, oor Botha se Rubicon-toespraak en kort daarna is 'n nuwe golf sanksies ingestel en nóg beleggings onttrek.

Sy toespraak is so ongunstige ontvang, dat min waarnemers opgelet het dat hy tog 'n belangrike deel van apartheid se "meesterplan" geskrkap het. Hy het aangekondig dat inwoners van die ses tuislande wat nie onafhanklikheid wou aanvaar nie, erken sou word as Suid-Afrikaanse burgers wat in 'n gemeenskaplike politieke stelsel verteenwoordiging moet kry. Dit was die einde van die idee dat alle swart mense in 'n "blanke Suid-Afrika" alle seggenskap ontsê moet word.

Nóg opstande en 'n nasionale noodtoestand

Teen November 1985 was ongeveer 8 000 ampsdraers van die United Democratic Front (UDF) in aanhouding. Baie leiers was in die tronk of het uit die land gevlug. In Maart 1986 het Botha vir 'n kort rukkie die gedeeltelike noodtoestand opgehef, maar op 12 Junie 1986 het hy 'n nasionale noodtoestand afgekondig wat tot 1990 sou geld.

Die regeringsmagte het die landwye opstande ferm en hardhandig probeer onderdruk. Teen die einde van 1986 was meer as 20 000 mense in aanhouding. Die Staatsveiligheidsraad, waarin sekere minister en senior generaals van die polisie en die weermag saam gesit het, het gereeld oor staatsveiligheidsaangeleenthede vergader. 'n Groot deel van die kabinet het egter geen rol in die vernaamste besluite gehad nie.

Die regering het voortgegaan met hervormings in 'n poging om beleggers se vertroue te herwin. "Klein apartheid" is afgeskaf, maar "groot apartheid", soos die Bevolkingsregistrasiewet, is behou omdat die NP-leierskorps dit noodsaaklik geag het vir wit beheer. Stedelike swart mense dwarsoor die land het volle verblyfreg in wit dorpe en stede gekry en die verbod op gemengde huwelike en seksuele omgang tussen wit en gekleurde mense is afgskaf. Die paswet is laat vaar en swart mense is toegelaat om eiendom in wit Suid-Afrika te besit. Openbare geriewe is oopgestel. Amptelike diskriminasie in die arbeidsmark was iets van die verlede. Daar was steeds 'n groot gaping in die besteding per kop aan leerlinge van verskillende rasse, maar dit het gedaal van 1:10 in die 1960's tot 1:3,5 in die 1990's.

Dié hervormings het egter nie die buitelandse druk verlig nie. Buitelandse banke het daarop aangedring dat Suid-Afrika sy lenings terugbetaal en wou geen nuwe lenings toestaan nie. Die VSA het alle nuwe Amerikaanse beleggings in Suid-Afrika en lenings aan die regering verbied. In Brittanje het Margaret Thatcher se Tory-regering die bande nog in stand probeer hou, maar die Statebond het 'n verbod op die invoer van alle landbouprodukte en vervaardigde goedere van Suid-Afrika aanvaar, asook 'n verbod op alle nuwe lenings en beleggings. Thatcher het Botha laat weet dat sy hom nie veel langer sou kon ondersteun as Nelson Mandela nie vrygelaat word nie. Ongeveer 'n vyfde van die Britse maatskappye het hulle aan die land onttrek en direkte Britse investering het in die loop van die 1980's met die helfte gedaal.

Sanksies kon die Suid-Afrikaanse staat nie tot 'n val bring nie en dit het die middelklas nie juis finansieel seergemaak nie. Dikwels het buitelandse maatskappy wat onttrek het, hul plaaslike belange goedkoop aan 'n Suid-afrikaanse maatskappy verkoop. Handelsbande met die West het wel a.g.v. sanksies verswak, maar terselfdertyd het dié met Asië verbeter. Die totale buitelandse handel het gegroei. Teen die einde van 1986 het die land 'n handelsoorskot van R15 miljard gehad. Die verbod op nuwe buitelandse lenings en beleggings het sakevertroue egter wel kwaai geskaad. Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers het al hoe laer gedaal, wat nog groter werkloosheid meegebring het.

Destabilisasie

In die vroeë 1980's wou Suid-Afrika se buurstate hul ekonomiese afhanklikheid van Suid-Afrika verminder en hul steun aan ANC-guerrillas vergroot. Die idee was dat hierdie guerrillas Suid-Afrika deur sy buurlande, veral Mosambiek, Lesotho, Swaziland en Botswana, kon binnesypel. In 1982 het William Casey, hoof van die Amerikaanse Central Intelligence Agency (CIA), in Pretoria met Botha en sy veiligheidsadviseurs vergader. Hulle het saamgestem dat dit moontlik is om 'n veiligheidsone te skep deur buurlande te dwing om ANC-guerrillas te verdryf.

Suid-Afrika se ontwrigting van vyandiggesinde buurlande, of destabilisasie, soos dit genoem is, was veral erg in Mosambiek, wat die vernaamste roete van ANC-insypelaars geword het. Die Frelimo-regering onder Samora Machel was 'n maklike teiken. Die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte het die versetbeweging Renamo as instrument teen die Mosambiekse regering gebruik. Anders as Unita was Renamo nie hoofsaaklik 'n etniese groep nie en het ook nie 'n charismatiese leier gehad nie. Renamo was teen die Frelimo-regering se Marxistiese beleid bekant en het verwoesting gesaai met wapens wat deur Suid-Afrika verskaf is. Sy lede het spoorlyne opgeblaas, landmyne op paaie gelê en petroldepots en graanskure vernietig.

Teen 1984 was die druk op die Machel-regering so erg dat die Frelimo-regering die Nkomati-akkoord met Suid-Afrika gesluit het. Albei kante het hulle daartoe verbind om nie guerrillamagte te steun nie. Die Machel-regering het 800 ANC aktivisiste uit die land gesit en Suid-Afrika het op sy beurt 1 000 Renamo-guerrillas na Mosambiek teruggestuur. Albei regerings het egter in die geheim hul steun aan die onderskeie partye voortgesit.

Aan Suid-Afrika se grense was 'n hele paar state wat weens die destabilisasiestrategie huiwerig was om die ANC te help. Vir die ANC was die Nkomati-akkoord ongetwyfel 'n terugslag, maar nie vernietigend nie. Vir baie swart mense in Suid-Afrika was enige teken van die ANC se gewapende stryd 'n bron van hoop. Die wete dat die ANC 'n militêre organisasie het wat kon terugslaan, was genoeg om baie jong mense te laat terugveg, al was dit met klippe.

Die NP slaan 'n nuwe rigting in

In die laaste jare van die 1980's het die meeste regeringsleiers hul wil verloor om wit beheer met geweld af te dwing en die land op 'n apartheidsgrondslag te regeer. In die groter samelewing en die private sektor het 'n soortgelyke gedagteverandering plaasgevind.

Die Afrikaanse kerke, wat apartheid lank aangehang het, het belsuit om dit te verwerp. In 1986 het die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk verklaar dat dié ker oop is vir enigiemand ongeag sy kleur. Die kerk het amptelik besluit om sy rassebeleid te grond op die Nuwe Testament, waarin die idee van ras geen rol gespeel het nie. Die kerk het ook verklaar dat die grootste deel van die bevolking apartheid as 'n o ndersrukkende stelsel ervaar en dat diskiminasie hul menswaardigheid skend. So 'n stelsel is sondig en 'n groot fout.

Sakeleiers het gemeen dat die koste van apartheid te groot geraak het. Hulle het voorgestel dat dié beleid gekrap word en dat onderhandelings, ook met die verbode organisasasies, plaasvind. 'n Groep Engelssprekende sakeleiers het die ANC-hoofkantoor in Lusaka besoek en 'n gesprek met Oliver Tambo, die ANC-leier, gevoer.

Anton Ru[]pert, doyen van die Afrikaanse sakeleiers, het 'n reguit brief aan P.W. Botha geskryf waarin hy die volgende vraag gestel het: "Is (apartheid) die hoeksteen van ons voortbestaan? Gewis nie. Ek glo die oortuiging dat apartheid die belange van die blanke se voortbestaan bevorder 'n mite is. Dit is trouens 'n gevaar vir sy voortbestaan. Apartheid word deur te veel beskou as 'n sonde teen die mensheid - die neo-Nazisme van 'n Herrenvolk." Hy het afgesluit met 'n somber waarskuwing dat "ons eendag met 'n Neurenberg (sal eindig)" as die regering apartheid nie afskaf nie. Met dié opmerking het hy verwys na die verhoor en teregstellilng van sekere leiers van Nazi-Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog.

Waar verdeeldheid in swart geledere dit lank makliker gemaak het om die land te regeer, het swart leiers oor 'n breë spektrum nou begin saamstaan. Hulle wou nie met die reregring praat voordat Mandela en sy makkers bevry is en die regering verklaar het dat hy van apartheid sou afstand doen nie.

Senior lede van die Nasionale Intelligensie het tot die gevolgtrekking gekom dat die staat sonder 'n onderhandelde skikking verder sou verswak. Mike Louw, onderbevelvoerder van Nasionale Intelligensie (NI), het die toestand in die laat 1980's terugskouend soos volg geskets: "Nêrens het die situasie handuitgeruk nie, maar dit was duidelik dat ons polities en moreel besig was om ons houvas te verloor. Oral in die swart woongebiede het ons intimidasie en 'n sterk poliltieke bewustheid teëgekom. Die politieke stelsel het uitgedien geraak en 'n lang, bloedige stryd het voorgelê. Dit was duidelik dat hoe gouer ons 'n nuwe stelsel beding, hoe beter sal dit wees."

Chester Crocker, Amerikaanse assistentminister van buitelandse sake belas met Afrika, het die situasie soos volg opgesom: "Die regering en sy teenstanders het mekaar in 'n skaakmatposisie geplaas. Nie een kon op sy eie voortbeweeg nie. Die swart weerstandsbeweging het nie die vermoë gehad om die regering te dwing om oor te gee nie, maar die regering kon ook nie weer sy aansien herstel nie."

Die Grensoorlog

Toe Botha die mag in 1978 oorgeneem het, was daar o ngeveer 13 000 Kubaanse soldate in Angola en h ierdie getal sou gou verdubbel. Die Suid-Afrikaanse regering het hul teenwoordigheid as 'n bedreiging vir sy beheer van Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) beskou. Die South West African People's Organisation (Swapo), onder leierskap van Sam Nujoma, het reggestaan om die politieke mag in Suidwes-Afrika met die ondersteuning van die Verenigde Nasies (VN) te gryp. Die mening in regeringskring was dat Swapo nie sou huwer om van Kubaanse hulp gebruik te maak nie. Die bevelvoerders van die Suid-Afrikaanse Weermag was egter gretig om Suid-Afrika se militêre gesag ver anderkant sy grense af te dwing en so te verhoed dat guerrillas oor die grense sypel.

In Februarie 1978 het die Vorster-regering Suid-Afrika daartoe verbind om Suidwes-Afrika met die VN se samewerking teen die einde van daardie jaar tot internasionaal erkende onafhanklikheid te lei. Die Botha-regering het hom egter onttrek van die plan om 'n demokratiese verkiesing onder internasionale toesig in Suidwes-Afrika te hou en het aangekondig dat daar in Desember 1978 'n verkiesing onder die toesig van die Suid-Afrikaanse regering sou plaasvind. Soos verwag kon word, het Swapo geweier om aan die verkiesing deel te neem. Die regering se plan was om 'n interne blok op te bou wat Swapo kon teenstaan.

In die verkiesing het die Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA), 'n veelrassige, gematigde alliansie, as oorwinnaar uit die stryd getree. Soos in die geval van die verkiesing in 1979 in Rhodesië het die internasionale gemeenskap geweier om die verkiesing te erken omdat Swapo nie daaraan deelgeneem het nie.

Die Amerikaanse pres. Ronald Reagan se administrasie het met Suid-Afrika saamgestem dat dit onmoontlik sou wees om 'n verkiesing in Suidwes-Afrika te hou terwyl daar soveel buitelandse troepe in Angola was. As deel van 'n plan om Swapo te verswak en druk op die Kubane in Angola te plaas om die gebied te verlaat, het Suid-Afrika besluit om Unita, 'n anti-kommunistiese beweging in die suide van Angola, op groot skaal te steun. Met Suid-Afrikaanse hulp het Unita 'n doeltreffende mag geword wat groot dele van die suide van Angola beheer het.

Hoewel die magte van Suid-Afrika en Unita teen 'n groot getalsoorwig geveg het, het hulle die Kubaans-Angolese magte, wat deur Russiese militêre adviseurs bygestaan is, in September 1987 in 'n groot geveg by die Lombarivier 'n verpletterende nederlaag toegedien. Die Kubans-Angolese mag het tot by Cuito Cuanavale teruggetrek. Die magte van Suid-Afrika en Unita wou hulle verder verdryf, maar die teenstand was sterk en die poging is laat vaar. Die Kubane en Swapo het dit as 'n Suid-Afrikaanse nederlaag probeer uitbeeld, maar senior amptenare in die Reagan-administrasie het hier siening verwerp.

--- --- ---

CUITO CUANAVALE*          *(Hierdie subafdeling is bygedra deur Leopold Scholtz)

Nog selde in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is 'n historiese gebeurtenis só in die hede vir opponerende politieke belange aangewend soos die sg. Slag van Cuito Cuanavale.

Aan die een kant beweer die ANC/SAKP, Swapo, Kuba en Angola (saam met sekere akademici) vandag dat die magte van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) nie alleen verpletterend verslaag is nie, maar dat Suid-Afrika daarmee na die onderhandelingstafel gedwing is, waar hy uit 'n posisie van swakheid moes onderhandel. Dit was trouens die eerste knap van die apartheidsregering wat die weg vir die nederlaag van 1990-1994 gebaan het, word gesê.

Aan die ander kant beweer politici van die destrydse Suid-Afrikaanse regering en 'n aantal SAW-generaals dat hulle 'n skitterende oorwinning behaal het en dat dit juis die Kubane en Angolese was wat toegewings aan die onderhandelingstafel moes maak.

Vir die historikus wat die verlede vir homself laat spreek, lê die waarheid êrens tussen dié twee uiterstes.

Die Slag van Cuito Cuanavale was eintlik 'n reeks veldslae wat van Augustus 1987 tot April 1988 (of, afhangende van hoe jy dit bekyk, einde Junie) geduur het.

Dié gevegte het aan die Lombarivier begin, daarna noordwaarts uitgebrei tot aan die Chambinga, en ten slotte by Tumpo langs die Cuito amper op klipgooi-afstand van Cuito Cuanavale oorkant lg. rivier geëindig. Daar was nog 'n slotepisode weswaarts in die omgewing van Techipa en Calueque. In die laaste fase het die SAW-leierskorps sy mobiele benadering vir 'n uitputtingslag verruil wat op drie mislukte aanvalle by Tumpo uitgeloop het.

Die uiteinde was 'n dooiepunt wat in die uitkoms van die onderhandelings gereflekteer is. Kuba moes uit Angola padgee, Swapo kon nie die alleenmag in Namibië deur die loop van 'n geweer gryp nie, en Suid-Afrika moes aanvaar dat Swapo 'n onafhanklike Namibië regeer.

Die uitkoms is vergemaklik deur die ineenstorting van die kommunisme as globale magsfaktor, wat beteken het dat 'n Swapo-regering in Windhoek nie meer die soort eksistensiële bedreiging vir Suid-Afrika ingehou het soos wat gevrees is nie. 'n Sterk saak kan daarvoor uitgemaak word dat álmal dié oorlog gewen het.

--- --- ---

Vroeg in 1988 het die Reagan-administrasie vvan die Sowjetunie verneem dat dié gretig is om hom aan Suider-Afrika te onttrek. Ook Suid-Afrika en Kuba was nou gretig om die oorlog te beëindig. Die oorlog het nie net groot finansiële koste en menseverlies vir Suid-Afrika meegebring nie, maar die vrugte van dié stryd is ook bevraagteken. Uit die Botha-bewind se oogpunt kon 'n onafhanklike Namibië nou gebore word sonder dat dit gelyk het of die regering die wit mense in die gebied uitgelewer het.

Die Kubane is gedwing om hulle te onttrek. In 1989 het die verkiesing vir 'n grondwetgewende vergadering vreedsaam in Namibië plaasgevind en Swapo het as wenner na vore getree.

Die gesprekke begin

In 1988 het pres. Botha vir Niel Barnard en Mike Louw, die twee mees senior amptenare in Nasionale Intelligensie, saam met ander amptenare toegelaat om in die geheim gesprekke met Nelson Mandela in die tronk te voer. Hulle het dadelik sy statuur as leier raakgesien en ook sy integriteit en gebrek aan bitterheid opgelet ten spyte daarvan dat hy toe reeds 25 jaar in die tronk was.

Volgens Mandela was 'n meerderheidsregering ononderhandelbaar, maar 'n stelsel moes geskep word wat sou verseker dat wit oorheersing nie deur swart oorheersing vervang word nie. Sy doelwit met die gewapende stryd was nie om die staat omver te werp nie, maar om wit mense te dwing om gehoor te gee aan die swart gemeenskap se regmatige eise.

Teen 1989 was omstandighede vir onderhandelings met die ANC heelwat gunstiger as in 1985 of 1986. Die oorlog in Angola was verby, Suidwes-Afrika sou binnekort 'n internasionaal erkende verkiesign hou, die Sowjetunie was begering om uit Afrika te onttrek en die Afrikastate in die stree het na 'n skikking in Suid-Afrika uitgesien sodat stabiliteit en vrede in die streek kon heers. In Suid-Afrika was daar 'n skaakmatsituasie tussen die veiligheidsmagte en die versetbeweging. In ANC-leiersgeledere in die buiteland was daar 'n faksie o.l.v. Thabo Mbeki wat duidelik kon sien dat 'n oorwinning deur die "gewapende stryd" nog ver in die verskiet was. Hy het baie invloed op Oliver Tambo, ANC-leier, uitgeoefen.

In Januarie 1989 het Botha 'n beroerte gekry. Die volgende maand het hy as NP-leier bedank, maar as staatspresident aangebly. F.W. de Klerk is met 'n naelskraapse oorwinning tot NP-leier verkies.

Soos verwag is, het wrywing gou ontstaan tussen Botha en De Klerk, wat elk hul eie magsbasis gehad het. Botha het toe op 14 Augustus 1989 as president bedank en ná 'n algemene verkiesing is De Klerk op 14 September 1989 tot staatspresident verkies.

Botha word wyd verdoem as 'n politikus wat sy loopbaan goed begin het, maar uiteindelik nie daarin kon slaag om sy eie Rubicon oor te steek nie. Botha wou bruin mense in die regering inbring, maar het swart meerderheidsregering verwerp. Ná 1984 was sy prioriteit om die wydverspreide binnelandse onluste van 1984-1986 te onderdruk. Sommige kenners voer aan dat onderhandelings nie moontlik is sonder stabiliteit nie.

Onder hom was daar ook 'n betekenisvolle herverdeling van inkomste van wit en swart. Om dit te kon doen, moes belastings styg. Tog het die NP onder Botha se leiding die 1987-verkiesing maklik gewen. Toe Botha in 1989 bedank, was stabiliteit in 'n groot mate herstel. Dit is gedoen sonder die groot aantal sterftes wat dikwels voorkkom in konflikte in lande waar daar verskeie rasse of etniese groepe is. Botha het inderwaarheid die tafel vir die onderhandelings met die swart bevrydingsbewegings gedek.

Die val van die Berlynse Muur in November 1989 het die begin van die einde van die kommunisme aangekondig. Dit was vir pres. De Klerk - wat hy later sou noem - 'n "Godgegewe" geleentheid. Die NP kon nou aan sy kiesers sê dat die ANC en sy bondgenoot, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, sonder Sowjet-ondersteuning nie langer 'n wesenlike bedreiging vir stabiliteit en eiendomsregte in Suid-Afrika inhou nie.

Teen die einde van 1989 het De Klerk sy groot sprong gemaak. In Desember 1989 het hy sy kabinet oorreed om die verbod op die ANC, die PAC en ander bevrydingsbewegings op te hef, politieke gevangenes vry te laat en sonder enige voorvereistes met veelparty-onderhandelings oor 'n nuwe grondwet te begin. Op 2 Februarie 1990 het De Klerk hierdie besluit in die parlement aangekondig. Net voor sy toespraak het De Klerk aan sy vrou, wat nie geweet het wat kom nie, gesê: "Suid-Afrika sal nooit weer dieselfde wees nie."

Mandela: 'n legende in sy eie tyd

Nelson Mandela is op 11 Februarie 1990 ná 27 jaar uit die tronk vrygelaat. Hy het onmiddellik weer die politieke lewe betree.

Mandela het as jong man van die Transkei na Johannesburg gegaan en as prokureur gekwalifiseer. Hy was een van die vooraanstaande ANC-leiers in die protespolitiek van die 1950's. Die polisie en hofsake het sy lewe erg ontwrig, maar danksy sy sterk wil en oortuigings het hy die stryd voortgesit in 'n tyd toe die kans op sukses skraal gelyk het.

Mandela het besonderse eienskappe gehad wat uitstekend in die situasie gepas het. Hy het 'n sterk teenwoordigheid gehad,  iemand wat lewenserns en charisma met 'n sin vir humor en nederigheid kon kombineer. Selfs voordat hy tronk toe is, was hy 'n besonderse figuur. Sy weiering om enige kompromieë in die tronk aan te gaan sodat hy vrygelaat kan word, het sy statuur oneindig versterk. Hy het 'n outokratiese trek gehad - 'n samevoeging van die style van 'n stamkaptein en 'n demokratiese leier - maar sy optrede het altyd gepaardgegaan met hoflikheid en goeie maniere.

In sy poging om Afrikaners te oorreed om hul mag prys te gee, het hy hul geskiedenis erken en respek daarvoor getoon. Hy het apartheid verdoem as 'n erge misdaad teen die mensdom, maar hy het Afrikanernasionalisme as 'n legitieme inheemse beweging beskou wat, soos die swart mense, teen Britse imperialisme geveg het. Toe die ANC in 1961 besluit om van burgerlike ongehoorsaamheid na die gewapende stryd oor te gaan, was dit Mandela wat Umkhonto we Sizwe, die ANC se gewapende vleuel, gestig en die eerste bevelvoerder geword het.

Om die ooreenkomste tussen Afrikaner- en Afrikanasionalisme te beklemtoon, het Mandela besluit dat die ANC se eerste sabotasiedade op 16 Desember 1961 sou plaasvind, die dag van die Voortrekker-oorwinning oor Dingane in 1838. Toe 'n kabinetsminister in die laat 1970's beloof het om hom vry te laat op voorwaarde dat hy in Transkei aftree, het Mandela verwys na die voorbeeld van genl. Christiaan de Wet, wat in die rebelllie van 1914-1915 die wapen teen die staat opgeneem het, maar gou onvoorwaardelik vrygelaat is. ANC-leiers in die tronk was op dieselfde behandeling geregtig, het hy gesê. Op Robbeneiland het hy Afrikaans leer verstaan sodat hy die gees en uitkyk van die bevelvoerder aan die oorkant van die onderhandelingstafel kon verstaan. Dit was ook 'n tasbare demonstrasie van die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) se erkenning van kulturele diversiteit.

Mandela het in die tronk met die owerheid begin gesprekke voer sonder dat hy sy mede-ANC-leiers in die tronk of Tambo, leier van die ANC in ballingskap, geraadpleeg het. Sommige ANC-leiers in ballingskap wou hê dat die gewapende stryd moet voortgaan totdat die staat die mag noodgedwonge sou moes oordra. Mandela het egter geweet dat onderhandelings die enigste opsie is en dat die tyd daarvoor aangebreek het.

Die ANC is aanvanklik onverhoed betrap deur De Klerk se aankondiging, maar het gou begin reëlings tref. In bondgenootskap met Cosatu is massa-optogte, stakings, wegbly-aksies en verbruikersboikotte gereël. Die ANC het die gewapende stryd opgeskort, maar nie heeltemal afgesweer nie.

'n Bloedige stryd om heerskappy het tussen die ANC en Inkatha in KwaZulu en in Natal uitgebreek. Teen Augustus 1990 het dié stryd ook aan die Witwatersrand opgevlam. Die dodetal h et vinnig gegroei namate die stryd al hoe feller geword het. Tussen September 1984 en Desember 1993 het 20 500 swart mense in politieke geweld gesterf. Die meerderheid van dié sterftes was weens die stryd tussen die ANC en Inkatha.

"'n Daad wat opklink oor die aarde"

De Klerk wou graag 'n skikking bereik wat die swart meerderheidsparty aan bande sou lê. Die NP-verkiesingsmanifes van 1989 het beloof om 'n inklusiewe demokrasie in te stel waarin groepe as die basiese komponente van die stelsel erken word. Daar sou magsdeling wees en geen rassegroep sou die ander kon oorheers nie. Elke groep sou selfbeskikking oor sy "eie sake" hê. Die Klerk het die idee van 'n roterende presidentskap soos dié van Switserland geopper.

Die ANC wou daarenteen 'n "gewone meerderheidsregering" hê, soos Mandela dit gestel het, waarin die party wat die meeste stemme kry, die deurslaggewende sê het. Dié organisasie wou ook nie 'n federasie hê nie, maar 'n sterk gesentraliseerde regering.

Die NP se onderhandelaars het onder dr. Gerrit Viljoen se leiding gestaan en NP-spanne het aan die verskillende werkgroepe van die onderhandelingsproses deelgeneem. Die NP het op grond van meningspeilings, waarvan die uitslae geheim gehou is, geweet dat die ANC ten minste 60% in die eerste verkiesing sou kry. Die NP het sy hoop daarop gevestig om 'n samewerkende regering te kry waarin die kabinet saamgestel is uit die drie of vier van die partye wat die grootste steun in die verkiesing behaal het eerder as om op 'n wit veto of omvattende groepsregte aan te dring. Die kabinet moes besluite op 'n konsensusgrondslag probeer neem. Die NP wou ook die grondwet, wat 'n Handves van Menseregte bevat, die hoogste gesag maak. Mense of organisasies moes dit kon aanwend teen die skending van individuele en minderheidsregte.

De Klerk het een belangrike kaart gehad wat hy in sy strewe na 'n stelsel van magsdeling kon speel. Hy kon aan die AMC en Westerse leiers sê dat hy wit mense nie in 'n stelsel wat hulle teenstaan, kan inlei nie. Daar was in daardie stadium sterk teenstand van die regtervleuel teen die politieke veranderinge. Die Konserwatiewe Party (KP), met dr. Andries Treurnicht as leier, en ander regse organisasie het De Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990 as die begin van die Afrikaners se Derde Vryheidsoorlog bestempel. Paramilitêres soos die Afrikaner-Weerstandsbeweging het openlik met o pstand en terreur gedreig.

Die KP het tussenverkiesings gebruik om die onderhandelings verdag te maak. In dié verkiesing ht die NP 'n hele reeks terugslae gehad. Vroeg in 1992 het die KP 'n groot oorwinning in die "veilige" NP-setel Potchefstroom behaal. Die regering het twee opsies gehad as h y wou wys dat hy nog die meerderheid se steun het: 'n algemene verkiesing of 'n referendum. In die 1989-verkiesing het die NP-leierskorps belowe dat enige skikking wat wesenlik van die NP se verkiesingsmandaat afwyk, aan 'n referendum onderwerp sou word. De Klerk sou dié belofte op 30 Maart 1990 en in Januarie 1992 herhaal.

Die groot vraag was: Op watter tydstip van die onderhandelingsproses moes dié referendum gehou word? As dit te vroeg gehou sou word, sou dit hom sonder enige werklike hefboom laat om die ANC se eise teen te taan. As dit gehou sou word wanneer die besonderhede van die grondwet al bekend was, sou dit die ANC baie ontstel, want dit sou lyk of hy die wit kiesers 'n kans wou gee om 'n veto uit te oefen. De Klerk het egter 'n spesifieke belofte aan sy kiesers gemaak om 'n referendum aan die einde van die proses te hou.

Die nederlaag in Potchefstroom het De Klerk laat besluit om die referendum te gebruik om die idee van 'n onderhandelde grondwet te toets. Hy wou ook die KP, wat die onderhandelings verwerp het, verslaam. Die belofte van 'n tweede referendum het gou in die vergetelheid verdwyn. Die ANC sou dit waarskyknlik met massa-aksie teengestaan het.

Meet as 87% wit kiesers het in Maart 1992 aan die referendum deelgeneem en 69% van hulle het 'n ja-stem uitgebring. Veral vir Afrikaners was die ja-stem egter taamlik dubbelsinnig. Sommige het aangeneem dat hulle gevra word om die oordrag van mag aan die swart meerderheid goed te keur. Ander het weer geglo dat die NP niks anders as magsdeling sou aanvaar nie. Een NP-plakkaat het gelui: "Staan meerderheidsregering teen:Stem Ja". Daar was ook diegene wat geglo het dat die NP 'n verskuilde agenda gehad het en bewis was om die ANC te ondergrawe en kragteloos te maak.

Nietemin het omtrent al die mense wat ja gestem, aanvaar dat dit die einde van apartheid en die einde van eksklusiewe wit mag sou beteken. Onder die middelklas was daar miskien minder illusies. In 'n meningspeiling wat laat in 1991 gehou is, is bevind dat slegs 15% wit mense geglo het hulle sal beter vaar in die nuwe Suid-Afrika. Nietemin het die uitslag van die referendum beteken dat, soos Mandela opgemerk het, wit mense snou verstaan het die dae van wit bevoorregting is verby.

Die internasinale reaksie was baie gunstig. Afrikaners het met 'n mate van grasie afstand gedoen van die mag. Hulle het hul alleenheerskappy prysgegee voordat hulle verslaan is. Wat hulle nie geweet het nie, was of magsdeling in Suid-Afrika kon werk. Dit was op magsdeling dat die De Klerk-regering nou al sy hoop gevestig het.

De Klerk het 'n deurslaggewende rol gespeel om die ja-meerderheid te verseker. In sy oorwinningstoespraak ná die referendum het hy verkklaar dat min volke die kans kry om bo hulself uit te styg en dat die meeste wit kiesers juis dit gedoen het. Hy het na N.P. van Wyk Louw verwys en toe in dié digter se idioon gesê: "Vandag het daar 'n daad geskied wat opklink oor die aarde en wat 'n magtige boodskap van versoening dra, wat 'n magtige uitreiking tot ware geregtigheid daarstel. "Die passasie in Van Wyk Louw se gedig waarna hier verwys word,  kan gelees word as 'n terugblik op die Afrikanervolk se geskiedenis. Dit lui soos volg:

O wye en droewe land, alleen / Onder die groot suidersterre. / Sal nooit 'n hoë blydskap kom / deur jou stil droefenis? ...

Sal nooit 'n magtige skoonheid kom / oor jou soos die haelwit somerwolk /  wat uitbloei oor jou donker berge, / en nooit in jou 'n daad geskied / wat opklink oor die die aarde en / die jare in hul onmag terge ...

Van referendum tot grondwet

In die referendum van 1992 is die vraag gestel of die regering met die hervormingsproses en die onderhandelings vir 'n nuwe grondwet moet voortaan. Die NP sou in die 1994-verkiesing 'n onoortuigende poging aanwend om te probeer bewys dat die grondwet ooreenstem met die beloftes wat dié party in 1989 aan die kiesers gemaak het. Sonder die moontlikheid van nog 'n referendum of nog 'n wit verkiesing is die noue band verbreek wat so lank tussen Afrikanerkiesers en hul politieke leiers bestaan het.

Die ANC het die onderhandelings wat ná die referendum hervat is met die volgende doelstellings aangepak: Sy ondersteuners moes verenig bly; 'n breuk moes tussen die NP en sy swart bondgenote bewerkstellig word; die veililgheidsmagte, die vernaamste stut van die regering se gesag, moes gediskrediteer word; en enige grondwetlike beperkings op die meerderheidsparty se mag moes verhoed word.

Wat die regering se posisie bemoeilik het, was die politieke geweld wat die oorgangstyd gekenmerk het. Tussen 1984 en 1994 het 20 500 mense in politieke geweld gesterf, 9 500 van hulle tussen die begin van 1990 en April 1994. Die oorgrote meerderheid het gesterf in geweld tussen swart faksies. Die ANC en ANC-gesinde joernaliste het beweer 'n sg. derde mag wat met die regering verbind kon word, het dié geweld aangehits, maar dit is nooit bewys nie. Die Waarheids-en-versoeningskommissie sou later bevind dat daar min getuienis oor ' n sentraal beheerde derde mag is en dat dit eerder 'n informele netwerk met sy eie bevelstrukture was wat by onwettige bedrywighede betrokke was.

Om die kwessie te probeer ontlont, het De Klerk regter Richard Goldstone aangestel om politieke geweld wat in dié tyd uitgebreek het, te ondersoek. De Klerk het nooit ingemeng in nadoodse ondersoeke of verhore waarin polisiemanne tereggestaan het nie.

Die skaal swaai

Op 15 Mei 1992 het die onderhandelingsproses 'n skaakmatposisie bereik oor die kwessie van watter persentasie steun nodig sou wees om besluite in die grondwetgewende vergadering te neem. Die NP wou dit op 75% vasstel en die ANC op 66%.

Die ANC het die onderhandelings aangepak onder die leierskap van Cyril Ramaphosa, 'n ervare vakbondleier. Hy het goed geweet dat dit van die uiterste belang is om 'n bepaalde kwessie te vind waaromheen druk in die onderhandelings uitgeoefen kan word. So 'n kwessie het gou opgeduik toe 38 inwoners van Boipatong, 'n swart township 150 km suidoos van Johannesburg, op 17 Julie vermoor is. Die moorde is gepleeg deur inwoners van 'n hostel aan die buitewyke van die township wat Inkatha gesteun het. Die inwoners van Boipatong was feitlik deur die bank ANC-ondersteuners.

Die ANC het onmiddellik beweer dat die polisie medepligtig was en sy deelname aan die onderhandelings onbepaald opgeskort. Soos dit later sou blyk, was daar nie sterk getuienis oor die polisie se aandadigheid nie. Net ná die moorde het die ANC egter die raamwerk waarin die pers oor die gebeure berig het, so sterk bepaal dat daar wyd aangeneem is dat die polisie, die staat en moontlik selfs De Klerk te blameer is.

Die ANC se onttrekking aan die onderhandelings en sy program van opeenvolgende golwe van massa-optrede het 'n uiters gevaarlike oomblik vir die land geskep. Dit was montlik dat die ekonomie 'n onherstelbare knou sou kry indien beleggers alle vertroue verloor het. Die regering wou nie 'n uitgerekte kragmeting tussen die staat en die bevrydingsbewegings hê nie, maar die onderhandelings so gou moontlik afhandel sodat die ekonomie weer sy kop  kon oplig en werk geskep word.

Hoe langer die onderhandelings aangehou het, hoe meer het die regering se hoop vervaag om 'n skikking te kry waarin die mag en belange van die meerderheid teenoor minderhede bevredigend gebalanseer is. Viljoen, wat as sy vernaamste onderhandelaar goed in die onderhandelings ingegrawe was, moes om gesondheidsredes uittree. Roelf Meyer, wat hom vervang het as hoofonderhandelaar (en bygestaan is deur Leon Wessels en Dawie de Villiers), het nie dieselfde gesag en statuur gehad nie. Die regering het egter in Augustus 1992 'n belangrike doelwit bereik toe Derek Keys as minister van finansies sleutelfigure in die ekonomiese afdeling van die ANC oorreed het om die regering se konserwatiewe finansiële beleid voort te sit, met 'n premie op groei en gebalanseerde begroting.

Om die onderhandelings weer aan die gang te kry, het die regering sekere sleuteltoegewings aan die ANC gemaak in 'n Notule van Verstandhouding wat die partye op 26 September 1992 uitgereik het. Onder meer sou amnestie toegestaan word aan verskeie ANC-lede wat minder ernstige misdade gepleeg het sonder inagneming van die beginsels wat die regering voorheen gebruik het, en sekere hostelle waar Inkatha-ondersteuners gebly het, sou omhein word.

Toe die ANC kort daarna 'n regering van nasionale eenheid vir 'n vyfjaarlange tydperk ná die eerste verkiesing aanbied, het De Klerk dit onmiddellik as die basis vir 'n skikking aanvaar. Die koalisie van wit en swart partye onder die NP wat aan die onderhandelings deelgeneem het, het daarna verbrokkel. 'n Woedende Mangosuthu Buthelezi, leier van Inkatha, het alle steun aan die De Klerk-regering onttrek.

Ingevolge die tussentydse grondwet sou elke party wat meer as tagtig setels in 'n Nasionale Vergadering van 400 lede kry, daarop geregtig wees om een van die twee uitvoerende adjunk-presidente te benoem. Dit het ook bepaal dat 'n party geregtig was op 'n kabinetspos vir elke twintig lede wat die party verkies kry. Mandela het dit duidelik gestel dat die meerderheid die besluite op kabinetsvlak sou neem.

Die grondwet  het ook voorsiening gemaak vir verkose regerings vir die nege provinsies wat afgebaken is. "Federalisme met vyeblare" is hoe hierdie swak vorm van federalisme beskryf is. Daar sou geen afwenteling van gesag na die rasse- of etniese gemeenskappe wees of enige selfbeskikking vir wit mense oor sake soos onderwys of woonbuurte nie.

'n Proporsionele kiesstelsel met 'n geslote lys is aanvaar. Dit het beteken dat kiesers nie vir kandidate stem nie, maar vir 'n partylys wat die leiers saamgestel het.

Wonderwerke en dubbelsinnige kompromieë

Dat die verskillende partye oor 'n grondwet ooreen kon konm, is wyd geloof as 'n wonderwerk, mar die waarheid is meer alledaags Die ANC en die NP het "voldoende konsensus" met mekaar bereik deur botsende eise in die voorlopige grondwet op te neem en die beslegting van konflikte daaroor aan 'n toekomstige regering oor te laat.

Die kwessie van die arbeidsmark is bv. in die tussentydse grondwet gehanteer deur twee verskillende beginsels in dieselfde klousule op te neem.Dit is enersyds die beginsel van regstellende aksie, wat die wanbalanse van die verlede moet regstel, en andersyds van meriete. Ná 1994 het die regering min van meriete gepraat en net op regstellende aksie gefokus. Teen 1998 het die ANC 'n selfs radikaler eis as regstellende aksie begin stel, nl. dat die arbeidsmar op alle vlakke die bevolkingsamestelling (demografiese profiel) moet weerspieël.

Dieselfde het gebeur met taalregte, wat beskou kan word as die sleutel tot Afrikaners se kulturele oorlewing onder 'n swart regering. In die grondwet is sowell die reg op onderrig in een van die amptelike tale (waar prakties moontlik) as die verpligting om die diskriminasie van die verlede reg te stel as beginsels opgeneem. Later is lg. beginsel herformuleer as "die reg op toegang tot onderwys", waarmee bedoel is toegang d.m.v. Engels. Die opstellers van die grondwet het geen poging aangewend om uit te stippel wat moes gebeur indien dié twee beginsels in 'n bepaalde skool teen mekaar te staan kom nie. Ná 1994 het die regering klem gelê op toegang in die voertaal wat kinders verkies, wat gewoonlik Engels is.

Die nuwe regering sou ook druk uitoefen op Afrikaanse skole om, in gevalle waar getalle dit moontlik maak, 'n stroom Engelsmedium-klasse aan te bied wat parallel loop met die Afrikaanse stroom. Die meeste universiteite wat voorheen net Afrikaanstalig was, het vrywillig Engelstalige strome ingestel. Dit is voldoende bewys dat parallelmedium-instellings die groot risiko inhou dat Engels met verloop van tyd Afrikaans sal uitdryf.

In die finale ronde van die onderhandelings is daar haastig 'n klousule in die ooreenkoms opgeneem wat mense wat menseregte in die apartheidstyd geskend het, verplig om om amnestie aansoek te doen om vervolging vry te spring. Die ANC as die toekomstige meerderheidsparty sou klaarblyklik die meeste sê hê in die samestelling van die kommissie wat met die amnestiekwessie belas sou word en die wyse waarop dit sou funksioneer. Die veiligheidsmagte van die NP-regering het gemeen hulle is vir die wolwe gegooi.

Die NP se swart ondersteuning het gou verdwyn namate dit duidelilk geword het dat die regering nie langer die hef in die hand het nie. Vroeg in 1992 het ongeveer 9% van die swart mense in 'n meningspeiling aangedui dat hulle die NP steun, terwyl 14% gesê het hulle sal De Klerk as leier ondersteun. Maar namate die regering tweede viool in die onderhandelings moes speel, het die party se swart steunbasis gou gekrimp en net voor die verkiesing op 3% tot 4% gestaan.

Met uitsondering van Buthelezi, wat die Inkatha-Vryheidsparty gestig het, het nie een van die tuislandleiers daarin gelsaag om 'n sterk party op te bou nie. Mandela het die tradisionele leiers in die tuislande verseker dat hulle hul regte en magte sou behou. Die swart inwoners van die voormalige tuislande het die ANC se sterkste ondersteunersbasis geword.

'n Laaste geveg

Van middel-1992 af het die magsbalans teen die regering gedraai. Hy het nou baie van sy energie daaraan gewy om die simboliek van 'n nederlaag te vermy. Daar moes geen oorwinningsoptogte deur die ANC-vegters in die strate wees of standbeelde wat van hul voetstukke afgetrek word nie. Die veiligheidsmagte sou tot en tydens die verkiesing onder die NP-regering se bevel wees. Die grondwet wt onderhandel is, sou ook geen wetlike krag hê totdat die driekamer-parlement dit as wet aanvaar het nie. Die hoofregter moes die nuwe president inhuldig en al die wit regters moes hul poste behou.

Die ANC was gereed om die NP tegemoet te kom oor die kwessie van die simboliek en rituele van mag terwyl hy gekonsentreer het op die inhoud van mag. Die meeste wit mense en ongeveer die helfte van die Afrikaners was hervormingsgesind. Mandela hetgou respek by hulle afgedwing en selfs hul goedgesindheid gewen. Hulle was bereid om hul oordeel oor die tussentydse grondwet op te skort totdat die nuwe rgering die bewind oorgeneem en hom kon bewys het.

'n Opstand deur die regtervleuel met die steun van elemente in die weermag en aktiewe burgermag het 'n wesenlike gevaar ingehou. 'n Miljoen wit mense en omtrent die helfte van Afrikaners het nee gestem in die referendum van 1992. Hulle het die grondwet verwerp wat nou vorm aangeneem het. Hulle het egter geen ander plan gehad nie en nie eens verteenwoordigers in die laaste stadium van onderhandelings gehad nie.

In baie lande sou die weermag 'n belangrike faktor wees in 'n situasie soos dé waarin Suid-Afrika hom aan die begin van 1994 bevind het. Die Suid-Afrikaanse Weermag was egter betrekllik klein. Daar was minder as 70 000 voltydse soldate, van wie net die helfte wit was. Hulle het 'n tradisie van respek en gehoorsaamheid aan die politieke leierskorps gehad. Die aktiewe burgermag het uit 'n groot getal lede bestaan, maar was gedesentraliseerd en het die politieke en etniese verskille van die wit gemeenskap weerspieël.

Die vernaamste onbekende faktor was genl. Constand Viljoen, wat in 1985 as hoof van die weermag afgetree en daarna in Noord-Transvaal gaan boer het. Viljoen het by die Afrikaner Volksfront, 'n koalisie van regse partye, organisasie en bewegings, aangesluit. Hulle het 'n Afrikanervolstaat geëis. Die Volksfront het 'n "Vryheidsalliansie" gevorm met Buthelezi van die Inkatha-Vryheidsparty, asook met Lucas Mangope en Oupa Gqozo, wat onderskeidelik die regereingshoofde van Bophuthatswana en Ciskei was.

De Klerk het die idee vab 'n volkstaat verwerp omdat dit Afrikaners se posisie in die res van die land sou ondermyn. Viljoen en sy volgelinge het self geen vaste plan gehad nie. Hy het later erken: "Ons kon nooit konsensus kry onder ons mense oor waar ons volkstaat moet wees nie." Die meeste wou 'n staat hê met Pretoria as hoofstad, wat ook dele van Wes-Transvaal, Oos-Transvaal en die noordelike Vrystaat sou insluit. Maar hoewel ongeveer twee derdes van die Afrikaners in hierdie gebied gebly h et, was die meeste mense in dié gebiede nie Afrikaners nie. 'n Meningspeiling van 1993 het gewys dat net 'n vyfde van die Afrikaners sterk genoeg oor 'n volkstaat gevoel het dat hulle bereid was om daarheen te trek. Meer as die helfte het die idee van 'n volkstaat óf teengestaan óf was onseker daaroor.

Met soveel onderlinge verskille het Viljoen erder daarop gefokus om die eerste demokratiese verkiesing te ontwrig. Daarna wou hy De Klerk as le4ier verwyder en opnuut met die onderhandelings begin. Skattings oor die manskappe wat hy bymekaar sou bring, het van 50 000 tot 100 000 gewissel. Daar was ook sprake daarvan dat eenhede in die burgermag en in die weermag by hom sou aansluit. Genl. Georg Meiring, hoof van die weermag, het die regering en die ANC gewaarsku dat die gevolge bloedig kon wees as Viljoen sy p lanne in werking sou stel om die verkiesing teen te staan.

Viljoen se grootste dilemma was sekere elemente in die regtervleuel, veral die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), 'n swak gedissiplineerde paramilitêre organisasie o.l.v. Eugène Terre'Blanche. As beroepsoldaat wou Viljoen nie graag saam met Terre'Blanche en sy "troepe" veg nie. Viljoen se oomblik van waarheid het aangebreek toe die ANC 'n rebellie in Bophuthatswana aangestook het wat gedreig het om Mangope en sy regering in Mafeking (nou Mahikeng) omver te werp. Mangope het dringend hulp gevra van Viljoen, wat hom daarheen gehaas het, maar hy was in 'n onmoontlike situasie. Hy het nie die slagveld gekies nie (om 'n tuislandregering te verdedig) en ook nie sekere van sy bondgenote nie (AWB-veglustiges wat hulle na Mafikeng gehaas het met die doel om swart mense te skiet). Op 9 Maart 1994 het skote wild geklap en dramatiese beeldmateriaal is die wêreld ingestuur van 'n swart soldaat se "teregstelling" van vier AWB-lede.

Dit was nie 'n geveg vir gedissiplineerde soldate nie en Viljoen en sy manne het Mafeking verlaat. Kort daarna het hy bekend gemaak dat hy aan die verkiesing gaan deelneem. Die ANC het hom beloof dat 'n nuwe regering 'n raad van sy volgelinge su aanstel om die vooruitsig van 'n Afrikanervolkstaat te ondersoek. Viljoen was die eerste kandidaat op die lys van die Vryheidsfront, 'n party wat hy gestig het. Die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) onder Buthelezi, wat in 'n stadium van die onderhandelings na 'n onafhanklike Zulustaat gestrewe het, het ook op die nippertjie besluit om aan die verkiesing deel te neem.

'n Vrye verkiesing

Die verkiesing ht op 27 en 28 April 1994 plaasgevind. In groot dele van die land was daar nie werklik sprake van normale verkiesingsveldtogte nie. Die ANC en ander swart partye kon moeilik onder plaaswerkers stemme werf, terwyl die NP en die Demokratiese Party (DP) gesukkel het om stemme in swart townships en ondr swart mense in die tuislande te werf. Daar was klaarblyklik baie onreëlmatighede in die wyse waarop die stemme uitgebring en getel is. Daar was sterk agterdog dat die uitslag eerder bepaal is deur die voorafgaande meningspeilings as deur die stemme wat getel is.

Westerse waarnemers het die verkiesingsproses geesdriftig vry en regverdig verklaar. Die Suid-Afrikaner David Welsh, 'n gerespekteerde liberale ontleder, het dit egter as skynheiligheid bestempel. Dieselfde waarnemers sou hoegenaamd nie in hul eie lande 'n verkiesing met soveel gebreke vry en regverdig verklaar het nie, het hy gesê. Die werklikheid was dat dit onmoontlik was om die verkiesing gebrekkig te verklaar en daaroop aan te dring dat daar opnuut gestem word. Dit sou waarskynlik grootskaalse geweld ontlok het.

Die verkiesing het vreedsaam verloop. Die toesighoudende beampte het verklaar dat die ANC 62,7% van die stemme gekry het, die NP 20,4%, Buthelezi se IVP 10,5%, Viljoen se Vryheidsfront 2,2%, die DP 1,7% en die Pan-Africanist Congress (PAC) 1,2%. Meer as 94% van die ANC se stemme het van swart mense gekom. Die NP het helfte van sy stemme gekry van mense wat nie wit is nie.

NP- en ANC-aandeel in die etniese stem van 1994

                         Swart (%)        Bruin (%)        Asiaat (%)         Wit (%)

ANC                        81                   27                    25                    3

NP                             3                   67                    50                 60

Die Afrikaners wat gestem het, het omtrent reg in die middel tussen die NP en die konserwatiewes geskeur. Die NP het teen die verwagting in die beheer van die nuwe Wes-Kaapprovinsie gewen waar 60% van die bevolking bruin was, 22% Xhosa en 24% wit, en waar 60% van die kiesers Afrikaans in die huis gepraat het. Die pers het bruin mense en Indiërs se steun vir die NP hoofsaaklik aan vrese vir 'n swart regering toegeskryf. Die grootste vooruitgang wat bruin mense en Indiërs op onderwys- en welsynsgebied in die tyd van die driekamer-parlement geraak het, is 'n faktor wat heeltemal onderskat of selfs verswyg is.

Mandela en De Klerk was die twee leiers wat die Suid-Afrikaners agter die proses verenig het. Maar die verkiesing kon maklik in 'n ramp ontaard het sonder Buthelezi en Viljoen en hul volgelinge se deelname en die professionele optrede van die weermag en die polisie onder die bevel van onderskeidelik generaals Mering en Johan van der Merwe.

Die  nuwe bedeling in Suid-Afrika het amptelik begin toe Mandela op 10 Mei 1994 as president van die Republiek van Suid-Afrika ingehuldig is. Die ANC h et die regering van nasionale eenheid oorheeers met 18 ministers. Die NP het ses ministers gehad en De Klerk was een van die twee adjunk-presidente. Buthelezi en nog  twee IVP-lede was ook in die kabinet.

'n Gees van versoening het die aanvangsjare van die nuwe era gekenmerk, met Mandela as 'n voortreflike simbool van die nuwe demokrasie en wit-swart-versoening. Hy het nie baie tyd aan kabinetsvergaderings, die toenemende werkloosheid of die agteruitgang in die strafregstelsel bestee nie. Sy leiding was dié van 'n wyse staatsman, waardige vredemaker, vernuftige politikus en verbeeldingryke versoener van mense oor die rasseskeidslyn heen. Hy het o.m. saam met mev. Betsie Verwoerd en ander weduwees van NP-leiers tee gedrink. Hy het geen bitterheid oor sy 27 jaar in die tronk gewys nie.

Van die vroeë 1990's af het die wêreld vir Suid-Afrikaners begin oopgaan en ná die verkieisinng van 1994 was dit heeltemal oop. Die boikotte is afgelas en normale akademiese, kulturele en sportbande is met 'n groot aantal lande aangeknoop. Suid-Afrikaanse paspoorte was nou oral aanvaarbaar. Suid-Afrika het weer lid van die Statebond geword, wat jong Suid-Afrikaners in staat gestel het om in lande soos Brittanje te gaan werk. Toerisme na Suid-Afrika het 'n bloeitydperk beleef, maar min vaste beleggings het na Suid-Afrika gevloei.

Veral die jonger geslag was verheug omdat hulle van apartheid bevry is. In die algemeen was mense in al die gemeenskappe trots om in 'n inklusiewe demokrasie te leef en hulle het die land se nuwe vlag en volkslied aangegryp.

Hermann Giliomee

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5