Na-Oorlogse Rasseverhoudings, 1902 - 1948 

Gedurende die Anglo-Boereoorlog is stilswyend aanvaar dat dié gewpanede stryd tussen wit partye gevoer is en dat swart mense nie in 'n militêre hoedanigheid aangewend sou word nie. Behalwe enkele belangrike uitsonderings is hierdie verstandhouding meestal eerbiedig.

Die meeste swart mense het egter gehoop op 'n Britse oorwinning en die burgers van die Boererepublieke was deeglik bewus hiervan. Die afgevaardigdes van verskeie Boerekommando's het tydens die vredesonderhandelings by Vereeniging in Mei 1902 bv. gekla oor teistering en vyandige optrede deur swart groepe tydens die oorlog. Hoewel swart mense in die algemeen nie 'n groot rol in die oorlog gespeell het nie, het hul teenkanting teen die Boere se saak Afrikaners se oortuiging versterk dat hulle potensiële bondgenote van Britse imperialisme teen die Afrikanerdom was.

Dit was nie 'n ongegronde vrees nie. Sir Alfred Milnet het in Januarie 1901 'n groep afgevaardigdes ontvang wat glo 100 000 bruin m ense van die Kaapkolonie verteenwoordig het. Dié groep was verheug dat die twee Boererepublieke in die Britse Ryk opgeneem sou word omdat hulle daarvan oortuig was dat bruin mense "slegs onder die Britse vlag en Britse beskerming geregtigheid, gelykheid en vryheid sou kon geniet".

Hierdie vertroue in die deugde van Britse imperialisme is geëwenaar deur die Boere se oortuiging dat hulle in die oë van die swart bevolking op vernerende wyse verslaan is.

Boer en Brit: 'n gerieflikheidsverhouding

In die heropbou van Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog was swart mense waarskynlik die grootste verloorders. Die Britte het versoening tussen die Afrikaners en die Engelse as die dringendste saak beskou. Voor die oorlog het Milner nog gepraat van Brittanje se "plighted faith" (geswore trou) aan swart mense. Die kern van die Suid-Afrikaanse situasie was egter dat albei wit groepe vasbeslote was om hul oorheersende posisie te handhaaf. Die Britse owerheid wou die kwessie van swart stemreg uitstel totdat selfregering aan die Britse kolonies in Suid-Afrika toegeken is.

Nadat koloniale verantwoordelike bestuur aan hulle toegeken is, is verkiesings in die eertydse Boererepublieke gehou. In Transvaal het die pollitieke party Het Volk in Februarie 1907 die meeste stemme gekry en genl. Louis Botha is as eerste minister aangewys en genl. J.C. (Jan) Smuts as koloniale sekretaris. Albei het 'n versoeningsbeleid ondersteun. Dit het beheles dat die sg. bittereindes en hendsoppers met mekaar versoen moes raak, dat versoening tussen Afrikaners en Engelssprekendes bewerkstellig moes word én dat alle Suid-Afrikaners die band met die Britse Ryk moes aanvaar. Daar is voorsien dat Afrikaners en engelssprekendes sou verenig in 'n nuwe, groter Suid-Afrikaanse eenheidstaat wat selfregering van die "grootmoedige" Britse veroweraars sou kry.

Die algemene verkiesing in die Oranjerivierkolonie in November 1907 het daartoe gelei dat die politieke party Orangia Unie aan die bewind gestel is. Abraham Fischer is as eerste minister aangestel en genl. J.B.M. Hertzog as prokureur-generaal en minister van onderwys. Die Fischer-kabinet het sowel Afrikaners as Engelssprekendes ingesluit. Hertzog was ongetwyfeld die oorheersende persoonlikheid in die kabinet en hy het sy eie pollitieke filosofie begin formuleer. Dit het neergekom op 'n wit Suid-Afrikaanse nasie wat uit twee afsonderlike komponente saamgestel is en dat Afrikaners en Engelssprekende groepe elk hul eie kultuur en identiteit behou.

In die Kaapkolonie het die Suid-Afrikaanse Party van John X. Merriman in Februarie 1908 aan die bewind gekom met die steun van J.H. ("Onze Jan") Hofmeyer se Afrikanerbond. In Natal is Frederick R. Moor tot eerste minister verkies.

Die staatkundige vereniging van die vier Britse kolonies in Suid-Afrika is in daardie tyd algemeen bespreek in wit geledere. Die sg. Selborne-memorandum van 1907 is deur Lionel Curtis vir die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika opgestel en deur die Britse regering gesteun. Dié memorandum het die voordele van vereniging beklemtoon. Dit sou die doeane- en spoorwegprobleem, die posisie van swart mense en die gepaardgaande arbeidsvraagstukke op 'n eenvormige en hanteerbare wyse kon oplos.

Merriman en Smuts het heelwt met mekaar gekorrespondeer hieroor. Hulle briefwisseling toon hoe dié twee grondleggers van die latere Unie van Suid-Afrika die rassekwessie in verhouding tot die Afrikaner-Engelse-vraagstuk beskou het. Merriman het besef dat die rassebeleid die hoofkwessie in 'n toekomstige unifikasie sou wees. Hy het die bestaande Kaapse stemregstelsel met beperkte deelname deur bruin en swart mense verdedig. Merriman se Kaapse liberalisme was gegrond op die veronderstelling dat stemreg die sluimerende griewe van bruin en swart mense op 'n aanvaarbare wyse sou kanaliseer. Soos William Porter, eertydse prokureur-generaal van die Kaapkolonie, dit in die vorige eeu gestel het, sou Merriman eerder 'n bruin m an by die stembus tegemoet wou gaan as om "in 'n kloof of 'n skeur met 'n geweer teen sy skouer" deur hom gekonfronteer te word.

Smuts het egter nie geglo dat so 'n beleid 'n verenigde Suid-Afrika sou bevorder nie. Hy het verkies dat die "onuithoudbare las" om 'n oplossing vir die rasseprobleem te vind, eerder aan die groter wysheid van toekkomstige besluitnemers oorgelaat word. Merriman het Smuts probeer oorreed om 'n landwye, nie-rassige kiesstelsel te aanvaar om moontlike imperiale inmenging te voorkom. Hy het toegegee dat dit moontlik onwys sou wees as strydende wit politieke partye swart stemme probeer werf, maar dat dit baie slegter sou wees as swart mense die pleegkinders van 'n imperiale mag sou word. Dit sou tot voortdurende imperiale inmenging in Suid-Afrika lei.

Smuts kon egter nie oortuig word nie. Die toekomstige grondwet van die eenheidstaat sou, ter wille van unifikasie en versoening, darvoor voorsiening moes maak dat die onderskeie kolonies hul eie kiesstelsels behou. Volgens Smuts sou die kwessie van swart stemreg beter aangepak kon word ná staatkundige eenwording. Openbare leiers wat uitstyg bo die kru rassistiese houdings van gewone wit burgers, sou die kwessie dan op 'n verantwoordelike wyse in belang van Suid-Afrika takel. Smuts wou tot elke prys 'n unie hê en hy het erken dat die totstandkoming van 'n unie vir hom belangriker as die kwessie van swart politieke regte was.

'n Reeks vergaderings is tussen Oktober 1908 en Mei 1909 in Durban, Bloemfontein en Kaa0pstad gehou met afgevaardigdes van al vier die kolonies. Gedurende die Nasionale Konvensie, soos hierdie vergaderings genoem is, moes 'n grondwet vir die beoogde Unie van Suid-Afrika opgestel word en is die kwessie van die Afrikaner-Engelse-verhouding bespreek. Die grootste prestasie vir Afrikaneragevaardigdes was die erkenning van taalgelykheid tussen Nederlands en Engels. Dit was egter duidelik dat die sukses van die unifikasieproses ten volle afhanklik was van besluite oor die kiesstelsel- en stemregvraagstuk. Die afgevaardigdes het gou besef dat die uiteenlopende houdings en die kolonies se onderskeie wette oor swart politieke regte die stemregvraagstuk uiters omstrede maak.

Die krisis is ontlont toe besluit is dat die bestaande stemselsels van die verskillende kolonies behou word. Daar is ooreengekom dat geen gekleurde persoon 'n parlementslid in die nuwe eenheidstaat kon word nie. Op aandrang van die Kaapse afgevaardigdes is bepaal dat geen wysiging aan die Kaapse stemstelsel aangebring sou word sonder 'n tweederdemeerderheidstem by 'n gesamentlike sitting van albei huise van die sentrale parlement nie.

Die twee wit taalgroepe, die Afrikaners en Engelssprekendes, het nie juis verskil oor rassebeleid nie. Die Engelse joernalis en skrywer J.A. Hobson het al in 1900 tot die slotsom gekom dat albei groepe "sterk gekant was teen die bevryding en opheffing van die naturel". Dat Engelssprekendes net so hardvogtig in hul houding teenoor ander rasse was, het geblyk uit hul houding teenoor inheemse groepe in Natal, waar sowat 85% van die wit bevolking Engelssprekend was. Die Natallers het 'n segregasiebeleid toegepas wat later in die Unie van Suid-Afrika weerklank sou vind. Gedurende die Nasionale Konvensie was die Natalse verteenwoordigers gekant teen enige uitbreiding van swart stemreg. In Transvaal het Engelssprekende leiers van die Arbeidersparty ook segregasie voorgestaan. Hulle het geëis dat wit arbeid beskerm word en daarom gemaklik met Botha se politieke party, Het Volk, saamgewerk.

Die wesenlike eenstemmigheid onder die wit bevolking oor swart mense se politieke regte en die rassebeleid in die algemeen, blyk uit die oorvloedige getuienis wat verskeie kommissies ingewin het, waaronder die Suid-Afrikaanse Interkoloniale Naturellesake-kommissie. Daar was natuurlik nie volkome eenstemmigheid nie, maar wit mense het ongetwyfeld saamgestem dat hulle die politieke en ekonomiese mag in Suid-Afrika moet behou. Hoewel die sg. "naturelleprobleem" reeds in sazmesprekings voor Uniewording ter sprake gekom het, is daar algemeen geglo dat swart mense se belange op 'n nasionale grondslag gehanteer moet word.

In die lig van dié oortuiging het die Suid-Afrikaanse Interkoloniale Naturellesake-kommissie van 1903 tot 1905 omvattend ondersoek ingestel. Die kommissie, beter bekend as die Lagden-kommissie, was die geesteskind van lord Milner en die meeste van sy lede was Engelssprekend. Die kommissie het omvattend verslag gedoen oor hoe die voormalige Boererepublieke weer opgebou kon word en oor die verskaffing van swart arbeid aan die myne. Ingrypende aanbevelings is gedoen oor grondafbakening volgens wit en swart gebiede wat uiteindelik in die Wet op Naturellegrondgebied van 1913 verskans is. Die Lagden-kommissie se verslag het in vele opsigte 'n bloudruk vir latere segregasiebeleidsrigtings in Suid-Afrika geword.

Een van die kommissie se uitgangspunte was dat swart mense se stemkrag nie toegelaat moet word om die ewewig tussen die twee wit bevolkingsgroepe in Suid-Afrika te versteur nie. Die kommissie het gewaarsku dat poliltieke partye maklik die stemkrag van die Kaapkolonie se swart mense in 'n hewige verkiesingstryd teen wit kiesers kon misbruik. Swart mense se stemme sou dan die bepalende faktor word in twispunte tussen politieke partye. Volgens die kommissie sou swart kiesers naderhand die wit stem op sekere plekke in die land kon oortref en dit sou 'n "onhoudbare situasie skep wat onwys en gevaarlik is.".

Die totstandkoming van die Unie

Die finale sitting van die Nasionale Konvensie het russen 3 en 11 Mei 1909 in Bloemfontein plaasgevind. Die konsepgrondwet vir 'n eenheidstaat, of unie, is die volgende maand deur die parlemente van die Kaapkolonie, Transvaal en Oranjerivierkolonie goedgekeur. In Natal is die konsepgrondwet d.m.v. 'n referendum aanvaar.

Op 20 September 1909 het die Westminster-parlement die Suid-Afrika-wet uitgevaardig wat daartoe gelei het dat die Unie van Suid-Afrika amptelik op 31 Mei 1910 tot stand kon kom. Daardeur is die aspirasies van swart mense geïgnoreer. Hoewel wit mense die Suid-Afrika-wet oorweldigend gesteun het, het baie polities bewuste swart, bruin en Indiërmense beswaar aangeteken teen sekere bepalings van die konsepgrondwet soos vervat in die Suid-Afrika-wet.

In Vukani Bantu! The beginnings of black protest politics in South Africa to 1912 skryf André Odendaal hoe swart mense ná die Anglo-Boereoorlog bepaalde verwagtings gekkoester het weens die Britse owerheid se beloftes aan hulle. Niks het egter daarvan gekom nie. Hul teleurstelling het gelei tot groter politieke bewustheid onder swart mense in al vier kolonies. Hulle het met al groter dringendheid gereageer op die wit groepe se toenemende steun vir segregasie. Talle koerante het verskyn en talle organisasies is in dié tyd gestig.

Swart leiers se benadering was egter steeds om hul lojaliteit aan die Britse kroon te toon en daarom het hulle 'n versigtige en gematigde strategie vir grondwetlike verandering gehad. Hoewel latere sart leiers hierdie vroeë agitasies as uiters konserwatief, bedees en naïef beskou het, het baie van die destydse leiers stemreg i n die Kaapkolonie gehad. Volgens Odendaal was dit dus te verwagte dat hulle eers alle konvensionele kanale sou benut om hul griewe te lug voordat hulle 'n meer konfronterende houding sou inneem.

Daar was uiteindelik 'n magdom besware uit swart geledere teen die bepalings van die konsepgrondwet van die Nasionale Konvensie. Op 24 Maart 1909 is swart afgevaardigdes van al vier kolonies genooi om 'n South African Native Convention in die Waaihoek-woongebied van Bloemfontein by te woon. Die Cape Coloured Association en die African Political (later People's) Organisation het op 5 Maart ook 'n protesvergadering in die Kaapstadse stadsaal gehou wat opgevolg is deur 'n konferensie in April in dieselfde stad. Die swart en bruin groepe se onderskeie kongresse het besluit om hulle op die Britse regering te beroep om die stemregbeperkings van die konsepgrondwet te wysig.

William Schreiner, eertydse premier van die Kaapkolonie en invloedryke liberalis, het die afvaardiging van leiers uit die swart en b ruin gemeenskappe na Londen gelei. Mohandas (Mahatma) Gandhi, latere staatsman in Indië, het namens die Indiërs van Suid-Afrika na Londen gegaan. Verskeie wit politici het heftig beswaar gemaak teen die Schreiner-afvaardigin g. Volgens Merriman was Schreiner se boodskap een van die onvriendelikste gebare teenoor die swart mense van Suid-Afrika. Genl. Louis Botha, wat kort daarna die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika sou word, het daarop aangedring dat die kwessie van poliltieke regte vir swart, bruin en Indiërmense plaaslik opgelos word. Hy het geglo die meeste Suid-Afrikaners het in die verlede nog altyd 'n sin vir regverdigheid en billlikheid teenoor swart mense geoopenbaar. Volgens hom sou hulle ook in die toekoms met dié saak vertrou kon word.

Hoewel sommige Britse parlementslede die etniese beperkings in die wetsontwerp gekritiseer het en die Britse premier, Herbert H. Asquith, versoek het dat wit Suid-Afrikaanse politici die beperkende stemregkwalifikasies verander, het die Westminster-parlement geen wysigings aan die wetsontwerp aangebring nie. Die stelsel van eksklusiewe politieke mag vir wit mense is met die totstandkoming van die Unie in 1910 gevestig. Hierdie situasie het voortgeduur tot 1984, toe die Suid-Afrikaanse Grondwet gewysig is om bruin mense en Indiërs parlementêre verteenwoordiging in afsonderlike kamers van die parlement te gee. In die jare ná Uniewording is talle wysigings aan die Suid-Afrikaanse Grondwet aangebring wat swart en bruin kiesers in die Kaapprovinsie en Natal finaal van hul stemreg en verteenwoordiging ind ie sentrale parlement ontneem het.

Volgens die historikus en u nifikasiekenner Leonard Thompson is die verwydering van die imperiale gesag in Suid-Afrika as geregverdig beskou omdat daar verwag is dat dit konflik tussen Afrikaners en Engelssprekendes sou beëindig. Daar is voorts gehoop dat wit mense toenemend welwillend teenoor gekleurde Suid-Afrikaners sou optree en dat die Unie 'n liberale demokrasie in die Britse tradisie sou word. Dit het egter nie gebeur nie. Hieroor sê Thompson: "Consequently, besides being a striking example of the operation of political forces in a multi-racial society, the story of the unification of South Africa provides a salutary reminder of the limitations of human foresight."

Groter onafhanklikheid vir die Unie

Die grondwetlike status van die Unie van Suid-Afrika en sy verhouding met Groot-Brittanje was tot die 1920's voorop in wit politici se gedagtes. Botha en Smuts het voorsien dat die Unie lid sou word van 'n Gemenebes van Nasies ('n benaming wat Smuts in 1917 vir die eerste keer gebruik het) waarin die Unie gelyke status met ander lidlande sou  hê. Vir Hertzog en volgelinge van die Nasionale Pary was die republikeinse verlede en die onafhanklike diplomasie van die ou Boererepublieke egter nog vars in die geheue. Hul einddoel was daarom 'n republiek.

Smuts se filosofie van holisme het hom laat glo Suid-Afrika moet nie net soewerein en onafhanklik wees nie, maar ook deel van die groter vereniging, die Britse Gemenebes van Nasies (later die Britse Statebond). As eerste minister het Smuts in 1921 en 1923 die Rykskonferensies in Londen bygewoon. Dié konferensies is gehou met die doel om die grondwetlike verhouding tussen Brittanje en die dominiums uit te klaar omdat daar verwarring was oor die dominiums se juridiese status en hul grondwetlike posisie as selfregerende state. Die dominiums het in die praktyk 'n groot mate van gelykheid met Brittanje gehad, maar die vraag was of hul posisie werklik verskans is. Volgens Smuts was die dominiums ten spyte van heelwat vryhede stees "ondergeskikte provinsies" van Brittanje.

In 1924 het die Pakt-regering van die NP en die Arbeidersparty met Hertzog as eerste minister aan die bewind gekom. Hertzog het in die verkiesingstyd 'n eeroonkoms met kol. Fred Creswell van die Arbeidersparty gesluit waarin hy onderneem het om nie die bestaande grondwetlike verhouding tussen die Unie en die Britse kroon te wysig nie. Dit het hom egter nie gekeer om die onsekerheid oor die wetlike en konstitusionele verhouding tussen die dominiums en Brittanje te probeer opklaar nie. Hertzog wou hê dat die Unie se posisie duidelik in regsterme uiteengesit moet word, insluitend die Unie se reg om af te skei van die Gemenebes as hy wou.

Herzog het die Rykskonferensie van 1926 in Londen bygewoon en met groot deursettingsvermoë die weg gebaar vir die uitvaardiging van die Balfour-verklaring. Lord Alfred Balfour, voorsitter van die sitting, het toegegee aan Hertzog se versoek en 'n amptelike verklaring oor die dominiums se status uitgereik:

"Die dominiums is outonome gemeenskappe in die Britse Ryk. Hulle is gelyk in status, in geen opsig ondergeskik aan mekaar in enige aspek van hul binnelandse of buitelandse beleid nie, maar verenig in 'n gemeenskaplike lojaliteit aan die Kroon en vrylik aan mekaar verbonde as lede van die Britse Gemenebes en Nasies."

Die Balfour-verklaring en die Rykskonferensie van 1926 is beskou as 'n groot diplomatieke prestasie. Brittanje, wat geen geskrewe grondwet het nie, was aanvanklik onwillig om die verhouding tussen Brittanje en die dominiums op skrif te stel. Hertzog, wat sterk deur sy Ierse en Kanadese ampsgenote ondersteun is, wou egter nie toegee nie en het aangedring op 'n geskrewe verklaring. By Hertzog se terugkeer het hy gesê die Balfour-verklaring laat die eeue oue stryd om nasionale vryheid vir Suid-Afrika op 'n gelukkige wyse eindig. Toekomstige gebeure sou egter nog wys dat dit nie noodwendig so eenvoudig was nie.

Min ander kwessies aangaande die land se soewereiniteit het mense waarskynlik so verdeel soos die besluit oor 'n landsvlag. Dr. D.F. Malan het in 1926 as minister van binnelandse sake 'n wetsontwerp ingedien wat vir ' n landsvlag voorsiening gemaak het. 'n Bittere twis oor hoe die vlag moet lyk, het onmiddellik ontstaan. Die imperiale ondersteuners was vasberade om die Union Jack as vlag te behou. Die pro-imperiale groepe in Natal het gedreig om dié provinsie aan die Unie van Suid-Afrika te onttrek as die Union Jack verwerp wou word. Aan die ander kant van die politieke spektrum was die vurige republikeinsgesinde lede van die NP> Malan het 'n "skoon vlag" gesteun, d.w.s. 'n vlag met geen Britse simbole daarop nie. Nie een van die groepe wou 'n kompromis aanvaar nie.

Die kwessie het ook gedreig om die Pakt-regering te verdeel. Op aandrang van Creswell, leier van die Arbeidersparty, en adv.Tielman Roos, leier van die NP i n Transvaal, het Hertzog ingestem om die vlagwetsontwerp te vertraag.

Smuts, as leier van die opposisie, het voorgestel dat die toekomstige vlag van die Unie saamgestel word uit 'n samevoeging van die Union Jack, die Transvaalse Vierkleur en die Vrystaatse republikense vlag. Dié konsep is as so verregaande beskou, dat selfs lede van Smuts se eie party geweier het om dit te steun. Nogtans het die senaat, waarin Smuts se Suid-Afrikaanse Party (SAP) die meerderheidsteun gehad het, sy voorstel goedgekeur. Op Roos se versoek het die goewerneur-generaal die buitengewone stap gedoen om Hertzog en Smuts te vra om 'n kompromis aan te gaan. Ná 'n krisis in die kabinet waartydens Malan gedreig het om te bedank, is die kompromis toe wel aangegaan.

Die uiteindelike oplossing was dat die Unie twee amptelike vlae sou hê. Op die landsvlag sou die Union Jack én die vlae van die twee voormalige Boererepublieke in die middel saamgevoeg word teen 'n agtergrond van drie horisontale bane in oranje, wit en blou. Die Union Jack was die tweede amptelike vlag en sou altyd saam met die landsvlag vertoon word. Hierdie vlae mos op voorgeskrewe plekke, soos by die parlementsgebou en ander staatsgeboue, wapper. Die nuwe landsvlag is op 31 Mei 1928 amptelik in gebruik geneem. Hierdie vlagreëling sou tot 1957 geld to finaal afstand gedoen is van die Union Jack. Daarna het Suid-Afrika net een amptelike vlag gehad, soos die internasionale gebruik is.

Terwyl die vlagstryd nog in Suid-Afrika gewoed het, is pogings aangewend om die wetlike teenstrydighede in die Balfour-verklaring uit te klaar. Hoewel die dominiums se gelyke status met Brittanje nou wetlik erken is, kon hulle nie wette uitvaardig wat strydig is met Britse wetgewing of 'n eie, onafhanklike buitelandse beleid ontwikkel nie. Die dominiums was ook nog wetlik ondergeskik aan die Britse Geheime Raad (Privy Council) en die goewerneurs-generaal - wat die koning verteenwoordig het, maar deur die Britse regering geadviseer is - kon parlementêre wetgewing verwerp.

Hierdie wetlike teenstrydighede kon slegs deur wetgewing in die Britse parlement verwyder word. Dit het uiteindelik gebeur. In 1930 is die status van die goewerneur-generaal as verteenwoordiger van die Britse koning in Suid-Afrika verander. Darna het hy net die koning verteenwoordig, nie meer die Britse regering nie. Die Britse regering sou voortaan in Pretoria verteenwoordig word deur 'n hoë kommissaris met dieselfde status as die Hoë Kommissaris in Suid-Afrika-Huis op Trafalgarplein in Londen. Die goewerneur-generaal sou voortaan ook aangestel word op uitsluitlike advies van die Unie se ministers. Dit het in 1937 vir die eerste keer gebeur toe Patrick Duncan as goewerneur-generaal aangestel is.

Die Unie-parlement het die nuwe Unieburgerskapwet uitgevaardig wat Suid-Afrikaners 'n eie nasionaliteit gegee het, bykomend tot hul status as Britse onderdane. Ná nog 'n Rykskonferensie in 1930 het die Britse regering op aandrang van die dominiums, wetlike gesag aan die Balfour-verklaring verleen met die aanvaarding van die Statuut vabn Westminster (1931). Met dié statuut is die bron van Suid-Afrika se soewereiniteit van die Westminster-parlement in Londen na die Unie-parlement in Kaapstad oorgeplaas. Die poliltieke en grondwetlike status van die dominiums is daarmee uiteindelik uitgeklaar, grotendeels danksy Smuts en veral Hertzog se bydraes.

Segregasie in die wetboeke

In die twee dekades ná Uniewording was daar groot eenstemmigheid onder wit politieke partye oor die rassevraagstuk en hulle het ook toenemend beperkende wetgewing daaroor gesteun. Premier Louis Botha het reeds in 1910 gevra dat die rassevraagstuk bo partypolitiek gestel word. sowel die Unioniste as die Arbeidersparty was ten gunste van segregasie en dit is ook ondersteun deur die Nasionale Party (NP) wat in 1914 gestig is. Wat die sg. Indiërvraagstuk betref, het wit poliltieke partye ook saamgestem oor die beginsel van beperkte Indiërimmigrasie, die bevordering van Indiërrepatriasie en die handhawing van afsonderlike woongebiede.

Die konsensus onder wit partye en die kieserskorps blyk duidelik uit die wyse waarop diskriminerende wetgewing in die parlement ontvang is. In 1911 is die Wetsontwerp op Naturelle-arbeidsbepalings en die Wetsontwerp op Mynbou en Industrieë feitlik sonder teenkanting in die Volksraad aanvaar. In 1913 is die Wet op Naturellegrondgebied, wat ingedien is deur Jacobus W. Sauer, 'n bekende Kaapse liberale politikus en minister van naturellesake, deurgevoer. Sauer het in die parlementêre debat lof daarvoor uitgespreek dat 99% van die Volklsraadslede en selfs "vriende van die naturelle" die beginsels van die wetsontwwerp aanvaar het.

Die Wet op Naturellegrondgebied No. 27 van 1913) het in wwerklikheid die grondslag vir die latere tuislandbeleid gelê. Ingevolge daarvan is bestaande reservate, sendingreservate (in Natal), tradisionele stamgebiede en sommige plase wat in private of stambesit was, vir swart mense se eksklusiewe besit aangewys. Geen swart m ense is egter toegelaat om grond buite dié gebiede te koop nie tensy toestemming van die goewerneur-generaal verkry i s. 'n Belangrike klousule in die wet was dat daar nie ingemeng sou word in swart mense se reg om stemgeregtig te word nie. (Dit was 'n verwysing na die gemeenskaplike kieserslys in die Kaapprovinsie.) Die goewerneur-generaal kon voorts bykomende grondgebied aan swart mense toeken as die behoeftes ontstaan. Dit is in die daaropvolgende jare taamlik algemeen gedoen.

Die Wet op Naturellegrondgebied (1913) was nie van toepassing op swart mense in stede nie en daarom is die Wet op Stedelike Gebiede van 1923 aanvaar. Dié wet is voorafgegaan deur die ondersoek van die Transvaalse Kommissie vir Plaaslike Regering, of Stallard-kommissie, in 1922. Dié kommissie het van die standpunt uitgegaan dat wit mense die alleenreg op verblyf in dorpe het en dat swart mense net daar is om in wit inwoners "se behoeftes te voorsien". Dié uitgangspunt is in die Wet op Stedelike Gebiede van 1923 opgeneem wat die grondslag gelê het vir die segregasie van woonbuurte en die idee versterk het dat swart mense nie permanente verblyfreg in dorpe het nie.

Die Wet op Naturellegrondgebied en die Wet op Stedelike Gebiede het die steunpilare gevorm van die segregasiebeleid. Dié wette is aangevul deur die Wet op Nywerheidsversoening van 1924 wat swart mense uitgesluit het van erkende vakbonde. Die hele wetgewende proses is in die parlement deurgevoer sonder noemenswaardige besware deur enige van die partye.

Voor die algemene verkiesing van 1929 het die rassekwessie nie juis 'n groot rol in verkiesingsveldtogte gespeel nie, maar dit het nie beteken dat die kwessie nooit kop uitgesteek het nie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het NP-ondersteuners beswaar daarteen gemaak dat swart mense vir ondersteunende krygsdiens en ander hulpdienste na Europa gestuur is. Volgens hulle was dit 'n onding dat swart mense in oorloë tussen wit mense betek word en sou dit die natuurlike orde van rasseverhoudings in Suid-Afrika versteur. Premier Louis Botha het hierdie vrese probeer besweer deur parlementslede te verseker dat die swart mense oorsee in kampongs gehuisves sou word en gevolglik geensins aan enige moontlike ongewenste beïnvloeding blootgestel sou wees nie.

Die bruin stem

Die Suid-Afrika-wet van 1909 het bruin mense in wese van enige hoop op politieke mag ontneem. In 1910 het slegs 2,5% van die totale bruin bevolking stemreg gehad (teenoor 21% van die wit bevolking) en hulle kon ook nie tot die parlement verkies word nie.

In reaksie hierop het dr. Abdullah Abdurahman, president van die oorwegend bruin African People's Organisation (APO), na politieke eenheid tussen bruin en swart mense gestreef. Hoewel bruin en swart leiers soos Abdurahman en die skrywer John Tengu Jabavu, stigter van die koerant Imvo Zabantsundu, saam protes aangeteken het teen onderdrukking, was die poliltieke band tussen h ul volgelinge nie juis sterk nie. Geografiese isolasie, verskille in taal en ras, uiteenlopende gebruike, ekonomiese onderskeid en ongelykhede in status het verhinder dat hulle in 'n enkele poliltieke organisasie kon saamsmelt.

Die APO se bestuur, wat hoofsaaklik uit intellektuele en kleinsakemanne bestaan het, het enige vorm van massa-aksie vermy en eerder versoekskrifte en afvaardigings gestuur of verkiesingsveldtogte begin om besware te lug. Die Unie-regering het die APO se verteenwoordigers dikwels positief ontvang, in teenstelling met die leiers van die African National Congress (ANC) wat in 1912 gestig is.

Hoewel die aantal bruin en swart stemgeregtigdes beperk was, was hulle 'n belangrike faktor in verskeie kiesafdelings van Kaapland. In 1909 was hulle byna 14,8% van die kieserskorps in Kaaplanden teen 1929 byna 20%. As die bruin kiesers as 'n blok gestem het, kon hulle 'n beslissende rol speel in 'n stryd tussen wit politieke partye. In die 1920's het bruin kiesers die deurslag gegee in sowat agt tot twaalf kiesafdelings in die Kaapprovinsie.

In die vroeë jare van die Unie het die meeste bruin en swart kiesers die imperialistiesgesinde Unioniste Party gesteun. Toe dié party in die Suid-Afrikaanse Party (SA) opgeneem is, het baie bruin kiesers ook die SAP gesteun. In die algemene verkiesing van 1924 het die ANC geweifel tussen openlike steun aan die SAP en om die verkiesing te boikot. Clements Kadalie se Industrial and Commercial Workers' Union (ICU) het weer oop die voorgrond getree as ondersteuners van die Pakt-partye. Hoewel die Cape Native Voters' Association die SAP nog in 1924 gesteun het, het hierdie vereniging in die algemene verkiesing van 1929 amptelik geen politieke party meer ondersteun nie. Hy het sy lede aangeraai om slegs te stem vir kandidate wat ten gunste van die behoud van die gekwalifiseerde stemregstelsel vir swart mense van die Kaapprovinsie was.

Die NP het, tot sy latere verleentheid, ook swart kiesers probeer werf (Hertzog het in 1921 selfs 'n skening aan Kadalie se ICU gemaak). In die 1920's het Hertzog hom egter op bruin kiesers begin toespipts. Die NP se beleid teenoor ondrskeidelik swart mense en Indiërs is duidelik in sy Program van Beginsels uiteengesit wat in 1914 en 1921 uitgereik is, maar dit het geen spesifieke beleid t.o.v. die Kaapse bruin mense bevat nie.  Hertzog se eerste openbare verklaring oor bruin mense in sy hoedanigheid as NP-leier is in 1918 uitgereik en daarin het hy gesê bruin mense moet dieselfde politieke en ekonomiese regte as wit mense hê. Hy het dié standpunt op di e kongres van die Vrystaatse afdeling van die NP in 1919 herhaal en bygevoeg: "Ze voelen zich geen naturellen. Ze zijn geboren en opgevoed in het midden van de beschaving van blanken en voornamelijk tussen Hollandssprekende Afrikaners en ze voelen dat de belangen van de Hollandssprekende Afrikaners hun belangen zijn."

Sommige bruin kiesers het die NP wel gesteun. Ná die algemene verkiesing van 1924 het 'n groep bruin ondersteuners W. Bruckner de Villiers as verteenwoordiger van die kiesafdeling Stellenbosch die parlementsgebou ingedra. Hoewel daar relatief min steun vir die Nasionaliste onder bruin mense was, het Hertzog voortgegaan om hul stemme te probeer werf. Nadat die Pakt-regering in 1924 aan die bewind gekom het, het hy beperkte politieke regte vir bruin mense na die noordelike provinsies probeer uitbrei. Sy belangrikste uitsprake oor bruin mense is vervat in 'n toespraak wat hy in 1925 in sy kiesafdeling, Smithfield, gelewer het:
"Nou mag nie uit die oog verloor word nie dat in die geval van die Kaapse Kleurling ons te doen het met 'n klas van ons bevolking wat in vele opsigte na aan die Europeaan staan; en in haast elke opsig, behalwe kleur, grondig van die naturel verskil...  Ekonomies, industrieel en poltiek moet hy by ons opgeneem word. Maatskappelik is dit sy begeerte, net so seer as die van ons, dat hy by sigself sal staan, en geen gemeenskap met die blanke sal soek nie...  Wat betref die stemreg staan  hy in die Kaap op dieselfde voet as die Europeaan en is hy dus daar reeds opgeneem naas die blanke man."

Die frase "moet hy by ons opgeneem word" was dubbelsinnig. Dit was nie duidelik wat Hertzog presies bedoel het nie. Moes bruin mense in alle opsigte op gelyke voet moet wit mense geplaas word? Of moes hulle soos in die Kaapprovinsie 'n posisie inneem tussen wit en swart mense? En as hulle in alle ander opsigte gelyk was aan wit mense, waarom moes hulle dan sosiaal gesegregeer word?

Hertzog was nie 'n baie goeie openbare spreker nie en sy stellings was meermale dubbelsinnig en oop vir verskillende vertolkings. Hy het wel twee pogings aangewend, in 1926 en 1929, om stemreg uit te brei na bruin mans in die ander provinsies wat aan sekere opvoedkundige en ekonomiese vereistes voldoen het. Hulle sou dan een wit verteenwoordiger tot die Volklsraad (laerhuis) kon verkies. Hertzog se motivering was moontlik om 'n wig tussen bruin en swart mense in te dryf om te keer dat verenigde swart opposisie ontstaan en om steun vir die Nasionaliste onder bruin Kaapse kiesers te werf. Sy voorstelle is in ellk geval nie gunstig in die noordelike provinsies ontvang nie en daar was selfs sprake van ontevredenheid onder sommige Kaapse Nasionaliste oor die bruin stem. Hertzog wou 'n moontlike b reeksplul in die NP voorkom en het die saak laat vaar.

Hoewel Hertzog in 1928 bereid was om stemreg vir "beskaafde" bruin vroue te oorweeg, het hy min steun daarvoor ontvang. Sommige lede van die NP het daarop aangedring dat stemreg eerder aan wit vroue gegee moet word om gekleurdes se stemkrag te verswak. Dit het in 1930 gebeur tot parlementslede met 'n groot meerderheid ten gunste van stemreg vir wit vroue gestem het.

Die bruin en swart stem in die spervuur

Ná 1929 het die Nasionale Party se beleid oor bruin mense verander. Waarom  het dit gebeur?

Gedurende sy eerste termyn (1924-1929) het die NP se beleid oor bruin mense hoofsaaklik op drie beginsels berus: Eerstens moes bruin mense van swart mense geskei word, hulle moes tweedens nie polities en ekonomies gesegregeer word nie en derdens moes bruin mense se ekonomiese en politieke status tot op dieselfde peil as dié van wit mense gebring word. Baie NP-ondersteuners het geglo dat bruin mense oortuig kon word om hulle van hul verbintenis met Engelssprekendes en die Suid-Afrikaanse Party los te maak en vir die NP te stem.

Die NP was in elk geval bereid om dié moontlikheid 'n kans te gee en daar was geldige redes waarop die party dié verwagting gekoester het. Die NP het bv. ten nouste saamgewerk met sy bruin susterliggaam, die Afrikaanse Nasionale Bond, wat 'n hele aantal bruin van statuur aangetrek het. Die algemene verkiesing van 1929 het egter nie die verwagte swaai van bruin kiesers weg van Smuts se SAP na die NP gebring nie. Die NP het dr. Abdurahman en die APO se invloed onderskat en ook nie bruin mense se lojaliteit aan die Britse Ryk en simbole soos die Union Jack behoorlik in ag geneem nie. Abdurahman het groot gewag gemaak van lojaliteit aan die Britte, wat slawerny beëindig het en die NP beskuldig van ontrouheid aan die Union Jack.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die NP eers in 1929 'n volstrekte meerderheid setels in die Volklsraad gekry het. In die voorafgaande jare moes die party soveel steun moontlik van enige groep van die kieserskorps p robeer verkry om sy posisie in die parlement te konsolideer. Nadat stemreg in 1930 na wit vroue uitgebrei i s, het die proporsie bruin stemgeregtigdes in die Kaapprovinsie aansienlik gedaal. Dit het sommige lede van die Np aangespoor om bruin mans van die gemeenskaplike kieserslys verwyder word en 'n stels van aparte verteenwoordiging in die parlement (deur wit verteenwoordigers) vir hulle geskep word. Hertzog wou die voorstel nie aanvaar nie voordat daar in die volgende verkiesing, wat in 1934 gehou sou word, 'n "beroep op die volk" gedoen is. Dié verkiesing en die "beroep op die volk" het egter nooit plaasgevind nie weens die veranderinge in die Suid-Afrikaanse poliltiek in die volgende twee jaar.

Vroeg in 1933 het Hertzog en Smuts besluit om 'n koalisie te vorm en saam geregeer tot Desember 1934, toe die NP en die SAP saamgesmelt het en die Verenigde Party gevorm is. Hertzog het aangebly as eerste minister en Smuts het sy adjunk geword. In reaksie op dié samesmelting het die radikaler NP-lede onder Malan se leiding weggebreek en die nuwe Gesuiwerde Nasionale Party gevorm. Hierdie ontwrigting en herposisionering van die hoofpartye het die kwessie van bruin mense se ontkiesering op die agtergrond geskuif tot die 1950's, toe Malan se Nasionaliste die land geregeer het en die saak makllk kon deurvoer.

Die samesmelting het Hertzog wel opnuut 'n geleentheid gebied om die sg. "naturellevraagstuk" te probeer oplos deur swart mense van die gemeenskaplike kieserslys in die Kaapprovinsie te verwyder en hulle wit verteenwoordigers in die Volksraad en die Senaat te gee. Hertzog het geglo dit sou die rassekwessie uit partypoliltiek laat verdwyn en harmonie tussen Afrikaners en Engelssprekendes bevorder.

Om swart mense van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder, het Hertzog 'n tweederdemeerderheidstem in albei huise van die parlement benodig. Dit was hoofsaaklik die SAP wat swart stemreg ondersteun het, maar aan die begin van die 1930's het selfs Smuts toegegee dat stemreg vir swart mense van die Kaapprovinsie 'n verlore saak is. Toenemende meningsverskille oor hierdie saak het tot spanning in die SAP gelei. Die oorgrote meerderheid Natalse en Transvaalse lede van die SAP was ten gunste daarvan dat swart kiesers van die gemeenskaplike kieserslys verwyder word. Hertzog was bewus van hierdie tweespalt in die SAO en het dit tot sy eie voordeel gebruik.

Nadat die NP en die SAP saamgesmelt het, het Hertzog sy standpunt oor die Britse imperiale verbindtenis, verpligte tweetaligheid in die staatsdiens en die status van provinsies versag. Hy het gehoop om die Engelssprekende Natalse SAP-heethoofde se guns sodoende te wen en dat hulle hom uiteindelik sou help om sy rassebeleid in te stel.

Hy het dit in 1936 reggekry toe die Wet Op Naturelleverteenwoordiging aanvaar is. Ingevolge dié wet is die 10 628 geregistreerde swart kiesers in die Kaapprovinsie op 'n afsonderlike kieserslys geplaas en hulle kon drie wit verteenwoordigers tot die Volksraad verkies. alle stemgeregtigde swart Suid-Afrikaners kon ook vier wit senators d.m.v. 'n kieskollege aanwys. Dié wet het ook voorsiening gemaak vir 'n Verteenwoordigende Naturelleraad wat as raadgewende liggaam sou optree. Die Wet op Naturelletrusts en -grond is terselfdertyd aanvaar. Dit het voorsiening gemaak vir 'n trustfonds wat  nog 7,2 miljoen morg kon koop wat by die bestaande swart reservate gevoeg kon word. Die reservate het nou 13,7% van die landsoppervlak beslaan.

Hoewel die jare 1934-1939 soms bestempel word as die hoogtepunt van samewerking tussen Afrikaners en Engelssprekendes, was daar steeds verskille tussen die twee taalgroepe. Die regerende Verenigde Party onder Hertzog het 'n reeks uiteenlopende en dikwels opponerende groepe ingesluit, van liberaliste soos Jan Hendrik (Kleinjan) Hofmeyr tot segregasie-aanhangers soos dr. Oswald Pirow. Dit het die VP polities uiters kwesbaar gemaak vir aanvalle deur sy teenstanders, soos die Gesuiwerde NP, wat die verskillende faksies in die VP teen mekaar begin afspeel het.

Die belangrikste twee sake waarop die Gesuiwerde NP gefokus het, was die rassekwessie en die Unie se verhouding met Brittanje. Op 'n NP-kongres in 1938 in Bloemfontein het Malan uitgevaar teen diegene wat net imperiale belange nastreef en net besorg is oor die band met Brittanje. Hy het voorts gesê: "Dis daardie belange wat van die aanvang af aan die naturel en kleurling die stemreg toegeken het gelykop met die wit man. Nie op meriete of uit beginsel nie - want nêrens elders in die Britse Ryk het so iets ooit gebeur nie - maar (hier) met die bepaalde doel om dit te gebruik as teenwig teen die nasieskapstrewende Boerevolk."

Rassekwessies het die kern uitgemaak van die Gesuiwerde NP se aanvalle op die regering. Die algemene verkiesing van 1938 is bv. gekenmerk deur die sg. "Baster-plakkaat". Dit was 'n voorstelling van 'n gemengde gesin bestaande uit swart en wit mense. Met hierdie geïllustreerde advertensie wou die NP die VP se onverskilligheid oor strenger wetlike beperkings op gemengde huwelike uitbeeld. Die party party se anti-swart- en anti-Semitiese propaganda ná die opkoms van Adolf Hitler ná 1933 in Duitsland het byval gevind by wit Suid-Afrikaners.

As leier van die o pposisie het Malan in 1939 'n versoekskrif aan die parlement voorgelê wat deur 230 619 mense onderteken is. Baie ondersteuners van die VP het dit waarskynlik ook onderteken. In dié petisie is eerstens versoek dat aparte woongebiede volgens rasseverdeling ingestel word. Tweedens moes alle gemengde huwelilke wetlik verbied word. Derdens moes bloedvermenging 'n strafbare oortreding wees. Laastens moes politieke en ekonomiese segregasie tussen wit en gekleurde mense toegepas word.

Hertzog het nie aan enige van die eise toegegee nie. Hy het volgehou dat bruin mense se stemreg nie verminder sou word nie.

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het tot hernude polalrisasie tussen Afrikaners en Engelssprekendes gelei en het ook bitterheid en spanning onder Afrikaners meegebring oo die nasionalistiese saak. Smuts is in daardie jaar as eerste minister aangewys.

Tot groot ontevredenheid van die NP het die Smuts-regering ook bruin en swart mense gewerf om hulpdienste in die oorlog te lewer. Swart vrywilligers is nie met vuurwapens toegerus nie, maar is as semi-militêre helpers aan die front beskou.

Vanuit opposisiegeledere het Frans Erasmus opgemerk dat baie van die bruin soldate voorheen 'n bestaan as "skollies" gevoer het en dat hulle nou deel uitgemaak het van die regering se "kiesersfabriek". Die NP was ook ontsteld oor die wetsontwerp oor aktiewe militêre diens wat ná 1941 voor die parlement gedien het. Dit het bepaal dat afwesige kiesers wat besig is met militêre diens, ook kon stem.

Die Smuts-regering het in die oorlogsjare en daarna besef dat groot hervormings in die rassebeleid nodig is. Min is egter gedoen om die struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing te verander. H oewel Smuts verklaar het dat segregasie "had fallen on evil days", het sy regering hoogstens kleiner hervormings aangebring en groter strukturele veranderings wat wit mag kon verminder, is nie oorweeg nie.

Hoewel die Kommissie van Ondersoek na die Bruin Bevolking van die Unie (die Wilcocks-kommissie) in 1937 aanbeveel het dat die Kaaplandse kiesstelsel na die ander provinsies uitgebreimoet word, het nòg Hertzog nòg Smuts wetgewing in dié verband ingedien. Die Smuts-regering het wel besef dat die bruin gemeenskap 'n beter kanaal benodig om hul menings en griewe te lug en gevolglik is die Kleurlingadviesraad in 1943 geskep. Die raad se hoofdoel was om die regering te adviseer oor bruin mense se ekonomiese, politieke en maatskaplike belange. Die raad moes die Smuts-regering ook help om die Wilcocks-kommissie se aanbevelings sover moontlik uit te voer.

Die Kleurlingadviesraad het tot groot politieke verdeeldheid onder bruin mense gelei. Teenstanders van die raad het aangevoer dat dit niks anders as 'n verdere verdeling volgens rassegroepe in 'n grondwetlike raamwerk verteenwoordig nie. Volgens hulle het dit ' n presedent geskep wat ondersteuners van segregasie kon gebruik om nog druk uit te oefen dat bruin kiesers bv van 'n gemeenskaplike kieserslys verwyder moet word en dat aparte woongebiede vir wit en bruin afgebaken moet word. Hierdie vrese is in die volgende dekade bewaarheid.

In dié tydperk het die bruin politiek 'n baie meer besliste, maar ook meer gefrustreerde karakter aangeneem. Die onderwyskenner prof. Richard van der Ross het in sy memores geskryf: "Vir minstens die volgende twintig jaar was die politiek 'n politiek van protes. Hulle kon immers nie meer as protes aanteken nie - hulle het nooit oorgegaan tot aksie nie. Daar was ook verdeeldheid in die Kleurlinge se geledere - daar was diegene wat tot aksie wou oorgaan, terwyl  'n ander deel teruggedeins het. Die gematigde groepe het hulle ook georganiseer en gesoek na 'n konstruktiewe benadering."

Die sterk rasgevoelens van die 1940's kan nie maklik oordryf word nie. Die NP se eise om toenemende segregasie en die aandrang op die verwydering van bruin kiesers van die gemeenskaplike kieserslys, het toenemend spanning veroorsaak. Toe die VP die kiesafdeling Kaapstad-Kasteel in 'n tussenverkiesing wen, het die NP se amptelike publikasie, Die Kruithoring, dit beskryf as 'n "triomf" vir bruin mense. Die NP was veral krities oor die VP se veronderstelde miskenning van ras- en kleurverskille.

Die felle twis tussen die NP (in opposisie) en die VP (die regering) iir rasse-aangeleenthede bklyk duidelik uit die volgende parlementêre debat van Januarie 1947.Uit die opposisiebanke het dr. T.E. Dönges die VP-lied vir Soutpansberg, S.A. Cilliers, onderbreek deur te vra of hy daarmee genoeë sou neem as bruin mense langs hom in die trein kom sit. Cilliers eerlike antwoord was dat hy nie saam met hulle sou wou ry nie. Hy het bygevoeg dat hulle op hul plek gehou moet word, maar dat daar dan duidelik aan hulle gesêmoet word wat die bedoeling daarmee is.

In die debat het E.R. Strauss, opposisielid van Harrismith, op sy beurt vir Cilliers gevra of hy en sy vrou saazm met bruin mense en die "vuilste" swart mense in 'n bus sou wou ry. Daarop het Cilliers hom verweer met die stelling dat Strauss bereid is om swart mense toe te laat om vir hom brood te bak. Strauss het gereageer dat hy dit net toelaat as sy bakker skoon is, maar dat hy hom nie in sy bed of motor sou toelaat as hy dit kan verhelp nie.

Cilliers het op die teenstrydigheid in sy antwoordg ewys. Hoe kan iemand sy brood bak, maar nie toegelaat word om saam met hom in 'n bus te ry nie? Strauss se verweer was dat wanneer hy as lid van die regerende party segregasie bespreek, hulle nie gekant is teen die huishulp wat die ketel in die kmbuis kook nie. Maar hulle wou weliswaar nie hê dat wit mense bedag of snags saam met gekleurde mense in dieselfde treinwa ry nie.

In die lig van die Nasionaliste se onverbiddelike standpunte oor ras en die VP-regering se dubbelsinnige reaksie, is dit te verstane dat baie bruin en swart mense die ergste verwag het toe die politieke bondgenootskap van die NP, onder leiding van dr. D.F. Malan, en die Afrikanerparty onder leiding van N.C. (Klasie) Havenga, die algemene verkiesing op 26 Mei 1948 gewen het.

Historici verskil oor die mate waarin rassepolitiek 'n rol in die NP-oorwinning gespeel het. Ek is geneig om saam te stem met dr. Bernard Friedman, wat in sy boek Smuts: A reappraisal aanvoer dat Malan op 'n strategie besluit het wat sou verseker die rassevraagstuk tree as die oorheersende kwessie in die verkiesing na vore. Die Nasionaliste het die kwessie van republilkanisme op die agtergrond geskuif en vervang deur 'n strategie teen die "swart gevaar". In 'n belangrike toespraak op 20 April 1948 in die Paarl het Malan die kiesers trouens gevra of die Europese ras in die toekoms sy rassesuiwerheid sou kon en wou bewaar en of dit maar sou aanhou dryf totdat dit in die swart see van die nie-Europese bevolking verdwyn.

David M. Scher

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5