Die oorsprong van die Khoisan-gemeenskappe in Suider-Afrika: H.C. Bredekamp
Argeologiese navorsing dui daarop dat Suid-Afrika sowat 8 000 jaar lank - van die Holoseen tot sowat 2 000 jaar gelede - slegs deur wydverspreide groepe jagter-versamelaars bewoon is. Hul nageslag het omstreeks die begin van die jaartelling met Khoikhoi-veeherders begin kennis maak. Die Khoikhoi wat later na Namakwaland gemigreer het, het die benaming San aan hierdie mense gegee. Uit die wedersydse interaksie tussen Khoikhoi en San (en in 'n mindere mate Bantoesprekendes) het langs die Kaapsekusgebied en in die binneland 'n heterogene samelewing ontwikkel, maar oor die aard daarvan bestaan nog geen geen absolute helderheid nie.
In die afgelope drie dekades het geleerdes nogtans tot belangrike nuwe insigte gekom oor die samelewing aan die Kaap voor die koloniale tydperk. Die toenemende gebruik van die name San (i.p.v. "Boesman"), Khoikhoi (= "manne der manne" of "opregte mense" die sg. "Hottentotte" se naam vir hulself) en Khoisan (vir die twee groepe saam) is deels aan dié insigte te danke.
Argeologiese, antropologiese en linguistiese navorsing het getoon dat 'n streng rasse-onderskeid tussen dié twee groepe in stryd is met die ware prekoloniale samelewingopset in Suider-Afrika, en tans vertolk historici die geskiedenis van die Khoikhoi en San al hoe meer in terme van die veranderinge wat hulle samelewing voor en tydens Blanke kolonisasie ondergaan het.
Die oorsprong van die Khoikhoi-herders
Die samevoeging "Khoisan" dui egter ook op 'n komplekse proses van bloedvermenging, akkulturasie en assimilasie oor 'n tydperk van eeue tussen swerwende San-jagter-versamelaars en migrerende Khoikhoi-veeherders. Daarom vind fisiese antropoloë 'n streng rasse-onderskeiding tussen San en Khoikhoi nie houdbaar nie. Eweneens stem hulle nog nie saam oor die redes vir die verskille in liggaamsbou tussen die historiese San en Khoikhoi nie. Sommige meen dat groter liggaamsbou moontlik te danke kon gewees het aan 'n proteïenryke dieet wat meegebring is deur 'n pastorale ekonomie. Hulle verkies dan ook om van "Khoisan" te praat in gevalle waar 17de- tot 19de-eeuse dokumente nalaat om die stamverband van mense uit die Laat Steentyd-ekonomie aan te dui.
Geleerdes is nog nie seker hoe die pastorale revolusie plaasgevind het nie. Waarskynlik was die eerste Khoikhoi jagters in die huidige Botswana wat op vreedsame wyse of deur roof vee bekom het van die eerste landbouers (moontlik Bantoe- of selfs Sentraal-Soedanneessprekendes) wat die gebied binnegetrek het. Bevolkingsdruk en die behoefte aan beter weiding het dié herders toe op die trekpad geplaas.
Teorieë oor die migrasieroetes van die Khoikhoi
Oor die roetes wat die voorouers van die Kaapse Khoikhoi van die huidige Noord-Botswana af gevolg het, bestaan daar meningsverskil. Min geleerdes huldig nog G.W, Stow se teorie van 1905 dat die Khoikhoi in die huidige Kenia en Tanzanië ontstaan en daarvandaan eers suidwes tot by die kus van Namibië getrek het, toe met die kus langs tot in Suidoos-Kaapland en daarna oos gedraai en tot by die grens van Transkei getrek het, waar hulle deur Bantoesprekende akkerbouers en veeboere gestuit is. Slegs vir die laaste deel van dié migrasieroete bestaan daar argeologiese getuienis.
In 1972 het Richard Elphick op grond van meer gevorderde navorsing met 'n nuwe roeteteorie vorendag gekom, wat egter ook nie met argeologiese getuienis gestaaf kan word nie. Hy wou aantoon dat Stow se teorie nie rekening hou met die gebrek aan goeie weiding en standhoudende waterbronne wat 'n weswaartse migrasie onwaarskynlik maak nie. Volgens Elphick het die vroegste Khoikhoi-herders uit Botswana in die rigting van Matabeleland getrek, deur Noord-Transvaal en later al langs die Hartsrivier tot by die Oranje, waar hulle verdeel het. Een groep het wes geswenk tot by die monding van die Oranje, waarvandaan die Nama se voorouers noord en dié van die Namakwa suid getrek het. Die ander groep, die voorouers van die Kaapse Khoikhoi, het in die rigting van die Vis- en Sondagsrivier getrek, waar die Gona oos geswenk het, terwyl die voorouers van die Atakwa, Hessekwa, Cochokwa en die Skiereilandse Khoikhou wes geswaai het verby die huidige Mosselbaai tot in die omgewing van St. Helenabaai.
Die herders wat Europese seelui ná 1487 langs die Kaapse kus teengekom het, het waarskynlik tot die weswaarts bewegende migrasiegolf van die Kaapse Khoikhoi behoort. Europeërs het die ooreenkomste in die afsonderlike groepe se samelewingstrukture opvallend gevind. Soos die San, het hulle ook gejag en veldkos versamel, maar nog opvallender was dat hulle ganse lewensbestaan om hul vee gedraai het.
Die Khoikhoi-gemeenskap het 'n weidingsgebied dikwels saam bewoon tot dit uitgeput was, waarna hulle in kleiner groepe verdeel het. As semi-nomadiese gemeenskappe het hulle dikwels 'n vaste migrasiepatroon gevolg wat seisoensgebonde was. Só het sommige in die somer na die Kaapse Skiereiland beweeg, maar weer koers gekies binnelandtoe wanneer die koue en nat winterweer daar te erg geword het.
Minstens twee miljoen jaar lank het die bewonders van Suider-Afrika 'n jagter-versamelaarlewenswyse beoefen. Geleidelik het hulle geleer om hul omgewing te oorwin, en twee nuwe bestaanswyses aangeneem, nl. veeteelt en akkerbou. Afgesien van die San ("Boesmans") het daar min gemeenskappe in die wêreld oorgebly wat tans nog 'n jagter-versamelaarlewenswyse het. Vroeër het die San oor die hele Suider-Afrika heen 'n nomadiese bestaan gevoer, maar vandag word reste van dié groep slegs nog in die Kalahari aangetref. In baie gevalle is selfs dié "oorlewende" San daartoe gedwing om 'n landboulewenswyse aan te neem, en ongelukkig sal die 20ste eeu dalk die einde van die jagter-versamelaargemeenskappe in Suider-Afrika meebring.
Die San vandag
Die Kalahari-San is nie afstammelinge van mense wat uit waterryker dele van Suider-Afrika verdryf is nie. Sowel argeologiese getuienis as hul uiters fyn aanpassing by die woestynlewe dui daarop dat hulle reeds duisende jare daar woon. Die tale van dié woestynbewoners verskil ook heeltemal van dié van die uitgestorwe suidelike groepe. Die meeste sprekers van verskillende San-tale kan mekaar trouens nie verstaan nie. Die talryke San-groepe word vandag inderdaad deur hul tale van mekaar onderskei, en nie deur politieke groeperings nie, en dit is dus onjuis om van San-"stamme" te praat.
Jagter-versamelaargemeenskappe word onderskei deur die feit dat hulle nomadies is, feitlik geen kos of ander voorrade opslaan nie en in die algemeen 'n egalitêre maatskaplike stelsel het. Hoewel die San nomade is, beteken dit egter nie dat hulle in 'n voortdurende en desperate soeke na kos en water koersloos deur die woestyn ronddool nie. Inteendeel, hul ontginning van verskeie voedselbronne word deur die seisoene bepaal en versigtig beplan, met die gevolg dat hulle gewoonlik 'n vaste trekroete volg. Hul kennis van veldkos en watergate is uitgebreid en presies, en hulle leef maikliker as wat dikwels gemeen word. 'n Vrou kan bv. tydens een tog genoeg veldkos versamel om haar gesin verskeie dae lank te voed, en die mans hoef nie elke dag te gaan jag nie.
Die San as jagter-versamelaars
Die jagvermoë van die San het met reg legendaries geword. 'n Goeie spoorsnywer kan die spore van 'n gekweste bok tussen dié van 'n hele trop uitken en volg totdat die dier die trop verlaat en vrek. Tog kan die jagters selde ná genoeg aan hul prooi kom om dit sonder gif met hul klein, ligte pyle en boë dood te maak. Daarom gebruik hulle gif wat uit die larwes van 'n Diamphidia simplex-kewer gemaak word. Sekere groepe gebruik ook slanggif. Dié gif tas die hart van 'n prooi aan, maar besmet nie die vleis nie. 'n Stukkie word rondom die wond uitgesny en weggegooi, en die res van die dier kan met veiligheid geëet word.
Die gifpyle self is 'n besonder vernuftige stukkie tegnologie. Hulle bestaan uit vier dele, nl. die skag, 'n torpedovormige "skakel", 'n kort rietkragie en die punt. Vroeër is pyle van been en klip gemaak, maar tans word heiningdraad dikwels tot 'n punt met weerhake uitgeklop. Die gif word net agter die punt aangesmeer om dit nie stomp te maak nie. Wanneer die pyl die prooi tref, breek die skakel die kragie, en die skag val af, sodat net die punt in die dier agterbly. Hierdie kort punt val nie so maklik soos 'n lang skag uit terwyl die dier hardloop nie, en die dier kan dit ook nie maklik teen 'n boom afskuur nie.
Die eienaar van die pyl wat die dier doodgemaak het, word as die "eienaar" van die vleis beskou, maar hy moet dit volgens verwantskapsbande verdeel. Die San erken naas bloedverwantskappe ook "naamverwantskappe". Twee mans wie se vaders dieselfde naam het, beskou mekaar as broers, en aangesien die San slegs 'n beperke verskeidenheid mans- en vrouename het, kan enigeen, indien nodig, op verwantskap aanspraak maak en sy deel van die jagbuit eis. Dit verseker dat almal in die kamp gereeld en genoeg proteïene kry.
Terwyl die mans besig is met jag en take soos die maak van pyle, versamel die vrouens plantkos. Die kundigheid waarmee hulle groot eetbare wortels onder die sand aan die kleinste bogrondse rankie kan uitken, is net so groot soos dié van die mans op die jagveld. Plantkos bly die besit van die vrou wat dit versamel het, en sy verskaf net kos aan haar eie gesin, moontlik omdat plantkos makliker verkrygbaar is en geen reëls vir die verdeling daarvan nodig is nie.
'n San-kamp bestaan gewoonlik uit 'n aantal broers en susters met hul kinders, waarvan sommige miskien reeds getroud is, en -soms - die ouers van die senior groep. 'n Paar sulke kampe kan in sekere tye van die jaar saamsmelt en in ander uitmekaargaan. Elke kamp het sy eie onderhoudsgebied maar die San verdedig nie dié gebiede nie. Dit sou trouens noodlottig wees om 'n kamp tot 'n enkele onderhoudsgebied te beperk, want die uiters wisselvallige reënval van die Kalahari kan langdurige droogtes in 'n bepaalde gebied veroorsaak. In sulke krisistye verdeel 'n kamp, en gaan die lede daarvan na verskillende kampe in gunstiger gebiede.
In 1870 het dr. Wilhelm Bleek, 'n Duitse taalkundige wat deur sir George Grey aangestel is as kurator van sy biblioteek, te hore gekom dat 'n aantal San-gevangenes van die Kenhardt-gebied aan 'n nuwe seewering in Kaapstad werk. Dit was 'n unieke kans om die vinnig verdwynende /Xam-taal te bestudeer, en Bleek het 'n fonetiese skrif ontwikkel om die uiters moeilike en komplekse klanke van dié taal weer te gee. Die destydse goewerneur, sir Philip Wodehouse, het toegelaat dat sommige van die San by Bleek in die Kaapse voorstad Mowbray gaan inwoon. Só 'n goeie begrip het tussen dié San en die Bleeks ontwikkel dat hulle aangebly het om hul taal en kennis verder oor te dra nadat hulle hul gevangenisstraf uitgedien het, en sommige het selfs hul gesinne na Kaapstad laat kom.
Die San-tale word gekenmerk deur unieke klanke wat "klik-", "suig-" of "klapklanke" genoem word. Sommige Bantoetale soos Xhosa en Zulu besit ook klikklanke, maar dié is van die San- en Khoikhoi-tale oorgeneem. Die klikklanke word veroorsaak deur 'n lugstroom wat invloei wanneer die tong vinnig van die verhemelte weggetrek word,. Daar is vyf onderskeibare klilkklanke, wat gewoonlik aangedui word deur simbole wat dr. Wilhelm Bleek voorgestel het (soos hierbo beskryf oor hom en sy werk).
! Alveolêr-palatale klik: Die punt van die tong word gedruk teen die agterkant van die alveolêre uitsteeksel waar dit by die harde verhemelte aansluit, en dan baie skerp afgeklap. Dié geluid word soms deur Afrikaansprekendes gemaak om perdepote na te boots.
In die egalitêre samelewing van die San is daar geen spesialiste nie, maar sowat die helfte van die mans en een derde van die vrouens word sjamaans of "toordokters". Dit bevry hulle egter nie van ander daaglikse take nie.Dié toordokters vorm 'n brug of skakel tussen die bekende wêreld en die bonatuurlike, maar self beskou hulle albei as ewe "eg". Tydens 'n rituele dans sit die vrouens nóú saamgeskaar om 'n sentrale vuur terwyl hulle sing en handeklappend die ritme hou van die towerliedere waarin daar volgens hulle 'n bonatuurlike krag of vermoë skuil, net soos in die mans self. Krag word na verskeie "sterk" dinge soos die eland, kameelperd, gemsbok, heuning en son vernoem. Die huidige !Kung van die noordelike Kalahari noem dié krag n/um, en die uitgestorwe /Xam van Kaapland het dit !gi of //ken genoem.
Namate die dans in intensiteit toeneem, begin die krag in die mans se mae "kook" en in die ruggraat opstyg totdat dit in die kop "ontplof" en hulle 'n veranderde bewussynstaat (beswyming of vervoering) binnegaan wat die !Kung !kia noem. Hoewel nuwelinge soms dagga gebruik om die eerste keer hierdie toestand te bereik, word dit normaalweg sonder hallusinogene middels gedoen: die ritmiese dans, die musiek, hiperventilasie enintensie konsentrasie is voldoende. In beswyming raak mans soms katalepties, maar dié met meer ervaring kan die vlak van beswyming beheer, sodat hulle tussen mense kan rondbeweeg som siekte of boosheid deur hande-oplegging uit te trek. Almal, selfs besoekers, word "genees", want die San glo dit is moontlik dat siekte in iemand kan skuil sonder dat hy dit self weet.
Vir die San kan "siekte" liggaamlik, sielkundig en maatskaplik wees. Nadat die siekte in die toordokter se liggaam ingetrek is, word dit met 'n krampagtige gil weer uitgewerp. Daarna keer dit, so glo hulle, terug na die immer dreigende geeste waar dit vandaan kom. Sommigte mans beweer dat hul eie gees hul liggaam verlaat om die stryd met die //gauwasi (bose geeste) of selfs met God aan te knoop. Die hedendaagse !Kung glo in twee gode, 'n Groot God (╪ Gao N!a) wat in die ooste woon, en 'n mindere God (//Gauwa) in die weste; geeneen is volkome boos of goed nie.
Die geloof van die uitgestorwe suidelike groepe was baie soortgelyk. Die /Xam en die San van die Malutiberge het egter nie in twee gode geglo nie, maar van 'n enkele bedrieërfiguur, /Kaggen, gepraat. Dr. Wilhelm Bleek het dié naam as "bidsprinkaan" vertaal en daar bestaan 'n wydverspreide maar foutiewe opvatting dat die San en die Khoikhoi dié insek aanbid het. Die suidelike san het /Kaggen nie uitsluitlik as insek beskou nie, maar dit was wel een van sy vele verskyningsvorms. Origens het /Kaggen soos 'n gewone man gelewe, sy dit met uitsonderlike magte. Sommige van die mites waarin /Kaggen voorkom, dui daarop dat hy 'n toordokter was, miskien selfs die oorspronklike.
Die rotskuns van die San
Onlangse navorsing toon dat baie van die rotsskilderinge waarvoor die San beroemd is met toordokters in verband staan. Dit is wel so dat dié rotskuns baie alledaagse aspekte van die lewe in die Steentyd en selfs ook die aanraking tussen die San en Swart en Blanke veeboere uitbeeld, maar die konteks van die oënskynlik verhalende tonele moet nog deegliker ondersoek word. Om dié kuns te verstaan, is dit dus nodig om die werk en ervaringe van die San-toordokters te ondersoek.
Wanneer 'n toordokter dans, en die krag in hom begin kook, trek sy maagspiere pynlik saam en buig hy vooroor tot sy bolyf byna rehoekig op sy bene staan. Hy ril en sweet ook abnormaal. Onder die mense van die suide het hy ook dikwels aan neusbloeding gely wanneer hy in beswyming raak, maar dit gebeur blykbaar minder onder die hedendaagse San van die Kalahari. Dan betree hy die angsaanjaende bonatuurlike wêreld.
Drie stadiums van hallusinasie
Terwyl 'n man in beswyming raak, ondervind hy tenminste drie stadiums van hallusinasie. In die eerste sien hy sigsag- en roosterpatrone, chevrons, kolle en spirale. Hierdie vorms, of fosfene, word neurologies voortgebring, en is daarom nie kultuurgebonde nie - mense uit alle kulture kan dit in 'n toestand van veranderde bewussynstaat ervaar. Migrainelyers sien bv. ook soms van hierdie hallusinasies. In die volgende stadium sien die persoon in beswyming voorwerpe met 'n emosionele lading, wat uiteraard kultuurgebonde is. In die derde smelt hierdie kultuurgebonde visioene met mekaar saam en kan die persoon in beswyming hom as deel van sy eie vervoering sien, benewens verskeie figure en voorwerpe wat gewone mense nie kan sien nie.
Baie van die eland se krag lê in sy vet. Ou elandbulle met hul kenmerkende vet verskyn op talle rotsskilderinge. Hulle word uitgeken aan 'n groot, hangende keelvel en, minder dikwels, 'n bleek, gryserige kleur. Baie van die elande word in 'n sterwende houding uitgebeeld.
Ander diere staan ook met toordokters in verband. Daar is geglo dat mense buiteliggaamlike reise onderneem in die vorm van leeus, en die gevaarlike, gewelddadige aspekte van beswyming word deur katagtige diere gesimboliseer. In die Kalahari gebruik die !Kung vandag 'n vorm van hul woord vir "diere met pote" vir die begrip "om in die vorm van 'n leeu buiteliggaamlike reise te onderneem" Een toordokter het beweer dat hy in katagtige gedaante met 'n leeutrop kon "meng".
Sommige skilderinge toon katagtige diere wat mensfigure agternasit. 'n Besonder eksplisiete voorbeeld wys mans met bokkoppe en -pote en bloed wat uit hul neuse loop. Hierdie skildering kontrasteer die maatskaplike weldadige aspekte van optrede tydens beswyming met sy gewelddadige, anti-sosiale moontlikhede. !Kung-toordokters het aan die navorser Richard Katz gesê dat sommige toordokters in die vorm van leeus mense doodmaak, en dat hulle slegs deur ander toordokters gesien kan word, nie deur gewone mense nie.
Die derde stadium van hallusinasie tydens beswyming is miskien die interessantste. In die gevorderde stadium raak die elemente vermeng met mekaar en met verskeie figure en voorwerpe wat nie in 'n normale bewyssynstaat waargeneem word nie. Skilderinge van dié stadium toon baie van die dinge wat toordokters na eie bewering kan sien. Sommige figure word bv. uitgebeeld met lang lyne wat bo uit hul koppe kom, omdat dít is waar die gees op sy reise buite die liggaam vertrek, en hierdie lyne kan as voorstellings van die skeidende gees gesien word. Een eienaardige tipe skildering toon mense in die knielposisie wat dansers soms inneem, met die arms agter hulle uitgestrek. Hierdie houding word uitgelê as dié wat sommige dansers in beswyming inneem "wanneer hulle God om krag vra". Dikwels is lintagtige lyne van hul arms en rûe getrek, wat moontlilk dui op krag wat in die ruggraat ingaan, of dalk siekte wat deur die agterkant van die nek uitgedryf word.
'n Verdere kenmerk van hierdie skilderinge is dat die figure dikwels bokkoppe en -pote het, want in hierdie sta;dium voel die toordokter hom één met sy dierlike krag. Ander wildsbokeienskappe van baie figure is dat hulle dikwels met hare bedek is, maar die mees kenmerkende is bloeiende neuse, soos mense in vervoering in meer realistiese uitbeeldings dikwels getoon word. Dié figure - half mens, half dier - beeld in werklikheid die hallusinatoriese ervarings van die toordokters uit.
Dit is besonder interessant dat 'n figuur wat half mens, half dier is, op een van die oudste dateerbare voorbeelde van die rotskuns van Suider-Afrika voorkom. Dit is geskilder op 'n stuk los klip wat in die suide van Namibië uitgegrawe is. Menslike agterbene is toegevoeg tot wat blykbaar 'n katagtige dier is. Die geskilderde klippe uit dié opgrawing is op 26 000 jaar voor die hede gedateer, wat die rotskuns van Suider-Afrika verbasend oud maak en vergelykbaar stel met dele van die Paleolitiese kuns van Wes-Europa. Ons weet nie of die kuns van daardie verre verlede deur middel van ononderbroke oorlewing met dié van die 19de eeu verbind is nie, maar as dit wel die geval is, wat waarskynlik lyk, het ons hier met die oudste kunstradiesie ter wêreld te make.
Nuwe intrekkers bedreig die San
Vroeë Swart landbouers, wat omstreeks die jaar 1000 die gebied suid van die Limpopo binnegetrek het, het in die algemeen in betreklike vrede met die San saamgeleef, hoewel daar ongetwyfeld struwelinge was, veral in die vroeë dekades.
Hierdie verhouding is egter vernietig toe Blanke nedersetters die wildtroppe begin uitroei het. Die vroeg 19de-eeuse reisiger sir John Barrow beskryf die beproewings van die San wat verplig was om tydens die koue winters in die berge te skuil. Hulle had 'n keuse tussen omkom van die honger of om vee te steel van die Blanke boere wat die meer gematigde vlaktes beset het. Wanneer hulle wel gesteel het, het die Blankes meedoënloos wraak geneem, Vroeë berigte vertel van honderde San wat voor die voet doodgeskiet is. Sommige van die Blanke veeboere het probeer om met die San tot'n vergelyk te kom, maar onderhandelings was moeilik, omdat die San geen erkende leiers gehad het nie. Aan hul kant het San-groepe hulle weer nie gebonde geag deur akkoorde wat ander groepe aangegaan het nie. Sommige het uit wanhoop as skaapwagters en plaasarbeiders by Blanke boere in diens getree, maar op dié wat hierdie uitweg gekies het, het daar dikwels 'n lewe van beproewing, lyding en vernedering gewag.
Vandag is die toestand van baie van die San in die Kalahari nie veel beter nie. Beesboerdery maak inbreuk op hul jagvelde, en in die jongste tyd het baie van hulle bowendien teen wil en dank betrokke geraak by die militêre stryd in en om hul tradisionele woongebied. Blykbaar is daar vir hulle geen alternatief nie: die enkeles wat nog hul eeue-oue leefwyse handhaaf, sal ook uitgedwing word in die moderne wêreld met sy armoede en siektes. Hul tradisies sal weldra verlore raak, en niks sal meer oorbly nie, behalwe hul weergalose kunsprestasies op die rotse van Suider-Afrika.
Die vroeë geskiedenis van die Swartmense in Suider-Afrika: T. Maggs
Daar heers nog steeds onenigheid oor wanneer die eerste Bantoesprekende Swartmense by die suidpunt van Afrika aangekom het. Argeologiese getuienis weerlê egter die ou opvatting dat Bantoesprekendes nog besig was om suid- en weswaarts te beweeg toe hulle in die 18de eeu die Blankes aan die Kaapse Oosgrens ontmoet het. Ystertyd-mense het dié gebied reeds meer as duisend jaar vroeër bereik, en daar was geen verdere betekenisvolle weswaartse beweging daarna nie. Huidige getuienis dui ook daarop dat die eerste Ystertyd-gemeenskappe voor 300 n.C. in Natal en Transvaal gevestig was.
Die benaming Ystertyd verwys nie slegs na die feit dat dié Swartmense, anders as hul voorgangers uit die Steentyd, metaalvoorwerpe kon maak nie, maar het ook ander konnotasies wat vir die argeologie van Suider-Afrika van belang is. Omdat die meeste van hulle gesaaides aangelê en veetroppe aangehou het, kon hulle - anders as die nomadiese jagter-versamelaars van die Steentyd - 'n gevestigde lewe lei. Hulle het ook erdewerk vervaardig en ander vorms van handwerk ontwikkel. Hoewel geen direkte bewyse bestaan van die tale wat dié mense gepraat het nie, het die Ystertyd-kultuur versprei na gebiede wat histories deur Bantoesprekende volke bewoon is en wie se leefwyse 'n voortsetting van die Ystertyd was. Dit word dus algemeen aanvaar dat die verspreiding van die Ystertyd-kultuur en die Bantoe-taalgroep in Suider-Afrika saamval.
Die Vroeë Ystertyd in Suid-Afrika
Het dié verskillende verskynsels - nl. die Negervolk, die Bantoetale, die gevestigde dorpslewe, die aanlê van gesaaides en aanhou van vee, metaalbewerking en erdewerk - gelyktydig in 'n reeds ontwikkelde, o mvattende kultuur in Suid-Afrika aangekom, of het die verskillende elemente die gebied afsonderlik uit verskillende oorde bereik?
Pogings deur taalkundiges om die ontwikkeling en verspreiding van die Bantoe-taalgroep te rekonstrueer, is nog omstrede. Navorsing hieroor kan slegs op grond van die huidige vorms van die verskillende tale en dialekte gedoen word, aangesien hulle maar eers sowat 'n eeu gelede opgeteken is. Daar is egter algemene eenstemmigheid dat die Bantoe-taalgroep in die Kameroenstreek van Wes-Afrika ontstaan het.
In feitlik alle grafte uit die Ystertyd kry ons oorblyfsels van Negertipes, terwyl die oorgrote meerderheid van die grafte uit die Laat Steentyd Khoisan-tipes bevat. Wat Suid-Afrika betref, dui dit op die koms van 'n nuwe bevolking tydens die verspreiding van die Ystertyd, maar verder noord is dit nie so duidelik nie.
In dele van Midde- en Oos-Afrika is tipiese Ystertyd-terreine gevind wat sowat 2 000 jaar terug dateer. 'n Paar kan selfs nóg ouer wees en dateer moontlik uit omstreeks 400 v.C. Ystersmeltery en 'n dorpslewe was toe reeds gevestig en hoewel die oorblyfels van plante en dier meestal nie by die vindplekke bewaar gebly het nie, is dit byna seker dat daar ook gesaaides en veetroppe was. Die oorsprong van die Vroeë Ystertyd in Suider-Afrika moet dus in Midde- en Oos-Afrika gesoek word, al weet ons nog steeds nie hoe dié kultuur in hierdie streke tot stand gekom het nie.
Een ding lyk egterseker: hierdie kultuur was só 'n geslaagde leefwyse dat dit die gemeenskappe van die Vroeë Ystertyd op die uitgestrekte grasvlaktes van Afrika 'n groot voordeel gegee het bo die ander mense wat dié streke reeds bewoon het. Omgewingsuiterstes soos die ekwatoriale woude en die dorre noordooste is vermy, ek die leefwyse het suid versprei en binne 'n paar eeue Suider-Afrika bereik.
Dit is moontlik dat daar omstreeks 500 n.C. 'n tweede verspreiding plaasgevind het, deur Zimbabwe en nie langs die ooskus af nie. Ryk versierde erdewerk met veelvoudige bane wat in Natal en Transvaal ontdek is, stem ooreen met erdewerk uit dié tydvak in Zimbabwe.
Die gemeenskappe van die Vroeë Ystertyd het nie onbewoonde gebiede binnegetrek nie, want daar was reeds Steentyd-volke voor hulle: die Khoisan-jagter-versamelaars en, in sommige streke na die weste, ook herders. Die nuwelinge moes 'n sekere invloed op die ouer bevolking se leefwyse gehad het, maar dit lyk asof die verskillende volke 'n metode van saambestaan gevind het, want kunsprodukte wat tipies van die Steentydperk-groepe is, word dikwels op vindplekke uit die Vroeë Ystertyd opgegrawe.
In die Vroeë Ystertyd, tot omstreeks 900 n.C., was daar in Natal en 'n groot deel van Transvaal blykbaar min kulturele verskille tussen gebiede. Die betreklike ekonomiese onafhanklikheid van elke nedersetting dui ook op 'n aansienlike mate van politieke onafhanklikheid, en waarskynlik was daar slegs politieke organisasie op baie beperkte skaal. Groter politieke strukture of politieke mededinging het nog nie bestaan nie of was nog swak ontwikkel.
Die eerste tekens van 'n afwyking van dié patroon in die rigting van groter politieke en ekonomiese organisie kom omstreeks 800 n.C. in dele van die Limpopo-bekken voor, op terreine van die keramiektradisie van Toutswe in Oos-Botswana en die verwante Zhizo-tradisie in die verre Noord-Transvaal en Suid-Zimbabwe. By Toutswe-vindplekke word 'n hiërargie duidelik wat algaande opvallender word. Drie baie groot terreine kan as streeksentrums of selfs onafhanklike hoofstede beskou word. Rondom elk van hulle, en taamlik dig gekonsentreer, lê 'n aantal terreine wat effens kleiner is. Tussen dié terreine, en ook verder versprei, lê 'n groot aantal terreine wat nog kleiner is. Die enorme opeenhoping van verbrande beesmis, veral op die grootste terreine, dui op die ekonomiese waarde van beeste. Dit lyk asof die besit van groot veetroppe sommige enkelinge of gesinne in staat gestel het om oor veel groter gebiede as voorheen politieke mag uit te oefen.
Baie van die groter terreine lê op heuweltoppe, wat natuurlike beskerming gebied en prestige verleen het, soos Toutswe self, wat omring word deur kranse, met slegs twee maklike toegangsweë. Hierdie heuweltop-aanlegte staan in teenstelling met die voorkeur van die Vroeë Ystertyd-mense vir valleie.
Aan die Limpopo in Noord-Transvaal toon vindplekke van die Zhizo-tradisie, wat aan Toutswe verwant en omtrent ewe oud is, ook tekens van politieke en ekonomiese verandering. Veral van belang is die bewyse van ivoorbewerking op taamlik uitgebreide skaal en 'n klompie glaskrale wat waarskynlik uit Indië gekom het. Dit is die oudste bewyse van 'n langafstandhandel wat die binneland van Suider-Afrika met die handelstelsel van die Indiese Oseaan verbind het.
Beheer oor dié handel moes groot ekonomiese en politieke mag meegebring het. Die uitwerking daarvan is reeds by Zhizo-vindplekke van die 9de eeu merkbaar, maar van omstreeks 950 n.C, word dit veel duideliker op die K2-vindplek, ook aan die Limpopo, wat na alle waarskynlikheid die politieke hoofstad van 'n betreklik groot staat moes gewees het. Dié terrein lê in 'n dorre gebied wat soms deur tsetsevlieë geteister word, maar het desondanks 'n taamlike groot bevolking, moontlik 'n hele paar duisend mense, onderhou. Die groot getal ingevoerde glaskrale en bewyse van uitgebreide ivoorbewerking dui op 'n aansienlike handel.
In sommige opsigte kan K2 as 'n grootskeepse ontwikkeling van die belangrike Zhizo-vindplekke in dieselfde streek beskou word. In ander opsigte dui dit egter op 'n breuk met die verlede. Die erdewerkstyle van K2 is byvoorbeeld waarskynlik nie van Zhizo afgelei nie en dui reeds die begin van die Laat Ystertyd aan.
Die kultuurtradisie van Groot Zimbabwe
Die kultuurtradisie van K2 word onmiddellik gevolg deur dié van die merkwaardige Mapungubwe, slegs 'n kilometer daarvandaan. Onlangse navorsing toon dat dié vindplek 'n voorloper van Groot Zimbabwe was. Genoeg bewyse bestaan dat die ruïnes van Groot Zimbabwe en die kultuurtradisie wat daar en op baie verwante terreine in die naburige Botswana, Mosambiek en Noord-Transvaal gevind is, 'nYstertyd-tradisie verteenwoordig wat met die Shona in verband staan.
Dié tradisie kan in drie tydperke verdeel word, nl. die Mapungubwe-fase van 1050-1200, die Zimbabwe-fase van 1250-1450, en die Khami-fase vanaf 1450. In die laaste tydperk was verskeie Shona-dinastieë op verskillende tye aan die mag, en was die hele gebied nie altyd onder 'n enkele leier verenig nie. Nogtans was die skaal van politieke en ekonomiese organisasie klaarblyklik veel groter as tevore.
In Noord-Transvaal is daar 'n aantal kleiner nedersettings, deels van klip, wat tot later tydperke van die Groot Zimbabwe-tradisie - veral die Khami-fase - behoort. Hul grootte en die karigheid van oorblyfsels dui daarop dat hulle kortstondige provinsiale sentrums was van 'n staat noord van die Limpopo waarvan die mag tot ongeveer so ver suid as die Soutpansberge gestrek het.
Mapungubwe is die oudste terrein wat baie van die kenmerke van die sg. Groot Zimbabwe-tradisie vertoon. Soos in latere hoofstede was daar 'n "elite-buurt" op 'n heuweltop, en'n minder welvarende maar nogtans belangrike laer deel, die suidelike terras. Klipmure is minder opvallend as by latere terreine, maar het dieselfde doel, nl. om die beweging van voetgangers te beheer en om die prestige- en ander buurte af te baken. Hutstrukture is solieder as voorheen, en sommige het fyn afgewerkte verandas gehad.
Elders in Suid-Afrika het die koms van die Laat Ystertyd ook betekenisvolle veranderinge meegebring, maar blykbaar het die meeste gemeenskappe klein gebly en was hul ekonomie wesenlik op selfversorgende boerdery gebaseer. In sommige streke, soos Natal, was daar 'n skielike verandering in die styl van erdewerk wat met 'n breuk in die vroeëre patroon van vestiging saamval. In ander streke, soos Wes-Transvaal, was daar moontlik meer kontinuïteit.
Sommige navorsers verklaar dié veranderinge deur 'n groot migrasiegolf, uit òf die noorde òf die suide, maar ander moontlikhede as migrasie moet ook oorweeg word. So moes die veranderinge wat in die Limpopo-bekken plaasgevind het, bv. ook die naburige volkere geraak het.
In die Laat Ystertyd het die kultuurverskille tussen streke veel opvallender as tevore geword. Dit ged vestigingspatrone en style van erdewerk, boukuns, ystersmeltoonde, werktuie en versiersels. Die basiese elemente van die ekonomie van die Ystertyd, nl. gesaaides, veetroppe en metaalbewerking, kom nog steeds voor, maar bes moontlik was daar veranderinge in die organisering van bedrywighede in verband daarmee. 'n Tweede belangrike kenmerk van hierdie tydperk is trouens dat daar toenemende getuienis is van ekonomiese spesialisering, veral in metaalproduksie, deur sommige gemeenskappe. Spesialisering impliseer handel, want die produsent moet sy surplusprodukte vir ander artikels verruil.
Een van die grootste veranderinge tydens die Laat Ystertyd was die bevolkingsuitbreiding uit die bosveldgebiede na baie van die oop grasvlaktes van Suid-Afrika. Dié uitbreiding het teen 1300 begin, en teen omstreeks 1600 was uitgestrekte nuwe gebiede beset. Die grasvlaktes se grond en weiding is suur, en dit was dus miskien nodig om metodes vir die produksie van gesaaides en die hantering van veetroppe te wysig. Bowendien het die oop, wesenlik boomlose omgewing aanpassings by die gebrek aan brand- en bouhout nodig gemaak. Klip is in die algemeen as boumateriaal gebruik, en vandag nog kan duisende klipnedersettings onderskei word, veral uit die lug. Baie daarvan is só goed b ewaar dat hulle in groot detail gekarteer kan word, anders as die meeste van die bosveldnedersettings, wat grotendeels verdwyn het omdat hulle van hout en klei gebou was. Hoewel die styl van die nedersettings heelwat streekverskille toon, bestaan die dorpe van die Ystertyd uit dieselfde basiese strukture, nl. sirkelvormige veekrale en hutte. Dikwels was daar bykomende mure wat binnehowe vorm of die hele woning omsluit.
Die grootste nedersettings was dié van Wes-Transvaal en die Noordwes-Vrystaat. Hulle was ware groot dorpe, wat soms kilometers ver gestrek het. Sommiges was die hoofstede van Tswana-volkere soos die Rolong en Hurutshe tot so onlangs as 1800, terwyl ander weer heelwat ouer is. Hulle toon kenmerke wat eie is aan die historiese Tswana-volkere, soos rondawelhutte met verandas en soms selfs skuifdeure.
Verwante argeologiese vindplekke kan tot 1300 teruggevoer word naby Rustenburg in Wes-Transvaal aan die rand van die bosveld. Verskeie koninklike linies van die Sotho-Tswana voer hul oorsprong terug tot dié gebied die Magaliesberg (vernoem na Mogale, 'n vroeë heerser oor die Kwena-volk).
(Mielies was teen die 18de eeu 'n belangrike voedselbron op die grasvlaktes van die Natalse binneland, waarskynlik as gevolg van handelskontakte met Delagoabaai. Mielies het moontlik ook teen dié tyd, of 'n bietjie vroeër, na Oos-Transvaal versprei.)
Onder die platorand van die Drakensberge het 'n soortgelyke uitbreiding na die grasvlaktes van Natal, Transkei en Oos-Kaapland plaasgevind. Die vroegste getuienis hiervan kom uit die 13de-eeuse Natal, toe die beweging moontlik nog klein van omvang was, maar in die latere eeue was daar 'n digte bevolking in 'n groot deel van die gebied tussen die Drakensberg-platorand en die kus.
Reeds omstreeks 1000 n.C was nedersettings hier veel kleiner as in die Vroeë Ystertyd. Op die grasvlaktes het die meeste latere vindplekke - afgesien van 'n paar groot, beskermde heuweltoppe - uit slegs enkele betreklik verspreide wonings bestaan. Minder klip is gebruik as op die Hoëveld, en gewoonlik was die sentrale veekraal die enigste klipgebou, met 'n kring hutte op die oop grond daaromheen. Afgesien van die boumateriaal, was daar 'n paar ander verskille tussen die grasvlakte- en bosveldgebiede van Natal wat nedersettingspatrone betref. Op die grasvlaktes het die openinge van veekrale bv. berg op gewys en is die ingange met ronde klippe uitgelê, terwyl die openinge in die bosveld berg af gewys het en dikwels putte vir die opberging van graan bevat het. Die patroon van betreklik verspreide wonings om 'm sentrale veekraal is egter baie duidelik verwant aan dié van die Nguni-sprekende stamme, 'nskakel wat deur keramiekwerk en ander gebruiksvoorwerpe bevestig word.
Portugese skipbreukelinge het vanaf 1552 soortgelyke nedersettings naby die kus van Natal en Transkei beskryf. Uit hul verslae is dit moontlik om Nguni-sprekende volke in dié gebied te verbind met Tsonga-volke in die streek van ongeveer Richardsbaai tot Delagoabaai waar Portugese skepe reeds gereeld kom handel dryf het. Die Nguni-sprekende groepe was onder hoofmanne georganiseer in betreklik klein gemeenskappe, waarvan sommige uit slegs 'n paar dorpe bestaan het. Die skipbreukelinge beskryf die dig bevolkte gebiede as ryk aan beeste en landbouprodukte, hoewel sommige streke, veral na die suide, arm en yl bevolk was.
'n Belangrike vorm van interaksie tussen die gemeenskappe van die grasvlaktes en die bosveld was die handel, veral in metaalware, wat nie op die grasvlaktes geproduseer kon word vanweë die gebrek aan bome vir houtskool. In sommige van die riviervalleie van Natal en dele van die Transvaalse Laeveld het hele gemeenskappe in 'n groot mate afhanklik geword van mynbou en metaalproduksie.
Onder hul staalprodukte van hoë gehalte was harke vir grondbewerking en lemme vir spiese, messe, byle en skeermesse. Sagter yster is hoofsaaklik vir sierade soos armbande en krale gebruik. Geskikte ysterarts kom taamlik algemeen in dié gebied voor, en daar is getuienis van smeltwerk in baie van die bosveld-gebiede. Plaaslike tegnieke van metaalbewerking het ontwikkel en word weerspieël in verskillende style van werktuie en oondtipes, soos bv. die driehoekige oonde van Noordoos-Transvaal en die dubbele oonde van Natal.
Soos in die Vroeë Ystertyd het die reënval 'n grens aan uitbreiding in die droër westelike deel van die land gestel. Wes van ongeveer die 200-mm-somerreënvallyn is die reënval te wisselvallig vir gemeenskappe wat van gesaaides afhanklik is.
Dit het 'n natuurlike, ekologiese grens tussen die Ystertyd-gemeenskappe van die ooste en die Khoisan-jagter-versamelaars en -herders van die weste getrek. Daar was egter heelwat interaksie tussen die Yster- en Steentyd-volkere oor hierdie onsigbare grens heen, en dit het eers verander in die laat 18de en vroeë 19de eeu toe Blanke koloniste die binneland begin beset het. Ystertydgroepe het die land na die weste vir jagtogte en seisoenweiding vir hul veetroppe gebruik, terwyl Khoisan-enkelinge of -groepies dikwels vir 'n Ystertyd-gemeenskap gejag of vee opgepas het in ruil vir kos, tabak en ysterwerktuie.
Die heuwel Lolwe, by Phalaborwa, wat vandag deur moderne mynboubedrywighede vernietig is, was vroeër gerysmier deur ou kopermyne in die vorm van skagte, ingange en slote tot 'n diepte van 20 m of meer. Die mynwerkers van die Ystertyd het ysterbeitels en kliphamers gebruik en onder die grond vuur gemaak om die klip te breek. Houtskool van twee van die myne is met radiokoolstofmetode op 1 000 jaar of ouer gedateer.
Jare lank is algemeen geglo dat die gedrag van die volke van Afrika bepaal is deur gebruike en tradisies wat uit lank vervloë tye kom, dat hulle geen geskiedenis gehad het behalwe 'n sinlose reeks stamgevegte en opvolgingstwiste nie, en dat hul hede en verlede in só 'n mate ooreenstem dat dit aan die volkekundiges oorgelaat kan word. Tans besef historici egter dat die klem wat die Swartmense op gebruike en tradisies plaas, 'n natuurlike hulpmiddel is vir mense wat nooit hul politieke en regskodes kon neerskryf nie, en dat dit nie vernuwing verhinder het nie, maar self ook na gelang van veranderende omstandighede verander het.
Argeologiese vondste het reeds getoon dat die Bantoesprekende volkere van Suider-Afrika nie 'n onbesorgde, stomweg herhalende lewe gelei het nie, maar die geleenthede wat hul natuurlike omgewing gebied het, ten volle benut en kreatief en sensitief op die druk en moontlikhede daarvan gereageer het. Wanneer die ontstaan van politieke gemeenskappe in die Ystertyd beskou word, kom daar eweneens 'n beeld van dinamiek en verandering na vore.
Die Vroeë Ystertyd in Afrika is bepaal deur twee onderskeibare en teenstrydige prosesse, nl. segmentering en differensiëring.
Segmentering: uitbreiding deur onderverdeling
Segmentering is die proses waardeur 'n groep onderverdeel. In 'n gesinsgroep gebeur dit wanneer seuns grootword en die ouerhuis verlaat om hul eie gesinne te vestig. Hier is dit dus die gevolg van die normale lewensiklus van voortplanting en rypwording. In Suider-Afrika het 'n gebrek aan natuurlike hulpbronne gelei tot wydverspreide nedersettings wat deur bande van verwantskap en gevoel aan die ouers verbind was.
In die ouer geskiedskrywing is die Swart bevolkingsverskuiwings in Suid-Afrika gewoonlik beskryf as "Bantoe-migrasies" en met dik pyle op kaarte aangedui. Migrasie in die sin van 'n doelbewuste, gemotiveerde verskuiwing van woonplek het inderdaad voorgekom, maar is nie 'n gepaste beskrywing van die proses waardeur die grootste deel van Suider-Afrika deur Bantoesprekende Swartmense bevolk is nie.
Migrasie impliseer snelle beweging - maar argeologiese getuienis toon dat die verspreiding van die Swartmense in Suider-Afrika eeue geduur het. 'n Swerwerslewe sou ook teenstrydig gewees het m et die Ystertyd-volke se diepe gehegtheid aan hul woonplekke. Bowendien impliseer migrasie die bewoning van 'n plek uitsluitlik deur een duidelik omskrewe groep, terwyl die verspreiding van sekere volke in Suider-Afrika nie noodwendig die verdrywing van ander tot gevolg gehad het nie.
Segmentering, wat tot geleidelike verspreiding gelei het, was 'n moeilike proses wat nie deur individuele huisgesinne onderneem kon word nie, want bosveld moes skoongemaak, grond bewerk en waarskynlik ook vyande die hoof gebied word. Die kern van die meeste pioniersgroepe was die jaargroepe van jong mans wat hulle saam op die inlywing voorberei het in die besnydenisskole. Hierdie groepe, om hul bron van segmentering onder die Sotho, Tswana en Xhosa, en onder die Noord-Nguni was hulle die voorlopers van die beroemde jaarregimente van die Zulu.
Segmenterende groepe het ander mense nie uitgedryf nie. 'n Proses van inlywing het daarmee gepaard gegaan, en hoewel mededinging om water en weiding dikwels tot strooptogte en gewapende botsings gelei het, het handel, ondertrouery, militêre verbintenisse en onderlinge hulp in tye van droogte en hongersnood meer dikwels voorgekom. Die besit van begeerde goedere soos beeste was dikwels 'n doeltreffender middel tot heerskappy as beter wapens. Die antropoloog Monica Wilson het daarop gewys dat intrekkende familiegroepe wat ryk aan vee was, meer vroue kon bekkostig as 'n bestaande maar arm bevolking, en hulle dus ná 'npaar generasies maklik in getalle kon oortref. Die Xhosa het swakker groepe, soos hul Khoikhoi-bure, dikwels geabsorbeer, en onder die Sotho en Tswana het die swakker groep soms sy identiteit heeltemal verloor en die naam van die sterkere aangeneem.
Differensiëring binne groepe
Differensiëring is die proses waardeur sekere persone politieke, maatskaplike en ekonomiese mag oor ander bekom het. Onder die Swart volke van Suider-Afrika was daar minstens drie onderskeibare maatskaplike kategorieë, nl. hoofmanne, onderdane en kliënte. Hierdie kategorieë het ontstaan as gevolg van bepaalde historiese prosesse, maar omdat mondelinge tradisies hulle gewoonlik op hoofmanne en heersers toespits, is dit nie altyd moontlik om die evolusie van sosiale differensiëring binne 'n bepaalde meenskap na te speur nie. 'n Ondersoek na die sosiale, godsdienstige en ekonomiese aard van verwantskappe kan egter help om te verklaar hoe die verskillende maatskaplike kategorieë ontstaan het.
Die basiese maatskaplike en ekonomiese eenheid van alle Suider-Afrikaanse gemeenskappe was die huisgesin. Bahalwe in uitsonderlike gevalle, soos by gevorderde seniliteit, was die hoof van die gesin die oudste manlike lid. Hy het aansienlike mag gehad, veral in sake rakende die godsdiens, ekonomie en maatskaplike betrekkinge. Sy gesag - soos trouens die status van die ander mans in die gesin - is gebaseer op sy genealogiese senioriteit. Vroue en kinders het ook regte en verpligtinge gehad, maar die vroue is as ewig onmondig beskou en het geen formele stem in die sake van die gesin gehad nie.
Die bande van verwantskap het alle verwante huisgesinne omvat, en volwasse mans met noue verwantskapsbande het 'n geslagslyn uitgemaak. Die meeste mense kon hul geslagslyn nie verder terugvoer as die sewende of agtste generasie nie, maar hulle het elkeen met dieselfde familienaam, lofuitinge en (onder die Sotho-Tswana) totemdier as familie aanvaar. 'n Groep wat gemeenskaplike wedersydse verwantskap aanvaar het, het hulself as lede van dieselfde familiegroep beskou, hoewel daar nie in alle gevalle ware bloedverwantskap was nie. Vlugtelinge, getroue aanhangers, familielede van eggenotes, touens enige vreemdeling wat hom onder hulle kom vestig het, kon uitgenooi word om by die familiegroep aan te sluit. By sommige volke het die hoofskap van 'n familiegroep die regte en voorregte van volle hoofmanskap meegebring, maar by ander was dit net in rituele en in die godsdiens van belang.
Hoewel byna alle Suider-Afrikaanse volke geglo het in 'n Oppergod wat die wêreld geskape het sodat alle mense gelukkig kan wees en in oorvloed lewe, het die mense hulle vir hulp en beskerming teen booshede en bonatuurlike magte tot hul voorvaders gewend. Die mag van die hoof van die geslagslyn of familiegroep (die oudste seun van die oudste linie, en dus die naaste lewende skakel met die half-mitiese stigter van die familiegroep) is onmeetlik vergroot deurdat hy só na aan die voorvaders gestaan het. Dit het hom die reg gegee om deur middel van offergawes in verbinding met die voorvaders te tree.
Die gesinshoof se ekonomiese oorheersing het gespruit uit sy rol as brug tussen die gestorwe en lewende generasies. As erfgenaam van sy gestorwe vader het hy die opgehoopte rykdom van sy voorsate geërf, en op sy beurt sou hy dit aan sy seuns nalaat. Hy het die reg gehad om arbeidsake onder sy huisgesin te verdeel en die gebruik van grond en beeste toe te ken soos hy dit goedvind, en só is aaneenlopende ekonomiese bande oor die generasies heen deur hom tot stand gebring.
Van gesinshoofde tot hoofmanne
Die mag van die gesinshoofde was die grondslag van die instelling van hoofmanne, wat só ver terugdateer dat dit sinloos sou wees om te spekuleer oor wanneer dit ontstaan het. In 'n gemeenskap wat op 'n verwantskap-grondslag georganiseer was, was die kiem van hiërargie en oorheersing deur senior lede duidelilk aanwesig, en 'n hoofman het bloot die funksies van die gesinshoof op groter skaal uitgeoefen. Die meeste Swart volke verklaar die verhewe posisie van hul hoofmanne deur die aanspraak dat hulle die nasate is van die stigter van hul familiegroep, hoewel die verdeling en samesmelting van groepe deur segmentering en inlywing die saak natuurlik ingewikkelder maak. Dit was waarskynlik 'n kombinasie van die behoefte aan territoriale gesag, gepaard met 'n verwantskaporganisasie met sy wortels in die verering van die voorgeslagte wat gelei het tot die ontwikkeling van die territoriale hoofmanskap, wat oral by die Bantoesprekende volke aangetref is.
Die hoofmanskap was 'n stelsel van oorerflike oordrag van mag waarin geglo is dat die heersersreg deur bloed oorgedra word. Dit het die gemeenskap in twee stande verdeel, nl. hoofmanne van koninklike afkoms, wat bestem was om te heers, en die gewone mense of onderdane, wat nie na 'n posisie van gesag kon streef nie, hoe knap hulle persoonlik ook al was. Die hoofmanne kon skattings hef en hul onderdane vir werk aan koninklike geboue en landerye kommandeer. Hulle kon van enige gesinshoof gasvryheid vir hulself en hul gevolg opeis en selfs op sy dogters aanspraak maak. Deur hul beheer oor die regswese kon hoofmanne beskuldigings van toordery en die erfreg manipuleer omop die beeste van ryk onderdane beslag te lê.
Waarom het die onderdane nie teen sulke tirannie in opstand gekom nie? Ten eerste het hulle geglo dat hulle sterk gesagsfigure nodig gehad het vir regspreking en omdie geeste van die voorvaders aan te roep, hulle teen hul vyande te beskerm en die las van voedselverkryging in noodtye te dra. Hulle het nie verwag dat dié gesagsfigure minsame manne moet wees nie. Inteendeel, hulle was ten gunste van hoofmanne met die geslepenheid, towerkrag en majesteit wat nodig was om hul vyande te oorwin en alles na hul wil te buig. Die hoofmanne het op hul beurt sorgvuldig die beeld bevorder dat hulle enersyds magtig en vreesaanjaend is, m aar andersyds vaders van hul volk en die beskermers van hul wonings en veetroppe.
Ten tweede was die gesinne van hoofmanne in ewe groot mate vatbaar vir die segmenterende invloed van mededinnging tussen broers as ander gesinne. Waarskynlik was die druk hier selfs nog groter, want die voordele was soveel groter. Opvolgingswette is selde stip nagekom, en in opvolgingstwiste het broer teen broer gestry, terwyl moeders en ooms tot voordeel van hul kandidate gekonkel het. Die meeste botsings oor die opvolging was nie bloedig nie en is vreedsasam besleg deurdat die verloorder weggetrek het om sy geluk elders te gaan soek. Die segmentering van die gesinne van hoofmanne het dus 'n situasie geskep waaruit die onderdane ook voordeel kon trek, want voor die koms van die vuurwapens is die mag en aansien van 'n hoofman deur sy getal volgelinge bepaal. Voor 1800 het geen hoofman 'n staande leër gehad nie en was hy aangewys op sy onderdane se vrywillige instemming om sy opdragte uit te voer. 'n Hoofman moes dus sy volgelinge tevrede hou. Verstandige hoofmanne het dus hul onderdane geraadpleeg, hetsy formeel soos in die pitso (algemene vergadering) van die Sotho-Tswana, of informeel. In albei gevalle het hy hom gewoonlik deur die heersende stemming laat lei. Die onderdane kon selfs hoofmanne teen mekaar uitspeel en so 'n beter bedeling vir hulself verkry. Wanneer die hoofmansklas egter daarin kon slaag om hul geskille te bowe te kom en saam te staan, kon die onderdane hulle nie manipuleer nie, soos tydens Shaka se bewind in Zululand gebeur het.
Kliëntskap was 'n byna universele stelsel waarvolgens 'n arm man onderneem het om vir 'n hoofman of ryk man te werk in ruil vir vergoeding. Dit het verskillende vorms van arbeidseksploitering omvat, van vrywillige, tydelike diens tot 'n vorm van permanente diensbaarheid wat min van slawerny verskil het. 'n Man wat beeste nodig gehad het, kon bv. 'n 'n hoofman of ryk man nader en vra om beeste by hom te leen. As kliënt was sy vernaamste verpligting om dié vee te versorg. In ruil daarvoor het hy die melk gekry en kon hy sommige van die kalwers hou. Sodra hy die beeste terugbesorg het, was sy kliëntskap beëindig.
Kliëntskap in 'n drukkender vorm was gewoonlik die nasleep van onteiening en migrasie. Selfonderhoudende vreemdelinge met eie beeste is gewoonlik deur hoofmanne verwelkom, maar die hoofmanne was minder welwillend wanneer dit 'n groot groep vreemdelinge met leë hande was. Wanneer sulke bedelaarsgroepe bowendien ander gewoontes gehad of van ver gekom het, het die kliëntskapverhouding dikwels 'n etniese kleur gekry. Dit kan geïllustreer word aan die hand van die 19de-eeuse Mfengu-vlugtelinge van Oos-Kaapland. Die Mfengu het verspreid onder die Xhosa as herders gewoon, en hul Xhosa-meesters het hulle as knegte eerder as kliënte behandel. Wanneer 'n Mfengu egter metsy eie besstein syeie woninggevestig geraak het, was hy die volle gelyke van enige Xhosa-gesinshoof, bv.voor die reg of in huweliksake. In sulke gevalle was kliëntskap 'n oorgangstadium op die pad navolle lidmaatskap van die gasheer-gemeenskap.
Die ergste vorm van arbeidseksploitering was die botlhanka-stelsel van die Tswana. Botlhanka-kliënte was gewoonlik jong kinders wat in oorloë gevange geneem is en wie se ouers nie 'n losprys vir hulle betaal het nie. Die status was permanent en oorerflik. 'n Motlhanka het geen politieke regte gehad en geen gelyke toegang tot die howe geniet nie. Hy kon nie vaste eiendom verkry nie en het saam met sy meester se ander goedere na sy erfgenaam oorgegaan. Hierdie strawwe stelsel kan moontlik verklaar word deur die onherbergsaamheid van die Tswaba se omgewing, wat die vrye beweging van mense belemmer het en meer manlike arbeid geverg het as wat gewoonlik op 'n vrywillige grondslag beskikbaar was.
Verwysings na Swartmense as selfversorgende boere wek die indruk dat hulle min handelsbelange buite die mielieland en die veekraal gehad het. Daar is egter oorvloedige getuienis dat handelsroetes Suider-Afrika reeds in die prekoloniale tyd deurkruis het. Die aansporing was die oneweredige verspreiding van minerale in Suider-Afrika en die metaalbewerkers se onversadigbare behoefte aan beeste. Bowendien het die lewendige vraag na tabak en dagga onder die Khoisan-groepe wat nie die landbou beoefen het nie, die grondslag gelê vir 'n flinke en voordelige uitruil van goedere.
Die ouer geslag geskiedskrywers is geboei deur vrae soos waar die Bantoesprekende volke van Suider-Afrika vandaan gekom het, waar hulle die Limpopo oorgesteek het, wanneer die "Sotho" van die binneland en die "Nguni" van die kusstrook van mekaar afgetak het, en so meer. G.M. Theal en G.W. Stow het geglo dat Suider-Afrika bevolk geraak het deur opeenvolgende immigrantegolwe uit Oos-Afrika, terwyl A.T. Bryant van mening was dat vroeëre migrasies van volke afgelei kon word deur hul woonplekke in later tye te bepaal. Sulke terugwerkende rekonstruksies is egter nie meer aanvaarbaar nie, en dit is ook misleidend om 'n bepaalde kultuuraspek met 'n besondere etniese groep in verband te bring, aangesien volke gedurig idees, instellings en selfs taalkenmerke uitgeruil het. Bowendien het die ouer geslag geskiedskrywers gefouteer in hul aanname van vinnige migrasie van duidelik onderskeibare etniese groepe, in plaas van die stadige verspreiding van segmenterende geslagslyne wat ander inlyf en akkultureer.
'n Kulturele kaart van Suider-Afrika in die vroeë 19de eeu lyk op die oog af eenvoudig. Die Nguni was aan die kus gevestig, en die Sotho-Tswana op die binnelandse plato. Die Venda van die Soutpansberg het later van êrens noord van die Limpopo aangekom, en die Tsonga van Delagoabaai. Dit is egter misleidend, want die oorheersing van die plato deur die Sotho-Tswane het op 'n vroeëre besetting deur die Nguni gevolg, waarvan die Transvaalse Ndebele die belangrikste oorblyfsel was, terwyl die Shona-verwante kultuur van die Venda nie van elders gekom het nie, soos die argeologiese terreine by Mapungubwe en Bambandyanalo bewys. Later het die Nguni Sotho-groepe geabsorbeer, en die Tsonga is lank voor hul vertrek van Delagoabaai reeds deur die kultuur van die Shona en Sotho beïnvloed. Oerinwoners soos die Khoisan en die volk wat in die oorlewering bekend staan as die Ngona, het ook hul invloed uitgeoefen, en dit word dus effens belaglik om die "suiwer" Sotho en Nguni te probeer opspoor. Daarom is dit verkieslik om van streek tot streek te beweeg eerder as van groep tot groep.
Die binnelandse plato
Die wisselvallige reënval op die Hoëveld en die ongelyke verspreiding van grond- en grassoorte het meegebring dat gemeenskappe in dié streek beheer oor 'n taamlike groot gebied nodig gehad het om verseker te wees van voldoende natuurlike hulpbronne. Hierdie omgewingsfaktore het by die Sotho-Tswana gelei tot 'n vestigingspatroon van groot nedersettings in die middel van gemeenskaplike weiveld met landerye daartussen. Sommige Tswana-nedersettings het soveel as 15 000 inwoners gehad en was nie om 'n enkele sentrum gebou nie, maar het uit 'n aantal selfstandige dorpe of "wyke" bestaan. Die Thlaping-hoofstad, Dikathong, het nie minder nie as dertig wyke gehad. 'n Tipiese Tswana-dorp het bestaan uit die meerderheid van die wyke onder die gesag van die hoofman en sy ooms, broers en seuns, maar met wyke onder vlugteling-hoofmanne en ou geslagslyne wat voor die koms van die heersersgeslag reeds daar gewoon het.
Die belangrikste reg van die Tswana-hoofman was die besluit oor wie in sy gebied mag woon en die toedeling van grond. Hy was die voorsitter van die dorpshof en het die meeste van sy inkomste uit boetes verkry. Hy het ook die reg gehad om jaargroepe vir oorlog of georganiseerde veestrooptogte op te roep.
Om redes wat nog steeds onduidelik is, het sekere Nguni-familiegroepe voor 1600 begin om hul mag uit te brei en naburige familiegroepe te onderwerp en in te lyf. Die bekendste voorbeeld is dié van Tshawe, wat die Xhosa-ryk gestig het deur die Cirha- en Jwarha-familiegroepe te verslaan. Ná dié oorwinning is die Tshawe-geslaglyn as konings gevestig, en Tshawe se nasate het die koninkryk nog verder uitgebrei deur elke opeenvolgende geslag jong hoofmanne uit te stuur om hulle in nuwe gebiede te vestig en verder familiegroepe onder hul beheer te bring. Oos van die Kei het die Hala-, Nyawuza- en Majola-familiegroepe onderskeidelik die Thembu-, Mpondo- en Mpondomise-ryk gestig.
Grootskaalse politieke eenhede het dus minstens 150 jaar vroeër in die suidelike as in die noordelike Nguni-gebied ontstaan. Die suidelike Nguni-ryke kon egter nooit die probleem van segmentering van die koningsgeslag oplos nie. Gevolglik was hul ryke groot maar swak, en hul heersers slegs konings in naam, sonder mag of werklike beheer oor die lewe van hul onderdane. Eers in die 19de eeu sou Shaka in die noorde van die Nguni-gebied die probleem van segmentering oorkom en 'n hiërargiese staat tot stand brng waarin die beginsel van differensiëring tot sy logiese uiteinde deurgevoer is.
Die noordooste
Tot baie onlangs is aanvaar dat die Venda-volk van Shona-oorsprong was en dat dit deur die Singo-familiegroep aangevoer is, wat omstreeks die begin van die 18de eeu oor die Limpopo na Transvaal sou getrek het. Onlangse navorsing toon egter dat daar reeds lank voor die Singo-invalle - wat eers ná 1730 plaasgevind het - 'n kern in die vorm van 'n onderskeibare groep met spesifieke Venda-kenmerke ten opsigte van godsdiens, taal en maatskaplike organisie bestaan het. Hierdie vroeë voorlopers van die Venda was in die staat Thovela georganiseer, wat bestaan het uit 'n aantal etniese groepe, met inbegrip van die Steentyd-Ngona en verskeie voor-Singo-Shonagroepe. Hulle het met klip gebou, goud, koper en tin ontgin, vir ivoor gejag en handel gedryf met die Lemba, verstrooide afstammelinge van die Moslem-handelaars wat tussen die stadstate van Oos-Afrika en die Zimbabwe-plato beweeg het.
Die Singo was 'n afdeling van die Changamire Rozvi van Zimbabwe, wat oor die Nzhelele-vallei, 'n natuurlike poort deur die Soutpansberg, die Limpopo oorgesteek het. Hul hoofman Thoho-ya-Ndou (Kop van die Olifant) het sy hoofstad Dzata genoem, na die voorvaderlike woonplek van die Singo noord van die Limpopo. Hy was die grootste heerser in die geskiedenis van die Venda, maar volgens oorlewering het hy, gekrenk deur die naywer van sy broers, op 'n dag eenvoudig verdwyn. Die Venda-staat het uiteengeval, en die segmenteringsbeginsel het weer eens geseëvier.
Shona-invloed is ook duidelik merkbaar by die Lobedu noord van Tzaneen, wat basies Sotho is. Hul ryk is na bewering gestig deur Dzugudini, die dogter van 'n Shona-hoofman wat met haar buite-egtelike seuntjie gevlug het van haar vader. Moontlik was daar egter reeds voor die koms van Dzugudini 'n Lobedu-staat-inwording in dié streek. Die merkwaardige maatskaplike struktuur van die Lobedu is te wyte aan die chaos wat die bewind van koning Mugodo "die Uitgeworpene" gekenmerk het en wat uiteindelik daartoe gelei het dat hy deur sy dogter Majaji (Modjadje, die legendariese reënkonining van die Lobedu) vervang is. Sedertdien heers koninginne oor die Lobedu. Hul mag was gedeeltelik afhanklik van die rol wat hulle in die reënkultus gespeel het en gedeeltelik van 'n ingewikkelde stelsel van uitruiling van eggenotes.
Betreklik min is bekend oor die geskiedenis van die Tsonga, die talrykste volk van die noordooste. Hulle het blykbaar uit die gebied om Delagoabaai gekom, en hul oorlewerings dui op uiteenlopende oorspronge, waaronder Sotho- en Shona-invloede. Reeds so vroeg as die 16de eeu was daar groot state in Mosambiek onder die Rjonga Tsonga, met die koninkryk van Tembe as die belangrikste. Die Tsonga was handelaars wat met hul kano's tot 500 km ver die Limpopo- en Nkomati-riviere opgevaar het om met die Venda, Phalborwa en Sotha handel te dryf in goud, yster, koper, ivoor, renosterhorings, pelse, materiaal en krale.
Nuwe ontwikkelinge versterk die hoofmanne
Die volgende Sotho-teks deur M.F. Mamedi is in die dertigerjare deur N.J. van Warmelo opgeteken. Dit vertel hoe 'n Tsonga-groep begin het om koper by Musina (Messina) te ontgin.
Die mense van Musina het uit die ooste verskyn en na Phalaborwa gekom .... daar sê hulle: "Jong mans, versprei en soek 'n plek waar koper gevind kan word..." Toe het Nkopetsekwa se mense dit by Groot Musina gevind. Hulle het verder gegaan en nog 'n myn gemaak by Mpedi. Daarna het hulle nog 'n myn gemaak by Klein Mpedi, 'n ander koppie.
Die mense van Musina het hamers en koevoete en blaasbalke met hulle saamgebring. Die koevoet was om mee te grawe en is van 'n stuk yster gemaak wat in die punt van 'n stok ingedruk is. Die blaasbalk is van die vel van 'n koei of wildsbok gemaak. Hulle het ook baie lang leerrieme gevleg wat nie gebreek het nie. Hulle het 'n groot mandjie gemaak en die rieme daaraan vasgemaak, en die seuns van Musina het in die mandjie geklim en in die skag afgegaan. Daar het hulle die koper uitgehaal by die lig van kerse van die blare van die mokx- ötë-boom. Die meisies het die blare van die mopanieboom bymekaargemaak om mee vuur te maak.
Hulle het die erts in die velle van rooibokke, vuffels of wildebeeste na die oppervlak gebring. Hulle het die koper in die vorm van klippies of stof uitgebring. Die klippies het hulle dan met hamers oopgebreek en in wanmandjies gesit. Hulle het dit gewan en die stof verwyder, sodat slegs die koper oorbly, wat hulle in smeltkroese geplaas en verhit het...