Dokter Diedericks leer om te lag
Dit is in die nasomer aan die einde van Maart.
Dokter
Diedericks is 'n geneesheer. Hy lê alleen in sy slaapkamer in sy ruim
huis en dink aan sy langdurige en ongeneeslike siekte, waaraan al sy
geld en al sy mediese kennis en dié van sy kollegas niks kan doen nie.
Ook nie die liefde van sy vrou en al sy kinders, wat almal reeds getroud
is en naby hom woon nie. Hulle besoek hom gereeld en probeer hom troos,
koop allerlei vir hom, maar dit help niks nie.
As
jou lewe bedreig word, kan jy nie opgewonde raak oor 'n nuwe skeermes
of 'n nuwe naskeerroom om die vel lekker te laat voel en sulke ietsies
nie. Sy siekte maak hom somber. Hy kan nie verstaan waarom juis hy wat
so baie ander se pyn help verlig het, nou so baie en so lank moet ly
nie.
Hy
kon nog so baie vir ander gedoen het. Hoekom moet mens sterf as jy nog
wil lewe? Hy het sy lewe lank met die siekte en dood van ander gewerk;
nou moet hy aan sy eie werk. Het hy nie verkeerd gekies toe hy besluit
het om medikus te word nie - om só jou lewe lank met siekte en dood te
werk?
Sy
vrou kom uit die kombuis en praat met hom. Sy kan sien hy voel al weer
sleg. Sy probeer hom opbeur. Sy staan daar in die deur, besorg oor die
lang siekte van haar man, self aangetas deur maande se medelye, vrees...
"Jan is ook siek," sê sy. "Hy moet glo 'n ernstige operasie ondergaan."
Sy
het dit 'n uur gelede ook al gesê, en hy begryp dat sy hom probeer
troos, maar soos netnou verval hy in homself, antwoord nie daarop nie.
Dit maak haar bedruk dat hy so weinig spraaksaam is; dit maak haar so
trietsig as hy daar so stil sit sonder om 'n woord te sê. Met 'n sug wat
hy nie kan hoor nie gaan sy weer weg.
Een
van sy kleinkinders kom binne met iets lekkers wat sy dogter vir hom
stuur. Hy eet dit nie maar vra dat sy dit vir hom moet gaan bêre vir
later. Al die medelye en meelewing en sorg en besorgheid laat hom nog
sieker en ernstiger voel. Dit maak hom bang, verswaar die erns van sy
siekte.
Toe
hy weer heeltemal alleen is, dink hy; ek kan dit nie haal nie; eendag
sal die groot en finale verwoesting kom. Maar wat is daar in sy lewe om verwoes te word? die dood het alleen sin as dit iets sinvols verwoes.
Hy
gaan 'n entjie stap saam met sy kleindogter wat weer huis toe gaan. Hy
wandel moeilik deur die strate. Dit is 'n pragtige laatsomer-oggend. Die
bome staan in hulle veelkleurige blare. Die son is sag. Hy onthou: "In a
somer season when soft was the sonne". Hy weet nie of hy weer 'n somer
sal beleef nie.
Hy
dink daaraan dat hy die laaste tyd - dalk die laaste tyd van sy lewe -
so min met sy vrou en kinders gesels, dat hy hulle verwaarloos - 'n
siekte wat die gesondes verwaarloos! dat hy so met sy eie siek gedagtes
besig is. Hy moet by sy dogter ingaan, dink hy. Hy moet iets doen vir
die lewendes, tot die einde toe. Hy stap in, vra haar uit na haar
gesondheid, en dit maak haar gelukkig dat hy ineens so spraaksaam is.
Toe voel hy skielik hoe 'n koue hom bekruip. Sy dogter sien dit. "Voel Pa siek?" vra sy besorg.
"Ek is dan al maande siek..."
"Maar is Pa nou sieker?...? Ek vat Pa gou terug met die motor."
"Nee, toe maar, dit is nie ver nie; miskien is dit goed dat ek die entjie stap. Die bietjie wat ek self kan doen, moet ek doen."
Sy stap saam met hom.
Toe
hy by die huis kom, is hy reeds koorsig en duiselig. Hy wankel. Dadelik
gaan hy lê, en terwyl daar 'n rilling deur sy liggaam gaan, sê hy vir
homself: Daar het hy my nou; ek het dit maande lank al verwag...
Hulle ontbied sy kollega wat na hom omsien.
Die
dae het weke geword, die weke maande, die maande byna 'n jaar en nou is
dit die einde, dink hy. Dae lank lê hy en yl, sien gestaltes wat nie
bestaan nie. Soms is daar helder oomblikke, maar helderheid en
beneweling gaan nou ongemerk en gemaklik in mekaar oor.
Toe
versink hy in 'n droom. Dit is 'n durende droom, wat aanhou selfs
wanneer hy by sy bewussyn is, wanneer hy iets drink, of ietsie eet, of
sy natuurlike behoeftes doen.
Hy
droom dat hy in 'n pragtige duur motor ry, iets soos 'n Jaguar. Dit is
'n lang reguit teerpad, uitstekend gemaak, en hy ry sag. Hy is sterk en
bestuur self; Maar die rit beangs hom. Dit is nie 'n rit soos van iemand
wat blymoedig is nie. Hy sit alleen in die motor met sy oë angstig op
die lang reguit pad gerig, want 'n vrees is in hom dat hy by 'n hek sal
kom. Daar is geen rede om bevrees vir 'n hek te wees nie, want daar is
vandag mos nie meer hekke op die grootpaaie nie. En as daar hekke was,
sou hy hulle immers self kon oopmaak. Tog laat hy toe dat die vrees
oorheers. Tog maak die gedagte aan die hekke hom so bevrees dat hy vir
niks anders aandag het nie. As daar afdraaipaaie, stilhouplekke,
omdraaikans is, dan sien hy hulle nie. 'n Skok gaan deur hom. Daar sien
hy inderdaad 'n hek. Toe hy nader kom, sien hy dit is oop. Met 'n sug
van verligting ry hy deur.
Hy
voel onrustig. Hy maak sy oë oop, maar die wakendes by hom kan sien dat
hy verby hulle kyk en deurmekaar is. Hy maak bewegings met sy hande
asof hy 'n motor bestuur, en mompel ongeduldig oor die hek wat daar is,
maar oop is - dis tog sinneloos.
"Daar was 'n hek," roep hy verskrik uit. "Maar gelukkig was dit oop."
Sy vrou sit haar hande op sy hand en kop.
Hy bedaar.
Hy
reis verder. Daar is weer 'n hek, en weer 'n hek, maar hulle is almal
oop. Tog laat elke nuwe hek hom skrik - die feit dat hulle oop is... dit
word dus vir hom makliker gemaak om voort te reis, voort, die
eindeloosheid in, sonder terugkeerkans. Hy dink daaraan dat hy nog nie
vasgestel het of daar remme aan sy motor is nie. Hy soek met sy voete,
vind die remme, toets hulle; die motor gaan staan. Toe sien hy dat hy
betyds gerem het. Hy staan voor 'n hek wat toe is. Daar staan 'n man, 'n
gewone verkeersman soos by 'n padblokkade. Die man loer by sy venster
in.
"Waar reis u heen?"
Hy weet nie dadelik wat om te antwoord nie. Toe sê hy: "Waar almal heen reis."
Die man maak die hek oop.
"Ry dan maar," sê hy.
So
hou dit aan. elke maal is daar 'n hek en staan daar 'n verkeersman wat
vra waarheen hy ry. Altyd gee hy dieselfde antwoord, en elke keer mag hy
dan verder reis. Maar sy vrees word al sterker. Dalk kom daar 'n hek en
'n man wat nie wil oopmaak nie. Maar voorlopig gaan dit goed. Altyd
weer maak 'n verkeersman die hek vir hek vir hom oop.
Toe kom daar 'n hek met 'n man wat anders lyk, wat 'n nuwe vraag vra: "Wie is u?"
"Ek is Dokter Diedericks. Ek is 'n geneesheer."
"Ja, ek weet van jou. Ons weet van al jou weldade. Ry maar."
Die man maak die hek vir hom oop.
Hy
ry nou deur baie hekke en wys net elke keer na die kenteken op sy
voorruit wat aandui dat hy 'n geneesheer is. Dan laat hulle hom
vriendelik deur. Party keer hom net voor om hom te groet en 'n goeie
reis toe te wens. Party van die hekwagte was sy pasiënte wat lankal dood
is, hom nooit betaal het nie en hoom nou eers bedank. Aan die een kant
stel dit hom gerus, aan die ander kant ontstel dit hom - die reis voder
te maklik en te vinnig, sonder dat hy weet waarheen.
Toe
kom hy by 'n hek waar daar twee manne staan. Dit maak hom weer beangs.
Hy besef instinktief dat dit hier moeiliker sal gaan. Hy hou stil. Bang
wag hy vir hulle.
"Wie is jy?" vra een.
"Ek
is dokter Diedericks. Ek is 'n geneesheer, en het baie mense gesond
gemaak. Ander kon ek nie genees nie, maar ek het hulle lyding verlig,
dikwels sonder vergoeding. Ek isonderweg verby party van hulle en hulle
het my bedank en deurgelaat."
Die
twee manne aarsel, en 'n tyd lank staan hulle eenkant met mekaar en
beraadslaag sonder dat hy kan hoor wat hulle sê. Lank bekyk hulle hom
twyfelend.
Toe
vra een: "Is dit jy wat met die groot treinongeluk in Johannesburg by
die arm derdeklaspassasiers aan die agterkant van die trein begin dokter
het...?"
"Ja, dit is ek."
"Dan kan jy maar ry."
Lank
ry hy ongesteurd verder. Dit lyk of daar nie meer hekke is en manne wat
vrae stel nie. Wyd en oop lê die wêreld, sonder iets wat jou keer, met
'n landskap wat boomloos en hemelloos is, eindeloos uitgestrek, sonder
sonskyn, maar nie donker nie, asof onder bewolkte lug, grys, met 'n
reguit pad wat onbelemmerd in die verte oor die vlaktes uitstrek.
Naderhand ry hy deur 'n digte mis. Plotseling is daar weer 'n hek, en weer staan daar twee manne.
"Ons het oor die radio van die ander hekwagte gehoor dat hy kom. Jy is dokter Diedericks, geneesheer."
Groot angs bevang hom.
"Ons moet jou uitvra. Wat het jy vir jou pasiënte gesê wat jy gesond gemaak het?"
"Wat bedoel u?"
"Het hy hulle ooit vertel dat jy nie die enigste of eintlike geneesheer is nie..dat die pasiënte moet saamwerk...?"
"Ja, dit het ek dikwels..."
"Het jy hulle ooit vertel van die genesende krag van God die Here?"
Hy laat sy kop sak in skaamte.
Nee,
dit het hy nooit vertel nie. Maar hy het hulle altyd bemoedig, hulle
min geld gevra - hy het baie arm pasiënte verniet gedokter.
"Ek het nie ryk geword uit my praktyk nie."
"Ja," sê hulle, "ons weet dit reeds."
Hulle aarsel nog so 'n bietjie. Toe, langsaam, asof hulle nog twyfel en hom 'n groot guns bewys, maark hulle die hek oop.
Neerslagtig
ry hy verder. Dit word al moeiliker. Netnou sal hulle hom weer vrae
stel wat hy ontkennend moet beantwoord. Dan sal hulle hom nie laat
deurgaan nie. Waarheen dan? Daar is immers nie omdraaikans nie. 'n Lewe
van toewyding en harde werk - en tog het hy foute gemaak; was hy
nalatig, sonder om te weet dat hy nalatig was. Hy het baie ellende
verlig of weggeneem, maar het hy vreugte verkondig? Moes hy nie liewer
predikant geword het nie? Hy het baie aan ander mense, vreemdelinge,
gedoen, maar het hy ooit aan homself gewerk? Aan sy geliefde huismense?
Hy voel skuldig - maar hy weet nie mooi waaroor nie. Hy het lus om te
probeer omdraai en te kyk of hulle weer die hekke vir hom sal oopmaak
oppad terug huis toe. Hy maak wilde stuurwielbewegings met sy hande asof
hy vinnig met 'n motor omdraai. Sy vrou sit haar hande op syne. Hy
bedaar.
Toe
sien hy iets wat hom tegelyk van hoop en wanhoop laat bewe. Hy sien 'n
hoë rots voor hom en bo-op die rots 'n groot kerk, soos hulle in die
Middeleeue gebou het. Dit is 'n pragtige groot kerk. Ineens is daar
sonlig oor die landskap. Die sonlig blink in die groot kerk en vensters.
Daar staan talle groot blink motors om die kerk. Maar hoe sal hy daar
kom? Hy sien nog hekke voor hom, en 'n steil, kronkelende pad na die
kerk toe, hoog op die rots.
Hy
het verwag dat hy 'n gesing en bede uit die kerk sou hoor kom. In plaas
daarvan hoor hy 'n aanhoudende jubelende gelag uit die gebou opklink.
Dit verstom hom. DIs of hy deur die groot vensters teen die hoë mure
silhoeëtte van verminkte gestaltes sien, maar hulle lag, of hulle krul
so van die lag.
Daar
is hy ineens al weer voor 'n hek. 'n Indrukwekkende man staan voor die
hek, lank en fris gebou, maar deurdringende juweelagtige oë. Hy staan
vreesloos orent, soos iemand wat baie mag het, soos 'n regter, soos 'n
engel wat soos 'n regter aangetrek is in 'n toga.
Hy hou vol vrees 'n hele ent van die hek af stil.
"Waar gaan jy heen?" roep die man van ver af.
"Na die kerk toe, u edele," antwoord dokter Diederiks.
"Wie is jy?"
"Dokter Diedericks."
"Waarom
is jou gesig so strak? So bevrees? so ernstig? Waarom lyk jy so bedruk?
Waarom lag jy nie? Ek laat alleen mense deur wat lag. Hy wat in die
hemel woon, lag." Om te bevestig wat hy gesê het, wys die man met 'n
vinger na 'n plek in 'n dik boek wat hy by hom het, oopgeslaan, met die
oopgeslane kant na Diedericks toe. Diedericks kan egter niks daarvan
lees nie, dit is te ver, en dit is in klein skrif, gedruk op dun papier.
Hierdie woorde verbaas hom. Dit klink amper spottend.
"Ek
weet alles van jou af. Dat jy gely het in jou jeug, dat jy daarom
gesluit het om geneesheer te word om ander se lyding te verlig, dat hy
'n baie swygsame en stug mens is omdat hy so baie lyding gesien het, dat
jy baie siekes genees het, baie behoeftiges en armes gratis behandel
het, dat jy hard gewerk het, baie nagevors het om die mense se lyding te
verlig, maar dat jy nooit gelag het nie, nie Bergson oor die lag gelees
het nie, of Norman Cousins nie."
"Maar ek het baie in die Bybel gelees. Ek was nie 'n kerkmens nie, maar ek was 'n Bybelmens."
"Dan het jy nie goed gelees nie."
"Dan het jy nie goed gelees nie."
Skielik
raak Diedericks opstandig, begin hy sy man staan: "Waarom moet ek lag?
Moet ek lag oor my een kind wat dood is, oor my eerste vrou wat ek
verloor het, oor al die lyding wat ek in my lewe gesien het, oor my eie
lang siekte van nou al byna 'n jaar, oor die pyn wat ek self gely het
van my geboorte af tot nou toe? dit is nie maklik om daaroor te lag
nie."
Die
man is inskiklik: "Nee, dit is nie altyd maklik om te lag nie. Abraham
en Sara en Hagar se seun het al moeilikheid met die geslag gehad, en Job
met die mense wat jonger as hy was, en die Prediker, maar Dawid..."
Diedericks
raak al dapperder: "Moet ek lag as die ongeluk my tref? Moet ek oor
verwoesting en broodgebrek lag? moet ek oor my sondes lag, of oor dié
van ander mense?"
"Maar
het jy ooit jou pasiënte leer lag? Het jy ooit dié wat gesond geword
het, aangemaan om te lag, dié wat jy genees het, gewaarsku om te gaan en
te lag? Het jy ooit gelag omdat jy geneesheer was en nie die pasiënt
nie? Het jy daaraan gedink dat jy tot jy siek geword het 'n lang lewe
gehad het om te lag? Dat jy nou nog daaroor kan lag?"
Dan volg daar 'n lang stilte.
Dan volg daar 'n lang stilte.
"Wat moet ek nou doen? vra Diedericks.
"Omdraai."
"Waarheen?"
"Terug na waar jy vandaan gekom het."
"Om wat te doen?"
"Om te gaan leer lag. Daar moet 'n tyd wees om te lag."
Die man lag en laat hom omdraai.
Toe hy terugry, is daar skielik geen hekke nie.
Stadigaan
word hy weer beter, langsaam, met tye van nuwe verswakking. Ure lank
sit hy sonder om te roer, sy gedagtes soos 'n groot glas water. dan dink
hy oor sy droom..."Die droom wil my iets leer, ek weet nie hoekom nie."
Toe
kom die predikant op besoek, iets wat nooit vroeër gebeur het nie. Die
predikant het altyd gedink die dokter het hom nie nodig nie, en die
dokter het gedink die predikant is iemand wat redeneer: "Van lag moes
ek sê: dis sinloos, en van die plesier: wat bring dit?"
Hy
hoor weer hierdie gedagte toe hy die predikant daar voor hom sien. Dit
klink vir hom bekend-vreemd, asof dit nie sy eie gedagte is nie, asof hy
dit dink met die stem van die man wat hom laat omdraai het.
Dokter Diedericks sien hoe die predikant hom aankyk. "Dalk dink hy dit is klaar met my."
"Moet ek vir u iets lees, dokter?" vra die dominee.
"Graag," antwoord Diedericks.
"Wat sal ek vir die geneesheer lees?" dink die dominee. Hy soek. Bly rond. Vra: "Wat moet ek vir u lees?"
"Dominee kan maar lees wat u wil."
Die man is sterwende, dink die predikant, sy taak is voltooi, hy gaan huis toe, al kon hy nog lank gelewe het.
"Dan sal ek vir u lees uit Prediker 7. Ek lees van vers 1 tot 16."
Hy
begin lees. Dokter Diedericks neem elke woord op, al lyk dit of hy
skaars hoor. Toe die dominee by vers 3 kom, roer dokter Diedericks asof
hy die dominee wil stilmaak. Maar hy sê niks nie. Toe die predikant by
vers 6 kom, roep Diedericks "Dit is genoeg." Dit is of hy helder raak.
Asof hy iets ontdek het, roep hy: "'n Mens kan lag terwyl hy treur." Hy
raak stil. Doodstil sit die predikant en mevrou Diedericks in die
vertrek by die dokter, verstom. Hulle kyk na die sieke. Sy mond is nog
oop in 'n naroep. Sy oë is toe. Hy sak terug in die groot leunstoel met
die hoë rug. Sy mond vertrek. Dit lyk asof hy dood is...of hy lag...
T.T. Cloete
Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale
Saamgestel deur Abraham H. de Vries
ISBN 0-7981-3569-7