Hoe Groot dit is

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

"Hoe groot is die wêreld, Mamma?" het Neelsie gevra. Hy en sy suster Iris het by die vuur gesit en luister na 'n storie. Mammie het vir hulle gelees van die prestasies van mense wat wonderbaarlike vlugte onderneem het en dit het hulle albei laat dink.

 "Hoe groot is die wêreld?" het Mammie agterna gesê, terwyl sy gedink het hoe sy hulle sou laat verstaan. "Dit is baie groot. As een van julle uit hierdie kamer sou vertrek en rondom die wêreldloop tot weer in hierdie kamer, sou dit 'n afstand van tienduisende myle afgelê wees. Dit sou ook 'n lang lang tyd neem, baie jare. Julle sal moet deur riviere gaan en oor berge en oseane en daar sal ook honderde myle deur woestyne afgelê moet word."

"Ons sou seker baie moeg wees wanneer ons weer terugkom," het Iris gesê.

"Daarvan kan jy seker wees," het Mammie gesê, "want jy weet hoe moeg jy is na jy van die dorp af geloop het - en dit is maar net twee myl. Om rondom die wêreld te loop, sou gelyk wees aan die afstand wat 'n mens sal geloop het as jy twaalfduisendmaal die afstand na die dorp geloop het. Probeer om jouself voor te stel hoeveel myl jy sou geloop het wanneer jy twaalfduisendmaal na die dorp geloop het!"

"Vertel ons nog meer," het Neelsie gesê.

"Goed," het Mammie ingewillig, "sien julle Neelsie se bal daar. Wel, as 'n mens na die maan toe kon vlieg en daarvandaan terugkyk na die aarde, sou die aarde omtrent so groot lyk soos daardie bal, miskien 'n bietjie groter. Die wêreld is rond soos 'n groot bal en die mense daarop lyk soos die stofdeeltjies op Neelsie se bal. Daar sou miljoene balle nodig wees om een te maak so groot soos die aarde en ook sou daar miljoene en miljoene stofdeeltjies nodig wees om die mense voor te stel wat op die aarde woon."

"Mamma," het Neelsie gesê, "Mamma het gepraat van 'n vlug van die aarde na die maan; het iemand dit al ooit gedoen?"

"O nee, Neelsie, daar is seker baie mense wat dit graag sou wil doen as hulle kon, maar wanneer 'n mens so ses of sewe myl van die aarde af weg is, is daar baie min lug om in te asem. En wat meer is, die maan is baie ver weg! Dit is baie verder na die maan as die afstand rondom die aarde - goed tienkeer so ver. Dit sal 'n vliegtuig wat teen 'n snelheid van driehonderd myl per uur vlieg, 'n hele maand neem om daar te kom."

"Lieweland!" het Neelsie gesê, "en daar sal geen kans wees om die reis te onderbreek om brandstof in te neem nie, sal daar?"

"Nee, daar sal nie," het Mammie laggend gesê, "en daar op die maan sou ook geen brandstof verkrygbaar wees nie, want daar leef niemand op die maan nie, dis te koud."

"Maar, Mammie," het Iris gesê, "as mense dan nie na die maan toe kan vlieg nie, miskien sal hulle na die son kan vlieg, want die son is seker nader omdat dit soms so warm word hier."

"Glad nie, Iris, die son is baie verder van ons af as die maan. As die son so na aan ons was as die maan, sou ons verskroei, want die son is ' n reusebol vuur, duisendmaal groter as ons aarde."

"Dan sal niemand daarheen wil vlieg nie uit vrees dat hy sal verskroei," het Iris gesê.

"Ja, maar in elk geval sal niemand na die son kan vlieg nie, want dit is te ver; dit is twee-en-negentig miljoen myl van die aarde af. En 'n vliegtuig wat teen driehonderd myl per uur vlieg, sal vir meer as vyftig jaar moet vlieg om daar te kom," het Mammie gesê."

Die vlieënier sal dood wees lank voor hy daar kom," het Neelsie gesê.

"Natuurlik sal hy," het Mammie bevestig. "al sou hy ook begin as jongman van 21 jaar, sal hy 'n ou grysaard wees teen die tyd dat hy daar aankom. En hy sal natuurlik nooit weer kan terugkom nie."

"Is die sterre nader as die son?" het Iris gevra.

"O nee, hulle is baie verder. Die naaste is sowat tweehonderdduisendmaal verder van ons af as die son," het Mammie geantwoord.

"Ai, maar dis darem ver!" het Iris gesê.

"Ja, die afstand is te groot vir ons verstand om te begryp. Ons kan ons nie so 'n groot afstand voorstel nie. Nog wonderliker is die feit dat baie van die sterre wat so ver van ons af is, in werklikheid groot sonne is, soos die een wat ons ken. Baie hulle is selfs groter. Hulle lyk vir ons klein omdat hulle so vreeslik ver van ons af is," verduidelik Mammie.

"Hoeveel sterre is daar?" wou iris weet.

"O, ek weet nie, niemand weet nie. As 'n mens op ' n helder aand na die lug kyk, kan jy omtrent drieduisend sien, maar as jy byvoorbeeld deur 'n gewone teleskoop kyk, sal jy omtrent 'n hondermaal soveel sien. En met die sterker teleskope sal 'n mens natuurlik nog baie meer kan sien. Niemand het nog ooit al die sterre gesien nie," het Mammie gesê.

"Is sommige van die sterre regtig so blink en warm as ons son?" het Neelsie gevra.

"Ja en dit is heeltemal moontlik dat hulle ander wêrelde soos ons s'n verlilg en verwarm en dat daar ook mense soos ons op hulle woon," het Mammie gesê

Neelsie het 'n rukkie gesit en peins en toe het hy gesê: "Dis darem 'n baie wonderlike plek waar ons woon."

"Ja," het Mammie gesê, "en hoe meer 'n mens daaroor lees, hoe wonderliker word dit. Dink maar daaraan dat ons wêreld en die maan en die son en sterre gedurig in beweging is en dat hulle in volmaakte ordelikheid beweeg. Elke aand weet ons presies waar om elke ster te vind en dit is die son wat ons dae afbaken. Ons hoor nooit van twee sterre wat bots nie, of die maan in die groot ruime wegraak nie."

"Hoe is alles gemaak, Mamma?" wou Iris weet.

"Wel, daar is vandag mense wat ons wil wysmaak dat alles per toeval gebeur het, maar ek glo dit nie. Iemand het tog seker alles beplan. Iemand het tog alles vooraf uitgedink voordat dit gemaak is. Die Bybel vertel ons wie alles gemaak het en hoe dit gemaak is," het Mammie gesê.

"In die eerste vers van die Bybel lees ons 'In die begin het God die hemel en die aarde geskape'. En later, in die Psalms, sê Dawid: 'Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër... Want Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan.' (Ps. 33:6, 9)

"Maar nou sal ek julle iets anders vertel," het Mammie aangegaan. "Die Nuwe Testament sê dat die Een wat werklik die wonderbare heelal gemaak het, Jesus is. Luister na hierdie teks: 'In Hom (Jesus) is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is ... alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge en in Hom hou alle dinge stand.' (Kol. 1:16,17)."

"Maar dan moes Jesus mos gelewe het voordat Hy na hierdie aarde as kindjie gekom het," reken Iris.

"O ja, gewis," het Mammie gesê. "En jy weet dit mos. Ná Hy Sy manlike jare bereik het, het Hy self gesê dat Hy by Sy Vader was, 'voordat die wêreld daar was' (Joh. 17:5). En dit was omdat Hy hierdie wêreld gemaak het, dat hy dit so goed geken het en die mense daarop so liefgehad het dat Hy die heerlike hemel verlaat het om hier onder die mense te lewe en te sterf.

"Maar dit is nou hoog tyd dat julle albei al geslaap het. Nou moet julle jul gebedjies opsê en more-aand sal ons verder gesels," het Mammie afgesluit.

(LW: hierdie storie is geskryf lánk voor die wetenskap so gevorder het dat daar later tog ruimtereise was en mense wel na die maan gereis en daar geloop het.)

Om die dam Perderoete