Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne
Dit was die woorde van 'n Louw Wepener aan sy burgers - woorde wat hy teen sonsondergang op 15 Augustus 1865 teen die hange van Thaba Bosiu met sy lewe sou vervul.
Met die totstandkoming van die Vrystaatse Republiek op 23 Februarie 1854, toe die Britse owerheid die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier aan die oorspronklike blanke inwoners teruggegee het, is die grens tussen opperhoof Msheshwe (Mosjesj) en sy onderhorige Basoeto-kapteins nooit na behore vasgestel nie. Van sy eerste bestaansjaar sou die jong Republiek te worstel hê met grensoorskryding, aanhoudende veediefstalle, eiendomsbeskadiging en selfs moord. Die bodem van die staatskas was altyd sigbaar. Iets soos 'n weermag was daar nie en die burgers was bra onwillig om gedwonge of vrywillige kommandodiens te lewer.
Toe die eerste staatshoof, pres. J.P. Hoffman, Msheshwe sonder toestemming van die Volksraad 'n vaatjie kruit skenk om sy goedgesindheid te verseker, het dit soveel opslae veroorsaak, dat hy genoodsaak was om te bedank. Die bekwame pres. J.N. Boshof is in sy plek verkies. Terwyl hy besig was om 'n ordelike staatsadministrasie op die been te bring, sou hy aan die een kant te doen hê met 'n hewige agitasie om die Vrystaat weer by die Kaapkolonie ingelyf te kry, en aan die ander kant met Msheshwe en sy Basoetovolk, wat die neergelegde grense nie wou eerbiedig nie.
Ná al die onderhandelinge en vele mooipraat het pres. Boshof en die Volksraad se geduld opgeraak. In Maart 1858 is teen Msheshwe en sy kapteins oorlog verklaar.
Ten spyte van 'n proklamasie van die Britse Siviele Kommissaris van Aliwal-Noord, John Burnet, wat die koloniste met 'n swaar boete en tronkstraf verbied het om die Vrystaters in enige opsig in hul stryd teen die Basoeto by te staan, het Wepener daar en dan besluit om gewapend die toestand in die suidelike dele van die Vrystaat te gaan verken. Ná 'n kort besoek is hy terug na sy plaas, om binne 'n week met 'n wa, tent, wapens, ammunisie en 'n voorraad voedsel by die Vrystaatse kommando's op te daag. Aktiewe deelname is hom ontsê, want kort daarna is 'n wapenstilstand gesluit.
Reeds tydens die Agste Grensoorlog het Louw Wepener met die Britse koloniale beleid van gelykstelling tussen die Kaapse pandoere en die blankes van nader kennis gemaak. Dit sou hom egter grief en toe die blankes in 1854 hul eie republiek in die Vrystaat tot stand bring, het sy hart daarheen begin trek. Herhaalde kere sou hy die Vrystaat besoek en hul republikeinse staat het by hom al hoe meer byval gevind. Wat die Vrystaters van die Basoeto te verdure gehad het, het tydens en ná die Eerste Basoeto-oorlog die skaal laat oorhel om daarheen te verhuis, maar die finale besluit sou nog 'n ruk lank uitbly.
'n Paar maande later koop hy vir ongeveer £4 500 die plaas "Heidelberg" wat voorheen deel uitgemaak het van die gronde van kaptein Lepui waarop ook 'n sendingstasie van die Paryse Sendinggenootskap gestaan het. Die plaas lê net noord van die dorp Bethulie, wat kort daarna gestig is, maar Wepener sou die plaas tot "Constantia" herdoop. 'n Jaar of wat later sou hy ook die aangrensende plaas, "Moordenaarspoort", vir ongeveer £2 600 aankoop. Wepener se lot as boer was nou volkome by die Vrystaat ingewerp.
Die Traktaat van Aliwal-Noord, wat in 1859 deur bemiddeling van die goedgesinde Kaapse goewerneur, sir George Grey, tussen die Oranje-Vrystaat en opperhoof Msheshwe gesluit is, het die grensgeskille tussen die twee state nie opgelos nie. Msheshwe sou niks doen om sy onderhorige kapteins en onderdane teen te gaan om die Vrystaatse burgers van hul vee te beroof, gesaaides te plunder, eiendom te vernietig, moord te pleeg en groot stukke grond te beset nie.
Die nuwe staatshoof, pres. T.N. Brand, was vasbeslote om die Basoeto-vraagstuk eens en vir altyd op te los sodat die Vrystaat in rus en vrede tot 'n modelstaat kon ontwikkel. Hy het hom eers tot die Kaapse goewerneur, toe sir Philip Wodehouse, gewend om opnuut die grenslyn tussen die Vrystaat en Basoetoland te kom aanwys. Msheshwe is ernstig vermaan om sy onderdane in toom te hou en die grond wat hulle onwettig beset het, te verlaat. Toe die Kaapse goewerneur se vermaninge in die wind geslaan is, is pres. Brand geen ander keuse gelaat as om oorlog te verklaar teen die Basoeto nie.
Die Vrystaatse militêre organisasie was dié keer behoorlik vir gebeurlikhede voorberei. Die kommandowet het bepaal dat elke distrik sy eie kommandant uit die weerbare mans tussen sestien en sestig jaar moet kies. Kmdt. Gert Venter, kommandant van die distrik Bethulie, was egter met 'n vrag wol na Port Elizabeth toe landdros S.P. de Beer van Bethulie opdrag gekry h et om 150 burgers op te roep.
In opdrag van die landdros kom die gekommandeerde bugers van Bethulie op die plaas "Klein Bloemfontein" bymekaar. Tesame met belangstellendes was daar sowat 350 aanwesig. Onder die belangstellendes was Louw Wepener om vir sy twee opgekommandeerde seuns, Frederik en Lourens, die nodige te voorsien. Die landdros beveel toe die burgers om in afwesigheid van Venter 'n waarnemende kommandant aan te wys. Toe Wepener aanbeveel is, is dit met luide toejuiging begroet, maar sy seun, Frederik, stel toe - waarskynlik op aandrang van sy vader - 'n sekere Henning Joubert voor. Hierop laat landdros De Beer 'n streep op die grond trek en versoek al die burgers om aan die suidekant daarvan te staan. Die opdrag was toe dat almal wat vir Wepener as kommandant was, na die noordekant van die lyn moes oorstap. 'n Groot gejuig het weer opgegaan en die burgers het mekaar letterlik verdring om oor die lyn te stap. Niemand het aan die suidekant bly staan nie. Louw Wepener is eenparig tot waarnemende kommandant verkies.
Hierop klim hy op 'n wa en rig tot hulle die woorde wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal en waarvan die slot in die oorspronklike Hollands herhaal word: "Ik zal u in gevaarlijke plaatzen niet toeroepen 'gaat', maar 'komt aan'. Gij moet u dapper gedragen en indien wij in 's vijands land moet sterven, dan moeten wij sterven als h elden en niet als lafaards."
Binne 'n uur nadat hy tot kommandant verkies was, was die 150 burgers in die saal en op pad na hul bestemming. Twee dae later sou Louw Wepener by die afdeling op pad na Letsoane aansluit. Terwyl nog by die kommando teen Letsoane was, is oorlog teen Msheshwe verklaar. In die stryd wat voorgelê het, was daar vir 'n Louw Wepener nie meer iets soos omdraai nie.
By Korannaberg is besluit om die Vrystaatse strydmag in drie te verdeel. Hoofkmdt. Fick sou met kommando's die sentrale deel van die grens dek om die distrikte Winburg en Bloemfontein te beskerm.
'n ander afdeling onder kmdt. C. de Villiers sou noordswaarts na die distrikte Bethlehem en Harrismith beweeg, terwyl dit kmdt. Wepener se taak was om na die suide die distrikte Smithfield en Bethulie te beskerm. Ook vanuit hierdie rigtings moes Basoetoland ingeval word en soos tydens die vorige oorlog by Msheshwe se hoofstat en vesting, Thaba Bosiu, verenig met die oogmerk om dit in te neem.
Hierdie reëlings is deur pres. Brand getref en het onderskeidelik De Villiers, Fick en Wepener as h oofkommandante van hul afdelings aangewys.
Terwyl Wepener van Korannaberg op pad na Bethulie was om gou 'n draai by sy plaas te gaan maak, het Poshuli en Morosi op 20 Junie met hul inval in die distrikte Caledonrivier en Bethuli begin. In die proses is dertien blankes vermoor en meer as honderduisend skape en 'n groot getal beeste en perde weggevoer. Soortgelyke invalle het in die distrikte Bloemfontein, Harrismith en Winburg plaasgevind.
Noordwaarts is die invallers afgesny en die gebuite vee weer teruggehaal, meer in die suide het die krygers van Pshuli en Morosi, ten spyte van opgestelde wagte langs die grens, daarin geslaag om met hul groot buit weg te k om. Die kommandant van die Smithfieldse afdeling wou egter nie toelaat dat die burgers deur die Caledonrivier trek om die vee te gaan terughaal nie.
Dit het groot ontevredenheid veroorsaak. Daar was byna oproer in die Smithfield- en die Bethulie-laer en landdros De Beer van Bethulie moes hom soontoe haas om die orde te herstel. Sy poging het egter misluk. Op pad terug na Bethulie kom hy kmdt. Wepener teë, wat juis op pad na sy plaas was. Die volgende dag haas Wepener hom na die laer, waar hy met groot vreugde deur die burgers begroet word. Met sy aankoms is die orde en vertroue spoedig herstel, want hulle was oortuig dat daar nou 'n m an in die laer was wat tot die aanval sou oorgaan.
Wepener was nie iemand wat gras onder sy voete laat groei nie. Daar is dadelik voorbereidings getref vir 'n inval in Basoetoland. Op 10 Julie is Louw Wepener opnuut deur die burgers eenparig tot hoofkommandant oor die kommando's van Philippolis, Bethulie en Smithfield verkies. Dit het hom aan die hoof van byna 700 burgers geplaas. Hy het ook nog die steun gehad van die Smithfieldse Vrywilliger-Artilleriekorps met 'n kanon, "Ou Grietjie", onder bevel van Robert Finlay, en sowat 190 Fingo's onder Lukas en Massyn wat hul lot by die Vrystaat ingewerp het.
Wat veral in Wepener se laer opgeval het, was sy aandrang op orde. Sy skerpe oog het alles raakgesien en hy het elke leemte of gebrek in die organisasie ontdek. Die laer se beweging na die grens is ook deur hom gereël. Voordat die laer vir die nag kamp opslaan, het hy verkenners uitgestuur om driwwe na te sien en 'n geskikte kampplek te soek. Gewoonlik is om die kamp 'n sooiwal opgewerp waaragter tydens 'n onverwagte aanval skuil gehou kon word. Wepener het gewoonlik self daarmee gehelp en in geen stadium van sy burgers iets geëis wat hy nie bereid was om self te doen nie. Ook die wagte op die grens is behoorlik georganiseer en 'n kommandant is oor hulle aangestel.
Van die vyand het sestig gesneuwel. Aan die Vrystaatse kant is een Fingo gedood en twee burgers en twee swartes gewond. Meer as 500 beeste, 4 500 skape en 150 perde is buitgemaak. Wat Wepener ontstel het, was dat 'n aantal swart vroue en kinders ook in die geveg gedood is, maar dit was onvermydelik omdat hulle saam met die vegtende krygers in die skeure skuiling gehou het.
Daardie middag het die burgers eenparig 'n voorstel van kmdt. Finlay aanvaar om hul dank aan hul generaal, Louw Wepener, te betuig vir die wyse waarop hy die geveg hanteer en gelei het.
Van Vegkop, soos Poshuli se vesting voortaan bekend sou staan, het die kommando na Kornetspruit voortbeweeg, waar laer opgeslaan is. Wepener se strategie was om vir sy laer 'n goeie en veilige standplaas uit te kies en dit as basis te gebruik vanwaar sy manskappe te perd uittrek om vinnige strooptogte in die vyandige gebied uit te voer. Op onverwagte plekke slaan hy toe, net soos genl. C.R. de Wet dit 35 jaar later met sy kommando's sou doen. Vanaf Kornetspruit is lilnks en regs geslaan en verskeie statjies van Poshuli en Morosi verniel. Diegebied tussen die Oranje- en die Caledonrivier is gaandeweg skoongevee en die Basoeto-krygers het in die rigting van Thaba Bosiu begin uitwyk.
Uiteindelik het Wepener se mag voor Letsea se stat te staan gekom. Die mans het dié stat verlaat, maar hulle op die berg teenaan die stat gaan verskans. Vroeg die oggend van 31 Julie ry Wepener, soos gewoonlik voor aan, met sy manskappe die nou voetpad teen die berg uit. byna bo teen die berg uit, was sy beroemde bevel, nie "Storm!" nie, maar "Volg my!"
Die geveg onder Wepener se heldhaftige leiding het feitlik die hele dag geduur, maar teen sononder was die vesting verower. Die buit bo-op die berg was só groot, dat die opgawes daarvan verskil. Een bron meld dat 13 000 beeste, 12 000 skape en bokke en 1 250 perde aangekeer is, diere wat meestal voorheen van die Vrystaters beroof is.
Reeds voor die aanval het Wepener Fick gevra of dit moontlik was om langs die voetpad tie top van die berg te bereik, waarop Fick geantwoord het dat hy op grond van goeie inligting "ja" kan antwoord. Louw Wepener het tydens die slag sy opdrag knap uitgevoer, maar die opdragte is gewysig sodat sy manskappe ook by die direkte bestorming van die berg betrokke was. Geweldige rotse het die sogenaamde voetpad versper en omdat die burgers wat die berg moes bestorm, weinig ondersteuning ontvang het, het die moed ontbreek om tot op die rotse te klim, soos enkeles wel gedoen het. Al genade was om van die berg terug te val.
Wepener se afdeling het die swaarste gely. Onder sy mense was daar tien gewond. Toe die kommando's teen 2 nm in die laer aankom, het Wepener kmdt.-genl. Fick sterk aangespreek oor die blinde voetpad, waarop hy kortweg geantwoord het: "Dan was ek verkeerd geïnformeerd."
Die gebrek aan dissiplilne en ondersteuning het die burgers hul eerste nederlaag in die oorlog laat ly. Dit het die krygers van Msheshwe met nuwe moed vervul en toe pres. Brand die volgende dag in die laer aankom, het dit hom al sy moeite gekos om die burgers moed in te praat en hulle daarop te wys dat die Vrystaat nooit rus en vrede sou hê solank die Basoeto's ongestraf bly nie.
Van die aanval op die berg is voorlopig afgesien en kommando's is uitgestuur om oral in die klowe van die Maluti-berge van die vyand se vee te gaan bymekaar maak. Hoewel Wepener daarteen gekant was omdat hy van oordeel was dat Thaba Bosiu eers verower moet word, het hy tog daaraan meegedoen.
Soos by 'n vorige geleentheid sou Wepener weer hier deur 'n oënskynlike nietige maar sprekende daad toon watter edele hart hy in hom omgedra het. Voorheen, ná die bestorming van Vegkop, het hy twee ronddolende Basoeto-klonkies in die veld aangetref en sy eie rantsoen aan hulle afgestaan, met die gevolg dat hy self byna 'n volle dag sonder kos moes bly. Nou weer met die vee se vangs het hy in 'n sekere kloof die agtergeblewe swart vroue laat roep en sowat driehonders skape en bokke, asook 'n klompie koeie en kalwers, uitgekeer sodat hulle en hul kinders melk en slaggoed sou hê en nie verhonger nie.
Ná hierdie opruimingswerk het die krygsraad besluit om op Dinsdag 15 Augustus weer 'n aanval teen Msheshwe se vesting te loods. Blykbaar is ook die tweede aanvalsplan nooit vooraf in besonderhede uitgewerk nie. Die meeste voorbereidingswerk is klaarblyklik eers op die slagveld self gedoen.
Die bestorming van die berg, wat op 'n plek bekend as "Die Geut" - 'n opening tussen die twee kranse - onder die dekkingsvuur van die kanonne sou geskied, het minstens 1 200 burgers geverg, maar slegs 550 vrywilligers het hulle kom aanmeld. Die ontbrekende getal is toe opgekommandeer, maar almal se name moes eers opgeskryf word om aan hulle ná die oorlog die geleentheid te bied om die beste plase uit te soek in wat later bekend sou staan as die "Verowerde Gebied".
Dit alles het soveel tyd in beslag geneem, dat eers laat die oggend van die 15de met die krygsverrigtinge begin is. Daar is besluit om die mag in drie afdelings te verdeel. Die regterkantse afdeling sou die linkerkant van die beskanste berg beskiet en die linker-afdeling weer die regterkant, terwyl die middelste afdeling die berg sou uitklim.
Hierop het Wepener hom na sy burgers gewend: "Burgers, dit is laat, maar ek het bevel gekry om die berg te neem. Diegene wat my lief het, volg my!" Onder die dekking van vyf kanonne en ook die ondersteuning van 500 Barolongs en 400 Fingo's het Wepener, vergesel van kmdte. Venter en Wessels - gewis nie minder dapper as Wepener nie - met tussen 300 en 500 man die berg begin uitklim. Soos gewoonlik was Wepener heel voor.
Met die inname van die eerste skans teen die berg het dit redelik maklik gegaan. Toe die tweede ry skanse met Wepener nog steeds aan die voorpunt egter ingeneem is, was daar nog net sowat 120 burgers wat bereid was om hul kommandant end-uit te steun. Hierop het Wepener vir Fick dringend om versterking gevra, maar nòg hy, nòg die ander kommandante kon van die burgers beweeg om tot by die tweede skans te storm. Fick het toe besluit om self met honderd Fingo's hulp te gaan verleen, maar dit was reeds te laat.
Brunet verklaar dat hy Msheshwe se seun George opdrag gegee het om Wepener se lyk te begrawe en dit ná die oorlog aan die familie terug te besorg. 'n ander bron beweer dat die geneesheer van die Paryse Sendinggenootskap, dr. Lautré, opdrag gegee het dat Wepener se oorskot bo-op die berg begrawe moet word, maar Wepener se oudste seun, Dick, verhaal self hoe hy met behulp van George sy vader en Adam Raubenheimer se beendere ná die vredesluiting in April 1866 in 'n sloot onder klippe sowat twaalf tree van waar hulle gesneuwel het, weer opgespoor het.
Die beendere is plegtig op Wepener se plaas "Constantia" in die Bethulie-distrik begrawe. In 1941 is 'n gedenkteken met Wepener se borsbeeld oor sy graf opgerig.
As 'n aanvoerder op die slagveld sterf, word hy gewoonlik as held uitgesonder, maar dit moet in gedagte geho7u word dat nege ander saam met hom teen die hange van Thaba Bosiu gesneuwel het en ook as dapper helde gereken moet word. Hulle is John Horspoole, S. Daniel, Wilhelm Hoevels, Gert Joubert, Dorus van Eeden, Adam Raubenheimer, Johannes Dry, Jacobus Engelbrecht en die reeds gemelde Jacobus Stolz. Onder die swaar gewondes was kmdt. Venter, Willem Smit, George Hudson, J.M. Howell, T. Webster en ene Barrington, asook vyf Barolongs.
Die dood van Louw Wepener en sy makkers was 'n hewige terugslag vir die Vrystaters. Die oorlog het nog maande voortgesleep en eers met die Verdrag van Thaba Bosiu, nog steeds Msheshwe se vestig, is op 3 April 1866 aan die stryd 'n einde gemaak. Die vrede was kortstondig, want 'n jaar later breek die Derde Basoeto-oorlog uit. Voordat Msheshwe behoorlik oorwin kon word, is Basoetoland tot Britse protektoraar verklaar.
Van oral het huldeblyke vir Louw Wepener ingestroom. Die krygsraad se besluit het soos volg gelui: "De krijgsraad gevoelt zich diep getroffen door het onvergetelik en onherstelbaar verlies, geleden dood de dood van zijn voorzitter, wijlen onze Divisie-Kommandant, de ed. heer L. Wepener, die zo manmoedig en roemvol voor zijn land mocht sneuvelen in de bestorming van Thaba Bosigo."
In die Vrystaatse Volksraad sou hy o.m. die volgende hulde aan hom bring: "Groot is het verlies dat wij door zijn dood geleden hebben. Lang blijve zijn naam in ons aller geheugenis, als een man die door allen werd hooggeacht en geëerd."