God se Reddingsbootmanne

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Hier en daar langs die kuste van verskillende lande is daar reddingsbootstasies. Die van julle wat by die see woon, weet darem seker wat reddingsbote is. As julle nog nooit een gesien het nie, het julle seker al van hulle gelees - moontlik is daar van julle wat al van hierdie bote gesien het, hulle is gewoonlik in helde kleure geskilder.

Maar redinngsbote is darem nie net ornamente by die kus nie. Hulle is gemaak om gebruik te word. Die rede waarom ons hulle so selde op die water sien, is dat hulle net uitgaan wanneer daar vreeslike storms woed - behalwe natuurlik wanneer hulle 'n bietjie oefen. Baie maal moet hulle in die pikdonker nag uitgaan wanneer die meeste seuns en dogters vas aan die slaap in die bed is.

Dit is vreeslik opwindend om te sien hoe 'n reddingsboot in 'n storm uitgaan! Die dapper reddingsbootmanne word ontbied van 'n lekker kaggelvuur waar h ulle sit, of uit 'n warm bed. Hulle gord hulle reddingsgordels aan en neem hul plekke in die boot. En dan op die bevel van die kaptein gly die boot die woeste branders is - ek sou die hele nag wakker bly om so 'n toneel te sien, sou julle nie?

Van die tyd af toe die eerste reddingsboot tewater-gelaat is, in Bamborough, Engeland, in 1786, is tienduisende lewens al uit die see deur dapper manne van die reddingsbootdiens gered.  Hoewel daar deur die jare al baie lewens gered is, het dit nie sonder opofferings geskied nie. Baie maal al het reddingsbote omgekantel in die onstuimige see en het die hele bemanning verdrink. Selfs vandag nog, met reddingsbote wat nie kan sink nie en wat weer self regswaai wanneer hulle omgekantel het, is dit 'n baie groot waagstuk vir die bemanning wanneer hulle na 'n wrak uitvaar, want 'n mens weet nooit watter fratse die see kan uithaal nie.

Daar is seker geen beroep waarvan die manne soveel respek afdwing en soveel eer toekom as die reddingsbootdiens nie. Op donker winteraande wanneer ons die storm buite hoor woed, behoort ons 'n gebedjie vir daardie dapper manne op te sê.

Maar daar is ander soort reddingsbootmanne behalwe die wat met hul skuite die see ingaan. Die lewe is in 'n sin soos die see, is dit nie? En al die mense op die aarde is soos skepe op die see. Daar is groot skepe, klein skippies, stoombote en seilbote en klein roeiskuitjies. Sommige van hulle vaar trots oor die water, ander het te kampe met sterk winde van moeilikheid, nog ander doen lekplekke op, terwyl baie op die rotse vaar en eintlik onder die water verdwyn.

Daar is vandag groot behoefte aan reddingsbootmanne. Wat kan daaromtrent gedoen word? Wat kan julle doen? Daar is byvoorbeeld jou klein bootjie - kan jy dit nie gebruik as reddingsboot en iemand red wat in gevaar verkeer nie? 

Baie groothartige manne en vroue het hierdie gedagte reeds in die verlede gehad. Julle het miskien van sommige van hulle gehoor. Ons dink aan manne soos George Muller wat hom die lot van arm kinders - wie se vaders en moeders dood was - aangetrek het waar hulle alleen op die lewensee rondgedobber het. Hy het hulle behoefte gesien en het 'n reddingsbootman geword en uitgegaan om hulle te red. Die Here het hom wonderbaarlik in sy werk geseën. In die honderd jaar wat verloop het sedert die stigting van sy beroemde weeshuis in Bristol, het meer as 20 000 kinders al daar skuiling gevind. Gedurende daardie tyd - en bloot aan gebed te danke - het daar meer as 3 miljoen pond ingevloei om hulle te voed en te kleed. George Muller was gewis een van God se reddingsbootmanne.

Dan was daar ook Dr Barnardo. Toe hy nog 'n mediese student was, het hy elf van Londen se daklose kindertjies sommer buite sien slaap. Vir hom was hulle klein bootjies wat besig was om te sink in die lewensee. Hy het besluit dat hy hulle sou probeer red en dit was die begin van die alombekende Dr Barnardo-Huis. Dit was jare gelede. Sedert daardie tyd is daar in daardie inrigting meer as 120 000 seuns en dogters opgeneem, versorg en opgelei. Die leuse van hierdie goedhartige dokter by sy inrigting was "Geen verlate kind word ooit geweier nie"! En daardie leuse geld vandag nog. In normale tye word daar elke dag vyf kinders opgeneem. Daar is gedurig sowat 8 400 kinders in die inrigting. Is dit nie wonderlike reddingswerk nie? Dr Barnardo en sy selfopofferende werkers behoort gewis ook aan die ede orde van God Reddingsbootmanne.

Natuurlik het julle ook al gehoor van William Booth, die stigter van die Heilsleër, Toe hy nog 'n seun was,  het hy kinders op straat sien brood bedel. Hierdie verstotelinge, het hy gedink, het iemand nodig om hulle te red. En daarom het ook hy 'n reddingsbootman geword. Hy het in die opelug begin praak en die bekeerlinge wat hy gemaak het, het hy uitgestuur om die armes, die hongerlydendes, verstotelinge en gevangenes te help. Sy werk het geleidelik uitgebrei totdat duisende by sy organisasie aangesluit het om die noodlydendes te help.

Die Heilsleël voorsien vandag in een jaar meer as 20-miljoen maaltye. Behalwe die voorsiening van voedsel, word ook duisend arm moeders en kinders gehelp en werkloses en gevangenes word gehelp om weer 'n nuwe begin in die lewe te maak.

William Booth en sy getroue helpers en vriende het wonderbare reddingswerk gedoen.

Moontlik het julle ook van Domheer Carlile gehoor. As jongman het hy God se roepstem gehoor om ook en van sy reddingsbootmanne te word. Hy het met 'n groep Christenwerkers in een van die agterbuurtes van Londen begin werk. Maar in hierdie geval wou die mense nie gered wees nie en die werkers is begroet met koolstronke en vrot vrugte. Maar mettertyd het die toestand verander en baie het later die werk van die Kerkleër - soos hulle organisasie later genoem is - geprys.

In een jaar het hierdie organisasie van Gods reddingsbootmanne meer as 600 000 beddens in skoon losieshuise vir arm mans en seuns voorsien en meer as 120 000 vir vroue en meisies. Meer as 'n 100 000 besoeke is by gevangenes in hul selle afgelê en baie ander soorte Christelike werk is gedoen. Niemand sal seker kan vasstel hoeveel klein bootjies gered is deur hierdie werk van genade en liefde nie.

En dan was daar ook William Wilberforce wat meer as 150 jaar gelede die kampvegter vir die slawe geword het. Hy het hierdie arme en mishandelde mense beskou soos 'n reddingsbootman 'n wrak ter see beskou. En was hulle nie wrakke nie!  Hulle is geslaan, uitgehonger, van hul huise en vriende weggeskeur en hulle moes slawewerk doen, byna tot die dood toe, hul bootjies h et gewis ondergegaan. Hoe groot was h ulle behoefte aan iemand wat vir hulle in die bresse kon tree en help! Wilberforce het hulle geroep gehoor en hy het sy lewe gewy aan die stryd vir hulle bevryding. Voor sy dood het hy die tevredenheid gehad om te weet dat slawerny - in die Britse Ryk ten minste - afgeskaf sou word.

Ons dink ook aan David Livingstone wat sy lewe vir Afrika gegee het. Hy was een van die manne wat gehelp het om die slawehandel af te skaf. Toe hy gesien het hoe wreed die Arabiere die arme swartes behandel het, het hy besluit om alles te doen wat hy kon om hierdie verskriklike euwel uit te roei. Ook was hy die baanbreker van 'n groep sendelinge wat sedert sy tyd daardie donker land binnegegaan het om aan die swart bevolking die heerlike verhaal van die liefde van Jesus te vertel.

Wil jy nie ook graag 'n reddingsbootman wees nie? Jy sal miskien nie 'n reddingsgordel hoef aan te sit en op die woeste branders uit te vaar om 'n skip in nood te gaan help nie, maar jy sal darem reddingswerk kan doen. Daar is baie wrakke op die lewensee, nie ver van jou af nie en daar is baie bootjies wat sal wegsink as jy hulle nie h elp nie. Jy mag nie 'n Wilberforce of Livingstone of Barnardo te wees nie, maar dit is geen rede waarom jy nie sal doen wat jy kan net waar jy is nie - en wie weet wat God van jou sal maak wanneer jy groot is?

Jy mag nou baie nietig voel en dink dat jy nie kan help nie, maar dit is verbasend watter seën 'n kind wel in die lewe van ander kan bring. Weet julle, daar is niks so bemoedigend en niks wat mense hulle sorge so laat vergeet as die glimlag van 'n kindjie nie! Woordjies van aanmoediging, handjies en voetjies wat gewillig is om te dien, kan soms baie doen om die harte van manne en vroue te verbly en op te beur, meer as die medisyne van 'n dokter. Begin maar om julle Mammies te help wanneer hulle moeg is en julle Pappies wanneer hy hulle nie lekker voel nie en julle vriende by die skool wat hulp nodig het.

Nee, jy hoef glad nie te wag totdat jy eers groot is om een van God se reddingsbootmanne te word nie. Jy kan vandag al een word. Sal jy nie besluit om sommer nou aan te sluit nie?