Georgie en die Man in blou

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

"As jy nie nou ophou met daardie lawaai nie, George," het Joan gesê, "sal ek ' n polisieman roep."

"Jy kan nie," het Georgie gesê, "omdat jy nie weet waar een is nie."

"O ek weet," het Joan geantwoord, "en hy sal jou kom vang en in die tronk opsluit, waar alle stout seuntjies behoort te wees."

"Hy sal nie," h et Georgie ontsteld uitgeroep, "ek sal met die trap na bo hardloop....."

"Wat se lawaai is dit?" het Mammie gevra, wat toe net die eetkamer binnegekom het.

"George is baie stout, hy wil alles hê en dan maak hy die lawaai as hy dit nie kry nie," het Joan gesê.

"Joan sê dat 'n groot pollisieman my sal kom vang, hy sal my vang en in die tronk opsluit."

"Dis baie stout om dit te sê, Joan, en jy behoort beter te weet. Jy moet nooit weer vir jou boetie dit sê nie. Polisiemanne is baie vriendelike mense en hulle het kinders lief. Ons mot Georgie leer om nie bang te wees vir hulle nie. Ons moet aan die polisiemanne dink as ons vriende, nie as ons vyande nie."

Maar Georgie het nie so gedink nie. Sy sussie het hom al so baie vertel dat 'n groot polisieman hom sal kom vang dat hy in gedurige vrees vir hulle geleef het. As hy een in die straat sien, het hy so vinnig as wat hy kon, weggehardloop. As een voor die huis verbygaan, het hy gegil en gaan wegkruip.

Eendag het hy voor in die tuin gespeel; hy het klei aangemaak met sy grafie. Hy wou baie graag op die strand in die sand gaan speel - en waarom sou hy nie? Dit is tog nie so ver nie. Hy het 'n floue herinnering van die plek gehad want hulle het eendag met die trein daarheen gegaan. Hy het gedink dat hy daarheen kon loop. Hy was so vol van die gedagte aan die heerlike tyd wat hy daar sou hê, dat hy by die tuinhek uit is en na die dorpsplein geloop het. Hy het skoon vergeet van sy Ma se waarskuwings om nie by die hek uit te gaan nie.

Dit het Georgie baie lank geneem om by al die winkels verby te loop. Daar was so baie mooi goeters om na te kyk dat hy amper vergeet het waarheen hy op weg was. Langsaam is hy van die een venster na die ander; hy het alles goed bekyk en gedroom wat hy alles sou doen as daardie goed syne was.

Dus het Georgie maar aangehou en hy het nooit gedink aan die afstand en die onrus wat sy afwesigheid tuis sou veroorsaak nie. Eindelik, tot sy groot vreugde, het hy 'n hoop sand gesien. Daar was sommer 'n groot hoop sand! Dit is mos waarna hy gesoek het. Hy het in die sand gaan sit, kastele en ander goed begin bou en alles rondom hom vergeet.

Skielik het hy onrustig geword, want dit het begin donker word. Hoe laat dit was, het hy nie geweet nie, maar hy het begin dat sy Mammie miskien sou wonder waar hy is. Hy het ook begin koud kry. Ds hoog tyd dat hy huiswaarts keer. Maar toe het dit skielik by hom deurgedring dat hy nie die pad huis toe geken het nie.

Hy het rondgekyk, maar hy het niemand gesien nie. Dit was baie stil en dit het donkerder en kouer geword. Toe het Georgie begin huil. Hoe het hy gewens dat daar iemand was om hom huis toe te neem.

"Hallo, grootman! het ' n growwe, dog vriendelike stem agter hom gesê. "En wat doen jy hier alleen, so laat in die aand?"

George het omgekyk. Dit was 'n polisieman. Hy het baie bang geword.

"Gaan weg! gaan weg!" het hy uitgeroep. "Jy moet my nie in die tronk opsluit nie."

"Toe maar, ou seun," het die polisieman gesê. "Waarom sal ek jou dan opsluit? Ek het maar net gekom om na jou te kyk."

Die vriendelike stem en die glimlag van die polisieman het Georgie gerusgestel. "Ek wil huis toe gaan," het hy huilend gesê.

"Nou ja, goed, waar is julle huis?" het die polisieman gevra.

"ek weet nie," het Georgie snikkend gesê. Dit is nommer sestien, maar ek onthou nie die naam van die straat nie."

"Nou ja, toe maar, ons sal die plek kry. Wil jy 'n paar lekkers hê?"

Georgie was so moeg en dit was al so donker, dat hy maar te bly was om die polisieman so naby te hê. Net een swaai en hy was op die polisieman se skouer en al gou was hulle op pad huis toe. Hy was glad nie meer bang nie.

Intussen was daar tuis groot ontsteltenis. Mammie was ten einde raad. "Hulle het hom omgery; ek is seker hy is omgery!" het sy tekere gegaan. "Hy's dood, hy's dood! My arme Georgie!"

Vriende en bure het daar by die hekkie kom staan om haar te troos en haar te vertel dat geen nuus, goeie nuus is. Moontlik speel  hy by ander seuns, het hulle gesê. Intussen het Joan haar byna doodgehuil Sy het straat-op en straat-af gehardloop, met 'n klokkie, h opende om Georgie se aandag in die donkerte te trek met die gelui.

Skielik het iemand daar onder in die straat geskree, want byna almal het gesoek na Georgie. "Daar is hy, daar is hy!" Die woorde het van mond tot mond gegaan en almal het in daardie rigting gehardloop. Joan was aan die voorpunt en het nog steeds die klok gelui.

Ja waarlik, daar was Georgie, bo-op die polisieman se skouer, heeltemal gelukkig.

Toe hulle eindelik by die huis kom, het Mammie uitgeroep: "O jou stoute, stoute kind!" Sy was in trane. "Waar was jy al die tyd?"

"Ek was by hierdie polisieman," het Georgie gesê. "Het Mamma nie geweet nie? Hy het my die hele pad van die strand af op sy skouer gedra. Ek is glad nie vir hom bang nie. Hy is 'n goeie kêrel en het vir my lekkers gegee - kyk Mammie, ek het nou nog daarvan."

Om die dam Perderoete