Die ontwikkeling van vakbonde en georganiseerde landbou

Vakbonde het voortgespruit uit die haglike arbeidstoestande wat gedurende die Nywerheidsomwenteling in veral Brittanje geheers het. Die opkoms van kapitalisme - 'n stelsel waarvolgens enkele ryk individue geld vir die ontwikkeling van nywerhede kkon voorskiet - het 'n klein eienaarsklas geskep. Hulle het alle produksiemiddele soos myne en fabrieke besit en beheer. Tydens die Nywerheidsomwenteling het die ontwikkeling van stroomgedrewe masjiene hande-arbeid op groot skaal vervang. Die gevolglike ooraanbod van werkers in hierdie oorversadigde arbeidsmark het veroorsaak dat hulle lang ure, dikwels in ongesonde en haglike toestande, en gewoonlik teen baie lae lone, moes werk. Aanvanklik was daar geen wetgewing om werkers te beskerm nie en hulle is uitgebuit.

Werkers het begin besef hulle kon vir beter werktoestande en lone onderhandel as hulle kon verenig deur unies of vakbonde te vorm. Gesamentlike optrede het hul onderhandelsposisie aansienlik versterk. Vakbonde het gesorg dat medfedinging om werk beperk word sodat loonvlakke gehandhaaf en verhoog kon word en ook om loononderkruiping te verhoed. (In die Suid-Afrikaanse konteks het dit beteken dat geskoolde wit werkers meestal deur swart werkers vervang is wat dieselfde werk teen laer lone verrig het.) As kollektiewe onderhandeling misluk het, kon werkers hul arbeid d.m.v. stakings weerhou. Om doeltreffend te kon optree, moes vakbonde dus daartoe in staat wees om die aanbod van arbeid op die arbeidsmark te beheer.

Die eerste soort vakbonde wat ontstaan het, was ambagsvakbonde. Werkers is aanvanklik as vakleerlinge in 'n sekere ambag soos skryfwerk, ystergietery, drukwerk, messelwerk of masjienboorwerk opgelei. Sodra hulle as ambagsmanne gekwalifiseer het, k on hulle lede van ambagsvakbonde word.

Die eerste vakbonde in Suid-Afrika

Die eerste ambagsvakbonde in Suid-Afrika het in die drukkersbedryf in Kaapstad ontstaan. Die Cape of Good Hope Printers' Protection Society is reeds in 1841 gestig, terwyl die Cape of Good Hope Printers' and Bookbinders' Socierty in 1857 tot stand gekom het. In die vroeë 1880's het verskillende drukkersvakbonde in die groot stede ontstaan. Hulle sou uiteindelik in 1898 amalgameer in die South African Typographical Union wat in 'n stadium die doeltreffendste en bes georganiseerde vakbond in Suid-Afrika was. Skrynwerkers het in 1881 die Amalgamated Society of Carpenters and Joiners in Kaapstad gestig.

Die grootste aansporing vir die ontwikkeling van vakbonde en georganiseerde arbeid het egter ná die ontdekking van minerale in die laaste kwart van die 19de eeu ontstaan. Vir die ontginning van dié minerale, veral goud, wat van 'n lae ernsdraende gehalte was, was 'n hoogs gemeganiseerde en geïndustrialiseerde tegnologie nodig. Ingenieurs, tegnici, wetenskaplikes en verskeie ander ambagsmanne was dus noodsaaklik vir die Suid-Afrikaanse mynbedryf.

Aanvanklik kon Suid-Afrika nie self opgeleide werrkers en tegniese kundiges vir die diamant- en goudmynbedrywe verskaf nie. Duisende tegnici en geskoolde ambagsmanne is dus ingevoer, veral vanuit ander lande in die Britse Ryk, die VSA en Europa. Uiteindelik was dit oorsese immigrante wat die Suid-Afrikaanse vakbondwese begin het. Die eerste generasie goudmynwerkers het hoofsaaklik van Cornwall, Northumberland en Suid-Wallis i n Brittanje, asook Wes-Australië, Kalifornië in die VSA, Kanada, Italië en Griekeland gekom. Daar was ook Portugese, Duitsers, Russe, Jode, Pole, Franse en Nederlandsers Die Witwatersrands het dus 'n kosmopolitiese myngemeenskap geword, met Britse werkers in die meerderheid.

Die Witwatersrand Mine Employees' and Mechanics' Union, beter bekend as die Labour Union, is in 1892 as 'n sambreel-arbeidsorganisasie gestig, o.a. vir Britse mynwerkers en ambagsmanne. Die doelwit was om al die wit werkers aan die Witwaterand te verenig. Tussen 1866 en 1893 is takke van die Britse vakbond die Amalgamated Society of Engineers (ASE) - 'n vakbond vir die ingenieursbedryf - in Kaapstad, Durban, Kimberley en Johannesburg gestig. 'n Ander vroeë prominente vakbond was die South African Engine Drivers' and Firemen's Association wat in 1894 vir masjiniste aan die Witwatersrand gestig is.

Ná die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 is die Suid-Afrikaanse arbeidsmag aangevul deur gedemobiliseerde soldate van die Britse leër vanuit Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en Kanada. In 1902 is die Transvaal Miners' Association vir mynwerkers gestig. Dit sou in 1913 tot die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie, alombekend as die MWU, herdoop word. Die MWU sou een van die invloedrykste en suksesvolste arbeidsorganisasies in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse vakbondwese word.

--- --- ---

J.T. Bain

James Thompson Bain was een van die merkwaardigste figure van die vroeë Suid-Afrikaanse arbeidsbeweging. Bain is in 1860 in Dundee, Skotland, gebore in 'n omgewing en omstandighede waar werkers deur kapitaliste uitgebuit is. Tydens die Angl0-Sulu-oorlog van 1879 in Natal was hy 'n soldaat in die Britse leër.

In 1888 het hy permanent na Suid-Afrika geïmmigreer en as ambagsman spoedig by vakbondbedrywighede aan die Witwatersrand betrokke geraak. Hy het 'n geneutraliseerde burger van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword en was tydens die Anglo-Boereoorlog 'n agent vir die Boererepubliek se geheime diens onder Jan Smuts - die enigste Brits-gebore Suid-Afrikaanse arbeidsleier wat aan Boerekant geveg het.

Bain was tydens verskeie arbeidsdispute aan die voorpunt. Tydens die mynstaking van 1913 was hy 'n lid van die stakerskomitee met wie Louis Botha en Smuts noodgedwonge om 'n skietstilstand moes onderhandel. Me die algemene staking van 1914 is Bain as een van nege stakerleiers tydelik na Brittanje gedeporteer. Tydens 'n munisipale staking in Johannesburg in 1919 het die stakerskomitee onder sy leiding 'n ruk lank die funksies van die stadsraad oorgeneem deur die stigting van die sg. Provisional Joint Board of Control, wat ook die "Johannesburgse Sowjet" genoem is.

Bain was 'n selfgeleerde oortuigde sosialis en bekende arbeidsaktivis wat 'n afkeer van die kapitalisme in die Randse goudmynbedryf gehad het. Hy is in 1919 in Johannesburg oorlede.

--- --- ---

Die vroeë Suid-Afrikaanse arbeidersbeweging het 'n aantal opvallende kenmerke gehad. Eerstens het die arbeidsmag op die myne 'n oorheersend Britse karakter gehad omdat veral die Britte die tegniese vaardighede en kundigheid vir diepvlakmynbou en harderots-ontginning gehad het. Die tradisies van die Britse werkwinkel en vakbonde is daarom aan die Witwatersrand gevestig en imigrantwerkers het die eerste vakbonde in Suid-Afrika dus op die lees van die soortgelyke bewegings in Brittanje geskoei. Party van hierdie vakbonde was inderdaad takke van Britse moederorganisasies.

'n Tweede kenmerk van die vroeë vakbond-en-arbeidersbeweging was die groot mate van verdeeldheid wat geheers het. Om die nodige skaars vaardighede van (wit) oorsese ambagsmanne na die Witwatersrand te lok en te behou, is hoë lone aan hulle betaal en het hulle 'n bevoorregte arbeidstatus geniet. In Suid-Afrika het hulle ambagsvakbonde gestig om die voorsiening van arbeid vir 'n spesifieke ambag d.m.v. 'n stelsel van geslote geledere te beheer. Dit het dus vir ambagsvakbonde baie mag en invloed gegee om loonvlakke hoog te hu en die soort werk wat hul lede moes doen, te monitor.

Dit het beteken dat die ongeskoolde en halfgeskoolde Afrikanerwerkers aanvanklik van vakbonde en dus lonende posisies in die myn- en aanverwante bedrywe uitgesluit is. Omdat dit so duur was om die goudmyne op diep vlakte te ontgin en die erts van lae gehalte was, kn dit net teen 'n wins geproduseer word deur massas ongeskoolde swart werkers teen baie lae lone in diens te neem. Hulle is met diskriminerende wetgewing soos die kleurslagboom en die kampong- en passtelsels beheer en nie toegelaat om hulself ook in vakbonde te organiseer nie. (Die begrip "kleurslagboom" verwys na 'n stel regulasies e.a. wetgewing wat toegang vir swart en bruin werkers tot daardie beroepe verhinder het.) Soos die getalle ongeskoolde swart werkers in die myne toegeneem het, het die rol van wit toesighouers belangriker geword. Veral op dié manier sou Afrikanerwerkers uiteindelik toegang tot vakbonde soos die MWU kry.

Die konstante vrees dat hulle deur goedkoper ongeskoolde swart werkers vervang kon word, het die onwikkeling van vakbonde onder wit werkers aangemoedig. Vakbonde het sodoende 'n groot rol gespeel om sekere werkgeleenthede in nywerhede vir wit werkers te verskans en om hul hoë lone teen onderkruiping deur goedkoper swart loonvlakke te beskerm. Die vroeë Suid-Afrikaanse arbeidersbeweging is gevolglik deur 'n rasgebaseerde struktuur gekenmerk - 'n kleiner wit arbeidsmag wat hoofsaaklik in vakbonde georganiseer was en 'n massiewe goedkoop en ongeorganiseerde swart proletariaat (die laagste klas van die samelewing wat 'n bestaan maak deur hul arbeid te verkoop).

'n Derde kenmerk van die vroeë vakbondwese en georganiseerde arbeid was die konfronterende aard van hul verhouding met werkgewers, net soos die geval in Brittanje was. Kwessies soos mynregulasies en -veiligheid, beroepsiekties soos myntering, werkerskompensasie in die geval van mynongelukke, 'n agt-uur-werkdag, 'n verbod op Sondagwerk, wit werkreservering en minimumloonskale was tipiese twispunte in onderhandelinge tussen vakbonde en werkgeersorganisasies soos die Kamer van Mynwese. In aanloop tot Uniewording in 1910 is daar ook gestreef na groter politieke mag sodat wit arbeid wetlik beskerm kon word. Gevolglik het verskeie vakbonde e.a. arbeidsorganisasies in Oktober 1909 die Arbeidersparty (AP) met F.H.P. Creswell as leier in Johnnesburg gestig.

Die konfronterende aard van die verhoudinge tussen vakbonde en werkgewersorganisasies het veral in die eerste kwart van die 20ste eeu op nywerheidsonrus tussen arbeid en kapitaal uitgeloop. Die nywerheidsonrus het sy hoogtepunt bereik in vier groot militante stakings - in 1907, 1913, 1914 en 1922. Die staat is ook betrek om die stakings met geweld te beëindig. Vakbonde soos die MWU en die ASE het aktief aan hierdie stakings deelgeneem.

Die eerste vakbond wat vir swart werkers gestig is, was waarskynlik die Industrial Workers of Africa (IWA). Dit het in 1917 tot stand gekom met behulp van linkse wit revolusionêre sosialiste soos S.P. Bunting en D.I. Jones wat in 1915 weens ideologiese geskille van die meer konserwatiewe AP weggebreek het.

Die IWA was, in steenstelling met ambagsvakbonde, 'n algemene nywerheidsvakbond vir swart werkers. Daar is verwag dat die IWA gou tot 'n groot vakbond vir ongeskoolde swart werkers sou ontwikkel. Die vakbond is egter o.m. weens polisie-infiltrasie in 1918 ontbind. In 1917 en 1918 het geskoolde Indiërwerkers in Natal vakbonde in die drukkers-, klere-, meubel-, tabak-, leer-, drank- en verversingsbedryf gestig.

Met die stigting van die Industrial and Commercial Workers' Union of Africa (ICU) in 1919 vir swart en bruin dokwerkers in Kaapstad, het die swart vakbondbeweging 'n nuwe rigting ingeslaan. Die ICU, wat deur Clements Kadalie (oorspronklik van Malawi) en die wit sosialis A.F. Batty gestig is, sou die eerste nasionaal georganiseerde massavakbond en politieke beweging vir swart werkers in Suid-Afrika word. Die vakbond het uiteindelik swart mense vanoor 'n wye spektrum ingesluit - werklose plattelandse plaaswerkers, huiswerkers, fabriekswerkers, dokwerkers, onderwysers en kleinhandelaars.

Die ondeurdringbare kampong- en trekarbeidstelsels het egter gesorg dat swart mynwerkers hulself nie in vakbonde kon organiseer nie. Die ICU het 'n tradisie van militantheid onder swart werkers ontketen en was in die 1920's selfs gewilder as die African National Congress (ANC). Dit het spoedig landwyd na die Vrystaat, Transvaal en Natal versprei en in 1925 is die vakbondhoofkantoor na Johannesburg verskuif.

Kommunistiese invloede het ook gou in die ICU begin deurskemer. James la Guma, die vakbond se assistent-hoofsekretaris, het aangesluit by die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA), wat in Julie 1921 gestig is. Ande ICU-lede het sy voorbeeld gevolg. Teen 1926 het ses KPSA-lede in die nasionale raad van die ICU gedien. Hierdie samewerking het egter nie lank gehou nie. Toe die kommuniste die vakbondleierskap van interne korrupsie, 'n gebrek aan dissipline en finansiële wanbestuur beskuldig het, is die kommuniste in Desember 1926 voor 'n ultimatum gestel: Hulle moes tussen die ICU en die KPSA kies. Dié wat nie uit vrye wil uit die KPSA bedank khet nie, is uit die ICU gedryf.

Teen die einde van 1927 het die ICU sy hoogtepunt m et 'n ledetal van ongeveer 100 000 bereik. Terwyl Kadalie in dié jaar in Europa was, het die swaartepunt van die ICU o.l.v. A.W.G. Champion na Natal verskuif. Leierskapsgeskille tussen Kadalie en Champion het veroorsaak dat die vakbond gou agteruit begin gaan het. In Mei 1928 het Champion van die ICU weggebreek en sy eie organisasie, die ICU yase Natal, gestig. Dit was 'n erstige terugslag vir die oorspronklike ICU, want Natalse lede ws 'n belngrike bron van inkomste vir die vakbond.

In Julie 1928 is W.G. Ballinger, 'n Skotse vakbondleier, as finansiële adviseur van die ICU aangestel, maar hy het ook kort voor lank met Kadalie gebots oor die manier waarop die vakbond se chaotiese administrasie hervorm moes word. In 1929 het Kadalie 'n onafhanklike ICU met sy hoofkwartier in Oos-Londen gevorm, maar weens 'n gebrek aan geld en nasionale steun het dit gesukkel om te oorleef. Die ICU het teen 1934 vir alle praktiese doeleindes as vakbondorganisasie van die toneel verdwyn en tientalle van sy ontnugterde swart lede het die ANC gedraai.

Die opkoms van vakbondfederasies

In 1922 het die grootste en gewelddadigste staking in die geskiedenis van die wit arbeidsbeweging, die sg. Randse Opstand, uitgebreek. Die staking het in wese gegaan oor die ekkonomiese bekostigbaarheid van wit werkers se verskanste posisie in die myn- en aanverwante nywerhede aan die Witwatersrand, die getalleverhouding tussen swart werkers en wit toesighouers op die myne en die onderhandelingsmag van die wit vakbonde teenoor dié van die Kamer van Mynwese. Sowat 22 000 wit werkers het aan die staking deelgeneem en dit het so handuit geruk dat die staat dit met geweld onderdruk het.

Baie werkers het ná die taking hul werk verloor en vakbonde se mag het 'n groot knou gekry. Dit was egter op politieke terrein waar die 1922-staking die mees verreikende gevolge, ook vir vakbondorganisering, ingehou het. Wit werkers het die Smuts-regering verantwoordelik gehou vir die bloedige onderdrukking van die staking en die grootskaalse werkloosheid wat daarop gevolg het. Die Nasionale Party (NP) van J.B.M. Hertzog en die AP van Creswell het gevolglik in 1923 'n verkiesingsooreenkoms aangegaan en die Smuts-regering in die algemene verkiesing van 1924 verslaan. Die Smuts-regering het reeds voor die verkiesing die Nywerheidsversoeningswet van 1924 uitgevaardig wat enersyds wit vakbondlede se werksposisies teen loononderkruiping verskans het, maar terselfdertyd ook werkgewers ondersteun het deur wetlike hindernisse ind ie pad van ongemagtigde stakingsaksie geplaas is. Die het voorts verhoed dat swart werkers lede van erkende vakbonde kon word, aangesien hulle ingevolge die wet nie as "werkers" geklassifisser is nie.

Die nuwe koalisieregering, wat as die Pakt-regering bekend gestaan het, se pro-wit arbeidsbeleid sou die rasseverdeling in die vakbond-en-arbeidersbeweging verder verdiep. Die nuwe Wysigingswet op Myne en Bedrywe van 1926 - die sg.Kleurslagboomwet - het gesorg dat militante optrede deur wit werkers grotendeels iets van die verlede geword het. Die wet het wit werkreservering bevorder en geskoolde en  halfgeskoolde wit werkers beskerm deur bevoegdheidsertifikate in geskoolde ambagte vir wit en bruin werkers te reserveer. Swart mense en Asiërs is daarvan uitgesluit. Georganiseerde wit arbeid is veral in staatstrukture gekoöpteer. Voortaan sou vakbonde burokratiese onderhandelingsprosesse moes volg voordat hulle stakings kon uitroep, wat militante wit weerstand doeltreffend beëindig het.

Nadat versoeningspogings met die AP in die 1924-verkiesingsveldtog misluk het, sou die KPSA sy beleid daarop toespits om die swart proletariaat te organiseer met die doel om uiteindelik 'n swart meerderheidsregering Suid-Afrika tot stand te bring.

Die Kleurslagboomwet het die ontwikkeling van vakbonde dus op 'n nuwe basis gereguleer en gestimuleer. Van 1924 sou vakbondontwikkeling veral deur die stigting van industriële vakbonde en die vorming van vakbondfederasies gekenmerk word. Anders as in die vorige era toe ambagsvakbonde die arbeidstoneel oorheers het, het die nuwe vakbondstrukture groter toegang tot georganiseerde arbeid aan meer werkers gebied. Dit was deels ook aan die Pakt-regering se beleid van sg. "beskaafde arbeid" te danke ingevolge waarvan werkgewers 'n doelbewuste "ontvaardigingsproses" (deskilling) begin toepas het om meer werkgeleenthede vir ongeskoolde wit werkers te skep. Daardeur is ongeskoolde handlangers as "vaardige werkers" gekategoriseer. So kkon meer ongeskoolde en halfgeskoolde wit werkers by die arbeidsmar inkom. Dié twee groepe het geskoolde ambagsmanne stelselmatig teen laer loonvlakke in nywerhede soos die spoorweë vervang.

Die Spoorbond is in 1934 as 'n vakbond vir ongeskolde en halfgeskoolde spoorwegwerkers gestig. In 1936 het die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalbedryfsvereniging vir staalwerkers tot stand gekom. Dit sou teen 1976 meer as 38 000 lede hê. In 1949 is die Blankewerkersbeskermingsbond o .l.v. Gert Beetge gestig en in 1953 'n vakbond vir leerwerkers. Die Blankewerkersbeskermingsbond het industriële vakbonde vir wit werkers in die klere- en leerbedryf en in die handelswêreld georganiseer. Daar was ook die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Munisipale Werkers.

'n Kenmerk van dié uitsluitlik wit vakbonde was dat feitlik almal in die staatsektor soos die spoorweë en munisipaliteite, of in semi-staatsektore soos die yster- en staalnywerheid gesetel was. Die lede van hierdie vakbonde kon maklik deur goedkoper swart werkers vervang word. Daarom het die staat 'n belangrike rol in die beskerming van wit arbeid gespeel. Hierdie vakbonde was gevolglik t.g.v. werkreservering, die onderdrukking van swart vakbonde en die verbanning van "kommunistiese" vakbondleiers.

Vakbondfederasies het momentumn begin kry toe die Soud-African Trade Union Congress (Satuc) in 1924 met 30 000 lede tot stand gekom het. Satuc, met die kommunis Bill Andrews as sekretaris, het 'n linkse inslag gehad en swart vakbonde kon daarby affilieer. Met die ondersteuning van Satuc is die eerste swart industriële vakbonde in o.m. die droogskoonmaak-, meubel-, lekkergoed- en motorbedryf gestig o.l.v. o.a. kommuniste wat deur die ICU uigeskop is.

In 1928 is hierdie vakbonde, tesame met suiwel-, vleis-, seil-, vervoer- en ingenieursvakbonde, geamalgameer in die Federation of Non-European Trade Unions (FNETU) met La Guma van die KPSA as hoofsekretaris. Teen 1928 het die FNETU 'n ledetal van 10 000 gehad. Faktore soos die Groot Depressie van 1929 tot 1934, sy noue bande met die KPSA en interne dispute het egter tot die ondergang van die FNETU gelei.

Satuc het die weg voorberei vir die totstandkoming van die South African Trades and Labour Council (SAT&LC) in 1930 wat in daardie stadium die invloedrykste en grootste vakbondfederasie in die land was. Swart vakbonde kon ook daarby aansluit. Teen 1946 het SAT&KC uit 115 vakbonde met 'n gesamentlike ledetal van 93 337 werkers bestaan. Vyftig van hierdie vakbonde was veelrassig. Die federasie het dus die afskaffing van rasgebaseerde arbeidswetgewing voorgestaan. In 1941, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is die African Mineworkers' Union (Amwu) gestig as teenvoeter vir lae lone en hardhandige behandeling van swart mynwerkers in die goudmyne. J.B. Marks, 'n kommunis, was Amwu se president.

In November 1942 het 29 swart vakbonde in Johannesburg vergader om die Council of Non-European Trade Unions (CNETU) te stig. Hierdie koördinerende liggaam met 29 vakbonde en 150 000 lede het hom ten doel gestel om volle wetlike erkenning van swart vakbonde te verkry. Die federasie sou die swart arbeidersbeweging vir die volgende dekade domineer. Weens na-oorlogse voedselskaarstes en lae lone het Amwu met die ondersteuning van die CNETU in 1946 'n algemene staking uitgeroep waaraan sowat 70 000 swart mynwerkers op twaalf goudmyne deelgeneem het. Die polisie het die staking egter onderdruk, met die gevolg dat die CNETU ernstig verswak is.

Teen 1948 het die SAT&LC verbrokkel weens die onttrekking van ses vakbonde die vorige jaar, waaronder die MWU en die staal- en spoorwegwerkers, uit protes teen die toelating van swart vakbonde. Dit het gelei tot die stigting van twee nuwe wit vakbondfederasies, nl. die Suid-Arikaanse Federasie van Vakbonde met 100 000 in 23 vakbonde en die Koördinerende Raad vn Suid-Afrikaanse Vakunies met 13 000 lede in sewe vakbonde. In 1957 het hierdie twee liggame saamgesmelt om die konserwatiewe Suid-Afrikaanse Konfederasie van Arbeid (Sakva) met dertig vakbonde en 155 000 lede te vorm.

Die Wetj o p die onderdrukking van Kommunisme van 1950 het die SAT&LC 'n finale nekslag toegedien. Die vakbond moes daarna ontbind, aangesien soveel van sy ervare swart leiers as kommuniste gelys is en uit hul vakbondposte moes bedank. In 1954 is die South African Trade Union Council met 61 vakbonde en 147 000 werkers gestig. In 1962 is die naam verander na die Trade Union Council of South Africa (Tucsa). Dit het tot die onttrekking van 'n aansienlike aantal stigtersvakbonde aan die federasie gelei. In 1986 is Tucsa finaal ontbind.

Vakbonde wat voorheen by die SAT&LC en die CNETU (wat in 1953 ontbind is) geaffilieer was en nie met die rassebeleid van Tucsa saamgestem het nie, het in Maart 1955 die South African Congress of Trade Unions (Sactu) gestig. Die federsie het uit 19 hoofsaaklik swart vakbonde in die vervaardiging-, voedselprosessering- en dienstesektore bestaan met 'n ledetal van 30 000. Sactu ht nou bande met bevrydigngsbewegings soos die ANC gehad en die leierskap van die twee organisasies het gedeeltelik oorvleuel. Deur die toepassing van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en die Sabotasiewet van 1962, het die staat egter al Sactu se leiers verban. Teen die middel van die 1960's het die fedrasie sy invloed in die Suid-Afrikaanse vakbondwese grootliks verloor.

Die Wiehahn-kommissie en die vakbondwese

Die vroeë 1970's was gekenmerk deur 'n gewelddadige stryd teen die NP-regering se beleid oor swart arbeid. Van Januarie to Maart 1973 het sowat 61 000 swart werkers aan stakings in Durban deelgeneem. Dit het gedui op die mislukking van die Wet op Bantoe-arbeid van 1953 wat swart arbeidsverhoudinge gereguleer het en as alternatief vir swart vakbonde moes dien.

Teen hierdie agtergrond het die regering in 1977 die Kommissie van Ondersoek na Arbeidswetgewing, ook bekend as die Wiehahn-kommissie, aangestel. Dit moes ondersoek instel na arbeidswetgewing en die aanbevelings doen in 'n poging om arbeidsvrede in die toekoms te verseker. Van die mees uitstaande aanbevelings van die kommissie, wat die regering dan ook aanvaar en in werking gestel het, was dat swart vakbonde kragtens wet erken moes word en dat (wit) werkreservering kragtens wet geskrap moes word.

Die stukrag wat die Wiehahn-aanbevelings aan die ontstaan van n uwe (wettige) swart vakbonde gegee het, het ok saamgeval met die toename in swart steun vir anti-apartheid-bevrydingsbewwegings. So het die swart vakbond-en-arbeidersbeweging ook 'n wettige kanaal vir swart poliltieke protes teen apartheid in die afwesigheid van verbanne bevrydingsorganisasies soos die ANC en die PAC geword en groot invloed onder die swart massas verkry.

In 1979 is die Federation of South African Trade Unions (Fosatu) gestig. Dit was die eerste nie-rassige vakbondfederasie sedert Sactu, hoewel dit hoofsaaklik swak vakbonde verteenwoordig het. Fosatu het nege geaffilieerde vakbonde in die motor-, metaal-, voedsel-, vervoer-, tekstiel-, chemiese en papierbedrywe gehad. In 1980 is die Council of Unions of South Africa (Cusa) gestig wat veral met die swartbewussynsbeweging bande gehad het. Cusa het in 1986 met ander swart federasies saamgesmelt om die National Council of Trade Unions (Nactu) te vorm. Die invloedryke National Union of Mineworkers (NUM) vir swart mynwerkers, met Cyril Ramaphosa as hoofsekretaris, is in 1982 gestig.

Fosatu het die weg gebaan vir die grotste vakbondfederasie wat tot nog toe in Suid-Afrika  tot stand gekom het. Ná vier jaar se beplanning is die Congress of South African Trade Unions (Cosatu) in November 1985 in Durban van stapel gestuur in 'n tyd van groot politieke onrus. Die stigting van Cosatu het 'n nuwe dinamiek na die politieke vakbondwese gebring. Aanvanklik het dit uit 33 vakbonde, ou Fosatu-geaffilieerdes en onafhanklike vakbonde soos die NUM, bestaan en 450 000 lede gehad.

Binne die swart arbeidersbeweging het Cosatu 'n leidende anti-apartheidsorganisasie geword. Dit het disinvestering en sanksies teen die NP-regering, die opskorting van die noodtoestand, die onvoorwaardelike vrylating van alle poliltieke gevangenes en 'n pro-sosialistiese beleid voorgestaan. Cosatu was ook baie prominent tydens massabetogings en stakings in die 1980's en vroeë 1990's.

Ná die ontbanning van bevrydingsorganisasie in 1990 het Cosatu onderhandels gevoer met die ANC en die kommuniste, wat hulself in die 1950's as die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) hergroepeer het. Dit het gelei tot die vorming van 'n formele drieledige alliansie tussen die ANC, Cosatu en die SAKP. Die organisatoriese ondersteuning van Cosatu in die algemene verkiesing van 1994 was 'n sleutelfaktor in die ANC se verkiesingsoorwinning.

Sedertdien oefen Cosatu groot invloed op die ANC-regering se arbeids-, ekonomiese en sosiale beleid uit en verskeie Cosatu-lede is ook as ANC-parlementslede verkies. In 2009 was 21 vakbonde met 'n gesamentlike ledetal van 1,8 miljoen lede by Cosatu geaffilieer.

Vakbondorganisasies ná 1994

Ná die eerste demokratiese verkiesing, die aanvaarding van die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995 en die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet was daar geen toekoms meer vir ras-eksklusiewe vakbonde nie. Die konserwatiewe vakbondfederasie Sakva, wat nog enkele uitsluitlik wit vakbonde verteenwoordig het, het uiteindelik weggekwyn.

Soos reeds genoem is wit vakbonde reeds in 1924 ingevolge die Nywerheidsversoeningswet in staatstrukture gekoöpteer, waardeur alle vorme van militante weerstand deur wit werkers doeltreffend geneutraliseer is. Tog is daar 'n gesegde wat lui: "Wanneer die leeu sy tande verloor, brul hy dikwels steeds hard om sy onmag te verbloem." So het seker wit vakbonde soos die MWU in die laat 1970's en die 1980's nog hardnekkig probeer om die afskaffing van werkreservering vir wit werkers, soos deur die Wiehahn-kommissie aanbeveel, teen te staan.

Teen 1997 het dié vakbond egter besef dat hy sy strategie, visie en doelstellings sou moes transformeer om te oorleef in 'n wêreld waar die arbeidsmark gekrimp en die arbeidstoneel totaal verander het. Die krimpende arbeidsmark was o.m. toe te skryf aan die revolusie in inligtingstegnologie en aan groter meganisasie, outomatisasie en tegnologiese spesialisasie in die nywerheidswese. Hierdie tendense het vakbondfederasie eerder as onafhanklike vakbonde gestimuleer.

Reeds sedert 1978 het die MWU sy reikwydte uitgebrei deur lede buite die mynbedryf te werf. Stelselmatig is werkers vanuit o.m. die staal-, chemiese en petrochemiese, hout-, voedsel- en kommunikasiebedrywe, asok staats- en semi-staatsamptenare, vir die MWU gewerf. Onder die dinamiese leierskap van Flip Buys as uitvoerende hoofbeampte is die MWU teen 2002 omvorm tot Solidariteit, 'n omvattende arbeidsdiensorganisasie met federale kenmerke. Teen 2009 was Solildariteit se ledetal van 130 000 verteenwoordigend van feitlik alle sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie en selfs individue kon daarby aansluit. Meer as 20% van die lede was vroue en 15% nie-wit.

In April 1997 het die Federation of Unions of South Africa (Fedusa) met 556 000 lede in 23 vakbonde tot stand gekom. Fedusa verteenwoordig werkers in o.m. die lugvaart-, gesondheids-, verversings-, motor- en gasvryheidsbedryf, asook munisipale en staatsamptenare en werkers in die onderwys, mediese dienste en bankwese. Die United Association of South African (Uasa) met 75 000 lede het in 1998 tot stand gekom. Dit is ook by Fedusa geaffilieer. Uasa verteenwoordig 'n amalgamasie van vakbonde in sektore soos die mynbou, bosbou, chemie, juwelilersware, motorvervaardiging, vervoer, lugvaart, media, spoorweë, medisyne metaal, ingenieurswese, sekuriteit, suiker, atoomenergie, pos en telekommunikasie, asook staatsdiens-, semi-staatsdiens-, munisipale en gesondheidswerkers.

'n Merkwaardige verskynsel op die arbeidstoneel was hoe vinnig die mag en invloed van veral staatsdiensvakbonde in die Suid-Afrikaanse samelewing in die 21ste eeu toegeneem het. Waar sowel wit as swart werkers in die 20ste eeu dikwels 'n verbete stryd om erkenning, verbeterde werkstoetande en finansiële voordele moes voer, blyk dit dat arbeidsomstandighede in die 21ste eeu omgekeer het. Dit kan toegeskryf word aan die vlaag van werkersvriendelike arbeidswetgewing wat sedert 1994 aanvaar is.

Staatsdiensvakbonde is tans van die invloedrykste belangegroepe in die Suid-Afrikaanse samelewing. In hierdie opsig het Suid-Afrika internasionale tendense gevolg. Groot en invloedryke staatsdiensvakbonde onder die Cosatu-sambreel, wat dikwels by ontwrigtende stakingsaksies betrokke raak, sluit o.m. die South African Democratic Teachers' Union (Sadtu), die National Health and Allied Workers' Union (Nehawu) en die South African Municipal Workers' Union (Samwu) in.

Die lone, pensioene en byvoordele van lede van staatsdiensvakbonde neig om hoër te wees as dié van lede van vakbonde in die privaatsektor en hul posisies is sekerder. Weens hul groot ledetalle kan munispale vakbonde bv. maklik 'n stad tydens 'n staking verlam. Lede van staatsdiensvakbonde is dikwels beter opgevoed en is meer onverskrokke om vir meer hulpbronne by die regering te beding en weens onbuigsame arbeidswetgewing is dit baie moeilik om van swak werknemers ontslae te raak.

Wessel Visser

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5