‘n Omgewingsgeskiedenis van Suid-Afrika

Omgewingsgeskiedenis is die studie van die invloed wat die mens en die natuur met verloop van tyd op mekaar uitoefen. Daar word ook soms na dié proses verwys as deel van die ekologie (die studie van organismes in hul verhouding tot die omgewing en met mekaar).

Omgewingsnavorsing in die vak geskiedenis is sedert die 1960's aangemoedig toe sosio-politieke bewegings in die Verenigde State van Amerika (VSA) en Europa gereageer het op die frustrasies van ekologiese en diereregte-drukgroepe. Algaande het die groeiende bewustheid van 'n wêreldwye omgewingskrisis en die gevolglike Groen Revolusie-benadering 'n uitwerking op historici se denkwyses gehad. In bg. wêrelddele het hulle dus begin aandag skenk aan omgewingskwessies en die "landskappe van die verlede" by hul geskiedskrywing begin insluit.

Omgewingsgeoriënteerde navorsing oor Suid-Afrika se verlede is egter nog maar 'n onlangse ontwikkeling. As gevolg van die land se intellektuele en politieke isolasie tydens apartheid het die wêreldwye Groen Revolusie betreklik min aandag onder plaaslike historici geniet. Hulle het hul eerder daarop toegespits om apartheid teen te staan of te verdedig. Sedert 1994 het historici egter hul studies anders begin benader en ook op die mens se interaksie met die natuur begin foukus.

Die omgewingsgeskiedenis dek verskillende aspekte van die natuur, waaronder die litosfeer (die vaste aardkors), pedosfeer (bv. grond), atmosfeer (lug), hidrosfeer (water in 'n verskeidenheid omgewings) en biosfeer (bv. woude). Hierdie hoofstuk begin deur die omgewing in 'n breë konteks te plaas, met die geografie as die uitgangspunt. Die landskap en sy verskillende ekosisteme word eerste beskryf. Daarna word teruggetree in die verlede met 'n bespreking van hoe inheemse groepe soos die Khoekhoen en swart volkere, asook ander magtige, gesentraliseerde groeperinge uit Afrika, hulle by 'n gedurig veranderende omgewing aangepas het - en hoe hulle op hul beurt weer die omgewing verander het.

Dan volg 'n ontleding van die impak wat wit nedersetting en uitbreiding op die landskap gehad het. Van die middel van die 18de eeu tot die middel van die 20ste eeu was die hoofoorsaak van omgewingsveranderinge die uitbeiding van die landbousekto.

Die opkoms van "omgewingsbewuwitheid" (hoewel dit aanvanklik hoogs verpolitiseer was) en die gepaardgaande groei van nasionale parke word vervolgens  ondersoek.

Die fokus verskuif dan na die apartheidsregering se bestuur van die natuur, gesien binne die konteks van die internasionale omgewing - veral teen die agtergrond van die internasionale omgewingskrisis van die 1960's. Die hoofstuk sluit af met 'n blik op omgewingsinisiatiewe sedert 1994 en die uitdaging van volhoubare ontwikkeling te midde van voortslepende omgewingskrisisse.

--- --- ---

Die wêreld raak omgewingsbewus

In die buiteland het individue of groepe mense se omgewingsgerigte optredes gesorg dat beleid oor gesonde omgewingsbestuur mettertyd tot stand gekom het. Formele omgewingsbewustheid het egter eers van die 19de eeu af posgevat. In die 20ste eeu het progressiewe bewegings wat op omgewingsbewaring gerig was, dié soort kwessies veral ná die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) verder gevoer. Dit het gepaardgegaan met die bydraes van omgewingsdenkers.

Internasionaal gedrewe omgewingsregulasies is veral sedert die 1970's ingestel. Daadwerklike openbare aksies en reaksies rakende negatiewe of onverskillige omgewingsbewaring het dus maar pas die vyftigjaar-kerf bereik. Lank voor hierdie aksies het individue egter dikwels staatsdepartemente voor die hof gedaag oor omgewingskwessies wat hulle in in hul woon- en werksomgewings gehinder het. 'n Gekoördineerde stelsel van regulasies en beleid oor die omgewing is vanaf die 1960's neergelê. In baie opsigte het hierdie mylpaal spontaan tot politieke debatte en openbare optredes rakende die omgewing gelei en  het internasionale omgewingsooreenkomste tot stand gekom.

Die Verenigde Nasies se Brundtland-verslag van 19897, wat gerig was op die verhouding tussen die ekonomie en die omgewing, het bv. voorstelle aan regerings gemaak oor omgewingsbeplanning en volhubare ontwikkeling. In dieselfde jaar het die Montreal-protokol,  wat die bydraes van wetenskaplike bevindinge en diplomasie beklemtoon het, gevolg. Veral welvarende lande het hierby gebaat, maar baie lande het van die ooreenkomste in die algemeen - en die Montreal-protokol spesifiek - geïgnoreer. Hieronder tel Japan en Norweë met hul onwilligheid om beperkings op walvisjag in te stel, Saoedi-Arabië se negatiewe reaksie op die versoek dat hy koolstofuitstortings beperk en Brasilië se aandrang op sy reg om die Amasone te ontwikkel soos hy wil, al hou dit negatiewe implikasies vir die hele mensdom in.

Nog 'n belangrike struikelblok is Indië en China se weiering om deel te vorm van die Montreal-protokol, wat die gebruik van osoonvernietigende middels ontmoedig. Hierbenewens verskil lande m.b.t. hoe streng hul eie wetgewing oor omgewingsbewustheid en -kontrole is. Met sy nuwe regulasies en wette is Suid-Afrika aan die begin van die 21ste eeu voorgehou as 'n model wat omgewingswetgewing betref.

Die afgelope jare het die gebrekkige (soms bewustelik) ongekontroleerde houding van die regering oor die toepassing van omgewingsregulasies egter tot heelwat openbarebewustheidsoptredes deur nie-regeringsorganisies (NRO's) gelei. In 2007 het dit uitgeloop op die vorming van die Fedrasie vir 'n Volhoubare Omgewing (FVO). Binne regeringskrigte - as die beleidmakers en -uitvoerders - het erns jeens die omgewing veral sedert 2005 toegeneem. Die onontbeerlike ekonomiese rol wat primêre bedrywe soos die mynbedryf speel om welvarendheid in Suid-Afrika te verseker, is dekades al die vernaamste rede waarom omgewingsbeleid nie streng deur die regering toegepas word nie - en hy daarom kritiek verduur.

--- --- ---

Hard, veranderlik en kwesbaar

Suid-Afrika beslaan 'n oppervlakte van sowat 1 219 090 km² op die verste uithoek van die groot Ou Wêreld se landmasse, op 'n breedteligging van tussen 22° en 34° suid. Die land word begrens deur sowel die Atlantiese as die Indiese Oseaan.

In die algemeen is Suid-Afrika geologies oud en stabiel. Van die bekendste gesteentes op Aarde 0 3 500 miljoen jaar oud - dagsoom op die grens van Mpumalange en Swaziland, terwyl stukkies vlakte op die rand van die plato in Boesmanland tot 60 miljoen jaar oud kan wees. Dié lang blootstelling beteken miljoene jare van erosie, skoongeskraapte rotsdagsome en vlak grond. Ons lewe letterlik in 'n harde land.

Verder is alle kontinente langs die 30°-breedtelyn dor en Suider-Afrika (die streek waarbinne Suid-Afrika val) is geen uitsondering nie. Suid-Afrika se gemiddelde jaarlikse reënval is 464 mm, terwyl die wêreldgemiddelde 857 mm is. Vyf sewendes van die land ontvang somerreën wat vanaf die Indiese Oseaan aangevoer word. Die ooskus kry meer as 1 000 mm per jaar, die sentrale deel van die binneland (waar die Vaalrivier en die Oranje- of Garieprivier by mekaar aansluit) 400 mm en die weskus minder as 50 mm.

Daarteenoor is die winters droog. In die verre suidweste en suide toon klein, verspreide areas wat baie hoë reënval (bo 2 000 mm) kry 'n ander patroon. Hierdie suidelike "mosaïek" is die gevolg van winterreën uit die Atlantiese Oseaan wat weer van wes na oos verkry word. Tussen die somer- en winterreënstreke lê 'n smal strokie - min of meer vanaf George aan die Tuinroete tot by Lüderitz in Namibië - wat dwarsdeur die jaar reën kry.

In die algemeen is Suid-Afrika 'n droogtegeteisterde land. Die grootste risiko lê in gebiede met somerreën wat tussen 600 mm en 200 mm, nl. die sentrale en oostelike Karoo, die westelike Hoëveld, die Bosveld en die Noord-Kaapse Kalahari. Dít beloop vier sewendes van die land se oppervlakte.

Gebiede met 'n reënval van bo 600 mm per jaar kry selfs in ondergemiddelde jare nog 'n bietjie reën; onder 200 mm maak die boerderystelsel egter gewoonlik vir droogterisiko voorsiening. Droogtes kom ook in die winterreënvalstreek voor, maar winterreën is in die algemeen meer betroubaar.

Droogtes, hoe rampspoedig hulle ook al vir 'n boerderygemeenskap mag wees, is 'n korttermynverskynsel. Suider-Afrika bevind hom ongemaklik op twee klimaatsoorgange: Temperatuurgewys val die land op die oorgang tussen die tropiese en gematigde sones, en reënvalgewys op die oorgang tussen ariede (droë) en humiede (nat) streke.

'n Eenvudige manier om Suid-Afrika ekologies uit te pluis, is om ondersoek in te stel na die biome wat daaroor verspreid lê. 'n Bioom is 'n gebied met 'n eenderse plant- en dierelewe wat gekenmerk word deur 'n spesifieke kombinasie van klimaat, reliëf (geografiese gesteldheid) en grond. Hierdie kombinasie van fisieke elemente skep die moontlikhede van 'n gebied se plant- en dierelewe, asook die beperkings daarop. Sewe biome of plantegroeistreke lê verspreid oor Suider-Afrika:

Kenmerke van Suid-Afrika se biome

Biome                 Oppervlakte       Gemiddelde            Plantegroei-       Maksimum produk-

                            (% van RSA)     reënval p.j. (mm)    struktuur+            tiwiteit (ton/ha/j.)

Fynbos                           7             250 - 2 000             Geslote immer-                  4

                                                                                     groen struike

Sukkulent-

Karoo                             10            100 - 200                 Oop dwerg-                        2

                                                                                       struike, jaar-

                                                                                        plante

Nama-

Karoo                                28           100 - 500                 Oop dwerg- en                   3

                                                                                         lae struike, gras

Woestyn++                                            10 - 70                Jaarplante,                       <0,35

                                                                                        rivieroases

Grasland                             20          400 - 1 000            Geslote meer-                      6

                                                                                         jarige grasse

Savanne                               35         400 - 1000             Gras met ver-                      7

                                                                                         spreide bome

Woud                                     <1         Bo 1 200               Geslote immer-                  15

                                                                                         groen bome

+ 'n Geslote plantegroeistruktuur beteken dat die blare van die struike of bome of die sooie van die gras by mekaar aansluit; 'n oop plantegroeistruktuur beteken dat hulle so ver van mekaar staan dat oop grond tussenin voorkom.

++ Hoewel die Namib-woestyn streng gesproke nie binne Suid-Afrika se grense val nie, word dit ingesluit sodat die woestynbioom ook verteenwoordig is.

Wat rykdom aan spesies betref - 8 500 op 'n oppervlakte van slegs 71 00 km² - word fynbos op 'n wêreldskaal slegs deur die ekwatoriale woude geëwenaar. Die fynbosbioom huisves 1 320 van die subkontinent se 2 351 skaars en bedreigde spesies. Blomplante uit dié bioom, soos varklelies, gladioli, nerinas en malvas, versier tuine dwarsoor die wêreld. Die harde blare en stokkerigheid maak hierdie formasie ongeskik vir weiding, terwyl die bergsandgrond skraal, uitgewas en suur is. Die beste boerdery is die leemgrond aan die voet van die westelike plooiberge, maar selfs dít is bloot gemiddeld.

Sukkulente ("verplante" in die volksmond) is aangepas om water in die blare, stam of wortels van die plant te berg. Meermarige sukkulente wissel in groeivorm van die 4-5 m hoë Namakwalandse kokerboom tot plat bokkloutjies wat tussen die kwartsklippies van die Richtersveld wegraak.

Meer tipies is die vygieveld van die Knersvlakte en Klein-Karooi - uitgestrekte areas bekend met 50-70 cm hoë vetblaarbossies. Al kom daar min spesies in hierdie streek voor, bevat dit per hektaar nogtans dubbeld soveel as die Noord-Amerikaanse sukkulentwoestyne, wat dié bioom (soos in die geval van fynbos) dus een van die wêreld se 16 belangrikste bioverskeidenheidsgebiede maak. Produktiwiteit bly egter laag en eeue lange beweiging het tot die agteruitgang van die plantbedekking gelei.

Kenmerkend van die Nama-Karoo is die oop peperkorrelbossies - ankerbos, perdebos, driedoring en gannabos - wat verpot groei, met harde, fyn, vaalgroen blaartjies en dorings. Karoobossies bied nogtans bruikbare weiding vir kleinvee en word in goeie jare deur gras aangevul, wat in swak jare weer verskroei en droogtes aanhelp. Eetbare plantsoorte moes oor die jare vir smaakloses plek maak en gronderosie het toegeslaan waar die gras permanent verdwyn het.

Die Karoo-omgewing is ook blootgestel aan ekologiese ontploffings - enorme toenames in die getalle van 'n spesie wat die ekologiese ewewig tydelik omverwerp en 'n ramp vir die boer beteken. Die groot sondaar is sprinkaanswerms, maar in die 19de eeu is die hordes springboktroppe in hul aanskoulike, fassinerende uittog na die weste (Namakwaland) nog meer gevrees.

Ware woestyn is tot die duineseë en gruisvlaktes van die Namibiese kus beperk en lê streng gesproke buite Suid-Afrika. Die plantegroei is òf jaarplante wat vinnig op die seldsame reënepisodes reageer, òf superaangepaste meerjariges soos die Welwitschia mirabilis, wat eintlik 'n boom is wat diep onder die grond vertak. Langs die enkele riviere groei ook bome en struike wat deur korswater gevoed word.

Die meeste boomsoorte van Afrika is gevoelig vir koue, met die gevolg dat die Suid-Afrikaanse oostelike binneland bo 1 500 m feitlik suiwer grasland is. Dít beloop 20% van die land se oppervlakte. In die natter terraslande en voetheuwels oos van die Drakensberge groei die gras geil (40 tot 100 cm hoog) maar verloor sy voedsaamheid as die reënseisieon verby is: Die boere daar praat van suurveld.

Oor die vlaktes wes van Gauteng daal die reënval tot onder 600 mm per jaar en die kort gras bekend as soetveld (tussen 40 tot 60 cm hoog) bly voedsaam dwarsdeur die jaar. Die  graswortels is vlak en intensief, vorm sooie en verryk die organiese inhoud van die onderliggende grond. Hierdie bioom huisves die land se grootste oppervlakte van bewerkbare grond, en tienduisende hektaar van veral die Hoëveld staan vandag onder somergewasse. Dit is dan ook veral in hierdie dele waar mynbedrywighede e.a. nywerheisaktiwiteite plaasvind wat nie net groot druk plaas op die gehalte van die land se waterbronne nie, maar ook ander vorme van omgewingsbesoedeling veroorsaak.

Savannes vou in 'n halwe ring om die graslande. Savannegebiede het twee eienskappe gemeen: 'n subtropiese somerreënkarakter en lantegroei van aaneengeslote hoë gras en verspreide bome, tipies met stewige stamme en sambreelvormige takke. Bepaalde omgewings het egter hul eie variasies.: In die nat, ingekerfde valleie van die ooskus verstrengel die boomgroei tot kreupelhout, terwyl die kameeldorings van die halfdroë Kalahari ver uitmekaar geplaas is en kolle rooi sand tussen die polgras deurslaan.

Savanne-omgewings was besonder "verbruikersvriendelik" vir prekoloniale gemeenskappe. In gebiede met meer as 600 mm reën kon somergrane verbou word. Die lang gras was goeie weiding vir grootvee. Bome het bou- en vuurmaakhout verskaf en enkele soorte, soos die maroela, het veldkos bygedra. Van al die Suid-Afrikaanse biome het die savanne ook die meeste van sy diererykdom behou, van troppe grasveter-bokke tot groot roofdiere.

Natuurlike woude kom slegs in die Suid-Kaap voor, afgesien van langs enkele Oos-Kaapse en KwaZulu-Natalse berghange. Soos in enige woud is die biologiese produktiwiteit hoog en bestaan die woudstruktuur uit verskillende lae: 50 m hoë geelhoutbome is die uitskieters, ietwat kleiner bome van 20-25 m hoog sluit in 'n woudplafon saam, en slingerplante en varings gedy in hul skaduwee. Boomsoorte soos geelhout, stinkhout, ysterhout en assegaaihout is uitstekende konstruksie- en meubelhout, maar stadige groeiers. Gedurende die 19de eeu is hulleoorontgin en die Kaapse regering se maatreëls om die afkap daarvan te beheer, was die begin van natuurbewaring in Suid-Afrika. In 'n boom-arm land soos Suid-Afrika is hulle 'n toeriste-aantreklikheid en word hulle vandat as sodanig volhoubaar ontgin.

Ons oorsig oor biome toon dat die Suid-Afrikaanse omgewing oor 'n ryke verskeidenheid beskik en op sowel kort as lang termyn hoogs veranderlik is. Daarom is dit ook kwesbaar, soos die volgende drie voorbeelde bewys.

Ten eerste word fynbos al hoe meer deur verstedeliking en landbou opgeëis. Die plantegroeiformasie is goed by brand aangepas en herstel ná 15 jaar volkome. Soos wat die bevolkingsdigtheid van die Wes-Kaap egter toeneem, kom bergbrande al hoe vinnige opmekaar voor en skaars spesies - sommiges met 'n habitat (woongebied) van slegs enkele hektaar - verdwyn eenvoudig. Dieselfde brande maak ook die deur oop vir indringers soos die trosden, hakea en wattel, wat vinniger as die inheemse plantegroei herstel.

Ten tweede is sommige bioomgrense inherent onstabiel. Die grens tussen Nama-Karooi en grasland skuif bv. na gelang van die grasstand - weswaarts in goeie jare en ooswaarts tydens droogte. Daar is ekoloë wat meen dat Nama-Karoo die grasland oor die afgelope 200 jaar a.g.v. oorbeweging tot 250 km ver binnegedring het.

Ten slotte word Suider-Afrika reeds sowat 120 000 jaar deur die moderne mens, Homo sapiens, bewoon - langer as enige ander wêrelddeel behalwe moontlik Oos-Afrika. Oor dié tyd moes gemeenskappe noodwendig 'n impak op die omgewing gehad het. Sá het jagters va die Middel-Steentyd, volgens sommige ekoloë, subtropiese bos gereeld afgebrand. Die resultaat was 'n plantegroei van verspreide bome en gras - die savanne van vandag.

In Suider-Afrika is beweiding en grondbewerking 2 000 jaar oud en het permanente grondbesit meer as 350 jaar gelede begin. Gedurende dié drie en 'n halwe eeu het al die oop plantegroeiformasies - fynbos, sukkulent-Karoo, Nama-Karooi en grasland - hul diereverskeidenheid verloor. Met allerlei aktiwiteite verander die mens sy o mgewing, maar 'n veranderende omgewing kan mettertyd ook menslike gemeenskappe omvorm.

Die omgewing en inheemse bewoners voor en gedurende die VOC-tydperk

Jagter-versamelaars

Die eerste bewoners van die land wat vandag as Suid-Afrika bekend staan, was die San of Boesmans. Hulle was jagter-versamelaars en het nie vee aangehou of gewasse gesaai nie. Die grootste deel van hul dieet het bestaan uit plantkos wat hoofsaaklik deur die vroue in die veld versamel is - die vrugte, sade, blare en wortels van eetbare plante. Hulle het ook sprinkane e.a. soorte insekte geëet. Om hierdie dieet aan te vul, het die mans 'n verskeidenheid wilde diere gejag, bv. klein knaagdiertjies, reptiele soos skilpaaie en ook groot wildsbokke, insluitend elande.

Oor baie eeue heen het hul jagmetodes verbeter en is dit by die omgewing aangepas. Aanvanklik moes hulle hul prooi bekryp of inhardloop en dan met stokke of klippe doodslaan. Later het hulle geleer om in groepe saam te werk - een groep het die wild in die rigting van 'n ander groep gedryf, of in die rigting van 'n gat wat hulle in die grond gegawe het om die diere te vang. Hul jagtegnologie het 'n sprong vorentoe gegee toe hulle geleer het om boë en pyle met gifbestrykte punte te maak. Sodoende kon hulle hul prooi van 'n afstand af tref. Dit het egter steeds groot inspanning en veldvernuf geverg om 'n gekweste dier se spoor te volg tot waar hy gevrek het. Omdat dit soveel moeite was, het die Boesmans net genoeg wild gejag om in hul basiese kosbehoeftes te voorsien.

Daar word algemeen aanvaar dat jagter-versamelaars vanweë hul manier van lewe net 'n "ligte" impak op die omgewing gehad het. Hul getalle was beperk en hulle het in klein groepies rondgetrek. Hul woonplek het bestaan uit grotte of tydelike skuilings van takke, gras en velle. In die algemeen was hul leefstyl nomadies - m.a.w., hulle het agter kos aan getrek. Wanneer die voedselbronne in 'n gebied minder raak, moes hulle versit na waar meer kkos beskikbaar was.

Aangesien 'n groot verskeidenheid plant- en dierespesies as kos benut is, kan ons aflei dat die jagter-versamelaars nie spesifieke spesies in spesifieke gebiede heeltemal sou uitroi nie. Hoewel elke Boesmangroep in Suider-Afrika sy eie gebied beheer het, was so 'n gebed uitgestrek en het die groep soms oor afstande van meer as 100 km rondgetyrek. Omdat hulle nooiot een gebied totaal uitgeput het voordat hulle na 'n ander een verskuif het nie, kon die gebied wat agtergelaat is, mettertyd weer herstel van die skade wat hul benutting aangerig het. Wanneer daar 'n langduige droogte was, sou die ouer en swakker lede van jagter-versamelaar-gemeenskappe ook saam met die diere van honger doodgaan.

Hoewel jagter-versamelaars se getalle en tegnologiese peil te laag was om 'n dramatiese effek op die omgewing te kon uitoefen, moet daar nie uit die oog verloor word nie dat die Boesmans per slot van sake behoort tot Homo sapiens - die enigste spesie wat daarin kon slaag om hom by feitlik enige omgewing op die Aarde aan te pas.

Mense het dít reggekry met die hulp van tegnologiese ontwikkelinge. Met klipwerktuie kon hulle bv. 'n groot verskeidenheid voedselbronne benut, klere maak en skuilings bou, wat hulle in staat gestel het om in gebiede te oorleef wat andersins ongeskik sou wees vir menslike bewoning. Gevolglik het mense die omgewing baie meer beïnvloed as wat diere gedoen het.

Al was hul tegnologiese ontwikkeling primitief, het die Boesmans planne bedink om mag oor die natuur te verkry. Uit die rituele wat in hul rotskuns uitgebeeld is, kan afgelei word dat hulle voor 'n jagtog o.l.v. hul tradisionele genesers sekere aksies uitgevoer het wat veronderstel was om hulle mag te gee oor die bokke wat hulle wou jag.

Sommige navorsers meen dat jagter-versamelaars se impak op die omgewing dalk groter was as wat vroeër geglo is. Veral deur hul vermoë om vuur te maak, het die Boesmans - soos jagter-versamelaar-gemeenskappe elders op die Aarde - bygedra tot ekologiese veranderinge. Die ontstaan van brande in Suider-Afrika was, net soos op ander plekke in die wêreld, 'n belangrike faktor in die verkleining van woude en die vergroting van grasvelde. Hierdie brande is dikwels deur mense veroorsaak.

Deur hul jagpatrone het die Boesmans ook 'n invloed op die dierelewe uitgeoefen. Hoewel hulle nie soos hul tydgenote in die Westelike Halfrond sekere grootwildspesies tot uitwissing toe gejag het nie, kon hul jagvermoëns tog die balans tussen verskillende wildsoorte in 'n mate versteur het. Ook die Boesmans se voorkeur vir sekere soorte eetbare plante moes die plantkundige samestelling van die sewe biome in Suider-Afrika deels verander het.

Hoewel die Boesmans dus wel die natuurlike omgewing beïnvloed het, was hul invloed weens hul betreklik klein getalle en yl verspreiding in die streek net tot sekere gebiede beperk. In vergelyking met latere boeregemeenskappe was hul omgewingsimpak minimaal.

Landbouers en veeboere

Beide die Khoekhoen en die verskillende Bantusprekende swart gemeenskappe wat Suid-Afrika uit die noorde binnegekom het, het vee besit. Hoewel hulle ook kleinvee aangehou het, het die sosio-ekonomiese bestaan van hierdie gemeenskappe rondom hul beeste gewentel. Die soeke na geskikte weiding, vry van plae soos die tsetsevlieg, was een van die redes vir die verspreiding van Bantusprekende groepe regoor die grasvlaktes op die Hoëveld in die Suid-Afrikaanse binneland.

Teen die tyd dat die voorhoede van die Bantusprekers Suider-Afrika berek het, het hulle reeds geleer om graangewasse, soos bv. sorghum, te verbou. Hulle het egter steeds, soos die jagter-versamelaar, veldkos versamel en wil gejag.

Verhoogde voedselproduksie deur vee- en saaiboergemeenskappe het 'n verbeterde dieet beteken, wat weer tot snelle bevolkingsgroei gelei het. Die Khoekhoen het hulle op 'n baie meer permanente basis in gebiede gevestig waar daar water, gras vir beweiding en grond vir bewerking beskikbaar was. Omdat hulle in meer permanent een grote woonplekke gewoon het, kon hulle meer persoonlike besittings versamel en het sosiale gelykheid onder lede van die gemeenskap verdwyn.

Groter materiële rykdom het tot groter aansien gelei en dus het landbouers - in teenstelling met jagter-versamelaars - meer geproduseer as wat nodig was om in hul basiese daaglikse behoeftes te voorsien. Gevolglik het hulle ook meer natuurlike hulpbronne per kop gebruik. Hul impak op die fisieke omgewing was daarom aansienlik groter as dié van die jagter-versamelaars.

Die bewerking van grond vir landboudoeleindes en die beweiding van die veld deur groeiende getalle vee het noodwendig hierdie komponente van hul omgewing mettertyd dramaties verander. Gronderosie, bv., is deur die bewerking en beweiding van die grond vererger, terwyl voedingstowwe in die grond deur die verbouing van gewasse uitgeput is. Waar landerye uit riviere besproei is, het versouting van die grond plaasgevind.

Waar landerye aangelê is, is die grond "skoongemaak" deur ander plantspesies uit te skoffel en daar te ploeg. Dan is een soort graangewas daar gesaai of geplant. Ons sê die ekosisteem op daardie bewerkte grond is vereenvoudig tot 'n monokultuur (net een soort plant in een saailand). Sodoende is ander plantspesies geleidelik verminder namate graanverbouing toegeneem het. Na hierdie proses word verwys as die vermindering van biodiversiteit (verskeidenheid van lewe) in landbougebiede. Groot dele van Suid-Afrika wat te droog vir graanverbouing was, is egter nie hierdeur geraak nie.

Ook diere wat deur mense mak gemaak en aangehou is, soos beeste, skape, bokke, varke en perde, het oor baie eeu heen evolusionêre veranderinge ondergaan. Van groter belang in Suider-Afrika was dat die vernietiging van wilde diere se natuurlilke habitats a.g.v. landbou en veeteelt gelei het tot die migrasie van wilde diere na gebiede waar min of geen mense gewoon het nie. Die uitroei van "ongediertes" soos roofdiere wat 'n gevaar vir mense en hul vee ingehou het, het ook 'n invloed op die fauna (dierelewe) van Suider-Afrika uitgeoefen.

Metaalbewerking het die natuurlike omgewing in Suider-Afrika verder verander. Ystersmeltery is waarskynlik baie lank gelede - dalk al omstreeks 300 n.C. - deur swart gemeenskappe in die oostelike dele van die subkontinent beoefen. Dit het die omgewing in veral twee opsigte beïnvloed: Eerstens is groot hoeveelhede hout vir die smeltproses in smeltoonde gebruik, en tweedens het ystersmeltery baie rook en afvalstowwe geproduseer.

Samevattend kan gesê word dat die migrasie na Suider-Afrika en die bevolkingstoename onder die Bantusprekende gemeenskappe in dié streek tot verhoogde druk op die omgewing gelei het. Historici meen dat die uitputting van die omgewing 'n al groter rol begin speel het in die vestiging en verskuiwing van menslike gemeenskappe in hierdie streek, bv. die ontruiming van Groot-Zimbabwe. Ons eet nog nie vir seker waarom groot nedersettings gevestig en later weer ontruim is nie, maar omgewingsfaktore het sekerlik in die Ystertyd al 'n rol hierin gespeel.

Die Oosgrens

Vertolkings deur 'n omgewingsgeskiedenisbril

Die grootste deel van die 18de eeu - die laaste fase van VOC-bestuur - het die Kaapse setlaargrens uitgebrei soos jagvelde vergroot en nuwe weiveld nodig geraak het. In die algemeen het die trekboere gebiede met 'n reënval van minder as 250 mm per jaar vermy. Dit het geteken dat die meeste van die uitbreiding na die natter Oos-Kaap plaasgevind het, eerder as noord of noordoos van Kaapstad.

Vroeë setlaar- en Afrikanernasionalistiese geskiedskrywing teken die oorloë wat tussen die setlaars en Bantusprekende groepe sou volg meestal op as 'n konflik tussen die Westerse beskawing en die sg. barbaarsheid van Afrika. Om swart mense te dwing om op setlaarplase te werk, is dit as noodsaaklik beskou om hul onafhanklikheid en hul reg op toegang tot grond van hulle weg te neem.

Moderne  historici is dit egter eens dat die konflik aan die Oosgrens sedert die 18de eeu veel eerder gegaan het oor wedywering wat betref toegang tot weiveld, geskikte waterbronne en jagvelde.

Die volgende bydraes uit van die jongste historiese studies in omgewingsgeskiedenis oor die Oosgrens is insiggewend:

Kylie van Zyl het in 2007 die rol van droogte e.a. oorsake van omgewingstres in die bevordering van geweld aan die Oosgrens tussen 1828 en 1857 ondersoek. Sy argumenteer dat baie van die koloniale heersers se oorwinnings nie uit hul beter militêre vaardigheid voortgespruit het nie, maar uit die onvermoë van hul teenstanders om voort te veg a.g.v. krimpende hulpbronne. Sy doen ook aan die hand dat inheemse volkere oorloë begin het om hul oorblywende hulpbronne te probeer beskerm. Dít het weer gelei tot die tragiese teenstrydigheid van oorloë wat geveg is om hulpbronne te bewaar, maar verloor is weens die gebrek daaraan.

Wat die setlaars se impak op die omgewing betref, het Jill Payne ondersoek ingestel na die maniere waarop die Britse wêreldbeskouing teen die einde van die 18de eeu mensgemaakte omgewingsveranderinge in die Suurveld teweeggebring het. Pogings om in dié gebied 'n "tuiste te herskep" was nóú gekoppel aan die koloniste se begeerte om beheer uit te oefen oor wat hulle as 'n "ongetemde wildelrnis" beskou het. 'n Grootskaalse skoonmaak van grond het plaasgevind en nuwe grondgebruikmetodes is toegepas. Wildspesies wat as 'n bedreiging vir produktiwiteit beskou is, is uitgeskakel.

Verlore habitat het baie spesies gedwing om na areas buite die vestigingsgebiede te beweeg, wat daarop uitgeloop het dat inheemse flora en faune deur eksotiese spesies vervang is. Groter eise is gestel aan die dravermoë van grond deur die invoer van 'n kapitalistiese ekonomie, waar winsbejag die botoon gevoer het. Bewaringswetgewing wat algaande ingevoer is om omgewingsagteruitgang te beperk en kommersiële ondernemings te beskerm, het ook toenemend swart mense se toegang tot grond en die hulpbronne daarvan beperk. Beheer oor grond was noodwendig onafskeidbaar gekoppel aan beheer oor swart mense, en aan die gebruik van swart arbeid om die grond verder te bewerk en te onderwerp.

Die menings van omgewingshistorici het 'n groot impak op vertolkings van die groot Xhosa-beesuitwissingsbeweging gedurende 1856-1857 gehad. Dié beweging wat die uitwissing van Xhosa-eiendom (beeste en gewasse) behels het, is geaktiveer deur die Xhosaprofetes Nongquase, wat daarvan oortuig was dat Xhosa-voorvadergeeste haar by die Gxarharivier (naby vandag se Wildekus, Oos-Kaap) die opdrag van vernietiging gegee het wat sy aan die res van die Xhosa moes oordra. Hierdie "opofferingsdaad" sou volgens haar oortuiging daartoe lei dat die Xhosageeste die Britse setlaars die see sou injaag.

Vroeë setlaar-geskiedskrywing is geneig om hierdie voorval te beskou as 'n bewys van die rampspoedige uitwerking van Afrikabygeloof. Op 'n meer positiewe trant interpreteer revisionistiese historici soos Jeff Peires dit egter as 'n "millenarian movement" wat probeer het om 'n volk te  herbou wat verpletter is deur die mislukking van militêre weerstand in agt grensoorloë, asook deur die aanslag van Christelike sending,  en die setlaarsheerskappy en -kultuur in die algemeen.

Julian Cobbing argumenteer weer uit 'n meer kultureel-materialistiese en omgewingsgebaseerde perspektief dat die oorsprong van die beesuitwissing nagespoor moet word in die verspreiding van longsiekte onder beeste vanaf Mosselbaai ná 1853, die verskroeide aarde-beleid wat die Britse magte in die onteieningsoorloë gevolg het en die verlies van die Xhosa se vrugbaarste weiveld en bewerkte lande gedurende dié oorloë, wat vererger is deur droogte en die gevolge van arbeidsuitbuiting.

C.B. Andreas en Adam Ashforth het soortgelyke temas ondersoek en hoewel hulle tot dieselfde gevolgtrekkings kom, verskil hulle soms van Cobbing t.o.v. die motivering agter die Xhosa-optrede, asook die rol wat Europese slawehandelaars en setlaars sou gespeel het in die "Nguni-reaksie" van die tyd. Uit ' n feministiese perspektief argumenteer Helen Bradford dat verduidelikings vir die omvang van die ramp gesoek moet word in die weiering van vroue om grond te bewerk, eerder as in die slagting van manlike prestige-items.

Hoe dié voorbeelde van vertolkings ook al mag verskil of ooreenstem, al die bg. historici beklemtoon dat dit noodsaaklilk is om kennis te neem van die rol van die omgewing in die geskiedenis van die mens om sodoende 'n veel omvattender begrip van gebeure te verkry.

Die Zuluryk

Insette uit omgewingsgeskiedenis het ook ons begrip van die opkoms van die Zuluryk totaal hervorm. In 'n baanbrekerstudie het Jeff Guy, 'n historikus, ondersoek ingestel na die onderliggende ekologiese oorsake vir staatsvorming in plaas daarvan om te fokus op veronderstelde sleutelfigure soos Dingiswayo, Zwide en Shaka. Guy argumenteer dat mondelinge tradisies en die verhale van gestrande soldate daarop dui dat die bevolking in die 17de en 18de eeu merkbaar toegeneem het in die gebied wat later as KwaZulu-Natal bekend sou staan.

Dendroklimatologiese (die bepalilng van historiese klimaat volgens bome se jaarringe) en argeologiese studies suggereer dat die snelle bevolkingsgroei 'n reaksie op 'n lang tydperk van oorvloedige reëns kon gewees het. Verhoogde reënval sou gelei het tot die bewerking van marginale grond en die verhoogde verbouing van mielies eerder as droogtebestande sorghum. Te midde van sulke oorvloed sou die menslike bevolking sowel as die vee eksponensieel aangegroei het.

--- --- ---

Mielies as hulpbron:  historiese oorsprong en belang

Miellies (ook "Indiaanse koring" genoem) as 'n graanproduk is inheems aan die sentrale dele van die Amerikaanse kontinent. Jagter-versamelaars het reeds 1 500 v.C. mielies in vandag se Mexiko en Peru verbou. Destyds was die mense in hierdie gebiede as die Olmeke en die Chavín bekend.

Die Majagemeenskap (die inheemse bevolking van Meso-Amerika omstreeks 683 n.C.) was bekend vir hul verbouing van mielies. Allerhande bloedige rituele is gereeld uitgevoer om die goede te paai sodat hulle die miellie-aanlantings as die basis van hul landbou-aktiwiteite sou seëm.

Mielies as 'n produk het ook in Europa bekend geraak kort nadat Amerika deur die Spaanse ontdekkingsreisigers verken is. As deel van die Thanksgiving-ete word mieliebrood vandag in die Amerikaanse tradisie voortgesit.

Dit was die Portugese ontdekkingsreisigers wat mielies na die Goudkus (die hedendaagse Ghana) gebring het, en in Suid-Afrika het die groepie werknemers van die V.O.C. ná 1652 waarskynlik die verbouing van mielies (wat van die westelike dele van Afrika af gekom het) in die Kaap gestimuleer. Vir die Hollanders was mielies toe bekend as "turchse tarwe" en vir die Spanjaarde as "maise". Graansorghumkultivars was algemeen onder die Portugese aan die Goudkus bekend as "milho". Daar word aanvaar dat die Afrikaanse woord "mielie" en die Engelse woord "maize" onderskeidelik uit die gebruik van "milho" en "maise" ontwikkel het.

Die eerste trekke uit die latere Kaapkolonie, asook die verskuiwing van etlike swart volkere na die noordelike dele van Suid-Afrika, het die grense van die verbouing van mielies  in Suid-Afrika versit. Veral die swart volkere het die kultuur van mieliegebruik uitgebou.

Deur die eeue heen het die ontwikkeling van mielies baie verbeter. Mielies is selfs gebruik as 'n gewilde versieringsproduk in die antieke omgewings van Amerika. Teen die 1920's was mielies naas aartappels die wêreld se voorste landbouproduk. Teen 1930 het mielies in Suid-Afrika ongeveer 40% van die totale bewerkte oppervlakte in die landboubedryf beset.

--- --- ---

Soos wat die menslike  bevolking uitgebrei het en meer grond beset is, is die balans tussen bevolking en hulpbronne ontwrig. Die hoeveelheid grond wat vir die seisoenale migrasie van vee beskikbaar was, het toenemend beperk geraak en daar was al hoe meer tekens van oorbeweiding en die uitputting van landbougrond. Solank as wat 'n oorvloedige reënval voortgeduur het, het die situasie egter nie onseker geraak nie.

Aan die einde van die 18de eeu het die reënval egter dramaties afgeneem, wat uitgeloop het op 'n uiterste droogte en die Madlathule-hongersnood van 1801-1802 onder die noordelike Ngunigroepe in die hedendaagse KwaZulu-Natal. Dít het 'n krisissituasie veroorsaak. Toenemende wedywering om toegang tot die oorblywende waterbronne, weiveld en landbougrond het tot 'n drastiese toename in spanning tussen groepe gelei. Deling het algaande 'n onwaarskynlike opsie geword en groter ingryping deur die staat het noodsaaklik geraak om beheer oor gebiede met die ideale kombinasie van water- en grondhulpbronne te handhaaf.

Gelyktydig hiermee het die skep van ouderdomsregimente gelei tot die versterking van die militêre mag van die groeiende swart state vir beskerming en vir beslaglegging op die grond, water en beeste van ander. Só het ouderdomsregimente nie net tot die vertraging van huwelilke en die vestiging van nuwe huishoudelike eenhede gelei nie, maar 'n geleentheid aan regeerders gebied om die uitbuiting van die omgewing te reguleer.

Die Groot Trek

'n Ander bekende voorbeeld van migrasie en staatsvorming in die 19de eeu is die Groot Trek. Dit is een aspek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis waaraan omgewingshistorici eerste aandag ggee het. 'n Bydrae waarin daar spesifiek na die rol van omgewingsfaktore in die Groot Trek as beweging gekyk is, was 'n kort opstel oor die invloed van die tsetsevlieg op die Suid-Afrikaanse geskiedenis, geskryf deur B.H. Dicke in 1932.

Wat hier ter sake is, is sy kommentaar oor die lot van die Trekkergsgroep o.l.v. Hans Janse van Rensburg. As een van die eerste groepe wat die Kaapkolonie in 1835 verlaat het, het hierdie groep - net soos die Louis Tregardt-trek - noordwaarts die latere Transvaal in getrek op soek na 'n roete na Delagoabaai (die huidige Maputo). Sodoende het hulle weggebreek van die meerderheid van hul landgenote, wie se aanvanklike beweging van die Kaap na die Transgariepgebied (die huidige Vrystaat) deur 'n beweging na Natal gevolg is.

Teen die middel van 1836 is die hele Van Rensburg-trek deur die Tsonga-Sjangaanmense van die Makuleke- en Mahlangwestamme uitgewis. Volgens Dicke het historici die rol van die Tsonga-Sjangaan in die uitwissing van die Van Rensburg-trek oorbeklemtoon en kon dié vertolking verbreed word deur die interpretasie dat dit bloot die "genadeslag" aan  hierdie trek toegedien het. Dicke het geglo dat die tsetsevlieg die primêre oorsaak van die verswakking van die Van Rensburg-trek was. Die Van Rensburg-trek het hul trekdiere verloor en moes noodgedwonge hul waens agterlaat weens blootstelling aan die tsetsevlieg. Dít het beteken dat hulle nie laer kon trek wanneer hulle in gevaar was nie. Sonder waens en met net tien vuurwapens vir beskerming het hulle geen kans op oorlewing gestaan tydens 'n aanval nie. Dicke se gevolgtrekking dat die tsetsevlieg die Van Rensburg-trek "doodgemaak" het lank voor die Tsongas dit gedoen het, was in 1932 egter 'n aanvegbare stelling gegewe die Afrikanersentimente oor die Groot Trek in daardie tyd.

As historiese geograaf het F.J. Potgieter in 1959 een van die eerste "omgewingsgeskiedenis-akademici" geword toe hy ondersoek ingestel het na die omgewingsfaktore wat die vestigingspatrone van Trekkers in die eertydse Transvaal beïnvloed het (aldus Phia Steyn). Potgieter het nie alleen gefokus op die ontginning van natuurlike hulpbronne soos inheemse woude, wild, minerale, waterbronne en grond nie, maar ook op omgewingsfaktore wat die seisoenale migrasie van boere tussen hul winter- en somerplase gemotiveer het.

Sy waarneming was dat die destydse Transvaalse regering (die Zuid-Afrikaansche Republiek - ZAR) geensins in 'n posisie was om te kies wanneer hulle oorlog teen inheemse swart groepe wou voer nie. Die regering moes eers omgewingsfaktore soos die tsetsevlieg (wat die protosoïese siekte tripanosomiase oordra en wat slaapsiekte onder mense en nagana onder trekdiere veroorsaak), perdesiekte en malaria, asook die bewegings van boere en jagekspedisies gedurende die winterseisoen, oorweeg. Met die meeste Transvaalse burgers buite aksie vir minstens drie maande van die jaar, was die vermoë van die eertydse Transvaal om homself gedurende sekere tydperke te beskerm, uiters swak.

Isabel Hofmeyr het weer sterk geargumenteer dat die voorstelling van Voortrekkers as landbouers en die swart mense as jagters in baie van die "grensliteratuur" foutief was en die reg van wit boere op grond wou regverdig. Dít is veral duidelik in uitbeeldings van Schoemansdal, die Voortrkkernedersetting wat in 1848 in die noordelike gebiede gestig is.

In skerp kontras hiermee is ander omgewingshistorici soos Johann Tempelhoff van oordeel dat nie die landbou nie, maar die jagbedryf die grootste bron van inkomste vir die Soutpansbergers was. Omtrent 19 j aar lank was Schoemansdal die belangrikse handelsentrum in die ou Noord-Transvaal. Duisende ton wildsvleis, horings, swepe,  hout en sout is daarvandaan na Mosambiek, die Kaapkolonie en Natal geneem.

Wit werkgewers het ook plaaslike swart mense met vuurwapens bewapen om olifante vir hulle te jag. Dié gebied het een van die hoofsentra vir ivoorhandel in die binneland van Suid-Afrika geword. Ivoor was die enkele grootste uitvoer-artikel van die ou Transvaal voor die ontdekking van goud en die Soutpansbergse nedersetting het hierdie handel oorheers. In die 1850's is daar na raming sowat 45 000 kg ivoor per jaar vanaf Schoemansdal uitgevoer.

Twee plaaslike krygshere van Schoemansdal, Joao Albasini en Michael Buys, het aansienlike aanhang onder swart groepe geniet en 'n groot aantal swart jagters in hul diens gehad. Na bewering het albasini se jagters omtent 'n 100 olifantgewere besit. Deur spesiale vrystelling is hy toegelaat om wagte vir die beskerming van sy reisgeselskappe te bewapen, hoewel nie meer as vyf per geselskap nie. Net so, ingevolge die Jagwet van 1858, het Buys en sy skuts gejag "tot die voordeel van die ZAR-regering". Sommige van hierdie magte was dus ook wettig bewapen.

'n Gebrek aan ruimte verhoed soortgelyke ondersoeke van ander gebiede wat deur die Voortrekkers beset is, maar daar sou geargumenteer kon word dat hierdie tendense ewe van toepassing was op ander dele van die destydse Oranje-Vrystaat en die ZAR.

--- --- ---

Michael Buys en sy pioenier-pa

Michael Buys se besondere band met swart mense as deel van jaggeselskappe is nie vreemd nie, aangesien hy feitlik onder hulle grootgeword het. Sy pa was die bekende Coenraad de Buys, wat tussen 1761 en 1821 'n aktiewe lewe as nomadiese trekker en omgewingskenner gelei het. Coenraad word beskryf as 'n baanbreker, avonturier en swerwer.

Van Coenraad word gesê dat hy as welsprekende persoon in sy "dorpenaarsjare" in die Oos-Kaap 'n pro-aktiewe republikein was en gedurig in botsing met die Kaapse amptenary gekom het oor sy eiewillige optrede en weiering om belasting te betaal. Hy was ook 'n beweerde opsweper van swart mense teen staatsgesag. De Buys was ook o.a.'n raadgewer van hoofmanne soos Ngqika (die Xhosaleier), Dingiswayo (die Zulu-opperhoof) en Mahura (leier van die Batlhaping) en het soms as bevelvoerder van hul impi's opgetree. Gedurende die tydperk 1813-1821 is hy met verskeie swart kapteins geassosieer.

Coenraad de Buys staan bekend as een van die eerste wit pioniers noord van die Vaalrivier, lank voordat die Voortrkkers in dié gebied aangekom het. Die oudste plaas in die eertydse Transvaal, Buisfontein, word aan hom verbind.

Die omgewing in die tydperk 1750-1948

Die landbou-omgewing

Die uitbreiding van veeboerdery en landbou was waarskynlik oor twee eeue heen - vanaf 1750 tot ongeveer 1948 - die aktiwiteit wat die grootste omgewingsveranderinge in Suid-Afrika teweeggebring het.

In die hande van die Khoekhoen e.a. inheemse gemeenskappe was lewende hawe wydverspreid in Suider-Afrika voor die koms van die setlaars. Aanvanklik het die setlaars se inkomste uit lewende hawe maar stadig gegroei en is ekonomiese groei in die algemeen bemoeilik deur 'n gebrek aan interne en eksterne markte. Dit was ook beperk weens 'n tekort aan politieke en omgewingsbeheer.

Beskikbare syfers dui daarop dat daar teen die begin van die 19de eeu minder as twee miljoen stuks lewende hawe in die hande van die setlaars was. Gedurende die volgende 130 jaar is dié situasie omgekeer. Veegetalle in die land het hul piek rondom die vroeë 1930's bereik toe die sensusse omtrent 12 miljoen beeste aangeteken het, waarvan meer as die helfte in wit besit was, asook byna 60 miljoen kleinvee, waarvan ongeveer 90% aan wit eienaars behoort het.

Die getalle van merinoskape vir wolproduksie het die vinnigste uitgebrei en Suid-Afrika het wêreldwyd die tweede plek ná Australië as 'n woluuitvoerder ingeneem. Lewende hawe, veral skape, het die Suid-Afrikaanse platteland oorstroom. Hulle kon oorleef en floreer in die halfwoestyngebiede wat 55-60% van Suid-Afrika beslaan het, met die gevolg dat die Karoo en die suidelike en westelike Vrystaat in die produksie van lewende hawe gespesialiseer het. Watervoorsiening was belangrik en die ontginning van natuurlike fonteine, die beheer van riviere en vleie en die konstruksie van gronddamme en boorgate (vanaf die laat 19de eeu) het die kapasiteit om water te beheer en te gebruik, hervorm. Hierdie ontwikkelings was veral belangrik vir wit eienaars van lewende hawe op private grond.

Beide wit en swart Suid-Afrikaanse eienaars van lewende hawe is getref deur 'n vernietigende reeks siektes wat veral beeste aangetas het. Longsiekte in die 1850's, brandsiekte en hartwater onder skape en runderpes in die 1890's, gevolg deukr ooskuskoors in die vroeë 20ste eeu, het die getalle van lewende hawe tydelik verminder. Van daardie tydstip af was daar egter staatsveeartsenydienste beskikbaar en maatreëls om die beweging van lewende hawe asook dipery te beheer, is geleidelik afgedwing.

Die toename in die getalle van lewende hawe in wit en swart besit het Suid-Afrika se omgewing vervorm. Grasse en eetbare struike is swaar bewei, wat die grond aan erosie blootgestel het Waterbronne het opgedroog. Ingevoerde plante soos die boetebossie (Xanthium spinosium) en turksvy het groot indringers geword. Teen die tydperk tussen die twee wêreldoorloë het die Droogtekommissie (1922) en die Naturelle Ekonomiese Kommissie (1932) snelle omgewingsagteruitgang waargeneem - 'n waaistofstreek was besig om te vorm - en verreikende maatreëls is voorgeskryf.

Die erste omgewingsagteruitgang is opgemerk in bv. ou, gevestigde wingerde en koringlande wat die sensitiewe fynbosplantegroei van die valleie in die Wes-Kaap van vandag weggevreek het namate hulle in die 20ste eeu uitgebrei het. Gereelde brande om gras vir weiding te bevorder, het plante in die hooglandgebiede vernietig. Australiese bloekombome en akasias, asook Europese dennebome, is wyd ingevoer as 'n houtbron en vir bosaanplanting en is steeds oral in die huidige Wes-Kaap te vinde.

Langs die ooskus van Suid-Afrika - die waardevolste grond, waar hoë reënval voorgekom het - het subtropiese gewasse die relatief klein gebiede waar inheemse woude gegroei het, begin inneem. Daarbenewens het suikerplantasies vanaf die laat 19de eeu toenemend die landbou-ekonomie van die eertydse Natal ondersteun en dié alleengewas het boslande wyd verdring. Ironies genoeg was bome ook verantwoordelik vir die ontbossing, omdat die natter dele in die noorde van die kolonie geskik was vir wattelbome e.a. plantasiegewasse.

Ná die vestiging van stede in die binneland, die landbourevolusie gedurende die vroeë 20ste eeu en die invoer van meganiese trekkers ná die Tweede Wéreldorlog het mielieproduksie die Hoëveld omvorm.

Snelle bevolkingsgroei het in veral die 20ste eeu plaasgevind. In die eerste paar dekades van daardie eeu het beide wit en swart bevolkingsgroepe sterk in getalle toegeneem. Suid-Afrika se segregasiebeleid het die sosiale en omgewingsuitkomste beduidend beïnvloed. Arm wit mense het na die stede beweeg en in 'n witbeheerde staat beskermde indiensneming geniet. Die wit bevolking op die platteland, hoofsaaklik op private plase, het teen die middel van die 20ste eeu gestabiliseer.

Baie swart mense het ook na die stede beweeg, maar hul vryheid is beperk deur paswette. Hulle is ook ander geleenthede ontsê a.g.v. die verskerping van rassewetgewing. Die landelike swart bevolking, veral dié in die reservate of sg. tuislande, het in die 20ste eeu vinnig toegeneem - veral aangesien die swart bevolkingsgroeikoers reeds vanaf die 1840's die wit mense s'n oortref het.

Baie landelike gemeenskappe het probeer om 'n mate van inkomste uit die grond te handhaaf. Gevolglik is landerye tot in verweerbare hewuelhange uitgebrei en die reservate belaai met lewende hawe. Segregasie en apartheid het swart mense egter ook verbinder om grond in die wit plaasdistrikte te bekom. Groeiende bevolkings was dus in die tuislande vasgekeer. Teen die middel van die 20ste eeu het sommige gebiede in die swart reservate van die ergste erosie in die land getoon. Gronderosie is verder aangemoedig deur kommunale vorme van eiendomsreg.

Kort ná die Tweede Wêreldoorlog het die Suid-Afrikaanse regering toenemend begin ingryp om omgewingsagteruitgang in landelike gebiede te probeer keer. Die Grondbewaringswet van 1946 en latere wetgewing het 'n institusionele raamwerk daargestel in 'n poging om grondgebruik, veegetalle en wit houdings te reguleer. Meer en meer plase is omhein en afwisselend bewei.

In die swart tuislande het die regering 'n meer dwingende beleid van rehabilitasie gevolg, wat dorpstigting op groot skaal ingesluit het in 'n poging om swart grondgebruik te rasionaliseer en dit aan konserwatiewe boerderystrategieë tej onderwerp. Hieronder tel die oogmerke van amptenare om gronderosie te vertraag deur kontoerbewerking aan te moedig en die verkoop van lewende hawe af te dwing om vee-uitdunning te bevorder en sá die gedwonge oorbeweiding van die grond te verlig. Die omheining van weivelde is ook vereis. Hierdie inmengings was van die verreikendste in die lewens van swart mense gedurende die 20ste eeu en het 'n aantal klein landelike rebellies ontlok. Vestigingspatrone in swart gebiede is hervorm, hoewel die uitwerking daarvan op bewaring minder doeltreffend was.

Terselfdertyd het die opkoms van beskermde gebiede dwarsoor die land - namate nasionale, provinsiale en munisipale parke uitgebrei het en natuurreservate in private besit uit plaasgrond gekerf is - sommige van die sensitiefste gebiede van die impak van swaar landbou en beweiding gevrywaar. In 'n nasionale opname van grondagteruitgang in 1999 is daar tot die gevolgtrekking gekom dat staatsbeheermaatreëls en veranderende boerderymetodes en -houdings uitgeloop het op die stabilisering - en selfs verbetering - van die omgewing in sommige van die landelike distrikte wat die ergste aangetas was.

Alhoewel die regering met die aanvang van die 21ste eeu meer geneë was om omgewingsbestuur toe te pas, was dit juis die gebrek daaraan of die bewustelike vertraging of ignorering daarvan wat dele van die land onder groot druk geplaas het.

'n Eeu tevore, tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, is sekere gedeeltes van die omgewing in die hedendaagse Suid-Afrika ook aan besondere stres blootgestel. 'n Interessante aspek wat hierdie aansluit, is hoe die omgewing oorlogvoerendes kon bevordeel of benadeel het.

Die invloed van omgewings op die verloop van die Anglo-Boereoorlog

Enige omgewing het noodwendig 'n beduidende uitwerking op die strategie van 'n oorlogstryd en op die taktiek wat in elke veldslag aangewend word. Voeg daarby die aanwending van die Britse verskroeide aarde-beleid in die oorlog van 1899-1902, en die verskriklike gevolge daarvan, dan is dit duidelik dat die landskap inderdaad 'n belangrike invloed op die Anglo-Boereoorlog uitgeoefen het.

Vroeg in Junie 1899 het die Britse opperbevel 'n aanvallende krygsplan opgestel. Dit is merkwaardig dat die Boere-opperbevel teen die einde van Julie 1899 egter nog geen krygsplan gehad het nie. Toe die oorlog in Oktober 1899 uitbreek, het die Boere-opperbevel die fout gemaak om nie onmiddellik die spoorlyne in die Britse kolonies op strategiese plekke te beset nie. Die Britse deurbraak in Natal en die groot aanval oor die vlaktes van die Vrystaat het die hele wese van die oorlog verander. Toe Bloemfontein op 13 Maart en Pretoria op 5 Junie 1900 ingeneem word, was die tydperk van die stellingoorlog noodwendig verby.

Dit was die teken vir 'n nuwe strategie deur die Boere en die aanvang van die guerrillafase van die oorlog. Generaals Christiaan de Wet en Louis Botha het die verskillende kommando's sover moontlik na hul tuisdistrikte gestuur. Daar het hulle met die Britte slaags geraak net wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. As 'n Britse afdeling te sterk was, het 'n kommando eenvoudig opsy gestaan vir die vyand om verby te kom.

Oor die breë vlaktes van die Vrystaat en in die berge van die Oos-Vrystaat en Oos-Transvaal asook agter die die doringbome van die Wes- en Noord-Transvaal, het die kommando's eenvoudig verdwyn. Hulle het in kleiner groepies verdeel om makliker te skuil. Wanneer 'n geïsoleerde Britse afdeling opgemerk is, is die kommando's blitssnel byeengebring vir 'n verrassingsaanval. Beweeglikheid was die wagwoord. Dít het die waarde van perde na vore gebring.

Die uitgestrekte Vrystaat en die Oos-Transvaalse Hoëveld het uitstekende weiding vir perde gebied en in hierdie klimaat het dié diere gedy. Dit het egter moeiliker gegaan gedurende die somermaande in die Oos-Transvaalse Laeveld met sy gevaar van perdesiekte, wat tot gevolg gehad het dat daardie kommando's onaktief was. Lord Kitchener se dryfjagte wat hy in Januarie 1901 van stapel gestuur het om met groot troepe-veegbewegings die vyand aan te keer, gerugsteun deur die ontwikkeling van 'n netwerk van blokhuislinies wat oor die oorlogsterrein opgerig is, het in 'n mate daarin geslaag om die Boere se krygsbewegings te beperk. 'n Kragdadige voortsetting van lord Roberts se verskroeide aarde-beleid het uiteindelik tot die Britse oorwinning gelei.

Tydens die oorlog het die omgewing ook die eetpatrone van die Boerekrygers bepaal. Op bv. die Transvaalse Hoëveld is mielies verbou en was beeste en skape die veestapels, terwyl die Vrystaat goeie skaapwêreld was en die Oos-Vrystaat bekend was vir koring. Hierdie produkte sou die belangrikste lewensmiddele van die Boere op kommando wees. Die stapelvoedsel in die eerste maande van die oorlog was vleis en brood of beskuit.

Maar selfs in hierdie fase was daar periodieke tekorte, veral omdat die regeringskommissariate sleg geadministreer is. Kommando's wat die naaste aan voedseldepots gelaer was, het dikwels die meeste voorrade gekry, terwyl diegene wat swaar werk op die verste punte verrig het, afgeskeep is. Moeilik begaanbare landskap, soos aan die Tugela-linie, het veroorsaak dat daar 'n oneweredige verspreiding van voorrade was.

Vleis het in die guerrillafase baie sterk as stapelvoedsel op die voorgrond getree. As voorste skaapwêreld het die Vrystaat in groot mate in die behoeftes van sy eie kommando's en dié van Wes-Transvaal voorsien. Terselfdertyd het mieliepap in sowel die Vrystaat as die Oos- en Wes-Transvaal die plek van brood of beskuit as stapelvoedsel ingeneem. Hoewel die jag van wild in die eerste faste van die oorlog verbied is, het optrede in kleiner groepe tydens die guerrillafase dikwels beteken dat jag 'n oplossing was vir die skaarste aan slagvee.

Sout was in die eerste ses maande van die oorlog nog ruimskoots beskikbaar. Teen begin Mei 1900 het die kommissariaat in Pretoria egter slegs 'n klein voorraad oorgehad. Soos ander lewensmiddele, het sout met die Britse inname van Pretoria in Junie 1900 en die opbreek van die ZAR se krygskommissariaat in September 1900 uiters skaars geword. Volgens genl. Ben Viljoen het die Boerekommando's ná Maart 1901 sonder sout klaargekom. Die landskap met sy soutpanne by Bloemhof, Wolmaransstad, die Wes-Vrystaat en die Soutpansberg het wel van tyd tot tyd verligting vir die kommando's gebring, maar weens die teenwoordigheid van Britse kolonnes of swart groepe wat die Britte gesteun het, was hierdie bronne nie altyd toeganklik nie.

Die omgewing was een van die hoofredes waarom die Boere-afgevaardigdes tydens die vredesonderhandelinge van 1902 die Britse voorwaardes aanvaar het waarvolgens die Boere hul onafhanklikheid verloor het. Kitchener se verskroeide aarde-beleid het beteken dat die burgers met die winter van 1902 op hande 'n nypende gebrek aan lewensmiddele ervaar het. Volgens dié beleid is alle bekombare vee in die Boererepublieke afgemaak en die graan vernietig. Die vroue en kinders is na konsentrasiekampe weggevoer. Afgesien daarvan is 'n netwerk van blokhuislilnies opgerig om die kommando's se bewegings te beperk.

In die Heilbrondistrik in die Vrystaat en in sowat elf distrikte in die eertydse Oos- en suidoostelike Transvaal (d.w.s. die helfte van die ou Transvaalse Republiek), was die skaarste aan lewensmiddele 'n baie ernstige krisis. Waar ander streke nog lewensmiddele van beter bedeelte distrikte kon kry, was dit vanweë meer doeltreffende blokhuislinies hier nie moontlik nie.

Omgewingsbestuur onder apartheid

Behoorlike omgewingsbestuur was waarskynlik nie 'n prioriteit vir die Nasionale Party-regering wat in 1948 aan bewind gekom en tot 1994 regeer het nie. In 19498 het dié regering on omgewingsagenda geërf wat in baie opsigte in die konteks van Afrika as tipies koloniaal gekategoriseer kan word. In die internasionale konteks was dit ' n eerstegenerasie-agenda. (In die VSA verwys 'n eerstegenerasie-omgewingsagenda na 'n stelsel waar sentrale beheer oor omgewingskwessies deur die staat uitgeoefen is.)

In hierdie jare is daar oorwegend gefokus op die bewaring van natuurlike hulpbronne - veral grondbewaring - asook die beskerming van fauna- en floraspesies (diere- en plantspesies). Tot in die laat 1960's het die regering egter min aandag gegee aan die uitbuiting van die omgewing deur buitelandse en plaaslike bedrywe in verskeie dele van die land. Afgesien daarvan dat talle nywerhede 'n groter inkomste vir die regering ingebring het as wat omgewingsbewaring kon, was die landsleiers ook nog polities verswelg deur die implementering van die diskriminerende wetgewing en die onderdrukking van anti-apartheidsbewegings.

Ander prioriteite was uitgebreide industrialilsasie-inisiatiewe met die doel om die l and se ekonomie verder te verstewig. Ironies genoeg het die bevordering van ekonomiese en nywerheisontwikkeling die regering gedwing om aandag aan omgewingskwessies te gee. Vral waterkwessies is vanaf die 1950's aangespreek met die aanvaarding van die Waterwet nr. 54 van 1956. In die 1960's het besoedeling aan die beurt gekom met die aanvaarding van die Atmosferiese Besoedelingswet nr. 45 van 1965. Hoewel dit belangrike wette was, was hul funksie nie soseer omgewingsbeskerming nie, maar eerder die regulering van watergebruik en wedywering tussen die verskeie watergebruiksektore.

In dié stadium was die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in opdrag van die regering al 'n paar jaar lank aktief besig met omgewingsnavorsing in verskeie streke. Hierdie geslote verslae is gebruik soos en wanneer dit die regering of 'n betrokke bedryf gepas het. Vandag weet ons dat waardevolle navorsingsverslae wat al sedert die 1950's gedui het op omgewingsmisbruik en die moontlikheid van toekomstige omgewingskrisisse, geïgnoreer is tot voordeel van ekonomiese groei.

In die afwesigheid van televisie om mense bewus te maak van omgewingskrisisse in die nywerheidslande, en a.g.v. toenemende internasionale isolasie, het omgewingskrisisse in Suid-Afrika vanaf die 1960's grootliks by landsburgers verbygegaan. In lande soos die VSA, Duitsland en Brittanje het dit omgewingsaktivisme gestimuleer en gelei tot die stigting van nie-regeringsorganisasies (NRO's) soos Greenpease en Friends of the Earth, met verreikende omgewingsagendas waarin die omgewing 'n politieke vraagstuk geword het. Geen vergelykbare NRO's het egter in daardie stadium in Suid-Afrika na vore getree nie.

Groter bewustheid rakende die stand van die omgewing het wel algaande na Suid-Afrika deurgesyfer. Groter betrokkenheid is ook waargeneem onder omgewingsverwante NRO's, soos die Vereniging vir die Beskerming van die Omgewing, die Nasionale Vereniging vir Skoon Lug en 'n ou gunsteling soos die Natuurlewevereniging. Alle omgewings het egter met die aanvang van die 21ste eeu 'n prioriteit gebly vir omgewingsnavorsers, etlike NRO's (bv. die Fedrasie vir 'n Volhoubare Omgewing, gestig in 2007) en sommige staatsdepartemente.

Ongeag toenemende internasionale isolasie tot so ver terug as die 1970's as 'n reaksie op sy beleid van apartheid, kon die Suid-Afrikaanse regering nie die nuwe internasionale ontwikkelings in omgewingsbestuur deur die staat ignoreer nie. Gevolglik het die land deelgeneem aan die Verenigde Nasies (VN) se Konferensie oor die Menslike Omgewing wat in 1972 in Stockholm belê is en wat verseker het dat die omgewing 'n plek op internasionale en nasionale politieke agendas gekry het.

Die nuut aangestelde sekretaris van beplanning en die omgewing, dr. P.S. Rautenbach, was passievol oor die land se deelname aan internasionale omgewingsbeheer en het aktief betrokke geraak by alle VN-verwante omgewingsaktiwiteite totdat die VN die Algemene Vergadering in 1974 Suid-Afrika vanweë sy apartheidsbeleid uit dié liggaam geskors het. Hierdie stap het Suid-Afrika van baie internasionale inisiatiewe uitgesluit.

Wat spesifiek omgewingsgerigte besprekings betref, is Suid-Afrika slegs genooi om deel te neem in die geval van sake en vraagstukke wat die land direk geraak het, soos die bewaring van die natuurlewe en die beskerming van Antarktika. Die Suid-Afrikaanse regering, aan die ander kant, het op hierdie maatreëls gereageer deur hom te onttrek aan baie van die internasionale omgeiwingsinisiatiewe wqt steeds vir die land oop was, veral dié wat beperkings op ekonomiese groei sou plaas.

Die Suid-Afrikaanse regering het tussen 1972 en 1994 'n taamlik dubbelsinnige houding oor omgewingskwessies gehandhaaf. Aan die een kant het die regering so vroeg as 1972 'n "tuiste" vir omgewingsake binne regeringstrukture gevestig, hoewel hy eers in 19854 vir die tostandkoming van 'n onafhanklike departement van omgewingsake voorsiening gemaak het. Heelwat omgewingsverwante wette is aangeneem en die regering het ook in 1982 'n breë verklaring oor die omgewing gemaak en natuurbewaring aktief in die land begin bevorder.

Aan die ander kant het die regering geweier om omgewingsimpak-assesserings in te voer - selfs vir ontwikkelings in ekologies sensitiewe gebiede. Ná 1910 het daar 'n geneigdheid ontstaan om ontwikkeling toe te laat in ekologies sensitiewe gebiede (soos padontwikkeling op die Tuinroete, in die Nasionale Kruger-wildtuin en baie ander parke) en om aan nywerhede vrye teuels te gee om die lug, water- en grondhulpbronne te besoedel. Sedert 1973 het internasionale sanksies en boikotte verder sorgwekkende ekonomiese toestande geskep waarin die land toenemend gesukkel het om ekonomies te oorleef.

Apartheid het ook 'n rol gespeel in die vernietiging van die omgewing in swart tuislande en swart woongebiede. Oorbevolking, tesame mt 'n gebrek aan geskikte behuising, sanitasie en water, het 'n gevaar vir sowel mense as die omgewing ingehou. Dit het ook 'n persepsie onder swart Suid-Afrikaners geskep dat wit mense leeus en renosters belangriker as swart mense geag het.

Op die keper beskou, het die gehalte van die natuurlike én mensgemaakte omgewings in Suid-Afrika gedurende die apartheidsera afgeneem omdat die regering nagelaat het om die oorvloed omgewingsprobleme aan te spreek wat uit ondeurdagte industrialisasieprosesse en sy omstrede beleid van afsonderlike ontwikkeling gespruit het. Gevolglik duur die nadelige omgewingsnalatenskap van die apartheidsera steeds voort - lank ná apartheid opgehef is.

Suid-Afrika ná 1994

Soos op baie ander terreine, het die politieke verandering in Suid-Afrika in 1994 ook 'n groot invloed op die land se hantering van omgewingskwessies uitgeoefen. Die wegdoen met apartheid en die oorgang na demokrasie het Suid-Afrika weer as 'n lid van die internasionale gemeenskap aanvaarbaar gemaak. Die VN het die land se volle lidmaatskapsregte herstel.

Dit het ook beteken dat die nuwe ANC-regering die geleentheid gekry het om volleldig deel te neem aan besluitneming oor internasionale inisiatiewe om die omgewing te bestuur en te beskerm, sowel as die implementering daarvan. Sá het Suid-Afrika bv. 'n ondertekenaar geword van die belangrike omgewingskonvensies oor klimaatsverandering, verwoestying en biodiversiteit wat kort voor die 21ste eeu ingestel is.

Ná 1994 was die ANC dus teoreties verbind tot die beskerming en bewaring van die fisieke omgewing. In klousule 24 van die nuwe Grondwet, wat deel is van die Handves van Regte (hoofstuk 2), is die reg van elke landsburger op 'n skoon en gesonde omgewing verskans. Verskillende staatsdepartemente - veral die departement van omgewingsake, toerisme, waterwese, minerale hulpbronne en landbou, bosbou en visserye - sou 'n belangrike rol speel om van owerheidsweë die uitvoering van hierdie grondwetlike reg te help verseker.

In die Regering van Nasionale Eenheid wat ná die 1994-verkiesing tot stand gekom het, was 'n lid van die Nasionale Party, dr. Dawie de Villiers, aanvanklik die minister van die eertydse departement van omgewingsake en toerisme. Hy is in hierdie portefeulje opgevolg deur dr. Pallo Jordan (1996-1999), Valli Moosa (1999-2004) en Marthinus van Schalkwyk (sedert 2004).

Die nuwe departement van omgewingsake het nie die apartheidsregering se verbintenis tot 'n stelsel van geïntegreerde omgewingsbestuur wat in die Wet op Omgewingsbewaring van 1989 neerslag gevind het, summier van die tafel afgevee nie, maar het tog met die interne transformasie van dié departement begin. 'n Raadplegende nasionale omgewingsbeleidsproses (algemeen bekend as Connepp) is geloods om 'n nuwe omgewingsbeleid te ontwikkel. In 1996 het 'n besprekingsdokument en in 1998 'n witskrif oor 'n nasionale omgewingsbestuursbeleid die lig gesien.

Onder die belangrikste wette met die implementering van die nuwe beleid was die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Wet nr. 107 van 1998). 'n Strenger stelsel van omgewingsimpak-assessering is ingevoer, wat beteken dat daar nie met 'n groot ontwikkeling (bv. 'n bouprojek) begin kan word voordat daar vasgestel is of dit nie dalk skadelik vir die omgewing sal wees nie.

'n Ander baie belangrike stuk wetgewing was die Nasionale Waterwet (Wet nr. 36 van 1998). Dit het bepaal dat die staat - en nie individue nie - die eienaar van al die water in die land is en dat private persone of instansies lisensies vir verskillende vorme van watergebruik moet uitneem. Verder ressorteer die bestuur van die land se waterbronne onder bestuursowerhede, bestaande uit 'n verskeidenheid rolspelers, in die verskillende opvanggebiede.

Die visie van die departement van omgewingsake is om 'n samelewing van welvaart en gelykheid in Suid-Afrika te skep wat in harmonie met sy natuurlike hulpbronne bestaan. Om hierdie visie te realiseer, is dit die missie van dié departement om 'n voorloper op die terrein van volhoubare ontwikkeling te wees, om die bewaring en volhoubare benutting van die natuurlike hulpbronne ten bate van eonomiese groei te bevorder, om die gehalte en veiligheid van die omgewing te beskerm en te verbeter en om te help met die globale bevordering van volhoubare ontwikkeling.

Van regeringskant is daar sedert die instelling van omvattende wetgewing in 1998 vordering met die hantering van etlike omgewingskwessies in Suid-Afrika gemaak. Bewaringsgebiede, insluitend nasionale parke, is uitgebrei en oorgrensparke wat oor landsgrense heen strek, het ook tot stand gekom. Verskeie terreine in Suid-Afrika - in die meeste gevalle natuurerfenisgebiede - is reeds tot Wêrelderfenisgebiede verklaar of is in die proses om as sodanig verklaar te word.

Tog is daar steeds talle kwessies wat deur die onderskeie departemente hanteer moet word, o.m. die doeltreffende bestuur en beperking van suurmynwater-stortings. Laasgenoemde het teen 29010-2011 drastiese afmetings aangeneem in veral Gauteng se mynomgewings, wat op die lange duur dorpe en nywerheidsomgewings sal aantas. Ander kwessies is erge en verwoestende wildstropery vir ivoor en renosterhoring, die sg. geblikte jag van leeus, die uitwissing van maritieme bronne (soos perlemoen), water- en lugbesoedeling en deelname aan internasionale programme om aardverhitting, klimaatsverandering en verwoestyning teen te werk. Dan is daar nog die administratiewe hantering van duisende omgewingsimpakstudies jaarliks.

Dit is vir die regering 'n groot uitdaging om met sy beskikbare menslike hulpbronne behoorlik aandag aan al dié kwessies te gee.

Die private sektor het ook 'n invloed op omgewingsbewaring. Baie private plase se oorskakeling na wildboerdery vir die doeleindes van jag en ekotoerisme het veroorsaak dat wildgetalle weer begin toeneem, hoewel die oprigting van wildheinings ook sekere negatiewe gevolge het. 'n Groot probleem is die persepsie by talle besluitnemers dat omgewingsbewaring in die pad van sosio-ekonomiese ontwikkeling staan en nie die hoogste prioriteit behoort te geniet nie. Daar is nog nie 'n behoorlilke besef dat ekonomiese, sosiale en ekologiese faktore saam in ag geneem moet word om volhoubare ontwikkeling te bewerkstellig nie.

Binne die regering beskik die onderskeie departemente wat betrokke is by omgewingskwessies voorts nie altyd oor voldoende statuur, mag en selfs kundigheid om mekaar te ondersteun in sake wat almal en die omgewing raak nie. Verder is dit dikwels plaaslike regerings wat die grootste sondaars is wat besoedeling betref omdat hulle nie oor voldoende kundigheid en kapasiteit beskik om die omgewings waarvoor hulle verantwoordelik is, se rioolsuiweringswerke behoorlik in stand te hou nie. Hulle laat dus toe dat groot volumes rou riool in Suid-Afrika se rivierstelels en grondwater beland.

Die omgewingsopvoeding van veral skoolkinders is van groot belang om omgewingsbewaring op lang termyn te bevorder. Suid-Afrika moet ook nog 'n behoorlilke, omgewingsvriendelike struktuur skep vir die herwinning van afvalprodukte en só minder druk op hulpbronne plaas. Een van die hoogtepunte op Suid-Afrika se omgewingsagenda in die 21ste eeu was om gasheer op te tree vir die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling in 2002. Daarmee het die land erkenning gekry vir die leiersrol in omgewingsbewaring wat hy op die kontinent van Afrika vervul.

Elize S. van Eeden et al.*

*  Die ander bydraers tot hierdie hoofstuk is W.S. Barnard, William Beinart, Kobus du Pisani, Alan Kirkaldy, Fransjohan Pretorius, Phia Steyn en Sandra Swart

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5