Ek wonder of jy soms
Ek wonder of jy soms, wanneer
Die wolke soos galjoene seil
Dink aan die helder dae, toe ons
Kon loop deur songedrenkte lande?
Want niks was daar wat jou en my
In daardie dae meer kon verbly
As om te sien hoe, een vir een,
Hul dryf oor goudgevlekte lande,
Met skaduwees vir ankers
Wat tastent oor die bosse sleep
en nuwe bodems peil -
ek wonder, as die wolke seil,
so voortgedryf deur frisse winde,
Of jy nog aan dié dink,
O welbeminde?
Izak David du Plessis