B.J. Vorster en afsonderlike ontwikkeling 

Op 13 September 1966, 'n week nadat dr.  H.F. Verwoerd in die Volksraad in Kaapstad met 'n dolk doodgesteek is, het die koukus van die regerende Nasionale Party (NP) eenparig vir B.J. (John) Vorster as hoofleier van die party en eerste minister aangewys. As minister van justisie sedert 1961 het Vorster die beeld gehad van die sterk leier wat die revolusionêre aanslag van die kommuniste en swart nasionaliste teen Suid-Afrika afgeweer het. Vorster het onderneem om in Verwoerd se voetspore te volg end ie bleid van afsonderlike ontwikkeling (apartheid) toe te pas. Dit was gou duidelik dat hy 'n baie meer prakties ingestelde leier as Verwoerd sou wees.

Wat binnelandse beleid betref, was een van Vorster se eerste take om die tuislandbeleid uit te voer. Verwoerd het begin met die idee dat die verskillende swart etniese groepe in Suid-Afrika - die Xhosa, die Zulu, die Tswana en ander - hul eie tuislande moet hê wat uiteindelik onafhanklike state kon word. Die Wet op Bantoe-owerhede (1951)* en die Wet op die Bevordering van Bantoe-selfbestuur (1959) is aanvaar om die tuislandbeleid deur te voer. Swart owerhede is in die landelike gebiede geskep. Teen 1966 was Transkei die enigste selfregerende tuisland met 'n eie h oofminister, kabinet en wetgewende vergadering. *By die benaming van wetgewing is die destydse spelwyse van die woord "Bantu" behou.

Aan die begin van Vorster se bewind het regeringskomitees daaraan gewerk om die tuislandbeleid vinniger toe te pas. Meer funksies is aan die tuislande se eie owerhede oorgedra, eie regeringsdepartemente is vir hulle op die been gebring en swart amptenare is opgelei om wit amptenare te vervang. Die ander tuislande is op dieselfde pad van selfregering as Transkei geplaas. M.C. Botha, die minister van Bantu-administrasie en -ontwikkeling, en ander beleidmakers het van "veelvolkige ontwikkeling" gepraat. Hulle het geredeneer dat die Suid-Afrikaanse bevolking bestaan uit 'n verskeidenheid "volkere" op verskillende vlakke van ontwikkeling. Die ideaal was dat die verskillende swart groepe in hul eie gebiede selfstandige volke met hul eie regerings, administrasies en geriewe moes word.

Swart mense in Suid-Afrika sou uiteindelik burgerskap van die tuislande ontvang en hul Suid-Afrikaanse burgerskap en permanente verblyf- en eiendomsreg in die afgebakende wit gebied verloor. Elke swart mens sou politieke regte, soos stemreg en parlementêre verteenwoordiging, in die tuisland van sy spesifieke groep kon uitoefen, maar sou geen politieke regte in die wit Suid-Afrika hê nie.

Wat buitelandse betrekkinge betref, het Vorster aan die bewind gekom in 'n stadium toe internasionale druk op apartheid, wat wyd as 'n rassistiese en onmenswaardige beleid beskou is, in felheid toegeneem het. Anti-apartheidsorganisasies in verskeie lande, die bevrydingskomitee van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) en die Verenigde Nasies (VN) se spesiale komitee oor apartheid het hulle daarvoor beywer om Suid-Afrika op alle terreine te isoleer.

In 1969 het die OAE die Lusaka-manifes aanvaar waarin die aftakeling van apartheid en 'n verbintenis tot 'n meerderheidsregering as voorwaarde gestel is vir onderhandelinge deur Afrikastate met Suid-Afrika. Die OAE het ie African National Congress (ANC) en die Pan-Africanist Congress (PAC) se gewapende stryd teen apartheid onderskryf.

Teen die agtergrond van toenemende internasionale druk het Vorster sy uitwaartse beleid van stapel gestuur deur aan te kondig dat hy beoog om Suid-Afrika na volle internasionale deelname te lei. Hy het egter besef dat sy regering goeie betrekkinge met swart Afrikastate sou moes bewerkstellig om isolasie teen te werk en hom bereid verklaar om op gelyke voet met Afrikaleiers samesprekings te voer.

Vorster se eerste deurbraak was om in Seoptember 1967 amptelike betrekkinge met Malawi aan te gaan wat in 1971 tot ambassadeursvlak verhoog is. Vorster se besoek aan Malawi in 1970 was die eerste ampsbesoek van 'n Suid-Afrikaanse eerste minister as ' n onafhanjklike Afrikastaat. Die volgende jaar het pres. Hastings Banda van Malawi die eerste swart staatshoof geword wat 'n ampsbesoek aan Suid-Afrika gebring het.

Vorster se eerste termyn as eerste minister het in die teken van die verlig-verkramp-stryd gestaan. Onder Afrikaners het twee opponerende faksies met verskillende sienings oor die aard van Afrikaners se verhouding met ander groepe (soos Engelssprekendes en swart mense) ontstaan. Vroeër het die konserwatiewe laertrekmentalilteit - die oortuiging dat die Afrikaner se krag in isolasie lê - die toon in die Afrikanersamelewing aangegee. In die 1960's het die stemme van minder konserwatiewe Afrikaanse kerkleiers, akademici, skrywers en joernaliste begin opklink vir groter openheid en skakeling met ander groepe. Die stryd tussen die verkramptes en die verligtes, die name wat die akademikus en latere koerantredakteur Willem de Klerk aan dié twee faksies gegee het, het na verskillende Afrikaanse organisasies in die NP versprei. 

Eers is die stryd hoofsaaklik in die Afrikaanse koerante gevoer. Die verkramptes het besware teen Vorster se beleidsrigting oor sport, swart diplomate, samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes en immigrasie begin opper. Hulle was bang dat klein toegewings die dun end van die wit sou wees wat kon lei tot die versaking van die NP se tradisionele beleid. Vorster se reaksie was dat aanpassing by veranderde omstandighede noodsaaklik is, maar dat hy nie sou afwyk van NP-beginsels nie. In 1967 het hy gewaarsku dat die "liberaliste-jagters" end moet kry met hul verdagmakery van mede-Afrikaners. In 1968 het Vorster in die NP-koukus te kenne gegee dat dr. Albert Hertzog, 'n kabinetsminister wat beskou is as die verkramptes se leier in die NP, die bron van verdagmakery teen hom was. Later daardie jaar het hy Hertzog uit sy kabinet weggelaat. In Augustus het hy 'n ultimatum aan die verkramptes gerig om hul lojaliteit aan hom toe te sê of 'n ander poliltieke tuiste te soek.

Uiteindelik is die twis in die party in September 1969 op die Transvaalse NP-kongres op die spits gedryf oor die toegewings in die sportbeleid. Vorster het 'n vervroegde algemene verkiesing uitgeroep, waarop Albert Hertzog, saam met drie NP-Volksraadslede, Jaap Marais, Willlie Marais en Louis Stofberg, in Oktober 1969 die Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig het. 'n Bittere broedertwis tussen die twee Afrikaansgeoriënteerde partye was die hoofkenmerk van dié verkiesingsveldtog.

In die verkiesing van 1970 kon die nuwe party nie 'n enkele setel wen nie, maar die Verenigde Party-(VP)-opposisie het baat gevind by die Afrikanertwis. Vir die eerste keer sedert 1948 het die NP-regering se getal setels afgeneem, terwyl die VP s'n toegeneem het. Vorster was baie teleurgesteld oor die verkiesingsuitslae. Hy het byna obsessief geword om Afrikanereenheid te handhaaf en nog skeurings in die NP tot elke prys te vermy. Sy beheptheid met NP-eenheid sou beleidshervorming rem.

'n Tweede termyn, 1970-1974

In sy tweede termyn as eerste minister het Vorster hom as 'n knap partypolitikus onderskei. Hy het daarin geslaag om die Nasionale Party agter sy leierskap verenig te hou ná die HNP-wegbrekery. Die verligtes het gehou van die pragmatiese wyse waarop beleidsaanpassings gemaak het, terwyl sy besliste houding oor staatsveiligheid en die handhawing van reg en orde by die verkramptes byval gevind het.

Vorster se statuur as simboliese leier van die Afrikanervolk het toegeneem. Hy het die behoud van Afrikaner-identiteit vooropgestel en 'n fyn aanvoelling vir die gemiddelde Afrikaner se aspirasies gehad. As regeringsleier kon hy egter nie net Afrikanerbelange vorder nie en hy het ook samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes bepleit.

Teen 1972 is die swaai na die VP gestuit. Interne verdeeldheid tussen die sg. Jong Turke en die Ou Garde het die VP op 'n glybaan laat beland. Daar was ook onenigheid oor die VP se rassefederasiebeleid en oor die party se deelname aan die Schlebusch-kommissie, wat linksgesinde organisasies ondersoek het. Sekere Engelse koerante het sir De Villiers Graaff se bedanking as partyleier geëis.

In teenstelling met die sukkelende VP het die NP onder Vorster, met sy kombinasie van pragmatisme en konserwatisme, van krag tot  krag gegaan. Sy populêre steun onder Afrikaners en konserwatiewe Engelssprekendes het 'n sterk opwaartse kurwe getoon. Vorster het wel met die liberaalgesinde Engelstalige koerante, kerke en universiteite gebots oor sy streng toepassing van veiligheidswetgewing en sy beweerde skending van die regte en vryhede van mense deur arrestasies, aanhouding sonder verhoor en inperkings.

Een van Vorster se beleidsprioriteite was om, ondanks die wêreldwye teenkanting teen apartheid, Suid-Afrika se buitelandse betrekkinge te bestendig en uit te brei. In sy tweede bewindstermyn het hy deurbrake op die terrein van buitelandse betrekkinge gemaak. Dit was vir die Afrikaners belangrik om as deel van die "Christelike Westerse beskawing" en as 'n bondgenoot teen die "kommunistiese bedreiging" aanvaar te word. Die apartheidstaat se belangrikste bande was met die Weste, veral Brittanje, die VSA en Wes-Europa. Brittanje het hegte politieke en ekonomiese bande met Suid-Afrika gehad en dié bande is gehandhaaf ondanks spanning tussen die Vorster-regering en Harold Wilson se Arbeidsregering. Suid-Afrika het ook stewige bande met die Caetano-regering in Portugal  gehad en die twee lande het saamgewerk een ontwikkelingsprojekte in Mosambiek en Angola om wit beheer in Suider-Afrika te konsolideer.

Frankryk was die grootste verskaffer van militêre wapens aan Suid-Afrika en het kerntegnologie en toerusting vir die oprigting van die Koeberg-kernkragsentrale in ruil vir Suid-Afrikaanse uraan verskaf. Voortgesette goeie betrekkinge met die magtige VSA, die leier van die Weste, was vir Vorster 'n prioriteit. In die Koue Oorlog was Suid-Afrika se minerale rykdom en strategiese ligging aan die Kaapse seeroete vir die VSA van belang. Tydens die presidentskap van Richard Nixon (1969-1974) is aanvaar dat die wit bewind in Suid-Afrika nog lank sou duur en dat dit in die VSA se belang was om met die NP-regering saam te werk.

Omdat Vorster besef het dat Suid-Afriika se pad na goeie betrekkinge met die res van die wêreld deur Afrika loop, het hy gehoop dat dialoog met Afrikaleiers by wyse van persoonlike samesprekings vir hom deure in Afrika kon oopmaak. Nadat Vorster in 1970 'n aanbod van 'n nie-aanvalsverdrag aan Afrikastate gemaak het, het pres. Felix Houphouét-Boigny van die Ivoorkus hom ten gunste van die dialoog met Suid-Afrika uitgespreek. Nie alle Afrikastate het hom egter hierin gesteun nie en die kwessie het 'n groot debat ontlok. Op die OAE-spitsberaad van Junie 1971 in Addis Abeba is dialoog met Suid-Afrika verwerp en het die OAE sy steun aan die bevrydigingsbewegings se gewapende stryd herbevestig. Die Ivoorkus het egter sy kontak met Suid-Afrika voortgesit. Vorster en sy raadgewers het daaraan bly werk om dialoog met Afrika uit te brei.

Sedert 1960 het die verbod op die ANC en PAC en die aanhouding van hul leiers binnelandse swart verset verlam. Aan die begin van die 1970's het verset deur die swartbewussynsbeweging onder leiding van Steve Biko by swart universiteite begin kop uitsteek. In 1973 was daar ook 'n reeks stakings deur swart werkers in Durban vir beter lone en werksomstandighede wat na ander dele van die land uitgekring het. Die populêre steun onder die meeste swart mense vir die swartbewussynsbeweging en die staking het die gevaarligte laat flikker dat die land gereed moes maak vir wydverspreide massaverset.

Vorster het die algemene verkiesing, wat in 1975 moes plaasvind, tot april 1974 vervroeg omdat hy verwag het dat Suid-Afrika se buitelandse betrekkinge en ekonomie kon versleg en omdat hy die verdeelde VP-opposisie 'n uitklophou wou gee. Die NP se verkiesingsveldtog is om Vorster gebou. Sowel sy pragmatiese buigsaamheid as sy kragdadigheid is beklemtoon om die steun van sowel verligte as behoudende kiesers te behou. Vorster kon die verdeeldheid in die opposisie in sy verkiesingstoesprake uitbuit. Ekonomiese faktore het in die regering se guns getel, want h oewel inflasie begin kop uitsteek het, was daar sterk ekonomiese groei in die land. Salarisse en pensioene was in 'n stygfase en die werkloosheidsyfer was laag.

Een van die grootste prestasies van die Vorster-regering in hierdie fase van ekonomiese groei was die grootskaalse skepping van infrastruktuur in die land. 'n Paar voorbeelde van strategiese infrastruktuur wat in Vorster se bewindstyd voltooi is en nog lank 'n bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie sou lewer, is die Verwoerddam (nou die Gariepdam) en die Oranje-Vistonnel, die aluminiumsmeltery en steenkooluitvoerterminaal by Richardsbaai, die uraanverrykingsaanleg by Pelindaba, die Koeberg-kernkragsentrale, die Atlas-vliegtuigkorporasie, 'n derde Yskor-staalaanleg, 'n tweede Sasol-brandstofaanleg en die Natref-raffinadery, die Saldanha-staalfabriek en die Sishen-Saldanhaspoorlyn, die ondersese telefoonkabel na Europa, die ruimtewaarnemingstasie op Sutherland en die Hartbeeshoek-satellietaardstasie.

In die 1974-verkiesing het die NP se aantal parlementêre setels van 118 tot 123 toegeneem en die Progressiewe Party (PP) s'n van een tot sewe, terwyl die VP se seteltal van 47 tot 41 gedaal het. Vir die wankelende VP, wat setels aan sowel die NP as die PP afgestaan het, was die verkiesing 'n ramp.

In die vier jaar tussen die algemene verkiesings van 1970 en 1974 het Vorster se statuur as leier in die regering en die NP toegeneem en het hy die Suid-Afrikaanse politieke toneel oorheers. Terwyl die VP-opposisie deur interne verdeeldheid afgetakel is, het Vorster daarin geslaag om die NP se agteruitgang te stuit en om te keer. Hy het konserwatiewe en gematigde wit mense rondom sy leierskap verenig en sy onbetwiste leierskap is deur die uitslag van die 1974-bevestig.

Die tuislandstelsel onder druk

Die doel van die Wet op Burgerskap van Bantoetuislande van 1970 was dat elke swart mens in Suid-Afrika  uiteindelik 'n burger van een van die tien tuislande (aanvanklik was daar slegs agt) sou word. Deur die Grondwet van die Bantoetuislande (1971) is die ander tuislande op dieselfde pad van selfregering as Transkei geplaas deur voorsiening te maak dat wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag aan h ulle oorgedra word. Bophuthatswana, Venda, Ciskei, Gazankulu, Lebowa, Qwaqwa en KwaZulu het in die jare daarna almal selferegering gekry.

Sommige tuislande se hoofministers was uitgesproke in hul kritiek op aspekte van die Suid-Afrikaanse regeringsbeleid, wat 'n mate van geloofwaardighed aan die tuislandstelsel verleen het. Vorster se regering het meer samesprekings met die tuislandleiers as enige van sy voorgangers gevoer. Van 1973 het vorster 'n reeks konferensies met die hoofministers gehou waar swart aspirasies en griewe onder sy aandag gebring is. Hy het daarna sekere toegewings gemaak.

'n Moeilike aspek van die tuislandbeleid was die konsolidasie van die versplinterde grondgebied in swart besit in groter geografiese eenhede sodat die tuisland polities en ekonomies meer lewensvatbaar gemaak kon word. Bophuthatswana  het bv. uit 19 aparte stukke grond bestaan en KwaZulu uit 29 groot stukke en 41 kleiner stukkies grond. Voorstelle is in die parlement goedgekeur waardeur die tien tuislande in 24 blokke gekonsolideer sou word. Hoewel baie meer grond nodig was om die tuislande lewensvatbaar te maak, het Vorster geweier om die ou wette van 1913 en 1936 as die basis vir toekenning van grond aan die tuislande te laat vaar. Hierdie twee wette het bepaal dat net 13% van Suid-Afrika se totale grondoppervlakte deur swart mense besit kon word. 'n Omvattende program vir die aankoop en oordrag van grond aan die tuislande het meegebring dat die hoeveelheid grond in swart besit in Vorster se bewindstryd toegeneem het met ongeveer 15%, of 2 miljoen hektaar.

Seker die grootste mislukking van die tuislandbeleid was dat geen tuisland ekonomies selfstandig gemaak kon word nie. Baie is gedoen om die ekonomiese ontwikkeling van die tuislande te stimuleer, maar daar kon nooiot genoeg werkgeleenthede geskep word nie. Luidens statiestieke het die tuislande grootliks van hul inkomste van die sentrale regering afhanklik gebly.

Die ontworteling van hele gemeenskappe weens die tuislandbeleid het baie ontwrigting en swaarkry veroorsaak. Kragtens regeringsbeleid moes alle "oortollige" swart mense, dus mense wat nie produktiewe arbeid verrig het nie, na die tuislande verskuif word. Daar is druk op gemeenskappe uitgeoefen om hierdie hervestiging te aanvaar. Na raming is tussen 1,5 en 2 miljoen swart ense in Vorster se bewindstyd in die tuislande hervestig. Nogtans het meer as dubbel soveel swart as wit mense teen die einde van die Vorster-era in "wit" Suid-Afrika gewoon.

Die gedwonge verskuiwings het nie die gewenste uitwerking gehad nie. 'n Groot aantal ekonomies onaktiewe mense is op die sukkelende ekonomieë van die tuislande afgelaai, waar armoede, werkloosheid en behuisingsnood aan die orde van die dag was. Teenstanders van apartheid het beweer dat die tuislande gedien het as reservoirs van goedkoop swart arbeid vir die apartheidsekonomie en stortingsterreine vir die swart surplusbevolking.

Die groeiende aantal stedelike swart mense het toenemend 'n struikelblok in die pad van afsonderlike ontwikkeling geword. Swart mense is beskou as tydelike gasarbeiders in die wit gebied en was onderhewig aan streng maatreëls wat hul beweging, indiensneming en vestiging beheer het. Duisende swart mense is weens oortredings van die paswet vervolg. Soveel kritiek daaroor het op die regering neergereën dat maniere oorweeg is om instromingsbeheer te probeer stroomlyn.

Stedelike swart mense was veronderstel om hul politieke regte in die tuislande uit te oefen deur te stem in die verkiesings vir die tuislande se wetgewende vergaderings. Hulle het 'n baie geringe aandeel in die plaaslike bestuur van h ul woongebiede in "wit" Suid-Afrika gehad. Plaaslike liggame waarin hulle verteenwoordig is, het baie min magte gehad Daar was 'n al hoe groter aandrang op betekenisvolle inspraak vir swart mense in besluitneming oor die stedelike gebiede waar hulle gewoon het. Met die inwerkingstelling van Bantusake-administrasierade het die sentrale regering die beheer van stedelike swart woongebiede by plaaslike owerhede oorgeneem en alle aspekte van swart mense se lewe in die wit gebied gereguleer. Dié administrasierade is egter as agente van die regeringsbeleid beskou en was vir die meeste stedelike swart mense onaanvaarbaar.

Hulle is onderwerp aan sg. "klein apartheid" om sosiale vermenging tussen wit en swart tot 'n minimum te beperk. Swart en wit is nie toegelaat om geriewe soos hotelle, restaurante, sportterreine en strande te deel nie. Hulle kon nie op dieselfde banke in parke sit of in dieselfde treinwaens ry nie. Swart mense moes aparte ingange van staats- en ander geboue gebruik.

Swart werkers, wat meer as 70% van die totale Suid-Afrikaanse arbeidsmag verteenwoordig het, is ook streng gereguleer. Geskoolde werk is vir wit werkers gereserveer en swart mense kon nie gesagsposisies oor wit werkers beklee nie. Swart werkers het laer lone verdien en omdat hul vakbonde nie amptelik erken is nie, was hulle aangewese op tandelose werkerskomitees om hul belange in die werkplek te verteenwoordig.

Minderheidsgroepe in die Vorster-bewindstyd

Die Vorster-regering het nie altyd mooi geweet wat die beste manier is om vir bruin mense en Indiërs voorsiening te maak nie. Hulle het nie hul eie tuislande gehad nie en is op 'n baan van parallelle ontwikkeling in dieselfde georgrafiese gebied geplaas, maar afsonderlik van wit mense.

In die 1950's is bruin mense deur die Bevolkingsregistrasiewet, die Groepsgebiedewet, die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike, die Wet op Afsonderlike Geriewe en die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers doelbewus van die wit bevolking geskei. Hulle moes tevrede wees met indirekte verteenwoordiging in die parlement, die Kaapse Provinsiale Raad en 'n ondoeltreffende, benoemde Raad vir Kleurlingsake. In 1968 het die regering die aanbevelings van die Louwrens Muller-kommissie aanvaar en die indirekte verteenwoordiging vir bruin mense in die parlement en Kaapse Provinsiale Raad asook die Raad vir Kleurlingsake, afgeskaf.

Wetgewing is deurgevoer waardeur 'n Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR) met beperkte wetgewende en uitvoerende gesag in die lewe geroep is. Die eerste verkiesing vir die VKR het in September 1969 plaasgevind. Toe die Arbeidersparty (AP) die meerderheid verkose setels wen, het die regering al die benoemde setels aan die Federale Party (FP) gegee om dié meer regeringsgesinde party die meerderheid in die VKR te besorg. Hierdie blatante manipulasie van die stelsel het die VKR se geloofwaardigheid ondermyn. Die VKR het 'n ontoereikende liggaam gebly omdat hy nie die meerderheid bruin mense se steun gehad het nie. VKR-sittings het vasgeval in 'n voortdurende gekibbel tussen die AP en die FP. Die meeste bruin mense het verkies om nie aan VKR-verkiesings deel te neem nie.

'n Militante gees van verset teen apartheid het onder die jonger geslag bruin mense begin posvat. Onrus by die Universiteit van Wes-Kaapland in 1972 en 1973 het die aandag op die frustrasie onder die bruin bevolking gevestig. 'n Toenemende deel van die bruin elite het radikaler geword en in hul politieke uitkyk en nader aan die swartbewussynsbeweging begin kom.

Voor 1961 was dit NP-beleid dat Indiërs in Suid-Afrika na Indië gerepatrieer moet word. Ná republiekwording is hulle as permanente inwoners van Suid-Afrika aanvaar en is 'n departement van Indiërsake in die lewe geroep. Deur die Wet op die Suid-Afrikaanse Indiërraad (1968) is voorsiening gemaak vir 'n benoemde raad, wat mettertyd 'n ten volle verkose raad sou word om die Indiërs selfbestuur oor al hoe meer aangeleenthede te gee. Soos by die bruin mense was daar onder die Indiërs ook meningsverskil oor die beste strategie om betekenisvolle politieke verandering teweeg te bring: deur deel te neem aan regeringstrukture soos die Indiërraad of deur dit te boikot.

Die era van détente, 1974-1976

Ná die 1974-verkiesing het die omstandighede vir die Vorster-regering moeiliker geraak. Aanrang op binnelandse hervorming het die druk op apartheid laat oplaai. Die wêreldwye ekonomiese resessie van die middel-1970's het Suid-Afrika nadelig getref en gelei tot inflasie en betalingsbalanstekorte.

Die regering het stadig begin wegbeweeg van rassediskriminasie gegrond op velkleur. 'n Interdepartementele kabinetskomitee het aandag gegee aan die uitskakeling van "onnodige" diskriminasie en aanbevelings aan die kabinet voorgelê. Daar is begin om sekere geriewe, soos hotelle, restaurante en teaters, vir alle rassegroepe oop te stel. Meningsverskille in die NP tussen konserwatiewes en die hervormingsgesindes het gelei tot polemieke oor bv. die oopstelling van die Nico Malan-teater in Kaapstad, die veranderende sportbeleid en die sg. Kleurlingbeleid.

In reaksie op druk vir verandering het Vorster hom opnuut verbind tot die deurvoering van afsonderlike ontwikkeling. In berade met die tuislande se hoofministers en die uitvoerende komitees van die Verteenwoordigende Kleurlingraad en die Suid-Afrikaanse Indiërraad het hy benadruk dat verandering in die raamwerk van afsonderlike ontwikkeling sou plaasvind. Hy het dit duidelik gestel dat hy nie magsdeling of direkte parlementêre verteenwoordiging vir gekleurde en swart mense oorweeg nie. Die regering sou met die ontplooiing van die tuislandbeleid vir swart mense en parallelle ontwikkeling vir bruin mense en Indiërs volhard.

Teen die middel-2970's het die tyd aangebreek vir die tuislande om te besluit of hulleonafhanklike state sou word. Die Mills-verslag, 'n bloudruk vir die staatkundige ontwikkeling van die tuislande, is aanvaar. Sommige tuislande se hoofministers was daarteen gekant om staatkundig van Suid-Afrika af te skei en het die skepping van 'n Suid-Afrikaanse rederasie voorgestaan, maar Vorster het 'n federasie verwerp. Hy was ten gunste van 'n "konsellasie" van Suider-Afrikaanse state waarin polities onafhanklike state met mekaar sou saamwerk.

Onafhaniklikheidsmosies is in Transkei en Bophuthatswana se wetgewende vergaderings aanvaar. Hul regerings het samesprekings oor onafhanklikwording met die sentrale regering begin voer. Deur status- en grondwette is soewereiniteit oor die twee tuislande van die Suid-Afrikaanse regering na hul eie regerings oorgedra. Amptelike ooreenkkomste is onderteken om toekomstige betrekkinge tussen Suid-Afrika, Transkei en Bophuthatswana te reël. Verkiesings vir lede van die twee tuislande se nasionale vergaderings is gehou. Transkei het op 26 Oktober 1976 en Bophuthatswana op 6 Desember 1977 met luisterryke vierings in Umtata (Mthatha) en Mmabatho onafhanklik geword

Tuislandonafhanklikheid moes die kroon span op die beleid van afsonderlike ontwikkeling, maar die meeste Suid-Afrikaners het dit nie gesteun nie omdat dit die land versplinter het en swart mense van hul geboortereg as Suid-Afrikaners ontneem het. Die grootste terugslag vir die tuislandbeleid was dat geen land behalwe Suid-Afrika bereid was om die tuislande as soewerein onafhanklike state te erken nie. Hulle sou in die internasionale arena nooit onafhanklik van Suid-Afrika kon funksioneer nie. Die regering moes aanvaar dat al die tuislande nie onafhanklik sou word nie en dat die beoogde konstellasie van state nie werklikheid sou word nie.

Die Vorster-regering kon die meeste bruin mense en Indiërs ook nie oorreed om die konsep van parallelle ontwikkeling te aanvaar nie. In die tweede VKR-verkiesing in 1975 het die Arbeidersparty (AP) die beheer van die VKR oorgeneem. Dié party was ten gunste van direkte parlementêre verteenwoordiging vir bruin mense en wou die VKR van binne deur 'n strategie van ontwrigting en boikotte vernietig. Nadat Sonny Leon, leier van die AP en voorsitter van die VKR se uitvoerende bestuur, deur die regering van sy amp onthef is, het VKR-sittings in 'n klug ontaard. Elke jaar is die begroting deur die AP-meerderheid verwerp en die sitting verdaag voordat die werksaamhede afgehandel is. Die AP het samesprekings gevoer met wit opposisiepartye en swart tuislandleiers wat daarop aangedring het dat 'n veelrassige nasionale konvensie byeengeroep word om 'n demokratiese grondwet vir die land oop te stel.

Die Erika Theron-kommissie se verslag oor bruin mense is in 1976 in die parlement ter tafel gelê. Daarin is direkte politieke verteenwoordiging vir bruin mense op alle regeringsvlakke aanbeveel, maar die regering het dit verwerp. Onder bruin mense wat gevoel het dat hulle saam met swart mense onderdruk word, het swartbewussyn toenemend inslag gevind. Hulle het hulle eerder met die swart bevrydingstryd vereenselwig as om met die regering saam te werk. Toe oproep in 1976 van Soweto oor die land heen versprei, het baie bruin mense saamgespan en aan stakings, wegbly-aksies en massabetogings deelgeneem.

Vorster het voet by stuk gehou dat hy nie van voorneme was om die VKR af te skaf en direkte parlementêre verteenwoordiging aan bruin mense te gee nie. Hy het aangekonidg dat die VKR 'n ten volle verkose liggaam sou word en m eer magte en geld sou kry. 'n Kabinetsraad is ingestel vir skakeling tussen die parlement, die VKR en die Suid-Afrikaanse Indiërraad oor die gemeenskaplike belange van wit en bruin mense en Indiërs. Van September 1976 het vergaderings van die kabinetsraad onder voorsitterskap van die eerste minister plaasgevind, maar die AP-leiers het geweier om daaraan deel te neem.

In November 1974 is die eerste verkiesing vir die Indiërraad gehou. Net soos die VKR het die Indiërraad nie oor werklike poliltieke mag beskik nie en kon nie legitimiteit in die Indiërgemeenskap verwerf nie. Vorster het aangekondig dat die Indiërraad 'n oorwegend verkose liggaam sou word en meer magte en funksies sou kry. In radikale kringe is die Indiërraad egter gebrandmerk as 'n strooipop van die apartheidsregering. Die landwye onrus sedert 1976 het die polities radikaler element onder die Indiërs versterk en die Natal Indian Congress is herstig. Ondersteuners van die strategie van nie-samewerking met die regering het deelname aan die Indiërraad beveg.

Teen die middel-1970's was Suider-Afrika 'n politieke brandpunt. Voor April 1974 was Suid-frika omring deur witbeheerde state. Suidwes-Afrika, 'n voormalige mandaagebied van die Volkebond, is deur Suid-Afrika geadministreer asof dit 'n vyfde provinsie van Suid-Afrika was. Rhodesië, 'n voormalige Britse kolonie, is in 1965 deur die wit regering van Ian Smith eensydig onafhanklik verklaar. Die Suid-Afrikaanse regering was Smith se grootste bondgenoot teen internasionale druk om die beheer van Rhodesië aan 'n verkose swart meerderheidsregering af te staan. Mosambiek en Angola was onder Portugese koloniale beheer.

In April 1974 is die Caetano-bewind in Portugal in 'n militêre staatsgreep omvergewwerp en kort daarna is die Portugese koloniale beheer van Mosambiek en Angola beëindig. Met die magsoorname van swart regerings in dié twee buurstate het die beskermende gordel van wit bewinde rondom Suid-Afrika verkrummel. Die sg. Frontliniestate, 'n nuwe streekgroepering wat Tanzanië, Zambië, Botswana, Mosambiek en Angola ingesluit het, het tot stand gekom met die uitdruklike doel om Suider-Afrika van wit oorheersing te bevry. Die swart nasionalistiese bevrydingstryd het tot by Suid-Afrika se drumpel gevorder en 'n groot bedreiging vir die land se binnelandse veiligheid ingehou.

In 'n poging om by die nuwe omstandighede aan te pas, het Vorster sy détende-inisiatief begin om konflik in Suider-Afrika, veral in Rhodesië en Suidwes-Afrika, te ontlont. Vorster se oogmerke met détente, of ontspanningspolitiek, was enersyds om betrekkinge met gematigde Afrikastate te probeer aanknoop om 'n ekonomiese blok van Suider-Afrikaanse state te skep en andersyds om lidmaatskap van die OAE te probeer kry. In ruil hiervoor het Vorster aangebied om sy invloed te gebruik om vreedsame skikkings in Rhodesië en Suidwes-afrika te probeer bewerkstellig.

Vorster en pres. Kenneth Kaunda van Zambië het 'n gesamentlike détente-inisiatief begin om die Rhodesiese geskil te probeer oplos. Dit was die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaanse regeringshoof met 'n swart Afrikastaatshoof saamgewerk het om 'n Suider-Afrikaanse konflik op te los. Vroeër kon onderhandelings tussen die Smith- en die Britse regering die Rhodesiese geskil niks nader aan 'n oplossing bring nie, terwyl die militêre konflik tussen die Rhodesiese veiligheidsmagte en die guerrillavegters van die swart bevrydingsbewegings in felheid toegeneem het. Vorster het met Smith onderhandel en Kaunda met die Rhodesiese swart nasionalistiese leiers om hulle na die onderhandelingstafel te probeer bring. Hoewel die Vorster-regering ekonomiese en militêre steun aan die Smith-regering verleen het, het Vorster vir Smith aangemoedig om 'n skikking aan te gaan wat magsdeling tussen wit en swart tot stand sou bring.

In Augustus 1975 het vorster en Kaunda se ingryping uitgeloop op 'n beraad tussen Smith en die Rhodesiese swart nasionalistiese leiers by die Victoria-watervalbrug. Hoewel die brugberaad misluk het en geen ooreenkoms aangegaan is nie, was dit 'n hoogtepunt van Vorster se bewind en hy het groot lof ingeoes vir sy aandeel daarin. Die feit dat Vorster vir Smith oorreed het om die swart nasionalistiese leiers te ontmoet, het Suid-Afrika se beeld as 'n eerlike onderhandelingsvennoot in die buiteland verbeter.

In 1976 het dr. Henry Kissinger, Amerikaanse minister van buitelandse sake, met die Vorster-regering saamgewerk aan 'n nuwe inisiatief om die Rhodesiese geskil te probeer oplos. Vorster se vergaderings met Kissinger in Europa en Suid-Afrika was die eerste hoëvlak-samesprekings tussen Suid-Afrika en die VSA sedert die Tweede Wêreldoorlog. 'n Skikkingsplan is geformuleer en Vorster het Smith oorreed om 'n meerderheidsregering te aanvaar, 'n toegewing wat die weg vir 'n latere skikking gebaan het. Kissinger en Smith het op 'n skikkingspakket ooreengekom, maar die Frontliniestate wou dit nie aanvaar nie. Vorster het betrokke gebly by Anglo-Amerikaanse skikkingsinisiatiewe, maar 'n skikking kon nie bereik word nie.

Détente het internasionaal bygedra tot 'n positiewer gesindheid teenoor Suid-Afrika en dit het Vorster se aansien laat toeneem. Sy samesprekings oor die Rhodesiese geskil met topleiers van die VSA en Brittanje was ongekend in die apartheidstyd. Daardeur het die Suid-Afrikaanse regering erkenning gekry as 'n belangrike rolspeler in Suider-Afrikaanse vraagstukke.

Vorster het ook in die Suidwes-Afrika-kwessie 'n kernrol gespeel. Die internasionale geskil oor Suid-afrika se weiering om die Verenigde Nasies (VN) se jurisdiksie oor die gebied te erken, het al dekades lank geduur. Die VN kon nie daarin slaag om Suid-Afrika se administratiewe beheer van Suidwes-Afrika te beëindig nie. Die Vorster-regering het ook daar begin om afsonderlike tuislande vi die verskillende etniese groepe te skep. Onder leiding van Sam Nujoma het die South West Africa People's Organisation (Swapo) se People's Liberation Army of Namibia (PLAN) 'n guerrillastryd in Suidwes-Afrika begin voer met die militêre steun van die Sowjetunie.

Dr. Kurt Waldheim, sekretaris-generaal van die VN, en sy persoonlike verteenwoordiger, dr. Alfred Escher, het Suider-Afrika aan die begin van die 1970's besoek vir samesprekings met Suid-Afrika oor Suidwes-Afrika. 'n Skikking was nog nie ter sprake nie, aangesien die VN se aandrang op 'n eenheidstaat met gelyke stemreg vir almal, nie vir die Vorster-regering aanvaarbaar was nie. Ná Portugal se onttrekking aan Angola het vorster die ideaal laat vaar om Suidwes-Afrika by Suid-Afrika in te lyf en hom eerder daarop toegespits dat onafhanklilkheid - op Suid-Afrika se voorwaardes - aan die gebied toegestaan word. Daar is gehoop dat goedgesinde swart politieke partye aan die bewind sou kom en dat Swapo se mag geneutraliseer kon word.

Tussen 1975 en 1977 het 'n staatkundige beraad met verteenwoordigers van die verskillende bevolkingsgroepe in Suidwes-Afrika plaasgevind. Swapo is egter uitgesluit van dié beraad, wat as die Turnhalle-beraad bekend was. 'n Konsepgrondwet vir die gebied is aanvaar en 31 Desember 1978 is as teikendatum vir onafhanklikwording gestel. Die VN se raad vir Namibië, Swapo, Afrikastate, Brittanje, die VSA en die Europese Gemeenskap het die Turnhalle-plan egter verwerp.

Nadat Kissinger se sewepunt-skikkingsplan vir Suidwes-Afrika ook deur Swapo verwerp is, het verteenwoordigers van die VN-Veiligheidsraad se vyf Westerse lede 'n nuwe diplomatieke inisiatief begin. Daardeur is die Suid-Afrikaanse regering en Swapo by onderhandelings betrek om 'n internasionaal erkende formule vir verkiesings op die grondslag van een mens, een stem onder die gesamentlike toesig van Suid-Afrika en die VN te probeer vind. Vorster het ingestem dat Swapo ook aan 'n verkiesing kon deelneem. Regter M.T. Steyn is as administrateur-generaal van Suidwes-Afrika aangestel. Ondanks verskille oor die toesighouding oor die beplande verkiesing en die onttrekking van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) aan Suidwes-Afrika, het die Vorster-regering en Swapo nader aan 'n kompromis beweeg. In 1978 is 'n Westerse skikkingsvoorstel geformuleer en deur sowel Vorster se kabinet as Swapo aanvaar.

'n Finse diplomaat, Martti Ahtisaari, is aangestel as die Veiligheidsraad se buitengewone verteenwoordiger om toesig oor die verkiesing in Suidwes-Afrika te hou. Toe Waldheim in sy verslag aan die Veiligheidsraad oor die uitvoering van die skikkingsplan afwyk van die goedgekeurde skikkingsvoorstelle, het die Suid-Afrikaanse kabinet die uitvoeringsplan verwerp. Die Westerse skikkingsplan was van die baan en 'n nternasionaal aanvaarbare skikking vir die Suidwes-Afrika-vraagstuk sou Vorster nie beskore wees nie.

Deur sy leidende rol in Suider-Afrikaanse détente het Vorster die beeld van 'n ware staatsman en diplomaat verwerf. Die Afrikaanse koerante het sy lof besing. Hy het daarin geslaag om die verligtes en die verkramptes in die NP bymekaar te hou, soms deur besluite oor sensitiewe kwessies uit te stel. Hy het 'n mate van buigsaamheid in die toepassing van apartheid suksesvol met 'n onverbiddelike houding oor landsverdediging en binnelandse veiligheid gekombineer. Hoewel verligte Nasionaliste détente  en die verslapping van rassediskriminasie in Suid-Afrika aangemoedig het, het dr. Andries Treurnicht en sy regsgesinde geesgenote sulke beleidstoegewings gekritiseer.

Vorster was in murg en been 'n Afrikanernasionalis. Die handhawing van Afrikaneridentiteit was vir hom 'n prioriteit, maar hy het ook samewerking tussen wit Afrikaans- en Engelssprekendes en 'n inklusiewe Suid-Afrikaanse patriotisme voorgestaan. By die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl in Oktober 1975, het hy gesê dat Afrikaans aan die hele Suid-Afrika behoort. Hy het beklemtoon dat die Afrikaner 'n reg het om in Afrika te wees en dat die Afrikaanse taal uit Afrikabodem kom: "Ons kaart en transport om hier te wees, is in Afrikaans geskryf."

Teen 1975 het Vorster weens die sukses van sy détente-inisiatief die toppunt van sy gewildheid onder wit Suid-Afrikaners bereik. Meningsopnames het aangetoon dat byna 80% van die respondente détente gesteun het. Onder wit Suid-Afrikaners was Vorster in daardie stadium gewilder as wat Verwoerd op sy kruin was. Dit was waarskynlik net Hertzog wat in die Smelter-era van die 1930's 'n groter persentasie wit kiesers se steun gehad het.

Terwyl die NP agter Vorster se leiding verenig was, het die aftakeling van die VP deur die interne vete tussen die liberale en konserwatiewe faksies in die party voortgeduur. Swak uitslae in tussenverkiesings, bedankings en skorsings uit die VP het 'n gereelde verskkynsel geword. Die NP se oorheersing van parlementsittings het 'n gevoel van magteloosheid i n opposisiekringe veroorsaak en gelei tot oproepe dat alle liberaalgesindes hulle in 'n verenigde opposisieparty moes hergroepeer.

Terugslae vir die apartheidstaat

Die politieke veranderinge in die twee Portugese kolonies in Suider-Afrika het nuwe uitdagings vir Vorster meegebring. In die geval van Mosambiek het die Vorster-regering die beginsel van nie-inmening in ander state se interne aangeleenthede streng toegepas. Daar was dus geen inmenging van Suid-Afrika se kant toe die Marxistiese bevrydigngsbeweging Frelimo in 1975 die Mosambiekse regering oorgeneem het nie. ndanks ideologiese verskille het die twee lande aangehou om op ekonomiese gebied saam te werk.

In Angola  het sake 'n heel ander wending geneem. Beroepe deur die OAE vir 'n regering van nasionale eenheid in Angola is geïgnoreer en gevegte tussen die drie bevrydingsbewegings - die MPLA, FNLA en Unita - het op 'n volskaalse burgeroorlog uitgeloop. Die Vorster-regering wou verhinder dat die MPLAm, wat militêre steun van die Sowjetunie en Kuba ontvang het, in Angola aan die bewind kom omdat 'n MPLA-bewind Swapo-basisse in Angola sou toelaat. Daarom het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) begin om 'n militêre veldtog ter ondersteuning van Unita en die FNLA te voer. SAW-taakmagte het Angola tydens Operasie Savannah binnegeval en tot naby die hoofstad Luanda gvorder, maar kon nie daarin slaag om Luanda te verower nie.

Nadat Portugese amptenare en soldate Angola op 11 November 1975 verlaat het, het die militêre stryd hewiger geword. Sowjetwapens en Kubaanse soldate het Angola binnegestroom en Operasie Carlota - 'n offensief deur Fapla, die MPLA se militêre vleuel - het op dreef gekom. Vorster se adviseurs het gehoop dat die VSA bereid sou wees om die anti-MPLA-maagte te steun, maar die Weste was uiteindelik nie bereid om soveel militêre hulp te verleen dat dit 'n doeltreffende teenvoeter vir die Russies-Kubaanse hulp aan die MPLA sou kon wees nie.

Nadat die militêre situasie in die MPLA se guns geswaai het, het die OAE die MPLA in 1976 as amptelike regering erken. Die Suid-Afrikaanse troepe het Angola verlaat. Dit was egter nie die einde van die Angolese burgeroorlog nie, want Unita sou met Suid-Afrikaanse hulp nog jare lank 'n uitgerekte guerrillastryd teen die MPLA volhou.

Kritiek het op die Suid-Afrikaanse regering neergereën oor die inval in Angola. Teenstanders van die regering het dit as 'n buitelandsebeleid-fiasko beskou. In reaksie op beskuldigings van Suid-Afrikaanse aggressie en ekspansionistiese oogmerke, het Vorster en sy kollegas die SAW-operasie in Angola geregverdig deur te sê dat Suid-Afrika betrokke geraak het om die Swapo-bedreiging vir Suidwes-Afrika teë te werk. Volgens die Vorster-regering wou hy die kommunistiese bedreiging in die streek die hoof bied en 'bn demokratiese pollitieke skikking in Angola probeer verseker.

Suid-Afrika se inmenging in Angola was 'n fout. Op militêre gebied was die SAW-operasie 'n mislukking en op diplomatieke gebied het dit die land net verder geïsoleer. Op ekonomiese gebied het Operasie Savannah Suid-Afrika ook geknou omdat dit owerheidsbesteding aan verdedigingsuitgawes drasties verhoog het in 'n stadium toe die Suid-Afrikaanse ekonomie in 'n resessie verkeer het. Hoewel Suid-Afrika se betrokkenheid by die Angolese oorlog as 'n oordeelsfout aan Vorster se kant beskou kan word, het dit op kort termyn nie Vorster of die NP-regering se aansien onder wit kiesers verminder nie.

In die 1970's het die pollitieke toneel in Suider-Afrika 'n transformasie ondergaan. Angola en Mosambiek was nou onafhanklike state onder Marxistiesgesinde swart regerings, die wit regering in Rhodesië was op die punt om die mag aan 'n swart meerderheidsregering oor te gee en moontlike skikkingsooreenkomste met die oog op Suidwes-Afrika se onafhanklikwording was ver gevorder. Waar die Vorster-regering voorheen ingestel was op die behoud van wit beheer op die subkontinent, moes hy nou rekening hou met die moontlikheid van toenemende insypeling en guerrilla-aanvalle vanuuit buurstate deur die militêre vleuels van die bevrydingsbewegings.

Partypolities het Vorster baat gevind by die verslegtende veiligheidsituasie. Om sy steun onder konserwatiewe Nasionaliste te behou, het hy volgehou met kragdadige optrede in belang van reg en orde, asook militêre paraatheid. Hy het ook die meningsverskille oor veiligheidskwessies tussen die konserwatiewe en liberale faksies in die VP uitgebuit om die wig al hoe verder tussen die strydende partye in te dryf.

Die sukses van die swart bevrydingsbewegings in die voormalige Portugese kolonies het nuwe lewe in die bevrydingstryd in Suid-Afrika geblaas. Die hoop het opgevlam dat binnelandse weerstand moontlik tog wit oorheersing en apartheid kon aftakel. Nadat binnelandse swart verset langer as 'n dekade in 'n groot mate deur die verbod op die ANC, PAC en SAKP en deur die toepassing van streng binnelandse veiligheidswette aan bande gelê is, het die swartbewyssynsbeweging binnelands die kanaal vir swart protes geword.

Ontevredenheid met die onderdrukkende apartheidstelsel het in Junie 1976 oorgekook toe 'n protesoptog deur skoliere in Soweto met polisiegeweld begroet is en talle kinders, waaronder die 13-jarige Hector Pietersen, doodgeskiet is. Daarna het duisende betogende swart jeugdiges die strate ingevaar en vergestaltings van apartheidsregering - soos die administrasieraadsgeboue, biersale, skole, klinieke en biblioteke - aan die brand gesteek. In die daaropvolgende weke het gewelddadige verset in die vorm van betogings, oproer, brandstigting, werkstakings en wegbly-akeis, asook skool- en huurboikotte, landwyd uitgebrei en meer as 600 mense se lewe geëis. Omdat die oproer 'n massabasis gehad het, kon die polisie dit nie gou in bedwang bring nie.

Talle swart jeugdiges het landuit gevlug en by Umkhonto we Sizwe (MK), die ANC se militêre vleuel, aangesluit. In September 1977 is die swartbewussynsleier Steve Biko in aanhouding dood nadat hy aangerand is en nie behoorlike mediese behandeling ontvang het nie. Die volgende maand is 'n klomp swartbewussynsorganisasies verbied en die leidende swart koerant, The World, gesluit. Eers daarna het die oproer - wat Suid-Afrika 'n jaar lank geruk het - begin bedaar.

Die afkeer van Suid-Afrika se apartheidsbeleid het wêreldwyd verskerp. In die VN, waar oor die jare reeds talle resolusies teen apartheid aanvaar is, het die aandrang op sanksies teen Suid-Afrika sterker geword. Die Veiligheidsraad het in 1977 'n verpligte wapenboikot teen Suid-Afrika ingestel wat vir die eerste keer nie deur die Westerse lede geveto is nie. Ten opsigte van die internasionale anti-apartheidsveldtog was druk deur die VN en OAE maar net die oortjies van die seekoei. Talle anti-apartheidsgroepe het wêreldwye netwerke gevorm om openbare teenkanting teen apartheid te mobiliseer en besluitnemes te geïinvloed om aktief teen apartheid op te tree.

Die boikotte teen Suid-Afrika het toegeneem en die land is uit internasionale liggame geskors. Hoewel volskaalse disinvestering nog nie begin het nie, het banke en korporatiewe beleggers opgehou om nuwe lenings aan en beleggings in apartheidsinstellings goed te keur. Voorheen goedgesinde regerings, maatskappye en organisasies het stille samewerking met Suid-Afrika laat vaar. Die negatiewe uitwerking van hierdie isolasie het op politieke, ekonomiese en sosiale terreine in Suid-Afrika voelbaar geword.

Die departement van buitelandse sake en die departement van inligting het die anti-apartheidsveldtog met propaganda probeer teenwerk. Die Angolese inval, die Soweto-opstande, Biko se dood en die verbod op swartbewussynsorganisasies het egter soveel negatiewe publisiteit meegebring, dat die Suid-Afrikaanse regering weinig kon doen om Suid-Afrika se internasionale aansien te herstel.

Selfs die houding van Suid-Afrika se tradisionele bondgenote in die Weste het verander. Ná Jimmy Carter se inhuldiging as president van die VSA in Januarie 1977, het Amerikaanse topamptenare se houding oor apartheid verhard omdat goeie betrekkinge met onafhanklike Afrikastate vir hulle belangriker as goeie betrekkinge met Suid-Afrika was. In samesprekings tussen  Vorster en Walter Mondale, die Amerikaanse visepresident, in Mei 1977 het Mondale aangedring op meerderheidsregering in 'n een-mens-een-stem-bestel. Vorster het dit as onbillike inmenging in Suid-Afrika se huishoudelike sake beskou. Sy houding dat Suid-Afrika hom nie deur die magtige VSA sou laat voorsê nie, was baie gewild onder sy NP-ondersteuners.

Suid-Afrika het stewige bande met Brittanje, Wes-Duitsland en Frankryk gehandhaaf, maar dié lande het weens hul voortgesette bande met Suid-Afrika die teikens van OAE- en VN-resolusies geword. Nadat Harold Wilson se Arbeidersparty weer in 1974 in Brittanje aan die bewind gejkom het, is die Britse wapenverbod teen Suid-Afrika heringestel en die Simonstad-ooreenkoms oor vlootsamewerking tussen Brittanje en Suid-Afrika beëindig. Ondanks politieke verskille is handel tussen Suid-Afrika en Wes-Europa ongehinderd voortgesit.

Namate Suid-Afrika internasionaal geïsoleerd geraak het, het die Vorster-regering buite die kring van die land se tradisionele Westerse bondgenote begin soek na langtermynbondgenote wat hom in tye van nood kon bystaan. Hierdie lande - Paraguay, Israel, Iran en Taiwan - was pro-Westerse middelslagmoondhede en was ook, soos Suid-Afrika, geïsoleerd en gefrustreerd oor die Weste se houding teenoor hulle. Betrekkinge met dié lande was van strategiese belang: Israel het met Suid-Afrika saamgewerk aan die ontwikkeling van wapenstelsels en 'n belangrike rol gespeel in die vestiging van die Suid-Afrikaanse wapenbedryf. Iran was weer Suid-Afrika se belangrikste olieverskaffer, terwyl handel tussen Suid-Afrika en Taiwan binne 'n dekade tienvoudig toegeneem het.

Vorster het deur sy buitelandse reise en persoonlike samesprekings met leiers in verskeie lande 'n groot aandeel in die handhawing van Suid-Afrika se buitelandse betrekkinge gehad. Sy onvermoeide pogings kon egter nie die verskerpte anti-apartheidsveldtogte en Suid-Afrika se toenemende internasionale isolasie stuit nie. Ondanks die toenemende druk op die Suid-Afrikaanse regering, of miskien juis as gevolg daarvan, het die steun vir Vorster en die NP onder wit kiesers bly groei. Dit was asof die onsekerheid oor Suider-Afrika se toekoms, vrese oor die land se veiligheidsituasie, aandrang op binnelandse hervorming, die groeiende momentum van anti-apartheidsveldtogte, die toenemende internasionale isolasie van die apartheidstaat en die uitbarsting van swart protes konserwatiewe en gematigde wit mense almal in een kraal gejaag het.

Ná die 1974-verkiesing het die VP se agteruitgang voortgeduur. Dié party het vroeg in 1975 geskeur toe Harry Schwarz en sy ondersteuners uit die VP se parlementêre koukus gesit is en die Reformisteparty (RP) gestig het. Baie VP-lede het na die nuwe party oorgeloop en die hoop dat die VP as 'n lewensvatbare o pposisie kon voortbestaan, het vervaag.

Samesprekings tussen die Progressiewe Party (PP), die Reformisteparty en Theo Gerdener se Demokratiese Party (DP) oor samewerking het in 1975 uitgeloop op die samesmelting van die PP en die RP om die Progressiewe Reformisteparty (PRP) te vorm. Die PRP het die PP-beleid van 'n geografiese federasie en gekwalifiseerde stemreg vir alle rasse oorgeneem en 'n veelrassige n asionale konvensie voorgestel wat 'n nuwe grondwet vir Suid-Afrika moes opstel. Die PRP het ten koste van die VP gegroei.

In Junie 1977 het die VP ontbind en voormalige lede van die VP en DP het die Nuwe Republiekparty (NRP) gestig. Die liberale faksie van die ontbinde VP het saamgesmelt met die PRP om die Progressiewe Federale Party (PFP) te vorm. Tussen 1974 en 1977 het die parlementêre opposisieparty dus 'n totale hergroeping ondergaan.

Afsluiting van 'n era, 1977-1978

Hervormingsgesinde Afrikaners was teleurgesteld omdat Vorster nie sy oorweldigende steun onder wit kiesers benut het om in 'n verligte rigting te beweeg en apartheid grondig te hervorm nie. Vorster het egter besef dat dit juis sy konserwatiewe beleidsrigtings was wat hom so gewild onder die meeste wit kiesers gemaak het. Hy was wel bewus daarvan dat hervorming noodsaaklik was om 'n nog erger uitbarsting as die Soweto-opstande te voorkom en het tentatiewe stappe in die rigting van beleidshervorming geneem.

Arbeid was die een terrein waar inisiatiewe deur die Vorster-regering tot wesenlike hervorming sou lei. Die nywerheidsversoeningswetgewing het swart werkers van doeltreffende kollektiewe bedinging uitgesluit. Hul ontevredenheid hieroor het in die stakings van 1972 en 1973 aan die lig gekom. Werkgewers het die regering daarna versoek om die insluiting van swart vakbonde in die nywerheidsversoeningsproses te oorweeg. Hulle was deeglik bewus van onwettige stakings se potensiële negatiewe uitwerking op produktiwiteit en wins. Vorster het prof. Nic Wiehahn toe as voorsitter van 'n kommisie van ondersoek na arbeidsverhoudings aangestel. Die Wiehahn-kommissie se aanbevelings het uiteindelik gelei tot 'n heel nuwe bedeling vir swart werkers en hul vakbonde.

Omdat die VKR en die Indiërraad in 'n doodloopstraat beland het, moes herbesin word oor hoe pollities vir bruin mense en Indiërs voorsiening gemaak kon word. In 1976 het die kabinet besluit dat 'n kabinetskomitee onder die voorsitterskap van P.W. Botha bruin mense en Indiërs se posisie in die Suid-Afrikaanse staatkundige bedeling moet ondersoek. Die 1977-voorstelle het voorsiening gemaak vir afsonderlike parlemente, eerste ministers en kabinette vir wit mense, bruin mense en Indiërs, wat die aangeleenthede van dié drie groepe afsonderlik sou hanteer. 'n Raad van Kabinette onder voorsitterskap van die staatspresident sou sake van gemeenskaplike belang hanteer. 'n Deskundige Presidentsraad sou die staatspresident en Raad van Kabinette adviseer. Die drie bevolkingsgroepe sou afsonderlike provinsiale en plaaslike owerhede hê.

In die NP was daar opgewondenheid oor die 1977-voorstelle wat 'n vorm van magsdeling behels het, maar die selfbeskikkingsreg van wit mense verskans het. Op die vier provonsiale NP-kongresse is die grondwetplan geesdriftig aanvaar. Bruin, Indiër- en swart leiers het die 1977-voorstelle egter verwerp omdat dit wit oorheersing verskans het, bruin mense en Indiërs as junior vennote wou koöpteer en swart mense uitgesluit het.

Vorster se aankondiging dat 'n vervroegde algemene verkiesing op 30 November 1977 sou plaasvind, was onverwags. Dit was die derde agtereenvolgende keer dat Vorster dit gedoen het. Hy wou die kiesers se reaksie op die nuwe grondwetlike voorstelle toets, aan die buiteland toon dat hy oor oorweldigende wit steun beskik en ook munt slaan uit die verdeeldheid in opposisiegeledere. As deel van sy verkiesingsplan het die NP 'n oordeelsdagklimaat geskep. Wit oorlewing en om saam te staan teen die aanslae van buite het die kern van die regerende party se veldtog uitgemaak. Vorster is uitgebeeld as die standvastige leier wat vertrou kan word.

Die hopeloos verdeelde opposisiepartye het 'n verpletterende nedeerlaag in die gesig gestaar. Feitlik al die Engelstalige koerante het hul gewig agter die PFP ingegooi. In die verkiesing het die NP 18 opposisiesetels gebuit en 135 stels in die Volklsraad verower, teenoor die 30 setels van al die opposisiepartye saam. Met 17 setels het die PFP die nuwe amptelike opposisie geword. Sodoende het die NP die grootste oorwinning in Suid-Afrika se parlementêre geskiedenis behaal. Vir Vorster was die verkiesing 'n persoonlike triomf omdat hy die meeste stemme ooiot in 'n Volksraadsverkiesing op hom verenig en met 'n rekord-meerderheid in Nigel gewen het. Hy het hom bewys as een van die suksesvolste Afrikanerpolitici van alle tye. Die verkiesing is vertolk as 'n oorweldigende mosie van vertroue in sy regering.

In die agttien maande ná die hoogtepunt van die 1977-verkiesing het die gordyn egter oor die Vorster-era gesak. Die Inligtingskandaal het 'n donker skaduwee oor Vorster se poliltieke loopbaan gegooi. Vorster het reeds in die 1960's 'n uitgebreide inligtingsprogram oorweeg as teenvoeter vir onkunde in die buiteland oor die ware situasie in Suid-Afrika. Nadat dr. Connie Mulder in 1968 minister van inligting geword het, is begin om die departement van inligting as 'n propagandamasjien uit te bou. Mulder het die ambisieuse dr. Eschel Rhoodie as sekretaris van inligting laat aanstel en saam het hulle 'n dinamiese span uitgemaak. Hulle het 'n geheime propaganda-oorlog wat die anti-apartheidsveldtog moes teëwerk, met die goedkeuring van die Vorster-kabinet van stapel gestuur. Mulder en Rhoodie wou daarmee buitelandse meningsvormers en besluitnemers beïnvloed. Volgens hulle was onkonvensionele metodes geregverdig omdat Suid-Afrika geveg het om sy voortbestaan. Byna 200 geheime inligtingsprojekte van miljoene rande wat uit geheime fonse gefinansier is, is onderneem.

In 1977 het hierdie geheime projekte op die lappe begin kom. Die ouditeur-generaal het in 'n vertroulike verslag bevind dat die departement van inligting staatsgeld verkwis het. Inligting oor ongerymdhede het na die pers uitgelek. Daar was onthullings oor duur vakansies op staatskoste, ongerymdhede met publikasies, buitelandse frontorganisasies en die staat se finansiering van 'n Engelstalige koerant, The Citizen. Vorster het Mulder en Rhoodie gekonfronteer, maar sy kabinet nie volleldig daaroor ingelig nie.

Aan die begin van 1978 het hy die parlement se gekose komitee oor openbare rekeninge versoek om die bewerings oor ongemagtigde uitgawes deur die departement van inligting te ondersoek. Die komitee het bevind dat finansiële beheer in die departement veel te wense oorgelaat het. In 'n persverklaring in Mei 1978 het Rhoodie die geheime projekte verdedig en verklaar dat dit deur 'n kabinetskomitee gemonitor is. Vorster het verantwoordelikheid aanvaar vir die toekenning van geheime geld aan die departement van inligting, maar nie vir die wyse waarop dit aangewend is nie. Hy het onderneem om op te tree teen mense wat staatsgeld vir persoonlike gewin misbruik het. In Junie 1978 is die departement van inligting ontbind.

Weens die spanning waaronder Vorster was, het sy gesondheid agteruitgegaan. In Augustus 1978 het hy 'n ligte hartaanval gekry en op 20 September het hy sy uittrede op 'n perskonferensie aangekondig. Agt dae later het die NP-koukus P.W. Botha as sy opvolger aangewys en Vorster benoem as NP-kandidaat vir die staatspresidentskap. Vorster is deur die parlementêre kieskollege tot staatspresident verkies en ingehuldig.

Die stof oor die Inligtingskandaal wou egter nie gaan lê nie. P.W. Botha het die Erasmus-kommissie aangestel om die bewerings van onreëlmatighede en wanbesteding in die voormalige departement van inligting te ondersoek. In dié kommissie se eerste verslag is die meeste skuld op Mulder, Rhoodie en genl. Hendrik van den Bergh (hoof van die Buro vir Staatsveiligheid) gepak en Vorster van alle blaam onthef. Aangesien die eerste verslag met groot haas voor 'n keerdatum afgehandel moes word, het die regering regter Erasmus toegelaat om sy ondersoek voort te sit. Intussen het 'n voortdurende stroom onthullilngs in koerante oor die voormalige departement van inligting twyfel laat ontstaan of Vorster werklik onskuldig was. Die Erasmus-kommissie het in sy derde en laaste verslag bevind dat Vorster wel in 'n vroeë stadium kennis gedra het van die geheime projekte en hoe dit gefinansier is. Hy moes volgens die kommissie dus saam met Mulder die verantwoordelikheid vir die onreëlmatighede dra.

'n Ontnugterde Vorster het regsadvies ingewin, maar was verplig om op 4 Junie 1979 as  staatspresident te bedank en uit die politiek te tree. Sy reputasie was geskaad. Hy is op 10 September 1983 oorlede.

Vorster was 'n uitmuntende spreker, debatteerder, partypolitikus en onderhandelaar. Op die kruin van sy loopbaan was hy een van die gewildste Afrikanerleiers van alle tye en het hy sy party tot groot sukses by die stembus gelei. Afsonderlike ontwikkeling is dramaties uitgebou onder hom, maar het reeds tekens van die uiteindelike mislukking daarvan begin toon.

Vorster het in die postkoloniale tyd in Afrika geregeer. Hy het altyd ontken dat die Afrikaners kolonialiste was. Tog het hy bly vashou aan die idee van sy voorgangers van die koloniale tyd dat Suid-Afrika 'n witmansland is. Dit was ironies dat hy die wit leiers in Rhodesië en Suidwes-Afrika oorreed het om meerderheidsregering te aanvaar en sodoende daardie gebiede tot op die drumpel van politieke skikkings help bring het, maar self geensins wit beheer in Suid-Afrika wou prysgee nie. Hy het dit as sy roeping beskou o m vir wit mense tyd te wen om selfbeskikking op 'n oorwegend swart kontinent te verseker.

Kobus du Pisani

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5