Fransie se Droom

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Fransie was maar sewe jaar oud. Van alle dinge het hy die meeste van die see gehou en - skepe. Skepe! Gee hom 'n skottel water en 'n stukkie hout met 'n stokkie vir 'n mas en hy was doodgelukkig. Hy het van skepe gepraat en van skepe gedroom. En natuurlik skuil daar 'n verhaal agter.

Een aand het Fransie gaan slaap net na 'n baie groot aandete. Gou-gou was hy dan ook ver weg in droomland. Wat het hy nie gedroom nie! Hy droom hy is op 'n boot - ja, 'n regte boot soos mense by die see sien. Hy was ver op die groot, oop see, en die wind in die seile het hom vinnig oor die dansende golwe gevoer. Hy het net die roer beweeg, en die klein vaartuigie het eers hierdie en dan daardie kant toe beweeg. Hoe volmaak wonderlik was dit nie om sy eie boot te besit nie! 

Dit het nie lank geduur nie of hy sien voor hom palmbome wat skynbaar sommer uit die water uit groei. Toe hy nader aan hulle kom, sien hy dat hulle in werklikheid op twee eilandjies staan. Hoe mooi was hulle nie! Hy besluit om in 'n sloepie op te vaar en af te klim sodat hy kon sien wat daar alles op die eilandjies is. Hy het dus met 'n sloepie opgevaar en stadig gedryf todat hy saggies die land geraak het. Net toe hy dit doen, sien hy honderde swart seuntjies wat aangehardloop kom om hom te ontmoet en party van hulle het kieries en spiese in hulle hande. 

Met al sy mag het hy die boot probeer omdraai, maar hy kon dit nie regkry nie. Dit het in die sand vasgesteek.

"Moeder!" het hy geskreeu. 

Moeder het sy kamer ingehardloop gekom om te sien wat die fout was. Toe sy daar kom, was Fransie alweer reg en wawyd wakker. 

"Het jy gedroom?" het Moeder gevra.

"Ja, Moeder," het Fransie gesê, "Ek het so 'n mooi skippie gehad - ' regte een op die see; maar ek het by eilande gekom, en en swart seuntjies het met spiese aangehardloop gekom om dit van my af te neem." 
"Toe maar, toe maar," het Moeder strelend gesê. "Jy het seker gedink aan die storie wat die sendeling ons gister in die kerk vertel het van die arm kinders van die Suidsee-eilande."

"Steel hulle 'n mens se goed?" het Fransie gevra. "Hulle doen dit seker totdat hulle van Jesus hoor," het Moeder gesê. "Maar wanneer die sendeling 'n ruklank by hulle was en hulle van Jesus se liefde vir hulle vertel het, word hulle net so soet soos enige kind hier, en partykeer nog soeter."

"Dink Moeder ek kan eendag 'n regte skip hê om hulle te gaan sien?"

"Miskien mag jy, eendag," het Moeder gesê. "Wie sê jy gaan nie dalk eendag self 'n sendeling word nie?"

"Ek sal graag wil," het Fransie gesê.

"Ons kan Jesus vra om jou te help om een te word," het Moeder gesê. Hulle het dus gebid dat Fransie eendag met 'n skip na daardie Suidsee-eilande mag gaan om 'n sendeling te wees onder daardie arme heidense kindertjies.