“Aanpas of sterf”, 1978-1984

Op 28 September 1978 het Pieter Willem (P.W.) Botha die agtste eerste minister van Suid-Afrika geword. In die laaste jare van sy voorganger, B.J. Vorster, se termyn is grotendeels vasgeklou aan die ou apartheidsmodel en daar was verskerpte druk vanuit die buiteland dat die regeirng afstand moes doen van apartheid. Etlike duisende swart jeugdiges het ná die Soweto-opstande van 1976 uit die land padgegee om by bevrydingsbewegings aan te sluit.

Die jare 1977-1978 is deur die sg. Inligtingskandaal oorheers Die voormalige departement van inligting het op onwettige wyse 'n geheime propagandastryd gevoer om die regering se beeld in die buiteland te verbeter en geheime fondse daarvoor aangewend. Hulle het o.m. ook staatsgeld gebruik om 'n plaaslike koerant, The Citizen, uit te gee wat die Nasionale Party ondersteun het. Vorster het aanvanklik ontken dat hy iets van dié propagandaprojekte en die wanbesteding van fondse geweet het, maar ná die Erasmus-kommissie se ondersoek het dit duidelik geword dat hy wel ingelig was daaroor. Nadat die skandaal in die pers oopgevlek is, het hy as eerste minister bedank.

Die uitdaging van hervorming

Kort nadat hy eerste minister geword het, het P.W. Botha gesê: "Ons is deel van Afrika en ons moet daardie rol speel of ons sal sterf." Die pers het hierdie woorde effens aangepas en toe die uitdrukking "aanpas of sterf" gebruik om Botha se politieke benadering te beskryf. Dit vat die eerste stadium van Botha se termyn goed saam. Daar was 'n dringendheid en 'n vasberadenheid aan sy leierskap wat in skerp kontras was met Vorster se weifelende laaste jare.

Botha was 'n vasberade, energieke en doelgerigte leier, maar ook voortvarend, ongeduldig en oormoedig. Hy was 'n leier wat bereid was om aan te pas, maar ook gereed was om te veg. Hy kon mense soos min ander leiers intimideer en hulle in hul spoor laat trap. Dr. Javier Perez de Cuellar, destydse sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het ná 'n besoek aan Suid-Afrika in 1983 gesê: "Twee leiers in die wêrekd het 'n groot indruk op my gemaak: China se Deng Xiaoping en Suid-Afrika se P.W. Botha. Hulle verstaan mag."

In Botha se eerste jare in die amp het dit gelyk of die idee van hervorming geseëvier het en of verreikende veranderings onderweg is. Hy het swart mense "mede-Suid-Afrikaners" genoem, Soweto met 'n "boodskap van hoop" besoek en deur al die tuislande gereis. Hy het Afrikaners gevra om hul eie geskiedenis te lees en te besef dat almal poliltieke regte ,pet jê. "As mense onderdruk word, veg hulle terug. Ons moet ander mense se regte respekteer en onsself bevry deur aan ander in die gees van geregtigheid te gee wat ons Afrikaners vir onsself gevra het."

Ná sy eerste jaar as eerste minister het die invloedryke Amerikaanse koerant The Washington Post geskryf dat swart mense stomgeslaan is deur Botha en sy ministers se uitsprake en dat dit by hulle die hoop wek dat 'n alternatief vir geweld en wanhoop gevind kan word.

Teen die einde van die 1970's het Afrikaners die meeste senior betrekkings in die sentrale regering, die veiligheidsmagte, provinsiale administrasies (met uitsondering van Natal) en openbare korporasies beklee. Dit was egter nooit 'n uitsluitlik Afrikaner- of wit staatsdiens nie. Selfs in die 1950's is meer swart as wit mense in die staatsdiens aangestel, aangesien dienste aan die swart bevolking deur swart mense verskaf is: as polisiemanne, onderwysers, verpleegsters en dies meer. 'n Groot getal ongeskoolde swart werkers het ook in die staatsdiens gewerk. Teen die vroeë 1980's het ongeveer twee miljoen mense in die openbare sektor, insluitend die tuislande se administrasie, gewerk en net 'n derde van hulle was wit.

'n Mens kan amper sê die twee state het langs mekaar bestaan. Daar was die "binnestaat", wat onder die beheer van Afrikanerpollitici en senior staatsamptenare gestaan het. Hier h et Afrikanerdrukgroepe soos die NP-koukus, die Afrikaner Broederbond, die Afrikaanse kerke en die Afrikaanse Handelsinstituut die meeste invloed uitgeoefen. Langs hierdie kernstaat was daar ook 'n veelrassige "buitestaat", waarin die hoofde van die veiligheidsmagte, sakeleiers en die tuislandleiers met hul vernaamste amptenare 'n belangrike rol gespeel het.

Sedert die middel-1970's het die NP-regering verklaar dat die hervorming van apartheid sy vernaamste doelstelling is. Dit was egter nie h eeltemal korrek nie. Hoewel Botha hom duidelik daarteen uitgespreek het dat bruin of swart mense op grond van hul kleur gekwets en verneder word, wou hy die hoekstene van apartheid, soos bevolkingsregistrasie en die groepsgebiede, behou. Die kern van sy poliltieke uitkyk was dat Suid-Afrika nie ' n rasseprobleem het nie, maar wel 'n probleem met "minderhede". Volgens dié siening is daar wit mense, bruin mense, Indiërs en swart mense wat minderhede is, en ook "minderhede binne minderhede" (bv. Moslems in die bruin groep) wat almal bekommerd is ook hul politieke toekoms en die voortbestaan van hul kultuur.

Die probleem met hierdie beskouing was dat geboorte die lidmaatskap bepaal het van die rassegroepe wat Botha as sg. minderhede besku het. Vir die meeste mense in die land sou  hervorming slegs moontlik gewees het as mense vrylik lid van 'n groep kon word of hul lildmaatskap kon opsê. Dit wou Botha nie toelaat nie. Hy wou ook nie groepsgebiede afskaf nie, want volgens sy siening het elke minderheid sy eie woongebiede gehad en die reg om in daardie gebied (bv. Transkei) of woonbuurt (bv. Mamelodi) sy eie regering of stadsraad te hê.

Botha was gretig om die bruin mense en Indiërs in die regering en die parlement te betrek, maar as aparte groepe en sonder dat dit wit mense se gesagsposisie sou raak. Hy was gekant teen enige planne om swart mense verteenwoordiging in die sentrale regering te gee en dit het hom met die vernaamste tuislandleiers, Gatsha (later is hy Mangosuthu genoem) Buthelezi laat bots. 

Buthelezi, as leier van die Inkatha-beweging en hoofminister van die tuisland KwaZulu, was die enigste swart leier in Suid-Afrika met massasteun. In 1979 het hy sy bande met die leiers van die African National Congress (ANC) in ballingskap verbreek omdat hy dié organisasie se sanksieveldtog en gewapende stryd verwerp het. Volgens hom sou dit die hoop op vreedsame veranering verydel. Die ANC-Inkatha-verhouding het daarna vinnig in 'n bittere vyandskap ontaard.

Die botha-regering het Buthelezi nie vertrou nie. Hy het hom skerp uitgespreek teen onafhanklikheid vir die Zuluvolk, wat meer as 20% van die bevolking uitgemaak het. Dit was  hy, meer as enige ander groepering, insluitend die AMC, wat die regering se hoop verydel het om alle swart mense burgers van tuislande te maak met die oog op 'n statebond of konsetellasie van state bestaande uit die republiek se regering en 'n klomp tuislandregeregings. In 1981 het 'n kommissie van die KwaZulu-regering voorgestel dat die provinsie Natal en KwaZulu saamsmelt. 'n Wetgewende vergadering moes op grond van universele stemreg verkies word en 'n veelrassige uitvoerende komitee moes besluuite op die grondslag van magsdeling neem.

Indien so 'n stelsel sou slaag, kkon ander streke dit navolg en sodoende sou sterk en geloofwaardige swart leiers na vore kon kom, het Buthelezi geglo. Uiteindelik sou dit tot die totstandkoming van 'n federale stelsel kon lei waarin  mag versprei word eerder as in die sentrale regering gekonsentreer word. Dit sou help om die internasionale druk op de Suid-Afrikaanse regering te verlig en kon ook keer dat verreweg die meeste swart mense hul steun aan die AN?C toesê.

Botha se reaksie hierop was in die ou apastylstyl. Hy het gesê hoewel Buthelezi welkom is om sake te ondersoek wat KwaZulu raak, het hy geen reg om hom te bemoei met sake wat onder die sentrale regering se beheer is nie.

Die ANC se nuwe uitdaging

Die ANC het teen die einde van die 1970's die regerings van verskeie lande oorreed om nie normale betrekkinge met Suid-Afrika op diplomatieke en sportgebied te hê nie en beperkte sanksies in te stel. Talle groot buitelandse maatskappye het hul beleggings aan Suid-Afrika begin onttrek.

Die ANC het in dié tyd ook sy gewapende stryd teen die regering en openbare instellings verskerp. In 1979 het 'n ANC-afvaardiging Noord-Viëtnam besoek om kers op te steek by die Viëtkong-guerrillavegters oor hul taktiek en strategie in hul oorlog teen die Amerikaanse magte. Die afvaardiging het teruggekeer met die oortuiging dat die beste manier om die bevrydingstryd te voer, ' n sg. volksoorlog is. Dit het ten doel gehad om die swart woonbuurte onregeerbaar te maak. In hierdie stryd is gewapende aanvalle deur opgeleide eenhede afgewissel met massaprotes oor diensgeld, gebrekkige dienslewering en openbare vervoer. Skoolboikotte het skerp toegeneem.

Tussen 1976 en 1983 was die ANC ook verantwoordelik vir 362 sabotasie- en gewlddade. Prominente teikens is getref, insluitend 'n Sasol-aanleg in 1980, die Voortrekkerhoogte-militêre basis in Pretoria in 1981 en die Koeberg-kernkragsentrale naby Kaapstad in 1982. 'n Motorbom wat in 1983 by die lugmaghoofkwartier in Kerrkstraat, Pretoria, ontplof het,  het die lewe van negentien burgerlikes geëis.

Wit oorheersing onder druk

Een van die vernaamste redes waarom Botha haastig was om te hervorm, was die krimpende getal wit mense in verhouding tot die bevolking as geheel. Tussen 1910 en 1960 het die wit bevolking ongeveer 20% van die bevolking verteenwoordig, m aar ná 1960 het die wit deel gedaal tot 17% in 1976 en 12% in 2000. Die krimpende getal wit mense in die land was uiteindelik een van die belangrikste redes waarom die regering teen die middel van die 1990's die mag prysgegee het.

Sedert die 1930's het die stedelike arbeidsmag uit 'n groeiende proporsie swart mense bestaan. Hulle het ook 'n rol gespeel in die vervaardigingsektor, waar groter vaardighede as die myne en op plase vereis is. In 1935 was daar ongeveer 100 000 wit en 100 000 swart werkers in die vervaardigingsektor. Teen 1975 het die syfer vir swart mense tot 726 000 toegeneem en was daar twee keer soveel swart as wit mense in dié sektor.

Dit was nie die getalle op sigself nie, maar die vaardigheidsvlakke wat van groot belang was. Die wit vakbonde het probeer om al die geskoolde werk vir wit werkers uit te hou, maar daar was later nie meer genoeg wit werkers vir al die poste nie. Gevolglik was net 'n kwart van die geskoolde werkers in die 1970's wit. Die veranderings in die arbeidsmark het ook verder gestrek. Tussen 1965 en 1980 het wit werkers se aandeel in die poste op die middelvlak van  die arbeidsleer gedaal van vier vyfdes tot twee derdes en dit sou spoedig selfs verder daal.

Die ekonomie het al hoe meer staatgemaak op die vaardighede van bruin en swart mense in die myne, fabrieke, winkels en in die staatsdiens. Hulle was soldate, polilsiemanne, verpleegsters en onderwysers wat ordentlike huise en skole vir hul kinders wou  hê. Hulle wou ook as volwaardige burgers van die land behandel word en stemreg hê.

Van die begin van die 1970's het swart en bruin werkers aan al hoe meer stakings deelgeneem. In 1973 het die regering swart mense toegelaat om - met die verlof van die wit vakbonde - geskoolde werk te doen. Kort daarna is dié vereiste egter tersyde gestel en ook verskeie regulasies wat werk vir wit mense gereserveer het. In 1979 het die regering toegelaat dat swart werkers wettige vakbonde stig en saam met wit of veelrassige vakbonde hoër lone beding. Swart mense het nou arbeidsregte gehad, maar steeds geen poliltieke regte nie.

Van 1970 af het die staat ook baie meer aan swart onderwys bestee. Die getal swart kinders wat na die hoër standerds deurgevloeoi het, het in die volgende twintig jaar sterk toegeneem en dit het bepaalde politieke gevolge gehad. Daar is bevind hoe verder swart kinders op skool gevorder het, hoe meer polilties bewus het hulle geraak en hoe minder was hulle bereid om apartheid te aanvaar.

Swart mense i n  hoëronderwysinstellings

Jaar       Sekondêre skool         Bereik hoogste standerd           Universiteit

1960               54 598                                    717                             1 871

1970              122 489                                2 938                              4 578

1985           1 192 932                               34 733                            49 164

Vam die middel-1970's af was daar 'n groot en groeiende groep swart wwerksoekers wat nie 'n vaste of aanvaarbare werk kon kry nie. Swart kinders het gevorder tot standerds waarvan hul ouers slegs kon droom, maar tog het hulle 'n veel geringer kans as hul ouers gehad om 'n vaste werk te kry. In die Soweto-opstande van 1976 was die meeste deelnemers skoolkinders en werkloses.

Om ' n stabiele swart middelklas te skep, het die regering swart mense in 1977 toegelaat om huurpag van 99 jaar op hul huise te neem. Hulle en hul nasate kon nou permanent in die dorpe en stede bly. Die regering het egter steeds geweier om die passtelsel af te skaf wat as die simbool van swart mense se onderdrukking besku is. Die staat het geglo dié wet is nodig om swart mense te beheer en verstedeliking aan bandfe te lê. Die paswet is eers in 1986 afgeskaf. Die vorige jaar is die Wet op Gemengde Huwelike afgeskaf.

Die ekonomie kwyn

In die eerste 50 jaar van die Unie van Suid-Afrika se bestaan het segregasie en apartheid nie 'n negatiewe uitwerking op die ekonomie gehad nie. Werkgewers het op 'n kwistige manier 'n groot aantal laagbesoldigde, ongeskoolde of halfgeskoolde arbeiders benut en min aandag aan hul produktiwiteit gegee. Die paswet e.a. beperkings op swart politieke organisasies en vakbonde het swart mense se vermoë om hoër lone te beding, sterk aan bande gelê. Die regering het min bestee aan die ontwikkeling van swart reserate of die oophpeffing van die heel armste gemeenskappe.

Dié situasie het in die 1960's drasties verander. Die belangrikste rede was die onverwagse hoë ekonomiese groeikoers. Daar was nie meer genoeg wit mense om al die werk op die middel- en hoë vlak van die arbeidsleer te doen nie. Die tekort aan geskoolde werkers het die ekonomie al hoe meer begin knel. Die swakker onderwys wat swart en bruin werkers gekry het, het dit vir hulle dikwels onmoontlik gemaak om behoorlik geskool te raak. Boonop het wetgewing swart en bruin werkers verhinder om geskoolde werk te verrig. Die koste van segregasie en apartheid het al hoe duideliker geword. Die armste werkers moes dikwels ook ver ry om by hul werk uit te kom omdat die Groepsgebiedewet veroorsaak het dat swart en bruin buurte gewoonlik aan die buitewyke van dorpe en stede was. Die meeste swart en bruin mense was boonop arm en sonder enige betekenisvolle koopkrag.

Van 1973 het die groeikoers begin daal. Dit het geval van gemiddeld 4,5% tussen 1948 en 1976 tot gemiddeld net 1,65% tussen 1976 en 1994. Laasgenoemde groeikoers was ver onder die 3%-jaarlikse bevolkingsaanwas en het werkloosheid laat toeneem. Die redes vir die ekonomiese agteruitgang was ingewikkeld en sommige faktore was buite die staat se beheer, soos die skerp styging in die petrolprys ná 1974, die laer pryse vir uitgevoerde Suid-Afrikaanse minerale en die verlangsaming in die groei wat Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote beleef het. Een van die belangrikste redes vir die laer groeikoers was die vervaardigingsektor se onvermoë om genoeg uit te voer om te vergoed vir die afname in die waarde van mineraaluitvoer. Dit was egter nie net Suid-Afrika wat deur dié verswakking in die ekonomie getref is nie. Die groeikoers van ander lande met ekonomieë van soortgelyke grootte het ook gedaal.

Plaaslike en buitelandse beleggers het boonop traag geword om in Suid-Afrika te belê deur bv. nuwe myne of fabrieke te begin. Die beëindiging van Portugese koloniale beheer in Angola en Mosambiek, die guerrilla-oorlog in Rhodesië, die groot stakings van 1973 in Durban en die Soweto-opstande van 1976 het beleggers oor Suid-Afrika se stabiliteit laat wonder.

Van die middel-1970's af het die regering salarisgapings tussen wit en swart mense en tussen wit en bruin mense kleiner begin maak. Werkgewers in die private sektor het die loongaping ook vernou. In die 1970's en 1980's het die verhouding van wit tot swart lone in die mynbedryf geval van 21:1 tot 6:1 en in die vervaardigingssektor van 6:1 tot 4:1. Om winsgewend te bly, het werkgewers hul arbeidsmag verklein en hoër produktiwiteit van die oorblywende werkers vereis.

Wit werkers het steeds 'n groot voorsprong gehad omdat die staat baie meer aan wit onderwys bestee het. Een van die vernaamste redes hiervoor was dat wit kinders baie langer op skool was as swart kinders en tot hoër standerds gevorder het. In 1970 het 79% van stedelike swart mense en 93% van landelike swart mense nie st. 6 (deesdae gr. 8) gehaal nie, in vergelyking met net 4% van wit mense in die arbeidsmag.

Nadat die regering alle werkers in 1979 toegelaat het om by vakbonde aan te sluit, het dit vir werkgewers moeiliker geword om werkers te ontslaan. Hulle was ook onder groter druk om hoër lone te betaal. Hulle het nou minder werkers in diens geneem of hul fabrieke gemeganiseer. Dit het die werkloosheidsprobleem vererger. Teen die einde van die 1970's was Suid-Afrika se arbeidskoste hoër as dié van sy mededingers. Suid-Afrika kon moeilik in die uitvoermark vir vervaardigde goedere meeding. Die ekonomie het gekwyn en sy kop net opgelig wanneer die pryse van uitvoermetale en -minerale gestyg het.

Verdeelde Afrikaners

Die NP-regering wat in 1948 aan die bewind gekkom het, was 'n party van Afrikaners van wie die oorgrote meerderheid as laermiddelklas-mense (o.a. boere en staatsamptenare) en hande-arbeiders geklassifiseer kan word. Teen die einde van die 1970's was Afrikaners vanuit 'n klasse-oogpunt nie meer so 'n homogene groep nie. Hulle het polities van mekaar begin  verskil omdat die uiteenlopende klasse Afrikaners - sakelui, werkers, professionele mense en boere - verskillende belange gehad het.

Soos in die tabel hieronder gesien kan word, het die proporsie Afrikaners wat geboer het van die middel-1930's skerp afgeneem. Die meeste mense het na stede en dorpe getrek. Die proporsie kantoorwerkers (staatsamptenare, klerke, sakelui en professionele mense soos prokureurs) het tussen 1936 en 1980 meer as verdubbel. Dit verteenwoordig ' n skerp toename in wat gewoonlik die middelklas genoem word.

Met die vinnig groeiende ekonomie was dit vir die NP moontlik om die verskillende Afrikanerbelangegroepe tevrede te hou en terselfdertyd ook die besteding aan onderwys, gesondheidsorg en pensioene vir swart en bruin mense te vergroot. In die 1970's het die voorafgaande veertig jaar se hoë ekonomiese groeikoers ten einde geloop. Om sy begroting te laat klop, het die regering sy steun aan boere begin onttrek en wit werkers vervreem deur swart en bruin mense toe te laat om ook geskoolde werk te doen. Die NP-regering het ook die gaping tussen die salarisse en pensioene van wit mense en die ander rassegroepe begin vernou. Die groot mate van eensgesindheid onder Afrikaners was aan die verdwyn.

Die samestelling van die Afrikanerarbeidsmag

                                                       1936      1946       1960     1980     1990

Boere                                               41%        30%       16%         7%       5%

Hande-arbeiders                               31%        41%      40%        32%     29%

Kantoorwerkers                                 28%         29%      44%       62%     66%

Konserwatiewe NP-ondersteuners het grootliks gemeen die regering het hulle in die steek gelaat. Onder hulle was werkers wat steeds aangedring het op wit bevoorregting, minder voorspoedige boere wat die regering se inkkorting van subsidies toegestaan en staatsamptenare op die lae vlakke wie se salarisverhogingsnie tred gehou het met stygende lewenskoste nie. Al drie dié groepe het swaargekry weens 'n hoë inflasiekoers en belastings.

Die hervormingsgesindes in die NP was sakelui, professionele mense en akademici wat hulle al hoe meer met universele waardes soos vryheid en gelykheid ongeag kleur geïdentifiseer het. Hulle was bewus daarvan dat 'n bruin en swart middelstand na vore getree het wat diskriminasie nie langer sou verduur nie. Vir die hervormingsgesindes het ekonomiese en maatskaplike apartheid 'n verleentheid geword.

Net een faktor het Afrikanernasionaliste nog bymekaargehou: die oortuiging dat politieke mag 'n voorvereiste vir hul oorlewing as volk en vir Afrikaans as openbare taal is.

Botha was minder afhanklik van Afrikanersteun as sy voorgangers. 'n Nuwe vloeibaarheid het in die wit politiek ontstaan nadat die Verenigde Party, wat langer as twintig jaar deur sir De Villiers Graaff gelei is, in 1977 verbrokkel het. Talle Engelssprekende kiesers het simpatiek teenoor die NP se versigtige hervormingsbenadering gestaan. Die ou Afrikaner-Engelse-wrywing het grootliks verdwyn a.g.v. die toenemende politieke druk wat van swart mense en die buitewêreld gekom het. In die 1980's het tussen 'n kwart en 'n derde van wit Engelssprekendes vir die NP gestem.

Die grondwet word hervorm

In die John Vorster-era is die laaste vorms van politieke verteenwoordiging vir swart, bruin en Indiërmense afgeskaf. Net wit mense het daarna in die parlement en in die provinsiale en stadsrade gesit. Terselfdertyd het talle swart en bruin mense opgeskuif uit die vlak van ongeskoolde werk na die vlakke van halfgeskoolde en geskoolde werk waar hulle skouer aan skouer met wit mense gewerk het. Toenemende ekonomiese integrasie het al meer met die beleid van apartheid gebots.

Botha het daarop aangedring dat die hele proses van grondwetlike hervorming onder die NP-regering se leiding en beheer staan. Soos Buthelezi, gesê het, was Botha die man wat hervorming aangevoer het en ook die een wat geskille wou besleg. Hy wou speler én skeidsregter wees. Die belangrike vraag was of die konstitusionele veranderings aanvanklik slegs die bruin en Indiërgemeenskappe moes betrek en of dit swart mense van die begin af moes insluit.

In 1977 het die regering 'n plan aanvaar om bruin mense en Indiërs saam met wit mense in 'n gemeenskaplike stelsel van verteenwoordiging te betrek. Eers was die idee afsonderlike parlemente, maar later is besluuit op een parlement met drie kamers. Die NP het vae beloftes gemaak dat swart mense ook later betrek sou word. Dit sou egter nie by wyse verteenwoordiging in die parlement wees nie.

Aan die meer hervormingsgesinde kiesers het die party se leierskorps verduidelik dat die simboliek van wit heerskappy en eksklusiwiteit in die parlement eers afgebreek moet word en dat die inskakeling van swart mense moet wag tot kiesers daaraan gewoond geraak het. Aan sy meer konserwatiewe volgelinge het die party gesê wit mense, bruin mense en Indiërs moet saamstaan teen swart mense en dus saam in die parlement sit. Andries Treurnicht, leier van die konserwatiewe vleuel in die party, was daarteen gekant dat daar, soos hy dit gestel het, "Kleurling- en Indiërministers sal (wees) wat oor my en alle blankes sal mede-regeer". Botha het egter volgehou dat daar net een regering in een land kan wees.

Vroeg in 1982 het die spanning tussen Botha en Treurnicht se ondersteuners in die NP tot uitbarsing gekom. Op 24 Februarie 1982 het Treurnicht en nog 21 NP-parlementslede uit die NP-koukus gestap en die Konserwatiewe Party (KP) gestig. Dit was die einde van Afrikanereenheid wat oor soveel dekades bepleit, gekoester en beskerm is.

In 1983 is 'n referendum oor die nuwe grondwet onder wit kiesers gehou. Sowel die Progressiewe Federale Party, wat gekant was teen apartheid, en die KP, wat apartheid wou behou, het gevra dat mense "nee" sê vir 'n nuwe grondwet. Twee derdes van die kiesers wat gestem het, het uiteindelik t.g.v. die voorgestelde grondwet gestem. Chris Heunis, die vindingryke en intelligente, maar dominerende minister van konstitusionele ontwikkeling, het die Arbeidersparty, die sterkste bruin party wat in die apartheidsbestel gewerk het, oorreed om met die stelsel saam te gaan. Hiermee is die bal aan die rol gesit vir die nuwe stelsel van 'n driekamer-parlement. Klein Indiërpartye het ook daaraan deelgeneem.

Die driekamer-parlement

Die driekamer-parlement het in September 1984 tot stand gekom. Dit het bestaan uit 'n wit kamer, 'n bruin kamer en 'n Indiërkamer wat met afsonderlike kieserslyste volgens 'n 4:2:1-verhouding verkies is. Dit het ooreengestem met die getalsverhouding tussen die drie groepe. Die meerderheidsparty in die wit kamer kon nie uitgestem word (en dus die mag verloor) nie, omdat die opposisiepartye in die wit huis nie met partye in die bruin en die Indiërhuis kon saamspan nie.

Elke kamer het sy eie kabinet gehad en 'n begroting waarmee hy moes omsien na sy gemeenskap se "eie sake". Dit het veral onderwys, behuising en maatskaplike dienste behels. Daar was ook "algemene sake", wat ingesluit het verdediging, wet en orde en ekonomiese beleid. Wetsontwerpe is afsonderlik deur elke kamer bespreek en goed- of afgekeur. Die enigste magsdeling was geleë in die bepaling dat al drie kamers 'n wetsontwerp moes goedkeukr en die feit dat bruin- en Indiërverteenwoordigers in die kabinet vir algemene sake opgeneem is. Botha het die leiers van die bruin- en die Indiërkamer in sy kabinet aangestel.

Die pos van eerste minister is afgeskaf en daar sou slegs 'n staatspresident wees wat sowel die simboliese staatshoof as die hoof van die uitvoerende mag sou wees. Hy het ook voorgesit op kabinetsvergaderings. 'n Kieskollege wat saamgestel is uit al drie kamers het 'n staatspresident gekies wat uitvoerende funksies gehad het. Ook hier sou die meerderheidsparty in die wit huis die deurslaggewende stem hê.

Die staatspresident kkon gebruik maak van die Presidentsraad, 'n veelrassige adviesraad van kenners wat die NP feitlik almal goedgesind was, om 'n konstitusionele skaakmatsituasie te oorkom as een van die kamers sou weier om 'n wetsontwerp goed te keur. Hierdie grondwet was, soos 'n gesegde van die tyd gelui het, "magsdeling sonder magsverlies".

Swart reaksie op die driekamer-parlement

Swart mense het hul uitsluiting uit die driekamer-parlement as 'n verwerping van hul aandrang op volle burgerskap van die land saam met die wit en bruin mense en die Indiërs beskou. Hulle is selfs nog meer vervreem toe regeringswoordvoerders die swart tuislande, saam met 'n nuwe stelsel van swart plaaslike owerhede, as regverdiging vir die uitsluiting van swart mense voorgehou h et.

Hoewel die regering van die middel-1970's af op groot skaal geld in die tuislande ingepomp het, het dit al hoe duideliker geword dat die gebiede glad nie ekonomies lewensvatbaar sou kon word nie. Selfs Transkei, die tuisland met die beste vooruitsigte, kon in net 10% van sy eie voedselbehoeftes voorsien en net 20% van sy begrote uitgawes uit eie bronne finansier.

Die oorgrote meerderheid tuislandinwoners was afhanklik van pensioene en geld wat trekarbeiders na hul families gestuur het. Omtrent al hierdie geld het teruggevloei na winkels in wit besit in "wit" Suid-Afrika. Die trekarbeidstelsel het daartoe gelei dat die landbou in die tuislande agteruitgegaan en die inwoners verarm het. Van die vroeë 1970's af was daar 'n toestroming van mense uit die tuislande na dorpe en stede, waar hulle hul aan die buitewyke van wit gebiede gevestig het. Die regering kon niks doen om die stroom werksoekers te stuit nie. Die paswetstelsel het in duie gestort en is in 1986 afgeskaf.

In 1976 het die Suid-Afrikaanse regering onafhanklikheid aan Transkei toegeken, hoewel dit die enigste regering ter wêreld was wat dié land as 'n onafhanklike staat erken het. Bophuthatswana het in 1977 op dieselfde manier onafhanjklik geword. Ciskei het in 1979 gevolg en Venda in 1980. Ná onafhanklikwording het die burgers van di‚ "state" hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor, selfs al het hulle feitlik permanent in Skoweto of ander dorpe of stede in Suid-Afrika gebly.

Connie Mulder, wat in 1978 minister van plurale betrekkinge (voorheen Bantu-administrasie en -ontwikkeling) geword het, het verklaar dat daar nie meer swart Suid-Afrikaners sou wees nadat alle tuislande onafhanklik geword het nie. In 1981 is Xhosas wat in plakkerskampe in Kaapstad gebly het na Transkei "gedeporteer" ingevolge wetgewing wat buitelandse burgers beheer. Die regering het geld vir die tuislande selfs as "buitelandse hulp" geklassifiseer.

Die verskillende tuislandregerings, elk met sy eie hoofminister, kabinet, wetgewende vergadering en staatsdiens, het swart mense wat in die tuislande gewoon het, 'n vorm van selfbestuur gegee wat wit mense nie bedreig het nie. Dié regerings het hulle hoofsaaklik met die t uisland se sake bemoei en nie betekenisvolle toegewings van die Suid-Afrikaanse regering probeer kry nie.

Mag in die weegskaal

In 1984 - ses jaar nadat Botha die pollitieke leierskap oorgeneem het - was dit moeilik om te bepaal of die hervormings daarin geslaag het om 'n erge opstand te voorkom en of Suid-Afrika in 'n al hoe groter politieke krisis verval het.

In sekere opsigte het die prentjie donker gelyk. Die ekonomie het stadig gegroei. Die aantal swart en bruin werkloses en verarmde swart mense wat van die tuislande na die dorpe en stede gestroom het, het al hoe groter geword. Die swart vakbonde het hul spiere begin bult en nie net hoër lone geëis nie, maar ook politieke eise gestel. Hulle wou hê die gapint tussen wit en swart mense se lone moes vinniger kleiner word en dat wit mense moes ophou om in die werkplek rassisties teenoor hulle op te tree. Die getal wit mense as proporsie van die totale bevolking het gedaal van net onder 20% in die middel-1950's tot onder 15% in die middel-1980's. Wit mense het bondgenote dringend nodig gehad, maar min swart en bruin leiers was bereid om hulle by die regering te skaar.

Aan die ander kant het die Botha-regering merkwaardige steun van buitelandse leiers ontvang má doe omste;;omg vam doe droela,er-parlement. Hulle het geglo 'n parlement waarin wit mense, bruin mense en Indiërs saam sit, is die begin van die proses om apartheid af te takel en dat die regering spoedig betekenisvolle regte aan swart mense sou toeken.

Dit het gelyk of die staat die uitdaging wat die ANC op veiligheidsvlak gebied het, oorkom het. Die weermag het met sy operasies oorkant die landsgrense verhoed dat 'n groot aantal ANC-vegters die land binnesypel. In Maart 1984 moes die ANC sy basisse in Mosambiek sluit nadat Suid-Afrika die Nkomati-akkoord met die Mosambiekse regering gesluit het waarvolgens die twee lande nie sou toelaat dat aanvalle op die ander land van binne hul eie grense uitgevoer word nie.

Om hul steun aan Botha as leier en hervormer te toon, het die regeringsleiers van Brittanje, Duitsland, Switserland en Portugal hom genooi vir amptelike besoeke. In Julie 1984 was Botha op ampsbesoeke in dié lande. Dit het 'n oomblik lank gelyk of Suid-Afrika besig was om 'n groot diplomatieke deurbraak te maak.

Onder Treurnicht het die KP probeer om die geesdrif van die Afrikanernasionalistiese beweging weer in die lewe te roep deur die horlosie te probeer terugdraa na die middel-1960's, toe dit gelyk het of die Afrikaners vir altyd sou regeer. Maar dit was nie meer moontlik om die dryfkrag en oortuiging van die ou volksbeweging weer op te roep nie. Die oplossings wat die KP aangebied het, was klaar gediskrediteer. Die NP het dit reeds onsuksesvol probeer toepas. Dit was nie moontlik om 'n wit tuisland te skep nie en die swart tuislande was ook nie die ware oplossing nie.

Hervormingsgesinde wit mense het toenemend aanvaar dat daar swart mense in die regering moet wees. Hulle wou 'n stabiele regering, doeltreffende staatsamptenare, 'n onafhanklike regbank en 'n sterk ekonomie hê. In plaas van meerderheidsregering wou hulle 'n stelsel hê wat 'n balans skep tussen die swart meerderheid aan die een kant en ander minderheidsgroepe, insluitend wit mense, aan die ander kant. Baie min wit mense wat ten gunste van 'n regering waarin swart mense die hef in die hand het. Veral Afrikaners was pessimisties oor 'n swart regering. Meer as vier vyfdes van die Afrikaners wat in die middel-1980's aan meningspeilings deelgeneem het, het geglo dat omgekeerde diskriminasie onder 'n swart meerderheidsregering sou plaasvind en dat die Afrikaanse taal en kukltuur bedreig sal word. Meer as 80% het voorts geglo dat wit mense se fisieke veiligheid bedreig sal word en dat hul besittings en eiendom nie veilig sal wees nie.

Sedert die middel-1980's het die regering se eie geheime meningspeilings getoon dat die ANC meer as 60% van die stemme in 'n vrye verkiesing sou kry en die NP 19% tot 23%. Die ANC het sterk aangedring op wat hy 'n "gewone demokrasie" genoem het. Daarmee is bedoel meerderheidsregering in 'n unitêre staat. "Die meerderheid vat alles" is die term waarmee hierdie stelsel gewoonlik beskryf word. In só 'n stelsel is meganismes wat minderhede beskerm, soos 'n regering van nasionale eenheid, groepsregte, federalisme en die afwenteling van mag na die provinsies, grootliks afwesig.

Vir botha en sy kieserskorps was dit heeltemal onaanvaarbaar. In 'n peiling van 1987 is bevind dat slegs 3% Afrikaners 'n poliltieke bedeling sou aanvaar waarin die meerderheidsparty alleen beheer uitoefen terwyl 11% Engelssprekendes dit sou aanvaar. Slegs 1% Afrikaners en 3% Engelssprekendes wou Nelson Mandela as staatspresident hê teenoor 12% en 39% wat Buthelezi wou hê. Wit mense was bekommerd dat daar talle kommuniste in die ANC-leierskorps was en dat hulle sekere groot maatskappye onder staatsbeheer sou wou plaas. 'n Politieke skikking tussen die NP en die ANC het uiters onwaarskynlik gelyk.

Hermann Giliomee

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5