Evered Poole, Beroepsoldaat

'n Engelssprekende Overberger skep en lei die mees gedugte Suid-Afrikaanse gevegsformasie van Wêreldoorlog II

As daar ooit 'n model-beroepsoffisier in Suid-Afrika was, was dit beslis genl.-maj. William Henry Evered Poole, die seun van maj. Poole, kommandant van die distrik Caledon, Kaapland, gedurende die Anglo-Boere-oorlog. Evered Poole is op 8 Oktober 1902 op Caledon gebore - net meer as vier maande ná die Vrede van Vereeniging.

Hy was dus 'n Overberger van Engelse afkoms en het - anders as George Brink en Dan Pienaar - as kind nie die Anglo-boere-oorlog beleef nie. Van 1911 tot 1917 was die jong Poole 'n leerling aan die St. Andrew's College in Grahamstad, waarna hy sy laaste skooljare deurbring aan die Diocesans College in Rondebosch. Hy slaag matriek in 1919, toe Wêreldoorlog I reeds verby is.

Evered Poole sluit op 1 Junie 1920 aan by die Cape Peninsula Rifles, 'n aktiewe Burgermag-eenheid, in 'n stadium to daar nog geen lotingstelsel of verplilgte diensplig was nie. Ná twee jaar as manskap word h y tot korporaal bevorder. Nadat hy hom as infanterie-instrukteur aan die Suid-Afrikaanse Militêre Kollege bekwaam het, sluit Poole in 1922 aan by die South African Mounted Riflemen. Sy uitstaande vernuf blyk duidelik uit die feit dat hy byna onmiddellik op 'n kadetkursus van die Staande Mag gestuur is ten einde 'n offisiersrang te verwerf. In 1923 slaag hy as die beste student in sy klas.

Nadat hy aanvanklik in die 3de Battery van die S.A. Veldartillerie gedien en 'n deeglike skoling in die artilleriekuns opgedoen het, word hy verplaas na die S.A. Permanente Garnisoenartillerie in Kaapstad. Daarop volg 'n paar jaar in die roetine van 'n normale beroepsoffisier in die Kusartillerie.

By die S.A. Militêre Kollege is opgemerk dat Poole 'n "goeie instrukteur sou wees". Hy is die top-student in 'n artilleriekursus in Kaapstad, blink uit in 'n sestigponder-artilleriekursus, presteer die beste in 'n seininstrukteurskursus te Roberts Heights. toe hy in 1928 kwalifiseer vir bevordering tot kaptein in die S.A.P.G.A., was dit duidelik dat 'n uiters belowende militêre loopbaan vir hom voorlê.

Teen Mei 1929 is Poole, nou 'n aantreklike jong man, verbonde aan die S.A. Stafkorps aan die Militêre Kollege as offisier-instrukteur in die seinafdeling. In 1931 word hy verplaas na die 2de Battery van die S.A. Veldartillerie as batterykaptein. Hy word byna dadelik na die kollege teruggestuur op 'n stafkursus van drie maande. Soos verwag kon word, is hy weer die grootste uitblinker en hy kwalifiseer vir bevordering tot majoor in die Stafkorps.

In 1931-1932 kry Poole die taak omd ie Transvaalse Berede Artillerie op te lei. Hy woon ook 'n kursus vir marconiste (radio-operateurs) by en slaag dit oudergewoonte met onderskeiding. Hy kwalifiseer ook vir bevordering tot kaptein in die S.A. Veldartillerie, maar in Junie 1932 word hy verplaas na die staf van die bevelhebber, Militêre Distrik No. 1, Kaapstad (tans Kommandement Wes-Kaap). Die maand daarna word hy na die Stafkorps oorgeplaas.

In hierdie stadium word mnr. Oswald Pirow minister van verdediging; daar is groot planne vir die heropbou van die Unie se Verdedigingsmag. Op 8 Julie 1933 word die Spesiale Diensbataljon gestig, met lt.-kol. George Brink as bevelvoerende offisier. Op 4 Desember word Poole aangestel as tweede-in-bevel met die tydelike rang van majoor. Binne twee maande word hy bevelhebber van die bataljon en deur sy toedoen word dit 'n uiters voortreflike eenheid. Terselfdertyd doen hy waardevolle ervaring op in infanterie-bevelvoering. Vroeg in 1934 is maj. Poole nou betrokke by die deeglike opleiding van sy unieke staande bataljon, wat nie net in geweerdril, skietkuns en die gewone infanterie-take opgelei word nie, maar ook op Vickers- en Lewis-masjiengewere, pantserkarre en selfs in seindienste. Twee spesiale drilinstrukteurs word deur die British Grenadier en Irish Guards afgestaan en speel 'n waardevolle rol in die verkryging van die drilstandaard in die S.D.B. - 'n peil wat vir die res van Poole se militêre loopbaan as 'n maatstaf vir ander sou dien.

Teen die einde van Oktober 1934 is 150 voormalige S.D.B.-manskappe na die S.A. Veldartillerie verplaas, 78 na die Lugmag, 26 na die S.A. Mediese Korps en ander na Roberts Heights, die Transvaalse Kommandement en die S.A. Militêre Kollege. Onder lt.-kol. Poole het die Spesiale Diensbataljon ontwikkel in die voortreflikste eenheid in die Unie-verdedigingsmag en het hul optrede by plegtige geleenthede byna onmosbaar geword. Poole se latere verbintenis met die Brigade of Guards in Engeland was 'n bewys vir sy lewenslange voorliefde vir "spit and polilsh", militêre swier en korrektheid.

By die Guards Depot te Caterham het Poole, wat verbonde was aan die Scots Guards se 1ste Bataljon in Londen en die Welsh Guards se 1ste Bataljon te Pirbright en Clanfield vir bataljon-, brigade- en divisie-opleiding, die Buards gereeld vergesel op oefeninge op Salisbury Plain. Ná 'n koninklike wapenskou is hy aan koning George V voorgestel. Later woon hy die Senior Offisierskool te Sheerness-on-Sea by, waar  hy bestempel is as 'n "baie goeie offisier" en vir bevordering aanbeveel is. In daardie stadium het Suid-Afrika net agt nuwe eenhede van die Aktiewe burgermag gehad en was daar net ses deeltydse brigades oor die hele land versprei. Dit lê dus voor die hand dat Poole in sy vaderland nooit soveel ondervinding soos in Brittanje sou kon opdoen nie.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika op 22 Februarie 1936 as een van die bes gekwallifiseerde beroepsoffisiere, hervat lt.-kol. Poole die bevel van die Spesiale Diensbataljon, nou 1 400 man sterk. Op 25 September 1936 ontvang die bataljon sy vaandel van die goewerneur-generaal, die graaf van Claredon.

Ses maande later is 'n wêreldoorlog in die lig van die Sudeten-krisis in Tsjeggo-Slowakye 'n byna uitgemaakte saak. In hierdie stadium is die opleiding van offisiere en onder-offisiere in die Unieweermag van lewensbelang en speel Poole 'n sleutelrol in die opleidingsproses, terwyl die Minister die land verseker dat Suid-Afrika eers ses maande ná die uitbreek van die oorlog grootskeeps betrokke sal raak.

Die militêre situasie in Suid-Afrika lyk haglik. Bren-masjiengewere is onverkrygbaar, 27 vredestydse bataljons sit sonder mortiere en min. Pirwo oorweeg die gebruik van "boskarre" vir vervoer. Daarby het die land geen moderne tenks nie en is daar nie genoeg kanonne vir 'n enkele divisie nie. Toe Wêreldoorlog II in September 1939 uitbreek, moet hy en sy staf nie net uitgesoekte manne oplei om hul kennis as eenheidsinstrukteurs oor te dra nie, maar ook die staf vir brigades en selfs divisies.

Honderde offisiere en onder-offisiere leer lt.-kol. Poole en sy streng idees omtrent uitrusting en dissipline deeglik ken teen die tyd dat die 1ste S.A. Divisie op 13 Augustus 1940 onder brig.-genl. Brink gestig word. Elf dae later word Poole amptelik aangestel as senior offisier op die divisiebevelvoerder se staf. Toe sy dienste aan die Militêre Kollege vereis word, word hy deur genl. Steve Joubert vervang, maar op 1 Oktober is hy terug as senior stafoffisier op die hoofkwartier van die 2de S.A. Divisie. Toe die divisie op 9 Junie 1941 ontplooi word, word Poole, wat op 17 April tot brigadier bevorder is, vervang deur kol. H.B. Klopper. Poole word terugverplaas na die 1ste S.A. Divisie en neem op 8 Junie bevel oor van die 2de S.A. Brigade met sy aankoms te Suez uit Berbera.

As 'n h oogs opgeleide beroepsoldaat sou brig. Poole se idees oor militêre gedrag miskien meer gepas gewees het by die voortreflike Polisiebataljon of die jeugdige Spesiale Diensbataljon as by die ruwe 1/2 Veldbataljon of die Ntal Mounted Rifles, wat reeds reg deur Abessinië opgeruk het en in hierdie stadium onder sy bevel geplaas word. Van die Cape Town Highlanders, wat ook uitsluitende uit vrywilligers bestaan het, kon ook beswaarlik verwag word om vir lief te neem met "spit and polish" in die woestyn. Die nuwe brigadeir se oënskynlik afsydige houding sou ook 'n bitter pil wees vir party manne wat in die siviele lewe in posisies van invloed en gesag was, want die aantreklike, op-en-wakker en militêr deeglik onderegde brig. Poole is gekenmerk deur 'n terughoudendheid wat familiariteit ontmoedig het. Van die aardse vriendelikheid van Dan Pienaar van die 1ste S.A. Brigade sou wensdenkery wees. Desondanks het sy vernuf en moed respek afgedwing. Blote toeval het hom van die vernedering gered wat die 5de S.A. Brigade by Sidi Rezeg gesmaak het en van die demoraliserende effek van die terugval van die hele divisie uit Gazale ses maande later.

Brig. Poole se ondervindings in die woestryn was inderdaad ongewoon.

Met 'n nuwe bataljon, die Cape Town Highlanders, en 'n nuwe bevelvoerder, is die 2de S.A. Brigade onder brig. Poole teen 27 Junie by Mersa Matruh gekonsentreer. In die lig van 'n tekort aan mannekrag en toerusting was dit geen verrassing toe die 2de S.A. Brigade met 'n sterkte van 3 844, tydens die Crusader-offensief van November 1941 teruggehou is nie. In hierdie offensief is die 5de S.A. Brigade so te sê uitgewis en het die 1ste S.A. Brigade deeglike ervaring opgedoen.

Op 9 Desember vestig genl.-maj. Brink die 8ste Leër se aandag op die feit dat die brigade, wat feitlik geen opleiding in die woestyn gehad het nie, sonder sy amptellike medewete beveel is om uit Matruh op te ruk. Die 2de S.A. Divisie se 3de S.A. Brigade is inderdaad beveel om by brig. Poole se brigade by Mersa Matruh oor te neem, maar met die toestand in Sidi Rezeg steeds kritiek, is albei beveel om daarvandaan op te ruk na 'n defensiewe posisie naby Sidi Barrani. Tot genl.-maj. Brink se verbasing deel brig. Poole hom kort daarna mee dat hy self nou in bevel geplaas is van die hele mag by Sidi Barrani, wat teen 2 Desember 1941 nie net uit die 2de S.A. Brigade en die grootste deel van die 4de S.A. Brigade bestaan nie, maar ook uit veld- en mediumbatterye - gelykstaande aan byna twee regimente en verskeie steuneenhede, met inbegrip van twee masjiengeweer-kompanies van die Regiment Middelland.

Op 16 Januarie 1942 word brig. Poole se brigade vervang en trek hy terug om aan te sluit by die 1ste S.A. Divisie by Mersa Matruh, waar op opleiding gekkonsentreer word. In hierdie stadium was daar steeds 'n groot tekort aan vervoer en versterkings.

Rommel se Panzerarmee is reeds ooswaarts van El Agheila aan't opruk en die hulp van genl.-maj. Brink word inderhaas ingerioep om die Gazala-linie met die 1ste S.A. Brigade, die Pole en die Vrye Franse te organiseer. Op 5 Februarie vertrek die 2de S.A. Brigade na "Desert Railhead" sonder 1/2 Veldmagbataljon, wat suidwaarts na die Jarabub-oase verskuif is. Vyf dae later bereik hulle Acroma en op 11 Februarie word hulle deur vyandelike vliegtuie aangeval. Brig. Poole word beveel om die Gazala-kussektor te verdedig, 'n mobiele reserwemag te verskaf aan die 1ste S.A. Divisie en te waak teen see- of valskermaanvalle agter die 1ste S.A. Brigade en die Pole. Geen regstreekse kontak met die vyand vind op land of ter see plaas nie, maar hulle loop onder verskeie bombarderings en vliegtuigaanvalle deur.

Nadat hy die gevegsektor van die Pole oorgeneem het, neem brig. Poole se brigade ná 15 Maart stelling in op 'n hoë bergrug parallel met die platorand met 'n goeie uitsig na die noorde en die weste. Net 5 dae tevore het genl.-maj. Dan Pienaar die bevel van die 1ste S.A. Divisie oorgeneem. Toe die vyand begin opruk, beset die 2de S.A. Brigade hierdie sektor aan 'n front van twee bataljongs met die 1/2 Veldmagbataljon in reserwe.

Teen 20 April word die 3de S.A. Brigade ook onder die bevel geplaas van die 1ste S.A. Divisie, wie se front verleng is. Pienaar se eenhede beset nou 'n front van meer as 22 km. Die 3de S.A. Brigade is die naaste aan die see wes van die Gazala-inham, brig. Poole se brigade in die middel en die 1ste S.A. Brigade aan die linkerkant tot aan die grens van die 50ste Divisie se sektor. Gereelde patrollies, wat soms op kort skermutselings met die vyand uitloop, talle bomaanvalle en 'n versengende hitte is aan die orde van die dag. Op die oggend van 26 Mei begin die Luftwaffe met 'n buitengewoon swaar bomaanval op die Gazala-posisies as die voorspel tot lt.-genl. Crüwel se aanslag op die Suid-Afrikaanse sektor. Rommer se hoofpantsermag beweeg suid van Bir Hakeim om 'n groot offensief te loods wat die lot van Tobruk sou beseël en die seëvierende Panzerarmee na El Alamein sou laat opruk.

Dit was 'n tyd van groot ramspoed vir die 8ste Leër en veral vir die 2de S.a. Divisie in Tobruk. Maar brig. Evered Poole loop dit alles mis, die bitter gevegte in en om die Gazala-linie en die vernederende terugval ooswaarts na El Alamein inkluis.  Op 26 Mei 1942 is brig. Poole na Suid-Afrika teruggeroep om bevel oor te n eem van die Kaapse Vesting in die lig van moontlike Japanse aanvalle op Suid-Afrika. Op 31 Mei bereik hy Kaapstad en die betreklik vreedsame lewe in die hoofkwartier in die Kasteel, wat hy so goed uit sy jonger dae onthou het. Intussen trotseer sy mede-soldae in die woestyn die grootste militêre beproewing van hul lewe.

Die 1ste S.A. Divisie het 'n sleutelrol gespeel ind ie stuit van die vyandelike magte by Alamein aan die begin van Julie 1942 en die 2de S.A. Brigade was een van die bepalende faktore in genl. Auchinleck se verdedigingsbolwerk, wat Rommel se droom om die Suez-kanaal te bereik, in skerwe laat spat het. Toe brig. Poole na die woestyn terugverplaas word, het lt.-genl. B.L. Montgomery reeds die 8ste Leër oorgeneem en is genl. sir Harol Alexander aangestel as opperbevelhebber, Midde-Ooste. Op 29 Augustus daag Poole in die woestyn op. Rommel is besig om sy laaste desperate poging te beplan om deur die Alamein-linie te breek voordat die 8ste Leër homself kan regruk.

Die middag van 29 Augsutus reik genl.-maj. Pienaar bevele uit vir 'n groot aanval op 30/31 Augustus. Die oogmerk is om wanorde te skep, die vyand groot verliese toe te dien en krygsgevangenes terug te bring. Sowel die Australiërs as die 5de Indiese Divisie in die suide sal die artilleriesteun verskaf. Toevallig was die vyand self besig met ' n hewige aanval op die front van die 5de Indiese Divisie, terwyl 'n kompanie Cape Town Highlanders van die 2de S.a. Brigade ná 9 nm deur 'n opening in die mynveld van die Regiment Botha beweeg het. Kort voor lank pen die vyand hulle met masjiengeweer, tenkafweerwapens en mortiere vas, ondanks die steun van die Suid-Afrikaanse artillerie. Teen die tyd dat hulle teruggeroep word, is daar ses gewondes. Tog is die vyand se planne in die sektor ind ie wiele gery. Genl. Montgomery se gelukwensing bereik hulle net toe die vyand sy hoofaanval verder suid loods.

Op 1 September word Poole in bevel geplaas van 'n sterk mobiele brigadegroep, wat as die XXX-Korpsreserwe opereer. Die mag bestaan uit die 2de S.A. Brigade, 'n eskadron Suid-Afrikaanse pantserwaens, 'n m asjiengeweerkompanie van die Regiment President Steyn, die 7de Veldregiment met 25-ponders, 'n Britse tenkafweer-battery en twee troepemagte, ligte lugafweerkanonne en al die nodige steuneenhede.

Hulle ruk op en beset die volgende aand die gebied wat deur die 5de Indiese Brigade op die oostelike punt van die Ruweisat-rug verdedig is. Die vyand ondervind reeds 'n ernstige tekort aan brandstof en voorrade en die feitlik stilstaande vyandelilke kolonne loop genadeloos deur onder die Lugmag. Maar die bevelvoerder van die 8ste Leër waag niks nie en teen 7 September gelas hy die geveg af. Die Panzerarmee is lam, maar word nie agternagesit nie. Ná tien stil dae in die XXX-Reserwekorps word brig. Poole se brigade op 17 en 18 September na die 1ste S.A. Divisie terugverplaas. Daarna beweeg die brigade na die Alam el Onsol-gebied en grawe h ulle in. As deel van genl. Montgomery se plan om sy leër so volledig as moontlilk voor te berei vir 'n finale kragmeting met die vyandelike magte, ondergaan die 2de S.A. Brigade, wat erg uitgedun is, strawwe opleiding met tenks van die 40ste Britse Tenkregiment totdat hulle die 3de S.A. Brigade vroetg in Oktober in die linie aflos. Brig. Poole se eie hoofkwartier is net oos van 'n punt tussen Alam el Onsol en El Alamein-stasie.

Brig. Poole en sy staf, wie se bataljons hulle nou besig hou met patrollering, die opruiming van vyandelike myne en die afweer van bombarderings, berei hulle nou voor vir die groot slag wat voorlê. Genl. Montgomery se leër het nou vir die eerste keer 240 Sherman- en 78 Crusader-tenks met sesponder-kanonne, in plaas van hul ou tweeponders. Daar is 170 Grants waarop 75-mm-masjiengewere gemonteer is en op 6 Oktober 1942 maak die leërbevelvoerder sy finale plan vir die finale Slag van Alamein aan 'n paar hoë offisiere bekend. 'n Week later ruim patrolliles steeds myne voor die 2de S.A. Brigade op en die werk word op die voorste posisies voortgesit. Die oggend van 14 Oktober hou genl.-maj. Dan Pienaar 'n ordergroep van 3-1/2 uur in die menasietent van die divisiehoofkwartier. Brig. Poole is onder die brigade-bevelvoerders en hul brigade-majoors en senior offisiere wat die konferensie bywoon. Voordat hulle vertrek, bestudeer hulle spesiaal ontwerpte sandmodelle van die Suid-Afrikaanse sektor en besonderhede word bespreek.

Die nagpatrollies gaan voort met die opruiming van myne, terwyl D-dag naderkom en brig. Poole sy bevele aan sy regiment-bevelvoerders oordra. Op hulle beurt lig hulle hul offisiere in, voordat die gevegsplan op 21 Oktober aan die troepe verduidelik word.

Poole se brigade is die ene bedrywigheid. Verkenningsgroepe van sowel die Veldmagbataljon as die Cape Town Highlanders en sappeurs en vervoer-offisiere besoek die linies van die Natal Mounted Rifles ná donker op 19 Oktober om korridors deur die mynvelde te beplan. In die nag van 23 Oktober beweeg brig. Poole se taktiese hoofkwartier vorentoe om 'n observasiepos te beset van waar hulle 'n uitsig oor die komende slag kan hê en dit kan beheer. Tot nog toe is geen beter voorbereidsels getref vir enige ander operasie in Afruika nie.

Vier infanteriedivisies van die vier lede van die Gemenebes sal op die voorpunt van die aanslag staan, terwyl die 4de Indiese Divisie die regterflank sal dek. Die 9de Australiese Divisie, suid van Tel el Eisa, sal weswaarts aanval deur die vyandelike versperrings en mynvelde. Die 51ste Highland Divisision van Skotland ruk in 'n effens meer suidelike rigting op en verder suid is die 2de Nieu-Seelandse Divisie. Dan volg die 1ste S.A. Divisie, wat in 'n suidwestelike rigting aanval. Brig. Poole se 2de S.A. Brigade is langs die Nieu-Seelanders en die 3de S.A. Brigade links van 'n uuitgangslyn van sowat 4 400 m. Die 1ste S.A. Brigade se taak is om die linkerflank te dek tot by 'n finale doelwit langs die Miteirija-bergrug. Doringdraadversperrings, "duiwelstuine", wat wemel van myne en dodelike stikkel, lê russen die vyandelike poste en die XXX-Korps, wat die weg moet baan vir die Britse pantsermag na die agterhoede van die vyand.

Om 9.40 nm op 23 Oktober trek die 456 kanonne van die XXX-Korps vir 'n halfuur los op die vyandelike batterye, terwyl die Lugmag dieselfde teiken met 125 ton bomme bestook. Die woestyn dreun en sidder onder die aanslag van die 882 veld- en mediumkanonne en om 955 volg 'n kort stilte, terwyl die kanonne hul vuur op die vyand se voorste posisies rig. Stiptelik om 10 nm is dit Zero-uuur en die groot aanval begin.

In brig. Poole se brigade loop die Cape Town Highlanders byna dadelik onder hewige vuur deur en ly verliese. Daar is probleme met radiokommunikasie en binne 'n halfuur verloor die brigade sy telefoonverbindings. Daarby swaai die Nieu-Seelanders voor die Highlanders se aanvalslinie in. Teen 11.50 nm h et die Natal Mounted Rifles aan die linkerkant van die Kaapse regiment egter hul eerste doelwit bereik, terwyl die Highlanders steeds in 'n bitter stryd gewikkel is. Eers teen 4 vm word Poole verwittig van verdere vordering deur die Highlanders.

Die Natallers, wat aanvanklik vertreeg is, ruim verskeie vyandelike poste met Bren-masjiengewere, granate en bajonette op. 'n Kompanie wat uitgestuur word om die Veldmagbataljon links van die brigade te gaan help, loop hom egter in 'n ongekarteerde mynveld vas en word 'n gevoelilge slag toegedien deur 'n vyandelike vestig wat nie voorheen geëien is nie. Baie van hulle sneuwel, maar die brigade veg moedig voort.

Teen dagbreek bereik die Cape Town Highlanders die Miteirija-bergrug en grawe hulle daar in. Die Veldmagbataljon het met die hulp van die Natal Mounted Rifles die sterkste vyandelilke vesting vernietig, terwyl die Natallers ook hul doelwit bereik het. Net ná twaalfuur op die middag v an 24 Oktober verwitting brig. Poole die Cape Town Highlanders dat die vyand suuidwes van Deir El Shein saamtrek vir 'n infanterie- en pantseraanval. 'n Peloton van Regiment Botha is ook utigestuur om die gaping tussen die Highlanders en die Natal Mounted Rifles te help vul. Veertien Duitsers wat hulleself in die gebied versteek het, sit 'n geveg op tou en moet deur die Veldmagbataljon uitgewis word. Elders heers hewige gevegte sonder enige vordering aan albei kante, voordat die pantsermag, soos beplan, noord van die Suid-Afrikaanse sektor deurbreek.

Die nag van 25 ktober is betreklik vreedsaam.

Twee vyandelike kompanies ruk teen die Cape Town Highlanders op, maar teen 11.30 vm op 26 Oktober word hulle teruggedryf. Daardie middag verjaag die 2de S.A. Brigade 'n vyandige groep van sowat 60 uit 'n sterktepunt, wat hulle by die kruispunt van die Suid-Afrikaanse en die Nieu-Seelandse doelwitte herbeset het. Nou die Veldmagbataljon ook die Miteirija-bergrug bereik het, vorder die brigade en 'n kompanie van Regiment Botha daardie nag sowat 90 m. In 'n ingewikkelde systap-opmars op die spoor van die Australiese magte, beset die Suid-Afrikaanse Divisie die Nieu-Seelandse sektor en word in hul sektor deur die 4de Indiese Divisie vervang. Brig. Poole se brigade word in die Divisiereserwe opgeneem.

Gedurende die nag van 28 Oktober word die Australiërs beveel om noordwaarts aan te val. Die 2de S.A. Brigade neem oor van 'n brigade van die Highland-divisie en bevind hulle weer eens in die frontlinie, waar die Natal Mounted Rifles op 2 November onder 'n hewige bombardement deurloop. Daarna los die Natallers die 7th Black Watch sowat 550 m af. Die Veldmagbataljon neem oor by die 5/7 Gordon Highlanders en die Cape Town Highlanders los die 7th Black Watch af. Vyandelike bombardemente en sowel masjiengeweer- as anti-tenk-sluipskutters eis hul tol tot die aand van 2 November, toe brig. Poole, nou adjunk-bevelvoerder van die divisie, die Highlanders noordwaarts verskuif om by die Natallers oor te neem.

Teen 3 November is daar tekens dat die vyand swig en word nuwe strategieë beplan. Brig. Poole beveel die Cape Town Highlanders om nog 4 600 m weswaarts te beweeg ten einde die Black Watch af te los in 'n omgewing wat so hewig gebombardeer word dat selfs verkenningsgroepe dit nie voor donker kan bereik nie. Die Veldmagbataljon word ook vorentoe beweeg. Hewige masjiengeweer-steun van die Regiment President Steyn duur tot 3 November voort, maar om 9.15 vm op 4 November voorspel genl. Montgomery dat 'n algehele oorwinning in sig is. Brig. Poole se patrollies kan geen teken van die vyand vind nie. Die Panzerarmee vlug honderstebolder weswaarts en sou nie weer terugkeer nie.

In die 8ste Leër is daar 13 560 ongevalle - 2 350 dooies, 8 950 gewondes en 2 260 vermistes. Van hierdie 13 560 is 6% Suid-Afrikaners. Dit is onmoontlik om die verliese aan die vyand se kant te raam, maar binne 'n week word sowat 30 000 van hulle gevange geneem. Die stryd van die 1ste S.A. Divisie in die Midde-Ooste is verby.

Teen 6 Desember is brig. Poole op pad terug huis toe. Hy het die operasies van sy brigade by El Alamein met groot vernuf beheer, hoewel hy minder gevegservaring as enige ander brigadier in 1ste S.A. Divisie gehad het. Toe genl.-maj. Dan Pienaar op 19 Desember tragies in 'n vliegongeluk sterf, neem hy die bevel oor van die 1ste S.A. Divisie, wat reeds huiswaarts beweeg het om omgeskep te word in een van die twee pantserdivisies wat vir Suid-Afrika voorsien is.

Genl.-maj. Brink het reeds etlike jare betoog dat Suid-Afrika nie in staat is om twee divisies te onderhou nie en toe hierdie punt uiteindelik op 1 Februarie 1943 ingesien word, word die 6de S.A. Pantserdivisie amptelik op die been gebring. Genl.-maj. W.H.E. Poole is die divisiebevelvoerder met die 11de S.A. Pantserbrigade, die 12de S.A. Gemotoriseerde Brigade en steuntroepe onder hom. Hoewel dit maande sou duur voordat die nuwe divisie teen die vyand te staan kom, word Evered Poole van daardie oomblik vir die res van die oorlog die oorheersende figuur in die operasies van die Suid-Afrikaanse landmagte.

Weens die groot mannekragtekort word die palnne vir die voorgestelde 1ste S.A. Pantserdivisie eenvoudig laat vaar, en op 1 Mei 1943 daag genl.-maj. Poole se nuwe divisie op Khatatba in Egipte op. Etlike maande van strawwe opleiding volg, terwyl die formasie versterk word deur 'n samestelling van verskeie eenhede en die inname van die Rhodesiërs. Teen vroeg Oktober 1943 is die divisie feitlik volledig. Maar op 13 Mei 1943 gee die laaste vyandelike troepe in Afrika oor. Daar is nou nie meer 'n behoefte aan pantsertroepe nie. Die oorlog verskyn na Italië, 'n bergagtige land waar die 8ste Leër eintlik 'n behoefte aan voetsoldate het.

In die 6de S.A. Pantserdivisie het genl.-maj. Poole egter 'n gevegsformasie sonder weerga in die Uniemagte gehad.

Brig. R.J. Palmer, wat reeds met die D.S.O. en Staaf vir dienste in die 2de en 1ste S.A. Divisies vereer is, was in bevel van die 12de S.A. Gemotoriseerde Brigade en brig. J.P.A. Furstenberg, voorheen van die 1ste S.A. Brigade, in bevel van die 11de S.A. Pantserbrigade.

Op 20 April 1944 gaan die troepe by Taranto in Italië aan wal. Die goed opgeleide divisie van sowat 14 200 man is uitstekend toegerus en selfs in daardie stadium sou daar waarheid gesteek het in die latere woorde van die Amerikaanse generaal Mark Clark: "Wanneer ek hulle ook al gesien het, is ek geïmponeer deur die groot getal dekorasies en vererings, wat op die harde manier verdien is."

Ná 'n kort rukkie naby Cassino tydens die slag om hierdie belangrike deurtog na Rome, sluit die Gemotoriseerde Brigade-groep weer by die divisie aan. Daarop vereer lt.-genl. sir Oliver Leese, wat by El Alamein in bevel was van die XXX-Korps en nou die bevelvoerder van die 8ste Leër is, genl.-maj. Poole met die besluit om die 24th Guards Brigade onder sy bevel te plaas, 'n eer wat normaalweg net 'n offisier van die Guards te beurt sou val. Deurdat Poole se divisie nou - net soos die Britse 6de Pantserdivisie - versterk is met infanterie, word die Suid-Afrikaanse pantserdivisie een van die gedugste formasies in Italië. Met 310 tenks, 'n ten volle toegeruste artillerie-eenheid en geen enkele vergtende offisier bo die rang van majoor wat nie reeds in aksie was nie, word die divisie op 28 Mei 1944 onder die bevel van die 1ste Kanadese Korps geplaas en begin sy merkwaardige stryd in Italië onder genl.-maj. Poole.

Benewens 'n enkele ernstige terugslag by Chiusi, ruk die divisie vinnig op na Florence. Poole se staf het deurentyd uitstekende diens gelewer en van kritiek op sy eie gedrag kan daar nie veel sprake wees nie, behalwe dat hy miskien te ywerig was om van die front te lei" - iets wat vanweë sy afwesigheid van die hoofkwartier, 'n groot verantwoordelikheid op sy eie staf geplaas het. Sy aangebore strengheid, dalk 'n vorm van skaamheid, is steeds daar, maar vir diegene wat hom as brigade-bevelvoerder in die woestyn geken het, is dit duidelik dat hy uit sy pad gegaan het om met die ander range op hul eie vlak kontak te maak. Wanneer hy op die agtersaal van 'n motorfiets verskyn om vas te stel wat 'n kolom vertreeg, voel die manne tog dat hy een van hulle is.

Genl.-maj. Poole was miskien nie die gewildste offisier onder sy manskappe nie, maar het beslis bewondering afgedwing as 'n beroepsoldaat van die hoogste formaat. Onder diegene wat nou met hom saamgewerk het, het hy egter groot lojaliteit gekweek, tesame met 'n egte waardering vir sy groot vernuf.

Toe die Guards Brigade uiteindelik die divisie verlaat, was dit weer eens Poole wat die mannekragprobleem kon oplos deur die 13de S.A. Gemotoriseerde Brigade-groep binne sy eie divisie te vorm. Die groep het langs sy ander brigades geveg met die inname van Monte sole onderweg na Bologna op 16 April 1945 - 'n prestasie wat deur veldmaarskalk Alexander self as die eerste en skitterendste sukses van die 2de Amerikaanse Korps - waarvan die Suid-Afrikaanse divisie deel uitgemaak het - bestempel is. Sestien dae later was die oorlig in Italië verby.

Genl.-maj. Poole se divisie, wat skielik uit die noordooste na die weste verskuif is om die finale Amerikaanse operasies te steun, het Milaan bereik ná 'n jaar van die taaiste gevegte deur Suid-Afrikaners in Wêreldoorlog II. Die divisie het te doen gehad met die mees gedugte troepe van die Wehrmacht, die Luftwaffe en die Waffen-SS.

Evered Poole, 'n generaal-majoor op veertigjarige leeftyd, het die voordele van betreklike jeug geniet, benewens 'n lang en deeglike professionele opleiding en 'n besonder helder en toegewyde militêre ingesteldheid. Dit alles het hom daartoe in staat gestel om die mees gedugte Suid-Afrikaanse gevegsformasie van die oorlog saam te stel en te beheer.

Ná die vrede in Europa word Evered Poole aangestel as generale administratiewe offisier vir alle Suid-Afrikaanse magte ind ie Sentraal-Mediterreense gebied, met inbegrip van Italië, Griekeland, Noord-Afrika, Egipte, die Kanaalsone, Palestine en Sirië. Eers op 1 Desember 1944 kry hierdie uitstekende divisie-bevelvoerder die rang van kolonel in die Staande Mag. Aan die begin van Maart 1946 keer hy na Suid-Afrika terug. Poole, wat reeds een keer eervol vermeld is en die staaf van die D.S.O. dra, word in Augustus 1944 'n Companion of the Bath en 'n C.B.E. in Junie 1945. In Augustus 1945 word hy weer eervol vermeld en word hy bevelvoerder van die American Legion of Merit, 'n besondere verering vir 'n nie-Amerikaner. Poole was ook kommandeur van die Légion d'Honneur van Frankryk met die Croix de Guerre (avec palme). In 1974 word hy vereer met die Orde van koning George I van Griekeland.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika dien Evered Poole 'n ruk as adjunk-hoof van die Generale Staf in Pretoria, maar met die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1948 word sy pos afgeskaf. Hy word weggelaat uit die gewone prosessie van verdedigingshoofde wat die Goewerneur-generaal na die Senaat vergesel vir die Parlementsopening en drie later is hy onderweg na Berlyn as hoof van d ie S.A. Militêre Sending, die kielwater van die militêre toneel.

In Augustus 1951 word Evered Poole, wat nooit in die openbaar enige bitterheid getoon het nie, verplaas na die Departement van Binnelandse Sake en word hy Suid-Afrika se buitengewone gesant en gevolmagtigde minister vir Italië, Griekeland en Egipte. In 1954 word hy verplaas na Argentinië en Chili en teen 1960 is hy ambassadeur in Griekeland. Ná sy aftrede bring hy en sy vrou die helfte van die jaar in hul ou tuisdorp Hermanus deur en die ander helfte in Griekse waters aan boord van hul jag Estrellita.

Evered Poole se loopbaan as diplomaat is net so suksesvol as dié as soldaat. Op 9 Maart 1969 sterf hy in die Karl Bremer-hospitaal aan 'n longkwaal. Hoewel hy op eie versoek nie 'n militêre begrafnis gehad het nie, het duisende wat aan sy sy geveg het, groot hulde aan hom gebring.

Evered Poole, die seun van 'n vader wat in die Britse Leër gedien het en 'n moeder uit een van die bekendste Afrikaanse families in die Westelike Provinsie, was 'n groot Suid-Afrikaner en die toonbeeld van die beste soort offisier wat ons land se Staande Mag opgelewer het.

Neil Orpen

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0