Eensame Lottie

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

"Arme ek!" sug Lottie, "daar is niemand om mee te speel en niks om te doen nie en niemand het my lief nie!"

Lottie was haar ouers se enigste kind. Hulle het in 'n baie mooi huis gewoon met 'n groot tuin, maar om die tuin was 'n hoë muur sodat sy niks kon sien nie. Soms het sy regtig baie eensaam gevoel.

"Arme Lottie!" het Mammie gesê. "Sal jy nie daarvan hou om die skottelgoed te help was nie?"

"Ek wil nie skottelgoed was nie," het Lottie met 'n hulstemmetjie gesê. "Ek is al die hele môre in die huis."

"Wel, gaan speel dan 'n rukkie in die tuin," het Mammie voorgestel.

"Ek het al met alles daar gespeel," het Lottie geantwoord en maar net gesug.

"Maar wat van al jou poppe?"

"Ja, maar...."

"Hoekom speel jy nie hulle is jou kinders nie?" het Mammie weer voorgestel, "en laat hulle skool toe gaan en laat hulle dan later op die gras wei. Wat sê jy daarvan?"

Lottie se oë het sommer verhelder. Sommer baie gou het sy al haar speelgoed bymekaar geraap - groot poppe, klein poppies, lappoppe, slaappoppe, katte, honde, Grompie die beertjie, en Pollie, die pikkewyn. Nie te lank nie of hulle sit in 'n ry op die gras en Lotte staan voor hulle met haar klein swartbordjie en sy probeer hulle leer dat twee en twee vier is. Grompie lyk sommer 'n regte ou domkop; Pollie was baie stout, want die wind het hom onderstebo gewaai het toe Lottie met hom praat. Lottie het egter aangehou om met hulle na hartelus te praat en te raas todat sy daarvan ook moeg geword het.

"Nou speel ons nie verder skool nie," het sy aan die klas gesê. "Julle is almal domkoppe en wil niks leer nie. Ek gaan julle nou almal op 'n groot boot oor die see neem, soos Pappie."

Sy het Mamma se wasbalie geleen, 'n stok deur een handvatsel vir 'n mas gesteek, 'n klein vlaggie aan die ander een gebind en toe die passasiers begin inprop.

Daar gooi sy hulle in - poppe, honde, katte en natuurlik ou Grompie en Pollie ook. Dit was 'n bont spul, maar dit het geblyk of hulle die reis geniet het. Nie een het seesiek geword nie, al het hulle tot by Australië en terug gevaar.

Maar nou het Lottie daarvoor ook moeg geword; dus het sy haar kinders vertel dat dit etenstyd is en sy het haar nuwe teekoppies vir hulle uitgehaal. Mammie het haar 'n stukkie botter en brood, 'n bietjie melk en koek gegee en Lottie het begin. Aan Grompie is gesê om nie gulsig te wees nie en die hondjies is beveel om nie hul pootjies op die tafel te sit nie. Toe het Lottie die melk ingeskink en die brood en botter aangegee, en - natuurlik - toe alles verby was, het sy alles self opgeëet. Sy het egter besluit dat hulle goed geëet het en dat almal dit terdeë geniet het.

"Het jy lekker gespeel, my kind?" het Mammie verneem toe Lottie weer inkom.

"Ja, maar ek het nou genoeg met hulle gespeel. Ek is moeg daarvoor, ek wil iemand hê om mee te speel wat met my kan praat."

"Sal ons 'n bietjie dorp toe loop, Lottie?" het Mammie voorgestel.

""Ja, kom Mamma!"

En daar gaan hulle. Lottie het lekker gevoel, want sy het gedink Mammie gaan haar winkels toe neem. Maar om een of ander rede het Mammie afgedraai voor hulle die winkels bereik het.

"Is dit nie die verkeerde straat nie?" het Lottie gevra.

"Nee liefling, ons is reg," het Mammie geantwoord.

"Maar hierdie straat gaan nie winkels toe nie!"

"Nee, maar ek het gedink ons kan vandag gerus 'n ander pad loop."

"Maar waarheen gaan ons Mamma?"

"Ons is amper daar," antwoord Mammie.

"Waar?"

"Jy sal netnou sien Lottie."

Hulle het maar aangestap, al verder en verder van die winkels en die mooi huise af.

Lottie het dit nie verstaan nie. Dan roep sy uit: "Mammie, hoekom kon ons hiernatoe? Kyk daardie arme dogtertjie wat daar op die sypaadjie sit. Hoekom sit sy daar?'

"Sy is 'n arme kruppel dogtertjie," het Mammie verduidelik. "Dis al plek wat sy het om te speel. Kyk sy teken prentjies op die sypaadjie."

"Ag nee, ek sal nie graag so wil wees nie. Maar kyk daardie ander, Mamma, hulle het nie skkoene en kouse aan nie. Hoekom  nie?"

"Omdat hul Pappies nie werk het nie en hulle kan dus nie skoene en kouse koop nie"

"Arme skepseltjies? En het hulle nie speelgoed om mee te speel nie?"

"Nee, liefling, hulle het nie."

"Mamma, kyk daardie seuntjie daar oorkant met die beertjie - die beertjie het nie arms of bene nie."

"Hy is nie so mooi soos Grompie nie, né?"

"En moet die kinders hier speel?" het Lottie gevra. "Het hulle nie tuine nie?"

"Dis al plek wat hulle het om te speel - net die straat. Jy sal nie daarvan hou om in die straat te speel nie, né?"

Ná 'n rukkie het hulle weer omgedraai huis toe. Lottie was baie stil en dit het gelyk of sy aan iets dink. Daardie aand het sy ook vir arm kindertjies wat sy gesien het, gebid en die liewe Heer gevra om hulle mooi prentjies te stuur om mee te speel.

Daardie nag het sy ook gedroom dat sy tussen die arm kinders moes gaan woon. Die klere wat sy aangehad het, was oud en geskeur, kouse en skoene het sy glad nie gehad nie en sy moes net daar in die vuil straat speel. Sy het so groot geskrik dat sy wakkergeskrik en dadelik vir Mammie geroep het.

Mammie het ingehardloop gekom, want sy het nie geweet wat aan die gang was nie.

"O Mamma!" het sy gehuil, "ek is so bly ek is hier by Mamma in hierdie lekker bed en in hierdie mooi huis. Mams sal my nie in daardie vreeslike plek gaan laat bly nie, né Mammie?"

Moeder het verstaan en het haar styf aan haar bors gedruk.

Die volgende môre, nog lank voordat iemand op was, was Lottie met 'n stuk papaier by haar speelgoed besig. Mammie het die geraas gehoor en het aandagtig geluister.

"Totsien, Grompie," het sy 'n fyn stemmetjie hoor sê. "Ek kan jou nie langer hou nie. Jy moet die arm kindertjies gaan gelukkig maak. En totsiens, Pollie, ek hoop hulle sal na jou kyk. En Sagry en Molliepol en Swartpiet, julle moet soet wees sonder my!"

Mammie het stilletjies nadergekom. "Wat in die wêreld...."

"Ek gaan vandag al hierdie speelgoed na die arm kindertjies toe neem" het Lottie baie ernstig gesê. "Mamma moet saamkom en my die pad wys, hoor!"

Mammie het geglimlag en ingestem. Later deur die dag het altwee teruggegaan na die straat waar hulle die vorige dag was en Lottie het haar pragtige poppe en diertjies aan die arme kindertjies begin uitdeel. Die nuus het soos 'n veldbrand versprei en nie lank nie of dosyne kinders het na hulle aangehardloop gekom.

Maar Lottie het nie genoeg vir almal gehad nie en Mammie moes haar gou wegneem van al die kinders wat om haar saamgedrom het.

"Is jy nie spyt dat jy al jou speelgoed weggegee het nie?" het Mammie gevra.

"Nee, ek sal nooit vergeet hoe daardie kindertjies geglimlag het toe ek toe ek hulle dit gegee het nie. En was die klein dogtertjie nie bly toe ek haar Grompie gegee het nie? Ek het nog nooit so bly gevoel nie."


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete