Engelssprekende Suid-Afrikaners: onseker van hul identiteit

Hoewel Suid-Afrikaanse historici al baie oor die Afrikaners, die Zulu e.a. groepe geskryf het, is die geskiedenis en ondervinding van wit Engelssprekende Suid-Afrikaners grootliks verwaarloos. Een van die redes hiervoor is moontlik omdat dit moeilik is om wit Engelssprekende Suid-Afrikaners as 'n groep noukeurig te omskryf. Tot die middel van die 20ste eeu was die oorgrote meerderheid Engelssprekende Suid-Afrikaners van Britse herkoms, maar vandag sluit dié groep alle Suid-Afrikaners in wat Engels as hul moedertaal aanvaar het. Onder hierdie losse groep, wat bitter min behalwe 'n taal gemeen het, heers daar 'n bepaalde onsekerheid oor hul identiteit.

Die geskiedenis van die Engelssprekendes in Suid-Afrika begin met die Britse besetting van die Kaapkolonie in onderskeidelik 1795 en 1806. Aanvanklik het min Britte hulle permanent aan die Kaap kom vestig. Die Britse regering het in 1820 egter sowat 4 000 setlaars in hoofsaaklik die Oosgrensgebied van die kolonie gevestig, met verdere kleiner immigrasieskemas later daardie eeu. In 1849 is dar bv. ingevolge die Byrne-skema sowat 4 800 setlaars in die aangrensende kolonie Natal gevestig. Ná die ontdekking van waardevolle minerale in die binneland in die 1870's het 'n toenemende aantal Britse immigrante na sowel die twee Britse kolonies as die twee Boererepublieke gestroom. Ná die Anglo-Boereoorlog is hulle ook aangemoedig om in vral die nuwe Britse kolonie Transvaal 'n heenkome te vind.

Die Britse setlaars se gewaarwording van hul eie besondere identiteit is toe teskryf aan die unieke omstandighede in Suid-Afrika. Sonder voldoende paaie en posdienste het die afgesonderde gemeenskappe in edie Oosgrensgebied verskillende kenmerke ontwikkel. Veral in die beginjare het baie setlaars hegte bande met Afrikaners aangeknoop en selfs met hulle ondertrou. Vooraanstaande Afrikanerfamilies soos die Murrays is afstammelinge van Skotse setlaars wat na die Kaapkolonie gekom het as onderwysers in Britse diens of as predikante. As die Groot Trek Trak (1836-1838) nie plaasgevind het nie, sou 'n wit Anglo-Afrikaner-groep moontlik on ontstaan het.

Binne die Kaapkolonie was daar 'n groot verskil tussen Britte wat 'n tipiese Kaapse Oosgrens-setlaarsbestaan gevoer het en dié wat in Kaapstad 'n stelike leefwyse gehad en 'n meer liberale tradisie uitgeleef het. Die Britse setlaars in Natal het hulle sterk met hul nuwe tuiste geïdentifiseer en het selfs 'n eiesoortige benaming aanvaar, nl. Natallers. Hulle het 'n Britse identiteit aggressief nagestreef. In die Republiek van die Oranje-Vrystaat is die Britte veral gedurende pres. J.H. Brand se bewind opgeneem in 'n elitegroep bekend as die Anglo-Afrikaners. Die meeste Britse setlaars het hulself as lede van die middelklas beskou, maar ná die ontdekking van goud in 1886 aan die Witwatersrand het talle mynwerkers en ambagslui uit die Britse werkersklas na die land gekom.

In vergelyking met Britse emigrasie na die destydse Kanadese en Australiese kolonies het 'n relatief klein aantal Britte hulle in die 19de eeu in Suider-Afrika gevestig. Teen 1910 was daar m inder as 500 000 Britse nedersetters in die Unie van Suid-Afrika, in teenstelling met meer as sewe miljoen Britse setlaars in Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Die Britte wat na Suid-Afrika gekom het, was afkomstig uit die vier hoofgroepe binne die Verenigde Koninkryk, nl. die Engelse, Skotte, Walliesers en Iere. Die Engelse was die grootste groep en die Skotte het ook 'n buitengewoon groot bydrae tot die ontwikkeling van wit Suid-Afrika gelewer.

Die meeste setlaars, ongeag of hulle tot die middel- of die werkersklas behoort het, was sterk Britsgesind. Hulle het na Suid-Afrika gekom toe Brittanje die belangrikste nywerheids-, vloot- en handelsmag in die wêreld was. Dit het 'n gevoel van trots onder die setlaargemeenskap van Suider-Afrika geskep wat hulle met Britse setlaars in ander dele van die Britse Ryk gedeel het.

Die benaming Engelssprekende Suid-Afrikaners is eers gedurende die begin van die 20ste eeu algemeen gebruik. Vroeër het die setlaars en hul nageslag na hulself as Britte of Engelse verwys, aangesien die meeste van hulle van Engeland afkomstig was. Hul Afrikanerbure het ook selde tussen hierdie twee benamings onderskei, wat die Britte of Engelse het in alle gevalle die Engelse taal gepraat. In hierdie hoofstuk word die benaming "Engelse" dan ook gebruik vir die Britte in Suid-Afrika om hulle te onderskei van die inwoners van die Verenigde Koninkryk van Brittanje.

--- --- ---

Steeds Brits

Die Engelse in Suid-Afrika het hul Britse identiteit gehandhaaf deur bande met hul familie in Brittanje te behou d.m,v. korrespondensie en besoeke aan die Verenigde Koninkryk wat hulle geslagte lank as "home" beskryf het. Die Engelse taal het hulle natuurlik ook aan die Britte in die VK e.a. dele van die Britse Ryk gekoppel. Die meeste Engelssprekendes was lidmate van die Anglikaanse, Presbiteriaanse of Metodistekerk, wat noue bande met hul moederkerke in Brittanje gehandhaaf het. Baie van hul predikante was ook van Brittanje afkomstig.

Die Engelse se lewenswyse, gebruike en tradisies in Suider-Afrika het dus in wese Brits gebly. Aangesien die setlaars Suid-Afrikaanse omstandighede as vreemd en vyandig ervaar het, het hulle hul nuwe tuiste sover moontlik Brits probeer maak. Hulle het bv. Britse struike en bome aangeplant en hul huise met meubels, prente, boeke en blomme van Brittanje gevul. Die eerste setlaars het hul plase, dorpe, strate en voorstede na Britse plekke vernoem.

Hoewel sommige setlaars steeds as boere in die Oos-Kaap en Natal aangebly het, het die meeste mettertyd na dorpe verhuis, waar hulle 'n dominante rol gespeel het. Die lewenskrag en vooruitgang van die talle Suid-Afrikaanse dorpe was aan hul Engelse inwoners te danke. Hulle het Suid-Afrika ekonomies en kommersieel help ontwikkel en het die landbou-, nywerheids- en mynboukapitalisme hier gevestig. Hulle het ook talle skole, biblioteke, museums en kulturele of filantropiese verenigings in Suider-Afrika tot stand gebring. Takke van Britse of imperiale liefdadigheidsorganisasies soos losies aan Vrymesselaars, verskeie Caledoniese verenigings en die Sons of England is gestig. Dit het die Britse kulturele identiteit en waardes verder versterk en ook gedien as gemeenskaplike ontmoetingsplekke waar sakebande gesmee en sosiale netwerke opgebou is.

--- --- ---

Instellings wat 'n Engelse identiteit help vorm het

Vanaf die 1820's het Skotse setlaars soos John Fairbairn en Thomas Pringle die veldtog vir 'n vrye pers in Suid-Afrika gelei. Toe dit uiteindelik bewerkstellig is, het die Engelse pers 'n groot rol gespeel om 'n Engelse identiteit te help skep. Die vrye pers het die Engelse se oorheerseing van die politieke en kulturele toneel weerspieël en verskaf 'n blik op die ontwikkeling van Engelse Suid-Afrikaners oor die dekades heen.

Aangesien baie koerantredakteurs uit die VK afkomstig was, was hul koerante op die Britse nuusblaaie geskoei. Hulle het die Britse Ryk gesteun en het die voordele van Britse installings, veral die monargie (die Kroon), beklemtoon. Die voortdurende nuusberigte oor die koninklike familie het verseker dat die Engelse in Suid-Afrika steeds die monargie sou ondersteun. Die monargie was een van die belangrikste simbole van eenheid in die Engelse gemeenskap en het die bande met Brittanje versterk. Hierdie verbintenis is bevestig deur die besoeke van die Britse vloot aan Suid-Afrika, die sing van "God save the Queen/King" en die vertoon van die Britse vlag, die Union Jack.

Die Engelse pers het die veldtog vir 'n parlementêre regering in die Kaapkolonie en Natal gesteun en koerantredakteurs het hulle later beywer vir die toekenning van selregering aan die Britse kolonies in Suid-Afrika. Die Londense nuusagentskap Reuters was tot so onlangs as die 1930's in beheer van nuusverspreiding in Suid-afrika. Sodoende is die Engelse gemeenskap ingelig oor ontwikkelinge in Brittanje en die Britse Ryk, veral politieke hervormings in Brittanje en die kolonies van Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Redakteurs het ook nie geskroom om Britse goewerneurs en genomineerde amptenare heftig te kritiseer nie.

Danksy hul vertoë is verteenwoordigende regering in 1853 in die Kaapkolonie ingestel en in 1856 ook in Natal. Dít is gevolg deur die toekenning van verantwoordelike regering aan die Kaapkolonie in 1872 en aan Natal in 1893. Ingevolge lg. bestuurstelsel was die goewerneur verantwoordbaar aan die koloniale kabinet, wat natuurlik weer van meerderheidsteun in die koloniale parlement afhanklik was. Die Engelse pers het aanvaar dat Engelse koloniste die parlementêre instellings sou beheer en dat hulle sou verseker dat wit heerskappy in Suid-Afrika gehandhaaf word.

Onderwys is ook geesdriftig deur die Engelse koerante bevorder. Private en regeringskole is volgens die Britse model tot stand gebring. Skoolhoofde en senior onderwysers is uit die VK ingevoer en hulle moes Britse leerplanne en standaarde toepas. Karakterbou is as 'n belangrike komponent van formele opvoeding beskou - die doel was om leerlinge toe te rus om opgevoede en gerespekteerde lede van die samelewing te wees. Die leerlinge moes leiers in hul eie gemeenskappe word en die veronderstelling was dat hulle ook oor swart mense sou regeer. Hierdie benadering het die ingesteldheid van Engelse seuns en dogters geslagte lank gevorm.

Engelse skole het kadetkorpse ingestel wat gehoorsaamheid en respek vir gesag by toekomstige leiers moes inboesem. Hierdie korpe was gekoppel aan die vrywillige regimentstelsel. Dit was die stedelike ekwivalent van die Afrikaners se kommandostelsel, maar gebaseer op Britse militêre tradisie en lojaliteit aan die Kroon. Sport was ook belangrik vir die opleiding van toekomstige leiers en die vorming van 'n Engelse Suid-Afrikaanse identiteit in sowel die skool as die volwasse lewe.

Britse spansporte en die instelling van kompetisisies tussen die kolonies en republieke in Suid-Afrika vanaf die einde van die 1880's het die Engelse identiteit op streeks- en landsvlak versterk. In hierdie opsig het die Curriebeker-kompetisies vir rugby en krieket, sowel as toetswedstryde tussen die spanne van Suid-afrika, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland, positief meegewerk. Mededinging tussen Engelse en Afrikaanse deelnemers het dikwels tot wrywing gelei, maar hul gesamentlike deelname as Springbokke aan rugbytoetswedstryde het hulle weer saamgesnoer.

Soos Afrikaners, het die meeste Engelse ook rasseverskille en wit oorheersing van swart en bruin mense en Indiërs as vanselfsprekend aanvaar. Dit het gepaardgegaan met 'n bewyssyn van 'n gedeelde wit identiteit. Botsings tussen die 1820-setlaars en die Xhosa het die grondslag vir Engelse rassehoudings gelê. Swart mense is as 'n bedreiging vir die voortbestaan en veiligheid van die setlaars sowel as vir hul ekonomiese welvaar beskou. Sedert 1820 is maatreëls getref om swart mense d.m.v. geweld of wetgewing van hul grondgebied te ontneem. Swart mense is ook op sosiale vlak van wit mense geskei en verlaag tot blote verskaffers van arbeid.

Hoewel stemreg in die Kaapkolonie wetlik kleurblind was, het die Engelse owerheid in Natal stemregkwalifikasies só verhoog dat swart mense in die praktyk nie kon stem  nie. In 1896 is Indiërs in Natal ook ontkieser. Die Natalse sekretaris van naturellesake, sir Theophilus Shepstone, het 'n naturellebeleid ingestel wat die ontwikkeling van segregasie gedurende die 20ste eeu grootliks beïnvloed het. Daar was egter ook Engelse humaniste en liberaliste wat nie-rassigheid en die regte van swart mense gepropageer het. Hulle was veral uit die huidige Wes-Kaap afkomstig en sluit individue soos die politici John X. Merriman en William Schreiner in.

Die Engelse houiding teenoor Afrikaners verander

Die Engelse gemeenskap het aanvanklik 'n ambivalente houding teenoor Afrikaners gehad. Hulle het enersyds aanvaar dat hulle as wit mense meer met Afrikaners gedeel het as met swart en bruin mense. Andersyds in onderlinge spanning veroorsaak deur die feit dat Afrikaners (wat die wit gemeenskap betref) oral in die meerderheid was, behalwe in Natal. In die Kaapkolonie en die Oranje-Vrystaat het Engelse wel goeie verhoudings met opleide leiers in die Afrikaanse gemeenskap aangeknoop. Elders was daar aanvanklik weinig anti-Afrikaner-gevoelens, maar die Engelse het hulself in die algemeen as Brits en verhewe bo die Afrikaners beskou.

Gedurende die 1870's het die houding teenoor Afrikaners begin verander. Die stigting van die Afrikanerbond in 1879 in die Kaapkolonie is gevolg deur die herstel van Transvaalse onafhanklikheid ná die Slag van Majuba in 1881. Afrikaners se selfvertroue en trots het toegeneem, wat die Engelse gemeenskap opnuut van hul netelige posisie as minderheidsgroep in die wit gemeenskap bewus gemaak het. Anti-Afrikaner-gevoelens het gevolglik toegeneem.

Die verhouding tussen die twee groepe het verder verswak ná die ontdekking van goud aan die Witwatersrand toe die ekonomiese magsbalans van die Kaapkolonie na die Suid-Afrikaansche Republiek (ZAR) verskuif het. Die Engelse in die Kaapkolonie was bang dat dit hul posisie sou ondermyn. Die Britse mynwerkers uit die werkersklas e.a. immigrantestedelinge, ook bekend as Uitlanders, het verhoudinge tussen die twee groepe in die ZAR verder vertroebel. Hierdie mynwerkers was baie meer jingoïsties, verwaand en minagtend teenoor Afrikaners as wat die vroeëe setlaars was. Die Uitlanders was baie krities oor die belastingheffings van die Boererepubliek en die weiering om dadelik stemreg aan hulle toe te staan. Hulle het getwyfel of die Britse regering die vermoë en die wil gehad het om hulle te beskerm. Hulle het dit selfs oorweeg om 'n hervormde Engelse republiek aan die Witwatersrand tot stand te bring waarin hulle die botoon sou voer.

Ander Uitlanders, insluitend die belangrike myngroep Corner House, het ingryping deur die Britse regering begeer. Hierdie groep het ook 'n monopolie oor nuusverskaffing gekry toe hulle die Argus-maatskappy oorgeneem het wat koerante in die Kaap en Transvaal gepubliseer het. Dit het 'n band tussen mynboukapitaal en die Engelse pers geskep wat tot in die tweede helfte van die 20ste eeu sou voortbestaan en gebruik sou word om Britse belange te bevorder. Die Reform League, 'n drukgroep, is in Johannesburg gestig met Lionel Phillips as voorsitter en Percy Fitzpatrick as seretaris. Al twee was van Corner House. In 1895 het die Reform League en 'n ander Uitlanderorganisasie, die National Union aangedring op hervormings.

Intussen was daar kommer onder Engelse in die Kaapkolonie dat hul belange sou skade ly indien die Uitlanders 'n hervormde republiek aan die Rand tot stand sou bring. Cecil John Rhoes, die eerste minister van die Kaapkolonie, wou dit verhoed en het 'n proses aan die gang gesit wat op die gewaagde Jameson-inval van Desember 1895 uitgeloop het. Hierdie mislukte onderneming het Engelse en Afrikaners gepolariseer en groot bitterheid veroorsaak. Dit het ook Rhodes se politieke magsbasis in die Kaapkolonie vernietig, aangesien hy sy bondgenootskap met die Afrikanerbond kwyt was en daarna verplig was om as premier te bedank.

Sommige Engelse Suid-Afrikaners, soos Merrriman en Schreiner, asook die Natalse premier, sir John Robinson, het Rhodes se betrokkenheid by die Jameson-inval en die rigting wat Britse beleid t.o.v. die ZAR ingeslaan het, ten sterkste veroordeel. Nogtans was baie Engelse oortuig dat Brittanje meer betrokke moes raak sodat hul eie posisie beskerm kon word. Daarom het hulle in Maart 1896 die South African League gestig om Britse oppergesag in Suid-afrika te bvorder. Versoekskrifte is regoor die land opgestel waarin ge¥is s dat Uitlandergriewe aangespreek moet word en dat Brittanje moet ingryp. Die aandrang op Britse inmenging het toegeneem nadat sir Alfred Milner in 1897 as Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika aangestel is. Hy het Britse belange kragdadig bevorder, veral toe hy die Uitlanders se lot gelyk gestel het aan dié van die helote (slawe) in antieke Griekeland. Dit het die Engelse oortuig dat die Britse regering sy oppergesag in Suid-Afrika ten alle koste moes beskerm. Toe Milner eers die kwessie van Uitlanders se stemreg aan dié van imperiale oppergesag in Suid-Afrika gekoppel het, was dit moeilik om oorlog te voorkom. Die Engelse pers het sy veldtog t.g.v. Britse inmenging verskerp. Toe die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 uitbreek, het die UItlanders Transvaal in groot getalle verlaat. Talle het hulle by die koloniale vrywilliger-regimente soos die Imperial Light Horse aangesluit om teen die twee Boererepublieke te veg.

In die algemeen het Engelse Suid-Afrikaners, onder invloed van die Engelse pers, die Britse oorlogspoging onwrikbaar gesteun. Hulle het koloniale Afrikaners se steun vir die Boererepublieke verdoen en die anneksasie van die republieke bepleit. Die Britse leër se beleid van verskroeide aarde en die skepping van konsentrasiekampe is ook nie veroordeel nie. Talle Kaapse Engelse het Milner se vrugtelose pogings gesteun om die bestaande koloniale grondwet af te skaal en koloniale rebelle hul stemreg ná die Anglo-Boereoorlog te ontneem. Die Engelse gemeenskap se jingoïsme en anti-Afrikanerhoudings het grootliks verhoed dat wedersydse en standhoudende begrip tussen Engelse en Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog kon posvat.

Politieke verwikkelinge ná die Anglo-Boereoorlog

Aan die einde van Mei 1902 was die oorlog verby en kon die myne aan die Rand weer oopmaak en die Uitlanders terugkeer na die nuwe Britse kolonie van Transvaal. Britse imperiale heerskappy oor die hele land het vir die Engelse gemeenskap 'n gulde geleentheid gebied om hulself weer as die dominante wit groep in Suid-Afrika te vestig. Britse amptenare het die twee nuwe kroonkolonies in die binneland bestuur, Britse immigrasie is aangemoedig en die mynbedryf is herbou.

In die Kaapkolonie was die South Africa League, nou as die Progressiewe Party, verbind tot die handhawing van Britse oppergesag. In 1904 is dr. Leander Starr Jameson, berug vir sy inval in Transvaal, tot leier van die party verkies. In die 1904-verkiesing het die Progressiewes 'n skrale meerderheid van vyf setels oor die Suid-Afrikaanse Party behaal. Dit was grootliks toe te skryf aan die ontkiesering van Afrikanerrebelle. Die Suid-Afrikaanse Party is gevorm deur 'n alliansie tussen die Afrikanerbond en 'n klein groepie anti-imperialistiese Britte o.l.v. van Merrriman. Jameson het 'n uitsluitlik Engelse kabinet saamgestel wat tot 1908 in die Kaapkolonie aan bewind gebly het.

Milner het besef dat Britse oorheersing op 'n breë imperiale Suid-Afrikanisme moes berus. Die twee wit groepe moes vennote in 'n verenigde Suid-Afrika word wat as 'n volwaardige dominium soos Kanada, Australië en Nieu-Seeland moes funksioneer. Milner se knap jong amptenare in Transvaal het bekendgestaan as die Kindergarten en het individue soos die koloniale sekretaris Patrick Duncan ingesluit. Dié amptenare het hulle vir die skepping van 'n verenigde Suid-Afrika beywer. Hierdie ideaal is ook deur die Boeregeneraals Louis Botha en Jan Smuts gesteun. Hulle het al twee die soewereiniteit van die Britse Kroon erken en Suid-Afrika se lidmaatskap van die Britse Ryk ondersteun. 'n Uitvloeisel van hierdie nuwe benadering was die toenemende neiging onder Engelse om hulself as Engelssprekende Suid-Afrikaners te beskryf.

Tog het verdeeldheid binne die Engelse gemeenskap veroorsaak dat die imperiale oorwinning nie ten volle benut kon word nie. In Transvaal was die engelse in drie politieke partye verdeeld. Die eerste was die Transvaalse Progressiewe Assosiasie onder George Farrar en sir Percy Fitzpatrick wat Milner se beleid ten volle gesteun het. Die tweede was die Nasionale Assosiasie o.l.v. E.P. Solomon wat hulself aan die Het volk-party van Botha en Smuts verbind en verantwoordelike bestuur vir Transvaal gesteun het. Die derde was die Arbeidersparty wat die belange van geskoolde werkers wou beskerm.

In 1906 is verantwoordelike bestuur aan Transvaal toegestaan en die jaar daarna aan die Oranjerivierkolonie. Die Het Volk-party het die meeste setels verower en in die Oranjerivierkolonie het genl. J.B.M. Hertzog se Orangia Unie ook 'n oorweldigende meerderheid behaal. In al twee kolonies het Afrikaner-regerings onder Afrikanerpremiers dus aan bewind gekom - Botha in Transvaal en Hertzog in die Oranjerivierkolonie.

Nadat die ontkiesering van rebelle in die Kaapkolonie opgehef is, het die Suid-Afrikaanse Party in die algemene verkiesing van 1908 'n oorweldigende meerderheid van 69 setels teenoor die Progressiewe Party se 33 setels behaal. Merriman het eerste minister geword, maar die werklike mag het by sy bondgenoot, die Afrikanerbond, berus. Daarna was Afrikaners die leiers of die meerderheid in die regeringsparty in drie van die vier Britse kolonies. Op hierdie tydstip was die meeste engelssprekende Suid-Afrikaners oortuig dat alles wat Brittanje tydens die Anglo-Boereoorlog gewen het, verlore gegaan het en dat hul posisie ondermyn is. Hulle het die liberale regering in Brittanje verantwoordelik gehou daarvoor. Net 'n klein aantal Engelse was bereid om te erken dat die verwikkelinge op die politieke toneel die gevolg van hul eie dwaasheid en verdeeldheid was.

Afrikaners was oortuig dat die Engelse se belangrikste verbintenis steeds met Brittanje en nie met Suid-Afrika was nie. Na hul mening is dit deur vier dinge veroorsaak: Eerstens het die Engelse gemeenskap Rhodes se ambisies van Britse oorheersing en uitbreiding in Suid-Afrika gesteun. Tweedens het hulle Milner se aggressiewe imperialisme goedgekeur. Derdens het die Engelse geëis dat Afrikanerrebelle in die Kaapkolonie ontkieser moet word en vierdens het hulle die opskorting van die Kaapkolonie se grondwet (verantwoordelike bestuur) onderskryf.

Vanweë onderlinge verskille was die Engelse nie in staat om as eensgesinde groep deel te neem aan die Nasionale Konvensie (1908-1909) wat oor die toekomstige staatkundige bestel van Suid-Afrika moes beraadslaag nie. afrikaners het gevolglik die nuwe Unie van Suid-Afrika, wat op 31 Mei 1910 tot stand gekom het, polities oorheers. Die Suid-Afrikaanse Party (SA) is in 1910 gestig en daardeur is die ou SAP van die Kaapkolonie, die Afrikanerbond en Het Volk van Transvaal verenig. Afrikaners was in die meerderheid in dié party. Die eerste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, lord Gladstone, het toe ook besluit om Botha eerder as Merriman voorlopig as premier aan te stel. Dít het die Engelse politieke ambisies die finale nekslag toegedien.

Onder Botha en Smuts se leiding het die SAP 'n Suid-Afrikaansgerigte beleid gepropageer. Dit het berus op die beginsels van gelykheid en samewerking tussen die twee wit gemeenskappe in Suid-Afrika as deel van die Britse Ryk. In die algemene verkiesing van 15 September 1910 het slegs 'n minderheid Engelse kiesers die SAP gesteun. Die Engelse Natallers het die onafhanklike kandidate gesteun onder die slagspreuk "We are British", aangesien hulle hul identiteit wou beskerm.

In die res van Suid-afrika het die meeste Engelssprekendes hul stemme uitgebring t.g.v. die Unioniste onder Jameson. Dit was 'n oorwegend middelklas- en stedelilke party wat alle progressiewes in die Kaapprovinsie en Transvaal ingesluit het. Die Unioniste het dus hoofsaaklik Britse kapitalisme verteenwoordig. Onder die slagspreuk "Vote British!" wou hulle die Britse imvloed in die Unie versterk. Hulle is gesteun deur talle mynmagnate, veral dié van Corner House, en die Engelse pers.

Daarteenoor het Engelse werkers hul politieke tuiste in die Arbeidersparty gevind wat o.l.v. kol. F.H.P. Creswell in wese 'n Britse politieke party was. Engelse werkers het reeds in 1890's takke van Britse vakbonde aan die Witwatersrand gestig, maar die Arbeidersparty het hul politieke ideale verteenwoordig. Ten spyte van hul afkeer van die middelklas en die kapitalistiese waardes van die Unioniste, het hul sentimente egter meer ooreengestem met dié van die Engelse middelklas as met dié van hul Afrikaner-medearbeiders.

Die politieke eksklusiwiteit van die meeste Engelssprekendes blyk uit die feit dat so min van hulle ooit werklik Suid-Afrikaans in kultuur, gebruike en lewensuitkyk geword het. Dit het o.m. beteken dat hulle sosiaal eiesoortig gebly h et. Hul klubs, verenigings, skole, kerke en regimente het 'n besonder Britse atmosfeer gehad en min Afrikaners het daar welkom gevoel. In die praktyk was die Engelse geneig om sosiaal slegs met geangliseerde Afrikaners te meng. Anti-Semitisme het ook algemeen voorgekom nadat groot getalle Oos-Europese Jode die land binnegekom het. Die Engelse het die Jode wat nie van Brittanje afkomstig of geangliseer was nie, sosiaal uitgesluit.

Hoewel enkele Engelssprekende ministers in Louis Botha se kabinet opgeneem is, het die Engelse min politieke mag in die Unie van Suid-Afrika gehad. Hulle was getalsgewys in die minderheid, onderling verdeeld en hoofsaaklik stedelinge in 'n kiesstelsel wat volgens formule gelaai is t.g.v. plattelandse kiesafdelings. Die Engelse was diep verontrus toe Afrikaners in 1914 die Nasionale Party (NP) onder genl. Hertzog tot stand gebring het. Hertzog se slagspreuk was "Suid-Afrika Eerste!". Toe die NP in 1919 moontlike afskeiding (sesessie van die Britse Ryk en republikanisme as amptelike beleidsbeginsels aanvaar het, is alles waarvoor die Engelse hulle as 'n groep beywer het, bedreig.

Die NP se beleid het die Engelse gemeenskap laat besef dat hulle op gematigde Afrikaners soos Botha en Smuts sal moet steun. 'n Toenemende aantal Engelse het hulle gevolglik aan die SAP verbind. Jameson het in 1912 uit die politiek getree en die Unioniste gelaat sonder 'n charismatiese leier wat Botha kon uitdaag. Die feit dat die Unioniste hulle met die belange van die mynboumagnate vereenselwig het, het dit moeilik gemaak om 'n breër magsbasis te vind. Smuts se besliste hantering van die algemene staking van arbeiders in 1913 het baie Unioniste oorgehaal om hulle by die regerende party (die SAP) aan te sluit. Hoewel hierdie staking onderdruk is, is die gevolge van georganiseerde arbeid in die praktyk ervaar. Die Arbeidersparty het wel daarby gebaat en ná die verkiesing van 1914 die beheer in die Transvaalse Provinsiale Raad oorgeneem.

Die Eerste Wêreldoorlog

In 1914 is die binnelandse politieke toneel deur Brittanje se oorlogsverklaring teen Duitsland oorheers. Dit het die hele Britse Ryk by die Eerste Wêreldoorlog betrek. Botha het die Arbeidersparty en die Unioniste se steun gehad toe hy onderneem het om oorlogshulp aan Brittanje te verleen. Hoewel 'n klein aantal ondersteuners daarna van die Arbeidersparty weggebreek het, het die oorgrote meerderheid Engelse werkers in Suid-afrika hulself net soveel tot die Britse oorlogspoging verbind as die Engelse middelklas.

Aan die ander kant het Botha ook besef dat hy engelse steun vir sy politieke oorlewing nodig het, veral nadat die NP teen die oorlog begin agiteer en 'n rebellie in Oktober 1914 uitgebreek het. In die algemene verkiesing van 1915 het die SAP vyftig setels verower en die Unioniste veertig. Hulle sou dus gesamentlik die meerderheid setels in die Parlement hê. Die NP het gevorder deur 27 setels te verower, maar onsekerheid oor die Arbeidersparty se lojaliteit het veroorsaak dat hulle slegs vier setels kon inpalm.

Relatief baie Engelse gesinne in die Unie van Suid-Afrika is direk deur die oorlog geraak, al het hulle 'n relatief klein gemeenskap verteenwoordig. Engelssprekendes was die meerderheid onder die 8 551 wit Unie-soldate wat in die oorlog gesneuwel het. Engelssprekende troepe het ook gehelp om die rebellie in die Unie te onderdruk, hulle het in Duits-Suidwes-Afrika geveg en van 1915 in die Eerste en Tweede Infanterie-brigades in onderskeidelik Vlaandere en Oos-Afrika diens gedoen.

Meer as 100 000 wit mans het in Suid-Afrikaanse regimente gedien gedurende die oorlog (die amptelike getal van 146 000 was foutief). Sowat 12 000 Suid-Afrikaanse offisiere het hulle tydens die oorlog by imperiale eenhede aangesluit en ook in die Royal Navy en Royal Flying corps diens gedoen. Van die sowat 160 000 beskikbare Engelssprekende jong mans in die Unie het ongeveer 43% uiteindelilk in die gewapende magte van Suid-Afrika of in die Britse weermag gedien.

Kerke, sportliggame en welsynsorganisasies het Engelse Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle as vrywilligers by die Unie-weermag aan te sluit. Skole was besonder aktief. Seuns wat as kadette aan militêre diens blootgestel is, het gretig by hul geaffilieerde regimente aangesluit. Baie skole het teen die einde van die oorlog hul oudleerlinge se name en bydraes op ererolle en gedenktekens aangebring. Patriotiese geesdrif, pligsbesef en om vir "King and Country" te veg, was belangrike beweegredes vir jong mans om aan te sluit. Daar was ook die sug na avontuur en die drang om aan armoede en werkloosheid te ontsnap. Kameraadskap en die behoefte om die manlikheid teenoor gelykes te bewys, was ook belangrik, veral in die intieme kring van patriotiese en oudleerling-organisasies.

Die Eerste Infanterie-brigade is op 15 Julie 1916 beveel om Delville-bos in Frankryk te beset en te behou as deel van die groot Britse offensief in die Somme-vallei. Die Suid-Afrikaners het die Duitse troepe grotendeels uit die bosverdryf, maar hulle het teuggeslaan met hewige artillerie-bombardemente en masjiengeweervuur vanuit die omliggende heuwels. Die Suid-Afrikaners het hulle in die suidwestelike hoek van die bos ingegrawe. Hulle het die posisie behou totdat hulle op 20 Julie met ander Geallieerde troepe vervang is.

Van die 121 offisiere en 3 032 ander soldate wat manmoedig aan hierdie slag deelgeneem het, het slegs 29 offisiere en 751 ander manskappe op 21 Julie oorgebly. Die Suid-Afrikaners het in hierdie hewige en uitmergelende stryd aan die Somme die Duitse magte effektief verhinder om die strategiese suidwestelike hoek van Delville-bos te herower.

Die Slag van Delville-bos was 'n beslissende oomblik in die skepping van 'n Engelssprekende Suid-Afrikaanse identiteit. Soldate en burgerlikes het geglo dat hulle die Britse tradisie van militêre diens nagekom het en dat hulle net so dapper soos soldate van ander dominiums aan die oorlog deelgeneem het. Tog het die kameraadskap en gevare wat hulle saam met Afrikanersoldate meegemaak het, ook die siening van hulself as Suid-afrikaners versterk. Gesamentlik sou hulle hul beywer vir die toekoms van hul eie land, Suid-Afrika, maar ook vir Brittanje en die Britse Ryk. Die legende van "Springbokke aan die Somme" het 'n belangrike wekroep tot eenheid in die daaropvolgende jare geword.

Die Engelse het die steun wat Botha en Smuts aan die imperiale oorlogspoging verleen het, samewerking tussen die SAP, die Unioniste en die Arbeidersparty, asook die aantal Afrikaners wat saam met hulle geveg het, as bewyse van toenemende eenheid tussen die Engelse en Afrikaners beskou. Die Engelse se bewondering van Afrikanerlojaliste is egter geneutraliseer deur hul woede teenoor die Nasionale Party. Hulle het die NP van verraad beskuldig omdat dié party die Unie se deelname aan die oorlog so sterk afgekeur het. Die meeste Afrikaners was egter intens beledig deur die Engelse se pro-Britse geesdrif en afkeer van die rebellie.

Die tussenoorlogse jare

Al het die idee van 'n gedeelte Suid-Afrikanisme toenemend posgevat, het die meeste Engelse hulself eerstens steeds as Britse onderdane beskou. Die Engelse het egter 'n politieke minderheid gebly wat bewus gebly het van die bedreiging wat Afrikanernasionalisme inhou. Dit het hul posisie en imperiale verbintenis in gevaar gestel.

In die algemene verkiesing van 1920 het die NP 44 setels verower, teenoor die SAP wat slegs 41 setels kon inpalm. Smuts, wat ná Botha se dood in 1919 eerste minister van die Unie geword het, kon slegs aan bewind bly met die steun van die 25 Unioniste in die parlement. Die twee politieke partye (die SAP en die Unioniste) het in November saamgesmelt.

Nog 'n belangrike politieke verandering het in 1923 plaasgevind. Die Arbeidersparty het ná die Eerste Wêreldoorlog grot opgang gemaak en het 21 setels in die parlement verower. Hulle het daardie jaar 'n politieke ooreenkoms, bekend as 'n Pakt, met die NP gesluit,. Voor die oorlog sou so 'n Pakt tussen die oorwegend Bitsgesinde Arbeidersparty en die NP, wat afskeiding van die Britse Ryk gesteun het, ondenkbaar gewees het. Ná die oorlog was die leiers van die Arbeidersparty egter woedend oor Smuts se hardhandige onderdrukking van die mynwerkerstaking in 1922.

Die Arbeidersparty het geglo dat die Pakt versterk souword deur die groeiende stedelike Afrikanerwerkersklas. Die oorwinning van die Pakt-partye in die algemene verkiesing van 1924 het 'n regering aan bewind gestel wat oorweldigend deur Afrikaners van die NP oorheers is, maar nog twee Engelse ministers uit Arbeidersgeledere, nl. Creswell en Walter Madeley, ingesluit het. Baie Afrikaners het die SAP verlaat en hulle by die Nasionale Party aangesluit. Die SAP het toe grotendeels bestaan uit voormalige Unioniste.

Die NP het afstand gedoen van sy standpunt oor sesessie (afskeiding van die Britse Ryk) ter wille van samewerking met die Arbeidersparty. Die Engelse, insluitend vele ondersteuners van die Arbeidersparty, het nogtans Hertzog se opregtheid betwyfel. In 1926 is hul kommer vrlig toe Hertzog teruggekeer het van die Rykskonferensie in Londen. Hy het aangevoer dat die Balfour-deklarasie wat by h ierdie konferensie verkry is, die gelykheid van die dominiums en Brittanje binne die nuwe benaming "Britse Statebond" bevestig het. Dit was 'n triomf vir sy diplomasie en het die vraag oor afskeiding ongeldig gemaak.

Die PAKt-regering se indiening van die Vlag-wetsontwerp het die posisie van die Union Jack in gevaar gestel. Dit het die welwillendheid teenoor Hertzog binne die Engelse geledere laat kwyn. Die Engelse lede van die SAP en die Arbeidersparty het die Union Jack se behoud bepleit en in 1927 die regering verplig om 'n kompromis aan te gaan waardeur die Union Jack saam met die nasionale vlag, bekend as die Unie-vlag, vertoon sou word.

Die ekonomiese depressie vroeg in die 1930's het die regering se posisie vrswak. Hertzog het in 1933 onderhandelinge met Smuts aangeknoop oor die moontlikheid van nouer samewerking. Dit het uitgeloop op 'n koalisie tussen die NP en die SAP. Hertzog het eerste minister gebly, maar Smuts het sy adjunk geword toe die twee partye in 1934 saamgesmelt het as die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party (VP).

Ondanks koalisie en samsmelting was Hertzog vasbeslote om die onafhanklikheid van die Unie van Suid-Afrika te beklemtoon. Die Britse Statuut van Westminister het in 1931 wetlike gesag aan die Balfour-deklarasie verleen. Hertzog het toe daarop aangedring dat die SAP die NP se Statuswette moet aanvaar wat die soewereine onafhanklikheid van die Unie wetlik gewaarborg het. Die Statuswette het die Engelse voor hul eerste toets van lojaliteit ná due Vlag-wetsontwerp gestel. Die meeste Engelse parlementslede en koerante het die Statuswette aanvaar, hoewel hulle ietwat ongemaklilk gevoel het oor die grondwetlike veranderinge.

Die Engelse in Natal en die Oos-Kaap was egter baie meer Britsgesind as elders in die Unie. Agt parlementslede onder kol. Charles Stallard het van die SAP weggebreek om die Dominiumparty te vorm. Hierdie party was openlik gekant teen Afrikaners en het hulle daartoe verbind om die Statuswette te herroep en Britse belange te behou. Die nuwe party het min steun geniet en kon in die algemene verkiesing van 1938 slegs sewe setels in Natal en een setel in Oos-Londen verower. Ook die Arbeidersparty het nie aan sy NP-verbintenis in die Pakt ontkom nie, maar het beheer oor 'n aantal munisipaliteite behou, asook vier setels in die parlement.

Die mislukte pogings van die Dominiumparty om aansienlike steun te verwerf, het getoon hoe Engelssprekende Suid-Afrikaners - selfs in Natal - verander het. Britter min Engelse het die Unie toe nog as 'n Britse kolonie beskou of geglo dat hulle die reg gehad het om hul sienings op Afrikaners af te dwing. Die Engelse het saam met Joodse Suid-Afrikaners voortgegaan om die Unie se ekonomie te oorheers. Die meeste Engelse was polities apaties of het besef dat hul getalsminderheid (minder as 800 000 in 1936 te midde van 'n wit bevolking van meer as twee miljoen) hulle afhanklik gemaak het van Afrikanerleiers in die VP, soos Smuts. Hulle het van hierdie leiers verwag om voort te gaan om Engelse belange te beskerm en Suid-Afrika se rol as Statebondslid te bevorder.

Engelssprekende Suid-Afrikaners se aanvaarding van veranderinge is vergemaklik deur die feit dat hulle in 'n land gewoon het wat steeds uiterlik Brits vertoon het. Die Britse vloot het steeds Simonstad as basis gebruik. Engelse regimente in die Unie is dikwels aangedui met die benaming Royal en het "koninklike kolonels" as bevelvoerders gehad. Selfs die goewerneur-generaal, sir Patrick Duncan, wat die eerste Suid-Afrikaner was om (vanaf 1937) hierdie amp te beklee, het voortgegaan om die Kroon in die Unie-regering te verteenwoordig. Openbare vakansiedae soos Empire Day en die Britse koning se verjaarsdag is bekou.

Die verbintenis tussen Statebondslande is versterk deur deelname aan die Statebondspele en toetswedstryde tussen sportmanne van Brittanje en die dominiums. Daar is voortgegaan om "God Save the King" te sing en die Union Jack te vertoon. Parlementêre regering in die Unie is gekenmerk deur Britse gebruike en die Engelse het die Kroon beskou as die grootste waarborg van hul posisie in die Unie.

Britse kulturele bande is versterk met die weeklikse aankoms van posskepe van die redery Union Castle wat Britse handelsware - o.m. boeke en tydskrifte - na Suid-Afrika gebring het. Kinders het van jongs af kennis gemaak met Britse prentverhale en boeke wat in Britse wêreldbeskouing by hulle vasgelê het. Britse tydskrifte en boeke was baie meer geredelik beskikbaar vir volwassenes in die Unie as Amerikaanse publikasies.

Engelse bande met Brittanje is versterk deur die feit dat Engelstalige koerante in Suid-Afrika voortgegaan het om Britse kulturele waardes te weerspieël. Dit het 'n pro-Britse aanslag gehad, terwyl die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie ook daagliks Britse programme en nuusbulletins van die BBC herlei het.

Engelssprekende Suid-Afrikaners se voortgesette gehegtheid aan Brittanje en die Statebond is verder versterk deur ontwikkelinge binne die Afrikanergemeenskap. Hulle was besorg oor Hertzog se beklemtoning van die Unie se reg tot neutraliteit indien Brittanje in 'n oorlog betrokke sou raak. Hulle was selfs nog meer bekommerd oor die stigting van dr. D.F. Malan se Gesuiwerde Nasionale Party, wat toenemende steun van Afrikaners se kultuurorganisasies, skole en universiteite ontvang het. Hierdie instellings het 'n belangrike bydrae gelewer om 'n afsnderlike Afrikaneridentiteit te bevorder.

Die Engelse was nie juis welkom by die honderdjarige herdenking van die Groot Trek in 1938 en is ook nie daarby betrek nie. Dít het hulle vervreem en jingoïstiese houding aangemoedig. In die laat 1930's was daar toenemende onverdraagsaamheid onder Engelse en Afrikaners. Dit was baie onwaarskynlik dat enige vorm van Suid-Afrikanisme in so 'n situasie kon ontwikkel - allermins dat alle wit Suid-Afrikaners lojaliteit teenoor die Kroon en die Statebond sou aanvaar.

Die Tweede Wêreldoorlog

Teen die einde van die 1930's was lidmaatskap van die Statebond toenemend noodsaaklik as bolwerk teen Nazi-Duitsland se aggressiewe optrede en die vergrype van fascistiese Italië in Afrika. Die Engelse het die Unie se lidmaatskap van die Statebond as onversoenbaar met 'n beleid van neutraliteit beskou. Toe die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 uitbreek, het die oorgrote meerderheid Engelssprekendes, insluitend die middelklas-Engelssprekende Joodse bevolking, Hertzog se neutrale standpunt in die parlement met skok verwerp.

Vir Hertzog was deelname onversoenbaar met die soewereine onafhanklikheid van die Unie. Die Engelse pers het 'n venynige aanval geloods en protesvergaderings is in al die groot stede gehou. In die parlement het 54 Engelssprekende lede van die VP, die Dominiumparty en die Arbeidersparty, asook 26 Afrikanerparlementslede, Smuts se amendement gesteun wat neutraliteit in effek verwerp het. Slegs een Engelse parlementslid, S.C. Quinlan, wat later 'n Smuts-ondersteuner geword het, en 66 Afrikanerparlementslede het Hertzog ge standpunt gesteun.

Patrick Duncan, die goewerneur-generaal, het Hertzog se versoek verwerp om die parlement te ontbind en 'n algemene verkiesing te hou. Hy het Smuts versoek om 'n nuwe regering saam te stel, waarna die Unie op 6 September amptelik teen Duitsland oorlog verklaar het. Smuts moes grootliks staatmaak op Engelse parlementslede, aangesien slegs 'n minderheid Afrikanerparlementslede voortgegaan het om hom te steun. Agt Dominium- en vier Arbeidersparty-parlementslede het 'n koalisie gevorm. Stallard en Madeley is in Smuts se kabinet opgeneem. Die eerste keer sedert Uniewording was daar toe 'n gelyke aantal Afrikaner- en Engelse ministers in die kabinet.

Die werwing van vrywilligers vir die Unie-weermag het teen die einde van 1939 snel verloop. Die meeste regimente was op volle getalsterkte en in Februarie 1940 kon die parlement vrywilligers toestemming gee om die Rooi Eed (of Afrika-eed) af te lê. Dit het hulle daartoe verbind om die oranjekleurige kenteken op hul uniform te vertoon wat aangedui het dat hulle oral op die kontinent van Afrika sou diens doen. Teen 1945 was sowat 9,3% van die totale wit bevolking van die Unie in diens van die weermag. Dit het bestaan uit 186 218 wit mans en 24 975 wit vroue, asook 'n verdere 15 000 rekrute wat in die Royal Air Force (RAF) en 2 944 vrywilligers wat in die Royal Navy (RN) gedien het.

Die aantal Engelse wat militêre diens verrig het, word gewoonlik op sowat 40% beraam. Dit is gerieflikheidshalwe gebaseer op die getalsverhouding tussen Engelse en Afrikaners in die Unie. Indien dit korrek is, was ietwat meer as 41% van die nagenoeg 180 000 vrywilligers Engelssprekende mans tussen 18 en 44 jaar oud. Dit was sowat twee persent minder Engelse weermagslede as gedurende die Eerste Wêreldoorlog.

Die Engelse het nietemin op ander manier ook groot bydraes tydens die oorlog gelewer. Baie ouer mans of persone wat in die nuwe ammunisiebedrywe gewerk het, het hulle as vrywilligers by die Nasionale Reserwemag aangesluit om binnelandse veiligheid te verseker. Vroue het toepaslike take verrig binne die Unie, maar ook in Noord-Afrika. Hulle het hoofsaaklik gedien in die oorwegend Engelse Rooikruis, St. John-ambulansdiens, Suid-Afrikaanse Militêre Verpleegstersdiens en Suid-Afrikaanse Vroue Militêre Hulpkorps.

Sowat 65 000 vroue was by die Suid-Afrikaanse Vroue Hulpdienste betrokke - die meeste van hulle Engelssprekend. Hulle het fondse ingesamel, geriewe verskaf en gasvryheid betoon aan troepe wat in die Unie diens gedoen het en aan die bemannings van die sowat 49 241 Geallieerde skepe wat Suid-Afrikaanse hawens besoek het. Die twee organisasies vir oudsoldate wat gedurende die 1920's gestig is, nl. die British Empire Service League (wat vanaf 1941 bekend was as die Suid-Afrikaanse Legioen) en die MOTHS (Memorable Order of Tin Hats), het aktief vrywilligers aangemoedig en diensdoende soldate se gesinne ondersteun.

Soos tydens die Eerste Wêreldoorlog, was daar baie redes waarom vrywilligers hulle gedurende die Tweede Wêreldoorlog by die Unie-weermag aangesluit het. Dit het gewissel van werkverskaffing aan geskoolde werkers tot persone met 'n sterk pligsbesef. Soos in die ander dominiums, het Engelssprekende Suid-Afrikaners teen die middel van 1940 ook die bedreiging van 'n moontlike Nazi-inval in Brittanje aangevoel. Dit was vir hulle 'n keerpunt in hul besluitneming. Baie Engelse het instinktief emosioneel gereageer. Die besluit om as vrywilligers aan te sluit, was gewoonlik nie maklik nie, want dit het dikwels hul gesinne, loopbane en verdere studie ontwrig.

Die operasionele ontplooiing van die Agtste Leër in Noord-Afrika was in baie opsigte 'n Statebondsoorlog. Soldate van Brittanje, die dominiums en koloniale regimente was almal deel daarvan. Dit het entoesiasme vir die Statebond aangewakker, sowel as bewondering vir die wyse waarop die Britte die duitse Blitzkrieg trotseer en ontberings deurstaan het.

Daar was ook bewondering vir die rol van die RAF in die verdediging van die Verenigde Koninkryk. Dit was egter moeilik vir die Engelse in Suid-Afrika om te bly glo aan die beeld van Brittanje as 'n groot moondheid. Tog het die Britse verbintenis steeds hul selfbeeld sterk beïnvloed. Hul ruimhartige rondsinsamelings vir Brittanje gedurende en ná die oorlog is bewys van hierdie gevoelens.

Die Tweede Wêreldoorlog het die Engelse se Suid-Afrikaanse identiteit veel meer versterk as die Eerste Wêreldoorlog. Hegte kameraadskap het ontwikkel tussen Engelse en Afrikanersoldate wat die oranje lussies op hul uniforms vertoon en langs mekaar in Noord-Afrika geveg het.

Soos ná die Anglo-boereoorlog het die Engelse die geleenthede verspil wat die Tweede Wêreldoorlog gebied het. Die algemene verkiesing in 1943 het Smuts se koalisieregering tot 105 setels in die parlement vermeerder, teenoor die opposisie wat tot 43 setels gekrimp het. Dit het aan die Engelse die geleentheid gebied om hul posisie in die regering te versterk en hegte Suid-Afrikanisme te bevorder deur 'n verbintenis met gematigde Afrikaners.

Die Engelse het nietemin hierdie geleenthede onbenut laat verbygaan. Engelse parlementslede, insluitend die twee kabinetsministers Harry Lawrence en Sidney Waterson, was in die praktyk ondoeltreffend. Hulle het politieke leierskap aan hul Afrikanerkollegas oorgelaat. Die Dominiumparty het nege setels in die 1943-verkiesing verower en die Arbeidersparty sewe setels. Dit was grootliks te danke aan hul samewerkingsooreenkomste met die Verenigde Party (VP), maar hul steun onder kiesers het daarna vinnig afgeneem.

Na afloop van die oorlog het die Arbeidersparty beheer verloor oor sy munisipale kiesafdelings in Johannesburg en Durban. Die Dominiumparty is ontbind en 'n nuwe Suid-afrikaanse Party (SA) is gevorm. Laasgenoemde was toenemend rassisties en anti-Indiër ingestel. Dit het wesentlik eitnlik meer ooreenkoms vertoon met Malan se Herenigde Nasionale Party (HNP) as met die VP.

Die oorlog het weinig voordele aan terugkerende soldate gebied. Baie soldate was van mening dat die VP en die Engelse in Suid-Afrika in die algemeen ongevoelig was oor hul behoeftes, asook dié van swart oudgediendes. Die Engelse was in die algemeen nie bereid om die nuwe radikalisme te aanvaar wat die Springbok-Legioen geopenbaar het nie. 'n Egte Suid-Afrikaanse identiteit, wat alle rasse van die Unie sou insluit, was vir hulle ondenkbaar.

Die heersende norm van streng skeiding tussen die twee wit bevolkingsgroepe in die Unie was ook onaanvaarbaar vir die terugkerende Engelse en Afrikaners wat saam in Noord-Afrika geveg  het. Die na-oorlogse jare was vir die meeste engelse in die Unie 'n tydperk van welsyn, veiligheid en tevredenheid. Hulle was ie in staat om 'n veranderende Suid-Afrika te voorsien nie. Hulle was merkwaardig onbewus van die onmiddellike bedreiging wat Afrikanernasionalisme vir hulle ingehou het of van die langtermynverwagtinge van swart mense.

Die besoek van koning George VI en sy gesin in 1947 het Engelssprekende Suid-Afrikaners 'n laaste geleentheid gebied om hul bande met Brittanje te vier. Die besoek was van groot simboliese betekenis - dit het die Engelse gemeenskap se lojaliteit aan die Kroon bevestig en hul trots op hul Britse herkoms versterk. Die koninklike besoek het egter ook gepaardgegaan met toenemende Afrikanernasionalisme en steun vir 'n republiek buite die Statebond.

Engelssprekendes en die politiek van 1948 tot vandag

Die Engelse het die vrugte van hul politieke afsydigheid in die algemene verkiesing van Mei 1948 gepluk toe 'n Afrikanernasionalistiese regering aan bewind gekom het. Die VP het die meeste stedelike kiesafdelings verower en ook elf van die sestien Natalse setels ingepalm. Die party is egter oorweldigend in die oorwegend Afrikaanse kiesafdelings verslaan. Die NP het 'n totaal van 70 setels verower, terwyl sy koalisievennoot, die Afrikanerparty, nege ingepalm het. Die VP het 65 setels en die Arbeidersparty ses kiesafdelings ingeoes.

Hoewel die oorgrote meerderheid Engelse vir Smuts gesteun het, was hulle sodanig vervreem van die VP dat hulle òf buite stemming gebly het òf die NP gesteun het. Dit het Engelse ingesluit wat eerder die rassebeleid van die Nasionale Party gesteun het of wat verbitterd was oor die VP se besluitloosheid om kwessies te takel wat hulle persoonlik geraak het. Die NP het die omvang van hierdie weersin besef en sy uitsprake oor republiekwording afgeskaal. Kort voor die algemene vrkiesing het die NP ook meer op sy rassebeleid gefokus.

Die nuwe Suid-Afrikaanse Party het geen setels in die verkiesing verower nie, terwyl die Arbeiders slegs 'n handjie vol stedelike Engelse stemme ontvang het. Die VP het 'n klein kerngroep Afrikaners se steun behou en hulle is in die omgang steeds Sappe genoem. In werklikheid het die VP egter hoofsaaklik 'n Engelse, stedelike politieke party geword. Die party se enigste noemenswaardige plattelandse steun was afkomstig van die Engelse boeregemeenskappe van die Oos-Kaap en Natal. Dit het hulle in staat gestel om politieke beheer oor die provinsie Natal te behou.

Die nederlaag van die VP met sy verbintenis aan die Kroon, die Statebond en Suid-Afrikanisme het die wêreldbeskouing van Engelssprekende Suid-Afrikaners diepgaande verander. Die land is ná 1948 deur Afrikaners geregeer en tot voordeel van hul groep. Gedurende die 1950's is republikeinsgesinde Afrikaners aangestel as goewerneurs-generaal. Die posisie van die Kroon en die verpligtinge van Statebond-lidmaatskap is grotendeels verontagsaam. Alles wat Brits was in Suid-Afrika, is afgetakel. In 1957 is "God Save the Queen" en die Union Jack as amptelike simbole afgeskaf.

Die amptelike geheue van wit Suid-Afrika is verander en die geskiedenis en tradisies van Afrikaners het voorkeur ontvang. Die nasionalistiese beheer oor staatskole het die Britse bydrae tot ontwikkeling van Suid-Afrika geïgnoreer of as negatief voorgestel. Die Engelse verbintenis tot hul Britse tradisies en afkoms is as "on-Suid-Afrikaans" voorgestel en die nuusbulletins van die BBC is beëindig. Die ideologie van die NP het baie jong Engelssprekendes van hul erfenis vervreem. Baie van hierdie Engelse was volgens die Suid-Afrikaanse skrywer Christopher Hope 'n "geslag wat in ballilngskap gegaan het voordat hulle die ouerhuis verlaat het".

Die veranderinge het egter nie onuitgedaag plaasgevind nie. Die kroning van koningin Elizabeth II in 1953 het koninklike en Statebond-gevoelens aangewakker. Die Engelse het tydens die republikeinse referendum in 1960 oorweldigend teen die voorgestelde staatsvorm gestem. Die aanvang van die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961 was 'n traumatiese beëindiging van hul verhouding met Brittanje. Dit het die Engelse verplig om 'n toekoms in te gaan waarin meer as net politieke omstandighede aan die verander was.

Hulle moes eerstens aanvaar dat hulle as 'n groep verander het. Hoewel hulle toe reeds meer as een miljoen sterk was, was die persentasie Britsgeborenes in hul geledere geleidelik aan die afneem. Minder Britse immigrante het hulle in Suid-Afrika kom vestig en die samestelling van die Engelse gemeenskap het begin verander. Hulle het soos reeds genoem, sterk groeps- en godsdienstige identiteite behou, maar Jode is ook opgeneem in die Engelssprekende gemeenskap sterker aangemoedig om hul bande met Brittanje te heroorweeg as die destydse republiekwording.

Die Statebond het voorts 'n organisasie geword wat hoofsaaklik deur sy swart lidstate oorheers is. Die Engelse gemeenskap was onthuts oor die wyse waarop Statebondslande Suid-Afrikaners verstoot het. Suid-Afrikaners kon nie meer amptelik aan internasionale sport- en kulturele geleenthede deelneem nie. Die Britse kultuurboikot van Suid-Afrika het veroorsaak dat jong Engelssprekendes grootgeword het met 'n Amerikaanse kulturele wêreldbeskouing en nie 'n Britse een nie.

Die Engelse was onseker oor hul identiteit en rol in 'n republikeinse Suid-Afrika. Hierdie onsekerheid het ook in die VP (teen die 1970's die Nuwe Republiek Party genoem) en die nuutgestigte Progressiewe Party geheers. asook in die Engelse pers. Engelse Suid-Afrikaners het nogtans hul taalregte behou en het voortgegaan om Suid-Afrika ekonomies en finansieel te oorheers, ondanks die NP se beheer van staatstrukture en Afrikaners se opgang in die ekonomie. Daarbenewens het die Engelse besef dat hul leefwyse al hoe meer bedreig word deur swart nasionalisme. Daarom het hulle gemeenskaplike identifikasie met wit Afrikaners aanvaar sodat hulle kon saamstaan teen swart Afrikane.

Nie alle Engelse het hieraan meegedoen nie. Engelssprekendes in universiteite, kerke, die pers, oudgediende-organisasies en vroueverenigings soos die Black Sash, asook die Progressiewe Party en die Liberale Party, het die toon aangegee om rasseverhoudinge in Suid-Afrika te verbeter en het die NP-regering sterk teengestaan. Hulle was egter 'n relatief klein groep. Die meeste Engelssprekendes het die verdwyning van burgerlike vryhede en Britse waardes soos vryheid van spraak, 'n onafhanklike regstelsel en demokrasie met huiwering aanvaar. Dit was hoofsaaklik omdat hulle niks daaraan kon doen nie.

Sommige Engelse het nog nostalgies vasgeklou aan die verlede en probeer om die simbole van  hul verlore identiteit te behou. Tot in die 1990's is die Union Jack nog op munisipale geboue in stede soos Durban, Pietermaritzburg en Port Elizabeth vertoon tydens geleenthede van koninklike en Brits-Suid-Afrikaanse belang. Koninklike portrette is nie verwyder van hul plekke in stadsale, klubs en verenigings nie. Die Natallers het hul provinsie "The last outpost of the Empire" genoem. Uiteindelik het hul heimwee egter ook afgeneem en teen die 1990's kon oudgediendes e.a. organisasies soos die Vrymesselaars, Caledoniërs en Sons of England moeilik hul ledetal volhou en baie takke moes sluit.

Ondanks die algemene euforie wat met die geboorte van die nuwe Suid-Afrika in 1994 saamgegaan het, was die meeste Engelssprekende Suid-Afrikaners versigtig om die nuwe bedeling te aanvaar. Soos die Afrikaners vroeër gedoen het, het sommige swart mense hulle daarvan beskuldig dat hulle "nie-Suid-Afrikaans" was weens hul herkoms. Talle Engelse is voorts vervreem deur die hoë misdaadsyfers, korrupsie en regstellende aksie. Teen die einde van die 1990's was hulle ook geskok deur wat vriende en familielede in Zimbabwe moes deurgaan. Dit het vrese aangewakker dat dieselfde in Suid-Afrika kan gebeur.

Baie Engelssprekendes het gevolglik besluit om te emigreer na lande met beter vooruitsigte, terwyl ander in Afropessimisme verval het. As 'n steeds krimpende gemeenskap met 'n onsekere identiteit, was dit met die aanbreek van die 21ste eeu moeilik om te voorsien wat die toekoms vir wit Engelssprekende Suid-Afrikaners sou inhou.

John Lambert

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5